Jesaja 7=10-16 LR2004
Jesaja 7:10-16 LR2004
19 DESEMBER 2004
VIERDE sondag van advent
liturgiese voorstel
Fokusteks: Jesaja 7:10-16
Ander tekste: Psalm 80; Romeine 1:1-7; Matteus 1:18-25
Inleiding
Die kern van Advent is die verwagting en die viering van Jesus Christus se menswording en dat God daardeur by ons is, Immanuel. Die Ou-Testamenties teks profeteer daaroor en die Psalmlesing vra aanhoudend vir die verskyning van God aan sy volk. Die Romeineteks begin ook met die menswording van Christus en die geslagsregister van Matteus bevestig hierdie historiese en genealogiese gebeurtenis.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Drumpelgebed
Kom, o ware Lig.
Kom, ewige Lig.
Kom, verborge misterie.
Kom, onbeskryflike skat.
Kom, werklikheid verby alle woorde.
Kom, Wese wat niemand volkome kan begryp nie.
Kom, vreugde sonder einde.
Kom, son wat geen ondergang ken nie.
Kom, Verlosser van die verlorenes.
Kom, opstanding van die dooies.
Kom, God Drie-enig, en versadig my siel!
Vervul my ewige verlange na U.
Kom, want u Naam vul ons met verlange;
is altyd geheimenisvol op ons lippe . . .
en tog:
wie U is, wat die ware aard van U wese is,
kan ons nooit volkome sê of weet nie.
Kom, o Eensame, na ons wat eensaam is.
Kom, U wat die verlange na U en die vervulling is.
Kom, o kom, Vertrooster van almal wat treur;
Redder van almal wat verlore sou gaan;
helder lig vir almal wat in die donker wandel.
O, kom na my toe, en bly by my, o Vreugde sonder einde!
Uit: Groot Gebedeboek bladsy 393, Simeon 10de eeu
Aanvangslied
Lied 358:1-3
Die vierde Adventkers word aangesteek.
Aanvangswoord
Voorganger: Luister tog herder van Israel, U wat die nageslag van Josef soos ’n kudde lei.
Gemeente: Verskyn tog aan ons.
Voorganger: Laat dit weer met ons goed gaan, o God.
Gemeente: Verskyn tog aan ons.
Voorganger: Almagtige God kyk tog uit die hemel af en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok, neem hom weer onder U sorg.
Gemeente: Verskyn tog aan ons.
Voorganger: Hou u hand oor die gemeente wat deur U uitgekies is.
Gemeente: Verskyn tog aan ons. (Uit: Psalm 80)
Verootmoediging
Lied 320; 321 (kan deur ’n solis gesing word om die tema van vandag treffend aan te dui)
Die gemeente sluit by die votum se smeking aan deur God se teenwoordigheid in hierdie erediens en sy sigbaarheid in die lewe nie as vanselfsprekend te aanvaar deur die sing van LB 247 in Afrikaans, dan Grieks en weer in Afrikaans.
Seëngroet
Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort, genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit: Romeine 1:7)
Aanbiddings- en lofliedere
Lied 350/NSG 91; Lied 354/NSG 65; Lied 365/NSG 69
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Ons loof U Here Jesus, omdat U ons so liefgehad het dat U ons broer geword het.
U was gebore in ’n armoedige stal in Betlehem, sodat ook ons inwoners kon word van die hemelse Jerusalem.
U het ons swakhede op U geneem, sodat die Vader ons swakhede sou vergewe.
Ons bid U: bly altyd by ons!
Verlosser in wie alle volke van die aarde geseën is, gee dat ons ons in die verlossing so sal verbly dat ons met ons hele hart saam met die engele sal sê: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie U ’n welbehae het.”
(Na aanleiding van Groot Gebedeboek bladsy 404)
Diens van die tafel
Verwys na die basisliturgie
Uitsending
Slotlied
Lied 348/NSG 76
PREEKSTUDIE – JESAJA 7:10-16
Teks
Die Leesrooster-teks vir die Sondag is deel van `n eenheid in die Nuwe Afrikaanse Bybel (7:1-25), met die opskrif: “Immanuel sal gebore word”. Die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel en die New King James Version hanteer hoofstuk 7 ook as eenheid. Eersgenoemde het die opskrif: “Die Immanuel-teken” en laasgenoemde: “Isaiah Predicts the Messiah.” Ons teks beklemtoon `n bepaalde tema en veronderstel `n groter raamwerk (sien Seitz se bespreking van die “History and Interpretation” van ons teks). Die teks begin met `n frase (10) wat `n nuwe gedagte (Kaiser) inlei, én voortgaande handeling aandui: “Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê ...” Die Here is aan die woord. Hy gee sy boodskap aan die profeet Jesaja (3), wat `n aanbod/uitnodiging van die Here aan Agas moet oordra (11). Die boodskap is deel van `n groter gesprek. Die woord “verder” dui dit aan. Vir meer inligting oor die agtergrond en omstandighede van die Here se boodskap, moet wyer gelees word (Seitz en Motyer, Jes 7:1-9:7; Wolf, 7:1-12:6).
`n Tweede saak is die inhoud van die Here se boodskap aan Agas: “Vra van die Here jou God `n teken” (sien Seitz, Kaiser en Young vir waardevolle gedagtes oor die teken). Waarom het Agas `n teken nodig? Dit hang saam met sy omstandighede asook met sy geloof in en vertroue op God te midde van sy omstandighede. Agas se reaksie op die Here se aanbod om van Hom `n teken te vra, wek vrae oor die betekenis van tekens in gelowiges se lewe asook die rol daarvan ter versterking van die geloof. Die tema kan in die prediking uitgewerk word. Agas reageer skerp. Hy verwerp die Here se uitnodiging/aanbod. Hy interpreteer “die vra na `n teken” as uittarting (12), maar tart ironies juis vir God (Moloney). Tekens pas blykbaar nie in sy denkraamwerk nie.
Agas se afwysing van die Here se aanbod is vir God onaanvaarbaar. Jesaja verwoord God se misnoeë en stel Agas se reaksie as lastigheid – hy (hulle) pla die Here onnodig: “Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie dat julle nou ook my God moet vermoei?” Op die punt word die hele volk aangespreek: “The sign, therefore, is intended for all the people ... all the nation must receive and believe it” (Young). Israel se nood het God se ore bereik, maar sy reaksie word deur Agas verwerp (hy het blykbaar teologiese probleme om `n teken van die Here te vra). Motyer sê: “Ahaz is doing the devil’s work of quoting Scripture for his own purposes and thereby displaying himself as the dogmatic unbeliever. This was his moment of decision, his point of no return.” Wolf meen Agas wou nie `n teken vra nie omdat hy nie God se woord glo nie. Hy het reeds besluit om op Assirië staat te maak en skuil “behind a pious facade by pretending to be concerned to obey the command not to put God to the test (Deut 6:16).” Kaiser sien Agas as “shrewd tactician” wat almal wil bevredig: “With his pious answer, he is paying the required attention to the masses, so easily stirred up on religious issue.”
Vers 14 beklemtoon die Here se selfstandigheid: “Die Here sal daarom self vir julle `n teken gee.” Die Here het nie Agas en die volk se goedkeuring nodig om op te tree nie. Hy gee Homself aan sy volk om saam met hulle hul omstandighede te hanteer, maar laat Hom nie deur hul nukke en denkraamwerke manipuleer nie. Hy is die Here. Motyer sê: “... the sign he proposes is no longer a movement of grace opening a door of faith to the king (10) but a movement of displeasure spelling out the dire result of his faithlessness.” Kaiser beskryf die teken se dubbele fokus: Dit bevestig die belofte van 7:4 en verder oor die huidige omstandigheid, maar dien ook as waarskuwing vir die toekoms. Die Here se teken oorskry Agas se denkraamwerk en die natuurlike orde (14): “`n Jong vrou sal swanger word en `n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem” (Daar is lang argumente oor hoe die “jong vrou” hier verstaan moet word. Vir insiggewende bespreking kan Snijders, Young en Seitz geraadpleeg word.) Die Here troef vir Agas. Selfs al sou hy `n teken gevra het, “enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo”, sou hy nie aan die teken dink nie. Dit is te buitengewoon vir die menslike verstand. Maar vir God is dit moontlik; `n Kind uit `n maagd gebore. Die profesie behels méér as net `n naam. Hy sal by sy volk wees en hulle verlos. “This child ... will choose the good and reject evil, and this makes him the antithesis of Ahaz, who has chosen evil” (Moloney).
Die beloofde kindjie se identiteit word beskryf in terme van sy dieet (dikmelk en heuning) en sy vermoë om tussen verkeerd en reg te onderskei. Sommige uitleggers (Maloney; Motyer) beskou dikmelk en heuning as basiese produkte in tye van besetting en vernietiging. Ander (oa Young) sê dit is `n koninklike dieet. Vir Young is dit `n profetiese voorstelling: “The child will eat this royal food, symbol of threat and desolation.” Die interpretasie pas Seitz se uitleg van Jesaja se teologie as koninklike teologie: “Whatever one may think of the Immanuel child in chapters 7-8 (prohet’s son; royal figure; symbol; Hezekiah), one’s reading of the Immanuel passages is now affected by the larger context, specifically the royal oracle in 9:2-7.”
Die profesie bevat `n belofte. Voordat die kindjie oud genoeg is om te weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die Here Agas se historiese situasie verander: “... sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê” (16). Dit beklemtoon twee belangrike faktore: (i) Die historiese konteks en (ii) Die wisselwerking tussen teken en belofte. Die Here is besorg oor sy volk. Hulle historiese omstandighede is vir Hom belangrik. Die teken van die seuntjie bevestig God se liefde en verbondstrou, terwyl die belofte van `n historiese oorwinning oor die twee konings ook waarborg dat God sy profesie in die toekoms waar sal maak. In die Bybel word profesieë soms meer as een maal vervul (Bosman).
Konteks
Vir `n verstaan van God se boodskap aan Agas en Juda moet beide die historiese en literêre kontekste van ons teks verreken word (lees Danie van Zyl se inleiding op Jesaja by 5 Des 2004 se preekstudie en liturgiese voorstel; ook Robert Vosloo se preekvoorstel vir volgende Sondag). Volgens Jesaja 1:1 het die profesieë op die suidelike koninkryk en veral op Jerusalem betrekking (740-690 vC). Dit is egter net direk waar van hoofstuk 1-39, wat handel oor die tyd toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Hoofstuk 1-12 roep die leiers en inwoners van Jerusalem op om hul hoop net op die Here te plaas vir oorlewing en hulle te weerhou van koalisies met ander nasies. Die profeet verkondig God se oordeel, roep op tot bekering en verkondig God se genade en voortgaande hoop – `n oorblyfsel wat God se oordeel oorleef (Bosman). God handhaaf sy verbondsverhouding met sy volk en sal hulle red – ook deur `n persoon daarvoor toegerus, `n koning uit die stam van Dawid (7:14 ev; 9:1-6; 11:1-10); `n teken van die Here se trou, agent van sy redding en herstel (Van Zyl; NAV).
Jesaja 7:1-2 beskryf die politieke situasie (Kaiser) wat daartoe gelei het dat die Here sy profeet opdrag gegee het (3) om vir Agas te gaan ontmoet en hom tot kalmte te maan. `n Eerste element van die situasie is die tydsaanduiding (1): “In die tyd toe Agas ... koning van Juda was ...” Dit dui die historiese tydstip én een van die sentrale karakters in ons verhaal aan. Agas is koning van Juda, die Here se verbondsvolk. Hy word geïdentifiseer as “kleinseun van Ussia” (1), en as “koning uit die geslag van Dawid” (2). Die identifisering wys terug na die roepingsvisioen (Jes 6). Die agtergrond van Jesaja se roeping en beginjare word in 2 Konings 16-20 beskryf (Seitz vir probleem rondom kronologie en geskiedenis van ons teks) – toenemende oorheersing van Assirië as dominerende politieke en militêre krag in die Ou Nabye-Ooste (Bosman).
Juda word van twee kante bedreig (1): Die Aramese koning Resin en Israelitiese koning Peka, in `n veldtog teen Jerusalem wat op niks uitgeloop het nie. Ironiese detail; bedreiging “sonder tande”. Vers 2 beklemtoon `n derde aspek; Agas en Juda se reaksie op die nuus van die Arameërs wat in Efraim kamp opgeslaan het: “hulle het baie bang geword”. Dit was nie ligte vrees nie: “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind” (vir `n bedreiging wat op niks sou uitgeloop nie). Die bedreiging teen die koningshuis het die inwoners van Jerusalem en Juda nie primêr gekonfronteer met die vraag oor politieke mag nie, maar met `n geloofskwessie: “have men the power over the promises of God or has God power over the designs of men, which seek to bring his promises to nothing?” (Kaiser). Die angs van Agas en Juda laat God sy profeet na die koning stuur met `n boodskap van bemoediging en versekering.
Die inhoud van God se boodskap aan Agas is belangrik: (i) Die Here kalmeer koning Agas en verseker hom dat hy nie rede tot vrees het nie (4). Hy verkleineer eintlik die bron van sy vrees en verwys na Resin en Peka as stukke brandhout wat nog net rook (ironie van v1); (ii) Besonderhede van die Arameërs en die Efraimiete se planne met Juda (5-6). Hulle wil Agas aanval en oorrompel; (iii) Fatale uitkoms van Resin en Peka se planne (7). Hulle sal nie in hul voorneme slaag nie. Hulle is net mense wat planne beraam om teen God se volk op te tree. Vers 8-9 beskryf hul menslike magsug neerhalend. Die Here verseker Agas dat Hy sy volk sal bewaar en dat Resin en Peka se planne sal misluk. God is oorwinnaar in die stryd.
Daar is `n noue verband tussen menslike geloof en die belofte van God wat in die geskiedenis werk en Hom in die woorde van profete openbaar. Dit gaan nie om geloof in die algemeen nie: “It is related to the word which calls for a decision from it here and now” (Kaiser). Agas behoort sy ongelowige politieke planne te laat vaar en te vertrou dat die beloftes wat aan hom en sy vaders gegee is en hier konkreet hernu word in die uur van krisis, waar sal word. In teenstelling met hoe dit dalk lyk, is Agas se enigste hoop die woord, “which reveals the will and purpose of the living God, who alone controls the future” (Kaiser). Die Here gee die versekering dat Hy vir sy volk in die stryd sal tree en die oorwinning sal behaal, maar met `n voorwaarde. Agas en Juda sal slegs teen die Arameërs en Efraimiete standhou as hulle in die Here glo en net op Hom vertrou (9b): “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Die Here sal oorwinning gee, maar eis geloofsvertroue in Hom as Here.
Dan volg ons teksgedeelte (10-16), `n soort toets aan Agas of hy gelowig sal standhou. Agas se dwase reaksie herinner aan Jesaja 6:10 waar die Here vir die profeet sê om die volk traag van begrip te maak, doof en blind sodat hulle hulle nie bekeer en genees word nie. “Ahaz feared man more than God, and the word of God did not move him. His solution to his nation’s problems was to appeal to the King of Assyria for help” (Wolf). Dit beklemtoon Jesaja se moeilike roeping. Die profeet moet God se wil verkondig totdat die oordeel van die ballingskap voltrek is. In hoofstuk 1-12 laat die Here drie dinge oor sy hardhorende en stiksienige volk kom om hulle tot ander insigte te bring (Bosman): (i) Die Here gaan `n dag van oordeel stuur waarop die volk sal tereg staan vir al sy ongehoorsaamheid; (ii) Die profeet word geroep om die volk tot hulle sinne te bring. Die oordeel van die Here gaan die volk nie onverwags tref nie, en (iii) Die volk word herinner aan die belofte van die Here, deur die profeet Natan aan Dawid en sy nageslag: “Ek sal sy koningskap altyd laat voortbestaan” (2 Sam 7:13).
Jesaja 7:17 en verder bevat die res van die Here se boodskap aan Agas; `n verdoemende profesie oor Agas, sy familie en Juda. Die Here gaan Juda oorgee aan Assirië. Die volk ken nie meer die Here nie en het geen begrip vir wat Hy doen nie. Dit is asof straf nie meer help nie. Die Here het alles moontlik gedoen (Bosman). Beeldryk word die Here se voorneme met Juda en vernietigende uitkoms daarvan beskryf (7:18-25). Die nabye vernietiging word bevestig as die Here vir Jesaja sê om op `n stuk leer te skryf (8:1). As Jesaja se vrou swanger word (8:3), gee die Here opdrag om die kindjie “Plunder-en-Roof-is-Naby” te noem. Jesaja se seun is `n teken dat die Here die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka gaan verdryf. Dit sal gou gebeur (8:4). Die naam-teken van Jesaja se seun is nie gunstig vir Agas en Juda nie. Die nabyheid van plunder en roof is ook `n onheilspellende profesie oor Juda self (8:4). Dit maak die betekenis van die beeldspraak in 7:18-19 ook duidelik. Assirië sal ook vir Juda inneem.
In Jesaja 8:5-15 praat die Here weer met Jesaja oor sy oordeel oor Juda. Hy motiveer waarom Hy Juda aan die mag van Assirië gaan oorgee (8:5-7). Juda het die kalm waters van Siloag (waarskynlik `n kanaal wat in die agste eeu vC deur Hiskia van die Gihonfontein na Jerusalem gebou is) verwerp en bang geword vir Resin en Peka. Die beeld van `n watervloed beskryf hoe die Assiriese koning Juda sal oorweldig (8:8). Digterlik word die volk aangepor om haar kwaad en ontroue planne voort te sit (8:9-10); te toets of die Here sal doen wat Hy by monde van Jesaja profeteer. Die Here waarsku Jesaja om nie die voorbeeld van Juda te volg oor sogenaamde sameswerings teen hulle nie (8:11-12). Die profeet en die Here se volk moet net die Here eer. Hy is die Almagtige en Heilige God. Hy is vir sy kinders `n veilige beskutting (8:13-14a). Maar omdat Juda en Israel nie op Hom alleen vertrou nie, word Hy vir hulle `n struikelblok waaroor hulle sal val en waardeur hulle verpletter sal word (8:14b-15).
Jesaja 8:25-12:6 herhaal die belofte van `n seun wat uit die geslag van Dawid gebore gaan word, beskryf die rol van Assirië in die Here se planne om Juda te straf asook die Here se oordeel oor Assirië en die deurbreek van `n nuwe dag vir Juda. Die herhaling van die belofte van `n seun beskryf in besonderhede hoe die seun in wysheid, krag en vrede sal regeer (9:5-6). Assirië, die instrument van God se oordeel, word self die teiken van die Here se straf (10:5-19). Die vernietiging van Assirië word herhaaldelik beskryf as die afkap van `n boom. Die beeld van die afgekapte Juda word verder ontwikkel deur aan te toon hoe `n takkie sal uitspruit (11:1 ev) en hoe die takkie (koningseun uit geslag van Dawid) die vroeë beloftes van regverdigheid, betroubaarheid en vrede in vervulling sal laat gaan. Die rabbynse interpretasie van Jesaja verwys na die feit dat God dikwels klein dingetjies gebruik om sy wil te laat geskied. Net `n takkie is genoeg om `n toekoms vir die volk van die Here moontlik te maak (Bosman). God se unieke waardesisteem.
Hierdie leier sal die ballinge van Israel van die uithoeke van die wêreld (11:11 ev) versamel. Uiteindelik sal die profeet kan uitroep: “Ek loof U, Here! ... God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie ...” (12:1-2). Na voltrekking van die oordeel op die dag van die Here kan `n loflied aan die Here as die Redder gesing word. Na die oordeel is die Heilige van Israel steeds by sy volk. Te midde van oordeel is daar nog hoop (Bosman). Jesaja se toetrede tot die toneel beklemtoon dié hoop. “Whether or not Ahaz wants a sign from God, he will be given one. There will be hope and future life in the midst of desolation and destruction ... The first sign will be the birth of a son to a young woman ... The birth of a child is a sign of life, a promise of a future for the Davidic dynasty. The name of this child ... is an indication of God’s ongoing protection” (Maloney). Dit beklemtoon Jesaja se teologiese perspektief op minstens drie vrae (Bosman): (i) Waarom die ballingskap plaasgevind het (ongehoorsaamheid van die volk); (ii) Waarin die ballinge se troos geleë was (Die Here was steeds die volk se troos); (iii) Wat met die oorblyfsel van die volk gebeur het (God het `n nuwe begin met sy volk gemaak).
In die Rooms-Katolieke tradisie bepaal Matteus 1:23 se herinterpretasie van Jesaja 7:14 die liturgiese betekenis daarvan. Deur verwysing na toekomstige vernietiging (7:16-17) te ignoreer, verstaan die “Roman lectionary” die vrou wat aan die Immanuel die lewe sal skenk as die Moeder van Jesus. Dan sien die voorspelling vooruit op die belofte van God se teenwoordigheid in die Christengemeenskap, vanaf Jesus se geboorte. Israel se geskiedenis en God se belofte dat Hy altyd by hulle sal wees, is in vlees en bloed vervul, met die kind se geboorte uit die maagd op Kersdag. Ander leesroosters (RCL en BCP) verstaan die konteks breër. Hulle plaas die belofte van `n seun aan die koning binne die historiese konteks van krisis en vernietiging wat die volk sal tref – omdat hulle nie op God vertrou nie (Maloney). Wolf noem ook verskillende interpretasies van dié profesie: “Conservatives have rightly emphasized the prophecy’s messianic relationship to Christ and the Virgin Mary, but they have failed to fit the verse into the historical context. Liberals have correctly looked for a historical fulfillment in Ahaz’s day, but they have misused the translation`young woman’ by ignoring the messianic implications of the prophesy.”
Oor mense se motief by die vra na tekens, sê Kaiser: “It can be a sign of unbelief to ask for a sign, and it can be a sign of unbelief to refuse a sign. The criterion is whether man is ready to expose himself to the future laid down by his God and subject himself to his will.” Keck (ea) wys op ander Bybelfigure wat omstandighede en toetse gebruik het om God se teenwoordigheid in gegewe situasies te bepaal. Soms het dit natuurlike of normale behoeftes behels. Jakob sal die Here as sy God aanvaar as die Here hom brood gee om te eet, klere om aan te trek en hom in vrede na sy vader se huis laat terugkeer (Gen 28:18-22). Op ander tye is wonders en bonatuurlike tekens van God gevra. Moses vra `n teken om die Israeliete te oortuig dat God agter sy leierskap was en God gee twee wondertekens (Eks 4:1-9). Jesus het self gewone tekens en wonders van God se mag in sy bediening gebruik. Met die verlamde man (Luk 5:20 ev) spreek Jesus eers gewone woorde. Toe die mense Jesus beskuldig van Godslastering omdat Hy sê sy sondes is vergewe, gee Hy `n bonatuurlike teken van God se mag. Hy genees die verlamde man as bewys “dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe” (Luk 5:24). In Matteus 12:38 en verder verwerp Jesus sy tydgenote se aandrang op `n teken en belowe slegs die teken van Jona. Hy maak die geloof deur sy prediking opgeroep, die enigste bewys van sy gesag: “Only our acceptance in faith permits us to experience the might and glory of God” (Kaiser).
Alle mense verlang volgens Keck (ea) tekens as bewys dat God lewe en by ons teenwoordig is. Tomas (Joh 20) het `n tasbare teken verlang, na Jesus se opstanding uit die dood. Die verhaal van Gideon herinner aan God se genade met tekens en flitse van God se teenwoordigheid en krag in ons lewe. Soms is die tekens natuurlik en normale flitse van God se stille seëninge wat dikwels ongesiens en ongewaardeerde verbygaan. Op ander tye (minder gereeld) gee God meer dramatiese of bonatuurlike tekens. Ander kan sulke ervarings as blinde toeval afwys, maar die oë van die geloof mag dit waarneem as die hand van God. Op nog ander tye vra God se kinders `n teken van God, wat oënskynlik nie intree in ons lewe nie. Dan sluit ons by die roep van Psalm 13:2 aan: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” (Keck ea). Dit is die roep van afwagting en hoop in Advent.
Preekvoorstel
Vir prediking op die vierde Sondag in Advent, die Sondag voor Kersfees, kies ek die samehang tussen drie gedagtes uit ons teks; teken, belofte en geloof. Oor die teken behoort die prediker aandag te gee aan twee perspektiewe: dié van God en dié van die mens. Vanuit God se perspektief op die teken in Jesaja 7 sien ons dat Hy in die konkrete historiese situasie van mense intree. Hy nooi uit om `n teken van hoop en sy teenwoordigheid te vra. Uiteindelik gee God `n buitengewone teken, maar dan met `n waarskuwende noot. Vanuit die mens (Agas en Juda) se perspektief op ons teks sien ons dat God se aanbod vroom verwerp word. Die Koning lei Juda om op mense staat te maak. Die mens se perspektief belig ook die behoefte aan tekens van God en die noodsaak om God se tekens te kan lees en daarop te reageer. Jesaja 7:11 beskryf die Here se aanbod/uitnodiging aan Agas terwyl 7:14 vertel dat die Here vir die koning `n teken gee. Beide gevalle moet aandag kry, want dit dui op `n verskuiwing in God se bedoeling met die teken.
Die “belofte” staan in die nouste verband met die “teken”, want in die kind wat die Here as teken aanbied, is sy belofte van teenwoordigheid en verlossing opgesluit. Die belofte roep om die mens se reaksie van geloof en vertroue op God alleen. Teen die agtergrond van Agas se historiese situasie dring die vraag na watter geloof hier verwag word, hom aan ons op. Is dit nie te veel gevra nie? Kan die geboorte van die kind genoegsame vrywaring teen die militêre bedreiging van sy bure bied? (Bosman). Die teken moet Agas oortuig dat God, die Here van die heelal en die toekoms, self voor oë is (Kaiser). Met die oë van die geloof moet die teken gesien, aanvaar en op die belofte gehandel word. Vir Maloney spreek die historiese verstaan van ons teks ook tot die onseker Christengemeenskap op die Sondag voor Kersfees: “The promise made to Ahaz, and through him to the whole of the house of David, holds. God will always be with his people.”
God se belofte van sy ewige teenwoordigheid geformuleer in die naam van die kind wat uit `n maagd gebore sal word, Immanuel, word deur die teks ook in ons midde geplaas. In `n nuwe historiese situasie (die jaar 2004) hoor die gemeente op dié Sondag weer die profetiese woord uit Jesaja. Die Here nooi sy gemeente om Hom te vertrou as Hy aankondig dat Hy in sy gemeente en hul leefwêreld teenwoordig is. Kersfees kom. Maar waarop vertrou en hoop die Kerk in dié dae? Watter boodskap dra die Kerk met haar teken van feesvieringe rondom die geboorte van die Jesuskind uit?
Te midde van die Siro-Efraimitiese oorlog, `n tyd van groot politieke en militêre onrus, gee die Here die Almagtige, `n teken aan sy verbondsvolk. Matteus 1:22-23 pas die belofte op die geboorte van Jesus Christus toe. Nou lees ons Jesaja 7 op die vierde Sondag van Advent. Oor ses dae is dit Kersfees. Die probleem bestaan dat ons dikwels in Advents- en Kerstyd Jesaja 7 lees asof dit nie `n historiese konteks het nie. Asof dit nie in ons omstandighede grondvat nie. Die belofte is aan Agas gemaak en hy moes reageer. Die belofte is in sy tyd vervul voordat dit volle verwesenliking in Jesus gevind het (Bosman). Net so leef ons in die nou van die historiese oomblik wagtend op die tweede koms van Christus. God se belofte van sy teenwoordigheid by ons geld ook vir ons uitdagings en omstandighede. Maar glo ons, anders as Agas en Juda, dat God inderdaad nou by ons teenwoordig is? Hou ons in die geloof stand?
Die teken word aangebied in konkrete historiese omstandighede, ook ons eie konkrete situasie. Daarmee word ons uitgedaag om die Here op sy woord te neem. Juda en sy koning slaag nie die toets nie. `n Heftige oordeel word oor Juda uitgespreek. Agas word vir ons `n waarskuwende teken. Sy antwoord op God se aanbod klink uiterlik vroom. Kaiser waarsku egter dat daar omstandighede is waarin uiterlike vroomheid en innerlike ongeloof identies is, “and where man in his egotism hides from the call of the living God, uttered here and now, behind his piety ...”
Die samehang tussen mense se geloof en God se belofte, Hy wat sy werk in die geskiedenis deurvoer en Hom in die woorde van die profete openbaar, roep elke Christen en die Kerk op tot `n beslissing in die hier en nou. Van Agas is verwag om sy ongelowige politieke planne te laat vaar en te vertrou dat die beloftes wat aan hom en sy vaders gegee is, in die oomblik van God se aanbod konkreet hernu is, om in die uur van krisis in werking te tree. God belowe beskerming en redding. Net so appelleer Advent op ons om nie op verganklike mense en strukture te vertrou nie, maar net op God. Soos vir Agas is ook ons enigste hoop God se woord waarin die wil van die lewende God wat ons toekoms beheer, geopenbaar word.
Dieselfde Here wat koning Agas verseker het dat Hy self vir sy bondsvolk in die stryd sal tree en die oorwinning sal behaal, spreek op die vierde Sondag van Advent self-openbarend in Jesaja 7 tot sy gemeente. Dieselfde voorwaarde geld vir ons. Soos wat Agas en Juda teen die Arameërs en Efraimiete kon standhou slegs as hulle in die Here glo en net op Hom vertrou, so sal ons in ons omstandighede kan standhou. Ook vir ons is die woorde van Kaiser waar, nou en in die toekoms: “Only our acceptance in faith permits us to experience the might and glory of God.”
Bibliografie
Bosman, H 2003. Jesaja, in Die Bybel A-Z (red. J van der Watt); Kaiser, O. 1972. Isaiah 1-12. A Commentary; Keck, L E ea (eds) 1998. The New Interpreter’s Bible, Volume II; Moloney, F J 2001. Fourth Sunday in Advent, in M.D. Johnson (ed) New Proclamations. Year A, 2001-2002; Motyer, A 1999. Isaiah. An Introduction and Commentary; Seitz, C R 1993. Isaiah 1-39. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching; Snijders, L A 1985. Jesaja, deel I (POT); Wolf, H M 1985. Interpreting Isaiah. The Suffering and Glory of the Messiah; Young, E J The Book of Isaiah. A Commentary. Vol. I.
