Johannes 1=43-51 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 161 views
Notes
Transcript

Johannes 1:43-51 LR2006

15 januarie 2006

Tweede Sondag na Epifanie

Liturgiese voorstel

Fokusteks:                    Johannes 1:43-51

Ander tekste:       1 Samuel 3:1-10; Psalm 139; 1 Korintiërs 6:12-20

Inleiding

Van die tekste vir hierdie Sondag gaan oor God wat ons ken en wat roep. So begin ons die diens om onsself voor Hom wat ons almal deurgrond, te buig en te verootmoedig. Dit maak ons gereed om sy Woord te hoor waarna ons rondom sy tafel opnuut beleef hoedat ons as kerk sy (gebroke) liggaam in ’n wêreld vol nood is. Die gebeure rondom die Woord en die tafel gee inhoud aan dít waarvoor God ons roep en daarmee word ons dan ook uitgestuur.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Die Christuskers brand reeds.

Aanvangswoord

Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het (Ps 124:8).

Seëngroet

Liewe gemeente, die Vader wat sy Seun geroep het na hierdie wêreld, die Seun wat sy dissipels geroep het en die Heilige Gees wat elkeen van ons ook roep, groet julle vanoggend met die woorde: “Genade en vrede!”

Loflied

Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”; NSG 86

Skuldbelydenis

Psalm 139

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: Of ek sit en of ek opstaan.

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: My gedagtes, nog voordat hulle by my opkom.

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: Of ek reis en of ek oorbly.

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

Gemeente:     Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Voorganger: Deurgrond my o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!

Lied van verootmoediging

Lied 247 “Heer wees ons genadig”; NSG 233

Vryspraak

Liewe gemeente, ons Rabbi, die Seun van God en Koning van Israel, die seun van Josef, sê vanoggend vir elkeen: “Dit verseker Ek julle: Julle sonde is vergewe! Glo dit! Amen.”

Danklied

Lied 521 “Erkentlik deur die dae”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

 Lied 254 “Spreek Heer”

Skriflesing uit die Nuwe Testament

Johannes 1:43-51

Skriflesing uit die Ou Testament in Kindertyd opgeneem

Kindertyd

Vertel vir die kinders die verhaal van God wat vir Samuel, ten spyte van die feit dat hy ’n kind was, geroep het, en wat dit vir ons sê van die God wat ons roep.

Prediking

Diens van die tafel

Na die nagmaal gebeur al die volgende aksies vanaf die tafel.

Offergawes

Aankondigings

Voorbidding

In hierdie tyd word daar elke Sondag by die diens van die tafel gefokus op roeping. Vandag word die eerste konkrete saak waarvoor God ons roep aangesny en kom dit in die voorbidding tot uitdrukking. Daar word hier spesifiek vir die morele krisis in die wêreld gebid en ook om krag vir Christene om as dissipels voorbeelde te leef deur onvoorwaardelik lief te hê.

Uitsending

Filippus en Natanael het met verskeie name hulle geloof in Christus Jesus bely. Kom ons doen dit ook in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Seën

Gemeente, waar ons nou uitmekaar gaan, onthou ons weer die roepstem van Jesus: “Volg My!” En vir die genade om op hierdie stem te kan antwoord, seën God elkeen van ons:

“Die Here seën julle

en beskerm julle.

Die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees.

Die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!”

Antwoord

Die gemeente sing “Amen” Lied 312.

PREEKSTUDIE – JOHANNES 1:43-51

Teks

Johannes 1:35-51 vertel van die roeping van die eerste dissipels en is in ’n baie direkte sin die praktiese uitvoering van Johannes 1:7. Daarin gaan dit oor getuienis aangaande die lig (Jesus) sodat mense daardeur tot geloof kan kom. Die gevolg van Johannes die Doper se getuienis aangaande die “lam van God” is dat sy vroeëre dissipels vir Jesus begin volg. Dit is interessant dat die dissipels in die sinoptiese evangelies hulle werk as vissermanne opgee om Jesus te volg, terwyl hulle in die Vierde Evangelie hulle vorige verbintenisse as dissipels van Johannes die Doper opgee om Jesus te volg. Hieruit word afgelei dat die volgelinge van Johannes die Doper ook van die eerste dissipels van Jesus was. Ná sy getuienis verdwyn Johannes van die toneel. In ’n sin het hy dus sy funksie in die verhaal vervul; hy het oor die Lig getuig en ander na Jesus toe gelei. Sy getuienis sal nou vervang word met die dissipels se persoonlike ervaring van Jesus. Die Johannese roepingsverhaal se eiesoortige “roepingsperspektief” moet gerespekteer word. Dié uniekheid moet nie deur die sinoptiese roepingsverhale vervang of verdring word nie. Dit is van besondere belang vir die prediking.

Vers 43 (“die volgende dag”) bied ’n voortsetting van die dissipels se roeping. Jesus kry Filippus en nooi hom uit om 'n dissipel te word. Vers 45 vertel hoe Filippus weer vir Natanael vind en oor Jesus getuig. Natanael kom nie in die ander evangelies voor nie en is afwesig oop die lys van die twaalf. Filippus se getuienis vind in twee dele plaas. Eerstens identifiseer Hy Jesus as die vervulling van die Skrifte. Tweedens identifiseer hy Jesus op die algemene manier waarop een persoon van 'n ander onderskei word deur na sy pa te verwys: “Jesus, die seun van Josef”, dus 'n “goddelike” en 'n “aardse” identifikasie. Hierdie dubbele identifikasie van Jesus is 'n spanning wat ons dwarsdeur die evangelie aantref. Daarom dat sommige die goddelike oorsprong van Jesus erken en andere weer die menslike oorsprong as die hele verhaal aansien.

Vers 46 toon aan hoedat die getuienis oor Jesus vir die eerste keer weerstand kry. Natanael se weerstand onderstreep die spanning wat inherent in Filippus se getuienis aanwesig is. Filippus argumenteer nie met Natanael nie. Hy rig egter dieselfde uitnodiging aan Natanael as wat Jesus aan die eerste dissipels gerig het. Filippus nooi hom dus uit om self te sien hoe dat die vervulling van die Skrifte in hierdie mens “Jesus van Nasaret” plaasgevind het.

Verse 47-50 verteenwoordig die langste gesprek tussen Jesus en sy dissipels in Johannes 1. Jesus openbaar die meeste oor Homself aan dié een wat skepties en vol twyfel reageer. Jesus sê van Natanael: “Hier is 'n ware Israeliet”. Jesus prys vir Natanael dat hy die uitnodiging aanvaar ten spyte van die feit dat daar by hom twyfel is. Daarna fokus die verhaal op die “bonatuurlike” kennis wat Jesus het. Die effek daarvan op Natanael is dat hy Jesus se kennis as 'n daad van selfopenbaring sien en tot geloof kom. Daarom is Natanael se respons op Jesus meer as 'n getuienis; dit is 'n belydenis (vgl. die titels wat hy in vers 49 vir Jesus gebruik). Jesus kritiseer nie die grond van Natanael se geloof nie, maar suggereer dat hy aan die beginpunt van sy geloof in Jesus staan. Die “groter dinge” wat hy gaan sien, is ook geleenthede vir 'n dieper geloof.

Jesus se versekering in vers 51 “dit verseker Ek julle …”, dus die dubbele amen, is een van die kenmerkende Johannese spraakpatrone en kom 25 keer in die evangelie voor. Dit laat besondere klem val op wat volg. Dit word gewoonlik ook gebruik om 'n nuwe gedagte in te lei of om die oorgang van dialoog na monoloog aan te dui. Hier dien dit as 'n konklusie tot hoofstuk 1. Johannes en sy dissipels het oor Jesus getuig, maar in vers 51 gee Jesus sy eie belofte van selfopenbaring. Hy identifiseer Homself as “die Seun van die mens”.

Waar die titel in die sinoptiese evangelies 'n aanduiding is van Jesus se lyding, dood en sterwe, funksioneer dit in die Johannesevangelie as titel wat die afstand tussen hemel en aarde oorbrug. Dié vers is nie 'n direkte aanhaling uit die Ou Testament nie, maar is ryk aan simboliek wat die skrywer met nuwe betekenis vul. Die vers kombineer beelde van die neerdaling van die Seun van die Mens (Dan 7:13) en Jakob se leer in sy droom (Gen 28:12). Johannes vul dié beelde met 'n nuwe inhoud wat dit vars en verrykend maak. Die leer van Genesis 28 word vervang met die Seun van die Mens en gevolglik dat die Seun van die Mens as 't ware die lokus raak van God se aktiwiteite op aarde. Die Seun van die Mens raak as ’t ware die plek waar die aardse en die hemelse, die goddelike en die menslike, die tydelike en die ewige mekaar ontmoet.

Konteks

Wat die konteks betref, moet in gedagte gehou word dat die teks op die tweede Sondag van Epifanie aan die orde kom. In die verband is dit van belang dat die skrywer in Johannes 1:19-52 op twee aspekte fokus wat ook direk met mekaar verband hou en die betekenis van Epifanie verder belig; die identiteit van Jesus en die betekenis van dissipelskap. Beide die dissipels van Johannes die Doper en Jesus se eerste dissipels getuig van Jesus se identiteit. Die doel van Johannes die Doper se getuienis is om Jesus as 't ware bekend te stel as die bron van verlossing en lig vir die wêreld. Johannes identifiseer Jesus aan die hand van die tradisionele beeld as “lam van God” (29), maar vul dit aan met die sentrale aanspraak van die Vierde Evangelie; Jesus as Seun van God.

'n Belangrike kenmerk van die eerste hoofstuk van Johannes is die verskeidenheid Christologiese titels (lam van God, Seun van God, rabbi, Messias, Seun van Josef van Nasaret, Koning van Israel, Seun van die Mens). Hoekom is daar so 'n groot verskeidenheid name vir Jesus? Omdat elke dissipel iets anders in Jesus sien en daarvan op 'n eie manier getuig. Elke dissipel kom na Jesus met 'n eie verwagting en behoefte (vgl ons Skrifgedeelte), die een het 'n leermeester nodig, 'n ander die Messias, 'n ander die vervulling van die Skrifte, en aan elkeen van dié behoeftes voldoen Jesus. Tog lyk dit in vers 51, waar Jesus self aan die woord is, dat nie een van die titels die finale antwoord gee op die vraag: Wie is Jesus? nie. Die dissipels se getuienis is dus maar net die begin, hulle sal nog “groter dinge” sien. Die beeldspraak van vers 51 laat die suggestie dat die realiteit van God in Jesus nie in tradisionele kategorieë en titels vasgevang kan word nie.

Die ryk verskeidenheid getuienisse aangaande Jesus in die eerste hoofstuk is beide 'n waarskuwing en 'n viering. Dit waarsku die leser om Jesus nie tot vooropgestelde kategorieë en verwagtings te beperk nie, maar om die oë oop te hou vir die verrassende openbaring van God. Die kerk moet let op dié waarskuwing, aangesien ons maklik kan optree asof ons die laaste vraag oor Jesus se identiteit al beantwoord en by 'n definitiewe titel vir Hom uitgekom het. Daarom moet ons oop wees vir nuwe beelde en metafore om hierdie openbaring van God in sy Seun mee te beskryf, aangesien dit ook met nuwe en kreatiewe moontlikhede van dissipelskap kan help.

Die opeenvolging van gebeure waarsku nie net nie, dit vier ook grenslose genade van God in Jesus Christus. Die verskeidenheid titels illustreer iets van die volheid van waaruit die kerk genooi word om “genade op genade” te ontvang. Die Christologiese rykdom van Johannes 1 suggereer dat die lys titels vir Jesus in 'n sekere sin oop is. Net soos wat elke opeenvolgende dissipel se verwagtings en behoeftes in 'n ontmoeting met Jesus vervul word, net so suggereer die teks dat die lidmate van die geloofsgemeenskap waarvan ek en jy deel is, ook hulle nuwe nood en behoeftes na Jesus mag bring en dat daarin voorsien sal word.

Die Christologiese fokus van Johannes 1:19-51 openbaar baie oor die Vierde Evangelie se verstaan van dissipelskap. Die besluit om 'n dissipel van Jesus te word, kan nie losgemaak word van Jesus se identiteit nie. Wat die dissipels dus doen, word bepaal deur wie Jesus is. Soos wat elke nuwe dissipel by Jesus kom, raak die besluit om Jesus te volg 'n reaksie op die aansprake oor Jesus se identiteit. Anders as in die sinoptiese evangelies, waar Jesus die dissipels belowe dat daar 'n verandering in hul lewe gaan plaasvind, is die roeping in dié evangelie Christologies van aard. Dit beteken die roepingsverhale begin met die identiteit van Jesus, en enige verandering in die dissipels begin met 'n erkenning van wie Jesus is en wat Hy doen.

Hierdie roepingsverhale herinner die kerk dat dissipelskap met 'n aktiewe ontmoeting met Jesus te make het. Daarom bestaan ons Skrifgedeelte hoofsaaklik uit 'n dialoog, sodat die lesers self deelnemers kan raak aan die drama van dissipelskap. Die leser is in staat om Jesus se uitnodiging “volg my” as 'n persoonlike uitnodiging te beleef. Ons hoor die verskeidenheid getuienisse in antwoord op die uitnodiging. Daarom is die skrywer nie besig om 'n verslag op te stel van dissipelskap nie, maar nooi hy die lesers uit om self te deel in dissipelskap. Dit word aangehelp deur die feit dat dié verhale deurtrek is van werkwoorde: volg, kyk, soek, bly, soek … Dié werkwoorde bevestig dat dissipelskap iets aktiefs is en dat dit direk in interaksie met Jesus staan.

In dié verband is dit interessant om te sien hoedat Natanael in die laaste dissipelskap-storie van die hoofstuk beweeg van skeptisisme na 'n oortuigde Christologiese belydenis “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Wat Natanael as dissipel dus kenmerk is dat hy weet wie Jesus is; die man van Nasaret  is werklik die Seun van God. Natanael se getuienis plaas hom in die gemeenskap van die groep wat die belydenis van 1:14 deel: “Ons het sy heerlikheid gesien …” Jou identiteit as dissipels van Jesus word dus ten diepste gegrond in die identiteit van Jesus van Nasaret.

Preekvoorstel

“Ek had hier gesit wag vir jou …”

Die bekende Afrikaanse skrywer André P Brink begin en eindig sy roman “Duiwelskloof” met die woorde: “ek had hier gesit wag vir jou …” Binne die konteks van die roman, die feit dat dit ook aan die begin en die einde van die boek staan, is dit treffende woorde wat die eienaardige verhale van 'n groepie mense in die hel (tussen Oudsthoorn en Prins Albert) as 't ware omarm. Dit is woorde wat jou lank laat dink en wonder … Dit is woorde wat jou, saam met die hoofkarakter in die verhaal, ongemaklik laat rondskuif. Dit laat jou voel asof daar iemand is wat te veel van jou weet. Iemand wat reeds vir jou sit en wag, iemand wat moeite gedoen het om meer oor jou uit te vind as wat jy sou wou hê en wat jou met 'n ongemaklike gevoel laat. Amper soos die paparazzi wat bekendes agtervolg, foto's van hulle neem en dan in die openbaar uitblaker en uitbeeld.

Natanael

In dié verband het 'n mens nogal begrip vir Natanael se ongemak toe Jesus vir hom sê: “Voordat Filippus jou geroep het … toe jy nog onder vyeboom was, het Ek jou al gesien” (4). Jesus sê dus eintlik vir hom: “Ek had hier gesit wag vir jou …”  Daarom kan 'n mens nie Natanael kwalik neem dat hy uit die veld geslaan is nie. Waarvandaan ken hierdie persoon hom? As hierdie man wat hy so pas ontmoet het, weet dat hy “'n ware Israeliet is, 'n man in wie daar geen bedrog is nie”, wat weet hy nog van my?

Filippus en Natanael

Maar kom ons kyk eers na die aanloop tot die ontmoeting tussen Jesus en Natanael. Ons lees hoedat Jesus op pad was na Galilea, op reis deur die dorpie Kana. Daar ontmoet hy vir Filippus, wat van ‘n ander dorp, Betsaida, afkomstig was.  Hy roep hom om ’n dissipel van Hom te word. Filippus laat nie op hom wag nie en volg onmiddellik, maar kon nie die goeie nuus vir homself hou nie. Soos een fakkel wat ’n ander aansteek, gaan hy na sy vriend Natanael en vertel hom dat hy oortuig is dat hy die lang verwagte Messias ontmoet het.

Natanael met sy interessante persoonlikheid was egter heelwat meer krities. Hy het die Bybel goed geken en geweet dat die Ou Testament nêrens melding maak van die feit dat die Messias van Nasaret afkomstig was nie. Sy kritiese ingesteldheid lei hom juis daartoe dat hy nie sommer enigiets vir soetkoek sal opeet nie – hy betwyfel en bevraagteken eers – dalk het hy al met ander sogenaamde Messiasse te doen gehad ...

'n Moderne ingesteldheid

Hierdie kritiese ingesteldheid is nie vreemd in ons dag nie. Dit is nie sonder rede dat al hoe meer mense die kerk verlaat nie. Die moderne mens het baie vrae en vind gou fout met dinge waarvan hulle nie hou nie. Predikante vind in die bediening dat lidmate al hoe meer krities raak, dat hulle goeie en indringende vrae vra en dat goeie verantwoording noodsaaklik is. Dit is een rede waarom ek so lief is vir Bybelskole en Bybelstudie-byeenkomste. Dit gee geleentheid om vrae te opper, om die ondersoekende gees lug te gee.

Natanael was so 'n persoon. Boonop was Nasaret maar 'n redelik onbekende ou dorpie in die omgewing, terwyl Natanael van Kana afkomstig was. En soos dit mos maar dikwels op die platteland gaan, vind 'n mens vyandigheid tussen dié tipe gemeenskappe. Die gevolg is dat Natanael in alle eerlikheid vir sy vriend vra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

Navolging van Jesus

Dan sien ons iets baie interessants. Uit die wyse waarop Filippus nou te werk gaan, kan ons heelwat leer oor ons eie navolging van die Here Jesus. Filippus probeer nie om met allerlei ingewikkelde teologiese argumente vir Natanael te oortuig dat Jesus die Messias is nie. Hy volg 'n ander werkswyse. Hy sê vir hom: “Kom kyk – kom kyk self, ek gaan nie eers probeer om jou te oortuig nie.”

Filippus leer ons iets baie belangriks. Want tot vandag toe nog is dit 'n geval dat daar nie baie mense is wat hulle tot die Christendom bekeer het op grond van goeie argumente nie. Dikwels is dit eerder 'n geval dat argumente meer skade doen as goed. Filippus wys dat die enigste manier om mense met die heerlikheid van Christus in aanraking te bring, is om hulle aan Christus self voor te stel – om hulle te bring by die verhaal van die kruis en die opstanding.

Roeping tot dissipelskap

Die roeping om 'n dissipel van Jesus te wees, vra van ons om daaroor te getuig, om ook 'n akkurate getuie te wees. Maar ware dissipelskap is nooit net gebaseer op hoorsê nie. Daarom is ons in 'n sekere sin niks meer as getuies wat ander oproep en hulle belangstelling wek nie. Maar die ware oortuigingswerk en die werklike roeping tot dissipelskap is niks minder as 'n lewensveranderende ontmoeting met die lewende Here Jesus Christus self nie.

Dus 'n outentieke (opregte) ervaring van die krag van God wat werksaam is, in en deur die Here Jesus. Selfs moderne teorieë uit die opvoedkundige sielkunde beklemtoon die feit dat mense nie leer deur wat ander sê nie, maar wat hulle doen. Ware dissipelskap gaan dan nog dieper, tot by 'n ontmoeting met die gekruisigde en opgestane Here.

Natanael ontmoet vir Jesus

So bring Filippus vir Natanael by 'n ontmoeting met die lewende Here Jesus. Die afloop van die gebeure is baie interessant. Jesus, die Here en die kenner van die mens se hart, sê vir Natanael nog voordat hy 'n woord kon sê: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.” Omdat Jesus hom geken het nog voordat Hy hom ontmoet het, het Jesus geweet – hierdie man met sy kritiese ingesteldheid – gaan nie sommer enigiets glo nie. Hy sal dit toets en ondersoek.

Daarom verbaas dit ’n mens ook nie dat Natanael hierdie opmerking van Jesus sommer so voor die voet aanvaar nie. Weer eens kom hy met 'n kritiese vraag: “Waarvandaan ken U my?” Hy wil weet wat hierdie persoon van hom weet. Hy het hom nog nooit voorheen ontmoet nie – hoe weet hierdie persoon dat hy 'n ware Israeliet is en iemand in wie daar geen bedrog is nie?

Jesus aan die werk

Maar dan haal die Here Jesus op meesterlike wyse die wind uit sy seile. Hy verander hierdie kritiese mens se verstand en hart in 'n oomblik, want Jesus sê vir hom: “Voordat Filippus jou nog geroep het ... toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” Meteens weet Natanael hier is iemand wat hom werklik ken – hierdie Persoon sien deur been en murg. Hy was stomgeslaan dat iemand in so `n kort tydjie nie alleen sy persoonlikheid kon opsom nie, om te weet dat hy `n Israeliet sonder bedrog is nie, maar wat ook weet wat hy vroeër daardie dag gedoen het.

Geen wonder dat Natanael geheel en al kapituleer nie. Dat hy homself onvoorwaardelik oorgee met die wonderlike belydenis: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!” Titels wat nie alleen Jesus se heerlikheid en outoriteit onder woorde bring nie, maar wat vir die Israeliet ‘n aanduiding was van die lewende God self.

Momente van oorgawe

Ons almal ken daardie momente waar ons ook hierdie woorde met oorgawe gesê het. Waar ons net geweet het, nou het die lewende Here reg deur my gesien. Hy ken my, hy weet wat my behoefte is, Hy ken my drome en verlangens.  Daardie momente waar jy jou onvoorwaardelik aan Hom oorgegee het in die wete ek kan niks vir Hom geheim hou nie. Daardie oomblikke dat jy geweet dat dit 'n ware ontmoeting met die lewende Here was, waar jy sy hand op jou skouer kon voel en jy jou onvoorwaardelik as navolger beskikbaar gestel het. Daardie ontmoeting wat jou Sondag na Sondag na die erediens laat terugkom om hier vir Hom daarvoor dankie te sê.

Medewerkers

Ons moet begryp dat God nie van ons verwag om sy werk vir Hom te doen nie. Hy verwag van ons om sy medewerkers te wees. Want nie een van ons kan van iemand anders 'n dissipel van die Here maak nie – dit kan net die Here self doen. Maar in getrouheid en nederigheid kan ons deur ons handel en wandel getuig van hoe Hy ons ware navolgers gemaak het.

Maar dit is nie waar die dissipelskap van Natanael eindig nie. Luister wat Jesus vir hom sê: “Glo jy omdat ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” En groter dinge het hy voorwaar gesien. Net die volgende dag lees ons van die bruilof in Kana waar Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het. Waar Hy die water in wyn verander en ware blydskap en vreugde in mense se harte gebring het. As navolger van Jesus het Natanael nog vele ander gebeure ook gadegeslaan. Gebeure wat vir hom met verloop van jare tot ‘n veel dieper insig gebring het in ware identiteit van hierdie man met die naam Jesus.

Teenswoordig én toekomstig

'n Laaste insig wat uit dié verhaal van Natanael se roeping duidelik raak. Dissipelskap is altyd 'n teenswoordige maar ook ‘n toekomstige werklikheid. Dit is 'n teenswoordige werklikheid omdat dit hier en nou is dat God vir jou en vir my binne ons huidige omstandighede – hier in ons gemeente, in ons werk, by die skool, in ons beroep – roep om sy navolger te wees. God se werk in en deur Jesus Christus is dus 'n werklikheid hier en nou,  maar dit word nie deur die teenswoordige uitgeput nie.

Daarom is daar aan dissipelskap altyd ook 'n sterk toekomsdimensie gekoppel, want dissipelskap kan nie in die hier en die nou uitgeput word nie. God se werk het begin in wat Jesus Christus op aarde kom doen het – daarom word ons telkens geroep: “Kom en kyk – kyk wat Hy gedoen het – kom ontmoet Homself.” Maar daarmee saam gaan ook altyd die belofte dat die toekoms nog groter dinge inhou. Dat aan hom en haar wat ‘n ware ontmoeting met die lewende Here beleef, ook groter dinge in die toekoms beloof word. Groter dinge in terme van die openbaring God se mag.

Die roeping tot dissipelskap is dus nie alleen om te kom kyk en te sien nie, maar wanneer jy eers een keer gesien het – omdat jy `n ontmoeting met die lewende Here gehad het – om jou oë wyd oop te hou vir en te kyk na wat God besig is om te vermag in die wêreld, ook in jou lewe, soos wat Hy reeds vir ons geïllustreer het in sy Woord.

Dit is die uitdaging waarvoor ek en jy hier aan die begin van `n nuwe jaar staan. Om ons oë so groot oop te hou, dat ons – soos wat met Natanael die geval was – nie anders kan nie as om verwonderd te staan oor sy almag en saam met Natanael uit te roep: “Rabbi, U is die Seun van God – U is die Koning van Israel.”         

Bibliografie

Du Rand, J A 1995. Terwille van liefde: Johannes, die Woord vir die mense;  Roberts, J H et al. 1990. Teologie in Konteks;  Soards, M et al. 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year A;  Longenecker, R N 1996. Patterns of Discipleship in the New Testament;  O'Day, G R 1995. John: The New Interpreter's Bible: Volume IX.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.