Johannes 10=22-30 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 33 views
Notes
Transcript

Johannes 10:22-30 LR2005

17 april 2005

vierde Sondag in Paastyd

Jubilate

Liturgiese voorstel

Fokusteks:           Johannes 10:22-30

Ander tekste:                 Handelinge 2:42-47; Psalm 23; 1 Petrus 2:19-25

Inleiding

Vandag is Goeie Herder Sondag en al die tekste handel in meerdere of mindere mate oor hierdie tema. Die hele liturgie staan in diens van die metafoor van die Herder en sy skape.

God versamel ons voor Hom

Die Paaskers word aangesteek en gemeente sing Lied 247/NSG 233.

Aanvangswoord

Voorganger: Die Here het opgestaan.

Gemeente:     Die Here het waarlik opgestaan.

of

“Soos ’n blom na die son draai; soos riviere na die see loop; soos ’n boom na die hemel opreik; soos skape agter hul herder aanloop – so rig ons ons harte op die Here. Rig julle harte op die opgestane Here!”

Seëngroet

Liewe gemeente, die Goeie Herder en Bewaker van julle lewens, Jesus Christus, groet julle vanoggend met dieselfde woorde waarmee Hy sy dissipels kort na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle.”

Sang

Psalm 23/NSG 40(A)

Diens van die Woord

Gebed by die opening van die Woord

Gemeente sing sittende as gebed Lied 253:1 en 2 “U het die brood gebreek”/NSG 370.

Skriflesing

Johannes 10:22-30

Kindertyd

Die metafoor “herder” is nie meer so ’n bekende beeld vir alle kinders nie. Tydens kindertyd kan hierdie beeld en hoe dit op God van toepassing is aan die kinders verduidelik word.

Prediking

Antwoord

Lied 263:1 “U, goeie Herder, wat ons lei”.

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaal

Sien basisliturgie

Offergawes

Voorganger:   U het Uself vir ons gegee, Here.

Gemeente:      Nou gee ons onsself vir U en vir ander.

Volg dieselfde lyn as die vorige twee Sondae met betrekking tot die offergawes. Die verbinding tussen nagmaalstafel, werkloosheid en armoede word konsekwent deurgevoer. Die kollekte kan weer op die tafel geplaas word en vanoggend kan die kring in die voorbidding nog nouer getrek word deurdat daar spesifiek gebid word vir werkloosheid en armoede in die gemeente en onmiddellike omgewing. Laat iemand van die Getuieniskommissie vir die gemeente ook hier meer vertel oor verdienstelike projekte waarby julle gemeente betrokke is om armoede te verlig of werkgeleenthede te skep of van projekte in julle omgewing waarby lidmate betrokke kan raak.

Voorbidding word gedoen en gefokus op armoede en werkloosheid in julle gemeente en onmiddellike omgewing.

Antwoord

 Lied 521 “Erkentlik deur die dae”

Uitsending

Verootmoediging en skuldbelydenis

Genadetoesegging

Nadat God se belofte van sy troue sorg aan die gemeente toegesê is, kan die gemeente hierdie waarheid vir hulself toe-eien deur Psalm 23 saam hardop te bely:

Die Here is my herder,

ek kom niks kort nie.

Hy laat my in groen weivelde rus.

Hy bring my by waters

waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

ek sal nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

U laat my by ’n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos ’n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

U goedheid en liefde

sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees

in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Sang

Lied 415 “Jesus leef, en ons met Hom!”/NSG 114

Seën

Voorganger:  Liewe gemeente, wanneer ons nou in hierdie Paastyd uitmekaargaan, bid ons saam

                    met die mense van Emmaus en die kerk van alle eeue …

Gemeente:     Bly by ons Here

Voorganger:  Die Here seën julle en sal by julle bly en Hy bekragtig dit met sy belofte: “Ek gee vir

                    julle die ewige lewe, en julle sal vir ewig nooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit

                    my hand ruk nie.”

Antwoord:     Lied 417 “Jesus, ons eer U”

INLEIDING TOT DIE JOHANNES-EVANGELIE

By die Johannes-evangelie kan ons drie hoofindelings onderskei (Johnson). Eerstens die boek van tekens waarin Jesus se dade en sy aansprake uiteengesit word (1:1-11:44). Tweedens volg die sogenaamde boek van glorie of verheerliking. Daarin onderrig Jesus enersyds sy dissipels deur onder andere in hierdie intieme kring te openbaar Wie Hy regtig self is, Een met die Vader en die Gees (11:45-17:26). Daarnaas is die klem op die Here wat dien, op sy verhoging deur sy kruisweg tot by sy opstanding en sy verskyning aan sy dissipels daarna (18:1-21:25).     

In die derde eeu nC het Clemens van Alexandrië Johannes die “geestelike evangelie” genoem. Hy het raakgesien dat die vierde evangelie opmerklik anders as die ander drie evangelies is. Kenners is dit eens dat ongeveer 90% van die vierde evangelie nie ook in Matteus, Markus en Lukas voorkom nie. Voorbeelde sluit die water wat wyn word (2) en die voetwassing (13) in. Minder bekende karakters soos Lasarus, Nikodemus en Thomas word prominent in die vierde evangelie genoem en het die Christelike geloofsgemeenskap sedertdien diepgaande beïnvloed. Soos by Lukas kry vroue ’n prominente plek in die vierde evangelie. Voorbeelde is Jesus se moeder Maria (2), die Samaritaanse vrou (4), die vrou wat op owerspel betrap is (8), Maria en Martha die susters van Lasarus (11, 12), Maria Magdalena (20). Dit val op dat Jesus in die vierde evangelie byvoorbeeld nie soos in die ander drie evangelies duiwels uitdryf, gelykenisse vertel, na bekering verwys of die nagmaal instel nie. Daarby is die reiniging van die tempel byvoorbeeld aan die begin van die vierde evangelie (2:13-22);  ’n seuntjie prominent by die voeding van die 5 000;  sterf Jesus op die dag voor die Paasmaaltyd (18:28); en gebeur die wonderlike visvangs na Paasfees (21:1-8). Hierdie en nog ander verskille met die ander evangelies val op, maar dit hinder nie in die ontwikkeling van die vierde evangelie nie.

Die vierde evangelie is inderdaad anders as die ander evangelies, uniek. Dit is anders saamgestel en beklemtoon besondere teologiese lyne (Powell). Terwyl daar vrae is oor hoe die vierde evangelie uiteindelik saamgestel is en waarom dit so van die ander drie evangelies verskil, verklaar Johannes, die lieflingsdissipel self: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (20:30-31).            

In die vroeë kerk is die vierde evangelie as die kroon van die evangelies, die arend onder die voëls beskou. Die vierde evangelie se doel is om te verklaar wie Jesus is en geloof op te wek by die lesers en hoorders in Hom as die Christus, die Seun van God by ons, die Here wat lewe en vir ons die lewe gee. 

PREEKSTUDIE – JOHANNES 10:1-10, 20-30

Teks

1. Ons behandel die betrokke verse uit Johannes, die vierde evangelie vanjaar tussen Paasfees en Pinkster. Met Paastyd het ons nagedink oor Jesus se lyding en sy selfaflegging aan die kruis, sy liefdesoffer ter wille van ons verlossing en sy opstanding uit die dood – sodat ons kan lewe. Vandag konsentreer ons op Johannes 10 wat van lewe in oorvloed praat (10:10). Ons kyk vooruit na Pinkster, wanneer ons weer eens die oorvloed van die oes (in aansluiting by die OT) sal gedenk. Dan sal ons God se goedheid en genade deur die eeue vier, en ook verwag dat die Heilige Gees nogeens oorvloedige gawes oor ons sal uitstort. In die vierde evangelie beteken dit wesenlik dat die Heilige Gees ons dan inniger met Jesus en sy leer sal verbind.

2. In Johannes 10 maak Jesus belangrike aansprake oor Homself aan die hand van die destyds bekende beeld van die herder. Hy gebruik hierby die metafore van byvoorbeeld die deur, die skaapkraal, die rowers en die diewe. Sy aansprake staan binne die sogenaamde boek van tekens (sien inleiding). Johannes 10, die sewende en laaste openbare redevoering van Jesus (Morris), val nie uit die lug nie. Ons moet dit teen die agtergrond van hoofstuk 8 en 9 verstaan (Calvyn; Schnackenburg; Philippe B Kabong-Mbaya). Daarin voer Jesus openlik en ernstig stryd met die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hy ontbloot hulle gebrek aan wysheid, liefde en barmhartigheid en onderstreep hulle selfgerigtheid, selfsug en gebrekkige leierskap.

In hoofstuk 8 probeer hulle Jesus vastrek en uitskakel. Hy is in die oggend in die tempel en leer “al die mense”. Die Fariseërs bring toe ’n vrou na Hom wat op owerspel betrap is. Hulle wou Jesus uitlok en aankla (8:6). Volgens Moses se wet was owerspel blatante sonde en moes sy sterf. Maar Jesus? Hy, die Christus, doen anders. Hy daag hulle uit op die vlak van hulle eie sondige gewetens en skep so genadiglik ’n ruimte vir die vrou om in te lewe. Terselfdertyd vermaan Hy haar om nie meer sonde te doen nie, maar binne die genade te bly. Die verband tussen die metafore in hoofstuk 8 (tempel, Jesus, mense, Jesus se leer in die ruimte wat God se teenwoordigheid spel en aanbidding veronderstel) en hoofstuk 10 (skaapkraal, herder, skaapkudde, weiveld) is opvallend.

In hoofstuk 9 genees Jesus ’n blindgeborene op die Sabbat. Die dissipels vra Jesus dan (v2) of sy jammerlike toestand oorsaaklik aan sy eie sondetoestand of die sonde van sy ouers verbind kan word (v2). Jesus sê nee, hy is blind gebore sodat die werke wat God doen in hom gesien kan word. Die Fariseërs, herders van Israel, wil egter nie die man of sy ouers laat vrykom nie. Hulle is ontsteld en openlik teen Jesus gekant wat op die Joodse rusdag barmhartigheid bewys het. Wie dus in Hom sou glo, sou hulle uit die sinagoge (die skaapkraal, die weiplek) verban (v22). Eer aan God ja, maar dit sluit Jesus uit. Hy was vir dié leiers ’n sondaar (v24). Die blindgeborene was ’n dissipel van Jesus. Hulle was dit van Moses (v28). Jesus maak die man vry en gee hom ’n nuwe lewe. Die Fariseërs en skrifgeleerdes jaag hom die tempel uit en tref hom met die banvloek (v34). Jesus ontbloot die Fariseërs (die herders van Israel) se geestelike blindheid (v39-41). As die man sy geloof in Jesus bely en Hom aanbid, keer Hy hom ook nie (v38). Die konflik was openlik.

3. Hierop volg Johannes 10. Jesus gebruik wel beeldspraak (allegorie), maar in die lig van die Ou-Testamentiese tekste (sien Konteks) wat oor herders handel, is Jesus se algemene bedoelinge duidelik.

Wie die taak/roeping van herderskap vir die Godsvolk opgedra is, moes betroubaar wees in die uitvoering van hulle taak teenoor hulle opdraggewer. Dit is uit die Ou-Testamentiese tekste duidelik dat gebrek aan betroubaarheid ’n ernstige misdaad was. In Jesus se samelewing het herderskap outokratiese heerserskap beteken (Morris; vgl die verband tussen herderskap en koningskap in Jer 23). As Hy dus in Johannes 10 die herderskap op Homself van toepassing maak, as die Goeie Herder teenoor diewe en rowers, stel Hy Homself openlik op as die alternatief, die ware herder, die ware heerser. Die herders, heersers in Jesus se tyd, het daarin misluk om sorgsaam, barmhartig en liefdevol teenoor die owerspelige vrou op te tree (Joh 8) en die blindgeborene en sy familie (Joh 9). Jesus, daarenteen, betoon die Vader se genade aan hulle.

Jesus se kritiek op sy voorgangers (10:8) verwys na die Joodse hiërargie van sy dag. Hy verwys self positief na die Ou-Testamentiese figure op wie die leiers in sy tyd hulle beroep het (vgl Joh 5:46 en 8:56). Maar die herders van sy dag se verbandlegging met die Ou-Testamentiese figure en riglyne het hul eie belang gedien. Die Sadduseërs byvoorbeeld het ’n groot klomp geld uit die godsdienstige gebruike by die tempel gemaak. Jesus wys elders die Fariseërs (Luk 16:14) en skrifgeleerdes (Mark 12:40) tereg oor hulle gierigheid.       

Jesus se inmekaarweef van letterlike en simboliese uitsprake het ’n besondere uitdaging gebied vir sy hoorders en sy teenstanders. Sommige daarvan kon hulle maklik verstaan. Oosterse skaapherders het destyds by ’n trop deurmekaar gejaagde skape gaan staan en hulle skape een-een by die naam geroep (Morton). By die herkenning van hulle eienaar se stem het hulle dan uit die deurmekaar bondel na die eienaar toe gehardloop. In dié lig was Jesus se uitspraak, “my skape ken my ... hulle luister na my stem” (10:3-5, 14-16, 27), tegelyk ’n troos vir sy navolgers en ’n uitdaging aan sy hoorders en teenstanders.

Ander uitsprake was moeiliker te verstaan. Jesus verklaar Hy is die ingang van die skaapkraal. Hy gee toegang; Hy bewerk hulle redding; Hy waarborg weiding; Hy gee die lewe en dit in oorvloed; Hy self is die goeie herder; “Hy lê sy lewe af vir die skape”; Hy ken sy skape en hulle ken Hom, soos Hy en sy Vader mekaar ken (10:14,15); sy Vader het hom lief omdat “Hy sy lewe aflê” in opdrag van die Vader (10:17), “sodat die skape ewig kan lewe” (10:28,29); Hy doen die wil van sy Vader, want “Hy en sy Vader is een”.

Hierteenoor is elkeen wat nie deur Christus as die deur ingaan nie, indringers, diewe, rowers. Daar is slegs een deur, een ingang. Wie nie daardeur wil ingaan nie, bly buite. Die deur, die ingang, Christus, is die deurgang vanuit die sonde en die dood na die genade van lewe en dit in oorvloed. Met die metafoor van Hom as die deur, die ingang, stel Jesus almal, die skape en ook die leiers, die herders van sy tyd voor die keuse: dis óf deur My na die lewe óf sonder die lewe. 

In 10:10 kontrasteer Jesus sy eie rol duidelik met dié van diewe wat kom steel en uitroei. Die Griekse woord beteken die dief kom om kwaad aan te doen, om dood te maak, te vernietig vir kos. Die dief offer die skape op vir eie bevrediging en gee nie vir hulle om nie. Hierteenoor kom Hy as die Christus sodat hulle lewe kan hê (vgl 1:4). In die vierde evangelie hou die verwysing na lewe dikwels met die ewige lewe verband. By 1:4 beteken dit lewe in die breedste sin, die lewe wat in die Woord, die Logos self aanwesig is, die oorsprong van ons lewe. Johannes lê in die vierde evangelie gemaklik die verband tussen lewe, woord, lig en Christus. Verskillende betekenisverbande wissel mekaar af in die vierde evangelie. Jesus lê sy lewe af sodat mense vir ewig kan lewe (3:16); Hy gee sy liggaam sodat die wêreld kan lewe (6:51); slegs wie sy liggaam eet en sy bloed drink, verkry die lewe (6:53); wie na Hom toe kom, het die lewe (5:40); wanneer Hy die lewe gee, sterf mense nie meer nie (10:28). As Here van die lewe laat Hy Lasarus uit die dood opstaan. Die Vader is die oorsprong van lewe (5:26; vgl ook Ps 36:9: by Hom is die fontein van die lewe), wat Hy aan die Seun gee en wat Hy op sy beurt aan ons gee. Reeds by die begin van die vierde evangelie ontwikkel Johannes die gedagte dat Jesus die Een is wat lewe bring en wat lig bring.

Joh 10:10 fokus egter op die lewe in sy hoogste vorm, op die ewige lewe, onblusbare lewe selfs na die dood van die liggaam, lewe in eskatologiese perspektief, lewe in die sfeer waar God woon, en in dié sin dus lewe in oorvloed (Schnackenburg).  

Die destydse Joodse leiers/herders en hulle volgelinge het ernstige bedenkinge oor Jesus se aansprake gehad. Vroeër het hulle beweer Hy mislei die mense (7:12, 47) en gesê “die vervloekte klomp mense ken nie ons wet nie” (7:49). In hoofstuk 10 konfronteer hulle Jesus openlik: As u die Christus is (dit is Messias, Gesalfde, Heerser), sê dit reguit. Wanneer Jesus hierop positief antwoord (10:25) en aandui Hy is die gestuurde van sy Vader en dat sy teenstanders nie van sy skaapkudde is nie, want hulle luister nie na sy stem nie en glo nie in Hom nie (10:26,27), dat Hy vir sy eie skape die lewe gee, die ewige lewe en ewige sorg, omdat Hy en sy Vader een is (10:28-30), wou hulle Hom doodmaak/stenig (10:31). Wat hulle betref, het Hy godslastering gepleeg (10:33). Hulle wou Hom later gevange neem (10:39) omdat Hy herhalend sy eenheid met sy Vader bely het (10:37-38).               

4. Jesus se aansprake in Johannes 10 moet uitgelê word in die konteks van sy stryd teen die bankrot, geestelik blinde leierskap van Israel se destydse herders. Teenoor hulle selfgerigtheid en harteloosheid verklaar Jesus openlik: Ek is die Goeie Herder, Ek sorg, Ek gee om, Ek troos, Ek gee lewe, Ek is barmhartig, al kos dit my eie lewe, want Ek leef in belang van my skape en die Vader wat My gestuur het.     

Konteks

1. Verskeie Ou-Testamentiese tekste gee Bybelse agtergrond vir Jesus se strydgesprekke en selfopenbaring in Johannes 8-10. Vergelyk byvoorbeeld Jeremia 23:1-4 (die ellende wat wag op onbetroubare herders); Sagaria 11 (die slegte verhouding tussen die herders en skape); ook Jesaja 56:9-12 (insiglose herders) wat die leiers as herders en wagters teken en ook die baie betekenisvolle Esegiël 34 (die goeie herder wat uiteindelik in die plek van die slegte herders sal kom). God self word in die Ou Testament as die Herder van Israel geteken (vgl bv Ps 80:1; Ps 23:1; Jes 40:10 ev).

Leierskap, geestelik en materieel, van die Godsvolk en herderskap is dikwels gelykgestel. Aan die einde van sy lewe (Num 27:15-17) bid Moses tot die Here vir ’n opvolger: “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee iemand oor hierdie volk aanstel wat vir hulle ’n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

Esegiël 34 profeteer teen die herders van Israel wat vir hulleself geleef en gesorg (34:3, 8) en die skape verwaarloos en verdruk het, nie die swakkes versorg, die siekes gedokter en die wonde van dié wat seerkry versorg nie (34:4), nie die afgedwaaldes teruggebring of die weggelooptes gaan haal nie, maar hulle verstrooi oor die hele aarde (34:5-6). Die Here spreek Hom uit teen die herders wat die skape die lewe ontneem. In die lig van die ernstige gebreke van Israel se herders, wat vir hulleself geleef en gesorg het (34:10), maak God die belofte dat Hy self vir sy skape sal sorg: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien” (34:11; sien ook die aangrypende 34:31). In dieselfde asem beloof die Here om ’n herder na sy eie hart te voorsien. “Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg, my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle ’n herder wees (34:23)”. Dit is hierdie herder van wie Jesus in Johannes 10 praat (Morris). God die Vader help die swakkes, versorg en vertroos dié wat seerkry, verbind die gewondes, soek dié wat afdwaal, gee lewe in oorvloed vir sy kleinvee, sy volk, sy eiendom, sy mense, deur sy eie Herder, sy Seun, Jesus.      

In die Ou Testament onderstreep Esegiël 37 dat God inderdaad lewe wek en dit in oorvloed. In ’n visioen sien die profeet ’n laagte vol doodsbeendere en dan gebeur daar ’n wonderwerk. Uit die niks kom daar iets, uit die dood kom daar lewe. Die dooie massa bene word voor Esegiël se oë lewendig. God se Gees gee die nuwe lewe aan die talle geraamtes, sy Gees werk die nuwe, die ommekeer, die heil, in oorvloed.

2. Augustinus verbind hoofstuk 10 en 9 van die vierde evangelie met mekaar. Hy beklemtoon daar is net een regte deur om by in te gaan. Die Fariseërs het gekies om dit nie te gebruik nie. Daarby beklemtoon hy dat baie mense, ooreenkomstig die gebruike van ons lewe goeie mense genoem word – goeie mans en vroue, onskuldig, mense wat leef volgens die voorskrifte van die wet, wat aan hulle ouers eer gee, wat nie egbreuk pleeg nie, wat nie moord pleeg nie, wat nie steel nie, wat geen vals getuienis teen ander mense gee nie en alle ander vereistes van die wet nakom – maar wat nie Christene is nie ... Heidene kan dus sê, ons leef reg. As hulle egter nie by die deur ingaan nie, wat sal dit hulle baat en waarop kan hulle hulle miskien beroem? (Morris). 

3. Die geheim van die oorvloedige lewe, skryf Calvyn, is daarin dat ons op Christus die ware herder sal bly fokus, op sy stok en sy staf (Ps 23:4). Wie nie só fokus nie, is uitgelewer aan die verwoesting van diewe en rowers en van dwaalleraars (die Fariseërs in Joh 9). Maar vir ons wat nie teenoor die ware Herder rebelleer nie, word die lewe meer en meer oorvloedig.

4. Afgevaardigdes na die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het in Augustus 2004 die 24ste algemene vergadering in Accra, Ghana, gehou. Die tema vir hierdie byeenkoms was: “Dat almal die lewe mag hê en dit in oorvloed”. Daarom is daar in die Bybelstudies en oordenkinge vir die vergadering spesifiek by Johannes 10:10 aangesluit.

In sy bydrae tot Reformed World skryf Kabongo-Mbaya van die Kongo dat die gedeelte inderdaad misverstaan en die dieper betekenis daarvan verbygekyk kan word. Die oorvloed waarvan hier sprake is, kan nie bloot verskraal word tot die oorvloed van gebruiksgoedere nie. Dit is nie gelyk te stel met die bruto nasionale produk van bevoorregte lande nie. Dit is ook nie gelyk aan die oorwinning van materiële armoede en die sukses van hedendaagse individue wat die voordele van die liberale kapitalisme geniet nie. Dit gaan hier nie oor ’n evangelie van voorspoed nie. Jesus se persoonlike aankondiging van wie Hy is en wat Hy aanbied, die lewe in oorvloed, is inderdaad veel meer as wat materiële voorspoed en gemak in hierdie wêreld ons kan bied.

Die vierde evangelie ontstaan in die tyd toe Christene fisie vervolg is en godsdienstige onsekerheid beleef het, vir hulle lewe gevrees het en vir hulle geloof gemartel is. Ware lewe, die lewe in oorvloed, bely die vierde evangelie kan net hulle Here vir hulle gee. “Lewe in oorvloed”, die werklikheid van die lewe in oorvloed wat die Goeie Herder ons gee, beteken voor alles die lewe onder sy heerskappy, binne sy magsgebied, nou en vir altyd. Sy herderskap gee vir ons wat aan Hom behoort, diep sekerheid en troos in alle situasies van aanvegting en swaarkry, omdat ons lewe met God self se hede en toekoms rekening hou. Sy skaapkraal is nie ’n tronk of beperkende ruimte nie. Onder die heerskappy van die Goeie Herder het sy kudde ’n lewensruimte.

Die fokus in die meerderheid van die bydraes vir die WBGK oorspan meermale Johannes 10:10 se fokus. Die bydraers sluit eintlik aan by die breër Bybelse kanon en beklemtoon die behoefte om sosiaal- maatskaplike sorg en geregtigheid te laat geskied met die oog op lewe en vrede vir almal. Die klem is dus meermale daarop dat God die goeie vir alle mense, wil. Die Johannes 10 perikoop beklemtoon Christus se lewegewende omgee vir sy skape. Die WBGK bydraes beklemtoon dat ons vandag ’n keuse het vir of teen Hom en sy soort herderskap en leierskap, met ons eie manier van lewe, werk en stryd.

Ofelia Ortega van die Presbiteriaanse Kerk in Kuba argumenteer byvoorbeeld Johannes 10 impliseer dat ons geroep word om self só te leef dat ander se belange deur ons eie lewenswyse gedien word. Ons word geroep tot ’n lewe van algemene welsyn vir ons naaste en die omgewing, om in die voetspoor van ons Here self die goeie te doen ter wille van ander.

Setri Nyomi, leraar van die Evangelies Gereformeerde Kerk in Ghana en huidige hoof-sekretaris van die WBGK skryf miljoene mense in ons wêreld het nie ’n betekenisvolle lewe in Jesus Christus nie. Miljoene leef in armoede, konflik en vlug van een land na die ander. Die kerk van Jesus word geroep om te getuig van ’n voller lewe vir hulle wat dit nie beleef nie én vir almal wat soek na die sin van die lewe. Die vraag na die lewe is meerkantig en dit roep om ’n respons by ons. Ons moet advokate vir die lewe wees en die magte van die dood teenspreek. Hy gee twee voorbeelde om oor na te dink.

’n Jong man het op vyf-en-twintig ’n graad in die wetenskap aan ’n goeie universiteit behaal waar sy geloof in Christus ook binne sy Bybelstudiegroep verinnig het. Hy is egter soos talle ander jong mense in Afrika na twee jaar steeds werkloos. Nou wonder die jong man: Watter soort lewe is dit? Gee God regtig om vir ons wat onregverdig in armoede moet leef, met stygende lewenskoste terwyl mense in ander lande ryker en steeds ryker word, vra hy.

’n Jong meisie in Europa is as kind in die Gereformeerde Kerk deur haar ouers wat nooit self kerklik was nie, gedoop. Sy sluit egter ’n gelukkige en goeie huwelik. Hulle het reeds materieel alles wat hulle nodig het. Saam beplan hulle nou om kinders te hê. Hulle leef egter, soos haar ouers voor haar, ook nie kerklik mee nie. Dan leer sy ’n gelowige kollega uit Korea by die werk ken. Die vriendin borrel van vreugde oor die evangelie van Christus. Sy leef duidelik gesonde waardes uit en getuig openlik oor die volheid van die lewe in Christus. Dit roer verlangens in die jong Europeër se binneste. Gee materiële voorspoed regtig die eintlike sin aan die lewe? vra sy nou. Hoe maak geloof in Christus my lewe meer sinvol? Kan die kerk, die geloofsgemeenskap my hiermee help, wonder sy.

5. Die lied van Alem Seged Herouy van Ethiopië vir die Sesde byeenkoms van die All African Conference of Churches verbind die belydenis van die oorvloedige lewe wat uit die kruisdood van Christus spruit met die verlange na ’n lewe sonder armoede, verlies en trane, ook vandag:

Abundant life in Jesus Christ

That is the life for me;

Offered on the cross by Christ for all,

That’s you and me.

What is this life you talk about,

When poverty abounds;

When people here just disappear,

And eyes are full of tears.

Can you that have, live simply please,

So that others can simply live;

And fight the ills that evil brings

Then we will join with you and sing: 

Abundant life in Jesus Christ

That is the life for me;

Offered on the cross by Christ for all,

That’s you and me.

Preekvoorstel

1. ’n Preek oor Johannes 10:1-10, 20-30 kan die tema hê: “Jesus Christus gee vir ons lewe in oorvloed.” Daar kan begin word om die agtergrond te teken vir Jesus se finale openbare betoog in die vierde evangelie en sy baie belangrike aansprake. Uit die Ou Testament is dit duidelik dat koningskap oor die volk van die Here dikwels met herderskap vergelyk word. Ware en goeie leiers sou die volk as barmhartige herders versorg, bewaar, uit die verstrooiing gaan haal, en aan hulle weiding en ‘n sorgvrye lewe gee. Slegte herders sou egter vir hulleself lewe en sorg, die skape onbarmhartig verwaarloos en nie eintlik omgee of hulle lewe of sterf nie. God se besliste teenkanting teen slegte herders en hulle heerskappy kan aan die hand van verskeie Ou-Testamentiese tekste toegelig word.     

2. Tweedens kan beklemtoon word dat Jesus die vervulling was van die Ou-Testamentiese profesieë oor die sorgsame herder wat uiteindelik sou kom (Jer 23; Eseg 34). Met sy beeldspraak in Johannes 10 was Jesus duidelik die alternatief en ’n groot bedreiging vir die Joodse leierskap/herderskap van sy dag. Die skrifgeleerdes en Fariseërs (met hulle volgelinge) het hulleself sonder twyfel as die ware herders, die beskermers van Israel gesien. Hulle was in beheer van die godsdiens in Israel. Hulle het die mense geleer en die tempel rituele en gebruike in stand gehou. Só het hulle eintlik oor die hart van die volk se lewe geheers. Hulle interpretasies van die wet en hulle uitsprake en optrede teenoor mense was beslissend. Hulle het hulle die reg toegeëien, met ‘n beroep op Moses se wette, om oor lewe en dood te besluit (8:3-5; sien ook by Stefanus in Hand 7). Hulle kon die ingang na die geloofsgemeenskap, die samekomste by die tempel en sinagoges, vir mense oop en toesluit (9:22, 34). Hulle het die geloofsgemeenskap deeglik beheer. Hulle was openlik teen Jesus en het gewaarsku wie Hom as Christus sou verklaar, sou hulle uit die sinagoge (die gemeenskaplike aanbiddingsplek) verban. Hulle leierskap/herderskap is deur hulle volgelinge erken en deur ander gevrees (9:22). Mense se lewenslot was in hulle hande. Hulle het Jesus enduit teengestaan en met felheid verwerp. Hulle het Hom openlik as ’n sondaar gebrandmerk (9:24). 

3. Jesus se klem op Homself as die ingang en die deur, as die Goeie Herder teenoor diewe en rowers wat inbreek en steel, wat vir hulleself leef en nie vir die skape omgee nie, was teen die slegte herderskap gerig en het duidelik ’n paar belangrike implikasies gehad. Eerstens het dit die goeie nuus en groot troos gebring dat God die Vader self in Jesus die eintlike Herder vir sy mense voorsien het, die Een wat werklik omgee en sorg (Eseg 34), die Een wat die toegang is. Jesus, as Goeie Herder, het inderdaad nie vir Homself geleef nie, maar het uit genade sy eie lewe afgelê sodat sy eiendom, sy kudde kan inkom en vir altyd lewe. Tweedens het dit die onontkombare uitdaging gebring vir die herders van die volk, die skrifgeleerdes en Fariseërs, om hulle eie dwaasheid en misleiding in te sien, om in hulle spore om te draai en om Jesus as die deurgang na die Vader en die lewe te aanvaar. Derdens beteken dit dat die skape onder Jesus se beheer en sorg en ook die herders wat Hy aanstel in sy voetspore sal volg, op sy staf sal konsentreer (Calvyn) tot troos en vir moed, én dat hulle self ook met sy genadige ingesteldheid teenoor ander sal lewe en hulle laat lewe.

4. Laastens kan almal wat Christus as Herder erken, getroos en seker weet, Hy gee ons die ewige lewe en niks en niemand sal ons uit sy hand ruk nie (10:28-29). Daarvoor het Hy sy lewe afgelê. Ons is vry en kan nou juigend en lofsingend in sy teenwoordigheid kom en lewe. Maar, saam met hierdie sekerheid dat ons onherroeplik veilig in die hande van ons Goeie Herder is, hang die belangrike vraag: Hoe lewe en laat lewe ons vandag self? Gee ons lewe vir ander mense die lewe aan? Of moet ons dalk tot ons beskaming erken ons is tevrede om in die magsgebied van die Goeie Herder te lewe, sonder sy hart? Ons is self baie dankbaar vir sy openlike botsing met die onbarmhartige, selfgerigte en liefdelose herders van sy tyd, vir sy liefdesoffer aan die kruis, wat vir ons die lewe gebring het, maar dít raak nie eintlik ons lewe of roeping saam met ander mense nie? Of hulle versorg word en getroos is, of hulle kos het om te eet, water om te drink, klere om aan te trek, die geloof in Jesus Christus het en begryp, dít beweeg ons nie eintlik nie? Ons sluit hulle nie in nie, solank ons maar net self getroos, salig kan lewe en sterwe (HK)?  Dít kan tog nie!  

Wie onder die heerskap en in die magsgebied van die Goeie Herder lewe, wie self versorg en getroos by Hom kan ingaan en uitgaan, wie sy guns geniet en geseënd is met lewensmiddele, ja, wie weet dat hy of sy vir ewige lewe, gun dié lewe, dié oorvloed ook aan ander wat dit kortkom, wat geestelik en materieel gebrek ly. Inderdaad, wie die oorvloedige lewe onder die sorg van Jesus Christus, die Goeie Herder ken, wil dat dit wyer sal uitkring. Daarom bid en werk en sing hulle dat sy heerskappy tog oral sal uitbrei (Ou Sionsgesang 156).

Jesus het reg op heerskappy,

Al waar die son sy lig versprei.

Hy sal eens heers van see tot see,

En aan die aarde vrede gee.

Elk volk sal Hom dan hulde bring

En van sy trou en liefde sing;

Kinders sal spreek met jubelsang

van seën ook deur hul ontvang.

Waar Hy regeer, word harte bly,

Gevang’nes juig deur Hom bevry.

Armes vind hulp, vermoeides rus,

’wyl reg en trou mekaar daar kus.

 Elkeen roem dan vol dankbaarheid

Sy heerlik’ koninklik beleid.

Eng’le daal neer en jubel saam,

’wyl heel die aard’ hul sang beaam.

Bibliografie

Kommentare op Johannes-evangelie:  L Morris; R Schnackenburg; W de Boor; R V G Tasker; E L Smelik; J Calvyn; C Bouma; W Barclay.  Leon Fouche oor Esegiël 34 in WtL Bd III/1;  Powell, Mark Allan Fortress introduction to the Gospels. Johnson, Luke T  The writings of the New Testament, an interpretation. Reformed World: 2003, 24th General Council Accra 2004, Study texts and Bible studies, Vol 53, no 2 & 3. Kabongo-Mbaya, Philippe B  Life in abundance – A biblical reflection on John 10:10. WBGK: 2004, Crossing ten Seas – studies on the theme “That all may have life in fullness (John 10:10)”. Jonker, W D  Die Gees van Christus. 

Related Media
See more
Related Sermons
See more