Johannes 14=1-14 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 127 views
Notes
Transcript

Johannes 14:1-14 LR2005

24 april 2005

vyfde sondag in paastyd

Cantate

 liturgiese voorstel

Fokusteks: Johannes 14:1-14

Ander tekste:                 Handelinge 7:55-60; Psalm 31; 1 Petrus 2:2-10

Inleiding

Johannes 14:1-14 dien vanjaar die fokusteks. Dit gee die aangrypende afskeidswoorde van Jesus aan sy dissipels kort voor sy dood weer. Wanneer ons dit vanoggend hoor, is daar egter een groot verskil tussen Jesus se dissipels en ons. Ons staan op die vyfde Paassondag steeds voor ’n leë kruis wanneer ons hierdie woorde hoor.

Wanneer Stefanus sterf, is die kruis ook reeds leeg. Maar nóg vir Stefanus nóg vir ons maak dit die werklikheid minder onwerklik of makliker of sagter. Psalm 31 slaan vir ons die brug tussen die twee werklikhede: God het ons lief en wil ons altyd naby Hom hê. Die dissipels het dit verseker anders gehoor as ons, maar die feit bly staan God is groot genoeg en gewillig genoeg om sy kinders, die dissipels en ons, te midde van watter bedreiging ook al te verlos. Die naam vir die vyfde Sondag in Paastyd is daarom ook cantate, sing Sondag, na aanleiding van Psalm 98:1 “Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here ...”

1 Petrus 2:2-10 stippel in soveel woorde hierdie waarheid verder uit: “Julle het immers ondervind dat die Here goed is”  (v3 lees ook v9). Ons moet probeer om deur die liturgie van hierdie Sondag ryk en arm, bevoordeelde en agtergeblewe kinders van God Psalm 31 te laat sing.

god versamel ons voor hom

Die Paaskers word aangesteek en die gemeente sing Lied 247/NSG 233

Votum

Liturg:           “U goedheid, Here, is oneindig

                    vir hulle wat U dien

                    en almal kan dit sien.

                    U teenwoordigheid beveilig.” Beryming Psalm 31:7

Gemeente:     “Ek stel my in u hand vir leiding ...

                    Deur U is daar vir my bevryding ...”  Beryming Psalm 31:2

Seëngroet

Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van Jesus Christus wat         opgestaan het en nou ter wille van julle lewe by God.

Sang

Lied 417:1 en 2 “Jesus, ons eer U, opgestane Heer ...

diens van die woord

Gebed om opening van die Woord

Skriflesing

Johannes 14:1-14

Prediking

Antwoord

Gemeente sing Lied 419:1 en 2  “Die kruis is kaal, die graf is leeg ...”

diens van die tafel

Nagmaal

Sien basisliturgie.

of

In die lig daarvan dat vyf van die Sondae in Paastyd vanjaar tekste uit die Johannes-evangelie as fokustekste het, kan ons ’n keer die nagmaal vier met die insig van Johannes, die apostel van die liefde, en in die woorde wat ons in sy evangelie vind.

Vredesgroet: Die Here nooi sy kinders om fees te vier.

                    Hy ontvang jou soos ’n eregas.

                    Hy skenk jou vrede en seën.  Uit Lied 303, Psalm 23

Gemeente:     Ons is genooide gaste en daarom is ons hier.

Sang:            U maak vir my ’n fees gereed,

                    terwyl my vyand kyk.

                    U maak van my ’n eregas;

                    U maak my lewe ryk.

                    Net goedheid, liefde, lewenslank,

                    gee U, o Heer, vir my;

                    by u’s ek tuis, en in u huis

                    sal ek vir ewig bly. Lied 577:4, 5  Psalm 23:3

Gemeente     Gee ons van dag ons daaglikse brood. Matteus  6:11

Liturg:           ‘Dit verseker Ek julle: ... dit is my Vader

                    wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.

                    Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom

                    En aan die wêreld die lewe gee’. Johannes 6:32, 33

Gemeente:     Here, gee ons tog altyd hierdie brood.

Liturg:           ‘Ek is die brood wat lewe gee.

                    Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie,

                    En wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

                    Wie in My glo, het die ewige lewe.

                    Ek is die brood wat lewe gee.

                    ... hier is die brood wat uit die hemel kom

                    sodat ’n mens daarvan kan eet en nie weer sterwe nie.”

                    Johannes 6: 48, 51

Gemeente:     U ontvang my soos ’n eregas,

                    ek word oorlaai met hartlikheid.

Liturg:           Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.

                    Wie my liggaam eet en my bloed drink,

                    Het die ewige lewe ...

                    My liggaam is die ware voedsel

                    En my bloed is die ware drank.

                    Wie hierdie brood eet sal ewig lewe. Johannes 6:51

                    Jesus sê:

                    Ware brood is Ek, wat God gee.         

                    Glo in My: Ek is die brood wat lewe

                    Glo in my: en jy kry nooit weer honger nie

                    Glo in My: en jy ly nooit weer dors nie.

Gemeente:     Here, maar dan leef ek mos vir ewig.

                    Gee ons altyd hierdie brood.

Liturg:           Jesus sê: Ek is die brood wat uit die hemel kom.

                    Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.

                    Eet dié brood en lewe.

                    Dié brood wat my liggaam is.

                    Ons stry

                    Hoe kan Hy sy lyf gee, om te eet?                                               

                    Jesus sê: Daar is geen lewe:

                    as jy my liggaam nie eet,

                    my bloed nie drink nie.

                    Ek is die brood wat lewe.

                    Eet my liggaam: en jy bly in My.

                    Drink my bloed: en Ek bly in jou. 

                    Jesus sê in ’n sin:

                    glo is onmoontlik sonder dat jy leef

                    naby die Seun van die mens in die hemel.

                    Die lewende Vader stuur My;

                    Ek leef deur Hom.

                    Eet My en jy leef deur My.

                    So is jy ongehoord intiem naby My.

                    Jy lewe van my lewe.

                    In die brood en die beker

                    is my liggaam en my bloed

                    en jou lewe. 

Instelling

Die brood wat ons eet, is teken van die liggaam van die Here Jesus Christus. Neem eet sy liggaam, dink daaraan en glo dat sy liggaam net so gebreek is tot volkome versoening van ons sonde.

Die wyn wat ons drink, is teken van die bloed van die Here Jesus Christus. Neem drink sy bloed en dink daaraan dat sy bloed net so gestort is tot volkome versoening van ons sonde.

Gebed

Jesus, U gee Uself as kos en drank dat ons ewig kan lewe.

Here, ons gewone eet en drink van elke dag

word telkens vir ons ’n klein herinnering daaraan:

u liggaam is gebreek

u bloed is gestort en ons lewe.

Elke klein feesmaal

’n droë bun met water,

of potjies kos wat van ver af hul geur laat blyk,

gee ’n voorsmaak van die eintlike feesmaal wat kom,

laat ons proe aan u lyf en bloed wat ons die lewe gee ...

’n nagmaal in die klein.

Dankie, Here Jesus:

ons ontvang nie net nie.

Ons bring  brood en wyn,

wat ons genadiglik uit die natuur ontvang het,

as offers aan U o, Here.

U neem dit aan en gee dit terug

as tekens van u liggaam en bloed.  Amen

Sang

Lied 464:1 en 2  “O Heer my God; as ek in eerbied wonder ...”/NSG 29

Gebed

Here, ons loof en dank U vir hierdie heilige kos en drank,

vir die heilige gawes, gunste en seëninge.

Here, ons loof U wat vir ewig lewe en regeer.

(’n Gebed uit ’n ou nagmaalsformulier wat sy pad

van die nagmaalstafel na ’n boer se kombuistafel vind.)

Voed my in hierdie môre

met u hemelgraan

dat iets van nagmaal

in my dag bestaan.   Amen

Offergawes

Sien vorige drie Sondae.

Uitsending

Verootmoediging en skuldbelydenis

Gemeente sing Psalm31:1 of liturg lees dit as deel van die verootmoediging en skuldbelydenis.

Genadetoesegging

1 Petrus 2:9 en 10

Sang

Lied 412:2  “Vrygespreek deur Christus ...”

Seën

Liturg:           Die Here sal julle seën

                    en julle beskerm;

                    die Here sal tot julle redding verskyn

                    en julle genadig wees;

                    die Here sal julle gebede verhoor

                    en aan julle vrede gee. Numeri 6:24-26

Gemeente:     Lied 312 “Amen”

PREEKSTUDIE – JOHANNES 14:1-14

Inleiding

Die teksgedeelte vir die Sondag is in Woord teen die Lig I/3 behandel. In Buvton se Preekstudies met liturgiese voorstelle is `n deel van die perikoop (14:8-17) in `n preekvoorstel vir 31 Mei 1998 bespreek. Ek was ook verantwoordelik vir die preekstudie in dié bundel vir volgende Sondag (1 Mei 2005). Daardie studie is eerste geskryf en toe dié een. Gedagtes oor die literêre konteks van daardie teksgedeelte geld ook hier. U kan verder die aantekeninge by daardie studie oor die kerklike seisoen van Paastyd raadpleeg. Vir `n inleidende oorsig oor die Johannes-evangelie kan u Botha se aantekeninge by verlede Sondag (17 April 2005) se preekstudie raadpleeg.

Met die oog op dié studie het ek `n benadering van “close reading” gevolg. Ek het die teks na aanleiding van vorige blootstellings aan die teks ontleed en op die logiese samehang in die teksgedeelte gekonsentreer. In `n tweede ronde het ek induktief probeer formuleer wat ek self in die teks hoor. Die aantekeninge onder “teks” hieronder is die resultaat daarvan. `n Derde element van die studie is `n preekvoorstel gebaseer op `n preek wat vroeër in die gemeente gebruik is. Laastens is enkele publikasies geraadpleeg om die geformuleerde manuskrip op `n manier te balanseer.

Teks

Die konteks van ons teks is Jesus se afskeidsgesprekke (Mattison & Harrisville; Brown). Dit is `n saamgestelde dialoog “of an alternation of declaration, demurrer and remonstrance. The first declaration occurs in verse 1-4, opening with the words: `Do not let your hearts be troubled.’ And ending with `and you know the way to the place where I am going.’ Then follows the first demurrer, voiced by Thomas in verse 5: `Lord, we do not know where you are going. How can we know the way?’ followed by the first remonstrance in verse 6 and 7: `I am the way, and the truth, and the life. No one comes to the Father except through me. If you know me, you will know my Father also.’ The next demurrer occurs in verse 8, this time voiced by Philip:  `Lord, show us the Father, and we will be satisfied,’ followed by a second remonstrance commencing with `have I been with you all this time, Philip, and you still do not know me?’ and ending with `believe me that I am in the Father and the Father is in me’ (v 9-11), and so on. The `dialogue’ is then rounded off with a final declaration: `The one who believes in me will also do the works that I do and, in fact, will do greater works than these’ (v 12), concluding with the promise that `I will do whatever you ask in my name’ (v 13), repeated in v 14” (Mattison & Harrisville).

Die afgebakende teksgedeelte begin met `n sin wat twee werkwoorde verbind: “ontsteld-wees” (tarassesthó) en “glo” (pisteuete). Jesus wil sy dissipels kalmeer, bemoedig, ondersteun. Hy sê hulle moet “nie ontsteld” wees nie. Dit is die verkeerde reaksie op `n boodskap wat hulle gehoor of `n insident wat gebeur het. Wat sou dié moontlike ontsteltenis by hulle kon oproep? Die voorafgaande hoofstuk vertel van Jesus se laaste maaltyd met sy dissipels en die aangrypende dinge wat daar gebeur het. Hy wys onder andere sy verraaier aan (13:18-30), kondig aan dat Hy weggaan (13:33) en verklaar dat Petrus Hom sal verraai (13:38). Dit moes ontstellende inligting vir Jesus se binnekring gewees het. Tog sê Jesus ontsteltenis is nie gepas nie:  “Julle moet nie ontsteld wees nie!” Hy suggereer `n alternatief – die teendeel. Hy keer hul fokus om vanaf `n na-binne-gerigtheid (onstuimige harte) na vastigheid buite hulself – waar hul krag en hulp lê: “Glo in God;  glo ook in My!”

Vers 2 open minstens drie perspektiewe. Eerstens motiveer Jesus waarom die dissipels nie ontsteld moet wees nie. Hy verseker hulle dat hulle sal gaan waarheen Hy gaan asook dat Hy nie vir altyd weggaan nie.  Tweedens sê Jesus duidelik waarheen Hy gaan; na sy Vader se huis toe. Sy bestemming is seker en selfs logies. `n Kind hoort immers in die huis van sy vader. Daarmee word Jesus se oproep tot geloof in perspektief geplaas – geloof in God en in Jesus want hulle is één. Derdens dui Jesus aan wat Hy daar gaan doen. Hy gaan na sy Vader se huis, tot die dissipels se voordeel: “... om vir julle plek gereed te maak.” Dit impliseer die dissipels se kindskap van God. Want as Jesus na sy Vader se huis gaan en vir sy dissipels plek voorberei, beteken dit immers dat hulle in dieselfde verhouding tot die Vader staan as Jesus. Hulle is die Vader se kinders. Daarin lê hulle troos en sekerheid – die bron wat hul ontsteltenis moet besweer.

Vers 3 fokus op die toekoms en bevat `n belofte ter versekering en bemoediging van die dissipels. Jesus kom terug na hulle toe, so belowe Hy, om hulle te kom haal. Dit beskryf die doel van Jesus se weggaan nog helderder. Hy gaan nie net hulle plek in die Vader se huis voorberei nie, maar kom ook terug om hulle te kom haal sodat hulle kan deel in die heerlike gawe van kindskap. Die kern is dat die dissipels ook sal wees waarheen Jesus nou vertrek: “... julle kan wees waar Ek is.”

Vers 4 funksioneer as `n soort skarnier tussen Jesus se motiverende boodskap van versekering enersyds, en die dissipels se interpretasie van wat Hy vir hulle sê, andersyds. Jesus maak `n feitelike stelling oor die dissipels; hulle het kennis. Hulle ken “die weg” (tén hodon) na die plek waarheen Jesus gaan, sê Hy vir hulle.  Hulle ontsteltenis is dus ongegrond, maar hul geloof staan op vaste grond want hulle “ken die weg”! Tomas se reaksie wys egter die teendeel van die stelling oor hulle kennis. Jesus se uitspraak en die betekenis daarvan is nie vir die dissipels sonder haakplek nie. Die stelling oor “die weg” skep eerder verdere verwarring, want Tomas sê: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie;  hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

Tomas trek as `t ware `n streep deur Jesus se verduideliking van waarheen Hy gaan en dat Hy vir hulle plek gaan berei in die Vader se huis. As spreekbuis vir die dissipels verwoord Tomas die onbegrip en gebrek aan insig by die dissipels oor Jesus se boodskap én oor Jesus se identiteit. Want in Jesus se uitdrukking “julle ken die weg” lê `n dubbelslagtigheid opgesluit. Dit is nog `n voorbeeld van Johannes se literêre tegniek waarin hy `n doelbewuste misverstand skep oor die betekenis van `n uitspraak sodat daar in die proses van interpretasie en begripsverheldering nuwe insig daag en die boodskap uiteindelik tot sy reg kom. Die verheldering van die uitdrukking “julle ken die weg” kom in fokus wanneer Jesus op Tomas se vraag (5) antwoord.

Jesus se uiteensetting van wat Hy bedoel met “die weg” (6), maak duidelik dat Tomas (en die dissipels) nie verstaan wat Jesus bedoel het nie. Met een van Jesus se kenmerkende Ek-is (egó eimi)-uitsprake (Coetzee) klaar Jesus die verwarring op. “Die weg” wys nie in die eerste plek op waarheen Hy gaan en waarheen die dissipels Hom later sal volg nie, maar op die pad om by die plek uit te kom (Groenewald). Die “weg” self is belangrik – die belangrikste – nie net die bestemming nie. Eintlik verval die onderskeid tussen die eindbestemming en die roete daarheen op dié punt. Die “weg” is reeds die bestemming. Niemand sal die bestemming (die Vader se huis) bereik sonder die weg nie. Jesus is self die weg!

Daarmee kry Jesus se oproep tot geloof in vers 1 (“glo ook in My”) sy diepe betekenis: “Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (6). Kennis van en geloof in God gaan deur Jesus, die weg en die waarheid en die lewe. Hy is die inhoud van die kennis (oidate) in vers 4 (wat in 7 [egnókeite;  édeite] verder uitgewerk word). Die intieme verhouding tussen die Vader en Jesus sluit die moontlikheid om of net vir God, of net vir Jesus te kan ken, uit. Trouens dit geld ook met betrekking tot die Heilige Gees (14:15-30 en 16:5-15). Om Jesus te ken, is om die Vader te ken: “As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom” (7). Wonderlik! Die dissipels is só bevoorreg dat hulle vir Jesus met hul eie oë kon sien. Meer nog, dat hulle deur Hom te sien, ook vir God gesien het. 

Maar die invoeging van die nuwe gedagte (Jesus se woorde “en sien julle Hom”) verskerp die verwarring eintlik. Dit is asof die maalkolk van onbegrip groter en dieper raak. Hoe meer Jesus verduidelik hoe groter word die onbegrip. Daarvan getuig Filippus se versoek (8): “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Hy kan nie die verband tussen Jesus en die Vader sien nie. Dit gaan nie net oor “sien is glo nie”, maar oor die sien van “die ware Jakob.! Jesus is vir Filippus (en die ander dissipels) nog nie God self nie; nie “die weg en die waarheid en die lewe” (6) nie. Filippus wil sien! En as Jesus regtig wil help, moet Hy vir hulle die ware God wys. En dan voeg Filippus by, asof hy nie veel vra nie: “en dit is vir ons genoeg” (8). Wat is werklik nodig dat mense sal glo – in God, maar ook in Jesus?

Vers 9 stel Jesus aan die woord met `n verduidelikende verklaring. Nou klink Hy moedeloos. Sy lankmoedige verduidelikings en praktiese beelde om die uniekheid van God en Jesus uit te lê, stuit telkens op onbegrip. Hoe sal Hy nou verduidelik? Wat kan Hy nog doen sodat hulle kan verstaan? Dit is hoe ek Jesus se woorde hoor as Hy sê: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: `Wys vir ons die Vader?’” Waar lê die kortsluiting? Waarom kan jy nie verstaan nie? Het jy `n probleem om te kan glo dat die Vader en die Seun een is? Glo jy nog nie dat Ek die Seun is nie? Glo jy nie dat Ek die woorde van die Vader spreek nie? Mattison en Harrisville wys op die ooreenkoms tussen Johannes se proloog (1:18) en Jesus se uitspraak dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is, asook Jesus se woorde aan Filippus (14:9). “Once more, we encounter that portrait of Christ as revealer, a portrait peculiar to the Fourth Evangelist, and not merely by virtue of its continual reception.”

Dit bring die volgende teksgedeelte/perikoop (15-20 en 26) reeds in spel (Sien die preekvoorstel vir volgende Sondag). Die Heilige Gees sal die dissipels help om die verband tussen Jesus en die Vader te kan sien en te kan glo – in God en in Jesus: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle” (20). Dit is ook die rede waarom Jesus van hulle moet weggaan: “Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie ...” (16:7)

Jesus roep Filippus op om te glo en noem drie gronde vir sy oproep tot geloof in Hom. Mattison en Harrisville noem vers 11 die “pragmatiese” element van Jesus se uitsprake in die vierde evangelie. Filippus kan Jesus se woorde glo omdat dit van die Vader self af kom en die Vader in die gestalte van Jesus onder die mense werk (10). Hy moet ook glo op grond van die verhouding tussen Jesus en die Vader: “Ek is in die Vader en die Vader is in My” (11). En dan is dit asof Jesus `n alternatief (byna `n nagedagtenis) onthou (11): “of anders”, as jy nie op die vorige twee gronde kan glo nie, “glo op grond van die werke self.” As jy bewyse nodig het, sigbare tekens van God, beoordeel die werke (ta erga) wat Ek, Jesus, onder julle doen. Mattison en Harrisville wys op Jesus se vroeëre woorde (10:37-38) wat die tema van werke uitlig: “And again, underlying this `pragmatism,’ this assertion of truth as the movement from hypothesis (`if I do them’) to experimentation (`believe the works’), is the idea of faith as linked to perception.”

Vers 12 tot 14 gee Jesus se samevattende versekering wat die verband met die temas van geloof en werke beklemtoon. Hy stel ook nuwe temas bekend, naamlik dié van gebed in sy Naam en die verheerliking van die Vader. Wie in Jesus glo, sal ook die werke doen wat Hy voor hulle oë gedoen het. Hulle sal ook bid as bewys van hulle afhanklikheid van Hom. Hy sal hulle gebede verhoor, sodat die Vader verheerlik kan word.  Die Naam van Jesus en die verheerliking van die Vader is hier die leidende beginsels. As dit daaroor gaan, sal Jesus doen, sal Hy luister en reageer, sal Hy hulle gebede verhoor.

Preekvoorstel

Die prediking op die vyfde Sondag van Pase vanuit Johannes 14:1-14 behoort die verband tussen die teksgedeelte en die kerklike jaar in ag te neem. Die teks self staan, in terme van Jesus se lewensverhaal, kronologies voor sy lyding en opstanding uit die dood, maar word in die Paastyd gelees. Die gemeente kyk dus op dié Sondag van `n posisie ná die opstanding terug op Jesus se afskeidsgesprekke (voor die aanbreek van sy lyding), om te reflekteer oor hoe die opstandingsverhaal wat deur die kerkjaar in herinnering geroep word die gemeente se geloof in Jesus beïnvloed het. Terselfdertyd moet die prediker onthou dat daar slegs een Sondag in Paastyd oor is voor die Pinksterweek. Dan word die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. Die beweging van onbegrip (vgl Tomas en Filippus) na dieper geloof in Jesus as Here word juis deur die Heilige Gees bewerk. Die kronologiese posisie van ons teksgedeelte binne die Johannes-evangelie en die posisie van hierdie besondere Sondag binne die konteks van die kerkjaar, vorm die raamwerk vir die prediking van ons perikoop oor die geloof in die Opgestane Here.

Die preekvoorstel is vir `n ander geleentheid geskryf. Die fokus is op Jesus se Ek-is uitspraak in ons teksgedeelte, meer bepaald op die “weg”-benaming: “Ek is die weg ...” In die Paastyd is hierdie tema natuurlik relevant en kan die prediker die verband tussen Jesus as die “Weg” en sy opstanding, kreatief ontwikkel. Die voorstel probeer die rol van die geloofsreaksie op Jesus se uitspraak ontwikkel. Mattison en Harrisville se gedagte van ons ontmoeting met die “portrait of Christ as revealer” in hierdie teks, behoort verdiskonteer te word.

Met die Afrikaanse uitdrukking “alle paaie lei na Rome” word gewoonlik bedoel dat alle mense dieselfde eindbestemming het en uiteindelik, ongeag die roete wat hulle volg, dieselfde eindpunt bereik. Dié argument word dikwels ook vir godsdiens en geloofsoortuigings gebruik. Mense bely hul geloof in die Drie-enige God van die Bybel, maar sê in dieselfde asem dat ander godsdienste dalk ook die waarheid het. Dan word alle godsdienste op een vlak gestel. Jy kan maar glo wat en soos jy wil. Alle godsdienste sal mekaar vorentoe wel raakloop. 

Die argument dat alle godsdienste dieselfde eindpunt het, loop daarop uit dat alle godsdienste eintlik maar dieselfde godheid aanbid. Elkeen het nou wel 'n verskillende weg om by dié gemeenskaplike godheid uit te kom, maar “alle paaie lei immers na Rome” – na dieselfde godheid toe. Daarom maak dit nie saak watter pad jy kies of watter godsdiens jy aanhang nie.

Die argument kan met 'n beeld verduidelik word. Iemand besluit om van Kaapstad na Johannesburg toe te reis. Indien bogenoemde spreuk (alle paaie lei na Rome) toegepas word, beteken dit alle paaie wat in 'n noordelike rigting van Kaapstad af loop uiteindelik by Johannesburg uitkom. Dit maak nie saak watter pad die reisiger kies om na Johannesburg toe te reis nie. Maar die reisiger sal gou agterkom dat Johannesburg redelik ver lê indien hulle byvoorbeeld die Weskus-pad kies. Die reisiger wat nie op 'n vreemde bestemming wil eindig nie, sal drastiese aanpassings tydens die reis moet maak om tog by Johannesburg uit te kom. Miskien lei alle paaie wat in 'n noordelike rigting van Kaapstad af loop, wel op een of ander wyse na Johannesburg toe, maar langs sommige van die paaie gaan jy sukkel om jou bestemming te bereik.

Dit is blykbaar waar van baie Christene en kerkmense, dat hulle bely Jesus is die Here, maar tog ook sê hulle is nie seker of daar dalk ook ander weë na God is nie. Hier word nie gesê Christene moet hatig teenoor mense van ander gelowe en godsdienste wees nie, ook nie dat Christene neerhalend en hooghartig teenoor ander oortuigings moet staan nie. Dit is wel belangrik om seker te maak van die pad waarop jy is. Ons moet eerlik voor God op twee vrae antwoord: (1) Waarheen is ek op pad? en (2) Wat is die roete wat ek volg om my bestemming te nader?

In Johannes 14 sê Jesus die spreuk "alle paaie lei na Rome" is nie waar van die mens se weg tot saligheid nie. As die doel van jou lewe is om met die God van die Bybel versoen te wees, om op aarde met Hom in gemeenskap te lewe, om aan die einde van jou aardse lewe vir ewig by Hom te wees, kán jy nie – durf jy nie – argumenteer dat jy maar enige pad kan kies en tog wel dié eindpunt sal bereik nie. Nee, sê Jesus vir sy dissipels, daar is net één weg waarlangs die mens by God uitkom, die weg Jesus Christus, die Seun van die Lewende God. Want Jesus (6) “... is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Hoor jy wat Jesus in Johannes 14 oor ten minste drie dinge sê?: (1) Wat Hy op aarde kom doen het; (2) Wat sy verhouding tot die mens is, en (3) Wie Hy is. Kan jy in die Drie-enige God glo en nog sê dat godsdienste wat nie Jesus se Heerskap en Godheid erken nie ook die waarheid het?

As gereformeerde Christene bely ons Jesus as vleesgeworde Woord. Dat God Hom in Jesus Christus aan die wêreld openbaar het. Dat God slegs deur sy Woord en sy Gees sy wil aan ons bekendmaak ... Dit is die dinge wat ons maklik sê ons glo, maar dan lees goeie Christene, kerkmense, nie eers meer die Bybel self nie. Mense verlaat hulleself op wat die sterre voorspel. Christen-mense hou hulleself besig met waarsêery en dobbelary. Dit rym mos nie ... 

Ons sê dat Jesus my Here is en dat God my lewe regeer, maar dan vertrou ek vir my lewe op mense en regeerders, op geld en materiële rykdom, op my magsposisie en my sosiale status. Ja, ons soek allerhande weë om ons eindbestemming te bereik, maar moet asseblief net nie van my verwag om Bybel te lees en na vervelige preke te luister nie.

Waarheen is jy op pad met jou lewe? Wat is die roete wat jy volg om daardie bestemming te bereik? 'n Engelse spreuk sê: “If you aim at nothing, you wil hit it all the time.” Anders gestel: Waarheen is jy op pad met jou lewe? En in terme van die Engelse spreuk: “Indien jy nêrens heen op pad is nie, sal jy daagliks daar uitkom. Sonder 'n doelwit tref jy geen doelwit nie.” Kan dit die rede wees waarom soveel naam-Christene maklik sê dat ander godsdienste dalk ook die waarheid het? Christene ken soms nie, staan dikwels nie in `n verhouding met die Weg nie. Hulle weet nie altyd waarheen die Weg hulle lei nie.

Aan die begin van sy beskrywing van Jesus se lydensweg sê Jesus in Johannes 14:2 en verder vir sy dissipels: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Is jy op pad na die plek wat Jesus vir sy dissipels gaan gereedmaak het? Is die fokus van jou lewe ingestel op dié één doelwit, naamlik om by God te wees? Jy kan jou op 'n lewenspad bevind wat besaai is met voorspoed en sukses, maar wat nie na die Vaderwoning lei nie. 

Jy het dalk op die oomblik geen geloofsdoelwitte nie, omdat jy nog jonk is en die lewe wil geniet. Jy het dalk geen geloofsdoelwitte nie, omdat jou boerdery, jou sakeonderneming, jou nuwe loopbaan, jou studieverpligtinge, jou so besig hou dat jy nie ook nog met God kan besig wees nie. Maar wees versigtig dat jy nie dalk soos skepe in die nag op die oseaan by die Vaderwoning verbygaan omdat jy nie vir God in jou fokus het nie. Waarheen is jy met jou lewe op pad?

En as jy dié eerste vraag beantwoord het en sê dat jy wel na God toe wil gaan, dat jy wil uitkom by dié plek wat Jesus vir sy dissipels gaan voorberei het, is daar 'n tweede vraag: Wat is die roete wat jy volg om jou eindbestemming te bereik?

Miskien dink jy jou goeie en voorbeeldige lewe is genoeg om daardie plek te bereik. Miskien dink jy dat jou goeie beplanning en finansiële vermoë die voertuig is waarmee jy by God sal uitkom. Miskien dink jy dat jou goeie ouers en hulle streng godsdienstige opvoeding die weg is om by God uit te kom. Miskien dink jy dat jy maar net jou bes moet doen om goed te lewe ... Maar Jesus sê in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Hoor wat Jesus oor Homself sê. Hy sê dat Hy die enigste weg is na God toe. Soos die N1 die vinnigste roete is tussen Kaapstad en Johannesburg, so is Jesus die enigste weg waarlangs jy die Vaderwoning kan bereik.

Ons word dikwels verlei om die weë wat ander godsdienste propageer te beproef omdat ons nie erns maak met dié Weg wat God vir ons gebaan het nie. Jy kan nie vir God leer ken as jy nie vir Christus ken nie. Jy kan nie by God uitkom as jy jou besig hou met alles behalwe met God nie. Jy kan nie in jou geloofslewe groei deur te fokus op ander dinge as op God se selfopenbaring in sy Woord nie. Jy kan nie vir Christus as Verlosser en Saligmaker leer ken deur ander godsdienste te bestudeer nie. Hoe belangrik dit ook mag wees vir lewe saam met ander mense in ons wêreld.

Ja, net so min as wat jou menseverhoudings kan groei sonder kontak met mense, net so min kan jou verhouding met God groei sonder Jesus Christus. Jesus is die enigste weg na God toe omdat Hy die waarheid is en omdat Hy die lewe is. As weg openbaar Hy die waarheid van God aan die mense. Wie Jesus sien en ken, sien en ken die Vader. As weg skenk Hy ons die lewe. Hy is die kanaal waardeur God die ewige lewe aan mense skenk. Dit is die inhoud van die Christelike geloof. Jesus sê vir sy dissipels: “Glo in God;  glo ook in My.” Wat is die roete wat jy volg om by God te probeer uitkom?

Die Heidelbergse Kategismus (So 12, vr 3l) vra: “Waarom word Jesus die Christus wat Gesalfde beteken, genoem?” en antwoord dan: “Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is, tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het.”

Is dit dieselfde Jesus in wie jy glo, as die weg om God se doelwit vir jou lewe te bereik? Jesus kom sê ook vir jou soos wat Hy vir Tomas in Johannes 14:7 gesê het: “As julle My ken, sal julle My Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Bibliografie

Brown, R E 1970.  The Gospel According to John X111 to XX1;  Coetzee, J C 1990, in (A.B. du Toit [red]) Handleiding by die Nuwe Testament , Band VI;  Du Rand, J A 1990.  Johannese Perspektiewe.  Inleiding tot die Johannese geskrifte;  Groenewald, E P 1980. Die evangelie van Johannes;  Mattison, R & R Harrisville 1999.  The Season of Easter, in New Proclamation.  Series A, 1999;  Mattison, R & R Harrisville 1999.  Fith Sunday of Easter, in New Proclamation.  Series A, 1999;  Powell, M A 1998.  The Gospels;  Tasker, R V G  1983.  John.

Related Media
See more
Related Sermons
See more