Johannes 14=15-21 LR2005
Johannes 14:15-21 LR2005
1 mei 2005
sesde sondag in paastyd
Rogate
liturgiese voorstel
Fokusteks: Johannes 14:15-21
Ander tekste: Handelinge 7:22-31; Psalm 66; 1 Petrus 3:13-22
Inleiding
Johannes 14:15-21 volg direk op die vorige week se teks en verhaal Jesus se belofte oor die Heilige Gees. In sy preekstudie vir hierdie Sondag sluit Eddie Orsmond by twee kenmerkende elemente in ons teks aan: “(i) dat “liefde vir Jesus” ook beteken om sy opdragte ..., onderrig/lering, te gehoorsaam, en (ii) dat God by sy dissipels bly (deur die Heilige Gees) na Jesus se afwesigheid. Die teks daag ons uit tot voortgaande worsteling met die geheimenis van goddelike afwesigheid en teenwoordigheid.
Handelinge 7:22-31 gaan oor Paulus se toespraak op die Areopagus. Hy sluit onder andere aan by die Ateners se altaar: “Aan ’n onbekende God”. ’n God wat hulle aanbid sonder om hom te ken (sien). Dit geld in sekere sin van die God wat hy ook verkondig: God is daar en het alles gemaak. Maar Hy woon nie in tempels met hande gemaak nie, is nie sigbaar nie, maar dit beteken nie dat Hy nie daar is nie.
Psalm 66 sing God se lof in dit wat Hy gedoen het, sy magtige dade. Hierin is God sigbaar en moet Hy geloof word.
In 1 Petrus 3:22, die laaste teks van die perikoop, is Jesus nadat Hy al sy werk afgehandel het nou aan die regterhand van God. ’n Afwesigheid waarop die Johannes teks weer Jesus se teenwoordigheid deur sy Gees bevestig, maar ook sy teenwoordigheid deur sy dissipels wat Hom in die wêreld verkondig. Hierdie lyn kan saam met die preek in die liturgie gevolg word.
god versamel ons voor hom
Die Paaskers word aangesteek en die gemeente sing Lied 247/NSG 233.
Votum
Liturg: “Juig tot eer van God, almal op aarde!
Sing tot roem van sy Naam,
gee Hom die eer wat Hom toekom!” Uit Psalm 33:1 en 2
Gemeente: “U werke wek ontsag, o Heer ...
voor u mag moet almal buig ...” Beryming Psalm 66:1
Seëngroet
Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van Jesus Christus wat opgestaan het en nou ter wille van julle lewe by God.
Sang
Psalm 66:1 en 2 Juig, almal op aarde, roem Hom”
diens van die woord
Gebed om opening van die Woord
Skriflesing
Johannes 14:15-21
Prediking
Antwoord
Gemeente sing Lied 411:2 “Loof Hom wat die oorwinnaar ...”/NSG112
diens van die tafel
Nagmaal
Sien basisliturgie en liturgie van 24 April 2005 vir die bediening van die nagmaal.
Instelling
Gebed
Sang
Lied 433:1-4 “Kom, Skepper Gees, kom gee u seën .../NSG 175
Dankgebed
Offergawes
Sien vorige vier Sondae
Uitsending
Verootmoediging en skuldbelydenis
Gemeente sing Psalm 31:1 of liturg lees dit as deel van die verootmoediging en skuldbelydenis.
Genadetoesegging
1 Petrus 2:9 en 10
Sang
Lied 412:2 “Vrygespreek deur Christus ...”
Seën
Liturg: Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee. Numeri 6:24-26
Gemeente: Lied 312 “Amen”
PREEKSTUDIE – JOHANNES 14:15-21
Teks
Met `n eerste lees van die Leesrooster se afgebakende teks vir dié Sondag val enkele woorde op: agape (liefde - 15, 21), entolas (opdragte - 15, 21), pater (Vader – 16, 20, 21), kosmos (wêreld – 17, 19), theóreó (sien – 17, 19), ginóskó (ken – 17, 20), zaó (lewe – 19). Naas die herhalende woorde kom verwysings na die drie persone van die Goddelike drie-eenheid meermale voor. Jesus is aan die woord as subjek van die werkwoorde wat die spreker se handelinge beskryf. Hy verwys na Homself as “My/Myself” (Gr me – 15, 19, 21; emas – 15; mou, emoi – 20, 21; hemauton – 21) en “Ek” (Gr egó, kagó – 16, 20, 21), na God as “Vader” (16, 20, 21), en na die Heilige Gees as “ander Trooster” (Gr allon parakléton – 16), asook “die Gees van die waarheid” (Gr to pneuma tés alétheias – 17).
Derdens dui die teks op verandering in toestand en ruimtelike omstandighede, gepaardgaande met verwagte verandering in Persoon. Jesus sal die Vader vra vir `n ander Trooster (16). Dié Persoon (subjek) verteenwoordig `n ander tydsdimensie. Hy transendeer die hede en sal “vir altyd” (Gr eis ton aióna, 16) wees. Dit vervang die tydelike en verganklike dimensie, en rig die oog op die toekoms – “daardie dag” (Gr.: en ekeiné té hémera – 20). Die ander Persoon verteenwoordig ook `n ander ruimtelike dimensie. Hy sal “by” hulle (Gr par humin – 17) bly en “in” hulle wees (Gr en humin estai, 17). Dieselfde gedagte geld vir die verhouding tussen Jesus en die Vader, asook tussen Jesus en hulle met wie Hy hier praat (20). Jesus gaan self ruimtelik verskuif en hulle agterlaat (18). Dit beteken nie dat sy status, of die van hulle met wie Hy praat, sal verander nie. Hulle bly nie as wese agter nie. Hy lewe steeds (wel in `n ander ruimte), en hulle sal ook lewe.
Die aangesprokenes in die afgebakende teks is Jesus se dissipels (subjek van agapate en pérésete in 15). Vers 15 begin met die Griekse woordjie ean, wat `n voorwaardesin inlei en in Afrikaans vertaal word met “as”. Die voorwaardesin formuleer `n veronderstelde toestand en word voltooi met `n sinsnede waarin die resultaat van die voorwaarde uitgedruk word (Zerwick & Grosvenor). Die woordjie “as” impliseer hier onsekerheid (Mattison & Harrisville). In vers 15 word die veronderstelde (onseker) toestand in terme van die verhouding tussen die dissipels en Jesus uitgedruk (hulle liefde vir Hom), terwyl die resultaat (belofte) van die verhouding geformuleer word in terme van: (i) die dissipels se gedrag (onderhouding van Jesus se opdragte); (ii) Jesus se optrede by die Vader in hulle belang (Hy vra `n Ander in sy plek – 16), en (iii) die Vader se uitvoering van Jesus se versoek in hulle belang (Hy gee `n Ander in Jesus se plek – 16). Die werkwoord “om te gee” (Gr doosei – 16) word dikwels in die Nuwe Testament met die Heilige Gees geassosieer, met die woord “gawe/geskenk” – `n beskrywing vir die Gees (Brown).
Johannes praat van die “ander parakleet” (Gr allon parakléton). Hier is dit die eerste van vyf uitsprake oor die Voorspraak by Johannes (14:26; 15:26; 16:7-11, 12-15) (Groenewald). Dit beklemtoon sy rol in die Johannes-evangelie (Powell). Hy kom in Jesus se plek. “Hy is `n ander van dieselfde soort. Die Voorspraak wat sal kom, is `n goddelike Persoon net soos Jesus, en nie maar net `n plaasvervanger van mindere rang of gesag nie” (Groenewald). Die Griekse woord het verskillende moontlike betekenisse; advokaat, helper, vertrooster (Zerwick & Grosvenor). “Its background is perhaps forensic (advocate), though its origin in relation to heavenly intercessors cannot be ruled out given the adjective `another’ and the reference to prayer in 14:13-14” (Carter). Die nuwe Afrikaanse Bybel vertaal met “Voorspraak”, die 1933-vertaling met “Trooster”, King James Version met “Comfortor” en New International Version met “Counselor”. Engelse Bybels vertaal die woord graag as “Helper” en “Advocate” (Powell). As Parakleet het die Gees `n meer persoonlike rol as in ander dele van die Nuwe Testament (Brown).
In vers 17 word die Parakleet van nader geïdentifiseer as Gees van die waarheid (Gr to pneuma tés alétheias). Jesus beloof die Heilige Gees (7:37-39; 14:16-17) en vertel sy volgelinge dat sy vertrek tot hul voordeel is. Dit bied geleentheid om die Gees na hulle toe te stuur (16:7). Die Gees staan in `n drievoudige verhouding tot: (i) die waarheid; (ii) die wêreld (wat Hom nie kan ontvang nie), en (iii) die dissipels (wat Hom sal ken). Die verhouding (van die wêreld en die dissipels) tot die Gees word met die woord “ken” (Gr ginóskó) beskryf. Hier (en elders in Johannes) word `n kontras met betrekking tot die Heilige Gees uitgedruk. Daarvolgens veroorsaak die wêreld se onkunde dat hulle nie die Gees ontvang nie, terwyl die dissipels die Gees ken, omdat Hy by hulle bly en in hulle sal wees (belofte). Volgens Brown verteenwoordig die wêreld se gebrek om te ontvang en te sien dieselfde gesindheid: “The world cannot physically see the Paraclete because the Paraclete is not corporeal; nor does the world have the spiritual isight to divine his presence in the disciples.”
Vers 18 en 19 bevat ook dié kontras. Troos en belofte vir Jesus se dissipels, maar `n boodskap van oordeel vir die wêreld. Vir die dissipels is die troos dat Hy hulle nie alleen laat nie (18), maar dat Hy lewe en dat hulle Hom sien (19). Die Griekse woord orphanos wat in Afrikaans met “wese” of “weeskinders” vertaal is, word ook gebruik as beskrywing van leerlinge (dissipels) wat sonder `n leermeester gelaat word (Zerwick & Grosvenor). Volgens Brown sluit die beeld binne die konteks van die afskeidsgesprekke aan by Jesus se aanspreek van die dissipels in 13:33 as “my kinders”. Die belofte is dat Hy weer na hulle toe kom (14:18) en dat hulle sal lewe (19). Vir die wêreld is daar egter geen belofte nie, dus ook nie hoop nie. Soos wat die wêreld nie die Gees van die waarheid sien en ken wanneer die Vader Hom stuur nie, net so sien die wêreld ook nie meer vir Jesus wanneer Hy weggaan nie. Die implikasie is dat die “wêreld” as wese agtergelaat word.
Die uitdrukking “daardie dag” (20) sluit aan by die “klein rukkie” (19). Volgens Mattison en Harrisville wys “Daardie dag” (20) nie op die laaste oordeel nie, maar die “dag” van die “Advokaat” se aankoms: “The advent of the Spirit and the Second Coming are the same event.” Volgens Brown dui die “klein rukkie” op die interim voor die eindtyd, en “daardie dag” op die “period of Christian existence made possible by `the hour’ of Jesus”. Jesus bemoedig sy dissipels met die boodskap dat daardie dag nie gevrees moet word nie, maar dat hulle vaste sekerheid sal ontvang oor waar Hy is (belofte). Hy beklemtoon die intieme verhouding tussen Homself en die Vader, asook tussen Hom en sy dissipels. Daarmee word die verhoudingstaal van vers 15 weer opgeroep en vooruit gegryp na die beeld van die wingerdstok (hfst 15). Die dissipels sal weet (Weer die Griekse woord ginóskó) dat: (i) Jesus in die Vader is; (ii) Hulle in Jesus; en (iii) Jesus in hulle. Die belofte dat hulle “sal sien”, word gewysig tot “julle sal weet”.
Die tyd van die beloofde teenwoordigheid is nie duidelik nie. In beroep op vers 19 se “sien my” en “Ek lewe” meen sommige dat dit op die opstanding wys. Volgens Carter is dit wel waar (hfst 20-21), maar nie voldoende nie, omdat Jesus dan met die hemelvaart sal vertrek. Verskillende faktore wys ook op `n eskatologiese verskyning (18b, 20). “Op daardie dag” sal die reeds ervaarde eenheid van Vader en Seun, en van die Seun en die dissipels, in volheid gedemonstreer word. Brown sê dat die teenwoordige tydsvorm van die woord “sien” die sekerheid van die toekoms bevestig. Intussen (21) beteken liefde vir Jesus gehoorsaamheid aan sy lering. In daardie konteks word God se liefde en Jesus se openbaring ontmoet. Die teks reflekteer Johannes se aksent op die gemanifesteerde identiteit van die Openbaarder, en Johannes se konsep van “ewige lewe” as `n teenwoordige besitting. Die eindgerig word hier beskryf in terme van die idee dat die einde `n reeds teenwoordige werklikheid is, wat in die geloof of in liefde (volgens ons teks) teenwoordig geword het (Mattison & Harrisville).
Vers 21 neem weer die tema van vers 15 op, wanneer “die uitvoer van Jesus se opdragte” en “liefde vir Jesus” ter sprake kom (voorwaarde). Vers 15 en 21 vorm dus tematies `n raam om die afgebakende teksgedeelte. Waar die liefde in vers 15 as veronderstelde toestand gestel is vir die uitvoer van Jesus se opdragte, word die uitvoer van Jesus se opdragte in vers 21 die bewys van die liefde vir Jesus.
In vers 15 was die dissipels die aangesprokenes. In vers 21 is dit `n onbepaalde subjek (Gr ho – enige een; wie ook al). Dié onbepaalde aanduiding word voortgesit as Jesus sê: “En die een wat My liefhet …” Die fokus verbreed dus om `n groter gehoor as die dissipels in te sluit. Die voorwaarde van liefde vir Jesus (15) en intieme verhouding met die Vader word verbreed om alle mense in te sluit. Jesus se boodskap van troos en belofte aan sy dissipels (18, 19) kring uit na die wêreld (Gr kosmos) om die troosteloosheid te omskep in hoop vir almal, want Jesus sal Homself aan elkeen wat Hom liefhet openbaar. Ook die wêreld sal Hom kan sien! “Finally, the receiving (v16), knowing (v17), and seeing (v19) achieve their maximum in the promise that `on that day you will know that I am in my Father, and you in me, and I in you,’ that `those who love me will be loved by my Father, and I will love them and reveal myself to them’” (Mattison & Harrisville).
Konteks
Die afgebakende teks vorm deel van Jesus se afskeidsgesprekke (hfst 13-17), waarin Hy vir sy dissipels rigting aandui en hulle bemoedig. Brown verdeel die teks van die Johannes-evangelie in vier dele (Prologue, 1:1-18; The Book of Signs, 1:19-12:50; The Book of Glory, 13:1-20:31; The Epilogue 21:1-25). Ons teks staan dus in die “Book of Glory”, wat Brown in drie verdeel, met 14:15-21 in sy “Division One, Unit Two”. Hy wys dan op `n interessante triadiese patroon binne die eenheid van afdeling een: “If the command, `Have faith in (believe) me,’ dominates the first unit (xiv 1, 11), the idea of `love me’ dominates the second unit.” Drie uitsprake oor liefde vir Jesus en die uitvoer van sy opdragte (15, 21, 23) ondersteun dié afleiding. Elke uitspraak bevat `n belofte van goddelike teenwoordigheid aan hulle wat die opdrag nakom. In 15-17 is dit die Gees wat sal kom en in die dissipels woon, in 18-21 is dit Jesus, en in 23-24 is dit die Vader saam met Jesus. Dié oënskynlike triadiese patroon lê `n soort parallellisme (nie absoluut nie) tussen die Gees, Jesus, en die Vader (met Jesus), maar beslis “three types of divine indwelling”.
Brown dui `n verdere tema aan, in samehang met die uitsprake oor goddelike inwoning, ingeweef in `n eenheid wat begin en eindig met die tema van liefde vir Jesus en onderhouding van sy opdragte. Alhoewel liefde vir God dikwels in beide Ou en Nuwe Testament voorkom en die Christen se liefde vir Jesus nie so algemeen is nie, argumenteer Brown tog dat Jesus se eis “to be loved” tuishoort binne die verbondsatmosfeer van Jesus se laaste diskoers en die laaste maaltyd. Hy wys op Lohfink se parallellisme tussen “ ... the demand of the covenant God of Sinai to be loved exclusively by His people (Deut vi 5) and the demand for exclusive love on the part of Jesus who is God’s visible presence among men, establishing a new covenant with them.” Volgens Carter gebruik Jesus die woord “liefde” slegs een keer voor hoofstuk 14, as beskrywing van die verhouding tussen Homself en sy dissipels (8:42). Om Jesus lief te hê is om in Hom te glo (14:1, 10-12), om Hom te ken (14:7), en Hom te gehoorsaam (ook 14:21). Brown wys ook op Jesus se uitdrukking in vers 15: “sal julle my opdragte uitvoer”. In Johannes verwys die uitdrukking na Jesus se voorskrifte. Sy voorskrifte is nie maar net morele grondreëls nie. Dit behels `n totale lewenswyse in `n liefdesband met Jesus.
Ons lees Johannes 14:15-21 op die sesde Sondag van Paastyd. Na aanleiding van die Latynse vertaling van die Bybel, staan hierdie Sondag bekend as Rogate (Roep), in aansluiting by Jesaja 48:20b: Jubel dit uit, maak hierdie aankondiginge en laat dit weerklink ...” (Van der Westhuizen). Binne die konteks van die kerkjaar kom ons teks saam met ander RCL-tekste (Hand 17:22-31; Ps 66:8-20; 1 Pet 3:13-22) vir dié Sondag ter sprake. Die RCLtekste fokus op die misterieuse, meervoudige ervarings van God se teenwoordigheid en afwesigheid. `n Tweede fokus van die tekste op die opstandingslewe, beklemtoon die interaksie tussen die geloofsgemeenskap (die kerk) en die wêreld. Ons teks beklemtoon `n situasie waarin Jesus afwesig en tog by die gelowiges teenwoordig is (deur die Parakleet), “to shape obedient lives of loving and fruitful actions that manifest God’s presence and purposes” (Carter). Jesus se afwesigheid en teenwoordigheid beteken nie dat Hy sy taak versaak het nie, maar beklemtoon God se toerusting aan gelowiges vir die uitleef van hul roeping onder diegene wat dikwels nie hul fundamentele toewyding deel nie.
In die seisoen van Pase skep die “lectionary texts ... an Easter people grounded in God’s just, merciful, inclusive, and life-giving purposes” (Carter). Die tekste vorm mense wat in die dood en opstanding van Jesus deel. Dit gee erkenning daaraan dat ons beide in die teenwoordigheid en afwesigheid van die Opgestane Een lewe, terwyl ons verlos word van alles wat God se doel met ons lewe wil ondermyn. Die “lextionary texts” rig ons op `n eskatologiese horison en diepgaande verbintenis met God se totale skepping. Dié tekste stel `n kruiskulturele gemeenskap in vooruitsig, met `n eie agenda en kenmerkende praktyke. Hierdie agenda en praktyke word dikwels nie deur die groter samelewing gedeel nie. Dit staan ook afwysend teenoor die fundamentele oortuigings, ongeregtighede en afgode van die groter samelewing. Aan die einde van die Paasseisoen weet ons opnuut dat hierdie “identity is too hard for us without God’s help. Easter leads us via the Acension to Pentacost – and of course way beyond” (Carter).
Maar hoe onderrig die “lextionary texts” van die Paasseisoen gelowiges oor hul sending in die wêreld? Hoe moedig hierdie tekste die “Easter people” aan om die goeie nuus in elke tyd en plek te verkondig? Mattison en Harrisville antwoord: “The lectionary bids you think of two pilgrimages, `resurrection-to-Pentecost’ and `Pentecost-to-the-ends-of-the-earth’ as parallel journeys toward faith and faithfulness made possible by God’s gracious action.” Dié antwoord kry dieper betekenis wanneer die identiteit en omstandighede van Johannes se eerste lesers ter sprake kom en in ons konteks toegepas word. Volgens Carter was die Johannese gemeenskap `n “small community of `trouble-hearted’ believers (14:1, 5, 8, 22) that understands itself to be oppressed and that struggles to live faithfully in his absence (14:1-3, 18-19).” Vir hierdie groepie gelowiges bied Jesus se riglyne en bemoediging in die teks “an alternation of conditions, promises, contrasts” (Mattison & Harrisville), sodat hulle geloofsgetrou kan lewe.
Ons lees ook Johannes 14:15-21 vandag op Arbeidsondag. Werk verteenwoordig een van die sosiale kontekste waarbinne Jesus se dissipels daagliks lewe. Die werkplek is waarskynlik dié konteks waar volgelinge van Jesus die meeste gekonfronteer word met kruiskulturele kontak. In hierdie omstandighede word die “Easter people” se eie agenda en kenmerkende praktyke uitgedaag. In die werkplek word Christene die duidelikste herinner dat hul agenda en praktyke nie deur die groter samelewing gedeel word nie, asook dat hulleself ongemaklik is met die fundamentele oortuigings van die groter samelewing. Hier ontdek ons dat ons nie sonder God se hulp getrou kan bly aan ons Paas-identiteit nie, en dat die etos van die ekonomiese sfeer dikwels bots met wat Jesus in sy afskeidgesprekke geleer het. Met die oog hierop is twee verdere perspektiewe vanuit die literêre konteks van 14:15-21 belangrik.
Die eerste perspektief is Brown se verwysing na gebed. Hy lê `n verband tussen vers 13-14 en 16-17. In 13-14 moedig Jesus sy dissipels aan om dinge in sy Naam te vra, met die belofte dat Hy sal doen wat hulle op dié wyse vra. In 16-17 word die tema van die Parakleet vir die eerste keer aangekondig. Hier stel Jesus egter dat Hy sal doen wat Hy pas in 13-14 vir hulle gesê het hulle moet doen: “Ek sal die Vader vra ...” Die inhoud van sy versoek tot die Vader is die gawe van die Heilige Gees, en word met `n belofte verbind: “ ... en Hy sal vir julle `n ander Voorspraak stuur ...” Die Heilige Gees sal dit juis vir hulle moontlik maak om te kan bid sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (13), omdat die ander Voorspraak “vir ewig by julle sal wees” (16). Dit kondig die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees in die dissipels aan. “The OT theme of `God with us’ (the Immanuel of Isa vii 14) is now to be realized in the Paraclete/Spirit who remains with the disciples forever” (Brown). Die ewige en onsigbare teenwoordigheid van die Heilige Gees in die dissipels is vir die Christen in die werkplek wesenlik belangrik. Die Gees help ons om te bid en ook in die werkomgewing te onderskei wat die Vader se wil is.
`n Tweede perspektief uit die literêre konteks word deur Judas, nie die Iskariot nie (22), se vraag geopen. Hy verstaan nie wat Jesus sê nie: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Dit is `n derde onderbrekende vraag deur die dissipels in hoofstuk 14 (vgl vers 5, 8). Die patroon is dieselfde. Brown verwys ook na 7:4 waar Jesus se broers Hom versoek om na Judea te gaan en sy wonderdade daar ten toon te stel. Met Judas se vraag blyk dit nou dat die dissipels se messiaanse verwagting intussen nie baie verander het nie. Judas soek blykbaar nog `n teofanie wat die wêreld kan verbyster. Hy kan nie Jesus se uitspraak in vers 19 verstaan nie – dat die wêreld Hom nie meer sal sien nie. In die werkomgewing behoort ons totale leefwyse te getuig van die inwoning van die Gees in ons. Ons kan nie net wil staatmaak op wonderdade en teofanieë deur God nie. Hy het juis die Gees gegee om by en in ons te bly, sodat ons deur ons lewe sy Naam kan verheerlik. Judas se eendimensionaliteit verhinder hom om Jesus se breë perspektief en insluiting van die wêreld in te sien. Hy besef nie dat die Vader voortaan deur die inwoning van die Heilige Gees in Jesus se dissipels, sy heerlikheid ten toon sal stel nie.
Preekvoorstel
Vir die preekvoorstel sluit ek by twee kenmerkende elemente in ons teks aan: (i) dat “liefde vir Jesus” ook beteken om sy opdragte (Gr entolas), onderrig/lering, te gehoorsaam, en (ii) dat God by sy dissipels bly (deur die Heilige Gees) na Jesus se afwesigheid. Die teks daag ons uit tot voortgaande worsteling met die geheimenis van goddelike afwesigheid en teenwoordigheid: “What do we make of the repeated affirmations of divine presence (4 times in 16, 17 [twice], 18) when so often God seems absent or asleep or oblivious to the struggles, conflicts, and desperation of many on planet earth?” (Carter). Yancey praat in sy boek Disappointment with God ook oor dié saak. Hy identifiseer drie vrae oor God se oënskynlike onbetrokkenheid in die wêreld: “Is God unfair? Is God silent? Is God hidden?” Jesus se versoek aan die Vader en belofte van `n ander Voorspraak, gee perspektief op die worsteling.
`n Tweede gedagte hou verband met mense se aanspraak dat hulle alles van God kan weet. Mense verkeer egter onder `n wanindruk as hulle dink hulle het beheer oor “God” as `n idee (Mattison & Harrisville). Ons is oënskynlik onder die indruk dat ons weet wat ons doen wanneer ons oor God dink, tot God bid of sy Naam ligsinnig gebruik. Ook ten opsigte van Christus. Maar wie is die Heilige Gees? Hoe kan ons die Gees verstaan? Mattison en Harrisville antwoord: “In the Fourth Gospel, wherever Christ is, wherever there is love for Christ, there is the Spirit. To know the Spirit, to be possessed by the Spirit, to be alive with the Spirit, filled with the Spirit – such can only occur through love for Christ and knowledge of him. Only where Christ is, is there Spirit.”
`n Derde gedagte fokus op God se teenwoordigheid in die wêreld deur Jesus se dissipels. Johannes beklemtoon die Gees as teenwoordigheid van die gekruisigde en verheerlikte Een. Jesus se opdragte (15) of woorde (23-24) is `n openbaring van God self. Dit sluit sy wil in dat sy dissipels verhoudingsgewys, die liefde wat die Vader en die Seun deel (13:34-35; 15:9), sal beliggaam. Daar is `n integrale verband tussen die teenwoordigheid van goddelike liefde en aktiewe menslike gehoorsaamheid: “Our acts of service or works of obedience are one locus in which we are to know God’s presence and through which we manifest God’s love in the “world” (Carter). Die dissipels word geroep om Jesus se woorde uit te leef. Sy woord herinner ons daaraan dat ons ervaring van goddelike teenwoordigheid, liefde en die Parakleet, die kerk van die wêreld onderskei, want: “The world cannot discern the Paraclete, cannot share this primary emphasis on knowing God’s presence, cannot value the gift of God’s love because it has not chosen to live life in relationship to God” (Carter).
`n Vierde gedagte word gestimuleer deur die teks se uitdaging om weer na te dink oor kulturele akkommodasie, oor die toenemende skerp onderskeidingslyne wat getrek word in ons sekulêre gemeenskap, oor wat vir ons as geloofsgemeenskappe saak maak, oor ons ervaringe van God se teenwoordigheid, en veral oor die kerk se moeilike taak om geloofsgetrou en missionêr te bly as `n Paas-gemeenskap (Carter). Hier moet die kerk se rol en getuienis as liefdesgemeenskap aandag kry. Volgens Powell moes die gemeenskap aan wie Johannes sy evangelie geskryf het ten minste drie vlakke identifiseer waarop hulle grense moes bepaal in die worsteling om self-identiteit: “with regard to the world, the Jews, and the other Christians.” Op Arbeidsondag word ons uitgedaag om ons Paas-identiteit ook vir verskillende kontekste te definieer; met betrekking tot die groter samelewing waarin ons staan, die ander godsdienste en Christene wat ons lewenspad kruis, en die ekonomiese beginsels van die werkomgewing.
Bibliografie
Brown, R E 1970. The Gospel According to John X111 – XX1; Carter, W 2002. The Season of Easter, in New Proclamation. Year A, 2002; Carter, W 2002. Sixth Sunday of Easter, in New Proclamation. Year A, 2002; Groenewald, E P 1980. Die Evangelie van Johannes; Mattison, R & Harrisville, R 1999. The Season of Easter, in New Proclamation. Series A, 1999; Mattison, R & Harrisville, R 1999. Sixth Sunday of Easter, in New Proclamation. Series A, 1999; Powell, M A 1998. The Gospels; Van der Westhuizen 2003. Basisliturgie vir Sewe Paassondae, in Preekstudies met Liturgiese Voorstelle gebaseer op die Leesrooster (Advent 2003 tot Koninkrykstyd 2004). Buvton; Yancey, P 1992. Disappointment with God. Three Questions No One Asks Aloud; Zerwick, M & Grosvenor, M 1981. A Grammatical Analysis of the Greek New Testament.