Johannes 16=25-31 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 52 views
Notes
Transcript

Johannes 16:25-31 LR2006

10 SEPTEMBER 2006

Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:                    Johannes 16:25-31

Ander tekste:       1 Konings 8:1-30; Psalm 84; Efesiërs 6:10-20; Johannes 6:56-59

Inleiding

Koninkrykstyd is ook oorwinningstyd. Jesus beklemtoon dat Hy klaar oorwin het (Joh 16), en daarom moet ons voortgaan deur steeds gereed vir die stryd te wees, toegerus met die wapenrusting (Ef 6). Deel van so ’n toerusting is juis gebed (1 Kon 8), bywoon van die eredienste (Ps 84) en versterking met geestelike voedsel (Joh 6).

Diensorde

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Voorbereidende sang (opsioneel)

Toetree:                          Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”

Verootmoedig:                Psalm 31:7-9 “U goedheid, Here, is oneindig”

Lofsang:                         Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”

Toewy:                                     Lied 221 “Loof die Heer omdat Hy goed is” (x4)

Seëngroet (vanaf kers langs doopbak)

Voorganger:  Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Ef 1:2).

Gemeente:     Hoe lief het ek u woning, Here, almagtige!

Voorganger:  Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;        

Gemeente:     met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God (Ps 84:2,3).

Aansteek van koninkrykskers

In die Bybelse tyd het die voëltjies by die tempel in en uit gevlieg – daar was nie eintlik vensters nie. Die mossies het sommer daar by die altaar nesgemaak, die swaeltjie se modderhuisie iewers teen ’n muur. Wat wil dit vir ons sê? Om naby aan die Here te wees  – dit is ons grootste behoefte (vgl Ps 84:4).

Ons steek vandag hierdie kers aan sodat die lig ons kan herinner aan die nabyheid van God – Hy wat elke dag ook die Lig in ons lewe is.

Kindertyd

Praat met die kinders oor die mossies en die swaeltjies en hoe spesiaal dit vir hierdie voëltjies moes gewees het om in die tempel nes te maak. Watter diertjies sou ons vandag in ons kerkgeboue toelaat?  (Ps 84 ).

Verootmoediging

Voorganger:  Efesiërs 6:10-18

Samesang (nav Ef 6:10-18)

Lied 513 “Soek in God jou sterkte”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Psalm 119:97-104 (afsonderlik of saam met ‘n vrye gebed)

Skriflesing

Johannes 16:25-31

Respons van gemeente (verkieslik sonder aankondiging)

Lied 206 “Halleluja!” (Zimbabwe) – orrelis gee net eerste akkoord.

Preek

Respons

Gemeente:    Lied 502 “Vol vertroue, vas en veilig”

DIENS VAN DIE TAFEL

Opmerking: Indien die gemeente nie op hierdie Sondag die sakrament van die nagmaal vier nie, kan die nagmaalherinnering van Sondag 6, 8, 20, 27 Augustus 2006 of 3 September 2006 gebruik of na goeddunke aangepas word.

Gereedmaak van die tafel

Lied 297 “Ons buig hier in belydenis”

’n Gesin wat vooraf gevra is, bring die brood en wyn na die nagmaalstafel (terwyl gemeente sing).

Diakens maak alles gereed (terwyl gemeente sing).

Voorganger neem plek in: Almal word uitgenooi om deel te hê aan die nagmaal, (vooraf)aangewese lidmate (verkieslik ’n gesin) kom na vore om saam aan die tafel te sit, indien nodig verduidelik modus operandi ten opsigte van die breek van die langwerpige broodjies deur die ouers en die gebruik van wyn of druiwesap deur die kinders, ensovoort.

Instelling

Voorganger lees die vyfde betekenis van die nagmaal (vreugdefees) – sien by 3/9.

Tafelgebed

 Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel”

Instellingswoorde (voorganger)

Die Here Jesus het op ’n keer vir sy dissipels gesê: “As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom”  (Joh 6:53-36). Neem dus nou die brood en eet dit; neem die wyn en drink dit – dit dui op die liggaam en bloed van die Here Jesus.

Uitdeel en gebruik van brood en wyn

Voorganger deel uit en diakens bedien. (Moet asseblief nie die orrelis oorslaan nie.)

Gemeente sing deurlopend Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader” (totdat bediening klaar is).

Toewyding

Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer”

Opneem van die offergawes

Lief-en-leed/aankondigings

Voorbiddingsgebed

UITSENDING

Verbintenis

Voorganger:  Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is; hulle hou nie op om U te prys nie.

Gemeente:     Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind – vir hulle gaan daar fonteine oop!

                    (Ps 84:5-7).

Slotlied 

Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God” (temalied)

Seën

Die Here God is jou krag en jou beskerming, die Here gee genade en eer.

Dit sal goed gaan met jou – jy wat op die Here vertrou (Ps 84:12-13, aangepas).

Antwoord

Die gemeente sing Lied 313 “Amen” (x2).


PREEKSTUDIE – JOHANNES 16:25-31

Teks

In die fokusteks maak Jesus aan sy dissipels bekend dat Hy die wêreld gaan verlaat en na sy Vader teruggaan. Vir die dissipels is dit reguit praat, sonder om doekies om te draai. Dit spoor hulle aan om hulle geloof in Hom te bely, ’n geloof wat spoedig aan die strengste toetsing onderwerp sal word.

Vers 25 – Die kernwoord in hierdie teks is “beeldspraak” (Gr paroimía). In die OAV is dit vertaal met “gelykenisse” in navolging van die Nederlandse Statevertaling. Luther vertaal dit met “Sprichwörter”. In Engelse Bybeluitgawes kom ’n verskeidenheid vertalings voor, soos: “proverbs”, “allegories”, “parables”, “figures of speech”, “veiled language” en “dark sayings”. Johannes gebruik paroimía drie maal (10:6; 16:25, 29), elke keer in die sin van “duister woorde”. Dit kan die betekenis hê van gelykenisse, maar dit word ook gebruik van ’n verskeidenheid sê-dinge wat op die oog af eenvoudig voorkom, maar waarvan die betekenis nie voor die hand liggend is nie, maar dieper oor nagedink moet word. In die reël het dit uitleg nodig. Van die bekendste gelykenisse van Jesus was vir die dissipels “duister” totdat Hy dit vir hulle uitgelê het (Matt 13:18-23, 36-43). Jesus verklaar in hierdie teks dat Hy “dit” (“hierdie dinge”– OAV) deur paroimíais (beeldspraak, duister woorde) vir sy dissipels gesê het. Hy verwys in die eerste plek na die hele gesprek wat Hy met hulle gevoer het nadat Judas die kring verlaat het (13:31ev), maar dit sluit nie beeldspraak uit wat Hy in die loop van sy hele bediening aangewend het nie.

In die tweede deel van die teks verwys Jesus na ’n tyd wanneer Hy nie meer deur paroimíais met hulle sal praat nie, maar hulle reguit (Gr parrhēsíavrymoediglik) van die Vader sal vertel. Die dissipels was klaarblyklik onder die indruk dat die tyd reeds aangebreek het (29). Die beste wyse om hierdie woorde te verstaan, is om dit op die tyd na Jesus se opstanding toe te pas (26), want dit was die tyd toe die dinge wat vir hulle “duister” was, aan die lig gebring is, soos in die geval van die Emmausgangers (Luk 24:13-35; vgl ook Hand 1:1-8). Dit slaan ongetwyfeld ook op die tyd na die uitstorting van die Heilige Gees soos deur Jesus beloof (16:12-15) en deur die vrymoedigheid (Gr parrhēsían) van die apostels, veral Petrus, bevestig (Hand 2:14-47; 4:13).

Vers 26 – Jesus se “reguit vertel” van die Vader sal hulle gebedslewe ingrypend raak. In die lig van hulle voller kennis sal die dissipels bid soos hulle moet, “in my Naam” (vgl 23, 24). Hierdie frase kan slegs beteken dat hulle hul toenadering tot die Vader stewig vestig op die hele priesterlike werk van Jesus, van sy menswording af tot sy hemelvaart (vgl Fil 2:6-11). Hierdie werk is ’n voortdurende voorspraak vir die gelowiges en dit benodig nie aanvullende voorspraak deur Jesus nie (Morris). So ’n verklaring is ook nie in stryd met tekste soos Romeine 8:34, Hebreërs 7:25 en 1 Johannes 2:1 nie. Jesus se troonsbesetting aan die regterhand van die Vader bewys dat die Vader die werk van die Seun volkome aanvaar het. Jesus se teenwoordigheid by die Vader is op sigself die voortdurende voorspraak. Morris sê: “Die gedagte dat die dissipels Christus se gebede vir hulle moet inroep omdat Hy meer genadig en gewillig is om te hoor as die Vader, moet streng afgewys word. Die teks dring eerder aan op die eenheid van die Seun met die Vader. Die Seun oorreed nie die Vader om genadig te wees nie. Die ganse werk van die Seun is gevestig op die liefdevolle sorg van die Vader wat Hom gestuur het” (my vertaling – DPB).

Vers 27 – Hierdie teks gee die rede aan waarom Jesus nie vir hulle voorspraak by die Vader hoef te wees nie. Die Vader self het hulle lief en hierdie liefdesaanvaarding is gegrond op hulle liefde vir en geloof in Jesus. Die Griekse woord vir liefhê wat Johannes hier gebruik, is philéõ. Volgens Kittel het dit in die Griekse omgangstaal beteken “om iemand as een van jou eie mense te behandel”. Dit is gebruik vir die liefde tussen egpare, tussen ouers en kinders, tussen werkgewers en werknemers, tussen vriende asook tussen gode en hulle begunstigdes. Dit beskryf dus ’n verhouding. In hierdie teks voldoen die dissipels aan Jesus se vereiste dat hulle Hom sal liefhê deur in Hom te glo en daarmee ervaar hulle die wederkerige liefde van die Vader vir hulle. Daar het as ’t ware ’n gesinsverband tot stand gekom. Miskien kan daar ’n onderskeid getref word tussen hierdie liefde en God se algemene liefde (Gr agapaõ) vir die wêreld in 3:16. Tog word God se liefde vir die dissipels ook deur agapaõ uitgedruk (14:21, 23), net soos philéõ en agapaõ beide die liefde van die Vader vir die Seun beskryf (5:20 en 3:35). Slegs agapaõ word gebruik vir Jesus se liefde vir die dissipels (13:1) en hulle liefde vir mekaar (13:34) en Jesus se liefde vir die Vader (14:31). Johannes verwys nêrens na die dissipels se liefde vir die Vader nie. Deur die woord philéõ te gebruik, dui Johannes waarskynlik op die gesinstruktuur waarin die nuwe liefdesverhouding tussen God en die dissipels deur die Middelaarskap van die Seun gestalte gekry het. Deur die Seun en mekaar lief te hê, het hulle ook die Vader lief (vgl 13:34, 35; 14:9-11; Ef 2:19).

Vers 28 – In hierdie teks stel Jesus sy dissipels voor die volle siklus van sy verlossingswerk. Morris noem dit “die groot beweging van verlossing”. Dit stem treffend ooreen met die Christuslied van Filippense 2:6-11. Die beweging is in twee rigtings, van die hemel na die aarde en terug. Jesus se hemelse oorsprong is allerbelangrik, want dit verseker sy bevoegdheid en vermoë om Saligmaker vir die mense te wees. Maar sy hemelse bestemming is ewe belangrik want dit bevestig dat die Vader sy seël op die Seun se verlossingswerk gesit het.

Vers 29 en 30 – Die dissipels verklaar in hierdie tekste dat hulle Jesus se woorde nou beter begryp omdat Hy reguit praat en nie beeldspraak (duister woorde) gebruik nie. Dit dui op ’n besondere verligting van begrip, omdat Jesus nie juis iets anders vir hulle gesê het as vantevore nie. Hulle erkenning dat Jesus alles weet en dat niemand Hom verder hoef uit te vra nie was waarskynlik na aanleiding van sy reaksie op hulle vrae soos beskryf in 16:16-23. Hulle volg dit op met ’n belydenis van hulle geloof in sy goddelike oorsprong. Die vertaling van die Griekse woorde èn toutõ met “nou” in die NAV, kan misleidend wees asof die dissipels op daardie oomblik vir die eerste keer geloof in sy goddelike herkoms uitgespreek het. Dit sou dan die belydenis van Petrus (6:68-69; Matt 16:16) en die ervaring op die berg van verheerliking (Matt 17:1-8) buite rekening laat. Die OAV en die meeste Engelse vertalings vertaal met “daarom” of  “hierdeur”. As dit so vertaal word, is die betekenis dat die reguit woorde van Jesus en hulle gewaarwording van sy alwetendheid hulle geloof in Hom as die Een wat van God gekom het, bevestig en versterk het.

Vers 31 – Jesus se woorde kan as ’n stelling, eerder as ’n vraag, gesien word, soos enkele Bybelvertalings dit het. Dan lees ons: “Julle glo nou!” Volgens McClymont (aangehaal deur Morris) is dit eintlik eerder ’n uitroep van Jesus as ’n vraag. Uit dié verband is dit egter duidelik dat Jesus nie die dissipels se geloof in twyfel trek nie, maar vraenderwys wel die aandag vestig op die ontoereikendheid daarvan. Hulle glo inderdaad, maar hulle het tot nog toe nie kennis gemaak met die hoë eise wat aan die egte geloof gestel word in ’n tyd van versoeking en lewensgevaar nie. Daardie tyd het vir hulle reeds aangebreek.

Konteks

Die fokusteks maak deel uit van die slotgedeelte van Jesus se afskeidsgesprek met sy dissipels nadat Judas die vertrek verlaat het (13:31–16:33). Eintlik begin hierdie gesprek reeds met die voetwassing (13:1 ev). Johannes beskryf Jesus se motivering vir hierdie handeling en gesprek as “omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan”(13:3) (OAV). Dit is hierdie goddelike oorsprong en bestemming van Hom wat vir die wêreld en ongelowiges verborge is, wat Hy in die gesprek aan sy dissipels openbaar (14:2, 28; 16:16). Daarmee saam wys Hy vir hulle die weg na die Vader aan (14:4-7), beskryf sy verhouding tot die Vader (14:8-11, 31; 15:9, 15; 16:15) en die vereistes waaraan hulle moet voldoen om as sy volgelinge deel te wees van die liefdesgemeenskap met Hom en die Vader (13:34; 15:9-10, 12, 14, 17). Die gesprek eindig met Jesus se samevatting: “Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe” (16:28). Dat Jesus in sy doel geslaag het is duidelik uit die dissipels se geloofsbelydenis wat op sy slotwoord volg (16:29-30). Sy laaste woorde is ’n reaksie op hulle belydenis. Dit behels ’n waarskuwing dat die strengste geloofstoets en verdrukking in die wêreld vir hulle wag sowel as ’n bemoediging en versekering dat hulle vrede kan hê en moed kan hou omdat Hy die wêreld klaar oorwin het. Die hele gesprek word verder in konteks geplaas deur die gebed van Jesus wat direk daarop volg (17:1-26) en waarin sy verhouding tot die Vader en sy dissipels duidelik spreek.

’n Preek na aanleiding van die fokusteks sal benewens die breër konteks ook die nadere konteks in ag moet neem. Die fokusteks begin met ’n stelling van Jesus wat direk verband hou met die voorafgaande (25) en dit eindig met Jesus se vraag (31) waarvan die sin slegs deur die daaropvolgende verse duidelik word. Van die kommentatore geraadpleeg, behandel De Boor, Tasker en Smelik 16:16-33 as ’n samehangende geheel. Barclay deel dit tematies in onder 16:25-28 en 29-33, terwyl Matthew Henry 16:23-27 en 28-33 afsonderlik hanteer. Bouma behandel 16:25-33 onder die tema “Het Slotwoord” en kom dus die naaste aan die indeling van die fokusteks. As aanvaar word dat Johannes wel bedoel het dat vers 25-33 as slotwoord moes dien, moet vers 25 nie slegs by die onmiddellik voorafgaande of selfs die hele afskeidsgesprek betrek word nie, maar op al Jesus se gesprekke en uitsprake wat in die evangelie voorkom. Dit regverdig dan ook dat die fokusteks met vers 25 begin. Aan die ander kant skyn dit nie goeie sin te maak dat die fokusteks met vers 31 eindig nie. Jesus se gesprek met sy dissipels wat op die oog had om dieper geloofskennis oor Hom aan hulle mee te deel, kon tog nie afgesluit word met ’n vraag wat in die lug hang nie. Vers 32 en 33 sal noodwendig hierby betrek moet word.

Vers 32 en 33 het alles met die dissipels se geloofsvolharding te doen Die toets is reeds ophande. Johannes gebruik die Griekse woord scorpízõ wat met “uitmekaar jaag” vertaal word, vir die dissipels se beproewing. Dit hou verband met Jesus se metafoor van die Goeie Herder en die skape (vgl 10:11-13, ook Matt 12:30, Luk 11:23). Die woord “alleen” is hier sentraal. Dit dui op die verbreking en moontlike beëindiging van gemeenskap. In hierdie geval bedreig dit slegs die dissipels, want Jesus is verseker dat die Vader by Hom is. Die vrede waarvan Jesus hier praat, is ’n innerlike vrede deur geloofsgemeenskap met Hom te midde van verdrukking in ’n onrustige en onstuimige wêreld. In sy versekering dat Hy die wêreld klaar oorwin het, antisipeer Jesus sy opstanding en hemelvaart.

Preekvoorstel

By die nadenke oor die fokusteks met die oog op ’n preek word die antwoord op vraag 21 van die Heidelbergse Kategismus onwillekeurig voor die gees geroep. Die vraag is: “Wat is ’n ware geloof?” en die antwoord: “’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit louter genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid skenk.” Aan die hand van hierdie antwoord kan drie aspekte van die dissipels se geloofservaring in die fokusteks onderskei word, naamlik geloofskennis (25-28), geloofsbelydenis (29-30) en geloofsvertroue (31-33).

Johannes het sy evangelie geskryf om aan sy lesers die feite oor die Persoon, lewe en werk van Jesus mee te deel met die doel dat “julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (20:30-31). Hy bied die verhaal aan as die getuienis van ’n ooggetuie, wat vanaf die begin van Jesus se openbare loopbaan tot net voor sy hemelvaart as dissipel na aan Hom geleef het. Om sy lesers tot geloof aan te spoor, dui hy dus in fyn besonderhede aan hoe hulle as dissipels tot geloof gekom het. Hy verhaal enkele uitstaande wonderwerke, maar spits hom veral toe op Jesus se openbare leerredes, debatvoering met die Jode en veral sy meer intieme gesprekke met sy volgelinge. Die fokusteks kan dan inderdaad gesien word as ’n gepaste slotwoord (Bouma) tot en opsomming van, die proses van geloofsontwaking van die dissipels. Met die toevoeging van vers 32 en 33 kan dit selfs gesien word as ’n samevatting van die hele evangelie wat die beoefening van die ware geloof as tema het. Dit kan dan onder die bogenoemde drie aspekte in die preek behandel word.

1. Geloofskennis

As deel van die gelowige Joodse gemeenskap het Jesus se dissipels weliswaar ’n goeie kennis van die lering van die Torah (Wet en Profete) en ook ’n Messiasverwagting vir die politieke en ekonomiese verlossing van die Joodse volk gehad. Jesus het gekom om die Wet en die Profete te vervul, maar nie soos hulle dit verwag het nie. Vandat Johannes die Doper Jesus as die Lam van God aan hulle uitgewys het, sou hulle stelselmatig kennis maak met die ware aard van sy messiasskap, soos Hy dit deur optrede en lering aan hulle oorgedra het. Die aanvaarding van sy selfopenbaring en sy woorde sou nie maklik wees nie, want dit het beteken dat hulle diepgewortelde tradisionele idees moes wysig of selfs prysgee en hulle ook in stryd bevind met die standpunte van die gerespekteerde godsdienstige leiers van die volk. Om hulle onmiddellik nadat Hy hulle tot volgelingskap geroep het met die volle waarheid te konfronteer sou ongetwyfeld by hulle almal die reaksie ontlok het wat Johannes in 6:60-66 beskryf: “Wat Hy nou sê is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” en hulle sou omgedraai het huis toe. Maar Jesus se metode om geloof in Hom en sy woorde by hulle te vestig was een van geleidelike blootstelling en inlywing. Dat Hy meer as mens is, openbaar Jesus deur sy wondertekens, waarvan Johannes sewe beskryf. Hy het mag oor die natuur (2:1-11; 6:1-15; 6:16-21), oor siektes en liggaamlike gebreke (4:43-54; 5:1-17; 9:1-23) en die dood (11:1-44). Hy het dit bevestig deur die woorde wat Hy tot hulle gespreek het. Inderdaad was baie van sy woorde duidelik genoeg om verstaan te word, maar veral die woorde wat om sy persoon en sending gegaan het, was in die meeste gevalle “duister woorde” (sien teks, vers 25), soos byvoorbeeld die “Ek is”-uitsprake. Daar moes dieper gedelf en besin word om hulle volle betekenis te begryp.

Terwyl Jesus sy laaste gesprek met die dissipels afsluit, was daar nog baie leemtes in hulle geloofskennis oor Hom en sy sending. Dit was vir hulle uiters moeilik om tot volle begrip van die waarheid te kom voordat sy sending voltooi sou wees. Maar nou belowe Hy aan hulle dat al hierdie “duister woorde” helder deursigtig sal word na sy opstanding uit die dood (vgl 2:19-22) en die uitstorting van die Heilige Gees (vgl 14:25 en 16:13-15). Hulle geloofskennis sal oneindig uitgebrei word deur hulle terugblik op die Paasgebeure en die werk van die Gees. Terselfdertyd sal daar ’n besondere verhouding tot stand kom tussen hulle en die Vader op grond van hulle liefde vir Jesus en hulle geloof dat Hy van die Vader gekom het en na Hom, na voltooiing van sy sending, teruggaan. Daar sal ’n nuwe “gesin” tot stand kom wat saamgebind word deur hulle liefde vir Jesus en mekaar en die liefde van die Vader vir hulle, omdat hulle Jesus liefhet. Hierdie nuwe verhouding sal sy neerslag vind in hulle gebedslewe (sien teks, vers 26 en 27). Hulle sal al hulle begeertes en behoeftes direk aan die Vader voorlê in die Naam en op grond van die verdienste van Jesus wat hulle voorspraak is (vgl Fil 4:6-7). So sal hulle die liefde van die Vader ondervind. In hierdie nuwe verhouding en gebedsgemeenskap sal die Heilige Gees hulle geloofskennis voortdurend proefondervindelik vermeerder.

2. Geloofsbelydenis

Na hierdie woorde van Jesus doen die dissipels ’n belydenis van hulle geloof in Hom, ten spyte van hulle gebrekkige geloofskennis. Dit is nie die eerste keer dat hulle bely om in Hom te glo nie. Reg aan die begin van sy bediening het Andreas, Filippus en Nataniël bely dat Hy die Messias is (1:35-51). Die wonderwerk in Kana het hulle geloof in Hom opgewek (2:11). Nadat baie aanvanklike volgelinge (wat waarskynlik slegs sterk beïndruk was deur sy wondertekens) van Hom af weggedraai en huis toe gegaan het, het Petrus namens die twaalf geloof in Hom as die Heilige van God bely (6:68-69). Maar sedert daardie eerste belydenisse het baie dinge gebeur wat hulle kennis van die persoon van Jesus en die betekenis van sy woorde uitgebrei en verskerp het. Hulle liefde vir en lojaliteit aan Hom het voortdurend toegeneem (vgl 11:16; 13:37). Jesus se afskeidsgesprek het hulle verslae en bedroef gelaat (16:16-22) en daar was baie dinge wat hulle nie verstaan het nie (16:12). Nogtans het hulle Hom op sy woord geneem en geloof in Hom en sy goddelike herkoms bely. Hulle bevestig dat hulle op grond van sy alwetendheid, sy verwantskap aan God en sy sending deur die Vader gelowig aanvaar. Die volle implikasies van sy sending en sy taak is vir hulle voor as nog “duister woorde”, maar wat hulle in daardie oomblik reeds van Hom en sy woorde weet, is genoeg om hulle geloof in Hom te bely. Miskien het hulle intuïtief aangevoel dat die ware geloof nie slegs op ’n bepaalde kennis gegrond word nie (HK), maar dat so ’n geloof inderdaad die deur tot die verkryging van verdere kennis ontsluit. Die egtheid van hulle geloofsbelydenis sal bewys word deur die opregtheid van hulle liefde vir Jesus en hulle vertroue in Hom.

3. Geloofsvertroue

Die geloofsbelydenis van die dissipels, gegrond op die besondere kennis van wie Hy is en waarvoor Hy deur die Vader gestuur is, sal slegs kan stand hou as hulle vir hulle lewe onvoorwaardelik op Hom en sy woorde vertrou. Jesus het nie die geloof van mense wat deur sy wondertekens tot geloof in Hom gekom het, as eg aanvaar nie (2:23-25), maar Hy het nie aan die opregtheid van sy dissipels se geloofsbelydenis getwyfel nie, omdat Hy geweet het hoe hulle oor Hom voel. Dit was egter nodig dat Hy hulle op die broosheid van hulle vertroue in Hom wys, veral met die oog op die rol wat Hy binne ure sou speel, ’n rol wat hulle allermins voorsien het en waaraan hulle aanstoot sou neem. Daarom stel Hy die retoriese vraag: Glo julle nou?” Hulle persepsie van Hom as die glorieryke koninklike Messias sou wreed vernietig word wanneer hulle Hom as die oënskynlik magtelose gekruisigde Lam van God sien sterf (vgl Luk 24:21). Die krisis in hulle gemoed sou hulle uitmekaar jaag, elkeen sy eie koers in en Hom alleen laat in die uitvoering van sy opdrag. Maar dit sou Hom nie van die uitvoering van sy sending weerhou nie, want die Vader was by Hom. Sy geloof en vertroue in die Vader sou nie wankel nie en daarin lê die waarborg vir hulle geloofsvertroue in Hom. Die dissipels se geloofskrisis was brandend fel, maar genadiglik kort van duur, want gedurende daardie drie dae het Jesus die wêreld, die sonde en die dood oorwin, deur sy lyding, sterwe en opstanding. Na daardie naweek sou hulle nooit weer aan Hom en sy woorde twyfel nie, maar met volkome geloofsvertroue in Hom en na vervulling met die Heilige Gees, uittrek om die hele wêreld met sy verlossingsboodskap vir die koninkryk van God te wen (15:26). Die wêreld sal hulle weerstaan en die lewe vir hulle moeilik maak (sien ook 14:18-21), maar hulle sal vrede hê omdat hulle geloofsvertroue vas en seker gevestig is in Jesus wat die wêreld klaar oorwin het.

Toepassing

Die toepassing van die preek kan gemaak word deur die gemeente op te roep om naarstig daarna te strewe om hulle geloofskennis deur Bybelstudie en gebed te verdiep (Ps 119; Fil 3:10-14); om hulle geloof in Christus openlik en vrymoedig te bely (Rom 1:16; Hand 4:8-13); en om met vaste geloofsvertroue in Hom sy opdrag in hierdie wêreld uit te voer (2 Tim 2:8-13).

Bibliografie

Morris, Leon. The Gospel according to John.  Barnes, Albert. The Gospel according to John, Notes;  Bouma, C. Johannes, KV;  Smelik, E L. Het Evangelie naar Johannes;  De Pred, van het NT;  De Boor, Werner. Das Evangelium des Johannes (2). Wuppertaler Studienbibel; Barclay, William. The Gospel of John (2), The Daily Study Bible;  Tasker, R V G. John, Tyndale NT Com.;  Henry, Matthew. The Fourth Gospel, Com. on the whole Bible;  Booyens, M J. Elke Dag in die Lig, NGK Boekhandel Tvl.

Related Media
See more
Related Sermons
See more