Johannes 15=26-27 + 16=4b-15 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 71 views
Notes
Transcript

Johannes 15:26-27, 16:4b-15 LR2006

4 JUNIE 2006

PINKSTERSONDAG/OMGEWINGSONDAG

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:                    Johannes 15:26-27, 16:4b-15

Ander tekste:       Esegiël 37:1-14; Psalm 104; Handelinge 2:1-21

Inleiding

Pinkster is die fees van die uitstorting van die Heilige Gees. Die gebeure van die eerste Pinksterdag in Jerusalem na Jesus se hemelvaart word in herinnering geroep. Die liturgiese kleur  vir die dag is vlamrooi na aanleiding van die tonge van vuur wat op die dissipels van Jesus gekom het. In die vroeë kerk was Pinkster, naas Paasfees, ’n geleentheid waar die doop bedien is. Indien die doop nie op hierdie Sondag bedien word nie, behoort daar ten minste geleentheid vir die herbevestiging van doopbeloftes ingeruim te word. In baie kerke is dit gebruiklik om katkisante op Pinksterdag belydenis van geloof te laat aflê.

Die eerste Sondag in Junie word die laaste aantal jare ook toenemend as Omgewingsondag gevier. Die gebed van Henri Capieu (Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle, p 79) kan met die oog op Omgewingsondag in plaas van die Pinksterlitanie gebruik word.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

Diensorde

god versamel ons voor hom

Aanvangslied

Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

Aansteek van die Christuskers

Aanvangswoord

Psalm 104:1-5 en 31-33

Ek wil die Here loof!

Here my God, U is baie groot,

U is beklee met koninklike luister,

U is met ’n kleed van lig omhul.

Dit is U wat die hemelkoepel

soos ’n tentdoek gespan

en vir U ’n woonplek ingerig het

oor die waters daarbo,

U wat op die wolke ry,

op die vleuels van die wind,

U wat die winde u boodskappers maak,

die weerligte u dienaars,

U wat die aarde stewig gevestig het,

sodat dit nooit sal wankel nie –

Mag daar aan die roem van die Here

geen einde wees nie!

Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,

Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,

wat die berge aanraak, en hulle brand.

Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,

ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.

Seëngroet

Loflied

Lied 430 “Kom, Skepper-Gees, besoek u kerk” (met die melodie van Psalm 134 as alternatief)

Pinksterlitanie

Voorganger:  Halleluja! Die Gees van die Here vul die aarde.

Gemeente:     Laat die regverdiges bly wees en juig voor die Here. Halleluja!

Voorganger:  Met tonge van vuur het die Gees die apostels aangepor.

Gemeente:     Hulle vertel in nuwe tale van die groot dade van God.

Voorganger:  Ere aan God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Gemeente:     Mag sy koninkryk sonder einde wees.

Voorganger:  Halleluja! Kom, Skepper-Gees!

Gemeente:     Vul die hart van u volgelinge met die oorvloed van u liefde. Halleluja! Amen.

Aanbidding en lof

Lied 439 “O Heil’ge Gees, o God in ons”

DIENS VAN DIE WATER

Herbevestiging van doop/doopbeloftes

Voorganger:  Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Gemeente:     Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit

                    en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.

                    Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

Gemeente:     Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het

                    en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.

                    Glo jy in die Heilige Gees?

Gemeente:     Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon

                    en ons tot lidmate van Christus heilig.

Almal wat wil, kan nou uitgenooi word om ’n kers by die Christuskers voor in die kerk te kom aansteek. Alternatiewelik of daarmee saam kan lidmate uitgenooi word om hulle hande in die water in die doopvont te doop en ’n kruisteken met die water op hulle voorkop te maak.

Sang

Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament

Esegiël 37:1-14

Psalmrespons

Psalm 104 kan in sy geheel of gedeeltelik voorgelees word. Alternatiewelik kan sekere verse van die omdigting in die Liedboek gesing word, byvoorbeeld vers 1-4 en 13-16.

Skriflesing uit die Evangelie

Johannes  15:26-27; 16:4b-15

Antwoord

Een van die hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of  ’n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228 of NSG 1, 21, 19, 118 of 327.

Skriflesing

Handelinge  2:1-21 (die Pinksterverhaal)

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis van Nicea

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die brood,

                    die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente:     Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die wyn,

                    die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente:     Prys die Here, nou en vir ewig!

Voorganger:  Soos die koring wat oor die velde gestrooi

                    en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

                    op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

                    mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

                    saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente:     Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger:  Mag die Here met julle wees!

Gemeente:     En ook met jou!

Voorganger:  Hef op julle hart.

Gemeente:     Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger:  Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente:     Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger:  Aan U kom ons dank toe, Here ons God,

                    oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

                    Want U het die Heilige Gees uitgestort

                    oor die mense in wie U ’n welbehae het.

                    Daarom juig die hele aarde

                    en roem die volke in velerlei tale.

                    Daarom sing ons saam met die engele en hemelwesens

                    die lof van u heerlikheid:

Gemeente:     Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

                    Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

                    Hosanna vir die Seun van Dawid!

                    Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!

                    Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger:  Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

                    U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

                    Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

                    sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.

                    Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

                    en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

                    “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

                    Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

                    “Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Gemeente:     Ons verkondig u dood, Here Jesus!

                    Ons vier u opstanding uit die dood!

                    Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger:  Here ons God,

                    ons roep vandag in herinnering die uitstorting van u Heilige Gees,

                    die Voorspraak wat U vir ons gestuur het,

                    die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan

                    en oor Christus getuig.

                    Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

                    sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

                    ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

                    behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

                    in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente:     Amen.

Voorganger:  Ons is deur die Heilige Gees beseël as die eiendom van God. Laat ons dan nou saambid:

Gemeente:     Sing die “Ons Vader”-gebed (dit kan ook as Lied 266 gesing word).

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met ’n handdruk of omhelsing met die woorde: “Mag die vrede van die Here met jou wees.”

Instelling

Die instellingswoorde van die nagmaal word deur die voorganger uitgespreek.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 533 “Stuur ons, Here” (Thuma mina)

Seën

Mag die Gees van waarheid julle in die volle waarheid lei.

Antwoord

Die gemeente sing “Amen” Lied 513.

PREEKSTUDIE – JOHANNES 15:26-27;  16:5-15

Teks en konteks

a.  Die afgebakende teksgedeeltes speel ’n sleutelrol in die Christelike verstaan van die persoon en werk van die Heilige Gees. Dit is daarom ’n gepaste teks vir Pinkstersondag, maar met die oog op Omgewing­­sondag is hierdie gedeeltes nie `n eerste keuse nie. Daar is selfs aspekte van hierdie teksgedeelte wat teen die grein van omgewingsorg ingaan. Kyk na die volgende: (a) Die teks handel hoofsaaklik oor intieme interpersoonlike verhoudings, tussen Jesus en sy dissipels, en tussen die Vader, Seun en Parakleet onderling; (b) Die verwysings na die wêreld/aarde wat wel voorkom, is uitsluitlik negatief. Die wêreld (Gr kosmos) is “skuldig aan sonde” (16:8), “glo nie in Jesus nie” (16:9), en is onder die beheer van die “owerste” (NAV “die Satan”); (c) Daar is ’n sterk onderstroom in die teks wat wêreldontvlugting in die hand kan werk. Jesus kom van en gaan weg na die Vader. Sy vertrek is op hande (’n her­halende motief in 16:5,7,10). Die Parakleet is ook van die Vader afkomstig. Jesus gaan weg om vir die dissipels ’n woonplek voor te berei by die Vader (14:3). Die Parakleet se koms kan só verstaan word as ’n poging om die dissipels by te staan in hulle stryd teen die bose wêreld (kosmos) totdat hulle ook, saam met Jesus en die Parakleet, in die Vader se teen­woordig­heid kan wees, verlos van die bose wêreld.

b.  Daar is inderdaad ’n baie sterk klem op die onderlinge verhoudings tussen die vyf hoof­karakters in hierdie teksgedeelte, naamlik die Vader, Jesus, die Parakleet (die gees van waarheid), die dissipels en die wêreld. Wat die teks (met kommentaar waar nodig) oor elkeen van hierdie verhoudings sê:

1.  Die Vader en Jesus:  Jesus gaan na die Vader (16:5,10); Wat aan die Vader behoort, behoort ook aan Jesus (16:15).

2.  Die Vader en die Parakleet: Die Parakleet is afkomstig van die Vader (15:26). Die belydenis van Nicea sê daarom dat die Gees van die Vader “uitgaan”.

3.  Jesus en die Parakleet: Jesus stuur die Parakleet vanaf die Vader (15:26). Oor die herkoms van die “Parakleet”–motief: vergelyk die voorloper-voleinder-skema in die Ou Testament (Elia-Elisa, Moses-Josua) waarvolgens die gees van die voorloper oorgedra word aan die opvolger. Daar is ook voorbeelde van voorspraak waarin Abraham, Moses en Samuel bemiddelingswerk doen. Dit is nietemin duidelik dat die Parakleet hier in ’n juridiese konteks verstaan moet word (sien Burger); Jesus gaan weg sodat die Parakleet kan kom (16:7). Brown: “The Paraclete is the Spirit understood as the presence of the absent Jesus, and by definition the Paraclete and Jesus cannot be on earth together”; Die Parakleet lewer getuienis ter wille van Jesus (15:26); Die gees van waarheid sal Jesus verheerlik (16:14); Die gees van waarheid sal ’n boodskap van Jesus vir die dissipels kry (16:14, 15).

4.  Jesus en die wêreld: Die wêreld glo nie in Jesus nie (16:9).

5.  Jesus en die dissipels: Jesus stuur die Parakleet na die dissipels toe (15:26, 16:7); Jesus lig die dissipels vroegtydig in dat die wêreld se tyd sal kom (16:4); Jesus het nog baie om vir die dissipels te leer, maar hulle sal dit nie nou al verstaan nie (16:12); Die dissipels was by Jesus van die begin af en moet daarom getuienis rakende Jesus lewer (15:27); Die dissipels moet nie struikel nie (Gr skandalisthete), nie “skande maak” nie, nie afvallig word nie (16:2); Die dissipels dink nie daaraan om vir Jesus te vra waar hy heengaan nie (16:5; vgl wel 13:36 en 14:5, waar beide Petrus en Thomas die vraag wel stel); Die dissipels is hartseer omdat Jesus praat van weggaan (16:6); Dit is in die dissipels se eie belang dat Jesus weggaan (16:6); Die dissipels sal Jesus nie meer sien nie (16:10).

6.  Die dissipels en die wêreld (deurgaans: kosmos): Die wêreld gaan die dissipels uit die sinagoges dryf (16:2); Die wêreld gaan die dissipels doodmaak juis om God op hierdie wyse te dien (16:2); Johannes 15:18-19 voeg hierby dat die dissipels uit die wêreld geroep is. Hulle vorm nie deel van die wêreld nie. Die wêreld haat die dissipels juis omdat die dissipels nie tot die wêreld behoort nie.

7.  Die wêreld en die Vader/Jesus:  Die wêreld ken nie die Vader nie, ook nie vir Jesus nie (16:3);  Die wêreld se tyd sal kom (16:4).

8.  Die Parakleet en die dissipels: Die Parakleet, die gees van waarheid, kom na die dissipels toe (15:26). Brown: “The world will persecute the disciples because of Jesus’ name (15:21), and to counter this the Paraclete will be sent in Jesus’ name ...”; Die gees van waarheid sal ’n wegwyser wees (Gr hodegein hier herinner aan hodos in 14:6: “Ek is die Weg”) om die dissipels in die waarheid in te lei (16:13); Die gees van waarheid sal die dinge wat gaan kom vir die dissipels aankondig.

9.  Die Parakleet en die wêreld: Die Parakleet sal in ’n finale hofsitting getuienisse lewer wat die wêreld sal oortuig (Gr elenchein = verkeerd bewys, ook aan die lig bring, blootlê of skuldig bevind) van die volgende: Eerstens oor sonde – die wêreld glo nie in Jesus nie (16:8,9, vgl 3:19) (Berkouwer praat hier van ’n “geweldige konsentrasie” op ongeloof as die eintlike sonde. Die oproep hier is nie tot morele verbetering nie, maar tot geloof); Tweedens oor reg en geregtigheid – Jesus is deur die wêreld skuldig bevind, maar is in werklikheid onskuldig en regverdig (16:8,10); Derdens oor die oordeel (Gr kriseos) in die sin dat die heerser/prins van die wêreld reeds veroordeel is (16:8,11 – ook 12:31, 14:30) – deur Jesus verkeerdelik te beoordeel is die wêreld self veroordeel).

Die eksegese hier is ingewikkeld – selfs Augustinus en Thomas Aquinas het hulle gebrekkige insig erken. Die Parakleet se werksaamheid moet binne ’n juridiese konteks verstaan word en teen die agtergrond van die Joods-verwagte apokaliptiese regstryd tussen God en die vyandige wêreld. Hierdie regstryd vind nie eers plaas aan die einde van die wêreldgeskiedenis nie; dit word vanweë Christus se koms in die tyd nou alreeds in die geskiedenis besleg (Burger). Die Parakleet kom van die Vader en was daar die getuie dat Jesus by die Vader regverdig verklaar is en dat die owerste van die wêreld (Satan) veroordeel is. Die Parakleet getuig hiervan teenoor die dissipels om hulle by te staan te midde van hulle droefheid as gevolg van die afwesigheid van Jesus en die vervolging van die wêreld. Brown: “... the trial is only indirectly a trial of the world. It is properly a rerun of the trial of Jesus in which the Paraclete makes the truth emerge for the disciples to see.”

c.  Dit is nie verbasend dat talle geleerdes in hierdie gedeeltes gnostiese beïnvloeding bespeur het nie. Hiervolgens is die mens vasgevang in die materiële en sterflike wêreld. Hier en nou is die mens se gees aan veranderlikheid, drifte, versoekings en lyding blootgestel. Die enigste wyse waarop ’n mens uit die verganklike wêreld verlos kan word, is deur be­troubare kennis en insig te verkry in dit wat konstant bly te midde van verandering. Deur die menslike rede kan die mens uitstyg bo die materiële wêreld en toegang verkry tot die diepste geheimenisse van die werklikheid. Daarin kan die “gees van waarheid” die dissipels bystaan deur hulle in te lei in die volle waarheid (16:13). Hierdie insig is egter net vir ’n klein groepie uitverkorenes en ingewydes beskore. Die sleutel tot bevryding deur kennis is om by Jesus te bly en om op hierdie wyse toegang te verkry tot die Parakleet waardeur die dissipels die vermoë sal ontvang om, soos Jesus, dit wat waar is en dit wat skyn is, van mekaar te kan onder­skei.

d.  Só ’n gnostiese interpretasie van die teksgedeelte is beswaarlik bevorder­lik vir die kerk se verantwoorde­likheid vir omgewingsorg. Hoe kan hierdie hermeneutiese probleem opgelos word? Een oplossing is om te argumen­teer dat omgewingsorg gerelativeer kan word. Dit is wel belangrik te midde van ons aardse bestaan, maar uiteindelik is hierdie wêreld (Gr kosmos) aan verganklikheid onder­worpe. Dit is eerder belangrik om te fokus op dit wat van ewigheids­waarde is. Omgewing­sorg is net een aspek van die sosiale agenda van die kerk – naas talle ander, meer dringende sake. ’n Ander oplossing is om te erken dat daar wel tekens van gnostiese beïnvloeding in hierdie teksgedeelte aanwesig is, en om hierdie teksgedeelte dan te relativeer met ’n beroep op ander teksgedeeltes wat wel die waarde van God se skepping beklemtoon. Immers, volgens Johannes 3:16 het God die wêreld (Gr kosmos) so liefgehad het dat Hy sy enigste seun na die wêreld gestuur het. Albei hierdie “oplossings” is egter problematies. Die eerste oplossing gee self blyke van gnostiese beïnvloeding deur dit wat aards is in negatiewe terme te beskryf en verlossing as verlossing vanuit hierdie “aardse trane­dal” te verstaan. Die tweede oplossing gee dalk die argument rondom gnostiese beïn­vloeding te vinnig gelyk.

Dit is nie moontlik om die akademiese debatte rondom gnostiese beïnvloeding in die Johannesevangelie hier volledig te bespreek nie. Vir die doeleindes hier kan ons drie voorlopige aannames maak: (i) Dat temas en begrippe wat in gnostiese literatuur volop is ook in die Johannesevangelie gebruik word; (ii) Dat hierdie temas en begrippe verstaan moet word in die spesifieke konteks waarbinne dit in die Johannesevangelie ingebed word; (iii) Die problematiek wat in Johannes aan die orde gestel word is nie soseer onkunde nie, maar ongeloof te midde van die bedreiging van bose magte. Hierdie fokus op verlossing van die bose gee aan die teks ’n realisme en dringendheid wat in gnostiese interpretasies ontbreek.

e.  Die sleutel om die betekenis van hierdie teks vir Omgewingsondag te ontsluit, kan waar­skynlik gevind word in die gedeelte wat juis weggelaat is tussen die twee teksgedeeltes wat vir die Leesrooster aangedui word; Johannes 16:1-4. Hierdie gedeelte skets die sosiale en gods­diens­tige konteks waarbinne die evangelie se geïmpliseerde lesers hulleself bevind. Dit gaan nie hier net oor die angs van die dissipels rondom Jesus se naderende dood nie. Dit gaan ook oor die tyd waarin die evangelie dekades later geskryf is. Dit was ’n konteks van godsdienstige spanning tussen Judaïsme en die vroeg-Christelike gemeentes. Die Christene is uit die sinagoges geban waar­binne hulle aan­vanklik steeds gefunksioneer het (16:1). Hulle is deur Joodse leiers vervolg en doodgemaak, ironies genoeg juis vanuit godsdienstige ywer (16:2). Die dood van Stefanus (Hand 7:58-60) en van Jakobus (Hand 12:2-3) is voorbeelde hiervan (Brown gee verdere voorbeelde). Dit gaan dus nie hier oor ’n stryd tussen gelowiges en ongelowiges nie, maar ’n stryd oor wat diens aan God werklik beteken en wie hierdie God is. Dit gaan oor godsdienstige leierskap en navolging. Die vraag vir die dissipels was: Is dit steeds die moeite werd om die Weg wat Jesus aangedui het, na te volg? Dit is alles reeds op die spits gedryf. Die uur wanneer dit sal gebeur, is aan die kom (16:2).

Dit is verstaanbaar dat sulke godsdienstige vervolging tot afvalligheid sou aanleiding gee (16:1). Die dissipels word daaraan herinner dat hulle van die begin af by Jesus was en daarom ten beste van Jesus kan getuig (15:27). Meer nog, godsdienstige vervolging sou ook aanleiding gegee het tot godsdienstige vertwyfeling. As Christene en Jode beide daarop aanspraak maak dat hulle God dien, wie is nou eintlik reg en wie is verkeerd? Wat is die waarheid? Dit is duidelik dat sodanige vertwyfeling tot die behoefte aan ’n “gees van waarheid” sou lei sodat die dissipels in die volle waarheid ingelei kan word (16:13). Nog meer: Daar is dié wat reeds ’n keuse gemaak het vir Jesus en vir die koninkryk van God soos wat Jesus dit verkondig het. Dit is hulle wat die ergste onder die vervolging deurgeloop het. Hulle sou wonder of  hulle kant van die saak in ’n regs­verhoor gehoor sal word, wie hulle saak sal behartig, of hulle onskuldig bevind sal word, of die waarheid ooit sal seëvier en of reg en geregtigheid uiteindelik sal geskied.

Jesus se volgelinge word hier herinner aan die aanloop tot Jesus se eie verhoor. Binne hierdie juridiese konteks is die koms van die Parakleet onmiskenbaar goeie nuus. Die Parakleet is die een wat tegelyk bystand (die Trooster) en regshulp (die Advokaat) verleen. Die Parakleet sal die wêreld oortuig van die ongeloof in die pad na God wat Jesus aangedui het, van reg en geregtigheid en dat die heersers van die wêreld eintlik reeds veroordeel is (16:8, 9-11).

f.  Kan ’n mens parallelle raaksien tussen hierdie omstandighede en die konteks waarbinne omgewingsorg vandag nodig geword het? Daar is sekerlik hier net soveel verskille as ooreenkomste. Miskien kan dit help om te vra wie die “owerste van die wêreld” in ons eie konteks is.

In eietydse ekumeniese literatuur kry hierdie vraag besonder baie aandag. Daar word dikwels gewys op die wyse waarop die heersende ekonomiese bestel lei tot beide ekonomiese ongelykhede en ekologiese verwoesting. Die rol van neo-liberale kapi­talisme, handelsooreenkomste, die probleem van internasionale skuld, die beleids­maat­reëls van die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds en die ekonomiese belange van multinasionale korporasies word in hierdie verband in veel detail geanaliseer en gekritiseer.

In ’n belangwekkende verklaring het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) in Ghana in Augustus 2004 byvoorbeeld die volgende kommentaar gelewer: “This crisis is directly related to the development of neo-liberal economic globalisation, which is based on the following beliefs: unrestrained competition, consumerism, and the unlimited economic growth and accumulation of wealth is the best for the whole world; the ownership of private property has no social obligation; capital speculation, liberalization and deregulation of the market, privatisation of public utilities and national resources, unrestricted access for foreign investments and imports, lower taxes, and the unrestricted movement of capital will achieve wealth for all; social obligations, protection of the poor and the weak, trade unions, and relationships between people, are subordinate to the processes of economic growth and capital accumulation. This is an ideology that claims to be without alternative, demanding an endless flow of sacrifices from the poor and creation. It makes the false promise that it can save the world through the creation of wealth and prosperity, claiming sovereignty over life and demanding total allegiance, which amounts to idolatry.”

 g.  Die skuld kan nie bloot op ekonomiese maghebbers gepak word nie. Dit is op­vallend dat hierdie dokument ook verwys na die rol van ’n verbruikerskultuur wat die grond­slag van die heersende ekonomiese bestel vorm. Volgens Brian Swimme is die hoë­pries­ters van ons kultuur die kopieskrywers en adver­teer­ders wat ons, met die hulp van rol­modelle soos sportsterre en vermaaklikheidskunstenaars, aanmoedig om meer en meer te begeer. Hy sê:  “The fact that consumerism has become the dominant world-faith is largely invisible to us, so it is helpful to understand clearly that to hand our children over to the consumer culture is to place them in the care of the planet's most sophisticated religious preachers.”

Materialisme en ’n verbruikersmentaliteit is iets waaraan Christene self aandadig is. Dit kan nie goedgepraat word nie. Steven Bouma-Prediger sê tereg: “Given the God we serve, can we justify a way of life predicated on the inordinate desire for that which moth and rust consume?” Die dokument van die WBGK voeg hierby: “Therefore we reject the culture of rampant consumerism and the competitive greed and selfishness of the neo-liberal global market system, or any other system, which claims there is no alternative.” En verder: “We humbly confess this hope, knowing that we, too, stand under the judgement of God’s justice. We acknowledge the complicity and guilt of those who consciously or unconsciously benefit from the current neo-liberal economic global system; we recognize that this includes both churches and members of our own Reformed family and therefore we call for confession of sin. We acknowledge that we have become captivated by the culture of consumerism, and the competitive greed and selfishness of the current economic system. This has all too often permeated our very spirituality.”

h.  Die taalgebruik van hierdie dokument herinner aan die skerp kontraste van Johannes 16. Die owerstes van hierdie wêreld beheers alles, maar hulle staan reeds veroordeel. Die wêreld is skuldig aan sonde. Die probleem is dat die wêreld nie die sosiale bestel – wat Jesus aangekondig en ingelui het en waarin sorg vir noodlydendes sterk figureer (Belhar) – wil navolg nie. Christelike kerke word hierteenoor opgeroep om die visie van Jesus na te volg, om hulle verbond met God hierin te vernuwe. In ons tyd verg dit onderskeidingsvermoë om te weet wat waar is en wat ideologie is. Die Heilige Gees, die gees van waarheid, kan gelowiges hierin bystaan en in die volle waarheid inlei.

In vergelyking met die dokument van die WBGK val die klem in Johannes 15-16 weliswaar meer direk op geloof in Jesus as persoon. Die klem op die sosio-ekonomiese bestel is ook nie maklik te rym met Jesus se weggaan na die Vader se huis en die Gees se herkoms van die Vader nie. Die verskil lê miskien daarin dat die vroeë Christene se situasie nog meer akuut was. Hulle godsdienstige keuses het reeds ’n saak van lewe of dood geword. Vir hulle was die vraag: Moet ons vir Jesus navolg of vir diegene wat gedink het hulle godsdiens vra van hulle om die navolgelinge van Jesus uit die sinagoges te ban en selfs dood te maak. Hulle het reeds die vurk in die pad bereik waar hulle moes kies vir of teen Jesus.

In die dokument van die WBGK is daar nietemin ook sprake daarvan dat die integriteit van ons geloof op die spel is en dat ons daarom opgeroep word om ’n duidelike keuse te maak en ons geloof opnuut te bely: “Speaking from our Reformed tradition and having read the signs of the times, the General Council of the World Alliance of Reformed Churches affirms that global economic justice is essential to the integrity of our faith in God and our discipleship as Christians. We believe that the integrity of our faith is at stake if we remain silent or refuse to act in the face of the current system of neo-liberal economic globalisation and therefore we confess before God and one another.” Die slotparagraaf van die dokument vra eweneens vir ’n keuse wat gemaak moet word: “Now we proclaim with passion that we will commit ourselves, our time and our energy to changing, renewing, and restoring the economy and the earth, choosing life, so that we and our descendants might live (Deuteronomy 30:19).”

Preekvoorstel

Die voorstel hieronder is gebaseer op die aanname dat die hele erediens ingerig sal word met die oog op beide Pinkstersondag en Omgewingsondag. As hermeneutiese sleutel om die teks­gedeelte te vertolk vir ons eietydse konteks word die vraag “Wie is in beheer?” drie keer aan die orde gestel.

1. Wie is die invloedrykste mense of magte in die plaaslike gemeenskap, Suid-Afrika en in die wêreld vandag? Watter invloed oefen hulle uit? Lidmate moet ’n geleentheid kry om die vraag voorlopig self te beantwoord. Na gelang van plaaslike omstandighede kan ’n mens hier wys op ekonomiese maghebbers en die kulturele rolmodelle wat deur die media voorgehou word.

2. Wie is die maghebbers van die wêreld volgens Johannes 16:11? Die teksgedeelte in Johannes 16 moet verstaan word teen die agtergrond van godsdienstige konflik teen die einde van die eerste eeu (sien die bespreking hierbo). Die vraag wat Jesus se volgelinge self moes beantwoord, was: Is dit steeds die moeite werd om die Weg wat Jesus aan­gedui het, na te volg?

3. Binne hierdie konteks troos Jesus die dissipels met die boodskap dat die Parakleet sal kom om hulle by te staan. In ’n hofsaak om uitsluitsel te kry oor Jesus, lewer die Parakleet verdoemende getuienis teen die wêreld. Die Parakleet oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel (sien die bespreking hierbo). Dit weerlê die getuie­nis wat teen Jesus ingebring is tydens sy eie hofsaak (Joh 18-19) en die latere vervolging van Jesus se navolgelinge.

4. Wie is die maghebbers van die wêreld vandag? In eietydse ekumeniese gesprekke word heelwat aandag aan hierdie vraag gegee. Die WBGK het ’n belangrike dokument hieroor gepubliseer. Hierin word gereformeerde kerke regoor die wêreld opgeroep om die oorsake van ekonomiese ongelyk­heid en ekologiese verwoes­ting te herken. Die dokument sou goedskiks op ’n transparant of in ’n gedrukte vorm beskikbaar gestel kon word en met die gemeente bespreek word in soveel detail as wat die tyd toelaat.

5. Die vraag wat die teksgedeelte in Johannes 16 aan ons vandag stel, is die volgende: Watter weg wil ons bewandel? Die Weg wat Jesus aangedui het? Of die weg van ’n handhawing van ons eie ekonomiese belange en leefstyl? Het ons dalk al heimlik die Weg van Jesus prysgegee? Glo ons dalk dat ons maar vir onsself sal moet sorg; dat ons finansiële sekuriteit van die stabiliteit van die ekonomiese bestel afhanklik is? Die WBGK roep ons ook op om te kies vir God teenoor Mammon: “We believe that any economy of the household of life, given to us by God’s covenant to sustain life, is accountable to God. We believe the economy exists to serve the dignity and well being of people in commun­ity, within the bounds of the sustainability of creation. We believe that human beings are called to choose God over Mammon and that confessing our faith is an act of obedience. Therefore we reject the unregulated accumulation of wealth and limitless growth that has already cost the lives of millions and destroyed much of God’s creation.”

6. Hierdie keuse is nie maklik nie. Dit gaan teen die grein van die wêreld (die huidige ekonomiese bestel) en ons eie ekonomiese belange in. Dit laat ons, net soos die dissipels met die gevaar van afvalligheid, vertwyfeling en vrees. Die Pinksterboodskap is dat ons nie alleen gelaat is in ons stryd nie. Ons hoef nie op onsself staat te maak nie. Ons het die Parakleet wat aan ons bystand verleen teenoor die magte wat ons, die armes en die aarde self bedreig.

Ons hoef egter nie na die wêreld te kyk asof die dood en opstanding van Jesus Christus weinig daaraan verander het nie, so asof die wêreld steeds beheer word deur die bose (Berkouwer). Die triomfante­like boodskap van Johannes 16 is dat die vors van die wêreld reeds ontmasker en onttroon is. Die finale regsuitspraak kom nie in die toekoms nie; die oordeel is reeds voltrek. Die magte van die dood is oorwin. Dit is daarom vreemd dat gelowiges soms veel meer onder die indruk is van die mag van die bose as van die bystand van die Gees. Die Heilige Gees is immers volgens die belydenis van Nicea die Skepper, die “Gewer van lewe”. Daarom kan ons saam met die vroeë kerk bid: “Kom Skepper Gees!” Ons kan ook met vrymoedigheid saam met die Wêreldraad van Kerke bid: “Kom Heilige Gees, vernuwe u hele skepping!”

Bibliografie

Berkouwer, G C 1960.  Het licht der wereld; Brown, R E 1966.  The gospel according to John;  Burger, C W 1983.  Johannes 16:4b-11 in WTDL 3; Swimme, B 1996.  The hidden heart of the cosmos, World Alliance of Reformed Churches: “Covenanting for justice in the Economy and the Earth” (verkrygbaar van www.neccsa.org.za onder “Documents”).

Related Media
See more
Related Sermons
See more