Johannes 17=1-11 LR2005
Johannes 17:1-11 LR2005
8 mei 2005
sewende sondag in paastyd/
pinksterweek
Exaudi
liturgiese voorstel
Fokusteks: Johannes 17:1-11
Ander tekste: Handelinge 1:6-14; Psalm 68:1-10, 32-35; 1 Petrus 4:12-14
Inleiding
Die liturgie van hierdie Sondag moet ’n brug tussen Jesus se hemelvaart en die uitstorting van Heilige Gees slaan. Dis baiekeer ’n ongemaklike Sondag met die verwagting van die Pinksterbidure wat die Donderdagaand of dan hierdie Sondagaand begin. Die RCL-tekste vir hierdie Sondag kan dit nogal doen. Die Johannesteks en Handelingeteks is Jesus se afskeidswoorde en die belofte van die Gees, met die vraag van dissipels wat baie klink na Jesus se woorde in Handelinge 1:1-3.
André Olivier skryf oor die tekste by die Sondag se preekstudie: “Ons lees Johannes 14:15-21 op die sesde Sondag van Paastyd ... Binne die konteks van die kerkjaar kom ons teks saam met ander RCL-tekste (Hand 17:22-31; Ps 66:8-20; 1 Pet 3:13-22) vir dié Sondag ter sprake. Die RCL-tekste fokus op die misterieuse, meervoudige ervarings van God se teenwoordigheid en afwesigheid. `n Tweede fokus van die tekste op die opstandingslewe, beklemtoon die interaksie tussen die geloofsgemeenskap (die kerk) en die wêreld. Ons teks beklemtoon `n situasie waarin Jesus afwesig en tog by die gelowiges teenwoordig is (deur die Parakleet), “to shape obedient lives of loving and fruitful actions that manifest God’s presence and purposes” (Carter). Jesus se afwesigheid en teenwoordigheid beteken nie dat Hy sy taak versaak het nie, maar beklemtoon God se toerusting aan gelowiges vir die uitleef van hul roeping onder diegene wat dikwels nie hul fundamentele toewyding deel nie.” Lees gerus al die tekste vir hierdie Sondag ’n paar keer rustig deur en jy sal gou agter hierdie verband kom wat RCL wil trek.
Die liturgie kan aan die begin fokus op die opstandingslewe en by die uitsending aan die einde van die diens kom by die “interaksie tussen die geloofsgemeenskap (die kerk) en die wêreld ... (en) God se toerusting aan gelowiges vir die uitleef van hul roeping onder diegene wat dikwels nie hul fundamentele toewyding deel nie.”
god versamel ons voor hom
Die Paaskers word aangesteek en gemeente sing Lied 247/NSG 233
Votum
As God teenwoordig is gebeur dinge.
Sy vyande spat uitmekaar. Psalm 68:1a
“As God verskyn ...
sal daar blydskap wees
vir die regverdiges,
hulle sal juig voor God,
hulle sal vrolik en bly wees.” na Psalm 68:4
Seëngroet
Liturg: Genade vir julle en vrede van
die enigste ware God,
en Jesus Christus,
wat deur Hom gestuur is,
en wat God verheerlik
deur te doen wat Hy van Hom vra. na Johannes 17:3 en 4
Gemeente: U het Jesus na ons gestuur. Johannes 17:8b
Eer aan God ... Here is sy Naam. Psalm 68:5 – vertaling Bonaventure Hinwood
Verootmoediging en skuldbelydenis
Vryspraak
Lofsang
Lied 421 “Die Here Jesus lewe, Hy het die dood oorwin”
diens van die woord
Gebed om opening van die Woord
Skriflesing
Johannes 17:1-11
Handelinge 1:6-11
Prediking
Antwoord
Gemeente sing Lied 411:2 “Loof Hom wat die oorwinnaar ...”/NSG112
diens van die tafel
Gebruik vandag die groot nagmaalgebed (1ste voorbeeld agter in bundel) en lê aan die begin klem op die feit dat God in Jesus Christus sigbaar in die nagmaal teenwoordig is.
Nagmaalepiklese
Instellingswoorde
Uitdeling en kommunie
Voorbidding
Dankoffers
uitsending
Slotsang
Lied 433: 1-3
Seën
Liturg: Let daarop die liturg se handpalms na onder wys
want die seën wat julle nou ontvang
is nie ’n presentjie van God nie,
maar ’n opdrag om ’n seën in die wêreld te gaan wees.
In 1 Petrus 4:12 en 13 staan daar:
“Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.”
Gemeente: Here, stuur my nou.
Liturg: “Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus.
... die Gees van heerlikheid,
die Gees van God,
(sal) op julle bly.” Amen
Gemeente: Lied 312/313/314 of 315 “Amen”
PREEKSTUDIE – JOHANNES 17:1 - 11
Teks
Vers 1–5: Gebed om verheerliking van die Seun. Hierdie gedeelte word oorheers deur die tema “verheerliking”.
Vers 1–2: Die Seun moet verheerlik word in die lig daarvan dat Hy die Vader verheerlik, deur die lewe aan sy dissipels te gee. Dit is die voltooide werk wat die Vader Hom gegee het om te doen en nou beloon moet word. Die gedagte van verheerliking volg op Jesus se laaste woorde aan sy dissipels in 16:33: “Ek het die wêreld klaar oorwin.” Dit dra die karakter van oorwinning. Terwyl Jesus sy dissipels geleer het om die Vader aan te spreek met “Ons Vader” (Matt 6:9) spreek Jesus Hom net aan as “Vader” met die Aramese agtergrond “Abba” (vgl Mark 14:36). Dit is in huisgesinne deur kinders gebruik om hulle vader aan te spreek. Dit getuig van die intieme verhouding tussen Vader en Seun. Jesus betrek die dissipels indirek by dié verhouding deur hardop te bid.
Die uitdrukking: “Die tyd het gekom” (NAV) (“die uur”, 1933-vertaling) dra `n meer dramatiese en beslissende boodskap. Dit is meer letterlik uit die oorspronklike, en herenig die Vader en die Seun in die openbaring van dieselfde heerlikheid wat sigbaar word vir alle gelowiges. Die magsdaad wat die eenheid van die Seun en die Vader manifesteer, is die gawe van die lewe vir gelowiges (“aan almal wat U My gegee het”).
Jesus het met “die uur” rekening gehou (13:1). Dit het nou gekom en daarmee het die afsluiting van sy werk aangebreek. Die verheerliking van Jesus in “die uur” beteken “verhoging” (3:14), letterlik opheffing aan die kruis. Wat vir mense die veragtelike daad sou wees, is by Jesus die weg tot heerlikheid.
Vers 3 bevat volgens sekere menings trekke van Joodse Gnostisisme. Die reddende genade van God bestaan daarin “om te ken (weet)”. Dit slaan egter nie net op `n kognitiewe/intellektuele weet nie. Dit gaan eerder oor `n lewe van gehoorsaamheid aan God se gebooie en liefdevolle gemeenskap met die medegelowiges.
Dit is in lyn met die Hebreeuse “ervaring en intimiteit” van en met God. Tog behels dit ook die imperatief om bewustelik te aanvaar Jesus is die Seun van die ware God. God is dus kenbaar in en deur sy Seun.
Volgens Johannes is die ewige lewe reeds op aarde gegee, anders as by die gnostici waar die lewe bekom word deur die wêreld en die vlees te verlaat. In die lig van Gnostiese elemente is die toeligting van die konsep “ewige lewe” vanuit die Ou-Testamentiese agtergrond, noodsaaklik. Jeremia belowe, as vrug van die verbondsvernuwing, `n intieme kennis van God: “Ek sal hulle insig gee om my te ken” (OV: “En Ek sal hulle `n hart gee om my te ken”, Jer 24:7), en in Jeremia 31:33-34: “… Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê.”
Die verwagting van lewegewende kennis van God is verwoord in die Joods-Hellenistiese woordeskat. Brown verwys na Wysheid 15:3 waar staan: “om U te ken is die perfekte geregtigheid en om u mag te ken is die wortel van onsterflikheid” (my vertalings). Mag is die mag om die dood te vernietig en vind in die Johannese denke `n neerslag.
Die Qumran-gemeenskap se outeur van die “Community rule” sê dat hy geregtig is daarop omdat hy begiftig is met kennis van God “for my light has sprung from the source of his knowledge; my eyes have behold His marvelous deeds, and the light of my heart is in the mystery to come” (IQS xi 3-4).
Die eskatologiese blydskap wat vir die gelowiges in die vooruitsig gestel word, bestaan daarin om te weet
(1 Kor 13:12). Irenaeus (einde tweede eeu) gee aan die idee formele teologiese uitdrukking: “He who is incomprehensible, intangible, and invisible has made himself seen and grasped and understood by men so that those who understand and see Him may live. The only life is participation in God, and we do this by knowing God, and enjoying his goodness.”
Vers 4–5 bevestig dat Jesus verheerlik moet word omdat Hy die werk wat die Vader aan hom opgedra het volbring het. Jesus gebruik die woord “voltooi” (Gr teleiosas, 4:34; 5:36). Daarmee berei hy die weg voor vir dieselfde woord aan die kruis (Gr tetelestai – “dit is volbring”, 19:30). “Heerlikheid” in hierdie konteks kom in die sigbare manifestasie van die majesteit na vore, deur die uitoefening van sy mag in verbondenheid aan die Vader.
Die gawe van die ewige lewe is afhanklik van die werk wat Jesus op aarde gedoen het. Al die werke wat Hy tydens sy aardse bediening tot op daardie stadium gedoen het, was tekens van die groot magsdaad wat Hy aan die einde sou verrig, naamlik om die ewige lewe te verdien. Bultmann sê treffend: “His work does not come to an end with his earthly life but in a real sense only begins with the end of that life.”
In die hele verhaal is Jesus nooit selfgerig nie, maar eerder gerig op die verheerliking van die Vader en die lewensbelang van sy dissipels. Jesus se versoek om verheerliking val tog vreemd op gesien die feit dat sy heerlikheid altyd aanwesig was. Dit word bevestig in die proloog van die Johannes-evangelie: “Ons het sy heerlikheid gesien.” Dit word telkens deur die evangelie bevestig.
Die volle erkenning van Jesus as die Seun van God (en van sy heerlikheid) het voortgespruit uit sy dood (Mark 15:39), opstanding en Hemelvaart (Hand 2:39, 31). Volgens Käsemann kom die kenotiese gedagtes oor Jesus in Filippense 2:7 nie in die Johannes-evangelie voor nie. Toe die Woord vlees geword het, het Hy hom nie ontledig nie, want met sy inkarnasie het Hy mag oor alle vlees ontvang (17:2). Deur Jesus se hele aardse bediening erken Johannes die mag wat in Matteus 28:19 en Openbaring 12:10 net aan die verrese Jesus toegesê is, na sy oorwinning oor die Satan.
Vers 5 verbind die heerlikheid wat Jesus verwag het met die heerlikheid wat Hy by die Vader geniet het, voordat die wêreld ontstaan het. Dit spruit voort uit die liefde wat die Vader gehad het vir die Seun voor die Skepping van die wêreld. Die uiteindelike verheerliking van Jesus gryp op sodanige wyse terug op sy voor-skeppings glorie, dat die nuwe skepping wat Jesus kom vestig, `n imitasie van die inleidende gedeelte van Genesis is. Daardie heerlikheid is nie iets wat van iewers aan Hom geheg moet word nie. Dit is eie aan sy wese. Hy het dit altyd gehad.
Vers 6–8: Die gebed vir die bewaring (en heiliging) van die kerk. Hierdie twee verse verbind die twee temas in vers 2 en 4 naamlik: ”almal wat Hy aan Hom verbind het” (2), en: “… deur die werk te volbring wat U My gegee het” (4). Dit loop uit op die werk van Jesus waarmee God verheerlik is. Dit was sy openbaring van God aan diegene wat God aan Hom gegee het.
Christus se werk van openbaring is die bekendmaking van God se Naam.
Hierdie hoofstuk in die Johannes-evangelie wys hoe Jesus uitsluitlik die rol vervul om God se Naam aan mense te openbaar. In die Ou Testament stel God Homself bekend as “Ek is”. Hierdie naam neem Jesus op Homself as Hy telkens sê: “Ek is.” In die Naam van God vind mense gemeenskap met die aard van God. In die naam van Jesus vind mense dus ook gemeenskap met God self.
Vers 7–8 stel die implikasies van die dissipels se kennis van die goddelike Naam wat Jesus dra. Die woord “nou” word hier in `n tydsaanduidende en nie logiese sin nie, gebruik. Die dissipels het op daardie stadium tot die besef gekom van die oorsprong en werk en prediking van Jesus. Aan die einde van sy bediening besef hulle dat Hy nog altyd besig was om die Vader aan hulle bekend te maak. Nou weet hulle dit. Hierdie weet (ginoskein) is meer as verstandelike insig of oortuiging. Dit is tegelykertyd geloof (Gr pisteuein). Dat dit moontlik geword het, is `n hoogtepunt wat dien tot verheerliking van die Vader.
Hulle weet dat Jesus se gawe aan hulle ook God se gawe van die lewe aan hulle is. Deur dit aan te neem, dra hulle kennis van God se sending aan die wêreld. Dit gaan hier oor `n oortuiging op grond van die prediking van Jesus. Die wonderwerke lê nou agter hulle. Die woorde van Jesus is nou van deurslaggewende belang.
Vers 9–11: Jesus sluit nou die mense wat God Hom gegee het, in sy gebed in. Die gebed in belang van sy dissipels is `n verlenging van die gebed om sy verheerliking (1). Deur hulle getrouheid en sending sal die naam van God, wat aan Jesus gegee is, op aarde verheerlik word. Die konfrontasie tussen Jesus se dissipels en die wêreld kom nou ter sprake. Hoe moet ons dit verstaan dat Jesus hulle in die wêreld instuur, maar Hy weier om vir die wêreld te bid? (9)
Die “wêreld” verteenwoordig daardie mense wat Jesus nie aanvaar nie en onder die mag van Satan is. Vir die wêreld bid Jesus nie, want dit moet verkeerd bewys en oorwin word. Barret sê: “… the only hope for the cosmos is precisely that it should cease to be the cosmos. The world must pass away” (1 Joh 2:17).
Wanneer die dissipels na die wêreld toe gestuur word, is dit met dieselfde doel as toe Jesus gestuur is. Nie om dit te verander nie, maar uit te daag. Hierdie volgelinge van Jesus sal gehaat word deur die wêreld, maar Jesus beoog nie om hulle dit te spaar nie. Omdat die diepte van Jesus se liefde duidelik moet word, kan Hy nie die wêreld verlaat sonder om die vyandskap van die Prins van die wêreld ten volle te ervaar nie. So sal elk van sy navolgers dieselfde vyandskap beleef.
Hy bid dat die Vader hulle sal bewaar in die goddelike Naam wat hulle ontvang het. Die beskermende mag van die Naam van God is `n tema wat van die Ou Testament kom. Vir die moderne wêreld is dit `n aanstoot dat Jesus nie bid vir die wêreld nie, maar eerder in konflik daarmee kom. Jesus bid dringend en ernstig vir die dissipels. Hy gebruik die uitdrukking “Heilige Vader”. Dit word net hier gebruik. In die Ou Testament word groot klem gelê op die heiligheid van God, maar in die Nuwe Testament is dit minder die geval. Dit behoort tot die wese van God dat Hy Heilig is. Die “Naam” dui ook hier op alles wat God aangaande sy wese aan hulle bekend maak. Nou bid Jesus dat God hulle so sal bewaar dat hulle aan die Heilige Naam getrou sal bly. Hulle moet een “wees” (wat hulle is) omdat dit so belangrik is vir die koninkryk.
Konteks
Die prediker moet in gedagte hou dat hierdie sewende Sondag van Pase, Exaudi (“luister”), is om aandag vra. Tradisioneel roep die gelowige om die aandag van God. In Johannes 17 bid Jesus om die aandag van sy Vader. Hy bid hardop sodat die inhoud nie die aandag van die luisterende dissipels kan ontglip nie. Hulle kon nie anders as om te luister nie, want die gebed raak hulle, asook die dissipels na hulle, en daarmee ook die toekoms van die kerk direk. In die geloofsgeslagte na hulle sou letterlik miljoene dissipels troos put uit Jesus se sorgryke gebed vir hulle. Dit moes besonder troosryk gewees het vir die onseker dissipels wat binnekort moes afskeid neem van hulle Heer. Tussen daardie gebed en sy uiteindelike vertrek, het daar `n baie stormagtige tyd voorgelê. Op hierdie “weeskind-Sondag” is Johannes 17 `n baie geskikte teksgedeelte om die gelowiges daarvan te verseker dat Hy ons beslis nie wees agtergelaat het nie, maar steeds op `n besondere manier vir ons intree by die Vader.
In Woord teen die Lig 1/4 behandel Burger Johannes 17:20-23 met die oog op die nagmaal en gee `n deeglike agtergrond van die hele Johannes 17. Ons herhaal dit nie hier nie, behalwe om daarop te wys dat die eenheid van die kerk die sentrale fokus van sy hele uitleg is. In Woord teen die Lig 111/5 behandel BA Müller ook dieselfde drie verse met ewe groot beklemtoning van die eenheid van die kerk. In daardie bundel gaan dit spesifiek oor die eenheid van die kerk. Dié werke behandel die tema van eenheid breedvoerig en word nie hier herhaal nie. Wat wel van Burger uitgelig kan word is dat hy daarop wys dat Johannes 17 beskou word as een van die geliefde gedeeltes in die Bybel, wat die kern van die evangelieboodskap saamtrek. Hy wys ook op die bedrieglike eenvoud en onpeilbare diepte daarvan. Die kronkelende gedagtegang maak `n eenvoudige strukturele indeling moeilik. Ons kies vir die indeling van vers 1-5 waar Jesus bid vir Homself, en dan vanaf vers 6, sy gebed vir die kerk.
Ons opdrag om te fokus op die eerste elf verse van Johannes 17 dissiplineer ons om die hooftema van die hele Johannes 17 raak te sien, naamlik: “die verheerliking van God.” Hierdie perspektief word versterk deur Groenewald wat as tema kies: “Die verheerliking van Christus en sy gemeente”. Dit staan ook vir hom in die teken van oorwinning. Brown beskryf die aanbreek van Johannes 17 as “We now come to one of the most majestic moments in the fourth gospel, the climax of the Last Discourse where Jesus turns to his Farther in prayer.” Hy tipeer die literêre genre hiervan as “`n afskeidsboodskap”. In hoofstuk 13–17 open Johannes die gordyn op Jesus se intieme afskeidsgesprekke. Dit begin by die voetwassing en word deur talle begrippe en uitsprake in die trant opgevolg. As intieme afskeidsgebed gee dit ons `n kykie in die hart van God. Dit was nie ongewoon vir `n spreker om sy afskeidsboodskap af te sluit met `n gebed vir sy kinders of die mense wat hy agterlaat nie. Die boek Deuteronomium bied hier `n voorbeeld. As Moses sy laaste diskoers aan sy mense bied is dit `n interessante vergelyking met Johannes. Dit is waarlik die gebed van “die uur”, omdat Jesus daarin tyd en omstandighede transendeer en Homself reeds as die verheerlikte te visualiseer.
Dit is ook die eerste keer deur die teoloog David Chytraus (1531–1600) “die hoëpriesterlike” gebed genoem. Ten spyte van besware (wat eerder te doen het met die tipering as laaste gesprek of testament van Jesus) meen Groenewald dat ons dit so ter harte kan neem. Die gebed getuig van besondere intimiteit (sien die herhaalde verwysing na die “Vader”). Die dissipels van toe en van vandag word betrek by `n hemelse gesinsgesprek. Hoe verskil hierdie gebed nie van die afskeidsgebede in die Getsemane-weergawes nie? Daar is dit `n smeking van Jesus in terme van die vreeslike beproewing wat op Hom wag. Hier voer die goddelike en tydlose aard van die Johannese gebed die botoon. Dit is eerder `n gebed om “union and communion” tussen Vader en Seun (en die kerk), as dat dit van petisie spreek. Die gebed word hardop gebid sodat die dissipels daarin kan deel. Daarom is die gebed net soveel openbarend as intredend. Alhoewel die “U“ verwys na God die Vader, is die gebed net so veel gerig op die dissipels.
Preekvoorstel
`n Uur kan so belangrik wees dat dit die ewigheid kan bepaal. Maar dan vanuit “die uur”(OV). In “die uur” word die hart van God in die gesprek tussen die Seun en sy Vader oopgelê. Die liefde vir die dissipels en die volgelinge in die geslagte na hulle word ook intiem en intens bely. Wat in “die uur” sou gebeur, sou in die ewigheid weerklink. Almal wat voor “die uur” geleef het, het instemmend of ontkennend daarheen geleef. Almal na daardie “uur” sou óf daaruit óf daarteen leef. Hierdie klimaks in die afskeidskronieke moes uitloop op `n buitengewoon beslissende daad. Die verheerliking van God was die allesbepalende saak van Jesus se “uur”. Alle ander temas, insluitende die eenheid van die kerk, is bepaal deur die ver-Heer-liking van God deur Jesus Christus.
God het geweet dat geen daad van geen gewone mens die hart van die wêreld `n slag sou laat mis nie. Net die Een wat by magte was om die wêreld van die wêreld te red, moes verheerlik word. In `n tyd toe geestesgoed waarde gehad het, was dit nie vir die gewone godsdiens van daardie dag en vir gewone kerkleiers moontlik nie. Net God self kon God verheerlik. Daarom roep Jesus tot die Vader dat die Vader Hom moes verheerlik. In die bestemde “uur” is die goddelike mag van lewe oor die dood geopenbaar, om daarmee lewe te gee aan hulle aan wie sy hart behoort; sy dissipels in die wydste sin van die woord.
Hoe sou die lewe vir hulle moontlik word? Deur die “kennis van God” (deur “te weet”). Die kennis van God is net bevatlik vir `n “hart om God te ken”, wat God self skenk. Hy gee die kapasiteit om Hom te ken. Die heerlikheid van God sal in die wêreld voortgedra word in die sending en toewyding van die dissipels. Die dissipels word nie daarop voorberei dat “die wêreld” hulle sal aanvaar nie. Inteendeel, hulle sal hulle bloedneus loop teen die wêreld. Daarvan moet hulle bewaar word. Indien die wêreld vir God verheerlik, word dit opgelos. Hoe sal die wêreld die dissipels eien as navolgers van die Verheerlikte? Deur hulle verheerliking van God en deur hulle uitlewing van die eenheid van die kerk as intieme gesin van God. Dit moet die kenmerk wees van die kerk van Jesus.
So word “die uur” die oomblikke waaruit heil vir die wêreld verewig word. Maar “die uur” kan ook die oomblikke word waardeur hel vir die ewigheid bepaal word. Indien die heil wat Christus sou bring verwerp word, sal die ure wat sal volg uit hel bestaan. In die tyd waarin hierdie preekvoorstel geskryf word, begin die film van Mel Gibson “The Passion of the Christ” draai. Die kritiek is uiteenlopend. Almal stem egter saam dat dit die wêreld weer konfronteer met die ingrypende geskiedenis van Jesus se “uur”. Mense kan nie anders as om daarop te reageer nie. Dit is tog bepalend vir al die ure waaruit elkeen se lewe sal bestaan.
Is dit nie tog ook goed om die oproep uit ons kindertyd ernstig op te neem nie: Is Jesus die Koning van jou hart? Dit is tog waarop die oproep om die voortgaande verheerliking uitloop. Sy sigbare Heer-skap word vandag doodgeleef deur `n wêreld wat nie oral veel aan Hom het nie. En tog, hoe mense op daardie “uur” reageer, bepaal steeds alles van hulle lewe in tyd en in ewigheid. Ons word steeds opgeroep om Hom te verheerlik.
Ons (die mens se) reaksie op die uur bepaal hoe ons die ure van ons lewe sal deurbring. Ons reaksie word weer bepaal deur die mate waarin God in ons verheerlik word. Calvyn het ons daaraan herinner dat die verdienste van Jesus se “uur” vir ons ontoeganklik sou bly as die Heilige Gees dit nie in ons gee nie. Ons leef dus in Pase met die verwagting van die Heilige Gees. As Hy ons tye vul, sal ons leef uit die heerlikheid van God.
Bibliografie
Brown, R E 1972. The Gospel according to John (xiii –xxi); Burger, C W 1982. WtL 1/4; Groenewald, E P 1980. Die Evangelie van Johannes; Morris, L 1975. The Gospel according to John; Muller, B A 1997. WtL 111/5.