Johannes 18-19 LR2006
Johannes 18-19 LR2006
14 APRIL 2006
GOEIE VRYDAG – feesdeins
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 18-19
Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Psalm 22; Hebreërs 4:10, 16-25
Inleiding
Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en fokus op die herdenking van Jesus se kruisiging. Die atmosfeer tydens hierdie diens moet baie sober en gewyd wees, met heelwat geleentheid vir stille nadenke. Daar moet so min as moontlik versierings in die erediensruimte wees, verkieslik net ’n kruis. Geen blomme of kanselkleed nie. Indien moontlik kan die kerkklok op die dag op ’n “begrafniswyse” gelui word. Die onderstaande liturgiese voorstel het ’n meditasie op die sewe kruiswoorde van Jesus as sentrale element – iets wat tradisioneel deel van Goeie Vrydagvieringe in baie Protestantse kerke is. Na die prediking volg daar ’n gebed gebaseer op Psalm 22 (die psalm waaruit Jesus oa aan die kruis aangehaal het).
Diensorde
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied
Lied 260:11 “Ewig, onbegryplik’ Wese”; NSG 348
Aanvangswoord
Psalm 31:2-6
Seëngroet
Sang
Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer”; NSG 107
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed
Skriflesing uit die Ou Testament
Jesaja 52:13-52:12
Skriflesing uit die Evangelies
Johannes 18-19 (die Passieverhaal moontlik met verskillende stemme vir die verteller en die onderskeie rolspelers in die verhaal)
Die Kruiswoorde van Jesus
Voorganger: Jesus het gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Stil nadenke
Voorganger: Jesus het gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Stil nadenke
Voorganger: Jesus het vir sy moeder gesê: “Daar is u Seun.” Daarna sê hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Stil nadenke
Voorganger: Jesus het hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?
Stil nadenke
Voorganger: Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”
Stil nadenke
Voorganger: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Stil nadenke
Voorganger: Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
Stil nadenke
Sang
Lied 387 “O Heer, uit bloed en wonde”
Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe
Hebreërs 10:16-25
Prediking
Gebed
Lees die volgende gedeeltes uit Psalm 22 agtereenvolgens, met telkens ’n geleentheid vir stil gebed.
Voorganger: Psalm 22:2-6
Stil gebed
Voorganger: Psalm 22:7-9
Stil gebed
Voorganger: Psalm: 22:10-16
Stil gebed
Voorganger: Psalm 22:17-22
Stil gebed
Voorganger: Psalm 22:23-32
Stil gebed
Voorbidding
Sang
Lied 396; NSG 104
UITSENDING
Geloofsbelydenis
Slotsang
Lied 400:1-5 “Juig, juig in Hom” (alternatiewelik kan die diens afgesluit word sonder om ’n lied te laat sing)
Seën
Dit is volbring.
Antwoord
Die gemeente sing “Amen” Lied 315.
PREEKSTUDIE – JOHANNES 18:1-19:42
Teks
Hierdie hoofstukke beskryf Jesus se arrestasie en sy verhoor voor die Jode (18:1-27) en Pilatus (18:28-19:16a), sy kruistog, kruisiging en begrafnis (19:16b-42). Dit is onmoontlik om in te gaan op die eksegetiese probleme van die onderskeie gedeeltes. Geleerdes benadruk dat die “teologiese” doelwitte van die evangelis ernstig geneem moet word. Vir die doeleindes van die preekstudie word gefokus op die groot “bewegings” van Christus se lyding in hierdie lydensvertelling, teen die agtergrond van die “teologie” van Johannes. Ter wille van ’n oorsig oor hierdie lang gedeelte word eers kortliks aandag gegee aan die onderskeie perikope. Die “teologiese” doelwitte sal dan reeds duideliker word.
18:1-27: In die arrestasieverhaal (18:1-11) word die grootheid en beheer van Jesus benadruk (Barret, Newbigin). Jesus se “Ek is”-uitspraak, waardeur Hy Homself oorgee aan die soldate, sinspeel op die openbaringsnaam van God (Eks 3:14). Voor hierdie naam val die omstanders op die grond – die tipiese reaksie op ’n teofanie (godsverskyning) (Lindars; ook Hand 9:4; 22:7; 26:14; Op 1:17). Hy het die mag oor die vorste van die duisternis omdat Hy die goddelike naam het. Daarom kan Hy nie gearresteer word sonder sy instemming nie (Brown, Barret). Wat hier gebeur is, die praktiese toepassing van Johannes 10:18, waar Jesus gesê het dat niemand sy lewe van Hom sal wegneem nie. Hy sal dit self aflê. Vroeër het Hy toegelaat dat Judas die Paasmaaltyd verlaat. Nou laat Hy Judas en die “magte van die duisternis” toe om hom te arresteer. Toe Jesus weggeneem word, het dit geen invloed op Hom nie. Sy gees word nie daardeur gebreek nie (Schnackenburg).
Anders as in die sinoptiese evangelies word Jesus se verhoor en Petrus se ontkenning dat hy een van Jesus se dissipels is, saamgevoeg. Jesus en Petrus staan in direkte kontras tot mekaar. Petrus kon nie die wil van God doen nie. Jesus doen dit volledig: “Jesus stands up to his questioners and denies nothing, while Peter cowers before his questioners and denies everything” (Brown). Jesus kan sy lojaliteit aan die wil van God nie verloën nie. Petrus se verloëning bevestig weer dat Jesus in beheer is. Wat met Petrus gebeur het, is immers die vervulling van Jesus se woord in die bovertrek (Joh 13:38). Sy dissipels het Hom nou verlaat, soos Hy gesê het (Joh 16:32).
18:28-19:16a: Brown noem Jesus se verhoor een van die voertuie van die Johannese teologie. Hierdie gedeelte is die hart van die lydensvertelling (Schnackenburg), met Jesus se koningskap die teologiese motief wat oorheers. Sy verhoor voor Annas die hoëpriester het ’n belangrike funksie. Uiteindelik sou Jesus deur die hoëpriesters (Annas en Kajafas) na die dood gestuur word. Die hoëpriester sou uiteindelik die Lam van God “offer”. Die motief van die lydende kneg van die Here word met die koningskap gekombineer (Brown).
Die belangrikste deel is egter die gesprek tussen Jesus en Pilatus. Voor Pilatus word dit duidelik dat Jesus koning is. Brown benadruk dat die aangeklaagde (Jesus) van die begin af vrae vra asof Hy die regter is. Van die begin af is dit nie Jesus nie, maar Pilatus wat verhoor word. Dit is veral die vraag: “Wat is waarheid?” wat hierdie konfrontasie tot ’n hoogtepunt bring. Voor hierdie vraag stel Jesus Pilatus gerus dat sy koningskap geen bedreiging vir die Romeine inhou nie, want sy koningskap is nie van hierdie wêreld nie (18:36). Jesus se koningskap dwing mense nie tot onderhorigheid nie. Hy het navolgers wat sy stem hoor (19:37). Pilatus word egter onrustig wanneer Jesus die inhoud van sy koningskap beskryf (19:37). Jesus se rol is om oor die waarheid te getuig. Natuurlik is dit nie al waaroor Jesus se koningskap gaan nie, maar in hierdie gedeelte word die “waarheid” gebruik om Pilatus se houding teenoor die koningskap van Jesus te beskryf (Lindars). Jesus kan nie stilbly, voor die Romeinse regter, voor wie Hy is nie: “John’s interest is not what takes place in the foreground, but, because of the yawning abyss indicated by the ‘Jesus hour’, everything takes its consequent course from this … Jesus offers Pilate God’s truth, indeed he stands before him as the voice of the truth; but Pilate does not hear it, does not understand it, else he could not ask concerning some ‘truth’ or other” (Schnackenburg). Pilatus is in die teenwoordigheid van die waarheid: “From this moment on, the subject is no longer whether Jesus is innocent or guilty … The subject of the trial is now whether or not Pilate will respond to the truth” (Brown). Pilatus moet ’n keuse maak of hy die lig of duisternis gaan aanvaar (Joh 3:19-21). Jesus getuig van die waarheid, maar Pilatus kan die waarheid nie raaksien en aanvaar nie: “He has, then, already lost his integrity, and his subsequent behaviour in sentencing an innocent man to death is explained” (Lindars).
Ook die tweede gesprek tussen Pilatus en Jesus benadruk Jesus se koningskap en Pilatus se keuse (19:8-11). Die Joodse godsdienstige leiers sê dat Jesus Homself as die Seun van God voordoen. Pilatus vra ’n kernvraag: “Waar kom jy vandaan?” Jesus beantwoord nie die vraag nie: “He who reveals does not give any answer to the one trapped in earthly thought processes, because he cannot grasp it anyway” (Schnackenburg). Pilatus begin vrees ontwikkel. Dit is dieper as ’n blote vrees vir die Jode (Schnackenburg, Morris, Bultmann). Pilatus se vrees is die mistiese vrees “before the divine which falls upon this representative of earthly power” (Schnackenburg). Saam met die vraag na die waarheid, dui die vraag waar Jesus vandaan kom aan dat Pilatus besef dat die rolle verander het: Jesus is die regter. Hy is die aangeklaagde. Jesus se antwoord het dalk Pilatus se vrees dat Jesus ’n ware boodskapper van God is, bevestig (Keener). Die aangeklaagde, Jesus, beskik oor ander mag. Die mag waarvan Jesus hier praat, is nie dat alle politieke mag deur God gegee word nie (Rom 13:1). Dit gaan oor die vraag wat ware mag is. Pilatus mag politieke mag hê, maar nie die mag om sy lewe van Hom weg te neem nie (Brown). Jesus alleen kan dit aflê. Pilatus het geen mag oor Jesus as dit nie “van bo af” aan hom gegee word nie. Jesus het “van bo” af gekom (Lindars). Pilatus het daarom geen mag as Jesus dit nie aan hom gee nie. Jesus is die vrye, Pilatus die onderworpene. Jesus weet dat die uur van sy finale lyding aangebreek het. Hy benadruk dat God aan Pilatus in hierdie “tyd” ’n spesifieke rol gegee het.
Tereg sê Schnackenburg dat die keuse van Pilatus om nie die waarheid te aanvaar nie, hom al meer betrokke maak by die skemas van mense. Deur die onvermoë van Pilatus om nie die waarheid raak te sien nie, het hy reeds teen Jesus gekies. Pilatus gee Jesus twee maal oor. Na die eerste gesprek word Hy oorgegee om gemartel te word. Toe Jesus na buite gelei word en bespot word, dra hy ironies ’n kroon en pers mantel – simbole van koningskap. Na die tweede gesprek word Jesus weer oorgelewer om gekruisig te word. Weer benadruk Pilatus dat Jesus die koning is. Op ironiese wyse word bevestig dat Jesus inderdaad koning is: “Even as one mocked and humiliated, he bears the marks of sovereignty and divinity (cf.19:5-7), and emerges from the trial the guiltless and justified one as even his judge has to agree with his thrice repeated declaration of innocence” (Green).
19:16b-42: Jesus se pad na die kruis word baie kort beskryf. Die evangelis wil uitkom by die kern van alles. Lindars benadruk dat alle besonderhede “which add horror to the scene in the Synoptics are omitted”. Jesus dra sy eie kruis. Voor mense is Hy die absoluut verworpene wat tussen twee misdadigers hang. Aan die kruis word sy koningskap finaal bevestig. Daar word Hy verhoog tot Koning. Die kruis is sy troon (19:19). Voor God is Hy die verhoogde. Ten spyte van hulle verwerping van Jesus hang hy aan die kruis as hulle koning: “The inscription, its validity strengthened by Pilate, proves this: Jesus is the King who rules from the cross” (Schnackenburg).
Twee elemente is uniek aan Johannes se vertelling. Die een gaan oor die opskrif in drie tale bo die kruis en die dispuut daaroor. Die ander gaan oor Jesus se gesprek met die geliefde dissipel en sy ma. Boaan die kruis word geskryf dat die hele wêreld (in drie tale) dit kon lees. Slegs Johannes lê die klem op die drie tale waarin die woorde geskryf is. Dit is ’n “world-wide proclamation of enthronement” (Brown). Pilatus is in hierdie opsig ’n profeet (Bultmann). Die kruis van Christus het te doen met die hele wêreld. Nou dat Jesus van die aarde af “verhoog” is, trek Hy alle mense na om (Brown; sien Joh 12:32). Die drietaligheid van die opskrif kon sinspeel op die kerk se getuienis teenoor die Jode, Grieke en Romeine in Johannes se tyd (Lindars).
Daar is heelwat debat oor wat die gesprek van Jesus met sy ma en die geliefde dissipel beteken. Bultmann se siening dat Maria en Johannes onderskeidelik die Joodse en heidense Christendom verteenwoordig, word nie aanvaar nie. Op al die verklarings kan nie ingegaan word nie (sien Brown vir ’n uitvoerige bespreking). Wat wel gesê kan word, is dat Jesus God se wil tot die einde toe wou vervul. Dit het ingesluit dat die verhoogde Jesus sy liefde tot die einde toe aan sy navolgers betoon (Joh 13:1). Dit gaan egter verder as dit. Deur Jesus se woord aan die kruis ontstaan ’n nuwe gemeenskap (Track). Jesus se dood bring ’n nuwe kwaliteit in die verhoudings tussen gelowiges tot stand. Dit oorskry alle fisieke grense (Lindars). Die uitdeel van Jesus se klere kan verstaan word as die opgee van al Jesus se aardse besittings. Met die voetwassing van die dissipels het Jesus reeds Homself prysgegee. Oor die simboliek agter die naatlose onderkleed bestaan daar te veel verskil van mening om enige sinvolle keuse uit die oefen. Schnackenburg sien dit as ’n teken van God se beskerming. Brown voeg daaraan toe dat die naatlose onderkleed herinner aan Jesus se priesterskap. Ander sien dit as simbool van die eenheid van die kerk.
Die kruistoneel toon duidelike verskille met die ander evangeliste. Daar is geen aanduiding van godverlatenheid by Johannes nie. Die laaste kruiswoorde bring die uniekheid van Johannes se aksent ook na vore. “Ek het dors” en “Dit is volbring” is onskeibaar. Uiteraard gaan dit ook hier oor die geweldige fisieke dors wat ’n gekruisigde persoon voor sy dood ontwikkel het. Geleerdes is dit egter eens dat dit om meer as fisieke dors gaan. Vroeër in die lydensverhaal sê Jesus dat Hy die beker sal drink wat God aan Hom sal gee (18:11). Jesus se honger en dors funksioneer elders in die evangelie as aanduiding van sy verbintenis om God se wil te doen (4:32-34). Ook hier dors hy daarna om God se wil te doen (Brown). Sy woorde “Dit is volbring” beteken Hy het gedoen wat God van Hom gevra het. Hy was tot die einde toe gehoorsaam. Jesus aanvaar sy dood doelbewus as die vervulling van God se wil – tot die einde toe. Daarom aanvaar Hy die asyn wat aan Hom gegee is. Dit is die lydensbeker wat Hy volgens God se wil moes drink: “Jesus dies as the one who completes his earthly work, who carries out the Father’s commission obediently to the end (cf. 14:31, 17:4). To the last, Jesus is the one taking the initiative” (Schnackenburg). Die hisoptakkie kan sinspeel op die hisoptakkies wat gebruik is om die bloed aan die deurkosyne voor die uittog uit Egipte te smeer. Sy dood is dus geen onbewustelike gebeurtenis nie. Hy gee sy gees aan God oor. Jesus is die oorwinnaar wat na sy Vader gaan nadat hy sy werk op aarde klaargemaak het.
19:31-42: Dit is heel moontlik dat Johannes hom ook in hierdie gedeelte uitspreek teen hulle wat ontken het dat Jesus werklik gesterf het (Morris). Hulle geloof is nie gebou op ’n mite nie, maar op die waarheid. Die evangelis kan bevestig dat Jesus werklik gesterf het. Hoewel Morris nie te veel wil inlees in die water en bloed wat uit Jesus se sy gekom het nie, gee ander kommentatore heelwat aandag daaraan. Oor die baie simboliese verklarings wat gegee word aan die bene van Jesus wat nie gebreek is nie en die water en bloed uit sy sy, kan Brown, Lindars en Schnackenburg geraadpleeg word. Genoeg om te sê dit alles fokus op Jesus se dood as offer (Lindars). Die water en bloed is die simbole van totale reiniging (doop en bloed). Die aanhaling uit Psalm 34:21 is ook ’n aanduiding van die beskerming deur God wanneer die regverdige ly. Dit is ook so dat geen been van die offerlam gebreek mag word nie (Eks 12:46; Num 9:12). Volgens Johannes is Jesus die Lam wat die sonde van die wêreld sou wegdra (1:29). Selfs die begrafnis van Jesus bevat elemente van sy verhoging. Brown is van mening dat die groot hoeveelheid kruie wat gebring is, ’n koninklike begrafnis veronderstel. Josef van Arimatea en Nikodemus word as “paar” gebruik omdat beide Jesus in die geheim gedien en tot die godsdienstige leierskap van die Jode behoort het. Nou erken hulle die koningskap van Jesus in die openbaar. Hulle sorg dat sy liggaam versorg word. Anders as die res van die Jode, staan hulle by Jesus, selfs na sy dood. Die betekenis van Jesus se dood bevestig egter die waarheid oor Jesus: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. As seun van God moet Hy as koning geëer word. Die gekruisigde word verheerlik.
Konteks
1. Die lengte van die Skrifgedeelte maak dit bykans onmoontlik om ’n enkele preek daaruit te maak. Preekstudies op Goeie Vrydag oor die lydensgebeure in Johannes fokus gewoonlik op 19:16-30. Die lang lydensvertelling in Johannes moet egter as eenheid beskou word. Daarom is dit opvallend dat preekstudies oor Johannes 19:16-30 byna almal ook na die res van die lydensvertelling en evangelie as geheel verwys. Die eiesoortige aksente van die Johannesevangelie in onderskeiding van die sinoptiese evangelies, word egter gedurig uitgelig. Omdat die hele gedeelte as teksgedeelte dien, kan die prediker ’n keuse uitoefen watter verse gelees moet word ten einde die boodskap te dien. Dit is egter baie moeilik om enkele sake uit te lig uit ’n gedeelte wat so ryk aan betekenis en simboliek is.
2. Wat is uniek aan die vertelling van Johannes? Johannes se vertelling van Jesus se laaste ure voor die kruisiging moet verstaan word teen die agtergrond van sy opvatting van Jesus (Schnackenburg).
- Hy word voorgestel as die een wat gedurig in volle beheer van die situasie is (Barret). Niemand kan sy lewe van Hom wegneem nie. Hy lê dit self af. Hy ken die een wat Hom sou verraai (6:70). Hy bring selfs die hele daad van verraad in beweging (13:27). Omdat Hy in beheer is, word telkens benadruk dat Jesus se woorde in vervulling gegaan het (18:9,32).
- Jesus se onvoorwaardelike verbintenis aan God se wil laat Hom telkens die inisiatief neem. Jesus word voorgestel as die een wat net een begeerte het: om God se wil tot die einde toe deur te voer. Daarom gee Hy Homself aan die soldate oor. Die ontbreking van die Getsemané-verhaal waar Jesus worstel met die wil van God, is insiggewend (Barrett). Jesus worstel nie, maar gee sy lewe vrywillig oor. Hy dra sy eie kruis (19:17). Hy gee om vir sy ma terwyl hy aan die kruis hang (19:25-27). Voor die soldate sy bene kan breek, gee Hy sy eie lewe oor aan God (19:20-33). Met sy dood het sy lewe nie tot ’n einde gekom nie. Sy dood is eerder die vervulling van sy taak. Daarom is sy dood nie ’n ongeluk of die sameloop van omstandighede nie. Dit is wat Jesus wil doen.
- Die ander opvatting van Jesus wat in die lydensverhaal duidelik na vore kom, is Jesus se koningskap. Dit staan in verband met sy verhoging (3:14; 8:28; 13:32). Dat Jesus “verhoog” sal word, het ’n dubbele betekenis (Green). Enersyds gaan dit oor Jesus as die verhoogde van God en sy verheerliking as koning. Andersyds gaan dit oor hoe die Jode Jesus sou doodmaak (12:32-33): “For the Fourth Evangelist, the life of the Son of God is best understood as a journey: He comes from his pre-existent state in heaven, dwells among women and men, then returns to heaven. He who descended from glory must ascend to glory” (e.g., 3:13, 31; 6:38; 8:23; 13:1–3) (Green). Schnackenburg sê dat die lydensvertelling teologies gesproke niks anders is nie “than the carrying through of the idea of the ‘lifting up’ or exaltation of Jesus” (3:14; 8:28; 13:32f).
Vroeë Christene het ’n probleem gehad om sin en betekenis te gee aan hierdie brutale dood (Schnackenburg). Die ander evangeliste slaag nie daarin om Jesus se heerlikheid deur die vernederende saak wat teen Hom ingebring is, of deur sy lyding of dood aan die kruis te laat skyn nie: “This paradoxical viewpoint was left to the fourth evangelist who was inspired by and equipped for it through his theological approach of framing everything in the presence of his Christ. This basic element in his thinking sets an indelible seal on his description of the passion” (Schnackenburg). Johannes se uiteindelike doel met die lydensvertelling is nie om op die degradering van Jesus te fokus nie, maar om uit te kom by die verheerliking van Jesus. Jesus oorkom die skandelike dood van die kruis deur “verhoog” te word. Wat in hierdie lydensverhaal as spot en ironie bedoel is – dat Jesus die koning van die Jode is – word as die bittere waarheid bevestig. Die hoëpriester het Jesus na die offerplek – die kruis – laat gaan. Pilatus wil die hoëpriester terugkry, maar bevestig daardeur aan die wêreld wie Jesus is: die koning!
Samevattend: Johannes gaan baie meer terughoudend om met die beelde van smart en Godverlatenheid as die ander evangeliste (Track). Die paradoksale karakter van sy lyding word konstant uitgelig (Track). Hy is die uitgelewerde maar ook die handelende. Hy wat die koning is, sterf nakend. Sy troon is sy kruis. Om in hierdie omstandighede van oorwinning en vervulling te praat, is nie iets wat die blote oog raaksien nie.
3. Track sê tereg dat slegs die oë van geloof dit raaksien en daardeur bemoedig word. Die doel van die Johannesevangelie is dat mense “kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (20:31). Johannes benadruk dat die verwerping van Jesus as Seun van God die ongeloof bo alle ongeloof is. Die verskillende figure in die lydensvertelling sinspeel gedurig hierop. In die Johannesevangelie word telkens benadruk dat die Jode Jesus verwerp het. Daar was egter ook Jode wat Jesus aanvaar het (Nikodemus). Net so is daar ’n Samaritaanse vrou (Joh 4) wat ten spyte van die ontsnappingspogings uiteindelik tot geloof kom. Pilatus is die ander kant van die munt. Soms is gepoog om die verhoor van Jesus as ’n simboliese konflik tussen sekulêre en godsdienstige sfere te sien. Dit funksioneer egter nie as ’n dominante motief in hierdie gedeelte nie (Brown). Pogings deur Bultmann en ander om Pilatus as simbool van die staat te sien wat tussen die wêreld en die waarheid moet kies, is ook afgewys dat dit op ’n herinterpretasie van Johannes in terme van ’n moderne teologiese probleem (bv Nazisme) neerkom (Brown). Hy is nie ’n verteenwoordiger van die staat nie, maar van iemand wat deur die waarheid van Jesus gekonfronteer word en nie ’n keuse kan maak nie. Sy neutraliteit lei tot ’n tragedie (Brown). Sy pogings om die Jode tot ander insigte te bring is niks anders nie as ’n poging om nie ’n keuse te maak nie. Toe hy nie daarin slaag om hulle tot ander insigte te bring nie, gee hy stelselmatig toe aan die wêreld wat die lig van God uitdoof. Pilatus laat die rewolusionêre vry, maar laat toe dat die waarheid doodgemaak word – al was hy neutraal. Sy neutraliteit is juis sy tragiese keuse: “Having failed to listen to the truth and decide in its favour, he and all who would imitate him inevitable finish in the service of the world. In our judgement this is the profound Johannine understanding of Pilate” (Brown). Baie sien in Pilatus die spieël van hulle eie tragiese geskiedenis van besluiteloosheid. Morris sê treffend: “Jesus’ words might be lost on Pilate, but John hope and believes that many of his readers will take them to heart, and come to know him who is not only a witness to the truth but the truth in person – the truth that makes men and women free.”
Die wêreld (Jode) is ook nie geïnteresseerd in die waarheid nie. In Johannes 8 verstaan die Jode nie wat die waarheid is nie. ’n Misdadiger word bo Hom verkies. Selfs hierdie keuse is blatant. Jesus, die onskuldige, word veroordeel in plaas van die skuldige Barabbas. Die Jode se aandrang dat Jesus gekruisig moet word, is die beste uitdrukking van die verwerping van sy status as gestuurde van God. Hulle verwerp die koningskap van Jesus geheel en al. Die lig moet uitgedoof word. Die waarheid moet doodgemaak word. Ook Petrus weifel voor die waarheid deur Jesus te verloën. Oral word die waarheid verwerp: voor die Sanhedrin, voor Pilatus, voor die Jode en deur Petrus. Daarteenoor is daar Nikodemus en Josef van Arimatea wat die ander keuse uitgeoefen het. Selfs toe die waarheid deur die wêreld uitgedoof is, het hulle die koningskap van Jesus raakgesien. Die gekruisigde is die koning! Nikodemus en Josef het dit raakgesien.
Preekvoorstel
1. Die laaste woorde van Jesus aan die kruis is: “Dit is volbring.” Karl Barth skryf daaroor: “Wat plaasgevind het, was nie voorlopig nie. Alles wat gedoen kon word om God se wil te gehoorsaam, is gedoen. Dit was totaal en perfek. Dit hoef nie voortgesit te word nie. Niks hoef daaraan toegevoeg te word nie. Dit hoef nie verbeter te word nie. Dit is nuut. Dit is die einde van die oue. Dit sal self nooit oud word nie.” Hierdie woorde van Barth benadruk die absolute volledige nakoming van God se wil deur Jesus. Flip Theron sê dat dit soos ’n oorwinningskreet is. Dis soos wanneer ’n atleet na ’n lang en vermoeiende wedloop uiteindelik die lint breek. Jesus het sy mense tot die einde toe liefgehad (Joh 13:1). Sy lyding kon nie sy gees van absolute lojaliteit aan God se wil breek nie. Sy fisieke dors is ook die intense dors om tot aan die einde die lydensbeker wat God gegee het te drink. Dit is sy heerlikheid, sy verhoging, sy eer! Wanneer Hy sy lewe uiteindelik doelbewus aan God oorgee, word dit duidelik dat die koning aan die kruis doelbewus die rol as Lam van God, as lydende kneg van die Here volledig vervul het. Op daardie oomblik word Jesus finaal en volledig aan die mens gelyk. So is die sonde van die wêreld weggeneem. Hierdie koning se glorie is sy totale onderworpenheid aan God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om hierdie liefde en trou te bevestig. Niks kon in die pad daarvan staan nie. Jesus neem die sonde van die wêreld gewillig op Hom en dra dit tot aan die einde! Daar word vertel van ’n troosbrief wat ’n Indonesiese vrou na die dood van professor D Freytag geskryf het. Daarin het sy haarself herinner aan ’n preek wat Freytag in Djakarta gepreek het. In die preek het hy vertel dat hy op ’n plek in Nieu-Guinee gekom het waar daar ’n groot kruis gestaan het. Op die balke van die kruis was daar ’n klomp klein kruisies. Toe hy vra wat dit beteken, het die man geantwoord: “Weet jy nie dat ons Heer al ons lyding deur sy groot kruis gedra het nie?” Jesus is verhoog aan die kruis. Hy sterf en volbring God se wil. Sy bene word nie gebreek nie. Uit sy sy kom bloed en water –simbole van volledige reiniging. Die wet van die Jode om Jesus dood te maak, staan uiteindelik in diens van die evangelie!
2. Goeie Vrydag laat ons weer stilstaan by hierdie boodskap van die kruis. Jesus is verhoog! Dit is egter ook so dat die Heer wat verhoog aan die kruis hang, mense voor ’n beslissing bring. Johannes se hele evangelie het die doel om mense tot geloof in Jesus te bring, die Seun van God (Joh 20:31). By die kruis kan niemand neutraal staan nie. ’n Proponent van die NG Kerk het jare gelede as ongetroude op ’n plattelandse dorp aangekom. Daar ontmoet hy ’n meisie op wie hy verlief raak. In een van sy preke gedurende daardie tyd het hy probeer verduidelik dat liefde ’n mens nie neutraal kan laat nie. As iemand vir jou sê: “Ek het jou lief”, kan jy nie antwoord nie: “Dis nou interessante inligting. Vertel my meer daarvan.” Hy het geweet waarvan hy praat! Voor die Een wat sy mense tot die einde toe liefgehad het, kan niemand neutraal staan nie. Flip Theron skryf treffend: “Jy volg Hom soos die dissipels, of jy vervolg Hom soos die Fariseërs. Jy sê Hy is ’n Godslasteraar, of jy sê Hy is die Seun van God. Jy kruisig Hom, of jy kniel voor Hom. Jy hang Hom op, of jy hang jou bestaan aan Hom op. Want Hy is of waansinnig óf Hy is die waarheid.”
3. Die waarheid? In Petrus sien ons hoe mense naby Jesus aan die waarheid twyfel en daarvoor skaam word. Dis egter veral in die woorde “Wat is waarheid” en “Waar kom jy vandaan?”, dat Pilatus aan ons die een kant van die reaksie op die Seun van God skilder. In hierdie gedeelte van die preek kan die konfrontasie tussen Pilatus en Jesus uitvoerig aangeraak word. Daar kan gefokus word op die neutraliteit van Pilatus wat uiteindelik die grootste tragedie in sy lewe is. Roloff skryf dat Pilatus en die Jode die kruis as ’n alibi wil gebruik. So wou hulle van die waarheid ontslae raak. Pilatus kan nie kies nie. Hy sien die Koning, die waarheid van God, voor hom. Die kruis is al manier waarop hy van sy neutraliteit bevry kan word, maar Pilatus se neutraliteit is sy keuse teen die waarheid. In Pilatus sien ons hoe neutraliteit ten opsigte van Jesus uiteindelik daartoe lei dat hy ons geheel en al in diens van die wêreld geneem word.
Voor Jesus is daar egter nie neutraliteit moontlik nie. Flip Theron skryf: “Dis verbasend hoe baie mense jy teëkom wat nogal hou van Jesus. Ook mense wat hulleself glad nie as Christene beskou nie, hou nogal van Hom. Albert Camus, byvoorbeeld, praat van Jesus as sy vriend. Die groot Joodse filosoof Martin Buber noem Hom “my groot broer’.” Ons kan oor Jesus filosofeer en Hom bewonder. Ons kan sy groot morele leringe eer. By die kruis word ons egter gekonfronteer met die koning wat sy lewe afgelê het. In Hom sien ons die waarheid van God wat “van bo af” gekom het. Ons neutraliteit by die kruis is niks anders nie as die verwerping van die Seun van God. Dit is om jou aan die kant van die skare en godsdienstige leiers te skaar en te roep: “Maak die waarheid dood!” C S Lewis skryf (ook in Afrikaans aangehaal deur Flip Theron): “You must make your choice. Either this man was, and is, the Son of God; or else a madman or something worse. You can shut him up as a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon: or you can fall at his feet and call Him Lord and God. But let us not come with any patronising nonsense about His being a great human teacher. He has not left that open to us” (Mere Christianity). Ons kan filosofeer en probeer wegkom, maar Jesus konfronteer ons. Nie ons is die regters oor Hom nie, maar Hy oor ons.
4. Daar word egter ook ’n ander prentjie geteken. Pilatus, Petrus en godsdienstige leiers kon nie die waarheid tot niet maak nie. Hulle twyfel, neutraliteit en haat kan nie verhoed dat die kruis die troon van die Koning word nie. Met die begrafnis van Jesus sien ons hoe mense wat Hom altyd in die geheim gedien het, uitkom en Hom in die openbaar eer as Koning! So is vervul wat Jesus gesê het: “En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek” (Joh 12:32). Inderdaad. Dit is volbring! Op ’n ironiese wyse staan daar bo sy kruis in drie tale: “Jesus van Nasaret. Koning van die Jode!” Jesus van Nasaret, die mens, wat elke dag tussen hulle geloop het, is die koning. Die gekruisigde is die koning. Die koning is die gekruisigde. Juis dit maak Jesus se koningskap anders. Hy is die dienende, selfopofferende koning. Daarom huldig alle tale Hom. Die kruis is die oomblik van waarheid. Dit was en is die beslissende uur.
5. Uiteindelik mag ons ook vra wat dit beteken om in Jesus te glo, Hom as gekruisigde koning te aanbid.
- Dit beteken om voor die wêreld met die waarheid van Jesus, dat Hy ons tot die uiterste toe liefhet, te staan. Geen neutraliteit is moontlik nie.
- Dit beteken om gehoor te gee aan sy kruiswoord dat ons verantwoordelikheid vir mekaar moet neem as die nuwe familie van die Here, wat oor alle natuurlike grense heen gaan. Lee skryf: “Die kruis bring mense in nuwe verhoudings met mekaar – sorgende verhoudings. Daarom is daar vandag iets wat ons ’n sorgende gemeenskap kan noem. Die kerk help ons egter nie altyd daarmee nie. ’n Mens kan ook in die kerk ’n eensame lidmaat wees. Dit kan egter anders wees as ons die kruiswoord hoor dat ons mekaar se sorge moet dra.” Jesus het ons immers tot die uiterste toe liefgehad.
- Dit beteken om volledig aan God se wil gehoorsaam te wees. Daarom is die “Christelike godsdiens niks meer nie as ’n uitroepteken agter die woorde: “Dit is volbring!” Elke Sondag is ’n jubelkreet: “Dit is volbring!” Elke nagmaal is ’n vreugdekreet: “Dit is volbring!” Elke goeie werk, elke liefdesdiens, elke erediens is ’n uitroepteken agter Jesus se woord” (Flip Theron). ’n Sorgende gemeenskap wat deur die woord aan die kruis tot stand kom, ’n aanbiddingsgemeenskap, ’n dienende gemeenskap, ’n gehoorsame gemeenskap staan in skrille kontras met ’n gemeenskap wat die waarheid van die evangelie uitdoof, want dit is ’n gemeenskap wat Jesus tot die uiterste toe liefhet! Dit is nie ’n teologie van glorie nie. Dit is ’n pad van selfverloëning.
Bibliografie
Barrett, C K 1978. The Gospel according to St. John. 2nd ed.; Brown, R E 1970. The Gospel according to John; Bruce, F F 1983. The Gospel of John; Bultmann, R 1971. The Gospel of John: A Commentary; Hengel, M 1989. The Johannine Question; Jonker, W D en Theron, F 1989. Vreemde bevryding; Craig, B, Keener, S IVP Bible Background Commentary: New Testament, 1997. Lee, H W 1983. Good Friday, John 19:17-30, in Augsburg Sermons 2; Lindars, 1981. The Gospel of John; Morris, L 1970. The Gospel according to John; Roloff, J 1972. John 19:16-30, Calwer Predigthilfen 11; Schnackenburg, R 1982. The Gospel according to St. John; Theron, F 1984. God se somer kom; Thompson, M M The Gospel of John, in Green, Joel G; Howard Marshall, I; editors, Dictionary of Jesus and the Gospels, 1998, c1992; Track, J 1978, John 19:16-30, Neue Calwer Predigthilfen, A.