Johannes 20:19-31 LR2005
Johannes 20:19-31 LR2005
3 april 2005
Tweede Sondag in Paastyd
Quasi modo geniti
Liturgiese voorstel
Fokusteks: Johannes 20:19-31
Ander tekste: Handelinge 2:14a, 22-32; Psalm 16; 1 Petrus 1:3-9
Inleiding
Vandag se liturgie fokus op geloof. In die preekvoorstel word onderskei tussen twee vorme van die werkwoord vir geloof; naamlik die een wat dui op die begin of die stigting van die geloof (diegene wat vir die eerste keer tot geloof kom) en tweedens die bevestiging of versterking van geloof. Die doel van hierdie liturgie is om op so ’n wyse ’n ontmoeting met die opgestane Here te bewerkstellig dat die gemeente aan die einde daarvan sal kan sê: “ons het die Here gesien” en so in die geloof versterk word.
Vandag en ook in die liturgiese voorstelle vir die volgende twee Sondae word op ’n doelbewuste wyse aandag gegee aan armoede en werkloosheid. Dit word gedoen deur hierdie kontekstuele realiteite te koppel aan die offergawes wat weer verbind word aan die tafel. In elke gemeente kan hierdie liturgiese handeling op ’n eie unieke manier gestalte kry.
God vergader ons voor Hom
Die Paaskers word aangesteek en gemeente sing Lied 247/NSG 233.
Aanvangswoord
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe. In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Seëngroet
Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en is deur sy Gees vanoggend hier by ons teenwoordig. Hy groet ons net soos Hy sy dissipels na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle!”
Sang
Lied 411 en 422/NSG 112/3(A) en 113
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed by die opening van die Woord
Die gemeente sing sittend as gebed Lied 253:1 en 2 “U het die brood gebreek”/NSG 370.
Skriflesing
Johannes 20:19-31
Kindertyd
Afhangende van watter lyn in die prediking gekies word (die preekstudie bied drie moontlikhede), kan ’n ander een ontgin word vir kindertyd.
Prediking
Antwoord
Lied 514 “Ek weet verseker”/NSG 288
DIENS VAN DIE TAFEL
Nagmaal
Sien basisliturgie.
Offergawes
Voorganger: U het uself vir ons gegee, Here.
Gemeente: Nou gee ons onsself vir U en vir ander.
Maak ’n duidelike verbinding tussen die offergawes en die nagmaalstafel en armoede en werkloosheid. Indien dit prakties moontlik is, laat gemeentelede hulle offergawes op of om die nagmaalstafel plaas. Laat ’n lidmaat daarna ’n gebed doen by die tafel vir die nood van die wêreld (spesifiek armoede en werkloosheid).
Antwoord
Lied 521 “Erkentlik deur die dae”
UITSENDING
Wet
Antwoord
Psalm 16 (Antjie Krog-beryming) “Heer, bewaar my dig by U”
Vryspraak
Die Here vergewe julle sondes. En as vergeefde sondaars stuur Hy julle om ook die oortredinge van ander te vergewe. Soos die Vader vir Jesus gestuur het so stuur Hy elkeen van ons ook vanoggend met ’n groot opdrag – die opdrag van vergifnis.
Gemeente: Antwoord met danklied
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”/NSG 226
Voorganger: Liewe gemeente, wanneer ons nou in hierdie Paastyd uitmekaargaan, bid ons saam met die mense van Emmaus en die kerk van alle eeue …
Gemeente Bly by ons Here.
Seën
Ontvang die Heilige Gees en God se seën vir julle opdrag: “Ek gee vir julle die ewige lewe, en julle sal vir ewig nooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit my hand ruk nie.”
Antwoord
Lied 417 “Jesus, ons eer U”
PREEKSTUDIE – JOHANNES 20:19-31
Teks
1. Daar word gewoonlik vyf dele binne die struktuur van die Evangelie van Johannes onderskei. Afgesien van die voor- en slotredes is daar die verhaal-, die redevoeringe en die Lydensboeke. Laasgenoemde kan ook weer in twee onverdeel word. Die eerste deel van die lydingsboek handel oor die inhegtenisname, verhoor en kruisiging van Jesus. Ons Skrifgedeelte val binne die tweede deel van die Lydingsgeskiedenis en sluit die beskrywing van die leë graf en Jesus se verskyninge in.
2. Die Skrifgedeelte sluit ook Johannes 20:30-31 in wat algemeen as die doelstelling van die evangelie aanvaar word. Dit beteken dat elke gedeelte binne die evangelie in die lig van hierdie twee verse gesien moet word. In hierdie verband is sekere kernbegrippe wat in die doelstelling voorkom van belang. Wat die Skrifgedeelte betref, is drie begrippe ter sake: (a) wondertekens, (b) glo en (c) lewe.
3. Wat die begrip wondertekens betref, is dit eintlik verrassend om dit hier vermeld te vind, ver verwyderd van wat tradisioneel beskou word as die wonderwerke in die evangelie. Die laaste van die tipiese wonderwerke binne Johannes is die opwekking van Lasarus uit die dode in hoofstuk 11. Johannes 20:30-31 sou eintlik 'n baie gepaste afsluiting van daardie verhaal kon gewees het en ook van die verhaalboek. Tog staan dit hier en moet dus gevra word of die skrywer dalk 'n rede gehad het waarom dit hier geplaas is. Teen hierdie agtergrond is dit belangrik om te vra wat die skrywer verstaan onder wondertekens.
4. Interessant is dat Johannes stel dat Jesus nog baie ander wondertekens gedoen het as dié wat hy opgeteken het. Daarmee sê die skrywer dat daar 'n keuse gemaak is. Op grond hiervan beweer sommige dat daar dalk in die tyd 'n boek in omgang was wat net wonderverhale van Jesus bevat het. Johannes se keuse bevat ses wonderverhale, naamlik die bruilof te Kana, die genesing van die seun van die regeringsamptenaar, die genesing by die bad van Betesda, die vermeerdering van die brode, die genesing van 'n jong man wat blind gebore is en die opwekking van Lasarus. Hulle almal kom in die sogenaamde verhaleboek voor en staan dus ver verwyder van die verklaring in 20:30-31.
5. Anders as in die ander drie evangelies, waar die wonderwerke beskryf word as kragtige dade, noem Johannes hulle semeia wat vertaal word met (wonder)tekens. Die klem val dus kennelik hier op die teken-aspek van die verhale; op die simboliese betekenis daarvan. As simbool verteenwoordig dit 'n ander werklikheid, 'n bonatuurlike werklikheid. Daarom word dan ook gepraat van wondertekens. In die Johannes-evangelie waar die klem sterk val op die verhouding en die beweging tussen bo en onder, tussen hemel en aarde, dien die wondertekens dan ook as openbaring van Jesus as die Seun wat van bo, van die Vader kom.
6. Die vraag is of die opstanding uit die dode ook as 'n wonderteken gesien kan word. Dit is interessant dat die opwekking van Lasarus uit die dood die laaste van die wondertekens by Johannes is. In daardie verhaal word dan ook 'n direkte verband tussen Lasarus se opwekking en Jesus se opstanding gelê (12:25). Dit is duidelik dat Lasarus se opwekking 'n teken en 'n voorspel is tot Jesus se opstanding wat gaan volg.
7. As aanvaar word dat hoofstuk 21 nie tot die oorspronklike evangelie behoort het nie maar 'n latere toevoeging is en daarom die wonderverhaal daarin vervat voorlopig buite rekening gelaat word, het ons in die evangelie self ses wondertekens. So gesien word die opstanding van Jesus die sewende wonderteken en kry ons die volmaakte getal van 7 wondertekens. Dan word die opstanding van Jesus die hoogtepunt van sy optrede op aarde. Die verskyninge van Jesus in die Skrifgedeelte is dus bewys van Jesus se opstanding en inderdaad ingesluit in die wondertekens van 20:30-31.
8. Hiermee hang saam die kwessie van geloof in die doelstelling. Dit is ook 'n sentrale begrip by Johannes. Uiteraard staan dit in verband met hoe mense Jesus gesien het en wat dit betref, weerspieël die evangelie 'n hoë mate van wanbegrip oor wie Hy is. Soms het hulle ook oneerlike motiewe oor waarom hulle Jesus volg, soos dat hulle uit Hom stoflike voordeel kan trek. Andere glo weer, maar gee ook weer gou hulle geloof op veral onder druk.
9. Die handskrifte op grond waarvan die Nuwe-Testamentiese teks saamgestel is, bied twee moontlikhede vir die gebruik van die woord “geloof” in 20:30-31. Sommige gebruik die vorm van die Griekse werkwoord wat dui op die begin of die stigting van die geloof. Die evangelie is dus bedoel vir ongelowige mense wat tot geloof moet kom by die lees daarvan. Dit maak van Johannes 'n soort sending-evangelie.
10. Hierdie standpunt word ondersteun met die uitsending van die dissipels soos vervat in 20:21-23, ook genoem die Klein Pinkster. Daarin kry hulle die opdrag om, soos Jesus uitgestuur is, ook uit te gaan die wêreld in. Daarvoor word hulle bekragtig met die gawe van die Heilige Gees wanneer Jesus op hulle blaas. Verder kry hulle ook die volmag om mense hulle sondes te vergewe of nie te vergewe nie.
11. Die ander vorm van die werkwoord vir geloof dui weer op die bevestiging of versterking van geloof wat reeds aanwesig is. Dit beteken dat die evangelie geskryf is om mense wat reeds glo, maar wat dalk begin twyfel of dreig om afvallig te word, te oortuig om te bly glo en hulle geloof te versterk. Hierby sluit weer die verhaal van Tomas in ons Skrifgedeelte goed aan as 'n illustrasie van die geloofskrisis van die gemeente aan wie die evangelie gerig is.
12. By die eerste verskyning van Jesus na sy opstanding is Tomas nie teenwoordig nie. Wanneer by die volgende samesyn aan hom meegedeel word van Jesus se verskyning, is hy baie duidelik oor sy standpunt: Hy glo nie dat Jesus opgestaan het nie en as daar iemand aan hulle verskyn het, wil hy presies vasstel of dit wel die Jesus is wat hy self geken en aanskou het hoe Hy gekruisig is en gesterf het. Daarmee weerspieël Tomas waarskynlik die soort geloof van diegene in die gemeente wat Jesus nie empiries meegemaak het nie, die krisis van die tweede geslag Christene in die Nuwe Testament. Wanneer Jesus 'n tweede keer verskyn, dié keer met Tomas aanwesig, voldoen Hy bewus van Tomas se twyfel aan sy voorwaardes en Tomas word daardeur oorweldig.
13. Jesus se kommentaar hierop soos vervat in 20:29, is belangrik. Toe sê Jesus vir hom: "Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo." Daarmee wys Jesus op die grondslag van geloof vir die toekomstige geslagte, naamlik dat dit nie gebaseer sal kan wees op die empiries waarneembare en bewysbare nie, maar eerder op vertroue. Dit is dan ook waarskynlik die korreksie op die geloofskrisis wat daar in die gemeente geheers het. Hulle moet voortgaan om te glo; die getuienis aanvaar van diegene wat Jesus persoonlik meegemaak het en hulle geloofwaardigheid moet nie bevraagteken word nie, want vertroue sal die basis van die geloof in die toekoms bly.
14. Die mees sentrale tema in die vierde evangelie is waarskynlik die begrip lewe, omdat dit die funksie vervul van die koninkrykstema in die Sinoptiese evangelies. Dat dit hier in verband staan met Jesus se opstanding is maar net 'n bevestiging van Jesus se uitspraak by die opwekking van Lasarus: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe al het hy ook gesterwe. Die leë graf, die verskyninge van Jesus aan Maria Magdalena en die dissipels is bewyse van sy opstanding uit die dood en daarmee die oorwinning van die lewe oor die dood.
15. Lewe by Johannes omvat die kwantitatiewe en die kwalitatiewe daarvan. Wat eersgenoemde betref, wil dit beklemtoon dat dit die huidige lewe en die toekomstige of ewige lewe omvat. Dit wil eintlik nie 'n onderskeid maak tussen die twee nie. Die fisiese dood neem eintlik die lewe net na 'n ander fase en vlak toe. Daarom kan 'n mens reeds in hierdie lewe al die ewige lewe hê, volgens Johannes. Wat betref die kwaliteit van lewe, is dit moontlik om nou reeds die lewe in oorvloed te hê. Daarmee word weer nie bedoel stoflike oorvloed en aardse rykdom nie, maar die vreugde, die geborgenheid, die vryheid, ensovoorts as die kenmerke van die ware lewe. Beide die duur en die gehalte van die lewe is alleen te vinde deur die geloof in Jesus Christus, die Seun. Daarom is die begrip “lewe” by baie van die "Ek-is"-uitsprake van Jesus ingesluit.
16. Die Skrifgedeelte dek dus al die sentrale gedagtes van Johannes in die verhaalkonteks van die opstanding van Jesus.
Preekvoorstel
1. Die algemeen aanvaarde doelstelling, 20:30-31, is dus eintlik ryk aan temas waaroor gepreek kan word. Daarom is dit byna vanselfsprekend om dit as teks te laat funksioneer vir die hele Skrifgedeelte. Die verskeidenheid onderwerpe wat geïntegreerd in die verhaal van Jesus se verskyninge voorkom, kan ook vir verskillende geleenthede binne die kerklike jaar gebruik word. Vervolgens gee ons drie moontlikhede.
2. Eerste Preekvoorstel: Die voor die hand liggende is 'n preek by Pase met die opstanding as tema. Daarin sal dan beklemtoon kan word die gemengde gevoelens wat die dissipels waar hulle in die kamer bymekaar was moes gehad het.
Eerstens, was daar die vrees vir die owerhede vanweë hulle verbintenis met Jesus en na wat met Hom gebeur het. Sou dieselfde lot hulle ook tref? In ons humanisties oorheerste wêreld het ons dalk nie die soort vrees nie, maar raak ons as Christene tog in bepaalde omstandighede skaam en huiwerig om ons Christenskap openlik te bely. Ons is bang ons word dalk beskuldig dat ons oudmodies is.
Tweedens, die skuldgevoel van skaamte want hulle het besef dat op die kritieke oomblik hulle tog vir Jesus in die steek gelaat het. Alhoewel Judas Iskariot die blaam kry vir sy verraad en Simon Petrus vir sy verloëning, het hulle tog almal in beide gevalle hulle aandeel daarin aangevoel. Ook ons kan nie ons aandeel aan die verraad en verloëning van Jesus en sy saak van die koninkryk ontken nie. Die film, “The Passion of the Christ” wil ons dalk juis herinner aan ons medepligtigheid daarin.
Derdens, daar was waarskynlik die gevoel van verwarring, want Simon Petrus en die geliefde dissipel het waarskynlik hulle ervaring by die leë graf met hulle gedeel. En ook het Maria Magdalena hulle meegedeel dat sy die Here gesien het. Is Jesus se liggaam gesteel en waarom sou mense dit doen? Hoe geloofwaardig is Maria Magdalena? Sy is tog slegs 'n vrou? Dit sou van die verwarrende vrae wees wat deur hulle gemoed gespeel het.
Jesus se verskyning neem al hierdie negatiewe gevoelens weg. Hy het opgestaan. Hy is hier. Hy leef. Dit is 'n wonder van God.
3. Tweede preekvoorstel: Die verhaal van Tomas en sy geloofskrisis is geskik vir die koninkryksperiode. 'n Belangrike vraag is of dit die vraag na ware geloof wil beantwoord? Die dissipels is nie in staat om Tomas te oortuig dat Jesus wel lewe en in hulle midde was nie. Tomas verwoord dalk die mate van twyfel wat daar ook nog maar by hulle was, alhoewel hulle Jesus tog al in lewende lywe gesien het. Die opstanding uit die dode is en bly ook vir ons steeds 'n gebeurtenis wat buite ons ervaringswêreld val. Dit is 'n wonder. Ons lewe in 'n modernistiese tyd wat sê dat ons makliker glo as die konkrete bewyse gelewer word en as ons dinge sintuiglik beleef het. So iets soos die opstanding behoort nie tot ons alledaagse ervaringswêreld nie. Jesus se uitspraak wil daarop wys dat dit ewe belangrik vir geloof is dat jy moet vertrou. Ons vergeet dat ons elke dag se lewe in die grootste mate gebaseer is op vertroue in mense en tegnologie, die mense wat vir ons kosmaak, wat ons voertuie bestuur, die goeie toestand van ons vliegtuie, ensovoorts. Maar ook wat aan ons oorgedra is en waarop ons kan bou. Alhoewel ons Jesus dus nie persoonlik gesien het nie, glo ons wat aan ons oorgedra is, dat Hy geleef, gesterf het vir ons sonde; dat Hy opgestaan het en nou leef om vir ons in te tree by die Vader.
4. Derde preekvoorstel: Die gedeelte sal goedskiks ook as preek gebruik kan word met Pinksterfees. Hierdie "uitstorting" van die Heilige Gees word ook beskou as die voorskot op die groot uitstorting met Pinksterdag. Ons het hier eintlik 'n integrasie van elemente van wat ons vind op ander plekke in die Nuwe Testament. Eerstens, word die volmag aan die apostels en die kerk ook in Matteus 16:17-20; 18:18 beskrywe; Tweedens, vind ons ook die groot uitsending van die dissipels in Matteus 28:16-20; en derdens, is Handelinge 2 natuurlik die klassieke teks vir die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die kerk ontvang dieselfde opdrag wat die Seun van die Vader ontvang het toe Hy na die wêreld gestuur is. Die kerk ontvang dieselfde toerusting wat die Seun in volle mate gehad het, naamlik deur die Heilige Gees. Die kerk het dieselfde gesag wat die Seun gehad het, naamlik om te bind en te ontbind, om te vergewe en te handhaaf.