Johannes 3=1-17 LR2006
Johannes 3:1-17 LR2006
11 JUNIE 2006
DRIE-EENHEIDSONDAG
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 3:1-17
Ander tekste: Jesaja 6:1-8; Psalm 29; Romeine 8:12-17
Inleiding
Nadat daar vir die eerste gedeelte van die kerkjaar (vanaf Advent tot Hemelvaart) op die betekenis van die lewe en werk van Christus gefokus is en tydens Pinkster op die werk van die Heilige Gees, word daar op hierdie Sondag gefokus op die Drie-eenheid – om daarmee te beklemtoon dat die groot heilsdade die werk van een God is. Die kleure vir hierdie dag is wit en goud.
Diensorde
God VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied
Lied 179 “Vader in die hemel”
Aanvangswoord
Jesaja 6: 3
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”
Seëngroet
“In die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees”
Loflied
Psalm 29 “Prys die Here, hemelinge”
Geloofsbelydenis
(Verkorte vorm van die Belydenis van Athanasius)
Ons glo dat ons die één God in die drievuldigheid
en die drievuldigheid in die eenheid eer,
sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel;
want die persoon van die Vader is ’n ander as dié van die Seun en die Heilige Gees,
dié van die Seun is ’n ander as dié van die Vader en die Heilige Gees,
en dié van die Heilige Gees is ’n ander as dié van die Vader en die Seun;
maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees is één Godheid
met gelyke eer en mede-ewige majesteit.
Soos wat die Vader is, so is ook die Seun en so is ook die Heilige Gees:
die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape en die Heilige Gees is ongeskape;
die Vader is onmeetlik, die Seun is onmeetlik en die Heilige Gees is onmeetlik;
die Vader is ewig, die Seun is ewig en die Heilige Gees is ewig;
nogtans is dit nie drie Ewiges nie, maar één Ewige;
net so ook nie drie Ongeskapenes of drie Oneindiges nie,
maar één Ongeskapene en één Oneindige;
net so is die Vader almagtig, die Seun almagtig en die Heilige Gees almagtig:
en tog is dit nie drie Almagtiges nie, maar één Almagtige;
so ook is God Vader, God is Seun en God is Heilige Gees;
en tog is dit nie drie Gode nie, maar dit is één God;
net so is die Heer Vader, die Heer Seun en die Heer Heilige Gees;
en tog is dit nie drie Here nie, maar dit is één Heer;
en in hierdie Drievuldigheid is niks eerder of later nie
en is niks meer of minder nie,
maar al drie persone is onderling mede-ewig en volkome aan mekaar gelyk,
só, dat in alle opsigte, die eenheid in die Drievuldigheid
en die Drievuldigheid in die eenheid geëer moet word.
Sang
Lied 449:4 “Ons loof U, Vader, Seun en Gees”
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed vir die opening van die Woord
Skriflesing
Johannes 3:1-17
Prediking
DIENS VAN DIE TAFEL
Skriflesing
Romeine 8:12-17
Nagmaalgebed
Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die brood,
die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.
Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!
Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die wyn,
die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.
Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!
Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.
Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom
sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.
Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees
sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,
’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.
deur Christus, saam met Christus, in Christus,
behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,
en die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.
Gemeente: Amen.
Instellingswoorde
Uitdeling en gebruik van brood en wyn
Lofprysing
Lied 453 “Aan die Vader dank en ere”
Voorbidding
UITSENDING
Slotsang
Lied 188 “Kom, dank nou almal God”
Seën
PREEKSTUDIE – JOHANNES 3:1-21
Inleiding
Hierdie preekstudie is `n saamgevoegde produk van prof Cloete se onvoltooide gedagtes oor die teks en die redaksie se aanvullende gedagtes. Die redaksie het geoordeel dat die opmerkings van prof Cloete waardevol is, veral gelees teen die agtergrond van die hartseer persoonlike omstandighede van sy seun se dood in die tyd toe hy aan die studie begin werk het. Onder Konteks hieronder word iets hieroor gesê. Volgens die redaksie bied hierdie eksistensiële ervaring `n besondere konteks vir ons nadenke oor Johannes 3:1-21 op Drie-eenheidsondag en word daar, naas die byvoeging van ’n preekvoorstel, geen wysigings of toevoegings aan prof Cloete se notas gemaak nie.
Teks
1. Binne die breë struktuur van die Johannesevangelie (proloog, narratiewe-, diskoers-, lydingsgedeelte, epiloog) word dié perikoop deel van die verhalende seksie.
2. `n Tipiese verskynsel van die verhalende gedeelte is dat dit byna altyd ingelei word deur `n gebeurtenis en/of `n vraag wat deur `n tweegesprek (Jesus en iemand) gevolg word en wat eindig met `n monoloog van Jesus waarin Hy onderrig gee oor die aangeleentheid.
3. Hierdie perikoop begin met `n dialoog tussen Nikodemus en Jesus wat gevolg word met `n verdere uitleg en onderwysing deur Jesus wat dikwels ook gerig is op sy dissipels met die oog op hulle vorming.
4. Binne die breër teologiese ontwikkeling word die gedeelte voorafgegaan deur die wysgerige inleiding, die optrede van Johannes die Doper, die roeping van die eerste dissipels, die bruilof te Kana en die reiniging van die tempel. Samevattend sou dit beskrywe kon word as die aankondiging van die nuwe Messiaanse feestyd wat aangebreek het.
5. Dit is ook die tyd van reiniging. Dit geld veral vir die Jode as die volk van God in die Ou Verbond. Die vanselfsprekendheid waarmee hulle dit aanvaar het, veral by monde van die Fariseërs, word nou bevraagteken. Die ware dissipelskap is gebaseer op `n nuwe geboorte. Hierdeur sal ook Israel nou gereinig word.
6. In die perikoop word byna die hele sogenaamde heilsleer gedek: Jesus, as die gesant van God; die Gees, wat die herskepping bewerk; die Seun van die mens, wat verhoog word; die koninkryk as die toekomstige (hemelse) werklikheid; die geloof; die oordeel of redding; die ewige lewe, ensovoorts. (Op Drie-eenheidsondag is hierdie gedagtes oor die geheimenisvolle “wese” van die Heilige Drie-eenheid vir die prediking belangrik – vergelyk Hickman, Saliers, Stookey en White.)
7. Kenmerkend is ook dat baie van die temas wat in die proloog aangekondig is, hier weer ter sprake kom: die Seun wat van God af gekom het; kinders, nie van nature nie, maar deur die Gees; die getuienis; Moses; die wêreld; lig en duisternis; genade, waarheid en oordeel; ens.
Konteks
1. Die beweging van bo na onder en andersom oorheers die beweging van voor na agter. God wil dat ons weet wat die hemel beweeg en daarom stuur hy sy Seun na hierdie wêreld om dit bekend te maak.
2. Ons leer dat God beweeg word deur liefde vir die wêreld in dit wat Hy doen deur middel van sy gestuurde Seun. Hierdie liefde is nie maar net `n oppervlakkige, gevoelsmatige ervaring nie, maar `n selfverloënende, selfvernederende, selfopofferende liefde soos geopenbaar in die koms van die Seun.
3. Die demonstrasie van die liefde waarin God sy Seun gestuur het om te sterwe, word nie uitgedruk in terme van sy sware lyding nie, maar met die omvattende begrip “gegee”. Dit sluit sy menswording, aardse lewe, maar veral sy lyding en kruisdood in. Die gebruik van die begrip “gegee” is in ooreenstemming met die Johannese perspektief op die heilsgebeure. Johannes kyk nie na die gebeure van agter na voor nie, maar van voor na agter; nie vanuit die gesigspunt van die ruwe kruis nie, maar vanuit dié van die opstanding.
4. Daarom word die kruisiging nie as neerdaling gesien nie, maar as verhoging; nie as vernedering nie, maar as verheerliking. Jesus se moeitevolle lyding word nie verbind met die grootheid van die menslike ellende nie, maar met die resultaat wat dit oplewer, naamlik die vreugde en heil wat dit bring. Die feestyd het aangebreek.
5. Die vreugde sluit in die ewige lewe wat dit bring. Vir die Nuwe-Testamentiese mens was die begeerte om vir ewig te lewe `n prioriteit. Sterflikheid was die teken waarin alles gestaan het en wat almal gevrees het. Daarom was dit blye nuus dat `n mens ook weer gebore kan word om nooit weer te sterf nie, alhoewel dit vir menslike begrippe (soos vir Nikodemus) moeilik is om te verstaan.
6. Die moontlikheid was nou daar deur die dood en opstanding van God se enigste Seun, om gered te word van die oordeel en die lewe te kan hê. Dit is `n inklusiewe moontlikheid, beskikbaar vir die hele wêreld, in teëstelling met die eksklusiewe moontlikheid van vroeër met die voorkeur vir die Jode. Dit is so inklusief dat die hele skepping (kosmos) betrek word.
7. Dit vereis egter geloof in die Seun – aanvaarding dat hy die gesant van God is wat deur hom gegee is om die wêreld te red. Daar is `n nuwe eksklusiwiteit, deur geloof alleen. En met die teken van die doop (water) en die werking van die Gees.
8. So word die negatiewe atmosfeer van doodsheid en neerslagtigheid deurbreek deur die krag van die goddelike liefde om die lewe te laat seëvier. Laat ons `n heildronk drink: Hoera vir die lewe!
9. Op grond van bogenoemde paar gedagtes oor ons teksgedeelte kies Cloete as tema vir `n preek op hierdie Drie-eenheidsondag: Hoera vir die lewe! Dit is `n veelseggende keuse, aangesien hy juis in die tyd wat hy hierdie gedagtes neergeskryf het, sy seun aan die dood afgestaan het. Te midde van persoonlike hartseer en leed roep die teks van Johannes 3:1-21 by hom die reaksie op: Hoera vir die lewe! So laat God drie-enig in sy geheimenisvolle wese ons `n kant van die werklikheid sien wat nie vir die natuurlike mens sigbaar of verstaanbaar is nie.
9. Johannes 3:1-21 word hier aangebied binne die konteks van die kerklike jaar op Drie-eenheidsondag. Soos die laaste Sondag van die kerkjaar (Sondag van Christus die Koning), is Drie-eenheidsondag ook `n oorgang Sondag tussen die sogenaamde hoë kerklike seisoen (feestye) en gewone tyd (Koninkrykstyd). Op Drie-eenheidsondag vier die kerk die geheimenis (misterie) van God se wese as Heilige Drie-eenheid. Predikers kies dikwels `n abstrakte dogmatiese benadering tot die prediking op hierdie Sondag. Hickman, Saliers, Stookey en White stel egter `n ander benadering voor: “... to treat Trinity Sunday as a day in which we praise and adore the infinitely complex and unfathomable mystery of God’s being to which we praise and adore the Holy Trinity.” Volgens hulle is dit gepas om op hierdie Oorgangsondag te “pause” en onsself heelhartig oor te gee aan aanbidding en lofprysing van die “wese” (God se identiteit; Hoe Hy Homself openbaar) van die drie-enige God, in onderskeiding van sy “dade” (Hoe God Homself in die geskiedenis openbaar deur sy betrokkenheid in die wêreld en hoe die Bybel oor hierdie heilsdade praat). Die nagmaal vorm `n belangrike element van die prediking op Drie-eenheidsondag. Hickman (et al) beskryf die nagmaalsviering as “supremely expressive” ten opsigte van ons viering van die misterie van die Heilige Drie-eenheid.
10. In onderstaande preekvoorstel het Orsmond juis oor hierdie perikoop tydens `n nagmaalviering gepreek, met twee fokuspunte: die kommunikasie tussen Jesus en Nikodemus, met klem op Nikodemus se misverstand van Jesus se boodskap; ons kommunikasie oor die dinge van God waarvan ons dikwels min verstaan, maar ook hoe God dan op vreemde wyses met ons kommunikeer.
Preekvoorstel
Kommunikasie is 'n algemeen menslike aktiwiteit. Ons kan nie saam as mense bestaan, sonder om met mekaar te kommunikeer nie. Dit is deel van die menslike kondisie.
Die erediens in die gemeente is ook 'n gebeure waarin kommunikasie plaasvind. In die erediens is dit kommunikasie tussen God en sy gemeente. Daarom word die erediens ingerig in die vorm van 'n gesprek. God praat en die gemeente reageer. In die nagmaal word op 'n besondere wyse gekommunikeer. In die tekens van brood en wyn laat God die gemeente deelneem aan Christus se lyding, dood en opstanding. Daarom praat ons van kommunie in die nagmaal. Kommunikasie. Deelname aan God se reddingshandelinge.
Sonder kommunikasie tussen mense is geen sosiale bestaan moontlik nie. Sonder kommunikasie tussen God en mens kan die geloof nie groei nie. Vir die kerk van Christus is kommunikasie onontbeerlik.
Maar ons weet ook dat kommunikasie tussen mense maklik skeefloop. Misverstand en steurnisse veroorsaak dat die boodskap nie altyd reg ontvang word nie. Daar word vertel van twee studentevriende wat mekaar na jare weer iewers raakloop. Die een se vrou was ook saam student. Daarom het die ander vriend oor haar navraag gedoen. “Hoe gaan dit met Sannie?” het hy gevra. Die man was ’n oomblik stil, maar antwoord toe: “Het jy nie gehoor sy is hemel toe nie?” Dié nuus het die vriend onkant betrap, en hy antwoord: “Ek is jammer om dit te hoor ...” Maar toe besef hy dat dit verkeerd verstaan kan word. Hy probeer toe weer. “Ek bedoel, ek is bly om dit te hoor.” Maar dit klink toe vir hom nog meer verkeerd. Hy probeer toe maar sy tweede fout regstel: “Ag, eintlik wou ek maar net sê: ‘Ek is verbaas om dit te hoor’ ...”
Kommunikasie loop dikwels skeef omdat ons woorde verskillende betekenisse het en ons dit binne verskillende verwysingsraamwerke plaas. Ek hoor 'n boodskap normaalweg binne die raamwerk van wat vir my persoonlik bekend is. Dit wat ek al beleef het. Daarom mis ek dikwels die bedoeling van die boodskap wat 'n ander persoon aan my wil kommunikeer.
In Johannes 3 word so 'n tipiese misverstand beskryf. Nikodemus, die bekende leermeester van Israel, kom vanuit die nag by Jesus aan omdat Jesus se wondertekens hom laat besef het dat God self hier werksaam is.
Wanneer Nikodemus vir Jesus identifiseer as 'n leermeester wat van God af kom, antwoord Jesus Nikodemus deur met hom oor toegang tot die koninkryk van God te praat. Dit gaan dus oor die vraag na dit wat met 'n mens moet gebeur om in die koninkryk van God in te kan gaan. Wat is nodig om die koninkryk van God te sien? Jesus sê vir Nikodemus, om in die koninkryk van God te kan ingaan, moet iemand weer gebore word.
Jesus praat dus met Nikodemus oor die lewe en die bron van waaruit dié lewe kom, maar Nikodemus verstaan dit nie. Hy ken nie die raamwerk van Jesus se boodskap nie. Hy het nog nie kennis van God se koninkryk nie. Al waarvan hy kennis dra, is die natuurlike, die aardse lewe. Daarom die misverstand en verbasing: “Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”
Rabbi, ek het jou wondertekens gesien. Dit val buite my ervaringswêreld. Hoe word 'n mens weer gebore?
In die nagmaal sien ons God se tekens. Maar sien ons dit as die tekens van God se wese? Dit is brood en wyn wat ons heenwys na die gekruisigde Jesus. Hy, wat die nuwe lewe, die wedergeboorte, vir ons kom aanbied het.
Nikodemus, sê Jesus vir hom, Ek praat van 'n ander soort lewe; 'n geestelike lewe. 'n Nuwe geboorte wat net God kan gee: “As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie ...” Maar dit kon Nikodemus nie verstaan nie. Daarom sy vraag (vers 10): “Maar hoe is dit moontlik?”
Dit bring 'n tweede saak wat met kommunikasie te doen het ter sprake, naamlik ons eie kennis, of dalk onkunde, oor die dinge waarvan ons praat. Is dit nie so dat ons dikwels met baie groot sekerheid uitsprake maak oor dinge waarvan ons eintlik niks weet nie?
Dit is soos die seuntjie wat sy pa oor die son uitgevra het. “Pappa, hoekom kom die son in die môre op?” “Nee, my kind, ek weet nie eintlik nie,” het die pa gesê. “Pappa, en in die aand as die son sak, waarheen gaan dit dan?” “Nee, my kind, dit weet ek ook nie,” het die pa gesê. “Pappa, hoe ver is die son van die aarde af?” “Nee, my kind, ek kan dit ook nie regtig sê nie.” “Pappa, weet jy hoe warm is die son?” “Haai, my kind, ek weet net dat hy die afgelope dae so warm was dat ons skaars in die wingerd kon werk.” “Pappa, ekskuus tog dat ek so baie vrae vra.” “Toe maar my kind, hoe sal jy dan leer, as jy nie vra nie?”
“Nikodemus,” antwoord Jesus hom, “jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan nie hoe die Gees van God nuwe lewe skenk nie ...”
Ja, ons praat oor dinge waarvan ons maar min weet. Ons gee geen antwoorde op lewensvrae nie, maar maak asof ons elke oplossing aanbied.
Wanneer God in die nagmaal met ons praat, in die brood en wyn, is dit soos die slang in die woestyn teken van redding en genesing. Die brood en die wyn stimuleer ons sintuie sodat ons die verhoogde Jesus aan die kruis kan raaksien en kan besef dat net Hy die weg en die waarheid en die lewe is.
Pappa, hoe kan ek die koninkryk van God sien? Kyk na die kruis, my kind. Daar hang Jesus. Hy het die nuwe lewe gebring.
So moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê ...
Pappa, hoekom eet ons brood en drink ons wyn by die nagmaal? Kyk na die kruis, my kind. Daar hang Jesus. Sy liggaam is ook vir jou gebreek en sy bloed het vir jou gevloei.
“Maar hoe is dit moontlik?” vra Nikodemus. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê ...”
Hoe sien 'n mens die koninkryk van God? Lied 303 in die Liedboek van die kerk sing:
Eet die brood, drink die wyn
Kom na Christus, Hy stil jou honger
Eet die brood, drink die wyn
Glo in Hom en Hy les u dors
God het sy Seun na die wêreld toe gestuur, sodat die wêreld deur Hom gered kan word.