Johannes 20=1-18 LR2006
Johannes 20:1-18 LR2006
16 April 2006
PAASFEESDIENS
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 20:1-18
Ander tekste: Psalm 118:1-2, 14-24; Jesaja 25:6-9; 1 Korintiërs 15:1-11
Inleiding
Paasfees is die groot feesdag in die lewe van die Christelike kerk. Ons het gedurende Groot Lydensweek en Goeie Vrydag intens meegeleef met die werklikheid van Jesus se passie – sy lyding en dood. Nou moet ons rou oor sy lyding en dood oorgaan in feestelike lof en aanbidding, want Hy het opgestaan. Dit moet egter 'n feestelikheid en lof wees wat uit die ware geloof gebore is. 'n Geloof wat spontaan saam met Tomas uitroep: “My Here en my God!” Dit is die fokus wat al die liturgiese tekste aan hierdie erediens gee.
Psalm 118 is 'n loflied aan die God van Israel wat uit die dood red (v 18-19). Dit begelei die gemeente om saam met Israel te bely: “Aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Jesaja 25:6-9 vertel van die feesmaal wat God vir al die volke (alle mense) gaan gee en waar Hy die dood vir ewig sal vernietig.
Johannes 20:1-18 (of tot die einde van die hoofstuk) is die aanbreek van hierdie feesmaal as Jesus die dood oorwin en as die opgestane Heer aan sy dissipels (kerk) verskyn. Die Nuwe-Testamentiese gemeente vier hierdie fees in die nagmaal, as herdenking daarvan sowel as verlange na die bruilofsmaaltyd van die Lam.
1 Korintiërs 15:1-11 is Paulus se herinnering aan die Korintiërs dat die opstanding van Jesus die hart van die evangelie is en roep hulle daartoe op om daaraan vas te hou – anders glo hulle pure verniet! Dit bied ook 'n uitbreiding op die verskyningsverhale soos deur Johannes in hoofstuk 20 weergegee.
In die algemeen kan ons opmerk dat hierdie fees meer feestelik en uitbundig as enige ander kerklike feeste gevier behoort te word. Die liturgiese kleure is wit, geel en goud. Dit is ook gebruiklik om die kerkruimte vir hierdie geleentheid met 'n oorvloed van blomme te versier. U kan die lidmate op Goeie Vrydag aanmoedig om bossies blomme saam te bring vir hierdie geleentheid. Dit kan dan op prominente plekke in die kerkgebou gesit word soos die lidmate die kerkgebou binnekom.
Die aansteek van die Paaskers/Christuskers is 'n sentrale en simboliese handeling in hierdie erediens. Dit is ook 'n ou gebruik om tydens hierdie diens die sogenaamde “Diens van die water” te hê. Indien u nie op hierdie Sondag die doop bedien nie, kan u ten minste 'n herinneringsplegtigheid hê waartydens God se beloftes onthou word en doopouers ook die geleentheid kry om hul doopbeloftes te herbevestig.
Diensorde
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Prosessie
Een moontlikheid is dat die gemeente voor die kerkgebou by die hoofingang vergader en daar met die aanvang van die diens deur die voorganger ontmoet word. Hy/sy groet hulle met die woorde: “Die Here het opgestaan!” Die feesgangers antwoord: “Hy het waarlik opgestaan!” Terwyl hulle 'n opstandingslied sing, gaan almal die kerkgebou binne. Die prosessie word gelei deur iemand wat die Paas-/Christuskers dra en dit dan op 'n prominente plek neersit. Soos die feesgangers inkom, sit hulle hul bossies blomme neer as simbool van die nuwe lewe en die vreugde wat Jesus se opstanding bring.
Aanvangswoord/Paasroep
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!
Voorganger: Moenie skrik nie: julle soek Jesus van Nasaret.
Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: As Christus nie opgewek is nie,
is ons prediking en julle geloof sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig,
is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: Dood, waar is jou angel?
Doderyk waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: Die dood is vernietig.
Die oorwinning is behaal.
Die koningskap oor die wêreld
behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde
en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: Hy moet as koning heers
totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: Hy wat op die troon sit sê:
“Kyk, Ek maak alles nuut!
Ek is die Alfa en die Omega,
die begin en die einde,
die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!
Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan! (uit 1 Kor 15).
Die Christuskers kan hier aangesteek word.
Indien u nie die liturgie kan uitdeel vir die gemeente nie, kan u dit oorweeg om iemand die responsiewe gedeeltes namens die gemeente te laat lees.
As alternatief kan u dit oorweeg om Psalm 118 te gebruik as aanvangswoord.
Die Psalm kan soos volg deur die gemeente hardop gelees word:
Voorganger: vers 1-4 se dele wat nie kursief gedruk is nie
Gemeente: vers 1-4 se dele wat kursief gedruk is.
Voorganger: vers 14-18
Gemeente: vers 19-21
Voorganger: vers 22-24
Die Christuskers kan hier aangesteek word.
Seëngroet
Sang
Lofsang: Kies 'n paar gesange uit: Lied 402 tot 424; NSG 110 tot 124.
DIENS VAN DIE WATER
Indien u nie die doop bedien nie, kan die volgende herinnering gedoen word: Die kinders kan na vore geroep word om om die doopvont te vergader. Roep God se beloftes by ons doop in herinnering. U kan Rom 6 hiervoor gebruik wat op die doop as inlywing in die dood en opstanding van Jesus klem lê.
U kan ook die volgende responsoriese gesprek gebruik:
Voorganger: Glo u in die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente: Ja, ons glo!
Voorganger: Weet dan dat die Vader 'n ewige genadeverbond met ons sluit
en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
Glo u in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
Gemeente: Ja, ons glo!
Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het
en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en opstanding ingelyf het.
Glo u in die Heilige Gees?
Gemeente: Ja, ons glo.
Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.
Sang
Lied 290; NSG 361
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed
Skriflesing
Ou Testament: Jesaja 25:6-9
Nuwe Testament: Johannes 20:1-18 (of tot by 31)
Sang
Lied 255; NSG 170
Preek
Antwoord
Sien die voorstelle in die preekvoorstel oor die deelname van die gemeente deur sang, tydens die preek.
Gebed
Die voorganger kan hierdie gebed waarneem of geleentheid gee vir gebede in groepies van twee/drie.
DIENS VAN DIE TAFEL
Geloofsbelydenis
Vredesgroet
Gebruik een van die nagmaalsgebede agter in dié bundel indien u nie die formulier gebruik nie. Indien u dit nie kan uitdeel nie, kan u iemand vra om die gemeente se respons namens die gemeente te lees.
Instellingswoorde
Uitdeel van tekens en kommunie
Antwoord
Lof en aanbidding: Indien u nie Psalm 118 as aanvangswoord gebruik het nie, kan u dit hier as lof gebruik of
'n paar gepaste lof- en aanbiddingsliedere sing.
Offergawes
As deel van ons danksegging
Voorbidding
By die tafel van genade en liefde bring ons die nood van ons gemeente en die wêreld na God toe.
UITSENDING
Skriflesing
1 Korintiërs 15:1-11
Slotsang
Lied 414; NSG 122
Seën
PREEKSTUDIE – JOHANNES 20:1-18
Teks en konteks
Burger het 'n preekstudie in Woord teen die Lig (I/9) oor Johannes 20:1-10 gedoen, Müller een oor Johannes 20:11-18 in dieselfde reeks en Cloete in Buvton se Preekstudies met liturgiese voorstelle (3 April 2005) oor Johannes 20:19-31. Burger kies om vers 1-10 binne die konteks van die hele hoofstuk te behandel. Mens kan inderdaad geen deel van Johannes 20 los van die res van die hoofstuk lees of oordink nie. Daarom bespreek ons ook vers 1-18 hier in die konteks van die hele hoofstuk, asook in die konteks van die groter evangelie.
Hoofstuk 20 is 'n kunstig verweefde verhaal wat die evangelie eintlik afsluit. Daar is heelwat kommentare wat reken dat hoofstuk 21 'n latere toevoeging is. Teen die tyd dat Johannes hierdie evangelie geskryf het, was daar reeds 'n hele groep verhale oor Jesus se opstanding en verskynings in omloop. Elke evangelis het 'n seleksie uit hierdie verhale geneem en dit op 'n wyse vertel wat hulle bedoeling met hul evangelie gedien het. Johannes se bedoeling met juis hierdie groep episodes van Jesus se opstanding is vir ons belangrik.
1. 'n Eerste opmerking is dat vers 30 en 31 'n belangrike sleutel is. In vers 30 verklaar Johannes dat hy 'n spesifieke seleksie gemaak het uit al die wondertekens wat Jesus gedoen het. Johannes het ses wondertekens uitgekies om te vertel. Die eerste een kom glad nie in een van die ander evangelies voor nie – die verandering van die water in wyn te Kana (hfst 2). Die opstanding van Jesus is moontlik die sewende wonderteken wat Johannes beskrywe (Cloete). Johannes wil sê dat Jesus se opstanding sy eintlike groot wonderteken is. Die getal sewe is deurgaans in die Bybel die numeriese simbool vir volmaaktheid. Sy opstanding was dus sy volmaakte wonder. Die finale wonder en ook die wonder waarin al die ander wonders vervulling vind.
Dit is ook interessant om daarop te let dat Johannes van wondertekens (Gr semeia) praat en nie van wonderwerke nie. Hy wil dus die tekenkarakter van Jesus se wonders beklemtoon. Hulle is almal heenwysings na sy identiteit. En volgens vers 31 is dit juis Johannes se bedoeling met sy hele geskrif om helder te sê wie Jesus is: “... die Christus, die Seun van God ...” Dit is een van die twee groot motiewe waarom Johannes die evangelie geskryf het. Dit staan egter in diens van 'n ander motief wat ook in vers 31 duidelik is: “... sodat julle kan glo.. en deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê”. Johannes het sy evangelie geskryf en spesifiek hoofstuk 20, om geloof in hulle harte in hierdie Jesus wakker te maak. En Hy weet dat geloof in Jesus lewe gee. Die tema van lewe loop soos 'n goue draad deur hierdie evangelie.
In hoofstuk 14 sê Jesus vir sy dissipels: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe, behalwe deur my nie.” Dit sluit weer aan by Jesus se uitspraak aan Marta met Lasarus se dood: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in my glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (11:25). En Jesus se opstanding bevestig hierdie aanspraak: Hy is die lewe – die dood het geen mag oor Hom nie. Die lewe-tema vind dus in hierdie hoofstuk sy hoogtepunt.
2. Daar is egter nog 'n ander opvallende ooreenkoms tussen hoofstuk 14 en 20 wat kan help om ons teks te ontsluit. In 14 kondig Jesus aan dat Hy na die Vader gaan. Hierdie tema speel net soos die lewe-tema 'n belangrike rol in die evangelie. Jesus is op pad na die Vader toe. Sy verlossingswerk sal eers voltooi wees na sy hemelvaart, want dan kan Hy terugkom om deur die kerk die wêreld mee te neem en voor te berei vir die nuwe hemel en die nuwe aarde. Dié tema is ook prominent in ons teks. Wanneer Maria voor Jesus neerval en haar arms om Hom gooi, herinner Hy haar aan hierdie waarheid: Die hoogtepunt kom nog – dit is op hande: “Moet my nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader, wat ook julle Vader is, na my God wat ook julle God is.’” (17). Dit is asof Jesus, sê Johannes, vir hulle as dissipels deur Maria wou laat weet: “Onthou julle wat Ek julle vertel het oor my opvaar na die Vader” (hfst 14)? Wel, dit gaan nou waar word. Dit is nie nou die tyd om bedroef te wees nie. Die klimaks/vervulling is hier!”
3. Johannes wil hê sy lesers moet in Jesus glo. In hoofstuk 20 gee hy in sy vertelling die gronde vir geloof in Jesus as opgestane Here: die ontdekking van die oop graf en Jesus se verskynings. Hy toon egter duidelik aan hoe die persone in die verhaal verskillend op die feite van die opstanding reageer. Hulle sukkel feitlik almal om te glo. Maria, Petrus, die groep dissipels en Tomas het meer nodig as sien en hoor. Net een persoon in hierdie verhaal glo “maklik” – die dissipel “vir wie Jesus baie lief was” – waarskynlik Johannes self. Die doeke in die leë graf was vir hom genoeg (8). Die rol van “die dissipel vir wie Jesus baie lief was”, is een van die uniekhede van hierdie evangelie. Dit is asof Johannes hom voorhou as die model-gelowige (Brown).
Dit is ook asof Johannes dwarsdeur die hoofstuk besig is om sy lesers voor te berei vir die woorde van Jesus aan Tomas: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (29). In ons teksgedeelte kom die woord “sien” sewe keer voor. Maria sien die oop graf (1). Sy sien die twee engele op die plek waar Jesus se liggaam moes wees (12). En sy sien vir Jesus, maar dink Hy is die tuinier (14). In al drie dié gevalle lei haar “sien” nie tot geloof nie. Eers toe Jesus met haar praat en Homself aan haar bekend maak, word die opstanding vir haar 'n werklikheid. Wanneer Petrus by die graf kom en ingaan, “sien” hy die doeke en die besondere manier waarop die kopdoek opgevou lê, maar hy kom steeds daaruit sonder om te glo. Maria, die eerste ooggetuie, wat so gesukkel het om te glo, word die eerste getuie van die opstanding. Haar “sien” het oorgegaan in geloof; danksy Jesus se verskyning aan haar (18).
4. En dit vestig ons aandag op die deernis waarmee Jesus met hulle almal werk. Jesus doen moeite om elkeen van hulle te ontmoet in hul ongeloof. Hierdie optrede van Jesus vind sy hoogtepunt in die moeite wat Hy doen om vir Tomas tot geloof te lei. Hy verwyt nie. Met liefdevolle moeite help Hy hulle tot geloof. Hulle geloof is die resultaat van sy verskynings. Dit laat ’n mens aan Paulus se woorde in Efesiërs 2:8 dink: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julle self nie; dit is 'n gawe van God.” Met sy selfopenbarings kweek Jesus die geloof in hulle hart – totdat hulle (Tomas) sê: “My Here en my God!” (28). Dit is hierdie belydenis van Tomas wat Johannes wil hê ons almal moet nasê!
5. 'n Laaste gedagte oor die teks. Daar is reeds by 3 hierbo verwys na die rol van die “dissipel vir wie Jesus baie lief was” in ons teks. Daar is redelike eenstemmigheid daaroor dat dit waarskynlik die uitdrukking is waarmee Johannes na homself verwys. Hy was deel van die verhaal – hy was self daar. Deur só na homself te verwys en nie net sy naam te noem nie, wou hy ook iets sê oor die spesiale verhouding wat hy met Jesus gehad het. Dalk wou hy ook juis daarmee iets sê oor die rol wat liefde in geloof speel. Hy is die enigste een wat met die eerste “sien” – glo. Burger stem saam met Brown wat sê: “Geloof is moontlik vir die geliefde dissipel, omdat hy as gevolg van sy liefdevolle verhouding met Jesus besonder sensitief geraak het vir Hom ... Die les vir die leser is dat liefde vir Jesus jou die insig gee om sy teenwoordigheid aan te voel. Die geliefde dissipel ... stel die voorbeeld vir almal wat nog sou volg” (My vrye vertaling, DPB jr. Dit gaan nie hier om Johannes se liefde wat beklemtoon word nie, maar Jesus s’n vir hom. In 1 Korintiërs 13 betrek Paulus ook geloof en liefde op mekaar: “Die liefde glo alles!” Is dit dalk moontlik dat Johannes vir ons wil sê dat mense wat vir Jesus liefhet, makliker in Hom glo? Is daar nie dalk 'n direkte verband tussen die vlak van intimiteit tussen my en Jesus, en my geloof in Hom nie? “The more I love Him, the more I trust Him?”
6. Burger se preekvoorstel fokus uit die aard van die teks wat hy behandel (20:1-10) op die ontdekking van die leë graf. Hy hanteer die teks binne die raamwerk wat vers 30 en 31 bied en vra die vraag: Hoe kom 'n mens tot geloof in die opstanding van Christus? Al manier is om met 'n oop gemoed te luister na die getuienisse van die apostels en die verhale wat hulle oor die opstanding vertel. En die eerste verhaal wat hul vertel is die ontdekking van die oop en leë graf. Dit is nie 'n verhaal wat ons in die eerste plek moet probeer verstaan nie. Die leë graf wil ons voorberei vir die onmoontlike wonder: Jesus het die dood oorwin – Hy het daaruit opgestaan. Hy wys vervolgens op die prominente rol wat die doeke in die verhaal speel. Dit was waarskynlik 'n teenvoeter vir die gerug dat Jesus se liggaam gesteel is. Maar dit wil bo alles aantoon hoe die doeke vir Johannes genoeg getuienis was om hom te oortuig dat Jesus opgestaan het. Die verhaal wil ons oproep om fyn te kyk en te luister. As ons hart fyn op God ingestel is, sal ons die klein tekens raaksien wat Hy gee en dit sal vir ons genoeg wees. Hy wys dan ook op die moeite wat God doen met die dissipels wat nie so maklik glo nie (Maria, Petrus, die elf en Tomas). Die Here werk geduldig met hulle. Maar die voorbeeld van Johannes bly steeds die beste weg. As ons naby genoeg aan God leef, sal ons dinge raaksien en raak-hoor waarvan ander nie altyd bewus is nie. Hier verwys hy dan na Paulus se woorde in Filippense 1:9-10 oor die fyngevoeligheid van die liefde en sê dat dit waarskynlik die rede is waarom die doeke vir die apostel van die liefde genoeg was.
7. Müller se preekteks fokus op 20:11-18. In 'n eerste ronde beklemtoon hy dat dit in die verhaal om die ontmoeting van 'n hartseer dissipel met die opgestane Here gaan en nie om die aard van Maria se hartseer nie. Jesus verskyn aan haar in haar hartseer en spreek haar aan. Müller oordeel dat die Paasberigte 'n korreksie bring op die traagheid, vreugdeloosheid, vrees en verstarring van die Paasgetuies. Dit is in 'n persoonlike ontmoeting met die Lewende en dit is deur ingetrek te word in sy vaart, dat ons verlos word van ons lamheid in so baie van ons geestelike aksies. In 'n tweede ronde toon hy aan dat dit eintlik in die hele evangelie en veral hier gaan om Jesus se verhoging ...” ‘n verhoging wat kruis, opstanding, hemelvaart en die belofte van die Gees in een geweldige bondel saamvat.” En as die verhoogde sal Hy alle mense na Hom toe trek. Die wêreldsending kom hier in die gesig. En so wil Jesus sy dissipels wat van die opstanding weet, maar vanweë hul vrees steeds in die bovertrek ingeperk is, in beweging kry. Maria moet hul gaan vertel dat Hy besig is om op te vaar. Pinkster is op hande! In 'n derde ronde toon hy dan aan hoedat Jesus die dissipels sy broers en kinders van die Vader noem. Dít sê hy, is net moontlik in 'n persoonlike verhouding met Hom. Sonder hierdie verhouding bly ons ten diepste sonder 'n God en sonder 'n naaste in 'n vaderlose en broederlose wêreld. Hy sluit in 'n laaste rondte af deur daarop te wys dat Maria na Jesus as “kurios” (Here) verwys wanneer sy vertel dat sy Hom gesien het. In hierdie titel weerklink die belydenis van die gelowige. Dit is as Kurios dat Hy almal na Hom toe sal trek en Hy sal dit doen deur die sending van sy Gees en deur die sending van 'n gehoorsame kerk.
Preekvoorstel
Ons preek hierdie teks op Paassondagoggend. Dit is die groot feesdag in die lewe van die Christelike kerk. Ons het gedurende Groot Lydensweek en Goeie Vrydag intens meegeleef met die werklikheid van Jesus se passie – sy lyding en dood. Nou moet ons rou oor sy lyding en dood, oorgaan in feestelike lof en aanbidding, want Hy het opgestaan. Dit moet egter 'n feestelikheid en lof wees wat uit die ware geloof gebore is. 'n Geloof wat spontaan saam met Tomas uitroep: “My Here en my God!”
Die metode wat Johannes gebruik om geloof op te wek is die vertel van 'n verhaal – 'n opstandingsverhaal. Ek stel voor dat ons Johannes toelaat om hierdie verhaal op hierdie Sondag deur ons aan die gemeente te vertel. Deur die verhaal met aanvoeling oor te vertel gee ons aan die verhaal self die geleentheid om te praat – net soos Johannes dit gedoen het. Dit sluit aan by Burger se gedagte in punt 6. Na my mening sal dit die beste wees om die hele hoofstuk 20 hiervoor te gebruik, omdat die verhaal oploop tot die hoogtepunt van Tomas se belydenis en Jesus se woorde aan hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie en tog glo.” Maar dit is sekerlik ook moontlik om net vers 1-18 te gebruik. Die vertelling van die verhaal sou op verskillende maniere gedoen kon word.
Vir diegene onder ons wat daarvan hou om vroeg met voorbereiding te begin: Skryf self 'n eenvoudige draaiboek wat gebaseer is op die teks of vra 'n bekwame persoon in u gemeente om daarmee te help. U kan hiervoor gebruik maak van wat in punte 1-5 gesê is. Dit sou dan dramaties deur 'n paar persone wat die karakters in die teks voorstel in die liturgiese ruimte opgevoer kon word. Die fokus kan daarop val om die gemeente te help om hul in te leef in die gemoedstoestand van die dissipels en die geduldige moeite wat Jesus doen om hulle te help om tot geloof te kom. Die lidmate moet hulself in Maria, Petrus en Johannes kan raaksien. Die ontwikkeling wat in Maria plaasvind, kan ook sterk beklemtoon word. Indien net vers 1-18 gebruik word, kan die verhaal oploop tot die hoogtepunt van Maria se getuienis aan die dissipels: “Ek het die Here gesien!” (18). Die gemeente kan deurgaans die dissipels wees met wie Maria, Jesus en Tomas praat. Só word hul in die verhaal betrek en ingetrek.
Indien u self tuis voel in die vertel van verhale, kan u die verhaal dramaties aan die gemeente oorvertel – asof u Johannes is. Leef u in elke karakter in en laat hulle deur u aan die woord kom. Gebruik eietydse taal en die inhoud van punte 1-5 onder Teks en konteks.
Verhalende prediking pas nie alleen by die teks nie, maar betrek ook die gemeente daarin – oud en jonk. Die gedagte is dat die verhaal van ons teks deur dramatiese vertelling of opvoering die gemeente sal bring tot 'n spontane belydenis van hul geloof – saam met Maria en/of Tomas. Die gemeente kan dan ook by hierdie momente in die verhaal geleentheid kry om Maria en Tomas se getuienis en belydenis na te sê. Dit kan aangevul word met sang (bv Liedboek 402-424 en NSG 110-124).
Indien u nie my voorstel wil of kan gebruik nie, kan u u laat lei deur Burger en Müller se voorstelle in punt 6 en 7 hierbo.
Bibliografie
Barrett, C K. The Gospel According to St John; Bouma, C. Het Evangelie Naar Johannes. Korte verklaring; Brown, Colin. The New International Dictionary of New Testament Theology, Vol. 3. Resurrection; Brown, Raymond E. The Gospel According to John. The Anchor Bible; Morris, Leon The Gospel According to John. New London Commentaries; Tasker, R V G. John. Tyndale New Testament Commentaries.