Johannes 5=14-29 LR2006
Johannes 5:14-29 LR2006
6 AUGUSTUS 2006
Agste Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 5:14-29
Ander tekste: 2 Samuel 7:1-14; Psalm 89; Efesiërs 2:11-22: Markus 6:30-34
Inleiding
Die tweede deel van Koninkrykstyd handel oor die feit dat die koninkryk nou aan die gang is; dit moet sigbaar word en wees. Die preekgedeeltes van die eerste ses Sondae (6/8 tot 10/9) kom uit die Johannesevangelie. Vandag se gedeelte handel spesifiek oor die Seun wat lewend maak. Die ander Skrifgedeeltes sluit in die liturgie daarby aan – soms direk, soms indirek. Markus 6 word nie benut nie.
Diensorde
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Voorbereidende sang (opsioneel)
Uitnooi: Lied 509 “Op berge en in dale”
Vasbind: Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”
Lofprys: Lied 196 “O kon ek jubel, Hemelvader”
Toewy: Lied 170 “Heilig, heilig, heilig” (Santo) (x3)
Aanvangswoord
Voorganger: Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?
Wie onder die hemelwesens is soos die Here?
Gemeente: Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ’n heilige ontsag.
Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom.
Voorganger: Here, almagtige God, wie is soos U?
Gemeente: U krag is groot, Here, u trou is oral! Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak (Ps 89:7-9,12).
Seëngroet
Voorganger: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Ef 1:2).
Gemeente: Dit gaan goed met die volk wat kan jubel tot u eer, wat in u lig lewe, Here. Ons besing u Naam die hele dag, ons prys u reddingsdade (Ps 89:16,1, aangepas).
Loflied
Psalm 89:1,2,5 “Vir ewig staan u trou, dis sonder wankeling” (Cloete-omdigting)
DIENS VAN DIE WATER
Wet
Voorganger: Ek stel jou eerste, sê die Here. Ek handhaaf vir altyd my trou teenoor jou; my verbond met jou staan vas. As jy nie handel volgens my woord nie en nie lewe volgens my bepalings nie, as julle my voorskrifte verontagsaam en my gebooie nie nakom nie, sal Ek julle oor julle oortreding straf en julle oor julle sonde met swaar slae tref. Maar my liefde sal Ek nie van jou terughou nie, my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie versaak nie, nie een van my beloftes terugtrek nie (Ps 89:28-34, aangepas).
Skuldbelydenis
Lied 243 “Heer, wees genadig” (x2)
Vryspraak
Voorganger: Vroeër was julle sonder Christus, ver van God af sonder deel van die verbonde en beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap. Deur Hom het ons almal deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Ef 2:12-19, aangepas).
Aansteek van koninkrykskers
Voorganger: Ons steek hierdie kers aan om ons te herinner aan die Here God se belofte in 2 Samuel 7:14: “Ek sal vir jou ‘n Vader wees, en jy sal vir My ’n seun, ’n dogter wees.” En omdat hierdie belofte geld van geslag tot geslag, herinner dit ons aan ons doop.
of
Nou gaan ons oor tot die viering van die doop.
Viering van die doopsakrament
Formulier
Ouers antwoord op vrae.
Verbondsgesinne (verkieslik elke gesin afsonderlik) kom na vore vir doophandeling.
Steek doopkers aan vir dopeling.
Dooplied
Lied 293 “Jesus neem ons kleine kinders”
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Psalm 119:57-64 (afsonderlik of saam met ’n vrye gebed)
Skriflesing
Johannes 5:14-29
Respons van gemeente (verkieslik sonder aankondiging)
Lied 206 “Halleluja!” (Zimbabwe) – orrelis gee net eerste akkoord.
Kindertyd en preek
Respons van gemeente
Lied 501 “Ek het, toe wilde storms gewoed het”
DIENS VAN DIE TAFEL
Opmerking: Indien die sakrament van die doop gevier word, hoef daar nie noodwendig ook nagmaal te wees nie. Die gemeente kan dan net herinner word aan die nagmaal. So ’n handeling word hier omskryf.
Indien daar nie ‘n doopviering is nie, kan die volledige nagmaal gevier word. Gebruik dan ’n liturgie soos by een van die ander Sondae (veral 13 Aug, 10 Sept 2006) en pas dit na goeddunke aan.
Nagmaalherinnering
Voorganger gaan staan by die nagmaalstafel; nagmaalsbeker en -bord reeds op die tafel.
Voorganger lees die derde betekenis van die nagmaal (= gemeenskapsmaal) uit die gewone nagmaalsformulier. Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Die nagmaal verbind ons nie net aan sy dood nie, maar help ons om in die gemeenskap met Hom te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig. Verder word ons deur dieselfde Gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam, in broederlike liefde saam verbind, soos die apostel sê: “Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood.”
Lief-en-leed/aankondigings
Voorbidding
Opneem van die offergawes
UITSENDING
Geloofsbelydenis
Gemeente almal hardop saam – 12 Artikels
Slotlied (voorgestelde temalied)
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”
Seën
Voorganger: Die Here se liefde en trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde (Ps 89:3, aangepas).
Antwoord
Die gemeente sing “Amen” Lied 313 (x2).
PREEKSTUDIE – JOHANNES 5:(1)14-29
Tema
Staan op, glo, die uur is nou.
Teks en konteks
Die meeste kommentare wys op die duidelike wending wat in Johannes 5 plaasvind. Enersyds word die selfopenbaring van Jesus in hoofstuk 2 tot 4 voortgesit deur `n verdieping in die rykdom van motiewe en onderwerpe. Andersins, en in `n nuwe element van die evangelie, word die radikale weerstand teen sy optrede deur die godsdienstige leiers – meesal as “die Jode” aangedui – geskets. Die volk, of “die skare”, word geskets as in voortdurende tweestryd met hulleself: dán onder die indruk van Jesus se volmag in woorde en dade, sodat baie tot geloof in Hom kom; dán weer word hulle geskets in hulle blywende onsekerheid oor sy identiteit en in hulle vrees vir die godsdienstige owerhede (Ridderbos, Smith).
Sy openbare bediening begin met die bruilof in Kana waar Hy die rituele wassingswater in wyn verander. Daarna reinig en verwyder (vervloek?) Hy die tempel as godsdienstige instelling. Hy “is” immers die beste wyn wat vir laaste gebêre is.
In hoofstuk 3 en 4 ontmoet Hy verteenwoordigers van die Joodse ortodoksie en heterodoksie in die persone van Nikodemus en die Samaritaanse vrou. Vir Nikodemus blyk dit onmoontlik om Jesus te verstaan, veral as nuwe Openbaring van God. Die Samaritaanse vrou, daarenteen, verstaan die verskil tussen die water van Jakob se put (staande, staties, moet geskep word) en die fonteinwater (opborrelend, lewegewend) van Jesus as fontein van die lewe. Op grond van haar getuienis kom baie van haar landgenote tot geloof in Hom.
Nadat Jesus die regeringsamptenaar se seun gesond gemaak het, keer Hy terug na Jerusalem waar Hy die verlamde genees op, wat later in die verhaal blyk, `n Sabbatdag was. Hieroor “trek die Jode te velde” teen Jesus. Hy verweer Hom deur na die werk van God as die werk van sy Vader te verwys. Hieroor erg “die Jode” hulle eers en uit die imperfektum van vers 18 word afgelei dat hulle hier begin met herhaalde pogings om hom te neutraliseer.
Die spanning word effens verlig deur Jesus se (onverklaarde) terugkeer na Galilea waar Hy die skare voed, ’n storm op see stil maak en ’n lang diskoers en debat voer met hulle wat gevoed is. Selfs sy dissipels neem aanstoot, maar het niemand anders om na toe te gaan nie. Petrus kom namens hulle selfs met `n belydenis, hoe on-af en voorlopig ook al, van Hom as die Heilige van God vorendag.
Sommige kommentare (vgl Schnackenburg, Sloyan) verkies om hoofstuk 6 voor 5 te plaas in die volgorde van 4,6,5,7. Die vernaamste argument hiervoor is dat 6:1 veel beter by die slot van hoofstuk 4 sou aansluit as by die slot van hoofstuk 5. Ridderbos behou op grond van inhoudelike argumente en die afwesigheid van enige teksgetuienis die volgorde 4,5,6,7. Wat die inhoudelike betref, is sy argument dat die nuwe inset in hoofstuk 5 te Jerusalem en die daarin sentraalstaande selfopenbaring van Jesus as die Seun van God uit die oogpunt van die totale opbou van die evangelie hoogs sinvol is. Vir die prediker is hierdie pro en contra argumente bloot van akademiese belang. Knip-en-plaktegnieke is gelukkig nie vir die prediker beskore nie. Die teks moet uitgelê word soos wat die teks hom aanbied. Argumente kan in die kommentare nagegaan word.
Ek vind die teksafbakening soos voorgestel ietwat vreemd. Immers is dit `n Johannese tegniek om `n wonder/-teken telkens te laat opvolg deur `n diskoers of gesprekvoering daaroor. Die opvolgende diskoers kan net beter verstaan word in die lig van die wonderteken. Ook gesien in die lig dat Johannes 5 oor die volgende twee Sondae voorgeskryf is, sal ek op hierdie Sondag die teks vanaf vers 1 gebruik. (“… hoe men zich de samenvoeging van de verschillende elementen – het wonder, de sabbat, Jezus’ dispuut – ook meen te moeten denken, het valt niet te ontkennen, dat zij … als een organische eenheid zijn verbonden …” sien 218 ev by Ridderbos.)
Enkele opmerkings oor die detaileksegese: Behalwe met die genesing van die regeringsamptenaar se seun (4:46b ev), neem Jesus telkens die inisiatief in die genesing van mense (vgl 9:1). Die feit dat Jesus weet hy was baie lank al siek, maak duidelik dat Hy die man nie net “in die oog kry” nie, maar hom werklik in al sy ellende sien. Daarom is sy vraag (“wil jy gesond word?”- `n vraag vol mag en belofte, Ridderbos) nie die aanknoop van `n gesprekkie nie, maar `n direkte aanbod van `n nuwe moontlikheid waarop hy die verlamde attent wil maak. Die bevel “staan op” (Gr egeire) sal later in vers 21 `n wesenlike rol speel.
Oor die verlamde se reaksie is daar uiteenlopende mening. Brown beskou hom as een “(who is) in his obtuseness very different from the clever blind man … in ch. ix. The personality traits that he betrays serve no particular theological purpose and are so true-to-life …” en “one could almost be amused by the man’s unimaginative approach to the curative waters. His crotchety grumbling about the ‘whippersnappers’ who outrace him … betrays a chronic inability to seize opportunity, a trait reflected again in his oblique respons to Jesus’ offer of a cure” (Brown). Die feit dat hy sy Geneesheer laat wegkom, is nog `n bewys van sy “dullness”. Groenewald sien sy optrede in 15 as selfverdediging (hy is immers aangekla van Sabbatsontheiliging waarvoor die doodstraf opgelê kan word). Hy antwoord ook nie hulle vraag oor wie hom beveel het om sy bed te dra nie, maar sê dit was Jesus wat hom gesond gemaak het. “Vir hom is sy gesondmaking veel belangriker as die onderhouding van Sabbatsvoorskrifte. Hiermee verdwyn die man uit die verhaal …” (Groenewald). Miskien is Calvyn se woorde die naaste aan die waarheid: “This sick man does what we nearly all do. He limits God’s help to his own ideas and does not dare promise himself more than he conceives in his mind” (In Morris).
Sommige komentatore wil vers 9b-13 as `n latere byvoeging tot die vertelling beskou – die sogenaamde sekondêre Sabbatsmotief. Haenchen het daarop gewys dat 9a geruisloos by 14 aansluit en dat die vertelling ‘n eenheid sonder 9b-13 sou vorm. Hierteenoor argumenteer Brown dat die Sinoptici telkens Jesus se optrede op ’n Sabbat beskryf asof Hy met opset (“deliberately”) toetssake wou skep om sy posisie ten opsigte van die wet uit te klaar (Sien ook die imperfektum epoiei in v 16 – “seems to imply that other sabbath cures were known” Zerwick & Grosvenor.) Saam gesien met die feit dat in hoofstuk 9 die leser ook eers laat ingelig word oor die Sabbat, is daar geen rede om dit nie as deel van die vertelling te beskou nie. “One almost (sic JCR) needs the Sabbath motif to give this story significance” (Brown, sien ook Ridderbos soos hierbo aangehaal).
Oor Jesus se woorde aan die geneesde in 14 skryf Ridderbos dat Jesus se genesingswerke nie buite die vergifnis van sonde omgaan nie, maar eerder die uitvloeisel daarvan is. Die genesingswonders is die bewys dat God die mens in die totaliteit van sy bestaan, ook in die mens se vervreemding van Hom, toetree. Die opdrag om nie meer sonde te doen nie, slaan nie op `n bepaalde sonde waardeur nog erger siekte of teenstand op die hals gehaal sal word nie, maar op die dreigende gevaar om hom met (bloot) sy nuwe gesondheid tevrede te stel en nie van sy soveel diepere verlorenheid as sondaar bewus te wees en ook daaruit op te staan nie.
Oor die geneesde se verdere optrede wys Ridderbos op die kontrasterende optrede van die blinde in hoofstuk 9. Anders as die blinde, wat tot Jesus se verdediging oorgaan, selfs Hom aanbid, keer die geneesde verlamde terug na “die Jode’. Hy sien in hom een wat in sy ou wêreld bly en nie toelaat om daaruit gelei te word nie. “Het is het beeld van de mensen, die door Jezus macht en woorden, hoe bevrijdend ook in hun uitwerking zich niet laat bewegen tot de overgang in het koninkryk van God … kortom het beeld van een bepaald antwoord op het evangelie, waarmee de evangelist zijn lezers, ook zonder nadere uitleg, op een onmiskenbare wijze confronteert” (Ridderbos).
Die Jode se klag teen Jesus is tweërlei: Hy verbreek die Sabbat en stel Hom aan God gelyk. Van hier af word dit sy vervolgers se “habitual attitude” om Hom te vervolg (Morris). In sy verweer vestig Hy die aandag op sy Persoon. “Nowhere else in the Gospels do we find our Lord making such a formal, systematic, orderly, regular statement of His own unity with the Father, His divine commission and authority, and the proofs of His Messiahship, as we find in this discourse” (Ryle, deur Morris aangehaal). Dit is dan ook net op grond van hierdie verhouding dat Hy by magte is om die wedergeboorte te skenk en om die lewenswater te gee. Insgelyks word sy aanspraak om die brood van die lewe, die Goeie Herder te wees hierop gebou.
Morris verdeel Jesus se verweer in drie dele: Jesus se verhouding tot die Vader (19-24); sy volmag om te oordeel (25-29); en die getuienisse aangaande Hom (30-47).
Jesus beklemtoon die eenheid tussen Hom en die Vader: “he cannot act in independence of the father. He can do only the things He sees the Father doing … The result of this is that it is the things the Father does that the Son does too, not in imitation, but in virtue of His sameness of nature” (Morris). Hy haal Agustinus hieroor aan: “Augustine goes from the thought that the Father and Son are inseparable to the thought of the eternal generation of the Son. The generating flame is coeval with the light which it generates: the generating flame does not precede in time the generated light; but from the moment the flame begins, from that moment the light begins. Show me the flame without light, and I show thee God the Father without Son. accordingly, ‘the Son cannot do anything of Himself, but what He seeth the Father doing,’ implies, that for the Son to see and to be begotten of the Father, is the same thing” (Morris).
Volgens die Rabbyne werk God steeds, ook op die Sabbat. Hy beskik oor die sleutel om reën, die sleutel tot geboorte (Gen 30:22) en die sleutel tot die opstanding van die dooies (Eseg 37:13) en omdat hierdie dinge op die Sabbat gebeur, was daar by hulle nie twyfel oor die “dat” van God se werk op die Sabbat nie. Jesus sluit in sy verweer by hierdie werk van die Vader aan. Soos die Vader lewe gee, gee Hy lewe (21). In 22 en 23 ontvang Hy `n tweede “werk” van die Vader, naamlik dié van oordeel. Hierdie oordeel moet in Ou-Testamentiese verband gesien word as die verdediging en handhawing van die regverdige (Deut 32:36; Ps 43:1) wat die ander kant van die muntstuk van lewe-gee is.
Daarmee kom die eskatologie ter sprake – enersyds die sogenaamde finale eskatologie van vers 26-30 en aan die ander kant die sogenaamde gerealiseerde eskatologie van vers 19-25. Bultmann sien in 26-30 die hand van die (kerklike) redaktor wat Johannes se radikale gerealiseerde eskatologie in lyn wil bring met dié van die kerk wat nou reeds lank wag op die paroesie. Brown sien op voetspoor van Boismard presies die teenoorgestelde. Eerder is die eskatologie van 26-30 volgens hom die ouer aanvaarbare vorm, terwyl 19-25 `n herbesinning van die ouere is, as antwoord op en verklaring vir die vertraagde paroesie.
Ridderbos wil die heilshistoriese eenheid van hede en toekoms handhaaf. Hy wys op die gebruik van “Seun van die mens” in 27 en wys daarop dat in die res van die evangelie hierdie term gebruik word wanneer die transendente karakter van Jesus se messianiteit en die allesomvattende hede en toekoms-omspannende sending van Jesus ter sprake gebring wil word. Van `n dichotomie van mekaar uitsluitende eskatologieë is daar geen sprake nie, nog minder van `n sogenaamde apokaliptiese kompensasie. Veel eerder word die onlosmaaklike verband tussen die nou en die dan sigbaar.
Preekvoorstel
Ten spyte van die klem van kommentare op die belang en diepgang van hierdie hoofstuk is homiletiese materiaal hieroor uiters beperk.
Sloyan (in `n homiletiese kommentaar) kan wat die homilese betref, nie meer sê as: “The profundities of the Fourth Gospel are such that they do not come trippingly from the tongue of the average shallow preacher (who is most of us) (my kursivering). But the words sit there on the sacred page as an invitation to a wrestling-match of the spirit, literally an ‘agony’. The congregation is blessed that has a preacher who loves them enough to do that for them: Wrestle with these profundities for the good of all” (Sloyan).
Omdat ek my baie goed kan identifiseer met die gekursiveerde gedeelte, stel ek die volgende skets voor: Inleidend kan gewys word op die valse gronde waarop ons ons vertroue dikwels stel. Soos die verlamde is ons oë dikwels gerig op en ons hart opgehang aan net dit waaraan ons gewoond is. In ons naïwiteit en bygeloof herken ons dikwels nie die nuwe moontlikhede wat die Here in ons lewe skep nie.
Hy skep hierdie nuwe lewensmoontlikhede dikwels nie as gevolg van ons geloof nie, maar, soos in die verlamde se geval, ten spyte van ons ongeloof. Anders as in die vorige perikoop is dit opvallend dat “glo” of “geloof” glad nie ter sprake kom tydens die genesingswonder nie. Ook soos wat glo en geloof glad nie ter sprake kom by ons doop en teken van ons redding nie. Wat net maar bewys is dat die lewegewende krag van Jesus afkomstig is. En dat Hy vry is om dit te gebruik soos Hy wil. Hy word selfs nie deur “geloof” ingeperk nie. Hy maak nuut en lewend omdat Hy God aan ons bekend wil stel. En hierdie kwaliteite lê immers aan die hart van God se wese (Joh 3:16).
Omdat Hy ons in `n nuwe verhouding tot God gestel het, word ons opgeroep om nie meer te sondig nie. As ons na sonde kyk as `n reeks etiese en morele moets en moenies, is dit `n onmoontlike opdrag. Maar Johannes leer ons `n ander beeld van wat sonde is. Ten diepste is sonde, volgens die vierde evangelie, om nie in Jesus te glo nie en per implikasie om nie in die Vader te glo wat Hom gestuur het nie.
Om nie te glo nie, is om die duisternis eerder lief te hê, is om wêrelds te wees, om nie nuutgebore te wees nie, om nie God en ons naaste lief te hê nie. Dit alles volgens die vierde evangelie. Maar Jesus roep ons op om in Hom te glo, aan te hou glo. Volgende Sondag gaan ons na vier redes/getuienisse luister waarom ons kan glo. Wanneer ons glo weet ons dat ons in `n nuwe verhouding oorgestap het, hier en nou reeds. Ons besit nou reeds die ewige, of die kwaliteit, of die ware lewe. Trouens, ons weet dat indien ons sou sterf voor Christus se wederkoms, dat ons oordeel daarin sal bestaan dat God vir ons sal wees en vir ons saak sal opkom.
Ongelukkig is die teensy ook waar. Oor hulle wat nie glo nie, sal anders geoordeel word.
Daarom word ons vanoggend opnuut opgeroep om net maar aan Jesus vas te hou. Hy is die Groot Gehoorsame Seun van die Vader by wie daar lewe in oorvloed en in volheid is. Nie net vir die hiernamaals nie, maar ook vir die hiernoumaals.
Bibliografie
Groenewald, E P 1980. Die evangelie van Johannes; Morris, L 1971. John (NICNT); Ridderbos, H 1987. Johannes deel 1 (Kok); Sloyan, G 1988. John (Interpretation); Smith, D M 1988. John (Proclamation); Zerwick, M en Grosvenor, M 1981. A Grammatical Analysis of the NT.