Johannes 5=30-47 LR2006
Johannes 5:30-47 LR2006
13 AUGUSTUS 2006
Negende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 5:30-47
Ander tekste: 2 Samuel 11:1-15; Psalm 14; Efesiërs 3:14-21; Johannes 6:1-21
Inleiding
Die Here Jesus laat sy werk vir Hom “getuig”; dit wat Hy kom doen het, naamlik dat jy “die lewe kan kry” (Joh 5:40), behoort genoeg te wees om jou te oortuig. Maar die teendeel is dikwels waar: Die “gelowige” Dawid pleeg owerspel (2 Samuel 11) en die dwase (wêreld) dink daar is nie ’n God nie (Psalm 14:1a). Daarom is dit so dringend noodsaaklik dat ons “innerlik sterk” moet word en dat “Christus deur die geloof in ons harte sal woon” (Ef 3:16,17); hierdie getuienis word weer eens vir ons bevestig deur die viering van die nagmaal (vgl die vermeerdering van die brood in Joh 6).
Diensorde
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Voorbereidende sang (opsioneel)
Getuig oor die lewe: Lied 161 “Halleluja! Heer, U is ons lewe”
Getuig oor sy dood: Lied 299 “Laat ons, Heer, u dood verkondig”
Getuig oor sy liefde: Lied 220 “Met ons harte sing ons, Here, van u liefde meer en meer”
Getuig oor sy teenwoordigheid: Lied 159 “God is hier teenwoordig”
Seëngroet
Voorganger: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Ef 1:2).
Gemeente: Ag, mag daar tog uit Sion vir ons redding kom!
Wanneer die Here ons lot verander, sal ons juig, sal ons bly wees (Ps 14:7, aangepas).
Skuldbelydenis
Voorganger: Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir die Here.
Gemeente: Daar is nie een (van ons) wat goed doen nie.
Voorganger: Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
Gemeente: (Ons het) almal afgedwaal, die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie (Ps 14:1-3, effens aangepas).
Voorganger: God is aan die kant van die regverdiges, daar sal niks kom van planne teen die hulpelose nie, die Here bly jou toevlug.
Gemeente: Ag, mag daar tog uit Sion vir ons redding kom!
Wanneer die Here ons lot verander, sal ons juig, sal ons bly wees (Ps 14:5-7, aangepas).
Vryspraak (voorganger staan by die doopbak)
Voorganger: Mag julle deur die Heilige Gees die krag ontvang om innerlik sterk te word.
Mag Christus deur die geloof in julle hart woon en julle in die liefde wortel en grondves. Mag julle begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
Mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Ef 3:16-19, aangepas).
Gemeente Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen (Ef 3:20,21).
Aansteek van koninkrykskers
Kers op staander/tafel direk langs doopbak
Voorganger: Ons steek hierdie kers aan as simbool van ons geloof in die Here Jesus. Ons is innerlik sterk, ons is in sy liefde gewortel, ons is vervul met die volheid van God – dit alles word steeds aan ons bevestig deur die doop.
Loflied
Lied 334 “God is Liefde! juig ons harte”
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Psalm 119:65-72 (afsonderlik of saam met ’n vrye gebed)
Skriflesing
Johannes 5:30-47
Respons van gemeente (verkieslik sonder aankondiging)
Lied 206 “Halleluja!” (Zimbabwe) – orrelis gee net eerste akkoord.
Kindertyd en preek
Respons van gemeente
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
DIENS VAN DIE TAFEL
Indien die gemeente nie op hierdie Sondag die sakrament van die nagmaal vier nie, kan die nagmaalherinnering van Sondae 6/8 of 20/8 gebruik of na goeddunke aangepas word.
Gereedmaak van die tafel
Lied 295:1 “Heer, U laat ons hier vergader” en
Lied 296:1,2 “Jesus, U is my verblyding” (dieselfde melodie as 295)
’n Gesin wat vooraf gevra is, bring die brood en wyn na die nagmaalstafel.
Diakens maak alles gereed (terwyl gemeente sing).
Offergawes word opgeneem (terwyl gemeente sing).
Opmerking: Die offergawes kan beskou word as deel van die gereedmaak van die tafel aangesien die middele vir die nagmaal tradisioneel hieruit voorsien is. Die gemeente word uitgenooi om iets van hulleself te gee soos Christus Homself vir ons gegee het. Ons offer word ook teken van ons eenwees met Hom in die nagmaal.
Voorganger neem plek in: Almal word uitgenooi om deel te hê aan die nagmaal, (vooraf)aangewese lidmate kom na vore om saam aan die tafel te sit, indien nodig verduidelik modus operandi ten opsigte van die breek van die langwerpige broodjies deur die ouers en die gebruik van wyn of druiwesap deur die kinders, ensovoort.
Instelling en gebruik
Voorganger lees die derde betekenis van die nagmaal (gemeenskapsmaal) – sien by 6 Augustus 2006.
Geloofsbelydenis (sittend)
12 Artikels (neem mekaar se hande)
Tafelgebed
Lied 295:2 “Heer, ons bid nou om u seën”
Instellingswoorde (voorganger)
Op ’n keer het ’n groot klomp mense – meer as vyfduisend – agter Jesus aangekom. Hy het hulle laat sit en met vyf garsbrode en twee vissies van ’n seuntjie gevoed. Jesus het die brood geneem, God daarvoor gedank en aan die mense uitgedeel, soveel as wat hulle wou hê (vgl Joh 6:10-12).
Ons het so pas die Here se seën gevra vir die ete wat ons nou saam gaan geniet: die brood en die wyn – dit is getuies van sy liggaam en sy bloed. Neem die brood en eet dit, neem die wyn en drink dit – dink daaraan en glo dat die Here op hierdie wyse vir jou wil bevestig, aan jou getuig dat Hy sy lewe vir jou gegee het, dat Hy al jou sondes vergewe.
Uitdeel en gebruik van brood en wyn
Diakens deel brood en wyn uit. (Moet asseblief nie die orrelis oorslaan nie.)
Gemeente sing agtereenvolgens die volgende liedere totdat almal bedien is:
Lied 171 “Heilig, heilig, heilig” (Schubert)
Lied 380:1 “Jesus, Lam gelei ter slagting”
Lied 299 “Laat ons, Heer, u dood verkondig”
Lied 303 “Eet die brood” (Taizé) (x6)
Lief-en-leed/aankondigings
Voorbiddingsgebed
Toewyding
Lied 295:3 “Heer, ons wil U wy ons lewe”
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God” (temalied)
UITSENDING
Verbintenis
Voorganger: God is aan die kant van die regverdiges, die Here bly ons toevlug.
Gemeente: Daar het uit Sion vir ons redding gekom!
Die Here het aan ons lot verander – ons juig, ons is bly! (Ps 14:5-7, aangepas).
Slotlied
Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”
Seën
Voorganger: Die Here sal julle die krag gee om innerlik sterk te word. Jesus Christus, wat deur die geloof in julle hart woon, sal julle in sy liefde wortel en grondves sodat julle kan begryp hoe wyd en ver en hoog en diep sy liefde strek. God die Vader sal julle heeltemal vervul met sy volheid (Ef 3:16-19, aangepas).
Antwoord
Die gemeente sing Lied 313 “Amen” (x2).
PREEKSTUDIE – JOHANNES 5:30-47
Teks en konteks
Johannes 5:1-47 is nog `n voorbeeld van Johannes se styl van vertelling. Jesus het op `n Sabbat `n wonderteken gedoen (1-9a). Jesus se optrede gee daartoe aanleiding dat die Jode Hom van Sabbatskending beskuldig (9b-18). Die gesprek gaan oor in `n langer gesprek oor die verhouding tussen die Vader en die Seun, die komende oordeel, die selfgetuienis van die Seun (19-40) en sluit dan met die beskrywing van die verset van die Jode (41-47). Net soos in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou (4:1-30), bring die gesprek met die Jode `n aantal sake ter sprake. Dit gaan in die gesprek in die algemeen oor die openbaring van die heerlikheid van Jesus en die druk van die Jode op Hom. Dit herinner aan die woorde van Johannes 1:11: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (1957-vertaling). Volgens die Joodse opvatting was selfgetuienis nie regsgeldig nie. Trouens, dit is eenvoudig as leuens beskou. Twee of drie onafhanklike getuies moes die waarheid van `n saak bewys (Deut 19:15; Matt 18:16; Joh 8:17). Om aan hierdie voorskrif te voldoen, haal Jesus vyf getuies aan om die waarheid van sy aansprake te bevestig: die Vader (32, 37), Johannes die Doper (33), Jesus se dade (36), die Skrifte (39) en ook Moses (46). Jesus het dus meer onafhanklike getuies as wat die Wet vereis.
In vers 30 gryp Jesus terug op sy verklaring in 5:19. Die Seun kan uit Homself niks doen nie, as Hy nie die Vader het nie. Hy verklaar niks in die “ekvorm” (persoonlike hoedanigheid) nie. Want, sê Jesus: “uit myself kan ek niks doen nie”. Ek kan nie handel op eie gesag nie. Ek doen wat die Vader van my verwag, Ek doen die wil van die Vader. Vanuit die hemel sal Hy as wêreldregter optree.
Dit bring die tweede deel van sy betoog teenoor die Jode se beskuldiging dat Hy godslasterlike dinge kwytraak, ter sprake. Die Jode het gedink Jesus is iemand wat God belaster. Daarom stuur die Joodse leiers in Jerusalem `n afvaardiging na Johannes die Doper toe, op wie Jesus hom beroep het as `n getuie (5:33-35). Vers 31 moet in die lig van die hofprosedure verstaan word. Dit beteken nie hulle het gedink dat Jesus Christus die waarheid praat nie. Dit beteken wel hulle het geweet dat die getuienis van `n aangeklaagde, in hierdie geval Jesus, nie alleen aanvaarbaar was nie. Daar moes ander getuies wees om te bevestig dat die aangeklaagde die waarheid praat. Jesus het op sy beurt natuurlik nie werklik die getuienis van die woorde/getuies van Johannes die Doper nodig gehad nie. Natuurlik was Hy ook nie afhanklik van mense se getuies nie, maar Hy bring die getuienis van byvoorbeeld Johannes ter sprake met die oog op sy kritiese gehoor. Johannes die Doper het getuig van die waarheid en oor Jesus se sending. Johannes 2 beskryf die getuienis van Johannes die Doper. Met sy getuienis is daar niks verkeerd nie, dit is waar. Jesus gee toe dat die getuienis oor homself, volgens die regsreël van die Jode nie regsgeldig sou wees nie. Die Joodse regspraak het vereis dat daar twee of drie onafhanklike getuies moes wees (vgl Deut 19:15). Jesus argumenteer dus kragtens die aanvaarde regsreëls, sodat Hy daardie onbetwisbare getuienisse kon byhaal. Elders en in `n ander situasie het Jesus wel die regsgeldigheid van sy eie getuienis gehandhaaf (8:14). Die eerste en belangrikste getuie wat Jesus noem, word met die onbepaalde uitdrukking “`n ander” aangedui. Hy bedoel met hierdie “ander” God die Vader self (32).
Johannes die Doper se getuienis is hiernaas van blywende waarde/betekenis (die Griekse werkwoord memartureken is in die perfektum). Miskien was die Doper al gearresteer of selfs ter dood veroordeel. Hy was immers die brandende lamp wat aangesteek is om namens Jesus in die wêreld te skyn (Ps 132:17). Hy was die lamp en nie die Lig nie (1:6-8). Hy is gestuur om van die Lig te getuig in die duisternis van Israel. Daarom gee hy die aangrypende getuienis by die Jordaanrivier oor Jesus (1:9-34).
In vers 36 is die selfgetuienis van Jesus Christus met net soveel trefkrag as dié van Johannes die Doper. Hy was inderdaad met goddelike werk besig op die Sabbat, het Hy verdedig. Hieroor was die Jode baie verontwaardig. Sy optrede was `n onweerlegbare bewys van sy goddelike opdrag van die Vader wat Hy uitgevoer en voltooi het (Gr hina teleioosoo auta). Juis die feit dat Hy die opdrag van die Vader in die wêreld uitgevoer het, het getoon dat Jesus deur die Vader gestuur is (4:34). Elke wonder wat Hy verrig het, was `n heenwysing na God. Daarom het Jesus Hom telkens beroep op die Vader self, wat Hom gestuur het. Die Vader was ten slotte sy kroongetuie (5:37-38). God die Vader het die getuienis van blywende waarde gegee (Gr memartureken; vgl ook 1 Joh 5:9-10). Die verlede tyd van die werkwoord “het getuies afgelê”, laat `n mens dink aan die hele verloop van die heilsopenbaring wat `n voorbereiding was vir die koms van die Messias. Die gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel was `n heenwysing na die koms van die Messias na die wêreld. Sy geboorte, die stem uit die hemel by sy doop, die wonderdade wat Hy gedoen het, sy sterwe aan die kruis, sy opstanding en hemelvaart, was voldoende bewys dat Hy waarlik die Seun van God was.
Daarmee is die getuienis van die Ou-Testamentiese openbaring tot uitvoering gebring (ook Luk 24; 27:44), wat op die hemelse bevestiging/bewys dui. Die mense moet Jesus op sy woord neem en dit aanvaar. Volgens Jesus het die volk by Sinai `n besonder ongelowige houding aangeneem. Die getuies van die Vader moes dus vir die Jode genoeg bewys wees dat Hy die Messias is. Dit was Jesus se taak om die Middelaarswerk in hierdie wêreld te kom doen. Tog het die Jode dit nie aanvaar nie. Die vraag is waarom dan nie? Hulle het mos nie die stem uit die hemel gehoor nie. In die ou tyd het mense die stem van God gehoor toe Hy tot Moses en die profete gespreek het. In vers 38 kom `n belangrike wending in die woorde van Jesus. Dit gaan nou om die bewys dat sy Vader Hom werklik gestuur het. Daarom die byeenroep van getuies, maar die Jode weier steeds om te glo. Die eintlike punt was dat die Jode eers in Jesus moes glo, dan sou alles vir hulle glashelder word.
Vers 39-40 handel oor die derde getuienis wat gelewer moet word die Skrifte. Die werkwoord “ondersoek” verwys na die Jode se erns om iets in die Skrifte te vind en om daarin die hoop vir die ewige lewe te kry. Die Jode het nie soseer belanggestel in die eise van die wet nie, maar in die Skrifte se heenwysing na die Messias, die Verlosser wat sal kom. 2 Korintiërs 3:15 sê: “Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar `n bedekking oor hulle hart” (1953-vertaling). Paulus bedoel daarmee dat die Jode wel erken dat die Skrifte heenwys na die beloofde Een, die Messias wat sal kom. Tog gaan hulle hardnekkig voort om te ontken dat Jesus God se beloofde Messias is, die Verlosser (5:47).
In vers 41-42 gaan dit nie meer om die eer van mense, of die getuienis van mense nie, maar om die “doxa” die “heerlikheid” van God. Jesus het die goddelike heerlikheid van sy Vader ontvang en dit in wondertekens geopenbaar. Van die Jode is verwag om aan Hom die lof en eer te gee. Die eer en heerlikheid van Jesus hou verband met die feit dat Hy in die Naam van die Vader gekom het. Hy was tussen hulle in opdrag van die Vader, beklee met gesag van die Vader. Daarom het Hy in die naam van die Vader opgetree.
Vers 43 dui aan dat eer en heerlikheid Jesus toegekom het. Hy het in opdrag van die Vader die gesag beklee en namens die Vader opgetree in die wêreld. In Johannes 14:9 sê Jesus: “Wie My gesien het, het die Vader gesien”. Daarmee bedoel Jesus dat in sy optrede in die wêreld en voor die mense die Jode die Vader kon sien. Maar, hulle het geweier om Jesus te aanvaar. In vers 44 staan die eer van God en die eer van die mens teenoor mekaar. Die Fariseërs het in hulle daaglikse manier van optrede altyd probeer om in die guns van mense te wees. Hulle motiewe was nie suiwer nie, want alles het om hulleself gegaan. Teenoor die soeke na eie eer staan die ware soeke na die eer van God. Hy is die enigste God, aan Wie die ware eer en verheerliking moet toekom. Deur Jesus se woorde/getuienis te aanvaar, sou beteken het dat hulle in stryd met hulle eie manier van doen sou optree. Jesus se aanspraak het dus vir hulle `n groot verleentheid meegebring.
In vers 45 is die kerngedagte dat diegene wat hulle op die geskrifte van Moses toelê en daarop roem dat hulle die wet van Moses onderhou, moet weet dat dit juis Moses is wat hulle by God aangekla het. Die wet kla selfs die mees getroue onderhouer daarvan aan voor God as dit oortree word. Jesus het nie na die wêreld gekom as aanklaer nie, maar soos Johannes 3:16 dit stel: “Want ... God (het) sy eniggebore Seun gegee ... sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”, of soos Jesus in Johannes 10:10 sê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Vers 46-47 bevestig dat ook Moses eintlik oor die verwagte Messias geskryf het (vgl Gen.3:15; 49:1; Deut.18:5; die geskiedenis van die offer van Isak – Gen 22:1-24; die pasga Eks 12:1 en verder; die bevryding uit slawerny van Egipte – Eks 11:1, ev). Hierdie teksverwysings is voorbeelde van die verwagte Messias wat sou kom. Die optrede van die Jode het net bevestig dat hulle ook die geskrifte van Moses nie werklik geglo nie. Vir hulle was die letter van die wet belangrik. Hulle het die ryke beloftes wat die Skrif oor die Messias vir hulle ingehou het, totaal uit die oog verloor.
Preekvoorstel
In Hauerwas se boek Community of character. Towards a constructive Christian social ethic sê hy dat die gesag van die Skrif bevestig word vanuit die bestaan van `n gemeenskap wat weet hulle lewe hang af van die voortdurende herinnering aan God se omgee vir sy skepping, deur die roeping van Israel en deur die lewe van Jesus. Die herinnering aan en herinterpretasie hiervan is `n gemeenskapstaak, want sonder tradisie kan daar geen samelewing wees nie. Vertelling van ons stories verg `n geloofsgemeenskap wat kan onthou en vir wie die herinterpretasie van gebeure die sleutel is tot die handhawing van haar eiesoortige lewenswyse. Barth, in sy Kerklike Dogmatiek (II/2, hfst 8), merk op “dat God gekies het om Homself te openbaar in en deur die lewe en lotgevalle van `n bepaalde volk, en deur Jesus Christus. Dit is volgens Barth die kern van die evangelie. Ek stem met hom saam. Dus, wanneer Jesus Christus Hom aan die mense rondom hom bekendstel, sê Hy eintlik: ‘So lyk die evangelie waarvan die profete oor die eeue heen geprofeteer het. So lyk die evangelie waarvan Johannes die Doper by die Jordaanrivier getuig het.’ Mense moet aan sy opdrag gehoorsaam wees, moet getuig oor God se genadewerke in die wêreld, deur hul optrede te laat strook met God se optrede.”
Die verhaal van Johannes 5:30-47 is tegelykertyd `n antiklimaks en `n klimaks. Die antiklimaks van die verhaal is dat Jesus in Samaria en in Galilea baie goed ontvang is, terwyl Hy in Jerusalem as `n Sabbatskender, ontheiliger, godslasteraar beskou is (5:18). Die klimaks van die verhaal is dat alles plaasgevind het nadat Jesus aan die Samaritaanse vrou die lewende water beloof het, die jongman van die koninklike beampte genees het (4:43-54; die man onbekende man wat agt en dertig jaar lank verlam was en weer kon (rond)loop). Hoewel die Samaritaanse vrou die hele volk verteenwoordig (ook die jongman), gee Johannes hier spesiaal aandag aan wat in Deuteronomium 2:14 staan. Die periode van agt en dertig jaar word in Deuteronomium 2:14 genoem as die tyd om alle ongehoorsame krygsmanne van Israel in die woestyn te laat sterf voordat die volk die beloofde land kon binnegaan. Moses self het ook onder die lot van die ongehoorsames geval. Nou kom die dilemma. Is Jesus se optrede as geneser op die Sabbat en as Messias die Seun van God in stryd met die Tora? Of is dit juis die Tora (Moses) wat van Jesus as Messias getuig (5:46) en wat dus sy handeling en die gebeure op die Sabbatdag goedkeur?
Die kerk is vandag in dieselfde posisie as die Jode destyds. Ons kan ook sê ons het geen stem uit die hemel gehoor, of die Vader het nie sy seun aan ons geopenbaar nie. Ons hoef nie te glo, of die getuienis aangaande Jesus in die Bybel te aanvaar nie. Tog bly die Bybel ons bron met `n inspirerende, openbaarmakende inhoud oor hoe God in Jesus aktief in die wêreld betrokke is. Sy betrokkenheid by ons is dus voldoende bewys dat die kerk die boodskap van die Bybel as waaragtig en opreg moet aanvaar. En dat ons dit ook met die grootste oortuiging sal aanvaar en in die wêreld sal verkondig. Jurgens Hendriks praat in sy intreerede (2003) so oor die kerk: “Die kerk van die toekoms is `n kerk wat sy missionêre wese herontdek. Die kerk is in sy wese `n kerk met `n sending; `n missie; lidmaatskap is sending-wees: `n gestuurde; `n getuie; `n dienaar in die wêreld. Gemeentes wat `n missionêre hermeneutiek herontdek, beleef geestelik `n nuwe lente.” Maar die kerk is volgens hom ook `n geloofsgemeenskap “wat fokus op die nood van die gemeenskap, wat wegbuig van haar selfhandhawing waaraan sy so verknog is, na die nood om haar. Die nood het baie gesigte: armoede, werkloosheid, MIV/vigs, verslawing van dwelmmiddels, seksuele perversiteite van die samelewing, en die jeug wat vasgevang is in `n media-imperialisme”.
Bibliografie
Bekker, Y P E Zoon van God Messias, Mensenzoon – De structuur van het Evangelie naar Johannes; Van Houwelingen, P H R. Johannes – Het Evangelie van het Woord; Groenewald, E P. Evangelie volgens Johannes; Millennium-Bybel; Hauerwas, S. A community of character: Toward a constructive Christian social ethic.