Johannes 7=37-39 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 23 views
Notes
Transcript

Johannes 7:37-39 LR2005

15 mei 2005

pinksterfees – vigsherinneringsdag

liturgiese voorstel

Fokusteks: Johannes 7:37-39

Ander tekste:                 Psalm 104; Numeri 11:24-30; Handelinge 2:1-212; Johannes 20:19-23

Inleiding

Die voorgestelde liturgie vir hierdie feesdag is grootliks gebaseer op die Lima-liturgie van die Wêreldraad van Kerke se Faith & Order-kommissie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 442:1 en 2 “Gees van God wat in my woon”

Aanvangswoord

So sê die Here:

As iemand dors het,

laat hy na My  toe kom en drink!

Die een wat in My glo,

strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Uit: Johannes 7:37 en 38)

Seëngroet

Voorganger:  Vrede vir julle.

Gemeente:     En ook vir jou.

Skuldbelydenis

Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:

Genadige God,

ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade

teen U gesondig het;

deur dit wat gedoen het

en dit wat ons nagelaat het om te doen.

Ons het U nie liefgehad met ons hele hart,

en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.

Wees ons genadig, ter wille van u Seun, Jesus Christus.

Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons

sodat ons vreugde kan vind in u wil

en kan wandel op u weg,

tot eer van u heilige Naam.  Amen

Verootmoediging

Die gemeente sing Lied 434 “O Heilige Gees, o heilige God”.

Vryspraak

Voorganger:  Die Almagtige God

                    het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf

                    en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.

                    Hy het die Heilige Gees uitgestort

                    om ons te oortuig van ons sonde en skuld

                    en ons te herinner aan die verlossingswerk van Christus.

                    Daarom verkondig ek aan julle

                    volkome vergifnis van julle sonde,

                    in die Naam van die Vader,

                    en van die Seun

                    en van die Heilige Gees.

Gemeente:     Amen

Kyrie-litanie

Voorganger:  Sodat ons in staat kan wees om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe en sodat om saam kan bely dat daar net één liggaam en één Gees is, net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal – laat ons tot die Here bid.

Gemeente:     Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger:  Sodat ons saam een liggaam kan wees in gemeenskap met die liggaam van Christus wanneer ons die een brood breek en uit die een beker drink – laat ons tot die Here bid.

Gemeente:     Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger:  Sodat ons wat almal deur Christus met God versoen is, verenig kan wees in die bediening van die versoening wat aan ons toevertrou is – laat ons tot die Here bid.

Gemeente:     Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Aanbidding en lof

Lied 432 “O Heil’ge Gees, aan U die  eer”/NSG175 en/of  Lied 439 “O Heil’ge  Gees, o God in ons”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Skriflesing

Numeri 11:24-30

Psalmrespons

Psalm 104 kan in sy geheel of gedeeltelik voorgelees word. Alternatiewelik kan sekere verse van die omdigting in die Liedboek gesing word, byvoorbeeld vers 1-4 en 13-16.

Skriflesing

Johannes  17:37-39.

Een van die hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of ’n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228/NSG 1, 21, 19, 118 of 327.

Skriflesing

Handelinge 2:1-21 (die Pinksterverhaal)

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis van Nicéa

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die brood,

                    die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente:     Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die wyn,

                    die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente:     Geseënd is God, nou en vir ewig!

Voorganger:  Soos die koring wat oor die velde gestrooi was

                    en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

                    op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

                    mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

                    saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente:     Maranatha! Kom, Here Jesus!

Voorganger:  Mag die Here met julle wees!

Gemeente:     En ook met jou!

Voorganger:  Hef op julle harte.

Gemeente:     Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger:  Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente:     Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger:  Aan U kom ons dank toe, Here ons God,

                    oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

                    Want U het die Heilige Gees uitgestort

                    oor die mense in wie U ’n welbehae het.

                    Daarom juig die hele aarde

                    en roem die volke in velerlei tale.

                    Daarom sing ons saam met die engele en hemelwesens

                    die lof van u heerlikheid:

Gemeente:     Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

                    Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

                    Hosanna vir die Seun van Dawid!

                    Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!

                    Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger:  Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

                    U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

                    Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

                    sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.

                    Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

                    en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

                    “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

                    Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

                    “Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Gemeente:     Ons verkondig u dood, Here Jesus!

                    Ons vier u opstanding uit die dood!

                    Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger:  Here ons God,

                    ons roep vandag in herinnering die uitstorting van u Heilige Gees,

                    die Voorspraak wat U vir ons gestuur het,

                    die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan

                    en oor Christus getuig.

                    Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

                    sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

                    ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

                    behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

                    in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente:     Amen

Voorganger:  Ons is deur die Heilige Gees beseël as die eiendom van God. Laat ons dan nou saambid:

Gemeente:     Bid die “Ons Vader”-gebed (of sing Lied 266).

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met ’n handdruk of omhelsing met die woorde: “Mag die vrede van die Here met jou wees.”

Die instellingswoorde van die nagmaal

Uitgespreek deur die voorganger.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 533  “Stuur ons, Here”

Seën

Mag die Gees van waarheid julle in die volle waarheid lei.

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

PREEKSTUDIE – JOHANNES 7:37-39

 Teks  en konteks

Die gedeelte val binne die verhalende deel van die Evangelie. In die verhalende deel word in die algemeen vertel van Jesus se werk op aarde. Die vertelling gaan oor wie Jesus is, en die ewige lewe wat Hy bring aan diegene wat in Hom glo. As ons na die aantal Paasfeeste in Johannes se verhalende gedeeltes kyk wat Jesus bygewoon het, lyk dit of die deel van die evangelie oor `n tydperk van drie jaar verloop. Soos dikwels die geval is met verhalende gedeeltes by Johannes, begin die gedeelte met `n gebeurtenis waarop `n monoloog (toespraak) deur Jesus volg. Dit is meestal `n kommentaar op die gebeurtenis. Hier gaan dit oor sy gesprek met sy broers waarin hulle Hom probeer oorhaal om uit Galilea na Judea te gaan sodat mense daar ook sy werke kan sien, om die huttefees by te woon, asook sy weiering om dit te doen, omdat “sy tyd”  nog nie daar was nie.

Interessant is die outeur se kommentaar op Jesus se broers, naamlik dat hulle nie in Hom “geglo” het nie.  Daarmee probeer hy waarskynlik sê dat hulle Hom nog nie herken en bely het as Messias nie (vgl die betekenis van die woord “glo” in Joh 20:30-31). Hulle bedoeling om Hom vanuit Galilea na Judea te stuur is waarskynlik meer polities-nasionalisties gemotiveerd. Dit verklaar ook waarom hulle nie onpopulêr was nie, maar Hy wel, want Hy het waarskynlik al agtergekom dat die Jode nie baie beïndruk was met sy optrede nie. Ook die verwagting wat daar by die mense was dat Hy sou kom en die omstredenheid by hulle oor Hom, dui alles daarop (11-13).

Jesus gaan wel na die fees “in die geheim”. Dit wil waarskynlik dui op Jesus se eie program. Hierdie “program” sou saamval met die loofhuttefees. Hierdie fees van die Jode word beskrywe in Eksodus 23:16; 34:22; Levitikus 23:34-43: Deuteronomium 16:13-15. Daarna word waarskynlik ook verwys in 2 Kronieke 8:13; Esra 3:4; Nehemia 8:15-19. Dit is vir sewe dae vanaf die 15de tot die 22ste van die maand Tisjri (Joodse kalender) gevier. Dit staan bekend as die loofhuttefees omdat die Israeliete in die tyd hutte gemaak van blare moes woon, om hulle daaraan te herinner dat hulle gedurende die woestynreis in hutte gewoon en die Here hulle onderhou het. Dit is ook die fees van die insameling, want hulle moes van die vrugte neem van die sierlike bome, van die dorsvloer en die wynpers, en dit ook offer. Dit is daarom ook `n vrolike fees wat veral na die ballingskap met sang, musiek en dans gevier is. Na die oggendoffer op die eerste sewe dae het hulle `n drankoffer gebring waarby die woorde van Jesaja 12:3 uitgespreek is. Dit verwys in die algemeen na die heilfontein wat die bron van water was. Miskien sou die water uit die rots tydens die woestynreis hier ook op die agtergrond kon wees, veral waar daar sprake is van strome van water wat lewe gee.

Nadat Jesus tydens die fees met allerlei leringe besig was en ook in verskillende gesprekke met die Jode, die skare, die inwoners van Jerusalem, die Fariseërs, ensovoorts betrokke was, en daar allerlei bedreigings was om Hom gevange te neem, tree Hy op die laaste dag na vore, die hoogtepunt van die fees. Daar staan by vers 37 dat Hy “uitgeroep” het; Homself openlik bekend gemaak het. Soos by ander geleenthede (vgl die Pasgaviering van die Jode), lê Jesus `n verband tussen die gebeurtenisse van die Ou Testament en sy optrede. Hier is dit die loofhuttefees wat `n nuwe inhoud en betekenis moet kry in die lig van sy optrede.

Die mees direkte punt van vergelyking is “water”. Dit dui daarop dat Jesus aansluit by die woorde van Jesaja 12:3, wat tydens die drankoffer uitgespreek is. Indirek verwys dit weer na die gebeurtenis in die woestyn waar Moses die rots geslaan en water uitgevloei het, wat die volk gedrink en hulle dors geles het. Jesus nooi nou almal wat dors het na Hom toe om te kom drink. Vir die dorstige is daar dus water by Hom om te drink.  Dit is tipies vir die Johannes-evangelie dat Jesus die bron is om die menslike behoefte te bevredig. Dit kom veral duidelik na vore in die sogenaamde “Ek is”-uitsprake wat in die geskrif verspreid lê.

Die wyse waarop die (geestelike) ”dors” geles word, is deur geloof in Hom (38). Dit dui daarop dat die dors `n oordragtelike betekenis het, dus die geestelike dors. Wat nou opval, is die oorvloedigheid, want die dors gaan nie net geles word nie. Dit waarmee dit geles gaan word, sal oorloop en uitvloei. Die Skrif waarna hier verwys word, is waarskynlik Jesaja  58:11. Weer eens het ons hier met `n kenmerkende verskynsel in die Johannes-evangelie te make; dat dit alles oortref wat die Ou Verbond kon bied. So vind ons dit ook in die simboliese uitbeelding van die vergelyking in die bruilof te Kana, tussen die eerste en die tweede wyn.  Laasgenoemde is beter as die eersgenoemde. In Johannes 10 word ook gespreek van die oorvloedige lewe wat nou eers in Jesus te vinde is. Hier word dit vergelyk met die begrippe, “dor” (Ou Verbond) en “vloeiende water” (Nuwe Verbond).

In vers 38 vind ons die uitdrukking “na My toe kom en drink”, wat met “in My glo”, vergelyk word. Groenewald is van mening dat Johannes die saligmakende geloof met die vergelyking wil aandui. Daar is egter `n verskil. Die uitdrukking “na My toe kom en drink”, verwys na wanneer iemand eenmalig na Jesus Christus kom om van sy of haar geestelike dors geles te word. Die tweede uitdrukking, “in My glo”, verwys na die voortdurende geloofsverbintenis met Jesus Christus as die Groot Bevryder. Lees maar wat onder andere in Johannes 3:18, 36; 6:35, 47 geskryf is oor die blywende geloofsverbintenis in Jesus Christus. So `n persoon wat dié blywende geloofsverbintenis met die Here het, word verkwik deur die lewende water wat Jesus Christus aanbied (vgl Joh 4:10 – die verhaal van Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou). Groenewald het egter `n probleem met die uitdrukking “soos die Skrif sê”. Volgens hom is die aangehaalde woorde oor die strome van die lewende water nie in `n spesifieke Bybeluitspraak gevind nie. Die “Skrif” het eerder ’n algemene betekenis en het nie betrekking op ’n bepaalde teks nie. Volgens Groenewald is daar ’n hele reeks uitsprake wat op die gedagte betrekking het, wanneer in aanmerking geneem word dat “water” in verskillende uitsprake die Heilige Gees aandui (vgl Jes 44:3; 55:1;  Joël 2:28; 3:18;  Sag 13:1;  14:8).

 In vers 39 vind ons nou die kommentaar van die outeur, iets wat hy meer kere doen (vgl 2:21-22). Hiermee gee hy ’n verklaring van die voorafgaande. Nou word dit duidelik dat die water na die Heilige Gees verwys.  Diegene wat in Hom glo, ontvang die Heilige Gees. Die kommentaar van die outeur wys ook op die uitstorting van die Heilige Gees. Volgens Handelinge het dit eintlik al eerder plaasgevind, kort na sy opstanding en met sy verskyning aan die dissipels in hoofstuk 20, die sogenaamde “klein Pinkster.” Hierdie is dus ’n profetiese woord van Jesus wat op Pinkster in vervulling gegaan het. Vers 39 gaan nie oor die bestaan van die Heilige Gees nie, maar oor die ontvangs van die Heilige Gees, nadat Jesus gesterf en opgestaan het uit die dood, sodat gewone mense soos ons sy werk op aarde kan voortsit.

In elk geval geskied dit by Johannes na Christus se “verheerliking”. Dit is waarskynlik ’n samevattende begrip waarmee die outeur bedoel die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Jesus. Hy wil daarmee nie die klem plaas op Jesus se lyding en vernedering met sy kruisiging nie, maar eerder wys op die eind- resultaat, die triomf en oorwinning wat dit meegebring het. Verder wys dit ook op die gevolg wat dit gehad het, naamlik dat op grond daarvan die Heilige Gees nou uitgestort kon word. Die Heilige Gees word dus aan die kerk gegee, maar ook aan elke persoon wat tot geloof kom. En sy gawe bring oorvloedigheid van lewe mee.

Preekvoorstel

“Tydens die Dertiende Internasionale Vigskonferensie in Junie 2000 te Durban is skrikwekkende feite oor MIV/Vigs in Afrika suid van die Sahara en veral ten opsigte van Suid-Afrika, bekend gemaak. Die konferensie is voorafgegaan deur verskeie artikels in tydskrifte en koerante. The Economist het in daardie stadium berig dat meer as 34 miljoen mense wêreldwyd draers van MIV/Vigs is. Van hulle woon 95% in arm en onderontwikkelde lande. Volgens die artikel (The Economist) is 15 000 mense wêreldwyd in daardie stadium daagliks met die virus geïnfekteer, van wie ongeveer die helfte in die ouderdomsgroep 15-24 jaar val. Vigs is die hoofoorsaak vir sterftes in die Afrikaland suid van die  Sahara. Volgens die Departement van Gesondheid in Suid-Afrika is die getal sterfgevalle in Suid-Afrika slegs die punt van die ysberg. Die reikwydte van die vigs-pandemie is nog weggesteek, omdat Suid-Afrika in die vroeë fase daarvan is, en omdat die simptome van vigs gewoonlik eers begin ontwikkel jare nadat ’n mens met die MI-virus besmet is” (Pick) (Ek moedig u aan om die boek: MIV/Vigs ons grootste uitdaging nóg! van dr Sam Pick te lees en brei die inleidende gedagtes verder uit.)

Pick skryf verder en ek haal hom aan: “Die mens asook die totale skepping word deur God se liefde omvou. Christene leef met die wonderlike belofte dat niks hulle ooit kan skei van die liefde van God nie (Rom 8:38-39).  Die mens leef ook met die belofte dat hy of sy en die hele skepping deel vorm van God se uiteindelike doel en plan. Dit sluit in ’n lewe van oorvloed, ’n lewe waarin almal genoeg sal hê, waar geregtigheid sal heers. Dit is ’n lewe waar hulle in veiligheid al die gawes van God  kan ontdek. Maar binne die raamwerk van God se finale visie vir die mensheid en die skepping is ook ’n ander soort ervaring. Die mens leef helaas nie in die wêreld vry van dood, smart, lyding en pyn nie (Op 21:4). Die weg na heerlikheid gaan uiteindelik deur lyding. Ondanks al die vreugde en geluk wat die lewe die mens bied, is daar ook smart, onreg en pyn.”

Die ganse skepping en lewende wesens staar almal sonder uitsondering die een of ander tyd ellende en die dood in die gesig. Dit is vreemd dat die mens van tyd tot tyd so oorweldig word deur alles wat hy of sy nie verstaan nie, dat hy of sy verward en selfs woedend raak. Dan word geloof in God se trou en liefde getoets. Juis in sulke tye ervaar jy die werking van die Heilige Gees in jou lewe – die Gees wat vir jou intree en namens jou praat, wat jou versterk en moed gee, en by swakkeres staan ondanks hulle moedeloosheid en vrees. Dit is die Gees wat hulle roep om opnuut God se beloftes te hoor en opnuut aan Hom vas te hou en te hoop (Rom 8:15, 24-26). Gelowiges lewe uiteindelik deur te hoop” (Pick).

Barth skryf in sy boek The Holy Spirit and the Christian Life die Gees bevry die kerk van haar onbetrokkenheid in die wêreld en wil die kerk lei tot haar Godgegewe verantwoordelikheid teenoor die wêreld. Die kerk, geloofsgemeenskap, verrig haar roeping in die wêreld in die wete dat die drie-enige God deur die Heilige Gees in en deur die kerk werk. Die Heilige Gees wil die kerk vernuwe en versterk. Die werk van die Heilige Gees stel die kerk in staat om deel te neem aan God se bevrydende en helende handeling in die wêreld.

Pinksterfees gaan oor ’n nuwe begin. Die inbeweeg van die mens in ’n nuwe fase van sy of haar lewe. Die uitstorting van die Heilige Gees word met Joodse feeste verbind, naamlik Pinksterfees en Loofhuttefees.  Johannes  maak die verbintenis met laasgenoemde. Mense se dors word geles deur die geloof in Jesus. In vergelyking met die Ou-Testamentiese gebeurtenis, kan ons dus sê dat Hy soos die rots is wat in die woestyn deur Moses geslaan is (sy kruisiging) en waaruit toe water gevloei het wat voorkom het dat die volk omkom van dors. Die tweede vergelyking van die water is met die Heilige Gees. Die Heilige Gees in die kerk maar veral in die enkele persoon se lewe, is soos vloeiende water. Dit dui op die getuieniskarakter van die kerk en die persoon. Deur die werking van die Heilige Gees sal die verkondiging dat Jesus die Messias is en in Hom die heil teenwoordig is, soos water uit die gelowiges vloei.

Wat presies het op Pinksterdag gebeur? Die Heilige Gees het gekom om mense met krag te vul, te lei, te versterk met die oog op die werk wat hulle in God se Naam moet doen. Die nuwe van Pinkster lê, so wil dit lyk, in die oorvloed en intensiteit van die Gees. Die Gees word uitgestort op die hele gemeente (“alle vlees”, soos Joël voorspel het) en die mate waarin dit gegee word, gaan selfs die bedeling van Christus te bowe. Veral Johannes beklemtoon hierdie oorvloed (vgl 7:34-39;  16:7;  14;12).

Na die uitstorting van die Heilige Gees kry ons, soos met die loofhuttefees, die insameling van die oes;  diegene wat tot geloof gekom het in Jesus Christus – die groei van die kerk. Ons leef in die (loofhutte)feestyd, die tyd van die insameling, die tyd van die oorvloedige lewe, die tyd van die nuwe verbond. Dit is die vernuwende, lewegewende werk van die Heilige Gees wat nuwe geboorte aan ons lewens wil gee. Dit is die Gees wat opwek, verfris, herstel, bevry, nuwe lewe gee, te midde van die droogte, doodsheid. Kom ons sing op hierdie Pinksterfees saam met die gesangdigter:

Strome van seën van bowe, dit het die Liefde beloof;

heerlike tyd van verkwikking vloei uit ons Heiland en Hoof.

Strome van seën van bowe daal met verfrissing tans neer;

Skenk uit u hemelse volheid, skenk ons ’n oorvloed, o Heer!

Bibliografie

Burger, C W 1999. Gemeentes in die Kragveld van die Gees;  Groenewald, E P 1980. Die evangelie volgens Johannes;  Ridderbos, H 1997. The Gospel of John;  Smelik, E L 1965. Het Evangelie naar Johannes – Die weg van het Woord;  Vosloo W (Red) 1999. Die Bybellennium – eenvolumekommentaar (Die Bybelse uitgelê vir eietydse toepassing);  Pick,  S 2002. MIV/Vigs-ons grootste uitdaging!;  Smit, D J 2001. Wat Here is en lewend maak. Wat Christene bely oor die Heilige Gees.

Related Media
See more
Related Sermons
See more