Johannes 8=12-30 LR2006
Johannes 8:12-30 LR2006
27 AUGUSTUS 2006
Elfde Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 8:12-30
Ander tekste: 2 Samuel 18:5-33; Psalm 130; Efesiërs 4:25-5:2; Johannes 6:35-51
Inleiding
Dit is vandag Bybelsondag. Die Bybel getuig steeds helder en duidelik oor die gesindheid en dade van die Here Jesus – Hy is voorwaar die “Lig vir die wêreld” (Joh 8:12-30). Die besondere mensverhale in die Bybel (vgl 2 Samuel 18 – Dawid en Absolom) noop ’n mens om soms ’n klaaglied voor die Here te bring (Ps 130). Die Bybel voorsien ook riglyne vir die nuwe lewe (Ef 4) en uiteindelik leer ons van die Brood van die Lewe wat ons innerlik versterk (Joh 6).
Diensorde
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Voorbereidende sang (opsioneel)
Toetree: Lied 348:1, 3 “Stille nag, heilige nag” (wys op die Lig)
Verootmoedig: Psalm 31:4-6 “Ek lê versmaai, ’n ding daar eenkant”
Lofsang: Lied 196 “O kon ek jubel, Hemelvader”
Toewy: Lied 257 “O Heer, maak oop my hart se poort”
Seëngroet (vanaf kers langs doopbak)
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Ef 1:2).
Aansteek van koninkrykskers
Voorganger: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” – lees ons in Psalm 119:105. Ons steek vandag hierdie kers aan om ons dankbaarheid te toon vir die Bybel wat ons het – ’n Afrikaanse Bybel, reeds 73 jaar in ons eie taal. Ons bid dat die ligboodskap vanuit die Bybel steeds ons lewe sal verlig – vandag, elke dag, vir altyd.
Kindertyd
Vertel vir die kinders (en wys vir hulle) van die oorspronklike tale van die Bybel: Hebreeus, Aramees en Grieks, en beklemtoon die wonderlike feit van die Bybel in Afrikaans.
Wet: Efesiërs 4:25-5:2(5)
Skuldbelydenis
Gemeente: Psalm 130:1-3 Uit donker dieptes roep ek (omdigting Lina Spies) – tweede melodie: Greenfields
Vryspraak
Voorganger: Wag op die Here, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is verlossing seker. Hy alleen sal jou verlos van al jou sondes (Ps 130:7,8, effens aangepas ).
Loflied
Lied 205 “Bring lof aan die Vader” (beurtsang by refrein)
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Psalm 119:81-88 (afsonderlik of saam met ’n vrye gebed)
Skriflesing
Johannes 8:12-30
Respons van gemeente (verkieslik sonder aankondiging)
Lied 206 “Halleluja!” (Zimbabwe) – orrelis gee net eerste akkoord.
Preek
Respons
Lied 511 “Lei U ons, Lig, deur hierdie duisternis”
DIENS VAN DIE TAFEL
Opmerking: Indien ’n volledige viering van die nagmaal gehou word, kan die liturgie van Sondag 13 Augustus 2006 na goeddunke aangepas en gebruik word.
Nagmaalherinnering
Voorganger gaan staan by die nagmaalstafel; nagmaalbeker en –bord is op die tafel.
Voorganger lees die derde betekenis van die nagmaal (gemeenskapsmaal) uit die gewone nagmaalsformulier – sien by Sondag 6 Augustus 2006.
Voorganger: Een brood – een liggaam – almal deel aan die brood. Hierdie aspek van die Koninkrykstyd, die gemeenskap van die gelowiges, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit word weer eens bevestig met die woorde van die Here Jesus in Johannes 6:47,51: “Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”
Lief-en-leed/aankondigings
Voorbiddingsgebed
Opneem van die offergawes
UITSENDING
Verbintenis
Gemeente: Psalm 130:5,6 (hardop uit die Bybel)
Slotlied (temalied)
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”
Seën
Voorganger: Vrede, liefde en geloof van God die Vader en die Here Jesus Christus. Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet (Ef 6:23,24 ).
Antwoord
Die gemeente sing Lied 313 “Amen” (x2).
PREEKSTUDIE – JOHANNES 8:12-30
Teks en konteks
As teksgedeelte vir die prediking kies ek die perikoop 8:12-20. Daar moet egter eers na die makrokonteks gekyk word. Hieruit word my keuse vir die preekperikoop duidelik. Hoofstuk 8 se hele gesprek (8:12-59) vorm `n eenheid. Dit het plaasgevind op die huttefees of moontlik op die volgende dag. In die vertrek van die tempel waar die offergawekiste staan (20), het Jesus die mense toegespreek. Dit is `n tweegesprek tussen Jesus en die Jode. Die kulminasiepunt in die gesprek is die eerste woorde in vers 12. Dit is dat Jesus die lig vir die wêreld is. Die gesprek tussen die eskatologiese Jesus en die ongelowige Jode gaan eintlik verder as die kontekstuele omstandighede. Dit raak elke mens en is deel van die permanente openbaring van Jesus Christus (Schnackenburg). Die gesprek illustreer die tweestryd tussen Jesus en ongelowiges van alle tye.
Schnackenburg deel die hele gesprek in vyf dele:
1. Jesus, die lig van die wêreld. `n Dispuut met die ongelowiges: Jesus se kennis aan die een kant en hulle weerstand daarteen (8:12-20);
2. Jesus – se herkoms van “Bo” en hulle herkoms van “onder” (8:21-29);
3. Jesus se vryheid teenoor hulle gebondenheid (8:30-36);
4. Nakomeling van Abraham teenoor nakomelinge van die duiwel (8:37-47);
5. Jesus se eenheid met God en dat Jesus voor Abraham in volgorde is (8:48-59).
Dit is merkwaardig dat die gedeelte eindig soos dit begin het: met `n openbaring dat Jesus van God kom (58). Die verteenwoordigers van die ongelowiges verwerp egter sy aansprake en getuienis, en kom die hele tyd met teenargumente en vyandige gesindheid teenoor Jesus. Volgens Schnackenburg is hoofstuk 8 se funksie om die geweldige kloof – eintlik onoorbrugbare kloof – tussen Jesus en ongelowiges te illustreer.
Johannes 8:12-20 vorm die eerste deel van die tweegesprek tussen Jesus en die ongelowiges. Vers 12 is die kernvers en rede vir die argumente wat sou volg. Jesus spreek die mense toe en sê: “Ek is die lig van die wêreld.” Dit is deel van sy bekende “Ek is”-uitsprake, waardeur Hy sy wesensgelykheid met God laat deurskemer (Groenewald). Hierdie woorde het natuurlik olie op die Jode se vuur gegooi, want hulle reageer heftig op die aanspraak in vers 13. Van die begin af is dit duidelik dat die Fariseërs die punt mis. Hulle verstaan nie wat Jesus probeer sê nie. Daarom verval hulle in eindelose sinlose argumente teen Jesus. Hulle beskuldig Hom dat Hy nie getuienis oor Homself kan gee nie. Aanvanklik klink dit na `n baie sterk regsgeldige punt, veral omdat Jesus in 5:31 self gesê het dat sy eie getuienis nie regsgeldig is nie. Maar in 7:35 verklaar Jesus – as iemand weet waar hy vandaan kom, hy die reg het om `n getuienis uit te spreek. Dit is presies wat Jesus hier doen. Hy weet immers waar Hy vandaan kom (7:35). In dié opsig beskik Hy oor meer kennis as wat `n mens ooit kan hê. Vers 15 wys die kardinale fout van die Fariseërs aan. Hulle beoordeel Hom volgens uiterlike waarneming. Hulle begryp niks van sy Goddelike herkoms nie.
Enkele eksegetiese en kontekstuele opmerkings oor `n paar begrippe/uitdrukkings:
a. Die lig vir die wêreld. Daar is al baie gedebatteer oor waar die uitdrukking “die lig vir die wêreld”, vandaan sou kom. Baie geleerdes vestig die aandag op die loofhuttefees en dat Jesus eintlik die simboliek daarvan vervul. By die vrolike fees is baie van lig gebruik gemaak. Groot kandelare is aan die brand gesteek; mense het met brandende fakkels in hulle hande aan die optogte deelgeneem. Die hele tempel is helder verlig en kon van ver af in die donker gesien word. Vir die Jode was die fees ook die herinnering aan die vuurkolom waarmee God hulle voorvaders deur die woestyn gelei het. Nou kom Jesus en verklaar dat Hy die ware lig is. Omdat die Jode so baie klem op simboliek geplaas het, sou dit `n baie geldige rede wees vir die uitspraak oor lig (Morris). Ons moet egter onthou dat lig en duisternis `n algemene tema in die Bybel is. Ons lees Jesus is die lig (1 Joh 1:5), en Hy het sy volgelinge die lig vir die wêreld genoem (Matt 5:14). Paulus praat ook van Christene as ligdraers in die wêreld (Fil 2:15). Genesis 1 sê: “In die begin was daar lig.” Johannes gee baie aandag aan die term “lig”. In Johannes 1:6, 9 word Jesus as die lig wat na die wêreld aan die kom was, beskryf. Toe was Johannes die getuie dat Hy die lig was. Nou getuig Jesus self dat Hy die lig is. Lig en lewe is twee begrippe wat aan mekaar gekoppel word, soos ook hier. Jesus is die lewe en Hy is die lig wat lewe gee! Die ware lewe en die ware lig kom net van Jesus af! Met Christus het daar `n nuwe (herskepping) plaasgevind. Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid ...” Sonder Christus se lig is geen lewe moontlik nie.
Die Griekse woord vir wêreld (kosmos) het hier `n hele aantal betekenisse. Die betekenis in die teks is: al die mense wat die aarde bewoon. Christus wil die lig vir al die mense van die wêreld wees. In Johannes 3:16: “want so lief het God die wêreld gehad ...”, word dieselfde woord gebruik. Die wêreld is vanweë die sonde in algehele duisternis. Die sonde het gemaak dat daar geen lig is nie. Die boodskap van hoop vir al die mense in die wêreld wat in duisternis leef: Christus is die lig wat die duisternis vir altyd verdryf.
b. “Ek is”. Jesus se gebruik van die uitdrukking “Ek is”, is nie deur Homself uitgedink nie, maar Hy sluit by God se naam “Ek is” (Eks 3:7-15) aan. Die uitspraak van God in Eksodus 3 vertel dat God se gesag in Homself is. Hy getuig oor Homself. Die enigste wat so kan getuig, omdat Hy God is. Dieselfde geld vir Jesus Christus. Deur die uitspraak toon Christus nie net wie Hy is nie, maar ook wie die Vader is, want wie Hom sien, sien ook die Vader (Odendaal).
c. “Slegs hy wat My volg”. Die term “volgelingskap” word aanvanklik deur Johannes gebruik vir die roeping van gelowiges – soos die dissipels alles gelos en Jesus gevolg het. Johannes gebruik die term om uit te druk dat dissipelskap beteken om Jesus te volg en na sy stem te luister. Die manier hoe jy gaan wys dat jy aan Jesus behoort, is deur Hom te volg en Hom te gehoorsaam (Schnackenburg). Die woorde van Christus “Ek is die lig” beteken dus niks as dit net gehoor word nie. Jy kan alleen uit die duisternis gelig word as jy vir Jesus volg. Dit is belangrik dat dit deel van die prediking moet vorm. Jesus is nie die lig vir almal nie! Slegs vir dié wat Hom volg. Jesus belowe lig in duisternis vir die wat Hom volg. Die uitspraak van Jesus lok reaksie uit. Die reaksie vertel of mense die lig het of nie. Die tipe reaksie van die Fariseërs verteenwoordig `n ongelowige wêreld daarbuite, wat nie wil volg nie en nie wil glo nie. Natuurlik gaan die belofte ook verder: “Wie My volg ... sal die lig hê wat lewe gee.” Die volgelinge van Jesus se lig sal in die duister wêreld moet skyn. ’n Volgeling van Jesus moet ook `n dissipel wees wat die lig verder versprei. Dit is soos `n kers wat ander kerse aansteek – so moet Jesus se volgelinge die lig van Jesus oor die wêreld aansteek.
Met die oog op die prediking leen hierdie teks hom by uitstek tot `n baie eenvoudige, maar duidelike evangelieboodskap. Dit is belangrik dat ons nooit sal vergeet watter krag die eenvoud van die evangelie in mense se lewe het nie. Omdat vers 12 die kern vorm en uiteindelik soveel negatiewe reaksie by die wêreld ontlok, moet die prediker waak om nie soos die fariseërs te veel aandag aan die syspoor te gee nie. Die preek moet dus nie hoofsaaklik daaraan gewy word om die argumente van die fariseërs in detail te ontleed nie, maar daar moet baie tyd aan die kern van Jesus se getuienis afgestaan word. Die duisternis op aarde is baie groot. Die gemeente, en dan die wêreld in `n nog groter mate, het die lig van Jesus baie nodig.
Die eksegese wys drie elemente uit. Eerstens, die selfgetuienis dat Jesus die ware lig is. Tweedens, Jesus se uitnodiging en belofte dat almal wat Hom volg, deel sal kry aan die lig. Derde is die uitdaging (dispuut) wat die fariseërs (wêreld) tot Jesus rig om te bewys dat Hy die ware lig is. Ek sou die feit dat die Fariseërs (wêreld) Jesus teenstaan, in die preek inweef, en twee hoofgedeeltes gebruik; Jesus is die lig vir die wêreld en die lig gee lewe vir almal wat Hom volg.
Preekvoorstel
Voor die Skriflesing: Ons tref Jesus hier in die tempel aan, in `n tweegesprek met die Fariseërs. Hy het die belydenis gemaak dat Hy die lig vir die wêreld is. Dit het nie goed op die ore van die Fariseërs geval nie. Johannes 8:12-59 beskryf die tweegesprek tussen Jesus en die Fariseërs, hoofsaaklik omdat hulle sy identiteit betwis, terwyl Jesus dit keer op keer beklemtoon. Volgens die Nuwe-Testamentiese geleerde Schnackenburg is hier `n duidelike bewys van die onoorbrugbare kloof tussen die gelowige mense en die ongelowiges. Daar is `n verskil tussen `n volgeling van Jesus en dié wat in die wêreld is. Die enigste manier om die brug oor te steek is om te glo.
Skriflesing: Johannes 8:12-20 (Fokusteks – vers 12)
As kinders het ons altyd donkerkamer gespeel. Dan word al die ligte afgesit. Een van die kinders staan buite die kamer en moet na `n ruk die ander kom soek wat in die donker wegkruip. As jy wegkruip, is dit so donker dat jy nie jou hand voor jou kan sien nie. Later as jy so goed weggekruip het dat niemand jou kry nie, wens jy dat iemand jou kan kry, want die donker het `n manier om jou te oorweldig. Hoekom? Omdat donker vir mense nie `n lekker toestand is om lank in te verkeer nie.
Die skeppingsverhaal (Gen 1) sê: “Toe het God gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig ...” Van die wonderlikste dinge wat deur God geskape is, is lig. Miskien een van die wonderlikste. Het u al ooit daaraan gedink dat dit wat ons sien, nie berge en bome en geboue en mense is nie, maar lig – of beter, `n weerkaatste lig. As dit donker is, kan ons nie sien nie, as dit daglig is, sien ons nie iets omdat dit nou daar is en netnou nie daar is nie. Ons sien dinge raak omdat die lig daarop val. Daar is verskillende vorme van lig. Elke vorm het `n bepaalde funksie, byvoorbeeld sigbare lig in die verskillende kleure van die reënboog, ultraviolet lig wat ons nie met die oog sien nie, maar deur ons vel opgeneem word, X-strale, infrarooi, laserstraal. Al die tipes lig het elkeen `n unieke genesingseienskap. In die “lig” van al die feite moet ons Jesus se uitspraak raaksien: “Ek is die lig vir die wêreld.”
Aan die een kant wil ons dit bevestig dat Jesus se lig die duisternis verdring het. Die mens sukkel om in die donker te sien. Hy sukkel om sy pad te vind. God het vir Jesus gestuur om die lig vir die wêreld te wees. Hierdie begrip is so eenvoudig dat dit tragies was dat die Fariseërs dit nie verstaan het nie. Miskien omdat hulle die lewe vir hulleself so moeilik gemaak het. Vir hulle was dit belangrik dat alles in ’n sekere logiese raamwerk ingepas het. Hulle probeer om Hom op verskeie maniere in diskrediet te bring, maar die kern is dat hulle nie verstaan het nie omdat hulle nie die lig gehad het nie.
Duisternis maak mense se lewe donker. Daar is verskeie dinge wat duisternis bring. Sonde bring duisternis. Sommige mense se lewe is so donker vanweë die sonde, dat hulle nie weet watter kant toe nie. Ander mense se lewe is duister vanweë omstandighede. Ander se lewe is duister net omdat hulle nie wil glo nie. Agnostici – mense wat alles wil uitredeneer, Nuwe Hervormers, vir wie die eenvoud van die boodskap van Jesus net te eenvoudig is, en nog vele ander, sukkel om te glo. Jesus antwoord Nikodemus, wat ook gesukkel het: “As iemand nie weergebore word nie, sal hy die koninkryk van die hemel nie sien nie.” In die saligsprekinge skryf Matteus: “Geseënd is hulle wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Let op die woord ”sien”. `n Mens kan net in die lig “sien”. Net Jesus kan duisternis laat verdwyn. Hy kan jou anders laat kyk. Hy is die lig wat jou anders laat sien.
Duisternis laat `n mens struikel. Dit laat jou afkyk, laat jou soekend. Die mens wat in die duisternis van die sonde leef, sukkel om ver te sien, om die mooi rondom raak te sien. Hy soek heeltyd die pad en gebruik al sy energie om te oorleef. As daar enige lig aangeskakel word, ontspan jy onmiddellik. Nou kan jy alles sien en waardeer. Vir almal wat hulleself in die duisternis bevind, of dit is vanweë sonde, omstandighede, of ongeloof, Jesus het lig gebring. Net Hy kan vir jou lig bring.
Die aanbod van die lig is vir almal (wêreld ), maar die lig wat lewe gee is slegs (effektief ) vir die mense wat Jesus wil volg. Die woord vir wêreld is dieselfde as in Johannes 3:16: “So lief het God ...” Die Here maak die aanbod aan die wêreld en sy mense. Maar jy sal alleen die kragtige lig kan kry as jy vir Jesus volg. As jy `n volgeling van Jesus word. `n Volgeling was meer as bloot iemand wat saam met die groep beweeg het (meelopers). `n Volgeling is soos die dissipels wat alles prysgegee het en Jesus met hulle lewe gevolg het. Daar het baie mense saam met Jesus beweeg en van een dorp na `n ander gereis, maar nie almal was volgelinge nie. Daar is vandag nog meelopers, mense wat nie regtig volgelinge is nie. Hulle beweeg so saam met die Christendom, sit Sondae in die kerk, maar volg nie regtig vir Jesus nie. Net Jesus se volgelinge ontvang die lig. Hulle duisternis sal verdwyn. `n Volgeling is iemand wat sy lewe in die hande van die Here gee en Hom koning maak. (Hier kan die prediker volgens eie omstandighede `n appél rig tot mense om Jesus te volg.)
Let ook op hoe die lig wat volgelinge ontvang, `n lig vir ander sal wees. Hulle sal die lig verder dra. Die lig van die Here laat jou nie net die duisternis raaksien nie, maar help ook dat mense wat rondom jou beweeg, skielik in `n ander lig loop – wat nuut en anders skyn. Jy sal egter nie so `n nuwe lig kan laat skyn, as jy dit nie self eers het nie.
Efesiërs 5:8 sê: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle die lig.” Jesus is die lig wat duisternis in jou lewe kan wegneem. Is Hy ook jou lig?
Bibliografie
Schnackenburg, R. The Gospel according to St John, Volume 2; Morris, L. The Gospel according tot St John; Odendaal, A. Jesus se Ek Is–uitsprake; Groenewald, E P. Die Evangelie van Johannes; Blignaut, J M. Laat my weer blydskap en vreugde belewe.