1 Johannes 3:1-7 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 72 views
Notes
Transcript

1 Johannes 3:1-7 LR2006

30 APRIL 2006

DERDE SONDAG IN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:           1 Johannes 3:1-7

Ander tekste:       Lukas 24:36b-48; Handelinge 3:12-19; Psalm 4

INLEIDING

Die gevangenskap van nood, sonde en skuld beskryf in al die tekste die toestand van die sondige mens in ’n sondige wêreld. Christus het bevryding gebring, en die oproep tot inkering en bekering lui hier soos Paasklokke. Die beskrywing van ’n lewe vry van sonde (veral in die fokusteks) is ’n heerlike uitnodiging.

DIENSORDE

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Paaskers

Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.

Aanvangswoord

Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.

Voorganger:  Christus het opgestaan!    (Christos anesté!)

Gemeente:     Hy het waarlik opgestaan! (Aléthos anesté!)

Sang

Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113

Seëngroet

Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en is deur sy Heilige Gees vanoggend hier by ons teenwoordig. Hy groet ons net soos net soos Hy sy dissipels na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle!” (Luk 24:36b).

Lofsang

Lied 406 “Ons loof U, Vader, op die troon!”; NSG 111

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

O God wat aan my reg verskaf,

antwoord my as ek roep.

Toe ek in die nood was,

Het U my bevry.

Wees my ook nou genadig

en hoor my gebed ...  (Ps 4)

Skriflesing

Handelinge 3:12-19

1 Johannes 3:1-7

Sang

Lied 189 “Halleluja!”

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalsgebed

Gees van die lewende God,

wees die tuinier van my gees.

Hoe lank wag ek nou al op U

– stil – in ’n

 koue winter van my siel.

Maar nou, in die kragtige Naam van Jesus Christus,

waag ek om U te smeek:

Hark weg die dooie blare van die verlede.

Vergruis die harde kluite

van my weerbarstige gewoontes en groewe.

Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde.

Plant diep in my siel u lewegewende Woord.

Versorg, gee water, koester my hart

totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom (Richard Foster).

Instellingswoorde

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis” (1 Kor 23-25).

Uitdeel van brood en wyn en gebruik

Voorbidding

Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” – almal

Lied 279 “Hoor ons sug, o Heer” – mans

Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” – vroue

Lied 279 “Hoor ons sug, o Heer” – almal

Dankoffers en bulletin

UITSENDING

Skriflesing

Lukas 24:36b-48

“Julle is getuies van hierdie dinge” (Luk 24:48).

Sang

Lied 533 “Stuur ons, Here”

Seën

Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek;

Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens;

Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.

Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees,

tussen ons wees en vir altyd bly (William Temple).

Antwoord

Die gemeente sing “Amen”  Lied 315.

PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 3:1-7

Agtergrond

Die Johannese briewe is geskryf om die lesers te waarsku teen die groep wat as gevolg van gnostiese (klem op die verstandskennis van die mens) en dosetiese (die menswording van Christus word ontken) oortuiginge weggebreek het van die Christelike gemeenskap. Die klem is egter op die versterking van die gelowiges. Hy wil hul identiteit glashelder hê. Die skrywer is sensitief vir die verwarring wat deur die wegbrekers geskep is en probeer daarom pastoraal wees. Liefde loop soos `n goue draad deur die brief en ons hoofstuk. Sy strategie is om die gelowiges by die bekende (die ortodokse) te hou. Daarin en daardeur sal hulle weet dat hulle reg is. Teen die agtergrond kan die wit/swart kategorieë verstaan word (lig/duisternis; liefde/haat; lewe/dood; kinders van God/kinders van die duiwel; ens). Daar is nie plek vir grys in sulke omstandighede nie.

Teks

1.  Die perikoopindeling val effe vreemd op. Volgens Brown is die algemeen aanvaarde indeling 2:28-3:10, onder andere weens die klem op “regverdig lewe” in 2:28-29 en 3:9-10, asook die wederkoms-werklikheid in 2:28 en 3:10. Die perikoop kan onderverdeel word in 2:28-3:6 en 3:7-10.

2.  Daar is `n soort spiraal in die brief. Temas word herhaal en telkens weer in effe ander verbande na vore gebring. Alles is gevolglik ook nou verweef. Dié kenmerk is ook in ons perikoop sigbaar.

3.  Daar is nie groot probleme in die teks nie. Die inhoud van 3:1-7 word vers vir vers kortliks weergegee:

a.  Die skrywer wil hê dat die identiteit en roeping van die lesers vas moet staan. Wie kinders van God is, vloei uit die argument wat in 2:29 begin, waar die eerste kenmerk genoem word. Die wat regverdig lewe, is kinders van God. Reg leef is die teken van die werklikheid in Christus. In 3:1 word nog 2 kenmerke bygevoeg. Die vader noem ons sy kinders, as erkenning dat dit so is. Dat die wêreld die gelowiges nie ken nie, is ’n verdere bewys van hul kindskap, aangesien die wêreld (die ongelowiges en die wegbrekers) ook nie vir Jesus wou aanvaar (ken) nie. Dit moet die gelowiges versterk te midde van al die aanvegtinge.

b.  Kinders van God staan met die een voet in die hede en die ander in die toekoms. Hulle beleef God se gawes en teenwoordigheid nou, weet wie hulle in Christus is, maar weet juis ook daarom dat die volle werklikheid nog moet aanbreek. By die wederkoms (vgl 2:28) sal alles geopenbaar word. Te oordeel na wat al beleef is, sal die openbaarmaking intens opwindend wees (vgl 1 Kor 2:9). Christus sal dan in sy volle glorie gesien word (hoewel dit tans nog verborge is) en die gelowiges sal “soos hy wees”. Dis die hoop (vgl Joh 17:24) en die realiteit waarmee tans geleef word (vgl 2 Kor 3:18). Die vers wil sê die onsekerhede waarmee tans geleef word, sal dan uitgewis wees.

c.  Wie met hierdie hoop (vgl 3:2) leef, hou hom – en haarself rein (Matt 5:8) – `n opdrag nie vreemd aan die Skrif nie (vgl Jak 4:8, 1 Pet 1:16, 22). Wees wat jy is, in afwagting van sy koms.

d.  In 4-6 word sonde en wetteloosheid gekontrasteer met “in Hom bly”. Die kontrastering skarnier om Christus wat die sonde wegneem. In 7-10 is die teenstelling tussen regdoen (as teken van geregtigheid) en wie nie regdoen nie (as van die duiwel). Weer eens is Christus wat die werke van die duiwel vernietig, die punt waarom dit skarnier. Die argument is om die kontras tussen `n regverdige lewe en `n lewe in sonde te beklemtoon. Anders gesê: Dit gaan oor die beklemtoning van die noodsaak dat gelowiges hulle van sonde moet weerhou en die moontlikheid dat hulle in `n regte verhouding met God kan leef, sal besef. Sonde (in v 4) kan die beste vertaal word met wetteloosheid. Daar moet egter nie aan die tradisionele manier van verstaan, naamlik dat sonde `n morele (of eintlik immorele) daad is, gedink word nie. Dit gaan nie hier om die verbreking van `n Goddelike wet (en daarom is dit so `n ernstige saak) nie. Die woord “wetteloosheid” kom net hier in die brief voor en die woord “wet” is volledig afwesig. In 2 Tessalonisense 2:3 en 7 word die woord ook gebruik. Saam gelees, dui sonde op rebellie teen die wil van God. Sonde, of om te sondig, sou dan beteken om jou aan die kant van die duiwel en die antichris, teenoor Christus te stel. Die siening strook ook beter met die grondbetekenis van die woord “wetteloosheid”, wat dui op opposisie teen God. Jy kan tog immers nie hoop op die koms van Christus en terselfdertyd volhard in sonde waarmee jy beklemtoon dat jy in rebellie teen God is nie. Die probleem van wetteloosheid was ook nie vreemd aan die vroeë Christendom nie (bv 1 Kor 5:9-20; 2 Kor 6:14;  Matt 7:23;  13:41;  24:12 en Jak 2:17).

e.  `n Verdere rede hoekom Christene nie behoort te sondig nie, is te sien in die feit dat Jesus weer gaan kom as teken van God se teenkanting teen sonde. Dit is algemeen bekend, so redeneer die skrywer, dat Jesus gekom het om die sonde weg te neem. Die Griekse werkwoord airein (om weg te neem) beteken nie hier “om te versoen” nie, maar dit is tog nog steeds die bedoeling (soos ook in Joh 1:29). Dit gaan hier nie soseer om die versekering dat die leser se sonde weggeneem is nie, maar om die feit dat die Een wat dit gedoen het, teen sonde is. Nie alleen dit nie, ook sy sondeloosheid is `n bewys dat Hy teen sonde is. Dit is daarom net logies dat sy mense ook teen sonde sal wees.

f.  Vers 6 is `n logiese gevolgtrekking uit wat in vers 4 en 5 gesê is: “Iemand wat `n lewe in Christus lei, sondig nie!” Dit bring onmiddellik `n hele reeks verse ter sprake (1 Joh 1:8, 10; 2:1,11; 5:16). Vele verduidelikings is deur die jare aangebied. Hier is slegs enkeles wat, as dit in `n mandjie geplaas word, tog saam redelike klaarheid bring. (i) As onthou word dat die skrywer by verskillende geleenthede verskillende probleme wil aanspreek, verdwyn die skerpte van die teenstrydighede al heelwat. In 1:10 gaan dit byvoorbeeld oor mense wat meen hulle is perfek teenoor 3:6 waar mense sê dit maak nie regtig saak hoe jy van dag tot dag lewe nie; (ii) Indien die vertaling oorleun na die feit dat die werkwoord hier in die teenwoordige tyd is, maar iets van `n voortgaande handeling wil aandui, kan dit verstaan word as “hou nie aan met sondig nie”. Hoewel dit `n gewilde (Britse) verklaring is, word dié soort taalkundige verduidelikings nie konsekwent in die brief van Johannes toegepas nie (bv by 5:15). Tog bly dit waar dat wie in Christus leef, nie eenvoudig maar kan aanhou om sonde (ook `n spesifieke sonde) te doen nie – al sou die teks hier `n bietjie gerek word om dit te sê; (iii) Die vers kan ook verstaan word as `n poging van die skrywer om midde in `n argument sy punt te maak. Weliswaar word die waarheid effe skuins gehou sodat dit net beter gesien kan word. Dis dan nie soseer `n dogmatiese uitspraak nie, maar eerder net `n manier van praat. Amper iets soos: “Jy kan tog nie sê jy is `n kind van God en dan doen wat jy doen asof dit geensins saak maak nie!” Indien die verduideliking van “wetteloosheid” as rebellie teen God aanvaar word, belig laasgenoemde twee verklarings (ii en iii) tog `n element van die waarheid; (iv) Indien bogenoemde as verklaringsmoontlikhede aanvaar sou word, kan ongeloof as verdere verklaring van sonde, al is dit net ter wille van vollediger verstaan, ook verhelderend wees; (v) `n Laaste opmerking: Vanuit die Ou Testament en spesifieke gedeeltes soos Esegiël 36:27, was daar die hoop dat God in die eeu wat sou kom, die mens in staat sou stel, en van hom eis, om anders as in sonde te leef. As die gevare soos deur Paulus uitgewys aan die kerk in Korinte en Filippi (om nie te verval in `n soort perfeksionisme nie) genoegsaam verreken word, kan die volgende tog ook gesê word: As eskatologiese werklikheid is die moontlikheid vir Christene geopen om te besef dat hulle nie kan sondig nie – op voorwaarde dat hulle in Hom bly. Uiteraard sal gelowiges voortdurend in hierdie spanningsveld bly leef. Dalk moet hierdie verklaring ernstiger geneem word aangesien Christene te maklik skuil agter “ons-is-nou-maar-eenmaal-sondaars” (vgl verklaring by vers 3). Nie een van die verklarings is waarskynlik sonder leemtes nie. Saam gelees bied dit tog ’n opklaring van die oënskynlike teenstrydigheid.

6.  Die skrywer wil die spyker wat hy ingeslaan het, net omklink. Daar moet geen twyfel wees nie. Anders as wat die wegbrekers die mense wil laat glo, is dié wat `n regte verhouding met die Here het, mense wat in hulle daaglikse lewe wys, deur hul gedrag en optrede, dat hulle reg leef – dit is met liefde. Dit is immers hoe God en Christus gehandel het. Hierdie argument word dan verder gevoer in vers 8-10, maar is nie formeel deel van die voorgeskrewe perikoop nie.  Dit hoef egter nie `n onvolledige preek te impliseer nie.

Konteks

1 Johannes moet verstaan word teen die agtergrond van die skeuring wat in die Christelike gemeenskap ontstaan het. Primêr gaan dit oor die verstaan van Jesus. In die Johannese gemeenskap was Jesus die een wat hulle tot `n eenheid saamgebind het. Nou is dit die denke oor Hom wat hulle verdeel. Die onmoontlike het moontlik geword. Daarom moet kennis geneem word van die feit dat, soos geïllustreer deur die skuif vanaf die omstandighede soos ons dit in die Johannes evangelie leer ken en dié in die Johannese briewe, interne konflik baie meer destruktief kan wees as teenstand van buite.

Die invloed wat die dwaalleraars en dié wat as gevolg van die denkwyses weggebreek het, uitoefen, is te sien in die sewe verwysings na hul standpunte (1:6; 1:8; 1:10; 2:4; 2:6; 2:9 en 4:20). Die standpunte het hoofsaaklik gedraai om twee sake: die belydenis dat Jesus Christus in die vlees gekom het en die noodsaaklikheid van `n lewe van aktiewe liefde vir die broer (en suster). Beide standpunte is deur die dwaalleraars verwerp aangesien hulle geglo het in `n direkte mistiese kennis van God en die aanname dat hierdie mistiese liefde vir God broederliefde totaal onnodig maak, daar dit aards of wêrelds is.

Die “teologie” van hierdie teenstanders was baie egosentries. Dit het die feite aangaande die openbaring van Jesus geïgnoreer, asook die apostoliese getuienis daaromtrent. Gevolglik kon hulle direkte kontak – so is geglo, met God hê sonder enige verwysing na Jesus Christus. Die hemelse Christus (wat volgens hulle nie met die aardse Jesus gelykgestel moes word nie; die hemelse Christus het op Jesus neergedaal, maar voor die kruisiging weer vertrek) het wel beperkte erkenning geniet, maar sonder om die apostoliese getuienis in verband met die historiese Jesus enigsins te aanvaar.

Die skeuring in die Christengemeenskap het `n groot rol in die inhoud en skryfstyl van die brief gespeel. Die eis tot liefde is deurlopend in die brief (1:1; 2:7, 13, 14, 24;  3:11). Dit spruit uit die gebrek daaraan by die wegbrekers en hul leermeesters. Praktiese liefdesdade was ononderhandelbaar. Gebrekkige gasvryheid was byvoorbeeld beleef as verwerping van Christus.

Leerstellings, ook oor Jesus as die Seun van God, hoe belangrik ook al, mag nie abstrakte waarhede bly nie. Dit moet oorgaan in praktiese, konkrete liefdesdade. Die liefde moes teenoor ander mense uitgeleef word. Die teenstand teen die leierskap is ook gesien as `n vorm van gebrekkige liefde. Hierdie gebrekkige liefde het gespruit uit die feit dat die dwaalleraars nie Christus se lewe “in die vlees” wou erken nie, daarom dat hulle eie of ander se lewe “in die vlees” nie juis saak gemaak het nie. Dit is ook die rede waarom die skrywer “reg optree” (regverdigheid) so beklemtoon en die wederkoms motief ter sprake bring. Jesus is by almal wat regverdig handel, maar hoe dit beoordeel word, sal uiteindelik en finaal duidelik wees in Jesus se koms. Dan sal ons weet wie kinders van God en kinders van die duiwel is. Liefdeloosheid en onregverdigheid is ondenkbaar, want Christus se bloed het ons gereinig tot gemeenskap met God en mekaar.

Die skeuring in die geloofsgemeenskap is ook deels te blameer vir die teenstrydighede in die brief. Die skrywer het die taak gehad om dié wat agtergebly het in die geloof, te versterk te midde van die ontwrigting oor sommige wat so intiem deel van die gemeenskap was, maar weggebreek het (2:19). Hul identiteit was gevestig in die belewing van Jesus en die oorvertel van sy storie, asook die ervaring van die leiding van die Gees. Dit is veral gesien in die eenheid en liefde onder mekaar. Nou is daar twee groepe wat aanspraak maak op die waarheid – `n waarheid wat mekaar uitsluit. Die skrywers moes in hierdie veranderde omstandighede die ou waarhede (her)bevestig, maar nou in die lig van die nuwe uitdagings.

Dit is merkwaardig dat die brief nie `n bitterbek getwis is oor die wat weg is nie. Die brief behandel ook nie die standpunte van die teenstanders nie (Paulus moedig die styl van doen ook in Ef 5:10-13 aan). Die fokus is nie op die wat weg is nie, maar op hulle wat agtergebly het. Hulle word nie bloot geprys omdat hulle gebly het nie, maar uitgedaag om met hernude oortuiging hul identiteit nie net met woorde te bely nie, maar veral te leef (vgl 2:1;  5:21). Die brief staan uit omdat dié wat weggebreek het, nie geblameer word nie, maar dié wat gebly het, opgeroep word tot `n nuwe verbintenis aan die waardes waarin hulle glo. Hulle word aangemoedig om bedag te wees op die moontlikheid dat hulle kan faal. Gemaksugtigheid, `n tevredenheid bloot omdat hulle gebly het, word afgewys. Daarby word hulle opgeroep om seker te maak dat wat hulle dink of sê, van die Here kom (4:1).

Die geloofsgemeenskap word ook aangesê om nie te dink dat die wêreld daar buite is nie. Hulle het gesien die wêreld is ook tussen hulle, in hulle midde. Daarom moet grense duidelik getrek word, alle afvalligheid by die wortels afgesny word, maar nooit omdat hulle kon dink hulle is beter as ander nie. Eerder moet daar saam met dié wat sondig, gebid word (5:14) vir inkeer en terugkeer. Nederigheid behoort daarom die manier van lewe in die gemeenskap te wees, omdat die identiteit van die groep geleë is in die navolging van Christus. Só word die waarheid gevestig: Versterk die positiewe leefstyl (oa 3:2;  3:9-10) en moedig mekaar aan om die negatiewe te vermy (3:11).

Volgens die leesrooster-indeling is 1 Johannes 3:1-7 aan die beurt wanneer dit Arbeidsondag is. Ek meen nie die brief is met die oog daarop geskryf nie. Tog sou daar wel by aangesluit kon word – as deel van die preek of `n slotgedagte by die preek, op `n onafhanklike plek in die liturgie, of as deel van die uitstuur-moment. Daar kan byvoorbeeld aangesluit word by die gedagte dat Christene moet leef en werk wetende dat ander mense ook gewone mense – vlees en bloed – is. Dit sou `n konkrete gestalte van liefde wees.

Preekvoorstel

In `n wêreld vol aanvegtinge (teologies, kerklik, gemeentelik en in die arbeidswêreld) is dit belangrik dat die gelowiges en kinders van God moet leef as mense wat seker is van hul identiteit en roeping. Dit is terselfdertyd die antwoord op die aanvegtinge. Inleidend kan die spesifieke/relevante aanvegtinge van die gemeente naderby beskryf word. Dit mag ook verdeeldheid in die gemeente wees as gevolg van verskillende standpunte oor kerklike of teologiese aangeleenthede. Dit kan ook wees dat die arbeidswêreld konkrete uitdagings aan die gelowiges rig wat hul verbondenheid aan die Here onder druk plaas.

Ter bemoediging kan die identiteit van die kinders van God opnuut onderstreep word. Die belang van regverdig lewe (2:29), kan beklemtoon word as bevestiging van die kind van God wat met `n roeping leef. Hierby voeg die skrywer van die Johannesbrief die wonderlike werklikheid dat God self die gelowiges sy kinders noem (3:1(a)). Ook die feit dat die wêreld die gelowiges nie “ken” nie (bv nie met alles akkoord gaan waarvoor gelowiges staan nie) is juis rede tot hoop – wie reg lewe, rein lewe soos Jesus, kan uitsien na die volle openbaarmaking van wat dit is om kind van God te wees. Dit sluit die ten volle ken van God in (3:1[b]-3).

Die belangrikheid en noodsaaklikheid om reg te lewe, kan vervolgens op `n nie-moraliserende wyse beklemtoon word as die logiese konsekwensie van kindskap. Die hele dilemma van nie sondig lewe nie, behoort breedvoeriger verduidelik te word. Goedskiks kan die verskillende verklaringsmoontlikhede hier gebruik word om te onderstreep dat dit tog net ondenkbaar is dat kinders van God, wat leef in die verwagting dat Hy weer sal kom, eenvoudig in sonde kan volhard asof dit geensins saak maak nie. Die feit dat Christus gekom het om ons sonde weg te neem en self sondeloos was, maak enige toegewing om maar, om welke rede ook al, in die sonde te bly lewe, onchristelik (a-teïsties). Dit moet predikers nie in hoogheiligheid op mense uitskree nie, maar as medegelowiges wat saam luister na die Woord van God, in beskeidenheid en bewus van ons eie broosheid, tog onverswak benadruk (3:4-6).

As slotgedagte kan die positiewe reg-doen en reg-lewe as die voor-die-hand-liggende-van-die-begin-af-leefstyl beklemtoon word en dit dan aanbied as God se antwoord op die dwaal waarin die wêreld verkeer.

`n Tweede preekmoontlikheid sou wees om te begin met die verlammende effek van interne verdeeldheid. Die Christen-gemeenskap met wie die skrywer in die Johannese briewe praat, is `n duidelike bewys. Die dosetiese en gnostiese dwaalleringe is in die praktyk van hoe mense en ook gelowiges leef, dalk nog springlewendig met ons. Iemand het geskryf dat wat jy van God glo, sien ons in wat jy aan mense doen. Die fisieke behandeling van mense (beledigende en vernederende gedrag, onvoldoende vergoeding, onbillike arbeidspraktyke, onmenswaardige behuising, en dies meer) wys dalk dat die betekenis van Jesus se “in die vlees” kom en dat mense “vlees en bloed” is, nie genoegsaam verreken word nie.

Hoe beveg `n mens hierdie praktyke? Die klem op eie groei, eerder as die afkraak van hulle wat die verkeerde doen en dan as bewys van jou eie groei om al meer die beeld van Christus te vertoon (2 Kor 3:18), `n lewe te lei waar jy regverdig lewe – ongeag die wêreld.

Bibliografie

Brown R E 1982.  The Epistles of John;  Brown R E 1997.  An Introduction to the New Testament;  Burkett D 2002.  An Introduction to the New Testament and the origin of Christianity;  Johnson L T 1999.  The writings of the New Testament;  Kysar R 1986.  I, II, III John;  Lieu J 1991.  The Theology of the Johanine Epistles;  Marshall I H 1979.  The Epistles of John;  Painter J 1975 John.  Witness and Theologian.

Related Media
See more
Related Sermons
See more