1 Johannes 1:1-2:2 LR2006
1 Johannes 1:1-2:2 LR2006
23 APRIL 2006
TWEEDE SONDAG IN PAASSTYD
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Johannes 1:1-2:2
Ander tekste: Johannes 20:19-31; Handelinge 4:32-35; Psalm 133
INLEIDING
Hierdie Paastekste leen hulle tot ʼn baie sinvolle Paasliturgie. Temas soos lig en donker, vrees en vrede is duidelik. God vergewe ons as ons ons sondes na die lig bring (1 Joh 1), daarom kan mense mekaar ook vergewe (Joh 20) en eensgesind met mekaar saamleef (Ps. 133). Die basis vir lewensgemeenskap is die opstanding van Christus (Hand 4).
DIENSORDE
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Paaskers
Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.
Aanvangswoord
Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.
Voorganger: Christus het opgestaan! (Christos anesté!)
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan! (Aléthos anesté!)
Sang
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113
Seëngroet
Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en is deur sy Heilige Gees vanoggend hier by ons teenwoordig. Hy groet ons net soos Hy sy dissipels na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle!” (Joh 20:19)
Geloofsbelydenis
Johannes 20:19-31
Twyfelende Tomas bely uiteindelik: “My Here en my God!”
Daar was ’n tyd, o God,
toe ek na aan U was;
toe my geloof sin gemaak het;
toe ek gereeld in die kerk gekom het;
toe ek hartlik met ander gelowiges saam kon wees.
Toe was sekerheid oor U nie eens ’n vraag nie.
Maar nou het ek in diep twyfel geval.
Waar ek eers gedink het
ek kan dalk sonder U
en “georganiseerde godsdiens” klaarkom
– sterk en op my eie aangewese –
besef ek nou ek kan nie.
Maar ek kan ook nie sommer
na U toe terugkeer nie,
want diep binne-in my
weet ek nie meer soos vroeër nie.
Nou is ek vasgevang tussen weet en nie-weet-nie;
tussen glo en nie-glo-nie;
tussen sekerheid en twyfel.
Dit maak my gek!
Ek draai dus na u toe sonder vaste grond:
U is my rots.
Ek draai na U toe sonder geloof:
U is my vertroue.
Ek draai na U toe sonder selfgenoegsaamheid:
U is my Helper.
En ek vermoed dat U mense soos ek
nog steeds liefhet.
U los ons nie uit nie.
U kyk met deernis hoe ons stry met die lewe en met U.
Ek weet as ek twyfel en nie weet nie:
U is my God ( Piet Naudé).
Sang
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing”; NSG 122 “Christus het die dood verslaan”
diens van die WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Skriflesing
Handelinge 4:32-35
Sang
Lied 189 “Halleluja!”
Skriflesing
1 Johannes 1:1-2:2
Prediking
Deins van die TAFEL
Formulier
Die verpligting van die nagmaal: “Om nou die volle seën van die nagmaal te kan ontvang, is dit nodig dat elkeen hom (of haar) in die teenwoordigheid van die Here ondersoek voor hy (of sy) van die brood eet en uit die beker drink sodat hy (of sy) nie ʼn oordeel oor homself (of haarself) bring nie. Ons word verplig om opnuut na te dink oor al ons sondes. Daar is sondes waar ons met gedagtes, met woorde of met dade oortree het. Daar is ook sondes van versuim, waar ons nagelaat het om die opdragte van die Here uit te voer. Laat ons ons hieroor opreg voor God verootmoedig …"
Skuldbelydenis
“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh 1:8).
Lied 247 “Heer wees ons genadig”
Vryspraak
“… as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh 1:9).
Nagmaal
Voorbidding
Dankoffers
Aankondigings
UITSENDING
Sang
Lied 268 “Laat, Heer, u seën op ons daal”
Seën
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers en susters eensgesind saam woon!
Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
Dit is soos dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers en susters so saam woon,
skenk die Here sy seën:
ʼn lang, lang lewe. Amen (volgens Ps. 133).
Antwoord
Die gemeente sing Lied 315 “Amen”.
INLEIDING TOT 1 JOHANNES
Hierdie geskrif staan bekend as Die Eerste Brief van Johannes, hoewel dit geen aanduiding bevat van wie die skrywer is nie. Van die 21 briewe in die Nuwe Testament lyk 1 Johannes die minste soos ’n brief. Die gebruiklike gegewens oor die afsender en die ontvangers ontbreek, asook enige groet aan die begin en afsluiting aan die einde. Vir die verstaan maak dit nie saak nie, want 1 Johannes is pastoraal en vermanend van aard en dit kan “as ’n pastorale homilie of referaat beskou word wat as geskrewe kommunikasie in situasie soos ’n brief gelees moet word” (Du Rand). Ofskoon sommige meen dat dit ’n omsendbrief kon gewees het, is dit tog waarskynlik gerig aan ’n spesifieke groep mense met wie die outeur in ’n heel besondere verhouding gestaan het en tot wie hy ’n appèl rig.
Van die eerste perikoop af is die ooreenkomste met die Johannesevangelie opvallend. Tog is daar ook verskille. In 1 Johannes word meer klem op die menswording van Jesus gelê, ’n sogenaamde “laer” Christologie, terwyl die Johannesevangelie Jesus se Godheid sterker benadruk, ’n sogenaamde “hoër” Christologie. 1 Johannes is ook meer teosentries (God is Lig – 1 Joh 1:5) en Johannesevangelie meer Christosentries (Christus is die Lig Joh 1:4,9; 8:12) van aard (Du Rand). 1 Johannes is waarskynlik ook nie direk literêr afhanklik van die Johannesevangelie nie. En waar die teenstanders in die evangelie van buite kom, weerspieël 1 Johannes ’n situasie in ’n later periode in die lewe van die Johannese gemeenskap, nadat die Johannese tradisie reeds skriftelik gevestig was en daar teenstanders binne-in die gemeente na vore kom (Du Rand). Die tradisie wat beweer dat die outeur van 1 Johannes en die Johannesevangelie presies dieselfde persoon was, kan nie beslis bewys word nie. Terwyl 1 Johannes waarskynlik later ontstaan as die skriftelike vaslegging van die tradisie wat as basis vir die Johannesevangelie dien, was die outeur na alle waarskynlikheid ook ’n leerling/dissipel “van die lieflingsdissipel wat ook die waarborg was agter die Johannese tradisie soos vervat in die Johannesevangelie” (Du Rand). Die skrywer gebruik dikwels “ons” om homself as lid van die groep aan te dui. Maar in 1 Johannes 1:1-5 dui “ons” op ’n groep binne die Christendom wat by die bron van die tradisie gestaan het. Dit beteken nie dat hy beslis ’n apostel was nie, hy sou ook 'n apostelleerling kon wees (De Jonge).
In 1 Johannes kom die sterk polemiese wyse van redeneer van die Johannesevangelie ook voor. 1 Johannes is veral in gesprek met die aansprake van die teenstanders wat van buite die gemeente kom. Die teenstanders word gekenmerk deur die wandel in die duisternis (1 Joh 2:9-11; vgl. ook 1 Joh 1:6), soos die duisternis in Johannes 1:5 en 3:19-21 in verband gebring word met hulle wat vir Jesus verwerp. Die aansprake van die teenstanders in 1:6, 8, 10 word in die preekstudie hierna behandel. Hierby kan ook gevoeg word: “Iemand wat sê: ‘Ek ken Hom,’ maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie” (2:4); “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het” (2:6); “As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis” (2:9) en “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie” (4:20).Waarskynlik was daar twee groepe in die gemeente, waarvan die een groep later weggebreek het (2:18-19). Die een groep het die stryd met die sinagoge geken en die verguising deur die Jode beleef. ’n Ander groep wat later gelowig geword het, verstaan nie die konteks van die Johannesevangelie en die stryd met die sinagoge en die Judaïsme nie. Hulle denke vertoon ook raakpunte met latere gnostiese denke (Du Rand).
Om die gesprek in die boek te verstaan, moet ons iets van die teenstanders se opvattinge weet. In die lig van hulle min of meer “gnostiese” en dosetiese opvattings, ontken hulle eerstens die belangrikheid van Jesus se posisie. Waar die Johannesevangelie ’n hoë Christologie handhaaf, verdraai die teenstanders (met hulle voor-gnostiese tipe opvattings) Johannese tradisies en gee hulle eie interpretasie daaraan. Die inkarnasie van God in die materiële wêreld is vir hulle totaal onaanvaarbaar, daarom maak hulle ’n skerp skeiding tussen die goddelike Christus en die mens Jesus (1 Joh 2:22). Omdat hulle meen dat gemeenskap met God voldoende is, meen hulle ook dat kennis van en liefde vir Hom genoeg is, en broederliefde nie so belangrik is nie (3:15). Hierteenoor sê 1 Johannes hulle moet mekaar soos Jesus liefhê en sy gebooie gehoorsaam (1 Joh 2:6, 9-11). Hulle meen verder dat hulle sonder sonde is, in beginsel (1:8) en in praktyk (1:10). Hierteen neem die outeur sterk stelling in (1:5–2:11; 3:4–24; 4:20–5:3).
Teen hierdie agtergrond staan die hoofmomente van die boodskap van die boek ook duidelik uit, hoewel die boek beslis nie net dwaling wil afwys nie. Tipies van 1 Johannes is dat die boodskap byna soos ’n spiraal beskryf kan word (Coetzee) – daar word telkens teruggekom na iets waaroor reeds gepraat is, maar die argument word verder ontwikkel. Die belangrike motief van die ewige lewe kom heel aan die begin aan die orde as die doel van die brief (1:2), dan weer wanneer daar vir die eerste keer sprake is van die teenstanders se dwaalleer (2:25v), en weer aan die einde van die brief (5:12v, 20). ’n Verdere belangrike tema is die gemeenskap met God, wat soos die ewige lewe, reeds in 1:1-4 genoem word. Hiermee hang saam dat die gelowige se identiteit na vore kom in sy verhouding met God, maar ook in liefde tot die naaste (1 Joh 4:7-12). Dit is die “nuwe gebod” (2:7-11; 3:11-17; 4:11). Tipies van 1 Johannes is verder die klem daarop dat die gelowige nie in gemeenskap met God kan lewe en dan sy/haar sonde kan ontken nie (1:8, 9; 2:1, 2). Gemeenskap met God hou in 'n liefde vir God, in plaas van liefde vir die sondige wêreld (2:15-17). Dit impliseer ook dat mense wat aan God behoort, tussen die Gees van die waarheid en gees van die dwaalleer onderskei (4:1-6).
PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 1:1-2:2
Teks
Vir ’n deeglike bespreking van hierdie perikoop sien Du Toit en Louw in Woord teen die Lig II/6. Die hoofdele van die boek is: Die proloog 1:1-4: Getuienis oor Jesus Christus, die lewe, met die oog op gemeenskap; 1:5-2:17: Gemeenskap met God wat lig is – leef in lig; 2:18-4:6: Kindskap van God – leef as kind van God; 4:7-5:5: Liefde van God wat self liefde is – leef in liefde; Epiloog 5:6-21: Getuienis oor Jesus Christus, die lewe, met die oog op sekerheid van die besit van die lewe. Ons perikoop is die begin en die grootste deel van die eerste hoofdeel van die boek. Die proloog en epiloog teken die Christologiese bron van sekerheid, terwyl die hoofdele tussenin die etiese gestaltes van die belewing van die sekerheid uitspel (Du Rand). Hierdie verweefdheid van die Christologiese en etiese aspekte kom reeds in ons perikoop na vore.
1 Johannes 1:1-4 herinner ons aan Johannes 1:1-18 en stel ook groot temas uit die res van 1 Johannes aan die orde: lewe in Christus (vgl. 5:11-12, 20), die werklikheid van die historiese openbaring van God in Christus (4:2; 5:6) en die beklemtoning van “sien” en “getuig” (vgl. 4:14; 5:6-12). In die Grieks is 1:1-4 een lang en moeilike sin met vers 2 as ’n parentese. Dit loop egter op na ’n klimaks in vers 4 (volkome blydskap) met vers 5 wat feitlik die tema van die boek formuleer. Alles in vers 1-4 fokus op Jesus as die Woord wat van die begin van alle dinge af bestaan (Du Plessis). Vier keer word verwys na wat “ons gesien het” (1:1-3), twee keer na wat “ons gehoor het” (1:1,3), twee keer na wat “geopenbaar” is (1:2), twee keer na wat ons “verkondig” het (1:2-3), drie keer is daar ’n verklaring oor wat “ons” (skrywer en ander) beleef het en wat ’n waarborg van die betroubaarheid van die tradisie is (Brueggemann). Hierdie herhaling beklemtoon dat Jesus werklik mens was. Die afwisseling van die werkwoorde in die perfektum en die aoristus onderstreep die historisiteit van Jesus in die verlede, asook dat die effek van sy verskyning nog steeds voortduur (Strawn).
1 Johannes 1:6-2:2 kan byna soos ’n preek oor 1:5 beskou word (Smalley). Die voorlees van die reeks voorwaardesinne in 1:6-2:2 kan verwarrend vir luisteraars wees. Tog is daar ’n duidelike struktuur wat sin maak as dit uitgewys word. Daar is drie belangrike wentelpunte: die slot van vers 7 (die bloed van Jesus reinig ons van sonde), die slot van 9 (Hy vergewe ons en reinig ons), en die klimaks in 2:1-2 (ons het Jesus as voorspraak by die Vader, en Hy is die versoening vir ons sondes). Hierdie draaipunte is telkens die hoofsinne in drie pare voorwaardesinne wat in klimmende orde gerangskik is (Brown). Die eerste voorwaardesin van ’n paar wys telkens na bewerings van die dwaalleraars (“as ons beweer” 1:6, 8, 10) terwyl die tweede sin in die paar dan daarteen die waarheid formuleer (1:7,9; 2:1 Du Toit). Die drie aansprake van die teenstanders is eintlik net variasies op dieselfde tema dat sonde nie regtig saak maak nie. Die twee reekse uitsprake stel wat mense sê en wat mense doen teenoor mekaar.
Die eerste paar voorwaardesinne in 1:6-7. Vers 6 se argument veronderstel: Algemene reël: Mense wat deel aan God het, lewe in die lig, doen die waarheid. Spesifieke geval: Ons (dwaalleraars) sê ons het deel aan God, maar ons lewe in die duisternis. Gevolgtrekking: Mense wat in die duisternis lewe, lieg, doen nie waarheid nie, lewe nie in lig nie, het nie deel aan God nie. Uit die dwaalleraars se lewe blyk dat sonde nie regtig vir hulle belangrik is nie. Hulle beweer dat hulle deel aan God het, maar hulle lewe in die duisternis van sonde.
Daarteenoor veronderstel vers 7: Algemene reël 1: Mense wat in die lig lewe, het aan God deel, Jesus se bloed reinig hulle. Spesifieke geval 1: Ons lewe in die lig. Gevolgtrekking 1: Ons het deel aan God, die bloed van Jesus reinig ons. Hiermee hang saam: Algemene Reël 2: Mense wat aan God deel het, het deel aan medegelowiges. Spesifieke geval 2: Ons het deel aan God. Gevolgtrekking 2: Ons het deel aan medegelowiges. Die verrassende is nou dat mens Gevolgtrekking 1 verwag, maar dat vers 7 dadelik na Gevolgtrekking 2 spring. Dit is juis omdat mense met hierdie “voor-gnostiese” opvattings beweer dat hulle aan God deel het, maar meen dat die liefde vir die naaste nie so belangrik is nie.
Die tweede paar voorwaardesinne in 1:8-9. Vers 8 se argument veronderstel: Algemene reël: Mense wat sê hulle het geen sonde nie, bedrieg hulleself, die waarheid is nie in hulle. Spesifieke geval: Ons (dwaalleraars) sê ons het geen sonde nie. Gevolgtrekking: Ons (dwaalleraars) bedrieg onsself, die waarheid is nie in ons nie. Waar in vers 6 mense wat in die duister lewe, aanspraak maak op ’n besondere verhouding met God, beweer die dwaalleraars in vers 8 dat hulle nie ’n sondige lewenshouding het nie (en in vers 10 ontken hulle dat hulle enige konkrete sondige dade doen). Dat die “waarheid” nie by sulke mense is nie (8), kry in die lig van Johannes 14:6 ’n besondere betekenis. Uit 1 Johannes 3:6, 9; 5:18 kan mens die indruk kry dat Christene nie meer kan sonde doen nie. Die bedoeling is daar dat ’n gelowige nie voortdurend in sonde lewe nie, maar soms wel in sonde val. Maar hier (1:8) verwerp 1 Johannes die dwaling dat gelowiges nie sonde het en doen nie.
Daarteenoor veronderstel vers 9: Algemene reël: God is getrou, Hy vergewe, Hy reinig mense wat sondes bely. Spesifieke geval: Ons bely ons sondes. Afleiding: God is getrou, Hy vergewe, reinig ons. Die algemene reël impliseer nie dat ons sondebelydenis die redegewende oorsaak is met as gevolg God se vergifnis nie. Die feit van ons belydenis is die grond vir die afleiding dat God sal vergewe. Dit is sy trou wat vergifnis moontlik maak. Letterlik staan daar: “Hy is getrou en regverdig met die gevolg dat Hy ons sondes vergewe en ons reinig ...” By die vergifnis en reiniging van sondes kan nie skerp tussen doel en gevolg geskei word nie – God wil vergewe (doel) en dis ook die gevolg van sy trou en regverdigheid (Smalley). Dit is ’n algemene voorwaarde in die hede (derde klas voorwaardesin), en die subjunktief is distributief van aard, “if any of us” Wallace). Marshall wys verder daarop dat die voorwaardesin hier die krag van ’n bevel het. Die voorwaardesin kan met die volgende voorbeeld verduidelik word: “As ’n vrou 'n ring aan haar linkerhand dra, is sy getroud.” Dit veronderstel: Algemene reël: Alle vroue wat getroud is, dra ’n ring aan die linkerhand. (Dit kan nié omgekeer word nie na: “almal wat ringe dra, is getroud.”) Spesifieke geval (grond): ’n Vrou dra ’n trouring aan linkerhand. Afleiding: Sy is getroud.
Die derde paar voorwaardesinne in 1:10-2:2. 1:10 se argument veronderstel: Algemene reël: Mense wat sê hulle het geen sonde nie, maak Hom tot leuenaar, sy Woord is nie in hulle nie. Spesifieke geval: Ons (dwaalleraars) sê ons het nie sonde gedoen nie. Gevolgtrekking: Dus ons maak Hom tot leuenaar, sy Woord is nie in ons (sterker as in 8). Hoewel die verskil tussen die aansprake van vers 8 en 10 nie so opvallend is nie, word die argument al hoe sterker: vers 6: lieg ons; vers 8: mislei ons onsself; vers 10: maak ons God tot leuenaar.
Die antwoord op die derde aanspraak van die dwaalleraars volg in 2:1-2, maar die eerste deel van 2:1 is ’n invoeging om die erns van sonde te onderstreep sodat hulle in die lig kan lewe (1:7). En tog weet die skrywer dat die moontlikheid van sonde steeds daar is, daarom “en as een van ons sondig,” waar die aoristus op ’n daad van sonde dui. Die voorwaardesin in 2:1 veronderstel: Algemene reël: Jesus is voorspraak (vers 2: versoening) vir mense wat sonde doen. Spesifieke geval: een van ons doen sonde. Gevolgtrekking: Ons (as mense wat sonde doen) het Jesus as voorspraak (en versoening); (vers 2) wêreld (as sondaars) het Jesus as Parakleet (en versoening)
Konteks
In die tweede reeks perikope word 1 Johannes 1:1-4 as teks vir die eerste Sondag na Kersfees aangedui. Dan val die klem in aansluiting by Advent en Kersfees baie sterk op die menswording van Jesus as die Seun van God. In die vierde reeks perikope word 1 Johannes 1:5-2:6 weer as teks vir die derde Sondag na Trinitatis aangegee. In die huidige reeks is dit die teks vir die eerste Sondag na Paasfees. Die besondere rol wat die Lewe wat gekom het (1:2) hier speel, sluit baie nou aan by die Paasevangelie van Jesus as die opgestane en lewende Here. Die uitdaging sal wees om reg aan die hele gedeelte te doen in die konteks van Paasprediking.
Aspekte wat hier van belang kan wees, is die rol van die tradisie en kontinuïteit met die verkondiging deur die eeue heen (ook vandag nog) in die Paasprediking; die verband tussen Jesus as die lewende en opgestane Here en vergifnis en reiniging van sonde, maar ook die gevaar van verkeerde en verdwaalde vroomheid rondom die Paasevangelie. ’n Ander uitdaging is om die sentrale tema van God as lig ook in die lig van die Paasevangelie te verstaan. Deurentyd sal die nou vervlegting van die Christologiese en etiese dimensies in die konteks van Paasfees sentraal moet staan.
Daar is reeds in die inleiding en bespreking van die teks aandag gegee aan die wyse waarop die outeur inspeel op die eerste lesers en hulle worsteling met teenstanders wat die Johannese tradisie anders wil interpreteer. Die debat rondom die evangelie van die kruis en opstanding is dus so oud as die Nuwe Testament self. Die praktiese doel van 1:1-4 was juis om ’n verdeelde gemeente terug te roep na die basiese uitgangspunte en om die dwaalleraars te antwoord.
Maar ook vir die moderne mens van die 21ste eeu kan die besondere nadruk op “getas, geraak, gehoor, gesien” effe vreemd oorkom. Die prediking vind plaas in die kerk, ’n vreemde gemeenskap van mense wat vashou aan die ketting van tradisie. Dit is verder ’n gemeenskap van mense wat nie bloot ’n vereniging is van mense wat in dieselfde sake belangstel nie. Juis daarom dit gaan verder, dit gaan om gemeenskap met God en met die naaste, versoening, sondebelydenis en die vergifnis van sondes. ’n Verdere probleem is dat daar vandag vir baie mense nie meer aan die hand van tradisie verkondig en oorgelewer word nie. Die rol van ouers, kategete en ander wat die ketting van die tradisie voortsit is hier ter sake. Hierdie ketting van tradisie het geloofwaardige Christene en voorbeeldige mense as draers van die tradisie nodig (Wirsching, Fries). Eers in die lewe van geloofwaardige mense word dit sigbaar dat God ook my lewe kan aanraak en verander.
In hierdie gedeelte dreig ook gevare van dogmatiese eksegese en om sake in die teks rondom sondebelydenis en vergifnis in te lees (Du Toit). Dit is ook van belang om die siening van 1 Johannes as geheel oor sonde reg te verstaan (vgl. 1:8,10 en 3:6,9 en 5:18). In hierdie verband verwys Du Toit na ’n uitspraak van Theron dat ’n gelowige wel ook ’n sondaar is, maar eintlik is hy/sy nie ’n sondaar (tot die dood) nie, want hy/sy is 'n verloste sondaar.
In die lig van die film oor Luther wat ’n jaar of meer gelede vertoon is, is die saak van belydenis, sonde en skuld en ook die Rooms-Katolieke gebruik van die bieg en aflaat opnuut vir talle aktueel en omstrede. Luther het nog in die Groot Kategismus verklaar: “Wanneer ek derhalwe iemand vermaan om te bieg, doen ek niks anders as om so iemand te vermaan om ’n Christen te wees nie” (Böhm). Maar wanneer berou en bieg verdag word, gebeur dit ook met sonde en vergifnis. Die waarheidselement in die bieg is dat die ontkenning van en swye oor jou sonde deurbreek word. ’n Mens weet ook eers werklik wat donker is wanneer jy in die glans van die lig staan.
Vir die prediking oor belydenis en vergifnis is dit ook van belang om te herinner aan die dokument wat in November 1998 deur Pous Johannes Paulus II uitgereik is waarin verduidelik word hoe aflaat van die reiniging in die vaevuur in die jaar van die millennium bekom kan word. Protestantse liggame soos die Lutherse Wêreldfederasie en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het skerp hierop gereageer. Dit het gelei tot samesprekings op 9 en 10 Februarie 1999 in Rome oor die teologie en praktyk van die aflaat. Eindelik is daar op 31 Oktober 1999 in die historiese Augsburg (waar die Augsburgse Konfessie van 1530 bekend gestel is) ’n gesamentlike verklaring oor die regverdiging deur Protestante en die Rooms-Katolieke Kerk uitgereik. Tog is die jongste bul van die Pous ten opsigte van die aflaat op geen manier met Reformatoriese regverdigingsleer te versoen nie.
’n Ander vraag is hoe om op ’n persoonlike wyse oor skuld en vergifnis te preek. Böhm wys op die problematiek van die prediking na die selfmoord van ’n 17-jarige met al die vrae oor “Wie se skuld was dit? Wie moes iets gedoen het?” Hy wys ook op die verloop van die verhaal wanneer die agtiende verjaarsdag later gevier word, en die uitdaging om te fokus op hulle wat agtergebly het en met skuldvrae worstel. Hy wys dan op die potensiaal van die viering van die nagmaal en die wyse waarop woorde van skuld en vergifnis die lig van God in die lewe van mense wat gebuk gaan onder skuld, kan inbring.
Ander voorstelle is dié van Bätzing wat oor 1:1-4 die tema van “vreugde” aan die orde stel. Die basis: Die lewe het verskyn. Die bemiddeling daarvan: Dit verkondig ons. Doel: Sodat julle vreugde volkome kan wees. Dit is dan eintlik bedoel vir die Sondag na Kersfees. As hoorders van so ’n preek veronderstel die preek mense wat nie meer krag het nie, siekes, werkloses.
Rink se preek sluit aan by die debat oor die aflaat en regverdiging wat na 1998 weer losgekom het. Hy stel dan die debat van 2000 oor die aflaat met die debat van 1517 in verband. In die lig van eksegese oor die sleutelvers vra hy dan die vraag hoe ekumene nou moet lyk. Hier kyk hy onder meer na die versoende verskeidenheid in Noord-Ierland as ’n model. In ons eie konteks dink mens onwillekeurig aan die saak van die Belydenis van Belhar en die belydenis van skuld en versoening as sake wat direk met die perikoop saamhang. Du Toit doen ook alternatiewe voorstelle vir die prediking aan die hand.
Preekvoorstel
Dit is belangrik om in die prediking oor hierdie perikoop ook aansluiting te vind by momente in die liturgie, soos geloofs- en skuldbelydenis, asook in die nagmaal. Die winspunt van 1:1-4 as deel van die perikoop is dat verbinding van Advent en Kersfees oor die hele Lydenstyd tot in Paastyd sinvol getrek kan word. As ’n eerste gedagte kan die sterk boodskap van die sigbare en tasbare verskyning van Jesus op aarde aan die hand van 1:1-4 opnuut as evangelie verkondig word. Maar net na Paasfees moet daar tegelyk ’n sensitiwiteit wees vir die hermeneutiese uitdagings van die Paasevangelie in die 21ste eeu. Die krag van tradisie deur die eeue kan uitgespel word, asook die uitdaging om self ook in te skakel by hierdie tradisieketting – maar dan nie net op grond van oorlewering deur ander nie, maar juis op grond van eie ervaring van Jesus as die opgestane en lewende Here.
In aansluiting hierby kan gewys word op die wyse waarop 1:5 die boodskap verder vertolk met die klem op God as lig. In die res van die perikoop word dit uitgespel met ingrypende implikasies vir die identiteit van die gelowiges as mense van die lig. Dit kan na twee kante verder ontwikkel word. Nouwen (52) verklaar: “We were innocent before we started feeling guilty; we were in the light before we entered into the darkness” en “When we keep claiming the light, we will find ourselves becoming more and more radiant.” Dit is uitsprake wat alleen as gelowige gemaak kan word. Aan die ander kant bring die drie aansprake van die dwaalleraars ons in aanraking met die duistere moontlikheid in onsself om die kosbare tradisie wat ons ontvang het te verdraai en te verduister. Dan leef ons in die waan dat ons in die lig is, maar dit kan die lig wees van die een wat hom voordoen as ’n engel van die lig (2 Kor 11:14-15). Die dwaling kan manifesteer in die weiering om sonde en skuld te erken en te bely. Daar moet ook rekening gehou word met die realiteit van gelowiges wat lewe met die las van skuld wat hulle net nie kan aanvaar, weggeneem is nie. Die dwaling kan ook manifesteer in die aanspraak om aan God deel te hê, maar dit vir die medegelowige te weier.
Aangesien die Opgestane niemand anders is as Jesus die gekruisigde nie, kom sy dood as offer en reiniging vir ons sondes vanself ter sprake. Die terugkeer van die gesprek oor die aflaat kan illustreer hoe sentraal die regverdiging nog steeds in die ekumeniese gesprek staan. Tegelyk kan die huiwering by Protestante om erns te maak met bieg en belydenis ons eie maskers aftrek sodat ons woorde en dade aan mekaar gemeet kan word. Wanneer ons dade en deel hê aan mekaar met integriteit korreleer met ons belydenis met die mond, sal die lewe in die lig en in die liefde ’n werklikheid wees. Daar moet gewaak word teen enige vorm van wettiese prediking wanneer hierdie eenheid van dade en belydenis benadruk word. Maar ook hierin help die aksent van Paasfees en die verkondiging van Jesus as ons voorspraak by die Vader, ons.
Om struktuur aan die preek te gee, kan na die plasing van die perikoop in die konteks van die Paasevangelie, om die beurt aan die bewerings van die dwaalleraars (1:6,8,10) en die regstelling daarvan (1:7,9; 2:1-2) aandag gegee word. Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk met die klank van die Paasfeesklokke nog in ons ore en die naklank van die vreugdeliedere oor Jesus se opstanding, val nog iets ons op. Dit is asof daar eers vanuit die nuwe situasie van Paasfees geredeneer word, en dan teruggegryp word na die offer en versoeningswerk van Jesus Christus (2:2). Aanspraak 1 (1:6a): Ons het – in die lig van Paasfees – deel (gemeenskap) aan God (wat lig is). Aanspraak 2 (1:8a): Ons het nie sonde nie. Aanspraak 3 (1:10a): Ons het nie sonde gedoen nie.
Korreksie 1 (1:6b-7): Dan lewe ons nie in die lig nie, maar in die duisternis, ons lieg en doen nie die waarheid nie. As ons wel in die lig van Paasfees lewe, blyk dit daaruit dat ons met mekaar gemeenskap het en Jesus se bloed ons voortdurend van alle sondes reinig. Korreksie 2 (1:8b-9): Dan dwaal ons, mislei ons onsself. Maar God is getrou en vergewe sondes van mense wat hulle sondes bely. Korreksie 3 (1:10b-2:2): Dan maak ons God tot leuenaar, is sy Woord nie in ons nie. Nee, ons moenie sonde doen nie. Die lewende en opgestane Jesus is ons Voorspraak, Hy wat aan die kruis versoening vir ons en die wêreld se sondes gebring het.
Bibliografie
Bätzing, R & U 1997. In Roessler, R (red), Predigstudien für das Kirchenjahr 1999/2000: Perkopenreihe IV – Zweiter Halbband, 76-82; Böhm, J & Rink, S 2000. In Roessler, R (red), Predigstudien für das Kirchenjahr 1997/1998: Perkopenreihe II – Erster Halbband, 50-58; Brown, R E 1982. The Epistles of John: Introduction, Translation, and Notes. (AB). (New York: Doubleday); Brueggemann, W et al 1993. Texts for preaching. A lectionary commentary based on the NRSV: Year B. Louisville: Westminster John Knox, 282-84; De Jonge, M 1978. De brieven van Johannes (PNT). Nijkerk: Callenbach; Du Plessis, P J 1978. Die briewe van Johannes (SBG). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers; Du Rand, J A 1990. Johannese perspektiewe: Inleiding tot die Johannese geskrifte. Pretoria: Orion, 139-50; Louw, D J, du Toit B A 1993. Riglyne vir prediking oor die pastorale en Algemene Briewe. WTL II/6 135-158; Marshall, I H 1978. The Epistles of John. Grand Rapids: Eerdmans; Nouwen, H J M 1993. Life of the beloved: Spiritual living in secular world. London: Hodder & Stoughton; Smalley, S S 1984. 1, 2, 3 John (WBC). Waco: Word Books; Strawn, BA 2001. In Von Harn, R E (red). The lectionary commentary. Theological exegesis for Sunday's texts: The second readings: The Acts and the epistles. Grand Rapids: Eerdmans, 577-82; Wallace, D B 1996. Greek grammar beyond the basics: An exegetical syntax of the Greek New Testament. Grand Rapids, Mi: Zondervan; Wirsching, B & Fries, V 2003. In Roessler, R (red), Predigstudien für das Kirchenjahr 2003/2004: Perkopenreihe II – Erster Halbband, 80-85.