1 Johannes 3:16-24 LR2006
1 Johannes 3:16-24 LR2006
7 MEI 2006
VIERDE SONDAG IN PAASTYD
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Johannes 3:16-24
Ander tekste: Handelinge 4:5-12; Psalm 23; Johannes 10:11-18
INLEIDING
Ons vier Goeie Herder Sondag. Psalm 23 en Johannes 10 is klassieke “Goeie Herder”-tekste. Die ander sluit tematies goed daarby aan. In 1 Johannes 3 hoor ons dat Jesus sy lewe vir ons afgelê het. Ons weet dat ons sy kinders (skape) is, omdat die Heilige Gees met ons is. Die Gees van God inspireer ons tot liefdesdade (1 Joh 3) en tot geloof en getuienis (Hand 4).
DIENSORDE
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Paaskers
Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.
Aanvangswoord
Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.
Voorganger: Christus het opgestaan! (Christos anesté!)
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan! (Aléthos anesté!)
Sang
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113
Aankondiging van Goeie Herder Sondag
Skawagter
Die Jirre is my Skawagter wat my nou
innie dradewerke van Hy se proewe hou.
Hy sal my nooit verloor lat lê nie,
en al sal ek ok niks oor my hê nie,
al wei ek nou wyd warie wind begin:
Hy lei my na waterse tissenie dyne in;
Hy sit my siel in my lyf in trig;
Hy breekslat slang se hoepelrig!
U melk my beker vol wa ek loop lê.
In my land wa ek Baas moet sê,
Maak U opslagstrale van my tegeparty.
Ma ek en U, ons sal oenerrie doringse bly! (uit “Innie skylte vannie Jirre” van Hans du Plessis).
Musiek
Randall Wicomb se “Skawagter”
Gregorian Gospel se “The Lord’s my Shephard”
DIENS VAN DIE WATER
Kindertyd
Daar is ’n verhaaltjie van ‘n Amerikaanse sendeling wat by ’n sendeling in Egipte gaan kuier het. In die oop veld sien hulle ‘n skaapwagter met al die skape wat agter hom aanloop en die Amerikaner vra: “Wat gebeur daar?” Die man van Egipte vertel toe dat die skape die herder volg, hulle ken hom en weet dat hul water en voer in die kraal gaan kry as hulle hom volg. ’n Dag later sien hulle ‘n man wat met ’n sweep, ’n geskree, klipgooi en stokke die skape in ’n rigting probeer dwing. Daar hang ’n stofwolk om die skape. Die Amerikaner vra: “Wat gaan aan? Wat probeer die herder nou doen?” Waarop die Egiptenaar antwoord: “Daardie man wat die skape aanjaag, is nie die herder nie. Hy is die slagter!”
Geloofsbelydenis
Psalm 23
Doop
Sang
‘n Keuse kan gemaak word uit “Goeie Herder”-liedere:
Psalm 23 “Net soos ‘n herder uittrek met sy skape” (Totius)
NSG 41 “Faithfull Shepherd, feed me in the pastures green”
Psalm 23 “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie” (T T Cloete)
Psalm 23 “Die Here is my herder en bewaarder” (Lina Spies)
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
God van vrede,
U het ons Here Jesus Christus uit die dood opgewek.
Sy dood het ons dood vernietig.
Sy opstanding het vir ons die lewe gebring.
Hy is ons goeie Herder.
Here Jesus, laat ons oplet na u stem.
Vorm ons soos U ons wil hê.
Doen dit nou deur ons u stem in u Woord te laat hoor.
Skriflesing
Johannes 10:11-18
Lied 189 “Halleluja!”
1 Johannes 3:16-24
Prediking
DIENS VAN DIE TAFEL
Nagmaalgebed
Vader, Seun en Heilige Gees,
Met ons lewens sê ons dikwels vir U “Nee!”
Dankie dat U ons nogtans genadig is.
Dankie dat U vir ons bly “Ja!” sê, ten spyte van ons baie “Nee’s”.
Dankie dat ons u “Ja!” so duidelik hoor
in elke blomkoolwolk wat reën beloof
in elke kalf wat bokspring omdat die lug na water ruik
in elke druppel wat uitsak oor dors aarde
in elke grasspriet wat getrou uitspruit as sy tyd daar is
in elke boerbok wat hom in groen weivelde verlustig
in elke merino se wol
in elke kalfie se geboorte
in elke springbok wat pronk
in elke ribbok wat skugter in die rantjie skuil
U “Ja!” ook in die mense wat vir ons omgee:
ouers, broers, susters, kinders, kleinkinders en vriende,
u “Ja!” ook in die voedsel op ons tafel – in die geur, kleur en smaak daarvan
die brood en die wyn nou hier voor ons,
wat ons herinner aan u grootste “Ja!” ooit:
die liggaam en die bloed van u Seun, gebreek en gestort vir ons.
Ja, Here, ons beker loop oor.
Ja, U is ons Herder, niks kan ons ontbreek nie.
Ja, naby aan u aarde wil ons lewe en tot u eer wil ons bestaan.
(Johan van der Merwe)
Dankoffers, bulletin en voorbidding
UITSENDING
Sang
Lied 307 “U, Christus, is my lewe”
Seën
Antwoord
Die gemeente sing Lied 315 “Amen”.
PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 3:16-24
Teks en Konteks
Vir die bespreking van die teksgedeelte word die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van die Bybel gebruik, wat vers 1-24 as eenheid hanteer. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling verdeel hoofstuk 3 in drie perikope (2:28-3:0; 3:11–17 en 3:18–24. De Jongh bespreek vers 11–24 in sy kommentaar onder die tema “Broederliefde”. Vers 11–18 vertoon `n kunstige opbou. Vers 11 roep die gemeente op tot broederliefde, terwyl vers 18 klem plaas op hoe (die wyse) die liefde beoefen moet word (dit kan ook die kwaliteit van die liefde genoem word). Hierdie basiese waarheid word in vers 12–17 getoets aan die werke van die gemeenskap en die wêreld.
Nadat Johannes in die vorige verse oor haat gepraat het, voeg hy onmiddellik in vers 16 ook die ander kant van die saak by. Die gelowiges kry hul liefdesbesef van Jesus, want “Hy het sy lewe vir ons afgelê”. In hierdie verse dink Johannes spesifiek aan die gemeente en nie aan die wêreld nie. Daarom is die vermaning ook begrens: “ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Dit wil nie sê dat hy van eksklusivisme beskuldig kan word nie. Dit is eenvoudig `n saak van aksent.
Vers 17. Om die basiese Christelike lewensbeginsel wat in die vorige vers neergelê is, duidelik te belig, neem die outeur `n voorbeeld uit die daaglikse lewe. Hy sê daar is mense wat “gebrek ly”; wat nie oor die noodsaaklike middele beskik om in hulle lewensbehoeftes te voorsien nie. Onder die mense aan wie Johannes skrywe, was diegene wat hulle nie ontferm het oor ander in die gemeente wat gebrek gely het nie.
Vers 18. Nou volg die wyse waarop gelowiges aan mekaar liefde moet betoon. Dit moet geskied, nie “met woorde of met die tong nie”. Die woorde “tong” en “woorde” is hier sinonieme vir “taal” of “woord”. Dit kan goedskiks met “mooi woorde” vertaal word. Natuurlik beteken dit nie dat simpatieke woorde nie ook `n vorm van liefdesbetoon is nie, maar daarby moet dit nie bly nie. Jakobus het met dieselfde probleem te make gehad. Die wyse waarop hy hom tot sy gemeente rig, is `n mooi kommentaar op hierdie vers. In Jakobus 2:15,16 sê hy: “As daar nou `n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een van julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?”
Vers 19–20. Die woordjie “en” waarmee die vers begin, verskyn nie in ouer manuskripte of die NAV nie. Ek kies dus ook om dit weg te laat. Die vers sonder die woord “en” sluit so nou by vers 18 aan, dat die sinsnede feitlik as deel van die vorige vers beskou kan word. Die woord “hieraan” kan onmoontlik, volgens die sinskonstruksie, vooruitwys na woorde wat nog moet volg. Johannes gee aan sy lesers die maatstaf om te bepaal of hulle “uit die waarheid” is. Die uitdrukking sluit aan by wat die skrywer in 3:9 gesê het met die uitdrukking “uit God gebore”. As iemand uit God gebore is, is hy uit die waarheid. Die kind van God kan dus sy kindskap toets aan die kwaliteit van sy liefdesbetoon. Die hart (OAV) gewete (NAV) in vers 20 funksioneer hier as die aanklaer by God, naamlik dat iemand se liefdesbetoon tekortkominge het. Met hart/gewete bedoel Johannes die setel van iemand se denk en geestelike vermoë.
Vers 21. Hierdie vers vorm op geen manier `n teenstelling met vers 20 nie. Trouens, dit is slegs `n verdere uitbreiding op dieselfde gedagte. Die woord “vrymoedigheid” beteken hier dieselfde as in 2:28, naamlik die reg om met God in gesprek te tree. In 2:28 het dit betrekking op die toekoms voor die regterstoel van God. Hier het dit egter betrekking op die hede. Ons mag nou reeds tot Hom nader in gebed.
Vers 22. Aan die vrymoedigheid om van God te vra wat ons nodig het, verbind Johannes die belofte van gebedsverhoring. Dié belofte kom meermale in die Johannesevangelie voor (vgl Joh 14:13–15; 15:7; 16:23–24).
Vers 23. Hier word gesê dat die wese en inhoud van sy gebod is “dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo”. Vir die eerste keer in hierdie brief word nou gepraat van geloof in Christus. Die wyse waarop die gedagte verwoord word, toon duidelik dat hy die woorde gebruik van `n vaste belydenisformule wat reeds in die gemeente in bestaan het. Die “Naam van Jesus” is hier sinoniem met die “Persoon van Jesus”.
Wat die gemeente met die belydenis wou sê, is dat die persoon of mens Jesus soos wat Hy verskyn het (vgl 1:1–2), die Seun van God is, die Christus, die Messias. Om in Hom te glo, is egter meer as net die uitspreek van `n belydenisformule. Dit is in wese die persoonlike vertroue in Jesus en die gemeenskap met Hom as persoon. Wat Johannes in hierdie vers sê, is `n opsomming van alles wat hy in 2:18–3:24 gesê het. Die gemeenskap met Jesus en die onderlinge broederskap is die basis en wese van die bestaan van die gelowige. Daarom voeg hy ook by “ons moet mekaar liefhê soos Hy ons `n gebod gegee het”. Vir Johannes gaan dit primêr om broederliefde (“mekaar”). Dat hy van “gebod” praat, beteken nie `n nuwe wet wat die gemeente moet gehoorsaam om deur wetswerke gemeenskap met God te hê nie. Hy gebruik dié woord omdat dit `n opdrag van Jesus self is.
Vers 24. Met hierdie vers word 2:18–3:24 afgesluit. Al die uitsprake wat gemaak is, draai om die een basiese gedagte, naamlik gemeenskap met God (of Christus) en mekaar. Die feit dat die skrywer net praat van “Hy en Hom”, beteken dat die gemeente aan sowel Jesus as God kan dink. Vir hom is daar geen verskil nie. In die beskrywing van die gemeenskap gaan hy nou `n stappie verder en dui vollediger aan wat dit beteken. Gemeenskap is die geloof en vertroue op Christus en op God, en die teenwoordigheid van God en Christus in die gelowige. Hoe weet ons dat “Hy in ons bly”? Johannes antwoord: “aan die Gees wat Hy ons gegee het”. Vir die eerste keer praat hy nou van die Gees. In 4:13 praat hy weer van die Gees, met feitlik dieselfde woorde as hier. In albei verse het die Gees `n heilsfunksie. Dit is die Gees van God wat in die gelowige die gemeenskap met God bewerk en die gelowige in God verseël.
Preekvoorstel
Liefde is `n woord wat in die kerk, saam met ander begrippe soos genade, so baie gebruik word dat `n mens maklik die kern van die woord geringskat. Die mens vandag gaan gebuk onder alle vorme van druk en smag na `n oase, `n plekkie waar hulle net hul skouer kan neerlê. God vra dus van ons, wat baie maklik sê dat ons Christene is, om `n skouer te bied aan diegene wat hunker na `n bietjie warmte. En daarom hierdie aansporing, wil ek amper sê vermaning, dat ons liefde vir ander nie net lippetaal moet wees nie. Ware liefde, liefde vir my naaste, liefde vir almal, mag nie net nog `n begrip, nog `n woord wees, wat deel van my woordeskat is nie. Nee, liefde, sê Johannes, sê die Bybel, is `n daad. As ek dus sê: “ek het Jesus lief”, moet ek gereed wees om my lewe vir my naaste af te lê. Dit beteken ek moet my naaste dien, om sodoende die seën van die Here te ervaar. Dit beteken om nie net maar teorieë of gedagtes, veral op ons kerkmure te laat pryk nie (soos “ons gee om”), maar dit werklik met die daad te vergestalt. Vers 17–18 beklemtoon juis dat `n Christen nie net jammer moet voel vir die noodlydende nie, maar eerder in liefdesbetoon vir so iemand iets konkreet daar stel.
Johannes praat in hierdie brief ook met mense wat weet hulle liefde vir ander nie is soos wat dit behoort te wees nie. Hy weet die mens het gebreke. Hy weet die mens se gewete pla dikwels. En nou sê hy dat dit nie sal help om ons gewete te ignoreer nie. As ons in elke geval in liefde en uit die waarheid leef, het ons die versekering dat God ondanks ons tekortkominge ons optrede seën, omdat Hy groter is as ons onsekerhede. Hy veroordeel niemand wat in Christus is nie. As ons dus vir God lewe, maar voel dat ons nie “goed genoeg” is nie, onthou dan dat Hy groter as ons gewete is. God weet dat ons aan Hom behoort. Daarom kan ons ook daardie sekerheid hê.
As jy weet dat jy nie in liefde opgetree het nie, kan jy steeds vreesloos tot God nader. In vers 22 bevestig Johannes daarom Jesus se belofte: “Vra en vir julle sal gegee word” (Matt 7:7). Sê hy, jy sal ontvang, as jy net gehoorsaam bly. Om gehoorsaam te wees, is om onwrikbaar in God te glo. Maar nou moet ons ook weet dat `n mens nie net in Jesus se woorde moet glo nie, maar jy moet ook glo in wie Hy is, naamlik die Seun van God. As ons “in sy Naam” glo, beteken dit ook dat ons sal lewe volgens die voorbeeld wat Hy vir ons gestel het, meer soos Hy sal wil word, en met Hom verenig sal wees.
God se liefde teenoor ons, sê Johannes, is een waarin Hy die inisiatief neem. Ten spyte van wat ons was. God het sy Seun oorgegee vir ons, in `n konkrete daad van uiterste liefde. Die Woord verwag dus dat ons ook deur die Gees in sulke dade van liefde sal leef. Hoe die Gees ons elkeen daarin sal lei, is onmoontlik om vooraf en in die algemeen te sê. Waarvan die Gees ons elkeen sal oortuig, waar ons ook al beweeg, by die werk of tussen ons familie, of in ons omgang met ons besittings, is onvoorspelbaar en onmoontlik om vooraf te sê. Want die liefde van God in Christus is geen wet, reël of voorskrif, wat ons bloot moet toepas nie. Die bedoeling is dat die Gees ons elkeen so sensitief sal maak, in ons eie spesifieke en konkrete lewensomstandighede, dat ons met Christus se oë na mense sal leer kyk.
En dit mag beteken dat sovele omstandighede waaraan ons al gewoond geraak het, skielik opnuut of vir die eerste keer, swaar op ons hart en gewete mag begin lê, omdat ons mense se nood begin raaksien, anders begin raaksien as vroeër, en ons begin besef dat ons kan help. Dat ons wel `n verskil kan maak. Dit sal opoffering van ons vra, maar ons moet begin en inisiatief neem. So sal in ons huise en gemeenskappe `n nuwe klimaat ontstaan, wat nuwe lewe moontlik maak (Smit). Mag God ons as navolgers help, om daarna te streef om uit te leef dit wat Hy van ons vra.
Bibliografie
De Jonge, M 1978. De Brieven van Johannes; Du Plessis, P J 1978. Die Briewe van Johannes; Marshall, I H 1978. The Epistles of John; Smit, D 1998. Gesigte van die Liefde; Stott, J R W 1964. Epistles of John.