1 Johannes 4:7-21 LR2006
1 Johannes 4:7-21 LR2006
14 MEI 2006
VYFDE SONDAG IN PAASTYD
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Johannes 4:7-21
Ander tekste: Handelinge 8:26-40; Psalm 22; Johannes 15:1-8
INLEIDING
Die verbondenheid aan Christus vir die geloofslewe word met Johannes 15 se wingerdstokbeeld duidelik gestel. Die fokusteks, 1 Johannes 4, onderstreep ook dat die Christen se lewe van liefde slegs moontlik is in verbondenheid met God wat liefde is. In die doopverhaal van Handelinge 8 gaan die Etiopiër met blydskap weg en Psalm 22 se digter se moedeloosheid word ook met vreugde vervang nadat God gebed verhoor het.
DIENSORDE
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Paaskers
Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.
Aanvangswoord
Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.
Voorganger: Christus het opgestaan! (Christos anesté!)
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan! (Aléthos anesté!)
Sang
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113
Seëngroet
Sang
Geloofsbelydenis
Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat
en klein begrip
van mense
'n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood
ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou –
styf teen die braille van sy lyf (uit Wilhelm Jordaan se “Blydenuus van die Geloof”).
Doop
Handelinge 8, wat vertel van Filippus wat die Etiopiër gedoop het, kan hier voorgelees word.
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Skriflesing
1 Johannes 4:7-21
Sang
Lied 334 “‘God is Liefde!’ Juig ons harte”; NSG 67
Prediking
Antwoord
Lied 532 “Ons Vader, neem ons hande”
Gebed
DIENS VAN DIE TAFEL
Nagmaalsgebed
Christus haal Psalm 22:2 aan as een van die kruiswoorde:
“My God, my God,
waarom het U my verlaat ...?”
Soos met die psalmdigter is dit ook soms ons ervaring, maar Christus is eenmaal deur God verlaat sodat ons nooit verlate sal wees nie. In Psalm 22 is daar ’n drastiese wending en klag word met ’n loflied vervang.
Geloofsbelydenis
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te ver is”
Instelling, uitdeling en kommunie
Dankgebed
Vir die brood wat ons geëet het
vir die wyn wat ons gedrink het
vir die lewe wat U gegee het:
Vader, Seun en Heilige Gees,
sal ons U prys.
Vir die lewe van Christus in ons
wat al ons vrese oorwin
wat ons help om vir ander te leef:
Vader, Seun en Heilige Gees,
sal ons U prys.
Vir die mag van Christus om ons te lei
in lewe en in dood
tot aan die einde saam met al u mense:
Vader, Seun en Heilige Gees,
sal ons U prys (Contemporary Prayers for Public Worship).
Dankoffers
UITSENDING
Skriflesing
Johannes 15:1-8
Slotsang
Lied 273 “Laat my met U verenig lewe”
Seën
Antwoord
Die gemeente sin Lied 315 “Amen”.
PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 4:7-21
Teks
1 Johannes 4:7-21 vorm deel van die groter geheel van 4:7-5:5. `n Moontlike opskrif vir die gedeelte kan wees: God is liefde – leef in die liefde.
Oor die liefde het Johannes reeds in 2:7-11 en in 3:11-18 gehandel, waar dit as merkteken van die kinders van God genoem word. Hier (4:7-5:5) word vanuit die grondstelling: God is liefde, sekere gevolgtrekkings gemaak. Voordat ons eksegeties na die teks self kyk, moet duidelikheid gekry word oor hoe die outeur sy argument logies aanbied; om eers oorsigtelik, opsommend te verstaan wat hy wil sê.
Vers 7, 8. Ons moet mekaar liefhê (eis) (7a), want God is liefde (Grondstelling) (8c). Omdat God liefde is, is dit dus vanselfsprekend dat elkeen wat so liefhet (vanuit die Bron), `n kind van God is en God ken.
Vers 9, 10. En hoe weet ons dat God liefde is? Ons weet dit hierin dat Hy sy enigste Seun vir ons na die wêreld gestuur het. Dit is die konkrete bewys dat God liefde vir ons is. En hoe het Hy sy liefde geopenbaar, bekend gemaak? In sy Seun. En wat was sy doel met die stuur van sy Seun in die wêreld? Sodat ons deur Hom die ewige lewe kan hê! En wat is die manier waarop ons deur Hom die lewe kan hê? Hy, Jesus, het versoening vir ons sondes gedoen. Hy, Jesus, het Homself geoffer vir ons sonde om vir ons die lewe te gee vers 11, 12. Die konkrete, historiese gebeurtenis toe Jesus na die wêreld gekom het om aan die kruis versoening vir ons sondes te bewerk – dit is die manier waarop God sy liefde aan ons bewys. En, as dit is hoe God se liefde vir ons lyk (begronding), volg dit noodwendig dat ons mekaar moet liefhê. Christus se liefdesdaad het sigbaar geword en nou, na Christus se hemelvaart, word God se liefde sigbaar vir die wêreld in ons onderlinge liefde. Dit is vir hulle die bewys dat God in hierdie mense bly.
Vers 13. As God dan Liefde is en sy liefde in sy Seun geopenbaar word, hoe weet `n mens dat God in Christus ook vir jou liefde is? So, sê Johannes: “Hy het ons sy Gees gegee.” Wat beteken dit? Die Heilige Gees kom maak dit wat Jesus vir ons kom verwerf het, in ons lewe `n werklikheid.
Vers 14-16. Die apostels het self gesien dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie aan hierdie belydenis vashou, dat die Vader Jesus as Redder gestuur het, kan seker weet dat God in hom bly en hy in God. Wie in die liefde leef, in die ware broederliefde, kan weet God bly in hulle en hulle het die Heilige Gees.
Vers 17. Wie nou opreg, gelowig-gehoorsaam die broederliefde uitleef, met hulle het God sy doel volkome bereik en hulle hoef ook nie die oordeelsdag te vrees nie.
Vers 18. Wie die liefde wat die Gees in ons werk, uitleef, het geen vrees vir die oordeelsdag nie.
Vers 19. Ons liefde vir God en ons naaste is alleen omdat God ons eerste liefgehad het. Die regte volgorde van die ware liefde is: (a) dit begin alleen by God, (b) Hy werk deur sy Gees liefde in ons hart, (c) ons beantwoord sy liefde met wederliefde en naasteliefde wat God deur sy Gees in ons werk.
Vers 20, 21. Die gevolgtrekking uit al bogenoemde is dus dat as `n mens sy broer wat hy kan sien nie liefhet nie, hoe kan hy ooit God liefhê wat hy nie kan sien nie?
Wat Johannes dus wil sê is dat God die bron van die Christelike liefde (Gr agapé) is. God, van wie die liefde kom, is die liefde. En hierdie liefde het neergedaal. God is die oorsprong daarvan, Christus die openbaring daarvan en die broederliefde die realisering daarvan. Dit is drie vlakke (niveaus) waarop die liefde bestaan, maar dit is een en dieselfde liefde. Ons sou teologies onderskeiding kon maak oor die wyse waarop die liefde in God en in die mens bestaan. Johannes doen dit nie hier nie. Vir hom is die wesenlike identiteit van die apagé op al die terreine belangrik. Die mens is daarom ook nie uit sigself tot die liefde in staat nie (dit is ’n gawe van God in Christus aan die mens). Dit is die onpeilbare teken van kindskap van God, van die ware kennis van God en van ons verbondenheid met God.
Vers 7, 8. Letterlik staan in vers 7 dat elkeen wat liefhet, uit God gebore is (vgl die 1933-vertaling). Die agapé-liefde is dus slegs deel van hulle wat uit God gebore is en sluit direk by die voorafgaande gedeeltes aan (4:1, 2, 3, 4, 6; 2:29; 3:9, 10). Die bron, die afkoms, is bepalend vir die wese van die liefde. Wie dus uit God gebore is, leef met die liefde wat sy oorsprong in God vind en omgekeerd: Waar ons dié soort liefde vind, weet ons van waaruit dit voortkom. Die stelling “God is liefde” is duidelik die begronding van die opdrag om mekaar lief te hê. As vers 8 sê God is liefde, dan is dit ’n liefde wat handel. God openbaar Homself spesifiek in die feit dat Hy sy Seun na die wêreld stuur. As die Bybel sê God is liefde, beteken dit al sy aktiwiteite is liefhebbende aktiwiteite. Dodd sê tereg: “But to say God is Love, implies that all His activity is loving activity. If He creates, He creates in love, if He rules, He rules in love, if He judges, He judges in love. All that He does is the expression of His nature, which is – to love.”
Vers 9, 10. Johannes noem God se Seun, wat Hy na die wêreld gestuur het as uitdrukking van sy liefde, sy eniggebore seun. Dieselfde term word ook in Johannes 3:16-18 gebruik. In die Johannese literatuur word die term eniggebore alleen met Jesus verbind (Joh 1:14,18; 3:16,18). Dit dui op die unieke verhouding tussen die Vader en die Seun en dat God die Vader werklik sy alles gegee het om sy liefde te openbaar. In ooreenstemming met Johannes 3:16 is dit duidelik dat die eniggebore Seun in die wêreld gestuur is, omdat Hy die wêreld liefhet en dat ons alleen deur Hom kan lewe. Johannes 3:16 sê in ander taal dat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê (vgl ook Joh 3:17b; 5:25; 6:51; 57-58; 11:25; 14:19; ook Joh 3:14-15). Die NAV (1983) praat in vers 10 van “Werklike liefde is dit”. Letterlik staan daar: Hierin (in dit) is die liefde. Dit beteken só, hierin het God getoon wat waarlik liefde is; toe Hy sy Seun gestuur het as versoening vir ons sonde. Só lyk liefde. Hierteenoor is ons liefde tot Hom en mekaar slegs antwoord op sy liefde. Dit is slegs geïnspireer en moontlik gemaak deur sy liefde. En om sy liefde vir ons te realiseer, was dit nodig dat verwyder moet word, dit wat die mens van God skei; ons sonde. Daarom het God in sy liefde sy Seun gestuur as Versoening vir ons sonde. God se liefde handel – dit verander die situasie, dit open toegang tot sy liefde en ruim alles in die pad uit die weg. Die Griekse woord hilasmos – versoening – is `n offerterm, God se liefde is `n daad, `n opoffering. Hy gee Homself ter wille van ons.
Vers 11, 12. Wanneer ons in vers 11 opgeroep word om mekaar lief te hê (“behoort ons mekaar lief te hê”), is dit nie `n onmoontlike, te swaar opdrag nie, want God se opdrag maak deel uit van sy gawe. God maak in sy vergewende liefde ons liefde vry (vgl vers 19; Joh 15:12; Matt 18:33 – vgl die hele gelykenis). “Niemand het God nog ooit gesien nie …” herinner aan Johannes 1:18; 5:37; 6:46. Wat ons egter wel gesien het, is die Seun, wat deur die Vader as Redder vir die wêreld gestuur is. Wie Hom gesien het, het die Vader gesien. Met hierdie woorde word alle apokaliptiese visioene en gnostieke pretensies van die valse leraars by die wortel afgesny. Ons het slegs die openbaring van God in sy Seun wat in konkrete menslike gestalte op die aarde verskyn het. God word nie in visioene gesien en so geken nie. Hy word nie deur ekstatiese skoue bereik nie, maar Hy woon in diegene in wie sy liefde gestalte kry.
Vers 13-15. Behalwe die inwendige getuienis deur die Heilige Gees (13) is daar die uitwendige getuienis van die apostels – die ooggetuies wat getuienis aflê dat die Vader die Seun gestuur het as Redder van die wêreld. Hiermee word die universele gerigtheid van die Heil wat in Christus geskenk word, onderstreep, hoewel slegs `n klein groep dit verstaan en daarop reageer. Na die getuienis in 14 volg die belydenis aangaande Jesus in 15. Die uitspreek van die ware belydenis is die teken van die ware verbondenheid met God (15).
Vers 16. Die eerste helfte van die vers gryp terug op 9, 10, 14. Opvallend is dat beide werkwoorde, “leer ken” en “geglo”, (vgl 1933-vertaling) in die perfektum is om die blywende karakter van die erkenning aan te dui. Die woord “het” (“die liefde wat God vir ons het”) staan in die praesens wat dui op die durende karakter van die liefde van God. Die woorde “God bly in hom en hy in God” word onafskeidbaar verbind met “wie in die liefde bly”. En watter soort “liefde”is dit? Dit is duidelik geen sentimentele gevoel nie, maar die bring van konkrete offers. Hierdie liefde is die liefde waarin ons moet bly in antwoord op die openbaring van God se liefde wat in die offer deur sy Seun, Jesus, bestaan. Dodd stel dit goed: “The energy of love discharges itself along lines which form a triangle whose points are God, Self and Neighbour; but the source of all love is God, of whom alone it can be said that He is love. Whether we love God or our neighbour, it is God’s love that is at work in us – assuming, that is, that our love is that authentic agapé which is exemplified in God’s gift of His Son, in Christ’s sacrifice for us all.”
Vers 17, 18. Twee maal tevore is reeds gepraat van volmaak word in die liefde, of liefde wat sy doel volkome bereik (2:5; 4:12). Hierdie keer word weer van volmaak word in die liefde gepraat en nou word as vrug van die liefde genoem, die vrymoedigheid wat ons in die oordeelsdag sal hê. Die houding wat ons nou teenoor Jesus inneem is beslissend in die laaste oordeel (Joh 12:48; 5:24). Na aanleiding van ons lewe in en uit die liefde mag ons vol vertroue ons Regter ontmoet (17; vgl ook Joh 5:22, 27; 1 Joh 2:28, 29). Vrees en liefde verdra mekaar nie. Die volmaakte liefde ban die vrees uit (18). Die 1933 vertaling praat van “dryf die vrees buite” en die 1983-vertaling van “verdryf”. Hierdie vertalings van die Grieks is uitdrukking van `n radikale verwydering. Letterlik staan daar: “vrees het straf”. Dit is tereg vertaal met “vrees sluit straf in”, of “vrees verwag straf”. Die punt is egter dat wie werklik in en uit die liefde leef, nie meer hoef te vrees vir straf van God nie. Telkens herinner die outeur sy lesers aan dit wat reeds aan hulle geskenk is en wat hulle nou mag wees en mag glo: bevryde, begenadigde mense, vry voor God se aangesig en vry om lief te hê.
Vers 19-21. Die dwaalleraars het ook beweer dat hulle God liefhet, maar terselfdertyd het hulle hul broeder geminag. Die outeur praat hier direk teen sy opponente en sê wie soos hulle spreek en handel, is van die leuen: “if what a man is contradicts what he says, he is a liar” (J R W Stott). As die liefde tot God sy volvoering vind in die liefde tot die broeder, geld ook die omgekeerde, naamlik dat as die broederliefde ontbreek, beteken dit die afwesigheid van die liefde tot God. My broer is die een wat die naaste aan my is en wie ek die beste ken. “Indeed, the verb indicates not only that he ‘can’ see his brother, but that he hath seen him (heoraken); he has him continuously before his eyes (Plummer), with ample opportunities to serve him in love” (J R W Stott). Die outeur voel niks vir vae, swewende diepsinnigheid oor liefde nie, maar vra ons om by ons eie huis te begin. (Vgl 1 Joh 3:16,17.)
Konteks
Wat is die betekenis van die teks? Hoe moet die teks verstaan word? Johannes 4:7-21 dra `n sterk weerleggende, apologetiese karakter. Die skrywer rig hom teen die gnostieke denke van sy teenstanders. Die gnostici se leer oor Christus het dosetiese trekke vertoon. Dit beteken dat hulle geleer het dat Jesus nie `n ware menslike liggaam gehad het en nie in staat was om pyn of ander menslike behoeftes te toon nie. Sy lyding was dus ook net skyn. Die vlees is geminag en dus so die vleeswording van Christus, met slegs konsentrasie op die “geestelike” en mistieke. Hierdie sogenaamde “ware geestelikes” (Gr pneumatikoi) het God waarlik geken. Omdat sy lyding net skyn was, is ook God se verlossende liefde deur lyding heen verloën. Verlossing is verstaan as `n ken van God waarin God visioenêr en ekstaties beskou/beleef word en die broederliefde as opofferende liefde, geloën is. Sodoende is daar ook geen plek vir `n Christus wat moes ly nie, en ook nie vir `n liefde tot die broer, wat opoffering, lyding en selfverloëning kon beteken nie. Die skrywer stel dan in die gedeelte die ware ken van God en wat dit behels, teenoor die misleidende ken van God van die gnostici. Vir laasgenoemde was om God te ken `n subjektiewe belewenis, `n sogenaamde geestelike, mistieke, visioenêre, ekstatiese ken van of gemeenskap met God. Tot hierdie kennis word gekom in seremonies waar die klem op die mistieke-ervarings-ken van God val.
Hierteenoor stel die skrywer dit dat om uit God gebore te wees of om God te ken, `n objektiewe saak is waaraan mens deel het, nie deur `n ekstatiese sien of ken van God of `n geheime verligting nie, maar deur die hoor van die boodskap soos oorgelewer deur die apostels; wie God liefhet moet sy broeder met dade van liefde liefhê. Nie weg uit die wêreld in `n ekstatiese ontmoeting of ken van God nie, maar terug in die wêreld deur dade en liefde teenoor jou broer.
Binne die dwaalleraars se gnostieke leer was nie plek vir lyding of selfopoffering nie, slegs vir `n sogenaamde heerlike belewenis van God. Die outeur leer hierteenoor dat God sy Seun gestuur het in die vlees. Dis die geopenbaarde waarheid, leef daaruit – en wie Hom so ken, gee jouself opofferend vir jou broer. Slegs wie sigbaar so leef, kan met reg sê dat hy die onsigbare God ken.
Verder moet besef word dat by al die “toetse” of ’n mens waarlik uit God gebore is, vir God ken, in God is en bly, is die toets van broederliefde. Daar ís ander toetse: of iemand die Gees het (13); of iemand bely dat Jesus die Seun van God is (15); of hy vreesloos is vir die oordeelsdag (17, 18), maar die toets bo alles is of jy jou broer met konkrete dade liefhet. Trouens die een toets kan nie sonder die ander bestaan nie. Dit vorm al vier `n eenheid en die een bestaan nie sonder die ander nie. So is dit onmoontlik om te glo dat Jesus die Seun van God is wat in die vlees gekom het, as jy nie terselfdertyd jou broer liefhet nie. Aan die ander kant, broederliefde sonder die suiwer leer dat Christus die Seun van God is wat vlees geword het, is ook `n illusie. Die leef vir Jesus en die leer oor Jesus is onafskeidbaar verbonde (In kontras met die tydsgees dat leer nie meer belangrik is nie.)
Baie aktueel is die vraag of die broer van wie die outeur in hierdie perikoop praat, slegs die medegelowige is en of dit ook die naaste in die breedste sin insluit. Die skrywer praat beslis in die gedeelte spesifiek oor die liefde binne die geloofsgemeenskap of kerk/gelowiges in Christus. Hy doen dit omdat hy spesifiek die gelowige aanspreek. Ons moet besef dat hoewel dit nie hier gaan om die naaste soos wat Jesus oor hom praat in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan nie (vgl Luk 10:25-37 – liefde tot `n konkrete persoon op jou pad (ook `n niegelowige) wat op jou barmhartigheid en liefde appèl maak), die struktuur van die liefde by broederliefde en naasteliefde dieselfde bly; dis liefde wat betrokke raak met die daad, dis selfopofferende, selfverloënende liefde wat lyding insluit. “Daar is geen sprake van de beperking van de naasteliefde tot broederliefde nie, maar van een concentratie daarvan en toepassing op de verhoudingen binne de christelijke gemeente” (M de Jonge).
Preekvoorstel
Ons leef in tye waarin die Woord van God vir baie mense nie meer genoeg is as bron van kennis en waarheid nie; as die manier waarop ons God hoor praat nie. Mense soek `n ander bron – `n direkte openbaring, `n direkte spreke van God deur middel van sogenaamde gesigte, visioene, openbarings, influisteringe, spreke van die Gees. Die geopenbaarde Woord van God, die Bybel, die geslote kanon, is nie meer genoeg nie. Hoewel ons as gereformeerdes duidelik bely dat God met ons alleen deur sy Woord spreek, soek mense in die kerk al meer na so `n direkte spreke van die Gees. (In hierdie verband Dirkie Smit se woorde in “Wat Here is en Lewend Maak”, oor die geloofsbelydenis van Nicea: “Die Heilige Gees, so sê die Konsilie in Nicea, ly ons alleenlik deur die geheimenisse aangaande Jesus Christus in die Heilige Skrifte, en nie deur mistieke innerlike ervarings, drome en visioene in ons eie gemoed wat ons dan aan die Heilige Gees toeskryf nie.”)
Baie lank gelede reeds, in die tyd van die Johannese briewe moes die outeur van die briewe hom verweer teen `n soortgelyke dwaalleer; `n vorm van gnostisisme wat die leer van sy teenstanders was (vgl Konteks). Vir sy teenstanders was die ken van God `n subjektiewe sogenaamde “geestelike, mistieke, visioenêre ekstatiese ken van God”, wat slegs die deel van sekere ingelyfdes was wat hierdie “ervaringsken” van God beleef het. Toe reeds het die outeur hom teen die dwaalleraars verweer deur te leer, dat om God te ken, om uit God gebore te wees, `n saak is waaraan mens deel kry, nie deur `n sogenaamde ekstatiese, mistieke ken van God nie, maar deur die hoor van die oorgelewerde boodskap, die geopenbaarde Woord, van die vleeswording van Christus en sy liefde in die daad en dat om die Christus te ken, prakties beteken, om jou broer lief te hê. Toe reeds het hy so `n spiritualisties tipe ken van God, buite die geopenbaarde Woord om, afgewys en terug geroep na die geopenbaarde waarheid, oorgelewer deur die ooggetuies van Christus – die Apostels, naamlik dat die Christus vlees geword het, gely het en so konkreet sy liefde betoon het. En wie Christus op dié weg volg, kon dit alleen doen langs die weg van selfverloëning wat `n lydensweg, `n kruisweg is, en alleen só kan ons die broeder liefhê.
Natuurlik is dié boodskap in ons sogenaamde postmoderne mensgerigte, ervaringsoekende tyd allermins gewild. Ek weet u leef in ’n tyd dat alles in die godsdiens en kerk al hoe meer gaan om selfverwesenliking, selfhandhawing, “God is daar vir my” om my welvarend, suksesvol, voorspoedig te maak. Ek gaan aanbid ter wille van my gevoel, my lekkerte, my genieting. Die kerk moet so ingerig word dat ek dit as `n ontspanningsgeleentheid kan beleef en `n konsert vir my genieting en ervaring. In so `n tyd, in so `n tydsgees, in so `n kerklike atmosfeer klink Johannes se boodskap van selfverloënende, selfopofferende liefde vir die broer (medegelowige) allermins gewild.
Dit is egter alleen as die kerk teruggaan en leef vanuit die openbaring van God in sy Woord, slegs as die kerk gehoorsaam is aan byvoorbeeld die eenvoudige boodskap van `n gedeelte soos 1 Johannes 4:7-21 en daaraan vashou as die geopenbaarde Woord van God, dat die kerk deur die Gees sal lewe. Die teenstanders, die dwaalleraars in die tyd van die Johannesbriewe was by uitstek die “geestelikes” (die sg pneumatikoi), wat aanspraak gemaak het dat hulle God op ekstatiese, mistieke vlak geken het, dat hulle gearriveer het, dat hulle die Gees het teenoor die ander in die gemeente wat God nog nie ken nie. Hierdie tendens is vandag weer sterk, ook binne die kerk. As gereformeerdes moet ons aan ons belydenis in hierdie verband vashou en nie meegevoer word nie. Johannes skroom nie om sy teenstanders in sy tyd valse profete en leuenaars te noem nie. Trouens, die outeur sê diegene wat hulle daarop beroep om sogenaamde gemeenskap met God te hê, gelei te word deur die Gees, uit God gebore te wees, God te ken, lief te hê, inderdaad misleiers is want by al hierdie sogenaamde geestelikheid het hulle die gebod van die naasteliefde, broederliefde gemis.
Daarom, laat ons terug gaan na die geopenbaarde teks van 1 Johannes 4:7-21. Laat ons opnuut vra hoe God Hom reeds aan ons geopenbaar het. Wat wil die teks presies sê? God het sy liefde in sy Seun se vleeswording, lyding en sterwe geopenbaar. Wie die Seun ken, Wie uit God gebore is, leef uit die bron van díe liefde, naamlik God, en kan deur die krag van die Heilige Gees die broeder en die naaste liefhê. Nie uit eie vermoë nie, maar deur die Heilige Gees met konkrete dade in liefdeswerke. Ja, dit is moontlik ook in jou en my lewe deur die lewendmakende Gees. Ja, God is liefde (so het Hy Hom aan ons geopenbaar): leef in die liefde. By hierdie laaste deel van die preek kan die Skrifuitleg van die hele gedeelte (vgl Eksegese) as verkondiging dien.
Bibliografie
Burger, C W (ea) 1992. Woord teen die Lig 1/8 – Verdere riglyne vir Lydensprediking ; De Jonge, M 1973. De Brieven van Johannes; Dodd, C H 1947. The Johanine Epistles; Greijdanus, S 1964. De brieven van de Apostel Johannes – Korte verklaring der Heilige Schrift; Is my geloof eg – Die Johannesbriewe – Lux Verbi B M 2003; Ladd, G E 1974. A Theology of the New Testament; Lenski, R C H 1966. The Interpretation of 1 and 11 Peter, the three Epistles of John and the Epistle of Jude; Smit, D J 2001. Wat Here is en lewend maak. Wat die Christene bly oor die Heilige Gees; Stott, J R W 1976. The Epistle of John; Verklarende Bybel 1983 (Lux Verbi); Woordwyser – Eksegetiese en liturgiese riglyne, 2003.