1 Johannes 5:1-6 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 69 views
Notes
Transcript

1 Johannes 5:1-6 LR2006

21 MEI 2006

SESDE SONDAG IN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:           1 Johannes 5:1-6

Ander tekste:       Handelinge 10:44-48; Psalm 98; Johannes 15:9-17

INLEIDING

Die fokusteks handel oor geloof in Jesus Christus, asook liefde vir God en die medegelowiges. Die liefde vir God word verder sigbaar in die onderhouding van die wet van God, wat nie te swaar en moeilik is om na te kom nie. Hier lê ook sterk aksent op die lewe van oorwinning wat begin in die geloof dat Jesus die Seun van God is. Geloof vervul ’n belangrike funksie in hierdie gedeelte en daarom kan daar kreatief gewerk word met die wet en geloof in die liturgie.

DIENSORDE

Elemente van wet/sondevergifnis en geloof/geloofsbelydenis kan rigtinggewend wees met die inkleding van die liturgie.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Paaskers

Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.

Aanvangswoord

Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.

Voorganger:  Christus het opgestaan!    (Christos anesté!)

Gemeente:     Hy het waarlik opgestaan!  (Aléthos anesté!)

Sang

Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113

Stilgebed

Geloofsbelydenis

Indien nagmaal bedien word, maak die voorganger ‘n keuse of  die geloofsbelydenis hier gedoen word.

Lof

Psalm 98

Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”; NSG 33

Lied 209 “Heer, met my hele hart”

Wet

Johannes 15:9-17

Antwoord

Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”; NSG 272 “Gods wet vra enkel liefde”

Doop

Handelinge 10:44-48 kan gelees word.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing

1 Johannes 5:1-6

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Soos die lig vandag weer oor ons opgekom het,

só het u liefde ons opnuut opgeroep

om u Woord op aarde te beliggaam,

om u heil met brood en wyn te vier

en dit aan ander uit te deel,

om bly te wees met dié wat bly is,

om te treur saam met dié wat treur,

om te help waar daar geen helper is nie.

Skryf U self dié taak op ons harte.

Gee dat ons u stem nie verlore sal laat raak

in die gewoel van ons daaglikse lewe nie.

Maak ons wat ons veronderstel is om te wees:

vry, om te bevry,

getroos, om te troos,

geliefd, om lief te hê.

U het ons aan mekaar gegee,

tot u diens geroep

om herders te wees,

met al ons geloof en twyfel,

met al ons gawes en gebreke,

maar aangeraak deur u Gees  (uit die “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”).

Instelling, uitdeling en kommunie

Sang

Lied 526 “Waar daar liefde is”

Dankoffers

UITSENDING

Slotsang

Lied 513 “Soek in God jou sterkte”; NSG 385 “Voorwaarts, Christenstryders”

Seën

“Die genade, barmhartigheid en vrede wat van God die Vader kom

en van Jesus Christus, die Seun van die Vader,

sal by ons wees wat in die waarheid en die liefde is” (2 Joh 1:3).

Antwoord

Lied 315 “Amen”

LITURGIEse voorstel – 2

Toewydingslied

Lied 177

Votum en seëngroet

“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Amen.

Gemeente, genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom,

en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus,

die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Loflied

Lied 205:1,2,3

Die wet van die Here

Vanweë die prominente plek wat aan entolé (gebod) in die teksgedeelte gegee word, is dit belangrik dat hierdie faset van die liturgie nie afgeskeep of afgejaag word nie. Dit kan op ’n rustige en tog ernstige wyse selfs as inleiding tot die boodskap dien. Dit kan op drie maniere gedoen word.

a.  Wanneer die Ou Testament as invalshoek gebruik word, kan die liturg goedskiks van gedeeltes uit Deuteronomium 5 en 6 gebruik maak. Dit sal ook geleentheid bied om met kinders en ouers te praat aangesien die fokusteks by hierdie gedagte (metafoor: vader-kind verhouding) aansluiting vind.                 

b.  Indien ’n keuse gemaak word om die Pauliniese kant ten opsigte van die gebooie te belig, kan Romeine 13:8-14 voorgehou word. Iets van die indikatiewe (ons is volgelinge van die Here Jesus Christus) – imperatiewe (lewe dan soos wat dit pas by mense wat volgelinge van die Here Jesus Christus is) aard van die Christelike leefstyl word hier verreken.

c.  Andersyds sou daar ook met goeie vrug gebruik gemaak kon word van die interteks om die Johannese denke rondom die gebooie van God (met die klem op die liefde) verder uit te brei. Daar kan goedskiks verwys word na Johannes 3:16 (as bewys van God se liefde vir alle mense), en 1 Johannes 3:16 en omringende verse (as ’n oproep wat aan gelowiges gemaak word om dieselfde liefde onder mekaar uit te leef). 1 Johannes 2:3,4 kan ook op hierdie punt nuttig aangewend word.   

Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Op die Pauliniese lyn sou dit moontlik wees om ’n teksdeel soos Romeine 3:9-18 te gebruik as demonstrasie van die ingetrokkenheid van alle mense wanneer dit kom by “skuldig voor God” wees. Waak daarteen om nie al te vinnig oor hierdie liturgiese moment te beweeg nie.

Indien die liturg verkies om die Johannese interteks te gebruik, kan die gedeelte in 1 Johannes 1:6-10 dien om die skuldbelydenis sowel as die genadeverkondiging, te hanteer. Daar kan egter ook ter verheldering gewys word op die betekenis van die woord “bely” – homologõ (1 Joh 1:9), naamlik:

(i) dat dit gaan oor ’n hartlike saamstem dat jou sonde ten diepste ’n vergrype teen God is,

(ii) dat hierdie besef ’n mens tot egte berou voor die Heilige bring en

(iii) dat dit ’n mens oproep om daagliks teen die sonde te stry.

Geloofsbelydenis

Die liturg kan by hierdie geleentheid die geloofsbelydenis van Nicea (waarin die Godheid en mensheid van Jesus uitgewerk word) aan die gemeente voorlees.

Woordbediening

Gebed

Skriflesing

1 Johannes 5:1-6

Woordverkondiging

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 423:1,2,3

Seënbede

PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 5:1-6

Teks en konteks

In die breër verband van hierdie perikoop is dit duidelik dat 1 Johannes aan Christengemeenskappe gerig is ten einde hulle te waarsku teen die invloed van die (sondige) wêreld – veral soos dit sigbaar geword het in die dwaalleer van die gnostisisme. Hierdie gnostici het byvoorbeeld die belangrikheid van Jesus se posisie ontken. Dit was vir hulle totaal onaanvaarbaar dat God in die materiële wêreld ingetree het. Dit het daartoe gelei dat hulle skerp onderskeid getref het tussen die goddelike Christus en die mens Jesus van Nasaret (2:22). Solank `n mens kennis van, en liefde vir God gehad het, was dit vir hulle genoeg. Om mekaar lief te hê, was nie belangrik nie. Hierdie aanhangers van die gnostisisme het geglo dat hulle sonder sonde is en dat hulle ook in die praktyk nie sonde doen nie (1:8, 10).

Die skrywer wil met sy brief aan die lesers ’n antwoord gee oor wat dit behels om ’n Christen te wees. Twee lyne word gevolg – leerstellig en eties: In ’n leerstellige sin is Christenskap die geloof in die vleeswording van Jesus as Seun van God, met die doel om versoening van sonde vir die wêreld te bewerk. In ’n etiese sin is Christenskap ’n lewe van liefde in reaksie op God se reddende liefde. Hierdie twee lyne loop hand aan hand. Ware geloof mond uit in liefde. Ware geloof word ook getoets aan liefde. Daar kan dus nie sprake wees van ware liefde as dit nie ontspring uit ware geloof nie.

Wat die intratekstuele konteks betref, is dit baie duidelik dat die bogenoemde tema goed uitgewerk word in die betrokke perikoop. Kernwoorde en –tekens wat in hierdie perikoop voorkom en dus in die boodskap verreken moet word, is byvoorbeeld geloof/glo, kind van God/uit God gebore, gebooie, liefhê/liefde. Op ’n sekondêre vlak funksioneer woorde soos gehoorsaam en oorwin ook sterk.

Daar moet ook op die besondere plek en betekenis van die Griekse woorde entolé/entolaí in hierdie teks gefokus word. In die hele 1 Johannes word die stiptelike nakoming van God se gebooie (entolaí) vereis (Du Rand). En tog word dit telkens (versagtend?) binne ’n eenheid van liefde gelees. Liefde tot God, en veral broederliefde, staan telkens op die voorgrond. Die opdrag van dié liefde, is die entolé (enkelvoud). Die liefde teenoor God vind uitdrukking in en word “gekontroleer” deur die nakoming van God se entolaí (gebooie). Vir die mens wat uit God gebore is, is dit nie moeilik om sy gebooie na te kom nie. Dit kan vervul word juis omdat God dit vir sy kinders bestem het. God se gebooie kan nie op buitestanders afgedwing word nie. Deur gehoorsaamheid aan die entolaí antwoord die gelowige op die liefde van God.   

Die werklike tekswêreld.

Deur op die perikoop te fokus word ’n aantal sake oor die veronderstelde lesers duidelik: Hulle het nie met sekerheid geweet wie almal kinders van God is nie (5:1); hulle het ook nie geweet watter bewys daar is dat hulle die kinders van God liefhet nie (5:2); hulle was onkundig ten opsigte van die inhoud van die liefde vir God (5:3); om gehoorsaam aan God se gebooie te wees, was vir hulle ’n baie moeilike saak (5:3, 4); hulle het ’n verlore stryd teen die (sondige) wêreld gevoer (5:4, 5).

Die alternatiewe tekswêreld.

In hierdie wêreld het die lesers duidelikheid gehad oor die wyse waarop ’n mens seker kon wees dat jy ’n kind van God is. Hulle het God en mekaar liefgehad en sodoende die gebooie gehoorsaam. Die gebooie was nie moeilik om na te kom nie, want hulle geloof het aan hulle die oorwinning gegee oor die sondige wêreld.

Die kommunikasie strategie.

Deur rasionele, logiese oproepe begelei die skrywer en sy lesers deur ’n uurglas-vorm om by die praktyk van die lewe uit te kom. Eers word vasgestel wie die kinders van God is (elkeen wat glo dat Jesus die Christus is – die breë boonste keel). Dan volg die inhoud/aard van hulle roeping (het God lief, en ander kinders van God – die dun lyfie van die filter – die toets van ware geloof en ware liefde). Uiteindelik weer die breër mond van die lewe waarin die Christen deur die geloof oorwinnings oor die sondige wêreld moet en kan behaal.

Die teksdeel is verder in die vorm van `n spiraal. Dit begin by ’n redelik “veralgemenende” vraag na wie nou eintlik kinders van God is. Dan dring die vraag dieper na die etiese leefstyl van hierdie mense wat kinders van God is (het vir God en mekaar lief; onderhou die gebooie). En dan, in die finale spiraal, word kinders van God beskryf as mense wat vanweë hulle geloof in Jesus as die Seun van God, oorwinnaars oor die (sondige) wêreld is. Liefde vir God word bewys deur die gebooie te onderhou – beide die eerste en die tweede tafels. Deur liefde aan ander kinders van God te bewys, word in werklikheid ook liefde vir God bewys.

Die familie-metafoor funksioneer sterk in hierdie gedeelte. So word verwys na die verhouding tussen die gelowige en God as vergelykbaar met die verhouding van ’n kind met sy ouer. ’n Kind wat sy ouer liefhet, is gehoorsaam aan sy ouer. Op dieselfde wyse kan die gelowige se liefde vir God ook getoets word: Gelowiges sal God se gebooie onderhou.  Kinders wat aan dieselfde gesin behoort, behoort mekaar ook lief te hê. Hulle het dieselfde Vader en dieselfde doel voor oë: om sy gebooie te gehoorsaam. Gehoorsaamheid aan God (se gebooie) word deur ’n verdere metafoor uitgewerk: ’n oorlogstryd. Oorwinning oor die (sondige) wêreld – en dus, ongehoorsaamheid aan God se gebooie – kan alleen behaal word deur hulle wat glo dat Jesus die Seun van God is. Die oortuiging waarmee die vraag in vers 5 gevra word, verteenwoordig ’n besondere teksfraktuur. Die antwoord op die vraag: “Wie anders is dit wat die (sondige) wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”, is so voor die hand liggend dat dit nie eens genoem word nie. Die geïmpliseerde antwoord is natuurlik dat niemand anders as die kinders van God oorwinning oor die sondige wêreld kan behaal nie.

Die stelling en bewysvoering

Die proposisie van hierdie Skrifgedeelte is: Dit is noodsaaklik om ’n kind van God te wees vir elkeen wat die sondige wêreld wil oorwin.

Argument

Indien:

          Premisse                                                                                                                         Bewyse                                             

1. Jesus die Seun/Kind van God is  (vorm deel van die algemene geloofsbasis – v 5)
2. Jesus gehoorsaam was aan sy Vader  (interteks: Joh 15:9, 10)
3. Jesus die gelowiges (ander kinders van God) liefgehad     het  (intertekste: Joh 13:1 en 13:34)
4. Jesus die sondige wêreld oorwin het  (gedeelde tradisie oor Jesus se lewe, dood en opstanding)

Indien bogenoemde waar is, kan elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, wat vir die Vader liefhet, wat ook die ander liefhet wat kinders van die Vader is en wat God se gebooie gehoorsaam, die sondige wêreld oorwin. 

Preekvoorstel

1.  Ter inleiding kan met behulp van ’n objek-boodskappie met die kinders ’n oorsig (of moontlik ’n vooruitskou) oor die boodskap gegee word (waak teen ’n blote sedelessie). Kinders kan maar aan die “groot” geestelike waarhede blootgestel word.  Dis belangrik om die kinders en jongmense in die kerk by elke boodskap te betrek. Die volgende is ’n idee om ’n oorsig oor die preek te gee. Dit hoef nie rigied nagevolg te word nie.

Objekte:  Twee potplante (een wat lewend en mooi is, die ander moet sigbaar verlep en besig wees om dood te gaan).

Kort boodskappie: Hier is twee potplante. Kan julle die verskil tussen die twee sien? Hoekom dink julle het dit gebeur dat die een so mooi en gesond lyk, terwyl die ander een feitlik doodgegaan het? (Gee geleentheid vir antwoorde.)

Verduidelik dan: Die gesonde potplant het in die son gestaan en gereeld water gekry. Die siek plant was vir ’n week lank in ’n donker kas toegesluit – sonder sonlig of water.

In ’n sekere sin is ons mense ook soos ’n potplant. As ons hier binne – in ons hart en in ons kop – sterk en mooi, gesonde mense wil wees, dan moet ons sorg dat ons in die lig en warmte van God se liefde bly. In hierdie sin is ons nie soos hierdie potplante nie. Die potplante kon nie kies waar ek hulle wou neersit nie. Hulle moes maar tevrede wees.   Maar ek en jy het ’n keuse. Elkeen van ons kan kies of ons in die liefde van God wil wees en of ons ons harte daarvoor wil toesluit. Baie lank gelede al, toe Jesus hier op aarde was, het Hy geweet dat ek en jy só ’n keuse sou moes maak. Toe het Hy gesê: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte (entolaí) uitvoer, sal julle in my liefde bly” (Joh 15:9,10).

Hoe kan jy dan regtig weet dat jy in Jesus se liefde bly? Jy moet gehoorsaam wees aan Hom. Ons lees en leer in die Bybel hiervan (sy gebooie – ook saamgevat in die groot gebod en die voorbeeld van Jesus se lewe – wees kort). Vra dan in jou gebed dat die Here Jesus jou sal help om in sy lig te bly lewe sodat jy kan groei om ’n sterk en gesonde Christen te wees.

2.  Die probleem van Johannes se gehoor is vandag nog ’n probleem: Hoe is dit vir ’n mens moontlik om oorwinnend oor die sondige wêreld te leef? Identifiseer die sondige wêreld en die krag wat dit uitoefen. Paulus het self gesê: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom 7:19). Dit is die frustrasie wat kenmerkend is van die mens se worsteling met die sondige wêreld.

In ’n belangrike sin is dit ook waaroor dit gaan vir gelowiges wat aan die Paasgebeure (die sterwe en opstanding van Jesus die Christus) vashou. Dit wil voorkom asof die Christene tot wie die woorde van ons teksdeel gerig is, geworstel het om die sondige wêreld te oorwin; hulle wou graag geestelik sterk en gesonde gelowiges wees (soos hierbo gesê is), maar moes meermale kragteloos val voor die aanslae wat deur die sondige wêreld op hulle geloods is. Ons almal ervaar van tyd tot tyd die frustrasie wat Paulus ook al oorval het: Die goeie wat ons wil doen, dit doen ons nie, maar die slegte wat ons nie wil doen nie, dit doen ons wel. En dit laat ons nog slegter voel. Die wêreld en tydsgewrig waarbinne ons leef, maak dit ook nie makliker nie. Dit lyk kompleet asof die sondige wêreld van ons dag veel groter is as destyds. Ons worstel nie net met die gnostici nie, maar ’n menigte ander gelowe en ongelowe wat die Christelike geloof wil verdring en vernietig. (Dit sou goed wees as die prediker sy boodskap in hierdie stadium kon aanpas om by sy gehoor se ervaringswêreld aan te sluit.) Almal van ons ervaar die daaglikse stryd met die sondige wêreld (die kosmos waarvan Johannes praat). Voorbeelde uit die daaglikse lewe kan aangehaal word. Dis belangrik om daarop te let dat Johannes die begrip “kosmos” gewoonlik in ’n etiese sin gebruik. Hiermee dui hy op alles wat nie hul oorsprong in God het nie; alles wat teenoor God stelling inneem, alles wat ’n mens verhinder om God lief te hê en alles wat die mens keer om God se gebooie te gehoorsaam. In 2:16 word verwys na drie karakteristieke tekens van hierdie kosmos: (i) alles wat die sondige mens begeer, (ii) alles wat sy oë sien en begeer, en (iii) al sy gesteldheid op besit. Sekularisasie. Om te lewe asof daar geen God is nie. (Met verwysing na die epiloog van die brief – veral 5:18-21 – is dit duidelik dat dit die kosmos van morele wanorde is, die kosmos wat lê in die skoot van die Bose.)

3.  Maar dit hoef nie so te wees nie. Daar is oorwinning moontlik. Dit is nie nodig dat enige mens die slagoffer van die Bose en sy makkers sal wees nie. Dit is ook nie nodig om uit eie keuse weg te kruip (soos die potplant hierbo) in donker kloosters in ’n poging om sy kloue te ontkom nie. Die oorwinning word moontlik gemaak deur die oorwinnaar, Jesus Christus. Hiervan getuig die gebeure op Paassondag. Hoe het Jesus dit reggekry? Verwys na sy woorde in Johannes 15:10: “... net soos Ek die opdragte (entolaí) van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.” In hierdie faset kan baie gemaak word van Jesus se lewe en gehoorsaamheid aan die Vader (dink maar aan sy ervaring as kind al; sy versoeking in die woestyn; selfs toe Hy in die tuin van Getsemane in gebedsworsteling verkeer het). Sy oorwinning oor die Bose (en die sondige wêreld) was baanbrekerswerk wat deur niemand anders nie as die Christus, die Seun van God gedoen kon word (sien die inclusio van 1 Joh 5:1-5 en 6 om die sentrale funksie van Jesus Christus te beklemtoon).

Die klem verskuif nou na die vraag of oorwinning enigsins moontlik is. Die antwoord is natuurlik “Ja”. Dis nie nodig dat ’n mens voor die sonde sal buig asof daar geen ander moontlikheid is nie. Dis nie nodig dat jy asketies (in isolasie) sal gaan wegkruip in ’n klooster nie. Dis ook nie nodig dat jy ’n raak-nie-smaak-nie gesindheid sal beoefen wanneer dit by jou lewe in die wêreld kom nie. Jesus, die Kind van God by uitnemendheid, het ’n koers kom aanwys waarop dit moontlik geword het om oorwinning oor die sondige wêreld te behaal. Hierdie koers het geloop langs die weg van gehoorsaamheid aan die gebooie/opdragte (entolaí) van sy Vader (Joh 15:10). Dit het noodwendig ingehou dat Jesus sy eie voordeel en eie wil moes opoffer ter wille daarvan om sy Vader se wil te soek. Dink aan hoe Hy dit van kleins af gedoen het. En toe ook in die woestyn. Dwarsdeur sy openbare optrede. Sy gebed in die tuin van Getsemane. Tot by sy kruiswoorde. Die uitblaas van sy laaste asem.

4.  Jesus se oorwinning maak dit ook moontlik vir God se kinders om oorwinnend oor die sondige wêreld te leef. Hier moet Jesus se gehoorsaamheid aan die opdragte (entolaí) van die Vader, en liefde tot die uiterste toe (Joh 13:1) as voorbeeld voorgehou word vir elkeen wat oorwinnend wil lewe.               

Deur Hom het dit ook moontlik geword vir gewone mense om oorwinning oor die sondige wêreld te behaal. Daar is egter een belangrike kwalifikasie. Hierdie oorwinning kan slegs behaal word deur haar/hom wat ’n kind van God is;  Jesus se mede-susters en -broers (Mark 3:35 “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”). Wie is ’n kind van God? Hoe identifiseer jy so iemand? Dit is volgens ons Skrifgedeelte: Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, en hiermee saam (1), wat die Vader liefhet, en hiermee saam (1,2), wat die ander liefhet wat kinders van die Vader is, en hiermee saam (2), wat God se gebooie onderhou (3). (Hierdie punt is van kardinale belang. Die meeste mense loop met die idee dat alle mense kinders van God is. Hulle verwar dit met die idee dat alle mense skepsele van God is. Nie alle mense is kinders van God nie. Hierdie teksdeel bevestig dit, sowel as Joh 1:12 en 13: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens, of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.”)

5.  Praktiese implikasies wat aan die einde, of met die verloop van die boodskap op toepaslike punte aangewend kan word. Waarom is dit nodig dat Christene oorwinnend oor die sondige wêreld sal lewe? Dit is nodig omdat sonde: (a) jou eie lewe lelik maak. Letsels en littekens wat daardeur nagelaat word, kan jou lewe geweldig skend; (b) dikwels tot skade en skande van ander “gesinslede” lei (die selfsugtige aard van die sonde); (c) ongehoorsaamheid aan, en tot oneer van die Gesinshoof self is; (d) gewoonlik getuig van ’n gebrek aan liefde vir God en medemens.  

Uiteindelik bestaan die oorwinning wat kinders van God behaal, daarin dat hulle in die lig van God se liefde sal leef – soos Jesus die voorbeeld gestel het. Deur die beoefening van die liefde onder mekaar en vir God, sowel as die gehoorsaamheid aan ons Gesinshoof, kan ons oorwinnend oor die sondige wêreld leef. Jesus, die Seun (Kind) van God, het bewys dat dit moontlik is.

Bibliografie         

Bruce, F F  1970. The Epistles of John;  De Jonge, M  1978. De Brieven van Johannes;  Du Rand, J A  1981. ENTOLÉ in die Johannesevangelie en –briewe. NTWSA 1981;  Greijdanus, S  1964. De Drie Brieven van de Apostel Johannes;  Marshall, I H  1978. The Epistles of John;  Stott, John R W 1964. Epistles of John;  Westcott, B F  1966. Epistles of John.

Related Media
See more
Related Sermons
See more