1 Korintiers 1:3-9 LR2005
1 Korintiërs 1:3-9 LR2006
27 November 2005
Eerste Sondag van Advent
Liturgiese voorstel
Fokusteks: 1 Korintiërs 1:3-9
Ander tekste: Jesaja 64:1-9; Markus 13:24-37; Psalm 80
Inleiding
Op hierdie Sondag van hoop word beklemtoon dat gelowiges nooit ophou om met verwagting na die verskyning van Jesus uit te sien nie (1 Kor 1). Trouens, mense wat regtig betrokke is by die heling van God se stukkende wêreld, smag soos in Jesaja 64 en in Psalm 80 en bly op hulle hoede soos in Markus 13. God se bedoeling om die hele wêreld te red, kan ons nooit laat slap lê nie.
Diensorde
God versamel ons voor Hom
Aanvangslied
Lied 320:1,2 “O kom, o kom, Immanuel”; NSG 64
Voorganger 1: Vandag is die eerste Sondag van Advent, die Sondag van hoop.
Voorganger 2: Ons hoop is in God en in sy Seun, Jesus Christus. Hy is deur God aangewys om te
oordeel oor alle dinge. Hy is die Een deur wie God belowe het om sy volk te verlos.
Voorganger 1: Ons steek vandag die eerste kers aan om ons te herinner dat Hy ons hoop en die
hoop van die wêreld is.
Ons dank God vir die beloftes wat Hy aan ons gemaak het en vir die lig wat Hy in
die wêreld gebring het.
Gemeente: U is Immanuel, God met ons.
U is die God van hoop
Eerste kers word aangesteek.
Voorganger 2: Kom ons bid saam:
O God van hoop, Immanuel, God met ons.
Ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons hart sal laat skyn.
Help ons om gereed te wees vir die dag en die uur wanneer Christus finaal verskyn.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Vernuwe ons deur die krag van die Heilige Gees, sodat ons aanbidding, ons
feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig. Amen.
Sang
Lied 354:1,3 (staande) “O Christus, ons verlange”; NSG 65:1, 3
Aanvangswoord
1 Korintiërs 1:7
Gemeente antwoord
Lied 595:1,2 “Ons wag op U”
Seëngroet
(Almal groet mekaar ook met die Here se seën, waar dit toegepas kan word.)
Gemeente bly op die Heer wag
Lied 587:1 “Kyk Hy kom”; NSG 137:1
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Ons lewe in 2005 en 1 Korintiërs 1:3-9: Gee die gemeente kans om in die wêreld van die fokusteks te kom deur na te dink oor die volgende vraag: Wat in jou lewenstyl verklap dat jy regtig hoop dat Jesus kom? In ’n kleiner gemeente kan die voorganger die gemeente kans gee om te reageer.
Gemeente bely as respons
Lied 478:3 “Op vaste fondamente”; NSG 379:3
Skriflesing uit Ou Testament
Jesaja 64
Skriflesing uit Nuwe Testament
1 Korintiërs 1:3-9
Kindertyd
Die kinders/jongmense behoort reeds betrek te wees by die liturgie (aansteek van Adventskers; Skriflesing ens). Vra die kleiner kinders om te vertel waarna hulle uitsien en hoekom hulle na dinge uitsien. Gee aan die gemeente terugvoer.
Prediking
Gemeente antwoord
Doen geloofsbelydenis hier indien die nagmaal nie gevier word nie.
Diens van die tafel
Sien die basisliturgie vir Advent.
Nagmaal/nagmaalsherinnering
Indien dit net ’n nagmaalsherinnering is, kan die volgende gedoen word: Gaan af na die tafel waarop brood en wyn is. Bevestig dat Jesus in die nag waarin Hy verraai is, gesê het dit is sy liggaam en sy bloed: Hierdie brood en wyn is ons vaste hoop dat Hy verseker weer kom. Dit is vandag ook Wêreldvigsdag. Die tema van hoop het direk betrekking. Indien die gemeente die gebruik het om ’n vigskers aan te steek, behoort dit hier aan die tafel gedoen te word. Gee stilte vir nadenke en toe-eiening.
Gemeente antwoord (staande)
Lied 588:1 “O God van hoop, gee ons u vrede” of 516 “ Al sou die vyeboom nie bot nie”; NSG 144
Dankoffer
Voorbidding
Spesiale voorbidding behoort vir MIV/vigs-pasiënte en hulle families en vriende gedoen te word. Persone wat in die gemeente met bedienings in dié verband besig is, kan betrek word.
Uitsending
Voorganger: Julle bly ook vol verwagting uitsien, soos deurwagters, na die verskyning van ons Here, Jesus Christus. Julle sal intussen ter wille van sy Naam deur mense gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. Dit sal ’n getuienis voor almal wees (1 Kor 1 en Mark 13).
Gemeente: Here, ons verbind ons almal om hoopvol op U te wag. Ons wil Here, kom ons ongeloof te hulp.
Gemeente bevestig
Lied 595:1 “Ons wag op U, o Seun van God”
Seën
Antwoord
Gemeente sing “Amen”.
PREEKSTUDIE – 1 KORINTIëRS 1:3-9
Teks
Die afgebakende teks vir hierdie Sondag vorm deel van die inleidende gedeelte van Paulus se eerste brief aan die Korintiërs (NAB). Te oordeel na die indelings van verskillende vertalings van die Bybel is die RCL se afbakening van die teks soos hier deur die Leesrooster gebruik, ietwat vreemd. Volgens die Nuwe Afrikaanse Bybel (NAB) se hooftrekke van die brief vorm vers 1-9 die inleiding, maar in die teks self is daar `n verdeling tussen vers 3 en 4 (ook die NIV). So staan vers 3-9 onder die opskrif “Danksegging” en val vers 3 daarbuite. Pop verdeel die inleiding (1-9) in twee dele: Groet (1-3) en Danksegging vir die welstand van die gemeente (4-9). Die 1933-vertaling van die Bybel (OAV) hanteer die nege verse as geheel onder een opskrif: “Opskrif, seëngroet en danksegginge”. Dit dui die tema van ons Skrifgedeelte aan, asook die fokus van die RCL op seën en dank. Die King James Version hanteer hoofstuk 1 as geheel sonder `n opskrif, en die New King James Version gee aan die hoofstuk die opskrif: “Divisions in the Church Condemned”. Daarmee word Paulus se doel met die brief reeds aangedui.
In vers 1 stel Paulus homself as skrywer bekend, wanneer hy verwys na sy gesag as geroepe apostel van Jesus Christus (amptelike karakter van brief; vgl Pop). Hy verwys ook na sy broer Sostenes (Onsekerheid oor sy identiteit. Wel `n soort amptelike verwysing; vgl Pop). In vers 2 word die lesers van die brief aangedui as geroepenes en afgesonderdes vir God in Jesus Christus. Hy beperk die brief nie tot die gemeente van Korinte nie, maar sluit almal in wat die Naam van Jesus Christus aanroep. Daarna spreek hy die seëngroet van die Here oor die gemeente uit (3). Hierdie groet bevat twee belangrike woorde: genade (Gr charis) en vrede (Gr eiréné). Die seëngroet is ook net van God en Christus. Paulus noem nie hier die derde persoon van die drie-eenheid, die Heilige Gees, nie. Die titels wat Paulus vir God en Jesus gebruik, is belangrik. Hy praat van “God ons Vader” (verhoudingstaal) en van Jesus as die “Here Jesus Christus” (Hoof, Verlosser en Saligmaker).
Vers 4 bevat Paulus se dankgebed (Gr eucharistó) aan God vir die Korintiërs (lesers in 2). In die eerste plek is dit `n voortgaande dankbaarheid. Hy dank die Here altyd (Gr pantote) oor hulle. Dan gee hy spesifieke inhoud (motivering) vir sy dank aan God: (i) God se genade aan die gemeente; (ii) Dit is `n geskenk (Gr dotheisé) van God; (iii) Hy gee dit in Christus Jesus aan hulle. Vers 5 brei uit op God se geskenk aan die gemeente in Christus. Dit is `n verryking en oorvloed in die gawes van woord/spreke (Gr logó) en kennis (Gr gnósei).
In vers 6 en 7 lê Paulus die verband tussen die boodskap van Christus, die gemeente se reaksie daarop en aanvaarding daarvan en die volkomenheid van die gawe karakter daarvan. Vir die verlossing in hierdie lewe het hulle, as gevolg van die volmaakte gawe van God in Christus, niks meer nodig nie. Christus se geskenk en die feit dat dit in hulle gevestig is, vorm die basis vir hulle toekomsverwagting (eskatologie) en dat hulle kan uitsien na Jesus se verskyning/openbaring (Gr apokalupsin) in die laaste dae. Hulle hoop is dus gebaseer op God se geskenk aan hulle en hul aanvaarding daarvan vir hulself.
In vers 8 word verder uitgebrei op Jesus se rol in die lewe van die gelowiges, beide vir die lewe tot by die einde, asook in die laaste oordeel wanneer die gelowiges tot verantwoording geroep sal word. Hy is die bron, die krag, die energie, wat die gelowiges staande hou en help om in hierdie lewe geloofsgetrou te volhard in God se roeping. Jesus Christus is ook een wat julle skuld en oortredinge op Hom neem, sodat die gelowiges by die wederkoms sonder klag voor God sal kan staan. So het Christus betekenis vir hierdie lewe en die toekomstige lewe.
Vers 9 beklemtoon dan die grondslag vir alles. Dit is God se trou wat die boodskap van Christus onderlê. Hy wat die Korintiërs tot sy diens roep en in Jesus Christus verenig, sal sy beloftes uitvoer, want Hy is getrou, betroubaar, geloofwaardig (Gr pistis). So bou Paulus dan die raamwerk en grondslag vir die boodskap wat hy in sy brief aan die gemeente in Korinte wil oordra. Hy herinner hulle aan hul nuwe identiteit in Christus as gawe van God. Hy beklemtoon hul roeping en bely hulle gemeenskaplike geloof in die getroue God. Hierdie nuwe werklikheid van en verhouding met God bepaal dan ook die gelowige se totale lewe (verlede, hede en toekoms), asook die verhoudinge van die gelowiges tot mekaar en die wêreld.
Konteks
Die eerste konteks waarmee ons moet rekening hou, is die konteks van die brief in sy geheel. Daarom is dit nodig om, met die lees van die eerste nege verse, dit wat Paulus in die res van die brief skryf in gedagte te hou. Oorsigtelik beskou, handel die brief van 1 Korintiërs oor verskeie probleme en verkeerde idees in die gemeente waarvan Paulus bewus geraak het en waarop hy reageer. 'n Uiteensetting van hierdie “probleme en misvattings” kan in enige kommentaar gevind word. C W Burger skryf dat daar 'n basiese probleem van 'n spiritualistiese, ekstatiese teologie was. “Dit is 'n sinkretistiese teologie waarin geestelike kennis en geestelike ervarings voorop staan”. Die gevaar van hierdie teologie was “dat dit die aandag weglei van die gewone lewe van die gelowige in die wêreld” sodat die belangrikheid van die nuwe lewe as etiese lewe onderbeklemtoon word (Riglyne vir eskatologiese prediking). Die gemeente in Korinte het hulle dus nie net “skuldig gemaak” aan verskeie sondige praktyke nie – agter hierdie sondige praktyke was daar 'n verkeerde verstaan van die evangelie.
Volgens Bultmann is hoofstuk 13 (oor die liefde) die sleutel tot die verstaan van die hele brief. Barth huldig egter die mening dat hoofstuk 15 die sleutel en die hoogtepunt van die brief is. DJ Smit sluit hierby aan in sy preekstudies oor 1 Korintiërs 15 en skryf onder andere oor hoofstuk 15: “Van meer belang is om te besef dat Paulus besig is met “uitleg van die credo of geloofsbelydenis” (Conzelmann). Dit beteken dat dit nie soseer om apologetiek gaan wat gerig is teen een spesifieke standpunt nie, maar om positiewe teologie wat geldig bly ook in ander situasies en ten opsigte van ander vorme van twyfel en ontkenning” (Riglyne vir Paas-, Hemelvaarts- en Pinksterprediking).
Wanneer die eerste paar sinne van die brief vanuit hierdie perspektief herlees word, val dit op dat Paulus uit die staanspoor positief is. Hy weet van die probleme in die gemeente, maar hy begin deur die gemeente se verlossing en seëninge uit te lig. Paulus se “optimisme” lê nie in óf die gemeente, óf in sy eie persoonlikheid nie, maar in God wat getrou is. In vers 9 verduidelik Paulus waarom hy so positief kan wees: “God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.” Hierdie beklemtoning van die gemeente as geseëndes omdat God getrou is, beteken geensins dat dit die aandag weglei van die alledaagse probleme van die gemeente nie. Paulus kan juis in hierdie brief openhartig met die gemeente oor hulle gebreke en verkeerde idees praat omdat sy uitgangpunt die trou van God is.
Die tweede konteks van ons lees van 1 Korintiërs 1:1-9 is dat dit op die eerste Sondag van Advent gelees en gepreek word. Binne die kerklike jaar fokus die eerste Adventsondag op die roepe van God vanuit die situasie van menslike ellende en saam daarmee weerklink die oproep om waaksaam te bly met die oog op die wederkoms. Waarskynlik het die RCL se keuse van hierdie gedeelte vir die eerste Sondag van Advent met die “Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus” van vers 7 te make. So herinner die RCL ons dat Advent om meer gaan as die terugkyk en viering van die geboorte (koms) van Jesus. Dit sluit ook in die vooruitkyk en verwagting op die terugkom van hierdie Jesus in heerlikheid.
Die (Advents-)gemeente leef in hierdie “tussentyd” tussen Christus se eerste en tweede koms. In hierdie tussentyd word die gemeente se lewe deur albei hierdie gebeure bepaal, gevorm en gerig. Aan die een kant bestaan die gemeente danksy die eerste koms van Christus. Deur Hom het God hulle afgesonder en geroep om aan Hom te behoort (1). God skenk sy genade aan die gemeente deur Christus (4). Die boodskap oor sy koms, sy woorde en dade en sy werk aan die kruis is in die gemeente vasgelê (6). Hulle het die boodskap ontvang en nou is hulle die bewaarders en draers van hierdie boodskap. Aan die ander kant word die karakter van die gemeente (die manier waarop gemeente-wees gestalte kry) deur die wete dat Christus weer kom, gevorm.
Paulus is vol vertroue oor die toekoms van die gemeente. Hierdie toekoms sluit die verste perspektief van die onbekende toekoms tot met die wederkoms van Christus in. Dis natuurlik ook waar Paulus waarskynlik aan die wederkoms as 'n nabye werklikheid gedink het. God, wat deur die eerste koms van sy Seun die gemeente tot stand gebring het, is getrou (9) en sal die gemeente vashou en ook “voltooi” tot en met die tweede koms van sy Seun (8). Die “tussentyd” is nie 'n leë tyd of blote afwagtingstyd nie. Dis juis in hierdie tussentyd wat God sy seëninge aan sy gemeente skenk. Sy genade en vrede word die gemeente toegesê (3). Die gemeente word ryklik geseën met gawes van woord en kennis (5). Daar is geen gebrek aan genadegawes nie (7a). God bly besig met sy gemeente (8). Al word die Heilige Gees nie hier by name genoem nie, is die werkinge van die Gees duidelik ter sprake.
Om dit saam te vat: Die eerste koms van Christus begrond die gemeente se bestaan, en as ryklik geseëndes word die gemeente se lewe op die tweede koms van Christus gerig.
'n “Derde konteks” waarmee op hierdie Adventsondag rekening gehou moet word, is dat Wêreldvigsdag op 1 Desember plaasvind. Die tema wat Worldaidscampaign vir Wêreldvigsdag 2005 aanbeveel, is “Stop AIDS. Keep the promise.” (Inligting en dokumente kan by www.worldaidscampaign.org gevind word.) Die agtergrond van hierdie tema spruit veral uit vele beloftes wat in vorige jare deur regerings, wêreldleiers en organisasies gemaak is om die vigspandemie effektief te beveg, maar waarvan min nog gerealiseer het. Die tema spreek sekerlik nie net die leiers en organisasies aan waarna Worldaidscampaign verwys nie, maar roep ons almal op om die beloftes wat ons reeds gemaak het, na te kom of ons opnuut daartoe te verbind. Ook in Suid-Afrika wek die geskiedenis van kerke se betrokkenheid by MIV en vigs die indruk van beloftes wat nie oorgaan tot dade nie. Menige kerk het pragtige verklarings, sinodebesluite en selfs besluite op ringsvlak en kerkraadsvlak, maar hoeveel hiervan het al in die praktyk oorgegaan?
'n Preek oor 1 Korintiërs 1:3-9 sal nie sonder meer oor MIV en vigs handel nie. Tog is daar in die voorafgaande besprekings heelwat gedagtes wat op 'n verantwoordbare manier met die vigspandemie in verband gebring kan word. Met reg kan daarop klem gelê word dat 1 Korintiërs 1:1-9 aan ons die versekering en troos bied dat ons as Adventsmense geborge is in Christus se eerste koms. Dat ons geseëndes is en dat ons vrymoedig Christus se wederkoms mag verwag. Hierdie “vaste posisie in Christus” gee juis vir ons die geleentheid om die gebroke werklikheid van ons gemeente en ook die wêreld waarin ons leef in die oë te kyk. Soos Paulus in die res van die brief openhartig oor al die gemeente in Korinte se probleme skryf, kan ons ook maar openhartig oor ons probleme praat. Hierdie probleme sluit in dat ons deeglik moet kennis neem van die effek van MIV en vigs op die gemeente en in die wêreld om ons. Die omvang en impak van MIV en vigs maak dit dringend noodsaaklik.
MIV en vigs kan die gemeente op baie maniere affekteer. Dit kan die gemeente in 'n toestand van (stille) ontkenning plaas (dis sekerlik nie ons probleem nie – miskien hulle daarbuite). Dit kan negatiewe reaksies tot gevolg hê (veroordeling en verwerping van geïnfekteerdes). Dit kan verwarring tot gevolg hê (vigs is die vloek van God oor mense se onsedelike gedrag). MIV het so 'n ingrypende effek op ons hele gemeenskap dat geen gemeente hom kan terugtrek om op ‘n afstand na die vigspandemie te kyk nie.
Die prediker sal sensitief en biddend moet nagaan wat die effek van MIV en vigs in hierdie stadium op die gemeente het waar die Woord verkondig gaan word. Die gemeente moet só op hulle posisie in Christus (as Adventsgemeente) gewys word dat daar op grond hiervan 'n ernsige appèl op die gemeente gemaak word om die gebrokenheid wat MIV en vigs tot gevolg het, kreatief aan te spreek. As mense wat geanker is in die koms van Christus en wat op pad is na sy wederkoms, kan die gemeente positief betrokke raak by die vigspandemie. Die goeie nuus is dat die werklikheid van MIV en vigs nie die werklikheid van die gemeente se posisie as Adventsgemeente verduister nie. Dit is juis ons posisie as gemeente wat in die tussentyd leef, ons wete dat God getrou is, wat ons bemagtig om die werklikheid van ons gebrokenheid as samelewing, kerk en gemeente vierkantig in die oë te kyk.
Preekvoorstel
Toe Paulus in Efese verskeie boodskappe kry dat daar groot probleme in die gemeente van Korinte was, kon hy op verskeie maniere reageer. Hy kon gewoon weggekyk en gemaak het of dit nie waar is nie. Die gemeente is tog die liggaam van Christus en die liggaam van Christus kan tog nie vol probleme wees nie – hierdie berigte is niks anders as skinderstories nie, kon hy gedink het. Die ander uiterste sou wees om die gemeente summier te veroordeel vir hulle sondes. As julle die liggaam van Christus was, sou julle nie hierdie dinge gedoen het nie en omdat julle dit gedoen het, bewys julle daarmee dat julle nie die liggaam van Christus is nie, kon hy aan hulle skryf. Maar Paulus kies 'n ander weg. Hy kyk die werklikheid van die probleme van die gemeente in Korinte (anders gestel die gebrokenheid van die liggaam van Christus) in die oë. Hy neem die pen op en begin om die probleme een vir een uit te lig en aan te spreek. Die belangrikste om raak te sien, is hoe Paulus dit doen. Hy doen dit al-verkondigende-die-evangelie.
Die probleme in Korinte, die stukkende liggaam van Christus, bring Paulus daartoe om die hoofsaak van die evangelie nog eens uiteen te sit met spesifieke klem op dié evangeliewaarhede wat die gemeente in Korinte skynbaar vergeet het. Wat beklemtoon Paulus? Waar begin hy?
Let op wat Paulus nie gedoen het nie: Hy het nie die probleme van die gemeente in Korinte ontken deur weg te kyk en te hoop dit sal vanself opgelos word nie. Verder het hy ook nie die geleentheid gebruik om die gemeente te veroordeel en hulle verlossing te betwyfel nie. Paulus spreek hulle probleme aan deur weer eens die evangelie binne die konteks van hulle probleme te verduidelik. Die hoogtepunte in hierdie brief is die beklemtoning van die opstanding van Christus (hfst 15) en saam daarmee die sentrale belang van die liefde (hfst 13). In die eerste nege verse vind ons die basis van die evangelie wat Paulus in die res van die brief vir die gemeente ontsluit het. Wat hier uitstaan, is dat Paulus sy brief begin deur te beklemtoon dat God getrou is en die gemeente tot gemeenskap met Christus geroep het. Daarom is hulle geseëndes.
Wat leer ons hieruit op die eerste Sondag van Advent? Wat sê dit vir ons in hierdie week waar daar oor die wêreld heen aandag gegee word aan die vigspandemie? Eerstens dat ons, soos Paulus, nie vir ontkenning of veroordeling moet kies nie. Juis omdat ons weet wat dit beteken dat God getrou is, dat Hy ons tot gemeenskap met sy Seun geroep het, kan ons die probleme waarmee ons gekonfronteer word, in die oë kyk.
Wat die vigspandemie aan ons vertel, is dat hierdie probleme waarmee ons gekonfronteer word alles met die kerk, die gemeente van Christus te make het. MIV en vigs is nie iets buite die mure van die kerk nie. Dit is nie 'n infeksie en siektetoestand wat vertel wie ongelowiges of goddeloses of sondaars is nie. MIV en vigs is net so ’n werklikheid in die liggaam van Christus as op enige ander plek in die wêreld.
As Adventsgemeente, wat geanker is in die eerste koms van Jesus en wat sy tweede koms verwag, kan ons die gebrokenheid van ons eie gemeente erken. So lank ons dit ontken, kan ons nie sinvol op die vigspandemie reageer nie. Dit gebeur dikwels dat wanneer Christene tot die oortuiging kom dat die vigspandemie hulle oproep om iets te doen, hulle dan eerstens 'n “uitreik-aksie” organiseer. “Hulle daar buite, hulle daar anderkant wat vigs het of wat wees is, moet gehelp word,” sê ons dan. Dis natuurlik wonderlik en goed en reg en mooi wanneer gelowiges uitreik na mense in nood. Maar wanneer daar nog ’n ontkenning is dat die werklikheid van MIV en vigs ook met “ons”, met “mense na aan my” te make het, het ons nog nie die probleem in die oë gekyk nie.
God is getrou! Roep Paulus. Hy roep ons tot gemeenskap met sy Seun. Hierdie wete het Paulus toegerus om die stukkende liggaam van Christus in Korinte met liefde te bedien. Hierdie wete is vir ons ook genoeg om die stukkende wêreld waarin ons leef en ook die stukkende liggaam van Christus waaraan ons behoort, met liefde in die oë te kyk.
Verder beteken dit dat ons as mense wat geroep is tot gemeenskap met Christus, ontdek dat dit juis hierdie gemeenskap is wat heling bring. Waar stukkende mense ontdek wat die gemeenskap met Christus en mekaar is, wanneer 'n stukkende gemeente ontdek wat dit beteken om die liggaam van Christus te wees, kom daar hoop, versoening en genesing.
Wanneer ons met die eerste Sondag van Advent opgeroep word om gereed te maak vir die fees van die koms van die Seun, is hierdie oproep nie 'n oproep om weg te trek van ons daaglikse werklikheid nie. Dis eerder 'n oproep om vanuit ons daaglikse werklikheid na God te roep: Dat ons gemeenskap met sy Seun en met mekaar 'n helende gemeenskap sal wees.