1 Korintiers 1:18-25 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 257 views
Notes
Transcript

1 Korintiërs 1:18-25 LR2006

19 Maart 2006

Derde Sondag in Lydentyd

 Oculi (Oë) 

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:           1 Korintiërs 1:18-25

Ander tekste:       Eksodus 20:1-17; Psalm 19; Johannes 2:13-22

Inleiding

“Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor 1:18). By die oordenking van hierdie boodskap word ons aandag gelei om so op Christus, die gekruisigde, te fokus dat alle ander dinge vervaag. Sy gestalte as gekruisigde neem die sentrale plek binne God se openbaring in. In die voortgang van die liturgie kom die sentrale openbaringsmomente naas ander bekende gestaltes van God se openbaring te staan; te wete wet (Eks 20), natuur (Ps 19) en tempel (Joh 2). Ons word gelei om die heerlikheid van God daarin raak te sien en te waardeer, maar veral om ons in die oortreffende wonder van die kruis te verbly. Deurgaans poog die liturgie om die oog op die Here gevestig te hou soos dit gepas is by Sondag Oculi.

Diensorde

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Bewuswording

Speel gepaste musiek.

’n Kruis word ingebring en voor die gemeente neergesit. Die Bybel word ook ten aanskoue van die hele gemeente ingebring en op die kansel neergesit. Sommige gemeentes sal ook die Christuskers, moontlik toegedraai in doringdraad, as simbool van die Here se teenwoordigheid voor in die kerk laat brand.

Groet

Voorganger: Die Here is met julle.

Gemeente:     En ook met jou.

Aanvangswoorde

Voorganger: “My oë is altyd op die Here gerig ...” (uit Ps 25:15 soos van toepassing by Sondag oculi.)

                    (Stilte)

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...

Gemeente:     ... wees ons genadig!

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...

Gemeente:     ... ontferm U oor ons!

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...

Gemeente:     ... gee ons U vrede!

Sing

Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”; NSG 104

Lied 163:3: “U is die Alfa en die Omega”

Skriflesing uit die Psalms en respons – God openbaar Hom in die natuur

Psalm 19: 2-7

Lied 255:3 “Trotse berge sal eens wankel”; NSG 334:2

Skriflesing uit die Ou Testament – God openbaar Hom in sy Woord

“God het Homself in sy wet aan ons bekend gemaak. By die lees van die wet sien ons die karakter van God sowel as die neerslag wat dit in die lewe van sy kinders moet hê.”

Eksodus 20:1-17

Ps 19:8-10 word afwisselend gelees. (Die gemeentelike respons sou ook deur ‘n lidmaat gelees kon word.)

Voorganger: Die woord van die Here is volmaak:

Gemeente:     dit gee lewe.

Voorganger: Die onderwysing van die Here is betroubaar:

Gemeente:     dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Voorganger:  Die bevele van die Here dui die regte koers aan:

Gemeente:     dit bring blydskap.

Voorganger:  Die gebod van die Here is helder:

Gemeente:     dit gee insig.

Voorganger:  Die eise van die Here vir sy diens is goed:

Gemeente:     dit staan altyd vas.

Voorganger: Die bepalings van die Here is reg:

Gemeente:     elkeen van hulle is regverdig.

Voorganger:  Psalm 19:11-14

Gemeente:     Mag wat ek sê en wat ek dink

                    tog vir U aanneemlik wees,

                    Here, my Rots en my Verlosser (uit Ps 19:15).

Skriflesing uit die Evangelies – God openbaar sy toorn oor sonde

Luister na die Here se Woorde in Johannes 2:13-23 en sien hoe Hy die sonde haat (Joh 2:13-23).

Skuldbelydenis

Lied 240:2 “Heiland, as in ootmoed stil …”  (Let op reëls 2 en 3 van vers 1);  NSG 211:2

Vryspraak

Die doopwater word deur ’n diaken ingebring en in die doopbak gegooi.

Lees Titus 2:14.

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Skriflesing

1 Korintiërs 1:18-25

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Dankoffers en inbring van elemente

Nadat die dankoffers ingesamel is, bring die diakens die brood en die wyn na die tafel.

Kinders

Sing Lied 550 “Twee ogies om Gods werk te sien”. Wys die kinders daarop dat ons die Here in die brood en die wyn “sien”. Ons sien veral sy werk raak en sy liefde vir ons.

Vredeshandeling

Die vredesgroet word onderling verwissel. Gee mekaar ’n handdruk met die groet: “Mag die Here se vrede met jou wees.”

Dank

Lied 382: 1-2 “Hoor hoe die Seun van God”; NSG 102 “O mens, kom na die kruis”

Aanbidding

Voorganger: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige.

                    Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

                    Hosanna vir die Seun van Dawid!

                    Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

                    Hosanna in die hoogste hemel!

(Indien met ’n nagmaalherinnering volstaan word, word die handelinge tot met die uitsending verder weggelaat.)

Herinnering

Voorganger:  In die nag waarin Hy oorgelewer is,

                    het Jesus brood geneem   en

                    nadat Hy God daarvoor gedank het,

                    het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir julle.

                    Gebruik dit tot my gedagtenis.”

                    Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê:

                    “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. 

                    Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Gemeente:     Christus het gesterwe!

                    Christus het opgestaan!

                    Christus regeer in heerlikheid!

                    Christus kom weer!

                    Amen! Kom, Here Jesus!

Nagmaalgebed

Voorganger:  Heilige Gees,

                    laat hierdie maaltyd ons geloof versterk

                    sodat ons U beter en meer ywerig in u koninkryk mag dien.

                    Bind ons in liefde saam as lede van één liggaam.

                    Vergader uit alle volke, nasies, en tale ’n kerk tot Gods eer.

                    Laat Jesus se ryk van vrede gou in sy volle heerlikheid aanbreek.

                    Daarom bid ons …

Gemeente:     Lied 266 “Ons Vader”; NSG 325        

Uitdeel en gebruik van brood en wyn

UITSENDING

Oproep en verbintenis

Voorbidding

Sang

Lied 389 “Is dit, is dit my Koning?”; NSG 97

Seën

Antwoord

Die gemeente sing “Amen” Lied 315.

PREEKSTUDIE  – 1 KORINTIëRS 1:18-25

Teks

1. Die eerste Korintiërbrief het naas ’n bekendstelling en genadeverkondiging by 1:1-3 ’n beskrywing van die gemeente se geworteldheid in Christus. Daarna volg ’n aanduiding van ernstige verdeeldheid in die gemeente, waarna die aard van Christus se persoon en werk omskryf word as die grondslag van gemeentewees. Ons teksgedeelte is ’n lofrede op Christus die gekruisigde, as die krag en die wysheid van God (1:18-25). Dié verkondiging is die grondslag van Paulus se brief en bepaal die aard van sy eie prediking, sending en getuienis (hfst 2). In hoofstuk 3 verduidelik hy die oorsaak van die Korintiërs se onderlinge verdeeldheid en stel daarteenoor die gemeente as gebou wat aan Christus en daarom aan God behoort. In die verband word die bediening van die apostels (hfst 4) verduidelik en hulle totale oorgawe aan Christus onderstreep, met hulle gepaardgaande ontberinge. Hierna hanteer Paulus die verregaande onsedelikheid in die Korintiërgemeente (hfst 5), argumenteer hy sterk teen hofsake tussen gemeentelede en gee hy riglyne vir ’n sedelik rein lewe (hfst 6), met raad oor die huwelik (hfst 7) en oor vleis  wat aan afgode geoffer is (hfst 8). In hoofstuk 9 sit Paulus die regte en pligte van ’n apostel uiteen, waarna waarskuwings teen afgodery en klem op die eer van God volg (hfst 10). In hoofstuk 11 behandel hy religieuse voorskrifte vir mans en vroue in Korinte asook die wyse waarop hulle met die nagmaal moes omgaan. In hoofstuk 12-14 hanteer hy die verskeidenheid geestelike gawes. Hoofstuk 15 handel oor die opstanding uit die dood, gevolg deur die kollekte vir Jerusalem, algemene reisplanne, laaste versoeke en groete (hfst 16).

2. 1 Korintiërs 1:18-25 onderstreep die gekruisigde Christus is die kern van Paulus se verkondiging. Paulus speel enersyds afdoende klaar met die grond vir die verdeeldheid onder die Korintiërs (1:10-17 en 3:1-9) en andersyds onderstreep hy die grondslag vir hulle roeping om te getuig en te roem (1:26-31).

2.1.  Vers 18 verklaar dat die woord (logos) van die kruis van Christus onsin, dwaasheid, smaakloos (Gr mooria) is vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag (Gr. dunamis) van God. Die Grieke het dunamis destyds verstaan as die onpersoonlike krag wat die geskape werklikheid (kosmos) beheer. Vir die Joods-Hebreeuse leefwêreld was die soort krag verbind met ’n persoonlike God. Dus praat die Ou Testament van God se krag, sy mag (Eks 15:6,13; 32:11; Deut 9:26; Ps 29). Paulus argumenteer meermale dat die kruis van Christus die openbaring van God se krag is, die grondslag van die Christelike evangelie en geloof. Teenoor wat die destydse samelewing in Korinte beskou het as wysheid – van woorde, van retoriek, van om mooi en oortuigend te kan praat – stel Paulus die kruis van Jesus as die wysheidswoord van God. Paulus wou begryplik geen deel hê aan die soort verkondiging wat die verkondiger self belig nie. Dié soort prediking trek dikwels skares en bou die beeld van die prediker. Dit sou vir Paulus die kruis van Jesus deurstreep. En, hierdie kruisevangelie is nie ’n boodskap oor die krag van God nie, maar vir die wat gered word, is dit die krag van God (vgl Rom 1:16).

2.2. Vers 19 beklemtoon Paulus se argument. Op kenmerkende wyse haal hy uit die ou Testament aan. Jesaja 29:14 beklemtoon God se wysheid staan reeds van die vroegste tye in kontras met die slimmigheid, wysheid van mense. Die Here sal die sogenaamde wysheid en geleerdheid vernietig, want dit hou nie voor God stand nie. 

2.3. In vers 20 teken Paulus drie kategorieë van menslike wysheid: wysgere, skrifgeleerdes, slim woordvoerders wat nie voor God kan stand hou nie. Die wysgere verwys na Jesaja 19:11ev. Die profeet wys hoe die Egiptiese wyses skromelik gefaal het toe God oor hulle land gerig gevoer het. Die skrifgeleerdes wys hier terug na Jesaja 33:18. Die profeet hekel met die Assiriese skrifgeleerdes wat na die redding van Jerusalem niks gehad het om as oorlogsbuit en vir verdere verwoesting op te teken nie. Die slim woordvoerders wys hier terug na Jesaja 44:25. God se uitverkiesing van Kores bewys die wyse mense van Babel het die geskiedenis totaal mis gelees. In hulle kuns en kennis het hulle nie met God rekening gehou wat alleen die geskiedenis maak nie. Daarom ontmasker Hy hulle kennis/wysheid as dwaasheid (Pop). Met die gebruik van aioon vir wêreld in stede van kosmos soos vir skepping, dui Paulus aan dat die wêreld inderdaad soos ’n verbygaande opvoering is – en sy wysheid gaan saam verby. Wat meer is, God maak hierdie wysheid tot dwaasheid. Paulus maak dit duidelik dat enigiets wat op menslike wysheid (slimmigheid) berus vir God verwerplik is (Morris).   

2.4. Vers 21 beklemtoon dat Godskennis nie vir die wêreld deur geleerdheid gebring sou word nie. In sy goedheid het God die weg van die prediking gekies – prediking van dít wat vir die wêreld onsin, dwaas is. Vir die natuurlike mens, wat nie deur die Gees verlig is nie, maak die evangelie van die kruis gewoon nie sin nie. As Paulus die begrip kerugmatos gebruik, gaan dit nie bloot oor die daad van prediking nie, maar oor die boodskap van die prediking. Die boodskap self is dwaasheid. Mense hoor hulle “wyse insigte” sal hulle nie red nie, maar redding kom vir hulle wat glo. Die werkwoord pisteuontas is in die teenwoordige tyd. Dit beteken geloof as ’n gewoontehandeling. 

2.5. In vers 22 kontrasteer Paulus die Jode se soeke na ’n teken met die Grieke se wysheidsoeke. Die Jode het baie min ooghare vir spekulatiewe denke gehad. Hulle wou bewyse hê en prakties wees. Vir hulle het God deur die eeue met magtige wonders en tekens sy krag gewerk. Daarom soek hulle weer ’n teken van die Messias. ’n Gekruisigde Messias was vir hulle `n teenstrydigheid. Die Grieke, die ander, daarenteen was oorgegee aan spekulatiewe filosofie. Die name van hulle voorste denkers het die hoogste eer gekry. Almal wat nie hulle soort wysheid waardeer het nie, het hulle vanuit die hoogte as barbare verag. Binne hulle intellektuele parameters was daar dus nie plek vir die kruisevangelie van Christus Jesus nie.   

2.6. In vers 23 stel Paulus dit egter onomwonde: “maar ons verkondig Christus as gekruisigde”. Dit is die hart van die evangelie en juis dít is ’n aanstoot vir die Jode en onsin vir die ander. Die werkwoord gekruisig (estauromenon) beteken dat Christus eenmaal gekruisig is en nou voortleef met die karakter en die merktekens dat Hy die Gekruisigde is (vgl ontmoeting met Tomas; Joh 20:26-31). Die Jode en nie-Jode (Paulus verwys hier na almal anders as die Jode) aanvaar dit egter nie. Dus, alle mense verwerp Christus (Morris: 46).

2.7. In vers 24 beklemtoon Paulus dat teenoor die verwerping van die boodskap van die kruis die geroepenes onder die Jode en ander, die boodskap verwelkom. God het hulle geroep. Alle ander dinge is onbelangrik. Roeping beteken hier “doeltreffend”, selfs “kragdadig” geroep. Mense wat so geroep is, weet die gekruisigde is nou die krag van God. Voor hulle roeping kon hulle nie die krag van sonde, die denk en leefskemas van hierdie wêreld, te bowe kom nie, maar nou kan hulle. Want Christus, wat hulle geroep het, is die krag van God, nes Hy ook die wysheid van God is. Die hele perikoop handel oor wysheid. Maar waar menslike wysheid die soeke na God faal, het God in sy wysheid die mens gesoek en gevind deur Jesus wat bereid was om ons onthalwe sy lewe af te lê aan die kruis. So het Hy ons met God en met mekaar versoen. So word die dwaasheid van God (in die oë van die menslike wysgere) die redding vir almal, ons enigste troos in lewe en in sterwe (HK 1:1).

2.8. Vers 25 maak duidelik dat wat die wêreld as die dwaasheid van God beskou groter wysheid is as die wysheid van mense, en wat die mense as die swakheid van God beskou groter krag is as die krag van mense. Die lydende Messias aan die kruis lyk miskien swak, maar dit is juis in die swakheid van God dat Hy sy krag openbaar en dit is sterker as enigiets wat mense kan aanbied. Beide die tekensoekende Jode en die wysheidsoekende nie-Jode (Grieke) kon onderskeidelik nie die grootste teken raaksien en diepsinnigste wysheid onderskei toe hulle daarmee in die kruis van Christus gekonfronteer is nie.

2.9. En só, onderstreep Paulus duidelik in die res van die hoofstuk, doen God die verrassende. Dié wat vir die wêreld swak en onbenullig lyk, word deur God uitgekies, dié wat die wêreld as swak, ongeleerd en sonder invloed beskou, kies Hy uit om die geleerdes en sterkes te beskaam. En wat voor die wêreld sonder aansien of betekenis, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is tot niet te maak. Dit was sy keuse, teen die mensheid se verwagtinge in. Hy kies diegene wat die minste belofte getoon het en maak juis hulle tot voorbeeld van sy genade, die evangelie, goeie nuus (Morris). Daarom het niemand (Jode of Grieke of rykes of armes of geleerdes of ongeleerdes of die onderskeie mensgroepe in ons hedendaagse samelewing) voor God iets om op te roem nie. Want dit is God wat dank toekom dat ons met Christus verenig is. Die uitverkorenes is in Christus en daarom in die nouste verband verenig met mekaar. Hy het vir ons die wysheid geword wat van God kom: die vryspraak, heiliging en die verlossing. Daarom moet dié wat wil roem, in die Here roem (Jer 9:23-24). Paulus betrek die Jeremia-teks, wat na Jahwe die Verbondsgod verwys, direk op die persoon en werk van Christus. En met hierdie verheffing van Christus onderstreep hy die dwaasheid van wyse mense en soldate en rykes wat op hulle wysheid, krag en rykdom staatmaak en daarin roem. So anders as hulle is God wat liefde en reg en geregtigheid op die aarde bewys, en dit toe in Korinte gedoen het met sy onverwagse keuse vir diegene wat volgens menslike standaarde die minste belofte toon. Ja, daar is rede vir oorvloedige roem, maar wie wil roem, moet in die Here roem!    

Konteks

1. In sy boek Transforming Mission wys David Bosch daarop dat Paulus, wat die wet plek plek in sy skrywes duidelik hoog aanslaan as ’n rigtingwyser, ook ingesien het wat geen ortodokse Jood kon insien nie, naamlik dat hulle verstaan van die wet en hulle gevolglike praktyke (bv die besnydenis) Joodse eksklusiwiteit gevoed het en dat die wet daarom opgehef moes word. Want, of die Jode dit nou so bedoel het of nie, die wet het ’n Joodse kenteken geword, en dus ook van nie-solidariteit tussen Jood en nie-Jood. Die wet skei en isoleer groepe sodoende van mekaar. Dit het die beliggaming geword van die Joodse uitsonderlikheid (particularism), introversie en groepsidentiteit en die grondslag vir roem en uitverkorenheid. Die Jode het vergeet die wet staan vir die “geregtigheid van God”. Aangesien hulle dit uitgelê het as ’n eksklusiewe gebied van afsondering van die res van die menslike gemeenskap, het hulle dit verander in hulle eie geregtigheid (Rom 10:3). Hulle het hulle eie skrifte verkeerd verstaan (2 Kor 3:15) en hulle rol as God se volk. Paulus het hierdie misvattings sterk teengestaan en daarmee saam enige Judaïsering van nie-Jode. Alle verskille van sosiale status en geslag het weggeval, maar die belangrikste onderskeid wat weggeval het, is die tussen Jood en heiden, die nie-Jode (Gal 3:28). Die middelmuur van skeiding is afgebreek (Ef 2:14) en dit is ontoelaatbaar om weer op te bou wat afgebreek is (Gal 2:18) (Bosch 1991; sien ook Beker), en die fundamentele punt dat verlossing slegs deur Jesus Christus kom, mag op geen wyse vertroebel of verduister word vir mense teenoor wie die evangelie gebring word nie, in besonder die nie-Jode (verwys Senior en Stuhlmueller). Paulus het nie tot die insig gekom omdat hy uit die wet tot by die evangelie gedink het nie. Dit het andersom gewerk. Hy kon sien, nadat Christus, die opgestane Gekruisigde, Hom aan Paulus geopenbaar het (Gal 1:12-17). Toe eers kon hy die ongenoegsaamheid van die wet as redmiddel insien en die gevaarlike, verwerplike verdeeldheid wat die Joodse interpretasie van die wet vir menslike gemeenskap meegebring het.

Daarom verkondig Paulus met soveel oortuiging dat dit nie deur die wet is dat ons gered word nie, maar dat in Christus alle mense die aanbod kry om te beweeg van die dood na die lewe, van die sonde na God. Daarom verkondig hy “Christus wat gekruisig is”. Vir die Jode ’n struikelblok (aanstoot NAV) en vir die ander (Grieke OAV) is dit dwaasheid (onsin NAV)(vgl Bosch 1991); en sê hy vir die Korintiërs, hy het hom voorgeneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus en wel oor Hom as die gekruisigde, bewus van sy swakheid, in groot angs en huiwering (2:2-3). Sonder ’n sweem van selfverheffing, eiewysheid of eieroem dus. Hierdie gekruisigde Christus is beide die einde en die doel van die wet, Hy is in die plek van die wet en die wet se oorspronklike bedoeling, die verrassende antwoord op die Jode se godsdienstige soeke (Beker). Sy plaasbekledende dood aan die kruis, en dit alleen, het die weg tot versoening met God geopen. God self aanvaar mense onvoorwaardelik. En dit, is die fondamentsteen van Paulus se sendingteologie (Bosch 1991)!

Vanuit hierdie fundamentele besef is Paulus se gevolgtrekking eenvoudig: Daar is geen verskil tussen Jood en heiden, nie-Jood, die ander nie. Immers, in die negatiewe sin is almal, Jode en ander onder die mag van sonde (Rom 3:9); almal het gesondig en is ver van God af (Rom 3:23); almal is onder die een of ander heerskappy – van sonde, van die wet, van die vlees, van valse gode (Rom 1:18-3:20) en dus ewe skuldig en ewe verlore (Senior & Stuhlmueller). Nie die Jode se wet of die Grieke se wysheid kan hulle van die oordeel van God red nie. Omdat almal gesondig het is almal die dood skuldig (Rom 5:12). Hiernaas is die positiewe teenhanger dat nes almal gesondig het en kortkom aan die heerlikheid van God, word hulle almal geregverdig deur die genade as ’n gawe, deur die verlossing wat Christus is – Rom 3:23 en verder (Gal 2:15-16). God is onpartydig in sy oordeel en onpartydig in sy genade aan almal (Rom 2:11). Daarom is daar geen onderskeid tussen Jood en Griek nie (Rom 10:12-13), en is daar ook geen Jood of Griek nie … want hulle is almal een in Christus (Gal 3:28). Die intreevoorwaarde “geloof in Jesus Christus” is gelyk op beide Jood en nie-Jood van toepassing. Dus Jode en nie-Jode, die ander, Grieke, Romeine, ensovoorts, het absoluut geen grond gehad vir verdeeldheid nie. Inteendeel. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en dieselfde oortuiging, skryf Paulus (1 Kor 1:10). 

2. In sy preekriglyn oor 1 Korintiërs 1:30 wys Ian Nel op die kruis as God se ja vir die swakkes, vir hulle “wat nie bestaan nie”. Ons hoef nie ons eie bestaan voor God en mense te regverdig nie en dus te streef om tot elke prys die hoogste, beste of belangrikste te wees nie. Hy verwys na Krötke se uitspraak dat ons in hierdie laaste deel van die langer perikoop te make het met die “praktiese konkretisering van die dwaasheid van die kruis” (Krötke). Want die kruis is die einde van enige weg tot saligheid wat mense self probeer uitwerk, die einde van selfgekose weë, van selfroem. Ons verband met die Gekruisigde lê immers in ons erkenning van eie swakheid, van eie geringheid. Waar die Heerskap, die krag van God in Christus se kruisdood erken word, kan die naaste asemhaal. 

3. In ’n preek oor “Die genade van die nulpunt” in 1979 (2 Kor 1:3-11, 1 Kor 6:18-20, HK 1,1) is Flip Theron verwonderd daaroor dat ons geloofsouers by die opstel van die Heidelbergse Kategismus die volle evangelie met die begrip “troos” saamgevat het. Dit is natuurlik ’n sentrale Bybelse begrip. 2 Korintiërs 1:3 praat van die God van alle vertroosting. Daarom sing ons by die doop “Dit is my troos dat ek gedoop is, gedoop is in u Naam” (NSG 361; Liedboek 290). Want, sing die kategismus, ek behoort met liggaam en siel, tussen my eerste snak na en my laaste uitblaas van  asem, aan my getroue Verlosser Jesus Christus, los van die heerskappy oor myself. Die prys wat ’n mens vir God se gratis genade betaal, is jouself. Daarom troos God die nederiges (2 Kor 7:6).  

4. In ’n ander preek, Sodat geen vlees voor hom sou roem nie, 1979 (1 Kor 1:10-31, veral 26-31), sê Theron dat God dit nie teen wysheid, mag, afkoms as sodanig het nie, maar teen roem voor God, van begaafdes in hulle begaafdheid of geringes in hulle geringheid. Die Paulus wat so preek, is self aan die kant geplaas deur die doring in sy vlees. Daarom roem hierdie briljante man nie in sy briljantheid nie, maar in sy swakhede, sodat die krag van Christus in my kan woon … Want as ek swak is, dan is ek sterk (2 Kor 12:9). Theron vervolg: “Ja geliefdes, in die Bybel word alles op sy kop gedraai. Maar aangesien die wêreld ‘van nature’ onderstebo is, kom dit juis só weer op sy voete tereg.”    

5. Die stad Korinte was destyds hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje, belangrikste stad in Suid-Griekeland, `n bloeiende handelstad, uiters kosmopolities met baie kulture en groepe, bekend vir allerlei kultuurskatte, ’n aantal heidense godsdienste, ’n algemene hoë vlak van onsedelikheid (1 000 prostitute in die tempel van Aphrodite), ligsinnigheid en weelde. Tussen hierdie buitengewoon groot versoekings word die jong gemeente geroep en aangemoedig om hulle lewenswyse deur die evangelie van Jesus te laat bepaal en so lig vir die nasies te wees. In alles roep Paulus hulle op om hulle lewenshouding en gedrag deur die kruis evangelie te laat beheers en rig. Nie deur die natuurlike ordes en voorskrifte van hulle samelewing nie.

In sy feesrede by die Eeufees van die voormalige NG Sendingkerk preek D P Botha oor hulle roeping in die NGSK in Suid-Afrika op 4 Oktober 1981, na aanleiding van 1 Korintiërs 1:25-31. Hy beskryf die aard van die Korintiër- gemeente: die Joodse egpaar Aquila en Priscilla, Crispus, die hoof van die sinagoge en Justus en dan al die ander onbekende Jode en Grieke, ongetroudes, weduwees, mans, vroue, slawe en vry mense. Paulus teken ’n erg verdeelde, verskeurde en gemeente, vol van jaloesie en ’n wêreldse gesindheid, twis en tweedrag (3:1-3), hoogmoed (3:18; 4:10; 4:18-20; 5:6), growwe hoerery (5:1) en afgodsdiens (10:14-22), onordelikhede en uitspattighede by die nagmaal (1 Kor 11-14) en ongeloof in die opstanding van Christus, die sentrale waarheid van die evangelie (1 Kor 15). Hy vermaan hulle ernstig om op hulle roeping te let. Paulus beskryf hulle as nie baie wyses na die vlees nie (in teenstelling met die spoggerige Grieke) nie baie magtiges nie (in teenstelling met die Romeinse stadsbestuur), nie baie edeles nie (dus nie uit die hoë en die ryk, handelaarsfamilies nie). In teendeel, hulle is volgens Grieks-Korintiese maatstawwe dwaas, swak, onbevoeg, laaggebore sonder geslag of erkende familieverband, mense op wie neergesien word en sommer niks en betekenisloos is in die samelewing. Maar dan is dit juis hierdie mense, ja, hierdie soort mense wat God uitverkies het tot die hoë roeping …om die skat van die kruisevangelie na die wêreld te vervoer. Botha wys op die besondere ooreenkomste tussen die Korintiërgemeente en die NGSK. Dit moes die NGSK nie skaam maak, ontmoedig nie, maar juis aanmoedig omdat God keer op keer in die geskiedenis die wyses en sterkes van hierdie wêreld deur die dwases en swakkes van die kerk beskaam, tekens van sy koninkryk opgerig en die teenstand teen die koninkryk tot niet gemaak. Dit alles omdat Hy roep uit genade, wat die grond gee vir feesviering tot lof en roem van die Here.

Merkwaardig word die lofprysende (doksologiese) Belydenis van Belhar in 1982 by die NGSK gebore. En dit belig opnuut die uitwerking van die kruisevangelie in die beliggaming van die kerk se eenheid te midde van ons eie verdeeldheid, van ware versoening tussen Christus se broers en susters en van ons Here se ontfermende geregtigheid teenoor almal wat nood ly. Dit bely ten slotte die kerk se roeping om so te bely en te doen in gehoorsaamheid aan Jesus (die Gekruisigde), want Hy is die Heer. En “Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid” (Belydenis van Belhar 1982/1986).   

Preekvoorstel

1. Inleiding: Ons oordink die fokusteks op die derde Sondag in Lydenstyd. ’n Perikoop uit dieselfde hoofstuk was vroeër in die kerkjaar aan die orde, by die eerste Adventsondag, toe ons Christus se koms na die wêreld gevier het. Met Advent en Kersmusiek in ons ore is ons aandag toe gevestig op Paulus se oproep aan die Korintiërs om dankie te sê vir God se geskenk van genade met Christus Jesus aan hulle. Deur Hom is hulle ryklik geseën, veral met die gawes van woord en kennis. Trouens, die boodskap van Christus was onder hulle so goed gevestig dat dit hulle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek het nie. Hulle kon enduit en blaamloos vasstaan, geroep om verenig te lewe met Christus Jesus ons Here, skryf Paulus (1:4-9).

2. Beskryf die algemene konteks van die stad en gemeente van Korinte. Verduidelik wat die diepste probleme was waarmee die gemeente geworstel het – verdeeldheid, ergerlike sondes, huweliksprobleme, erediensprobleme, geloofs-probleme, eiewys – net soos ons moderne mense, ewe aangeveg as ons.

3. Beklemtoon Paulus se skerp fokus op die “dwase” kruisevangelie as die eintlike krag van God. Selfverloëning kom ons te pas – soos Christus ons die voorbeeld gestel het, teenoor elke vorm van eiegeregtigheid, eiewaan en eie roem (Ma en Pa het ons kleintyd geleer, “eie roem stink”).

4. Gemeentes wat hul sout werd is, lig is vir die wêreld (Matt 5:13-17) in ons dag, bied ’n duidelike alternatief in die see van versoekings wat oor ons spoel. Nie as baie magtig, of slim of hooggeplaas nie, nie beterweterig, eiewys en met eie roem nie. Maar “dwaas” en moedig genoeg om in die kruisevangelie van Christus te glo, as die ware krag van God. En die goeie nuus, as broers en susters, in ware eenheid, mededeelsaamheid en nederig van hart saam te bely en uit te leef, tot lof en roem van ons gekruisigde, opgestane, Here Jesus – gekruisig aan ons self. Nes Paulus word ons geroep om ons nie te skaam vir sy kruisevangelie nie, want dit is steeds vandag die krag tot verlossing, bevryding vir elkeen wat glo, in elke lewensomstandigheid.

5. Afsluiting: As ons vandag graag saamsing oor “Die kerk se hoop en ere” of “Op vaste fondamente het God sy kerk gebou”, in een van ons mees bekende en geliefde gesange, bely ons immers dat die kruisevangelie vir ons hoop gee (vers 4 van Lied 478; Hosana 106; NSG 379): “O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet, al pynig ons die smarte al martel ons die leed: die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop! In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!”

Bibliografie

Kommentare op I Korintiërs: Barclay W; De Boor W; Grosheide FW; Morris L; Popp, F J.

Ander: Beker, J C 1980. Paul the Apostle – The triumph of God in life and thought,. Bosch, D J. A. Spirituality of the Road,; Bosch, D J 1991. Transforming Mission – paradigm shifts in Theology of Mission; Botha, D P 1979. Preek 4 Oktober 1981 (NGSK Eeufeespreek – SAUK Uitsaaidiens), 1 Kor 1:25-31; Krötke, G1988. GPM; Nel, I A.  Preekriglyn in Wtl III/3, 251, 1 Kor 1:30; Senior, D & Stuhlmueller, C 1983. The Biblical Foundations for Mission, Theron P F, Preek: Die genade van die nulpunt, 2 Kor 1:3-11, 1 Kor 6:18-20, HK 1,1 in Jonker, W D en Theron, P F 1979, Vreemde Gemeenskap. NGKU, Theron, P F. Preek: Sodat geen vlees voor hom sou roem nie, 1 Kor 1:10-31 in  Jonker,  W D en Theron, P F 1983. Vreemde Geregtiheid. NGKU.

Related Media
See more
Related Sermons
See more