1 Petrus 3:18-22 LR2006
1 Petrus 3:18-22 LR2006
5 Maart 2006
Eerste Sondag in Lydenstyd
invocavit (Hy roep aan)
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Petrus 3:18-22
Ander tekste: Genesis 9:8-17; Psalm 25; Markus 1:9-15
Inleiding
“Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete” (1 Pet 3:21). Hierdie woorde kan as die liturgiese sleutel vir die Sondag beskou word. Die betekenis van die doop speel ’n belangrike rol – soos tewens in die hele Lydenstyd. In die erediens roep ons tot God wat in Christus toegang tot Homself gegee het en dit in die doop bevestig. Die bede van die doop roep steeds in ons om heiligheid wat Christus aan die kruis bewerk het.
Diensorde
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Bewuswording
Speel gepaste musiek.
’n Kruis word ingebring en voor die gemeente neergesit. Die Bybel word ook ten aanskoue van die hele gemeente ingebring en op die kansel neergesit. Sommige gemeentes sal ook die Christuskers, moontlik toegedraai in doringdraad, as simbool van die Here se teenwoordigheid voor in die kerk laat brand.
Groet
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: En ook met jou.
Aanvangswoord
“So sê die Here: Wanneer jy My aanroep, sal ek jou gebed verhoor ...” (uit Ps 91:15); invocavit
Stilte
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...
Gemeente: ... wees ons genadig!
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...
Gemeente: ... ontferm U oor ons!
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...
Gemeente: ... gee ons U vrede!
Liedere
Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”; NSG 104
Lied 25:1,2 “In U stel ek my verwagting”
Diens van die water
Doop of doopherinnering
Die doopouers en babas word aan die gemeente voorgestel. (Indien van toepassing.)
Lied
Lied 287:1-4 “By u verbondsbeseëling, Heer”; NSG 360
(Indien die doop nie bedien word nie, word die lied weggelaat.)
Skuldbelydenis
Lees 1 Petrus 3:21. Laat elkeen nadink oor die “vuilheid van die (gees)” waaraan ons almal deel het. Stel dit aan die gemeente dat ons biddend verwag dat God elkeen deur die bediening van die doop van sy/haar reiniging sal verseker.
Inbring van doopwater
Die doopwater word deur ’n diaken ingebring en in die doopbak gegooi. (Die handeling word ook uitgevoer vir doeleindes van doopherinnering.)
Gebed
Genadige en goeie God,
rondom die doopvont onthou ons vanoggend
u regverdigheid en genade.
Ons onthou hoe U met ’n groot vloed
regverdig geoordeel het oor die ongelowige wêreld.
Ook onthou ons dat U in u groot genade Noag en sy familie gered het.
Verder onthou ons dat U die farao en sy weermag in die Rooisee laat verdrink het,
maar u eie mense droogvoets daardeur gelei het.
Ons dink ook aan die doop van Jesus, ons Here.
Daar is die water ’n teken gemaak
van die heilsame vloed
en volkome afwassing van al ons sonde.
(Wanneer ’n kinders/kinders gedoop word, verder ook:)
Ons bid dat U
deur dieselfde genade
vir NN sal beskerm
en met ware geloof in die Gees sal seën,
sodat hierdie reddende vloed,
alle sonde wat uit Adam in NN is, sal verdrink,
sodat NN deel mag wees van die gelowiges,
wat droog en veilig bewaar word in die ark die kerk.
Laat NN u Naam ywerig bly dien
en vreugdevol hoop,
sodat NN met alle gelowiges die ewige lewe volgens u belofte sal ontvang;
deur Jesus Christus ons Here. Amen.
(Met erkenning aan Luther se Sondvloedgebed)
Geloofsbelydenis
Doopbediening
Vrae en antwoord gaan die doopbediening vooraf.
Skriflesing
Na die doop word die gedeelte uit Noag se verhaal gelees of voorgedra (Gen 9:8-17). Dit versinnebeeld die vrede wat God deur die doop aan ons beloof.
Lied
Lied 266 “Ons Vader”; NSG 325.
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Skriflesing
1 Petrus 3:18-22
Prediking
DIENS VAN DIE TAFEL
Indien die sakrament van die doop bedien is, sou ’n nagmaalherinnering voldoende wees. Dit kan bestaan uit die gebed hieronder en die respons van die gemeente “Heilig, heilig, heilig, Heer”. Daarna volg die voorbidding en lied.
Dankoffers en inbring van elemente
Nadat die dankoffers ingesamel is, bring die diakens die brood en die wyn na die tafel.
Lied
Lied 305:2 “Deur één Verlosser is ons harte in doop en om die tafel één.” (Let op kursivering.)
Aanvangswoord
Voorganger: Die Heer sal met julle wees.
Gemeente: En ook met jou.
Voorganger: Verhef julle hart.
Gemeente: Ons verhef ons hart tot die Here.
Gebed
Voorganger: Laat ons die Here dank.
Gemeente: Dit is reg en goed om die Here te dank.
Voorganger: Ons dank U, o God, deur u geliefde Kind, Jesus Christus,
vir wie U in die laaste dae as Verlosser gestuur het,
Heiland en Boodskapper van u plan.
Hy is u lewende Woord deur wie U alles geskep het.
Deur die mag van die Heilige Gees het Hy vlees geword
uit die maagd Maria en in ons menslike natuur gedeel.
Hy het soos een van ons gelewe en gesterwe om ons met U,
die God en Vader van almal, te versoen.
In die vervulling van u wil het Hy sy hande in lyding uitgestrek
om verlossing te bring aan diegene wat hul hoop in U stel,
en daardeur het Hy vir U 'n heilige volk geskep.
Hy het gekies om ons leed en verdriet te dra,
en om sy lewe aan die kruis te offer,
sodat Hy die kettings van die bose kan breek en sonde en dood verban.
Deur sy opstanding bring Hy ons in die lig van u teenwoordigheid.
Nou, met die hele skepping, verhef ons ons stemme
om die heerlikheid van u Naam te verkondig:
Gemeente: Heilig, heilig, heilig Heer
God van krag en mag.
Die hemel en aarde is vol van u heerlikheid.
Hosanna in die hoogste.
Geseënd is Hy wat kom in die naam van die Here.
Hosanna in die hoogste.
Voorganger: Heilige en genadige God, u Seun ons Verlosser Jesus Christus;
het in die nag toe Hy oorgelewer is,
brood geneem, U gedank en gesê:
“Neem en eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word.”
Net so het Hy die beker geneem en gesê,
“Dit is my bloed wat uitgestort word.
Wanneer julle dit doen, doen dit tot my gedagtenis.”
So verkondig ons die geheimenis van die geloof.
Gemeente: Christus het gesterwe
Christus het opgestaan
Christus kom weer.
Voorganger (epiklese):
Mag almal wat aan hierdie maal deel het,
met die Heilige Gees vervul word
tot versterking van hulle geloof in waarheid
sodat ons U mag prys en loof
deur u Kind, Jesus Christus.
Gemeente: Amen.
(Hierdie nagmaalsgebed word ontleen aan die Apostoliese Tradisie van Hippolitus.)
Uitdeling van brood en wyn
Hierna word die brood en die wyn uitgedeel en gebruik.
Lied 384: “Jesus, o dink aan my”. Dit kan meermale aaneen gesing word.
Voorbidding
Voorbidding kan deur ’n diaken gedoen word.
Lofprysing
Lied 388: “Die Woord het deur die eeue”; NSG 100: “ Deur sy lyding”
UITSENDING
Oproep en verbintenis
Sang
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe”; NSG 274
Seën
Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee (Num 6:24-26).
Antwoord
Die gemeente sing “Amen” Lied 315.
PREEKSTUDIE – 1 PETRUS 3:18-22
Inleiding
Dit is hierdie week die eerste Lydensweek. Die teks kom uit ’n brief wat baie oor lyding skryf, veral oor die lyding van gelowiges. Die perikoop-keuse vir vandeesweek se teks sny ’n gedeelte oor die lyding van Jesus as ’t ware uit die konteks van die lyding van gelowiges uit, en fokus dan spesifiek op die lyding van Jesus. Petrus het wel diep insigte oor die lyding van Jesus, maar dit is belangrik om die hele tyd te onthou dat Petrus die hele brief, ook hierdie gedeelte oor Jesus se lyding, skryf om gelowiges wat ly, moed in te praat.
Die perikoop beslaan maar enkele verse, en tog is dit een van die moeiliker gedeeltes in die Nuwe Testament. Goppelt haal Martin Luther aan waar laasgenoemde oor verse 19 en 20 sê: “Hierdie is ’n vreemde teks en beslis een van die onduidelikste gedeeltes in die Nuwe Testament. Ek weet nog steeds nie presies wat die apostel bedoel het nie.” Dit is egter ook ’n kompakte teks met besondere diepte, waaruit verskeie frases van die Apostoliese Geloofsbelydenis woordeliks kom.
Teks
Eers oor die struktuur van die teks. Vers 18 praat oor die betekenis van die lyding van Christus, en oor sy dood en opstanding. In vers 19 maak Petrus ’n gedagtesprong en sê iets oor geeste in `n gevangenis. (Later iets meer hieroor.) Hierna lei sy gedagtes hom om iets oor Noag te sê, en laastens maak hy ook ’n opmerking oor die doop. In vers 22 keer die outeur terug na Christus en skryf oor sy huidige posisie. Soos wat die teks staan, spring Petrus van een onderwerp na ’n ander en vleg sake aan mekaar wat oënskynlik min met mekaar te doene het. Ten einde die hele gedeelte makliker te verstaan, wil ek voorstel dat – vir ’n preek in Lydenstyd – daar gefokus word op vers 18 en 22. Die sake wat in vers 19 tot 21 staan, kan ook kortliks genoem word, sonder om diep daarop in te gaan. Vers 18 kan aan vers 22 verbind word, sodat daar (oor die lyding van Christus) die volgende staan: “18: Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 22: Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.”
Deur op hierdie twee verse te fokus, laat ons die moeilike vrae oor Noag en die geeste in die gevangenis vir ’n oomblik uit – ons sal later iets daaroor sê – en kyk eers na wat Petrus oor Christus se lyding sê. Dan merk ons dat hierdie twee verse volgepak is met belangrike begrippe.
Vers 18 Ook Christus het gely. Hierdie inleidende stelwyse trek onmiddellik die aandag. Die betekenis is duidelik uit die vorige vers. Vers 17 verwys na Christene wat ly, maar hulle kan moed skep: Hulle Here en Voorbeeld het ook gely. Petrus beklemtoon dat Hy net “een maal” gely het. Die Griekse woord “hapaks” dra miskien sterker gewig as wat die twee woorde “een maal” weergee. Die sterker uitdrukking “eens en vir altyd” sê beter wat Petrus hier bedoel. Die feit dat Jesus se lyding effektief was en nooit herhaal hoef te word nie, is hier ter sprake. Dit is finaal en afgehandel, met ’n sekerheid waaraan lydende gelowiges kan vashou en waaruit hulle troos kan put.
Hy het ook “vir die sondes” gely. Om dit ondubbelsinnig duidelik te stel sê hy: Die “onskuldige” het vir die “skuldiges” gely. Ook hier sê Petrus dit geensins emosioneel of om ’n appél op sy hoorders te maak nie. Hy stel ’n afgehandelde feit. En dan gee hy die rede vir Christus se lyding, die doel waaroor alles gaan: “om julle na God te bring”. Dit sal die prediker loon om ’n oomblik na te dink oor die diepte van betekenis van hierdie kort en byna onopsigtelike frase. Dit het ’n besondere betekenis in die antieke Griekse wêreld gehad (Barclay). Aan die hof van ’n koning was dikwels ’n hoë amptenaar, genoem die “Prosagogeus”. Sy werk, baie soos die sekretaresse van ’n senior bestuurder van ’n groot maatskappy, was om die stroom mense wat die koning wou spreek, te sif. Hy moes almal wat na sy mening deur ander amptenare gehelp kon word, daarheen verwys, en net diegene wie se sake werklik meriete gehad het, na die koning toe bring. Dit spreek vanself dat die probleme van diegene wat gelukkig genoeg was om die koning self te kon spreek, byna verseker opgelos is. In lyn met hierdie betekenis word van Christus gesê dat Hy die een is wat ons “na God toe bring”. Daarvoor het Hy gely – sodat Hy ons as ’t ware met God kon herenig; Ons, wie se verhouding met God verbreek is deur ons sonde en ellende.
In die laaste frase van vers 18 bevestig Petrus dat Christus werklik dood was, maar ook weer opgewek is uit die dood. Beide Afrikaanse vertalings vertaal “pneuma” in vers 18 met (Heilige) Gees. Mac Arthur, asook Stibbs en Walls sê egter dat dit hier oor Christus se eie “gees” gaan, wat sy liggaam tydens sy dood verlaat het, maar wat met sy opstanding teruggekeer het na sy liggaam. Dit maak egter nie ’n wesenlike verskil aan die hooflyn van Petrus se denke nie. Ek sal in die prediking glad nie na die moontlike verskil in betekenis verwys nie. Dit bring ons by vers 22, wat sê waar Christus Hom nou bevind. Hier word sy uiteindelike oorwinning beklemtoon. Hy het die magte, kragte en engele onderwerp en bevind Hom nou in ’n gesagsposisie – aan die regterhand van God.
As hierdie voorgestelde betekenisvoetpad deur die perikoop gevolg word, is die fokus behoorlik op dit wat Petrus oor Christus se lyding sê, oor die effektiwiteit daarvan, en sy gevolglike oorwinning. Daar kan egter ook kort verwys word na die drie sake wat die een in die ander vloei wat in vers 19 tot 21 aan die woord kom. Die prediker moet egter in beginsel besluit of hy die gelowiges wil bemoedig deur dit wat die apostel Petrus oor die lyding van Christus sê, en of hy oor die ander (moeilike) interessanthede in die teks wil preek. Dit is duidelik, uit ’n internetsoektog, dat die meeste predikers eerder fokus op die betekenis van die besoek aan die geeste in die gevangenis (Wie hierin belang stel, soek gerus op die internet met die trefwoorde “spirits in prison”.)
Enkele opmerkinge oor die drie ander sake wat hier voorkom. Petrus verwys na Christus se verkondiging aan die geeste in die gevangenis. Daar is verskeie betekenismoontlikhede wat hieraan geheg word. Die mees waarskynlike, wat ook deur die drie kommentare in die bronnelys verkies word, is die volgende: Ons moet Petrus verstaan binne die verstaanshorison van sy eie tyd. Die wêreldbeeld was dié van ’n drieverdieping-wêreld, met die engele en hemelwesens “in die hemel”, die mense “op die aarde” en al die gestorwenes in ’n tipe wagkamer “onder die aarde” (vgl Fil 2:10 vir dié wêreldbeeld). Hierdie “onderaardse wagkamer” word in Grieks “Hades” genoem. (Sien Goppelt vir ’n interessante bespreking hiervan.) In die apokriewe boek Henog word byvoorbeeld ook gesê dat Henog hierheen gestuur is om oordeel oor die inwoners te gaan verkondig. As Christus egter – in die drie dae wat Hy dood was – Hades gaan besoek, dan is dit om sy oorwinning daar aan te kondig. Sy oorwinning weerklink dus tot in elke uithoek van die wêreld.
Daar is meningsverskil oor wat Christus se verkondiging werklik sou behels. Sou dit net ’n “aankondiging” wees, sonder ’n oproep, of was dit werklik evangelieverkondiging, met die opsie dat die hoorders ook positief kon reageer. Wayne Jackson argumenteer baie sterk dat dit geen evangelieverkondiging kan wees nie. Daar is volgens hom geen “tweede kans” nadat ’n mens dood is nie. Hy sien Christus se besoek aan Hades slegs as ’n oorwinningsaankondiging. Goppelt en Barclay gaan ’n ander rigting in. Hulle sien tog in hierdie teks, asook in 1 Petrus 4:6, die moontlikheid dat Christus die genade wat Hy verwerf het, aan almal gebring het – ook hulle wat reeds dood was.
Petrus spring nou na ’n verwysing na Noag. Die ongehoorsame tydgenote van Noag is deel van hulle wat in Hades wag. Nou spring Petrus se gedagtes na Noag en sy mense, wat “deur die water” gered is, en dit lei Petrus na die doop. Sonder om hierin ’n teologie van die doop te sien, kan gesê word dat hy die doop verbind aan die opstanding van Jesus Christus en dat die doopwater die dopeling bind aan die opgestane Christus.
Konteks
Daar is ten minste drie belangrike kontekste wat verreken moet word. Die eerste is die plasing van die perikoop in die brief. Dit is duidelik dat die brief geskryf is om lydende gelowiges te bemoedig. Hierdie gedeelte fokus op Christus se lyding en die vrugte daarvan vir die lesers, in die veronderstelling dat die voorbeeld van Christus, wat ook gely het, hulle moed sal gee om hulle eie lyding te verdra. Hou in gedagte dat hulle nie bloot belangstellende lesers was nie – hulle was desperaat, uitgelewer aan erge lyding (waarskynlik rondom 65 nC onder keiser Nero, wat bekend was vir sy vergrype aan Christene), smagtend na ’n gesaghebbende woord van bemoediging. In hierdie konteks dra dit gewig dat Petrus hulle daarop wys dat Jesus ook gely het, maar meer as dit: Hy het ook oorwin, en sal hulle laat deel in sy oorwinning.
’n Tweede konteks is die verstaanshorison van die gelowiges. Die bestaan van Hades was in hulle oë ’n realiteit, wat uit die kerklike geskrifte van die eerste paar eeue ook bevestig word. ’n Verwysing na die “geeste in die gevangenis” wat vir ons byna onverstaanbaar is, was klaarblyklik so deel van hulle verstaanswêreld dat geen verdere verduideliking nodig was nie.
Die derde konteks, waaroor die prediker langer moet dink, is: Vir wie preek jy? Is dit mense wat ook op een of ander manier ly, wat moedeloos is en vir wie Petrus kan moed inpraat? (Hou in gedagte dat relatief min mense in ons kontekste ly omdat hulle Christene is, soos Petrus se lesers. Mense wat ly, ly eerder deur siekte of armoede of verliese, ens.) Of preek ons dalk vir mense wat hul greep op die waarde van Christus se lyding verloor het? Mense wat dalk sukkel om enige verband tussen die (oorbekende) evangelie van Christus en hulle eie lewe te sien? Of preek ons dalk vir mense vir wie die oorwinning van Christus ’n onbekende en onsigbare konsep is?
Preekvoorstel
Anders as baie ander preke oor hierdie gedeelte sal ek baie min gewig op vers 19 tot 21 plaas en op vers 18 en 22 fokus. Hier is ’n preekvoorstel.
Hoeveel swaarkry kan ’n mens vat? Ek praat nou van enige vorm van swaarkry en lyding. Siekte wat jou liggaamlik uitmergel. ’n Huweliksverhouding wat stelselmatig elke stukkie lewensgeluk dooddruk. Kinders wat jou daar seermaak waar dit die seerste is. ’n Nypende geldtekort, sodat jou lewe ’n onophoudelike finansiële oorlewingstryd is. Besigheidsvennote wat jou lewe versuur. Werkgewers of werknemers wat mekaar se lewe versuur. Wat ook al – almal van ons ken swaarkry op een of ander manier. As ’n mens erg genoeg swaar kry, kan dit gebeur dat jy moed verloor. Dat jy geen uitkoms meer sien nie. En dit is in sulke omstandighede wat Petrus se brief geskryf is – vir mense wat besig is om moed te verloor. Wat net nie langer aan God kan vashou nie, want hulle ervaar min van God se hulp in hulle lewe. Lees eers die kursiewe inleiding voor in die brief van 1 Petrus saam. Ons sien hier waarom Petrus die brief geskryf het: Om mense wat swaar kry, te bemoedig.
Daar is in die Bybel ruweg drie soorte swaarkry. Ons noem dit sommer die swaarkry van Job, Dawid en Daniël.
Job het gely deur verskriklike rampe. Alles en almal wat vir hom dierbaar en besonders was, is van hom weggeneem. Die meeste van ons se swaarkry lê eintlik hier. Dawid het swaar gekry na die ding met Batseba – sy eie sonde wat die swaarkry veroorsaak het. Maar Petrus se brief fokus ’n bietjie op ’n ander tipe swaarkry – die swaarkry wat ons by Daniël kry. Dat hy in die leeukuil gegooi word, is nie ’n ongeluk wat hom tref nie – dit is die direkte gevolg van sy volgehoue gebed, al het die koning dit verbied. Hy kry dus swaar omdat Hy God dien. Dit is vir Daniël-mense wat Petrus in die eerste plek skryf. Maar Job-mense en Dawid-mense kan ook maar luister; Petrus het vir almal van ons iets te sê. Petrus wil die mense wat swaar kry, help en troos. En hy doen dit op ’n spesifieke manier. Hy wys hulle op Jesus se lyding en wat dit beteken. En Petrus het die vertroue dat, as hulle dit hoor, dit hulle sal help. Om weer na te dink oor Jesus se lyding kan ons ook help. Luister wat Petrus hieroor sê. Lees 1 Petrus 3:18-22.
Petrus wil met hierdie gedeelte die mense regtig moed inpraat. Maar dit is nogal ’n moeilike en plek-plek deurmekaar gedeelte. Petrus val homself in hierdie gedeelte drie keer in die rede. Hy begin praat oor Jesus se lyding. Maar dan spring hy na ’n ander gedagte toe en sê iets van geeste in `n gevangenis. Dan praat hy weer van Noag, en dan van die doop. Voordat ons na sy eintlike argument kyk, kyk ons gou na hierdie ander sake waarheen sy gedagtes spring. Daarna kan ons rustig fokus op wat Petrus van Christus se lyding sê (sien kort uiteensetting hierbo).
Die saak van die geeste in die gevangenis: Hades en die onderwêreld
Die saak van Noag: Die apokriewe boek Henog vertel dat Henog na die geeste in die gevangenis uit Noag se tyd gestuur is om daar vir hulle te gaan preek.
Die doop: Dit is nie die doop wat ons red nie, maar Christus wat uit die dood opgestaan het.
Die wêreldbeeld van die antieke wêreld en Henog en Noag en die doop is alles baie interessant. Dit is egter ’n paar losser gedagtes van Petrus, waaraan by ’n ander geleentheid aandag gegee kan word. Dit is Lydenstyd. Daarom wil ek hier fokus op die betekenis van Jesus se lyding en oorwinning. Vers 18 gaan oor die lyding van Jesus, en is volgepak met belangrike begrippe (vers 18 is kort genoeg dat daar aandag gegee kan word aan al die belangrike begrippe soos hierbo by die teks bespreek: ook Christus het gely; Hy het eens en vir altyd gely; Hy het vir die sondes gely; Hy, die Onskuldige, het vir die skuldiges gely).
Nou sal ’n mens kan sê: Dit is wel aandoenlik of aangrypend dat Hy gely het, soos wat ons ook in Mel Gibson se fliek “The Passion of the Christ” gesien het. Maar hoe raak dit my? Wat beteken dit vir my vandag? Petrus gebruik ’n baie spesifieke uitdrukking om dit vir die mense van sy tyd te verduidelik. Hy sê Jesus het gely “om hulle na God toe te bring”. Wat beteken dit?
Eerstens ’n paar dinge wat dit nie beteken nie. Christus maak nie alles heel wat op hierdie gebroke wêreld stukkend gaan nie. Hy herstel nie alle huwelike van Christenmense wat in die moeilikheid is nie. Hy maak nie alle siekes gesond nie. Hy gee nie elke keer reën as ons bid nie. Hoekom nie, kan jy moedeloos vra. Dit is omdat dit nie is waarom Hy gekom het nie. Hy het gekom om ons na God toe te vat. Die woord wat hier in die Grieks gebruik word, is vir ’n baie belangrike amptenaar aan ’n regeerder se hof. Hy moes almal wat die koning wou sien, sif. Ek kan my voorstel hoe hy vir elkeen vra: “Wat is jou storie? Hoekom wil jy die koning sien? Nee, weet jy, ek gaan jou na hierdie en daardie amptenaar in ’n ander kantoor toe stuur. Volgende. Wat is jou storie? Goed, dit is belangrik. Ek sal jou na die koning toe vat.” Christus het dit kom doen. Maar daar is ’n verskil. Hy wil álmal na God toe vat. Christus gaan verder as dit. Hy gaan soek selfs na hulle wat nie die moed het om na God toe te kom nie. Jy sien, Hy vat ons na God toe. Daar gaan stel Hy ons voor. En stel sommer ons saak ook. En maak vrede tussen ons en God. Dit is wat sy lyding vir ons beteken. Maar dit is nog nie al nie. Hy het nie net gely nie, Hy het ook oorwin.
Sy oorwinning staan vas. Maar nou moet ek sê, sy oorwinning is nie vir ons altyd duidelik sigbaar nie. Dit is trouens dikwels onsigbaar. Maar net voor jy bekommerd raak oor wat ek sê: Dit was vir Petrus se mense ook onsigbaar. Daarom het hulle moed verloor. En as ons partykeer moed verloor, ook dalk met die Here moed verloor, is ons maar dieselfde as Petrus se mense. En daarom kan ons ons ore spits en luister wat Petrus vir hulle gesê het: Jesus het regtig vir ons gely. En Hy het regtig opgestaan. Hy het regtig oorwin. Deur sy genade hou Hy ons steeds vas, al sien ons soms so min van Hom in ons eie lewe. Maar sy oorwinning is seker. Die Bybel sê so. En die Apostoliese Geloofsbelydenis het dit hier uit Petrus uit kom oorskryf. Hy sit aan die regterhand van God. Hy het sy oorwinning vir almal in Hades aangekondig. Hy het sy oorwinning aan al die engele en magte en kragte aangekondig. En ons kondig dit sommer vandag ook weer hier in hierdie kerkgebou aan. Ons kan Petrus maar glo. Ons moet mekaar ook aanmoedig en opbeur. Oproep. Jesus het oorwin. Dit is en bly die moeite werd om aan te hou glo. Moenie twyfel nie. Moenie afdwaal nie. Hou aan. Byt vas. Glo. Jesus vat ons na die Vader toe.
Bibliografie
Barclay, W 1961. The letters of James and Peter; Goppelt, L 1993. A Commentary on 1 Peter; Jackson, W 1999. Preaching to the spirits in prison. Preek oor 1 Pet 3:18-22 op tuisblad van Christian Courier Archives, tuisbladadres: www. christiancourier.com; Mac Arthur, J. The Triumph of Christ’s Suffering – Part 1-3. Preke oor 1 Pet 3: 18 – 22 op tuisblad van Bible Bulletin Board, tuisbladadres : www.biblebb.com; Smit, D 1988. Die geloof dan is …; Stibbs, A M & Walls, A F 1983. 1 Peter.