1 Samuel 16:1-13 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 77 views
Notes
Transcript

Samuel 16:1-13 LR2005

6 maart 2005

vierde SONDAG in lydenstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: 1 Samuel 16:1-13

Ander tekste:                 Psalm 23; Efesiërs 5:8-14; Johannes 9:1-41

Inleiding

Die liturgiese struktuurdraers van die tekste vir hierdie Sondag is die volgende:

Samuel staar hom blind teen voorkoms en ouderdom.

Iemand wat oënskynlik nie goed genoeg geag word nie, word deur God die moeite werd geag. 1 Samuel 16:1-13

’n Mens se heil lê nie by jouself nie, maar by Hom.

Hy sorg omvattend vir sogenaamd nuttelose mense. Psalm 23

Christus Jesus verlig ons lewe. Efesiërs 5:14

Jesus is dié voorbeeld van iemand wat nie gereken is nie. Johannes 9

Wie dieper kyk (nie geestelik blind is nie) bely in die woorde van Johannes 9:31-33 dat Hy van God is.

Jesus bring mense tot beslissing. Johannes 9:39

Die liturgie moet dus so beplan word dat die gemeente tot die besef kom dat as ons volgens tipies wêreldse maatstawwe beoordeel moes word, ons maar bedroë daarvan sou afkom. Daarom moet die gemeente liturgies begelei word om Jesus opnuut te bely as die Een by wie ons heil lê. Dit ten spyte van sy lyding en kruisdood. Wie dit bely, kan vier dat hulle sien.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Moment van bewuswording

Sien die basisliturgie vir musiek wat voorgespeel kan word.

Aanvangswoord

Lees Psalm 23 met klem telkens op die “Hy” en die “U”. So word die gemeente dadelik geplaas binne die raamwerk dat ons niks uit onsself het om te bied nie. Al ons hoop is van Hom.

Seëngroet

Voorganger: Die Here is ons herder. Ons sal niks kortkom nie.

Gemeente:     Hy bring ons by waters waar daar vrede is.

Lofprysing en aanbidding

Psalm 33:1, 2, 4 en 7; Psalm 23

Lied 220:1-3/NSG 156

Diens van die Woord

Gebed vir die opening van die Woord

Voorganger bid ’n vrye gebed waarin gevra word dat die Here ons deur sy Woord sal help om duidelik te sien wie ons is en wie Hy is.

Kindertyd

Gebruik 1 Samuel 16:7 en vra na aanleiding van hierdie verhaal vir die kinders wie hulle helde is. Die antwoorde sal waarskynlik daarop dui dat voorkoms en ander uiterlike maatstawwe ’n groot rol speel in hulle keuses. Noem ’n voorbeeld van iemand wat ’n held was waar voorkoms nie saak gemaak het nie, maar wel karakter. Verduidelik dan ook na aanleiding van Jesaja 53:2 en 3 dat Jesus Christus se voorkoms aan die kruis juis ’n voorbeeld van so iemand was.

Prediking

Geloofsbelydenis

Voorganger lees: Johannes 9: 39 en sê daarna:

Wie die beslissing gemaak het, word genooi om hulle geloof te bely.

Gemeente bely hardop: Die Twaalf Artikels.

Dankgebed en voorbidding

Diens van die tafel

God se wet

Voorganger:          Voordat ons nagmaal vier, moet ons onsself spieël in wat God van ons verwag.

Voorganger  Efesiërs 5:8-14

Skuldbelydenis

Gemeente:     hardop – Ons bely voor U ons blindheid. Dat ons eintlik in duisternis leef. Ons beoordeel mense, ja, selfs ons Here Jesus, op uiterlike maatstawwe. En as ons self so beoordeel word, kom ons bedroë daarvan af. Ons erken dat ons heil nie by onsself lê nie. Ons het niks om uit onsself te bied dat U ons sou aanvaar nie. Hoor ons as ons sug, o Heer.

Gemeente:     sing  Lied 279/NSG 275.

Genadetoesegging

Gemeente sing Lied 514/NSG 288

Tafelgebed

Instelling en gebruik van nagmaal

Laat die vreugdekarakter van hierdie Sondag in Lydenstyd sterk in die nagmaal figureer.

Uitsending

Offergawes

Sien die basisliturgie vir die Lydenstyd vir musiek wat moontlik hier voorgespeel kan word.

Antwoordlied

Lied 280:1-3/NSG

Seën

PREEKSTUDIE – 1 SAMUEL 16:1-13

Teks

16:1-3:  Die Here het Saul verwerp, maar dit het nog nie ’n einde aan sy mag gemaak nie. Hy het steeds die mag om hom dood te maak as hy sou weet dat Samuel sy gesag ondermyn. Die agterdogtige Saul sou ook nou enige bewegings van Samuel dophou. Wat dit nog moeiliker vir Samuel maak, is dat hy op pad van Rama na Betlehem deur Saul se hoofkwartier, Gibea, moes beweeg. Die geheimsinnigheid en misleiding wat met Dawid se salwing gepaard gaan, moet ook teen hierdie agtergrond verstaan word.

’n Ander aspek is dat dit duidelik is dat Samuel die nuwe pad wat die Here gekies het, nie heeltemal bevredigend vind nie. Saul was uit die stam van Benjamin. Die verwysing na Betlehem sou die gedagte van Juda by die lesers oproep. Dit beteken dat die koningskap nou na ’n ander stam oorgedra word. Samuel treur oor Saul. Wanneer die Here hom stuur om iemand anders te salf, teken Samuel beswaar aan (soos Jeremia en Moses) teen die Here se opdrag. Hierdie besware moet ook verstaan word teen die agtergrond van die vrees van die profeet. Samuel se beswaar word uit die weg geruim deurdat die Here “reël” dat Samuel geen aanstoot sal gee nie. Hy moet iets doen wat waarskynlik een van sy basiese pligte was, naamlik om aan die Here ’n offer te bring.

Hoekom die leiers van die stad ontsteld was, is nie duidelik nie.  Hulle vraag of Samuel in vrede kom, kan ’n paar betekenisse hê. Dit kan wees dat hulle gedink het hulle het iets verkeerd gedoen en dat Samuel dalk ’n oordeelswoord bring. Hertzberg is van mening dat die leiers waarskynlik geweet het van die onenigheid tussen Samuel en Saul en dat enige assosiasie met Samuel se aktiwiteite vir hulle probleme kon veroorsaak.  Samuel kom egter in vrede, maar met ’n “geheime” sending.

16:4-5:  Dit is opvallend dat Samuel nooit die woord “koning” teenoor Isai, die leiers of Isai se seuns gebruik nie. Hy verkies om eerder te sê dat die Here iemand nie “gekies” het nie. Waarvoor die Here iemand kies, was glad nie duidelik vir die mense by die offermaaltyd nie. Niemand weet ook wat tussen Samuel en die Here aangaan nie. Die “gesprek” is gedurig iets tussen Samuel en die Here. Die ware doel van die besoek van Samuel het dus geheim gebly. Die feit dat alles God se besluit en keuse is, word hierdeur versterk.

16:6-10:  Die feit dat Samuel slegs die wil van die Here moes uitvoer, word nie weerspreek deur Samuel se eerste indrukke dat Eliab die gesalfde van die Here is nie. Dat Samuel egter steeds na sy ervaring met Saul dink dat mense op grond van hulle uiterlike voorkoms gekies kan word, lei daartoe dat die Here sy opvatting moet aanspreek oor wie geskik is om in die Here se diens te staan. Die keuse van die koning sal nie deur mense gedoen word nie, maar deur die Here self.  

Die woord “sien” word dikwels in hierdie gedeelte gebruik. Dit sinspeel duidelik op die manier van sien. Dit was ’n algemene opvatting in die Ou Nabye-Ooste dat die gode nie beperk was tot dit wat van buite af sigbaar was nie, maar ook dieper insig gehad het: “In an intriguing Sumerian lament the moon god is portrayed as one who searches the bowels and the hearts of an anointed one who stands before him in supplication. In a Neo-Babylonian text, Shamash (the god of justice) is said to see into the heart of man”  (Walton, Matthews & Chavalas). Waarna kyk mense en waarna kyk God? In ’n klaarblyklike verwysing na Saul, wat fisiek ’n indrukwekkende persoon was, sê die Here uiterlike dinge tel nie. God se kyk en die mens se kyk stem nie ooreen nie. God kyk na die persoon in totaliteit, nie na enkele fisieke gelaatstrekke nie. 

16:11-12:  Dat Dawid die jongste is, kan ook verstaan word as die kleinste, wat ’n duidelike teenstelling met Saul se lengte uitdruk (Klein). Dis duidelik dat Isai hom ook misreken het soos Samuel in vers 6. Hy het nie gedink dat die jongste of kleinste werklik binne die skopus van God se keuse val nie. Dawid word nie eens gereken as iemand wat aan die maaltyd hoef deel te neem nie en was waarskynlik selfs te jonk om aan die kultus deel te neem (Hertzberg). Met Saul se salwing is daar geen verrassingselement nie. Hy is aantreklik en staan kop en skouers bo ander uit. Dawid is die onverwagse keuse. Payne sê dat die persoon wat menslik gesproke die onwaarskynlikste keuse was, uiteindelik God se keuse is. Dat die Here nie na die uiterlike kyk nie, word in sekere sin weerspreek deur die verwysing na Dawid se uiterlike voorkoms. Geleerdes is dit redelik eens dat die verwysing na sy innerlike kwaliteite sonder die Here se seën niksseggend is.

16:13:  Die salwing van Dawid by twee ander geleenthede (2 Sam 2:4 – deur die burgers van Juda; 2 Sam 5:3 – deur die leiers van Israel), hoef geensins afbreuk te doen aan die sin van die huidige verhaal nie. Hier benadruk die verhaal dat die Here reeds baie vroeg in die lewe van Dawid betrokke is. Dawid is nou volgens goddelike wet (de jure dei) die koning, maar nog nie feitlik (de facto) nie (Klein). Of sy salwing geheimsinnig of openbaar was, is nie duidelik nie. Hy word wel in teenwoordigheid van sy broers gesalf, maar dis nie duidelik of hulle iets daarvan verstaan nie. Eliab, sy oudste broer, “respekteer” dit beslis nie later nie (1 Sam 17:28). Slegs simboliese handelinge verwys na God se aktiwiteit in die lewe van Dawid, sonder dat een woord uitgespreek word. 

Die salwing van ’n koning het onder baie min volke in die Ou Nabye-Ooste voorgekom. Onder die Hetiete vind ons die beste parallel met die Israeliete, maar sekere Egiptiese amptenare is ook gesalf (Klein). Klein verwys na die studie van Mettinger hieroor. Laasgenoemde het aangetoon dat salwing ’n verbonds- of kontraktuele betekenis gedra het. Die mense wat die salwing uitgevoer het, het hulle verbintenis en onderdanigheid aan die persoon wat hulle gesalf het, beloof. Die salwing van Dawid deur die leiers van Israel gaan ook gepaard met ’n verdrag. Die afsonderlike salwing deur die twee groepe (Juda en Israel) gaan gepaard met ’n basiese erkenning van Dawid se gesag. Wanneer iemand deur die bevel van God gesalf is, het God Homself aan die koningskap van die koning verbind, in hierdie geval Dawid: “The secular anointing is the people’s way of pledging fidelity to the king; the sacral anointing expresses Yahweh’s obligation to the monarch or his election of him” (Klein).

In die Ou-Testamentiese rituele is mense deur salwing vir hulle priesterlike (Eks 30:30; Lev 4:3,5) en koninklike diens afgesonder (1 Sam 2:10). Profete is ook gesalf. Dit simboliseer God se verkiesing en aanwysing en sluit daarom die Goddelike aksie as voorbereiding vir diens (1 Sam 10:1) en God se seën en beskerming in (Ps 18:50; Hab 3:13). Die werking van die gees in Dawid verwys primêr na die toerusting van die Gees vir die posisie wat hy nou moes beklee: “In the Old Testament the function of the Spirit is above all to equip a man with the highest possible ability, whether for battle, or royal office, or prophetic office” (Payne). Dis hoekom Dawid soveel angs beleef na die sonde teen Batseba. Hy pleit dat die Here nie sy gees van hom moet wegneem nie (Ps 51:13). Dawid se koningskap is nie iets wat hom toekom nie, maar ’n keuse wat God gemaak het en waarvoor Hy ook die toerusting verskaf. Daarom is sy koningskap nie bedoel “as a gift to the individual, to feed his arrogance and vanity” nie, maar as ’n gawe aan die volk (Payne). 

Saul is op ’n soortgelyke geheimsinnige manier as koning gesalf (1 Sam 9:16-10:1), maar ander redes het daarvoor bestaan. Beide het nie onmiddellik na die salwing koning geword nie. Hier eindig die ooreenkomste egter. Die bedoeling van die skrywer is waarskynlik reeds hier om Dawid en Saul duidelik teenoor mekaar te stel. Dawid ontvang die Gees, maar die Gees word aan Saul onttrek. Geleerdes benadruk ook dat die werking van die Gees in Dawid en Saul verskil. Goslinga sê dat die Gees oor Saul gekom het, maar tot Dawid deurdring (in Hebreeuse teks). Die Gees sal hom voortaan meer en meer beheers, toerus en bekwaam maak vir sy toekomstige taak as koning. Die Gees is permanent werksaam in Dawid se lewe en werk nie net, soos in Saul se lewe, op spesifieke oomblikke nie. Dawid se salwing gaan gepaard met die kragtige werk van die Gees van daardie oomblik af, maar by Saul word die gawe van die Gees nie direk aan sy salwing gekoppel nie. Klein sê dat ’n vergelyking tussen die twee salwings illustrasie is van “the superiority of David’s spirit endowment ... both in close connection with anointing and in its permanence”.

In ’n preek beklemtoon Richard Cunningham dat God verantwoordelikheid neem vir leierskap in ’n oorgangstyd. Leiers is nie onvervangbaar nie, maar God se kriteria vir leiers is anders as ons s’n. Die beste leiers is nie afhanklik van natuurlike gawes nie, maar van die goddelike salwing. Dawid het beslis besondere natuurlike kwaliteite gehad (bv om te dig, fisieke krag deur leeus en wolwe van sy skape weg te hou) en die moed om Goliat aan te vat toe almal gesidder het. Daar was egter baie ander mense wat dieselfde kwaliteite gehad het. Die beslissende gebeurtenis in sy lewe is egter dat hy deur die Here gesalf en gekies is. 

Konteks

1.  Binne die konteks van die boek 1 Samuel bring 1 Samuel 16 ’n radikale wending in die geskiedenis van Israel. Die eerste hoofstukke van die boek het op Samuel en Saul gefokus. Nou kom Dawid se verhaal aan die beurt. Hertzberg sien hierdie verhaal as die basis vir die hele geskiedenis van Dawid. Die salwing is die teologiese basis vir die verhaal van die man by wie die Here is (1 Sam 16:18). Almal wat later hierdie verhaal sou lees, moet weet dat Dawid deur die Here self gekies en gesalf is. Dat Samuel, die groot profeet van die Here dit gedoen het, verleen verdere gesag aan Dawid. Daar hoef dus geen twyfel te wees dat Dawid God se keuse was nie. Die res van die verhaal in 1 Samuel word beheers deur die teenstelling van Saul die verworpene en Dawid die man na God se hart (Goslinga). Hulle lewens word uiteindelik tekens van ’n teenstelling tussen God se mense en die goddeloses. Samuel verskuif ook stadig maar seker na die agtergrond, maar nie voordat hy  duidelik die rigting vir die toekoms aangedui het nie. Goslinga verwys na Asmussen se opmerking dat Saul se ondergang en Dawid se opgang beide deur God se woord beheers word. God se bevel, God se keuse bepaal alles.   

2.  Die vraag is hoe hierdie gedeelte gepreek kan word in Lydenstyd. Johan Cilliers waarsku teen die verkeerde Christologiese prediking waarin die Ou Testament grotendeels agter Christus verdwyn. Een van die slaggate waarin ons kan trap, is om mense in die Ou Testament as tipes van Christus te sien en daarom die hele teks as voorspelling van Christus te sien. Dan word Dawid maar net een van die baie “potensiële” Christusse in die Ou Testament wat eintlik net wag op die vervulling in Christus. Dit kan ook gebeur dat die prediker dink dat alles in die Ou Testament “afgesluit” moet word met ’n verwysing na Christus. Op hierdie manier sê alle tekste eintlik maar dieselfde.

Hierdie gedeelte benadruk die sentraliteit van God se handelinge in die geskiedenis van sy mense.  Geleerdes is dit eens dat die hele verhaal fokus op die vrye keuse van God en dat Dawid se koningskap van begin tot einde in hierdie keuse berus. Die keuse van Dawid as nuwe koning is nie die gevolg van ’n rebellie deur die volk of die leiers daarvan nie (Payne). God sou sekerlik kon besluit om die koningskap vir Israel na Saul te beëindig, maar besluit steeds om daarmee aan te gaan. Daarom staan God sentraal in hierdie gedeelte (Hertzberg). Dit plaas die hele gedeelte onder die sambreel van die goddelike belofte en seën (Klein). Die feit dat alles hier in die keuse van God berus, help ons hierdie aspek in die Ou en Nuwe Testament raaksien. In Lydenstyd is dit ’n geweldig belangrike aksent. 

Uiteraard laat hierdie verhaal ons daarom ook nadink oor die leer van die verkiesing. Daarop kan ons nie uitvoerig ingaan nie. Die leer van die verkiesing bring egter een saak sentraal na vore, naamlik die “vreemde” verkiesing van God. Genade is uiteraard vreemd, want dit gaan teen die menslike grein in. Samuel trap in die slaggat (ook Isai indirek deur nie vir Dawid by die ander broers in te sluit nie) deur na uiterlike dinge te kyk. So werk God se verkiesing nie. Dis ’n genadige verkiesing wat ingaan teen alle menslike berekeninge in. Noordmans benadruk dat die verkiesing ons laat insien dat wanneer mense na sedelike redenering verlore is, hulle deur die genadige verkiesing van God nie verlore is nie (Noordmans 1979:132). Uiteraard gaan hierdie verhaal nie oor redding of verlorenheid nie, maar die beginsel rondom die “vreemde” verkiesing deur God is steeds geldig. 

Wat is die beginsel? ’n Mens kan maklik die kar voor die perde span deur die verkiesing van God te laat afhang van die mens se kwaliteite. In die Nadere Reformasie in Nederland is daar dikwels gevra na grond van sekerheid dat God ons gekies het. Om tot die sekerheid van die verkiesing te kom, moes bepaal word of sekere werkinge van die siel (sillogismus mysticus) en in die lewe (sillogismus practicus) van die mens aanwesig is. Die sekerheid of God jou gekies het, hang dus af van iets subjektief. Dit is ’n afwyking van die beeld wat die Skrif oor die verkiesing gee. Nie die heiliging van die mense (intern of ekstern) is die rede waarom mense deur God in diens geneem word nie, maar sy genade en trou. Wanneer die Ou Testament die begrip bachar gebruik (sien 16:8) word die absolute genadekarakter van die verkiesing benadruk. Hierdie begrip gee uitdrukking daaraan dat God op 'n bepaalde wyse sy keuse uitoefen. Om dit beter te verstaan moet benadruk word dat die Ou Testament deurgaans vermy om die aandag op die status van die volk te plaas. In Deuteronomium 7:6-8 word die verkiesing van Israel in 'n positiewe en negatiewe sin beskrywe (Craigie). Enersyds word beklemtoon dat die volk nie verkies is op grond van hulle voortreflikhede nie.  Andersyds word gesê dat die volk gekies is weens God se liefde en trou. In die begrip bachar lê daarom nie soseer die gedagte van 'n besluit nie (Ridderbos). Dit word van vroeg af gebruik om die wyse aan te dui waarop God se volk syne geword het. Israel se roeping berus nie op hulle voortreflikhede nie, maar het sy oorsaak primêr in God se welbehae (Ridderbos). God is vir sy daad van verkiesing aan niemand verantwoording verskuldig nie (Zimmerli). Die salwing van Dawid, waardeur die Here Homself aan Dawid verbind (sien opmerking by v 13), die gawe van die Gees en sy verkiesing ten spyte van sy jonkheid, gee alles uitdrukking aan God se genadige verkiesing.  

’n Laaste aspek in hierdie verband is dat die verkiesing van iemand in die Ou Testament altyd gepaard gaan met ’n taak (Schmidt). Mense word nie verkies sodat hulle net verkies kan wees nie. Die toerusting deur die Gees (wat hier ’n bevestiging van God se keuse is) is nie “a possession to be hugged to oneself with pride” nie, maar “an enabling power for the benefit and service of others” (Payne). Israel het ook hulle verkiesing verkeerd verstaan (Rom 9-11). Vir die Ou Testament bestaan daar 'n korrelasie tussen die goddelike verkiesing en die dankbare menslike verantwoordelikheid. Daarom het die verkiesing nie 'n valse gerustheid nie, maar eerder 'n groter mate van verantwoordelikheid tot gevolg (Zimmerli). Treffend sê Wildberger dat die volk se uitverkore status hulle nie verlei tot denke van onaantasbaarheid of sekerheid dat God hulle nie kan oordeel nie. Die uitverkore status van die volk moes juis beantwoord word deur vertroue, gehoorsaamheid en liefde. Dit is juis binne die konteks van die mens se onverantwoordelikheid en ondankbaarheid te midde van die toesegging van God se Woord dat die verwerping in die Ou Testament funksioneer. God se verkiesing bring nie 'n onveranderlike toestand by die volk tot stand nie (Vriezen). God behou Hom in sy vryheid die reg voor om die verkiesing op grond van die sonde van die mens terug te trek (2 Kon 21:14; 23:27) (Schmidt).

Preekvoorstel

Die geskiedenis van Israel is by ’n ernstige draaipunt. Die eerste koning van die volk het sy kanse verspeel. God het hom as koning verwerp. Die begaafde jong man met die indrukwekkende liggaamsbou het die belangrikste ding in sy lewe verloor: God se seën vir sy koningskap. Dit was nie ’n willekeurige besluit van ’n wispelturige God nie, maar die gevolg van sy eie keuses. 

Hoe spreek die verhaal van Dawid se salwing as koning die kerk van die Here in Lydenstyd aan? 

Allereers word die styl van die kerk aangespreek. Samuel rou oor Saul en vind dit moeilik om die Here se opdrag uit te voer. Sy emosies van rou en vrees laat hom beswaar maak teen die Here se opdrag (sien opmerkings by 16:1-3). Die verhaal fokus egter daarop dat God se wil gedoen moet word. God verstaan ons vrese, maar die koninkryk van God en sy wil is die primêre fokus van ons lewe. Die kerk kan nooit ’n ander styl hê nie, as om haar eie vrese ondergeskik te stel aan God se wil en doel nie. God stuur Samuel. God kies ’n nuwe leier. So is God gedurig besig om mense in sy diens te stel wanneer ons nog nie eens daaraan gedink het nie. God is nie in ’n doodloopstraat wanneer ons dink dat die einde aangebreek het nie. Hy sluit telkens ’n nuwe toekoms oop en roep die kerk om Hom daarin te volg.

Vir die geloofsgemeenskap is dit altyd ’n krisis as daar ’n verval in leierskap kom.  Die natuurlikste reaksie by ons is om so gou as moontlik die “regte” persoon te kry wat die “vakuum” kan vul. Die grootste slaggat waarin ons kan trap, is dat ons menslike oorwegings gebruik wanneer ons kies. Dit is skrikwekkend hoe ons telkens in die geskiedenis in dieselfde slaggat trap. Voorbeelde kan genoem word waar ons gedink het dat ons oordeel oor mense foutief was. Samuel moes sekerlik verstaan dat die keuse van Saul op grond van sy uiterlike karaktertrekke sonder die seën van God niks beteken het nie. Tog trap hy weer in dieselfde slaggat wanneer Eliab voor hom staan. Die verhaal gaan teen die menslike grein in. Hier kan gefokus word op die feit dat God se “kyk” en ons “kyk” nie ooreenstem nie (sien opmerkings by 16:6-10). God se keuse is dikwels in die Ou Testament “vreemd”. Ons sien dit telkemale in God se geskiedenis met sy mense dat Hy die onverwagse of “vreemde” keuse uitoefen. Wie sou Moses kies om ’n volk uit Egipte te lei? Wie sou die jong Jeremia met so ’n belangrike boodskap vertrou? Nie ek nie. God doen dit wel. Volgens menslike oorwegings moet Ismael in plaas van Isak gekies word, Esau in plaas van Jakob, ’n magtige en wonderbaarlike bevryder in plaas van ’n gekruisigde Christus. In die Dawid-verkiesing is God se styl om van die onbenullige iets groots te maak weer helder en duidelik.

Prof Willie Jonker skryf: “Die koninkryk van God het ’n snaakse mannekrag-beleid. Oral in die wêreld geld dit dat kragtige figure en persoonlikhede gesoek word vir die werk. Maar in God se werk soek Hy nie na die sterkste persoonlikhede en grootste presteerders nie: Hy soek juis diegene wat swak is in hulleself, selfs die armes van gees”. Packer skryf dat, soos in die geval van Israel, "God has magnified his mercy by choosing poor and undistinguished persons for this momentous destiny." Dawid se koningskap berus geheel en al in God se keuse, nie in die voorkoms nie (Klein).

Hierdie “vreemde” verkiesing van God bepaal ook die styl van die kerk. In gehoorsame afhanklikheid volg die kerk slegs God se keuse, al lyk dit ook sinloos. Immers, wat in ons oë eerste is, is nie noodwendig eerste nie (Mark 10:31). Mense verwag ’n magtige bevryder uit die Romeinse onderdrukking toe hulle Jesus sien, een wat wonderwerke doen en wysheid het, maar God se wysheid en krag is ’n Gekruisigde (1 Kor 1:18-31).  God se keuse is altyd vreemd.

Dit bring ’n tweede aspek na vore, naamlik dat die verhaal ook die identiteit van die kerk aanspreek. Helmut Thielicke skryf dat hy dikwels in die geselskap van motoreienaars was wat die lof van hulle eie karre besing het. Die een sal oor die spoed van syne spog. Die ander sal spog oor die manier waarop sy voertuig die steil bulte hanteer. Thielicke sê dat hierdie mense hul karre as ’t ware as ’n verlengstuk van hulle eie identiteit gesien het. Hulle het eintlik nie oor hul karre gespog nie, maar oor hulleself. By ’n ander geleentheid het hy aan ’n student gesê: “Jy is ’n baie begaafde jong man.” Die student het vreeslik gebloos – asof Thielicke hom geprys het. Thielicke het toe aan hom gesê: “Jy hoef nie te bloos nie, want dit was glad nie my bedoeling om vir jou te sê dat jy ’n oulike mens of ’n indrukwekkende man is nie. Ek het net gesê dat jy met gawes geseën is wat nie deur jou eie toedoen verkry is nie. Dit is aan jou geskenk. Daarom hoef jy nie te bloos nie!”

Met hierdie verhale kom iets baie duidelik na vore. Mense het die geneigdheid om hulle te identifiseer met enigiets wat hulle iets aan hulle prestige sal byvoeg of hulle sosiale stand sal verbeter. Hulle identifiseer hulle met hierdie dinge tot die punt waar hulle sê: “Dis wie ek is!” Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer ons ware wese uitkom, naamlik dat ons ons skuldig gemaak het aan iets verskriklik, sê ons maklik: Dis nie ek nie!  Dan is die omgewing waar ek grootgeword het, die oorsaak dat ek hierdie “vreemd-aan menswees” dinge gedoen het. Dan wil ek verskoon word van wat ek geword het. Niks bepaal egter ons identiteit meer as die feit dat ons deur God gekies en geseën is nie. Nie ons sonde, mislukkings of tekortkominge nie, nie ons grade, intellektuele vermoë of sosiale status bepaal ons identiteit nie. Ons is die Here se mense omdat Hy ons gekies en gesalf het om in sy diens te staan.

Om deur God gekies te wees, kan maklik misverstaan word. Dawid staan aan die begin van sy lewe as koning in God se oë, maar die pad vorentoe sal nie eenvoudig wees nie. Hy het die kragtige werking van die Gees in sy lewe nodig. Hierdie werking van die Gees in die lewe van mense maak hulle nie selfgenoegsaam nie. Die verkiesing en toerusting deur die Here is ’n lewenslange pad en lei tot liefde, gehoorsaamheid en diens. Saul het dit misverstaan. Israel ook. Wanneer die evangeliste aan die vroeë kerk die verhaal van Jesus vertel, moet hulle gedurig daarop nadruk lê dat die identiteit van die kerk nie in mag lê nie, maar diens (Mark 10:35-45). Die kerk is ook nie ’n indrukwekkende klomp mense bymekaar nie (1 Kor 1:26-31).  Die kerk volg nie haar Heer op ’n pad van magsvertoon en glorie nie, maar deur die pad van diens onder beheer van die Gees. Die kerk ontvang nie die Gees sodat hulle meer “geestelik” as ander kan wees nie, maar sodat hulle mekaar met die gawes van die Gees kan dien en opbou (1 Kor 12). Deur die salwing van die Gees verbind God Homself aan gewonde mense en neem Hyself verantwoordelikheid vir die toekoms.

Ons vind nie ons identiteit in verlengstukke van onsself nie. Nee, soos die nagmaalbrood geneem, geseën, gebreek en uitgedeel word (Henri Nouwen), is mense van God se identiteit geleë in God se vreemde keuse om gebruik te maak van kleipotte wat maklik breek. Die krag wat egter alles oortref, kom van God, nie van ons nie. Ons natuurlike talente, rykdom en mag maak ons nie ’n beter geloofsgemeenskap nie. Ons kan alleen leef onder die seën van God en in diens van ander. Bonhoeffer skryf: “Vir iemand wat dankbaar is, is alles ’n geskenk, omdat hy weet dat hy absoluut geen reg op enigiets het nie.” Luther vra ’n paar vrae oor predikante. Wat het jy in 'n predikant nodig sodat hy vir die mense aanvaarbaar is? Geleerdheid, 'n mooi stem, 'n mooi voordrag, mooi voorkoms (veral met die oog op die meisies en die vroue), en hy  moet mense altyd vertel wat hulle graag wil hoor. Wat het jy in 'n predikant nodig om 'n goeie predikant te wees? Goeie uitleg, 'n helder verstand, goeie geheue (hoewel hy elders sê dat mens van 42 af jou sinne begin verloor), 'n goeie stem, hardwerkendheid, die vel van 'n olifant en dat hy van ophou weet. Hoe word jy 'n goeie predikant? Luther sê: ten eerste deur die genade van die Heilige Gees, ten tweede deur aanvegting, ten derde deur ervaring ... ten slotte deur ywerige Bybelstudie.

Wat predikante geld, geld die kerk. Nie uiterlike dinge nie, maar die krag van God se genade, die kruisweg en ’n lewe van toewyding aan God bring ons uiteindelik uit by die doel waarvoor God ons gemaak het.

Bibliografie

Cilliers, J 2004. Die lewende stem van die evangelie.  Nuut gedink oor die basiese beginsels van prediking;  Craigie, P C 1976. The Book of Deuteronomy.  Cunningham, R B 1995.  God and human leadership, in The Ministers Manual 1996. John Cox (ed) & Goslinga, C J.  Samuel.  Korte Verklaring van de Heilige Schrift.  Kampen: Kok. Hertzberg, H W  1964.  1&II Samuel.  A Commentary;  Jonker, W 1997.  Ons posisie in Christus en ons aardse realiteite.  Lesing tydens die konferensie van sendelinge in diens van die NG Kerk Wes-Kaaplad gehou in Chongoni, Malawi (2-5 Mei 1997);  Klein, R W 1983.  1 Samuel  Word Biblical Commentary;  Packer, J I 1980.  Election, IBD, I, 435-38;  Payne, D F  1982.  Samuel;  Ridderbos, H 1978. Paulus.  Ontwerp van zijn theologie;  Schmidt, W H 1983. The faith of the Old Testament.  Thielicke, H 1979.  Being a Christian when the chips are down;  Walton, J H & Matthews, V H, & Chavalas, M W 2000. The IVP Bible Background Commentary: Old Testament;  Vriezen, Th C 1977. Hoofdlijnen der theologie van het Oude Testament;  Wildberger, H 1978.  Bhr, Erwählen, in THAT, I, 275-99;  Zimmerli, W 1972. Grundriss der alttestamentlichen Theologie.

Related Media
See more
Related Sermons
See more