1 Tessalonisense 5=16-24 LR2005
1 Tessalonisense 5:16-24 LR2005
11 Desember 2005
Derde Sondag van Advent
Liturgiese voorstel
Fokusteks: 1 Tessalonisense 5:16-24
Ander tekste: Jesaja 61:1-4, 8-11; Johannes 1:6-8, 19-28; Psalm 126
Inleiding
God wat gekom het in Jesus en weer kom, is ons blydskap; daarom kan ons onder alle omstandighede bly wees; meer nog word dit ’n opdrag om bly te wees (1 Tess 5). Hy is die blydskap van almal wat onderdruk word (Jes 61). Hy is die blydskap van almal wat op Hom alleen, onder die allermoeilikste omstandighede, bly hoop (Ps 126). Dit is van hierdie Lig wat Johannes die Doper moes getuig (Joh 1).
Diensorde
God versamel ons voor Hom
Aanvangslied
Lied 320: 1, 4 (sittende) “O kom, o kom, Immanuel”; NSG 64
Voorganger 1: Vandag is die derde Sondag van Advent, die Sondag van vreugde.
Voorganger 2: Ons vreugde is in God en in sy Seun, Jesus Christus. Soos vrede is vreugde ’n geskenk van God. Vreugde kom oor ons en vul ons wanneer ons onthou wat God gedoen het en wat Hy belowe het om nog te doen.
Voorganger 1 Ons steek vandag die derde kers aan om ons daaraan te herinner dat Christus reeds gekom het en dat Hy eendag weer sal kom sodat ons almal ’n vol en oorvloedige lewe kan hê.
Ons dank God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, vir die vrede wat Hy skenk en vir die vreugde wat Hy in ons hart uitstort.
Gemeente: U is Immanuel, God met ons. U is die bron van ons vreugde.
Die derde kers word aangesteek.
Voorganger 2: Kom ons bid saam:
O God van vreugde, Immanuel, God met ons,
ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons hart sal laat skyn.
Help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Christus finaal verskyn.
Rig ons hart en ons gedagtes op die dinge wat U reeds gedoen het en op dit wat U belowe het om nog te doen, sodat ons vreugde kan vind in U en u beloftes.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Vernuwe ons deur die krag van u Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.
Amen.
Sang
Lied 354:1,3 (staande) “O Christus, ons verlange”; NSG 65:1,3
Aanvangswoord
Psalm 126:1-3
Gemeente antwoord
Lied 595:1,2 “Ons wag op U”
Seëngroet
Almal groet mekaar ook met die Here se seën, waar dit toegepas kan word.
Gemeente antwoord
Lied 587:2 “Sion, hoor die feesgesange – van vreugde blink ons aangesig”; NSG 137
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Skriflesing uit Ou Testament
Jesaja 61:1-4, 8-11
Skriflesing uit Nuwe Testament
1 Tessalonisense 5:16-24
Prediking
Gemeente antwoord
Doen geloofsbelydenis hier indien die nagmaal nie gevier word nie.
Diens van die tafel
Sien die basisliturgie vir Advent.
Indien dit net ’n nagmaalsherinnering is, kan die volgende gedoen word: Gaan af na die tafel waarop brood en wyn is. Bevestig dat Jesus in die nag waarin Hy verraai is, gesê het dit is sy liggaam en sy bloed. Bely voor almal: Hierdie brood en wyn gee ons ’n blye hart. Gee stilte vir nadenke en toe-eiening.
Gemeente antwoord
Voorganger: Hy het ons gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur; om vir die gevangenes vrylating aan te kondig; om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. Die dag waarop Hy aan dié wat treur, eer gee in plaas van smart.
Gemeente: Vreugde in plaas van droefheid; blydskap in plaas van hartseer.
Voorganger: Hulle sal genoem word: Bome van Redding – die Here het hulle geplant.
Gemeente: Vreugde in plaas van droefheid; blydskap in plaas van hartseer (uit Jesaja 61).
Gemeente bevestig
Lied 342:1,3 (staande)
Vroue: O Jesus, ons Heer, U het ons verbly,
uit boeie kom U ons bevry;
Mans: U kom uit heerlik’ hemelryk,
en U word aan die mens gelyk –
Almal: só skep U, o Heer, die blydskap in my!
Vroue: Aan U alle eer, aan U alle dank!
U’s waarlik spys en waarlik drank:
Mans: U word in volheid van die tyd
tot vlees en bloed in nederigheid.
Almal: Hoe nuut is die lied! Hoe heerlik sy klank!
Dankoffer
Voorbidding
Uitsending
Voorganger: Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus van julle verwag.
Gemeente: Here, ons verbind ons almal hieraan. Stilte
Gemeente bevestig
Lied 201:1-3 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”; NSG 92:1-4
Seën
Antwoord
Gemeente sing “Amen”.
PREEKSTUDIE – 1 TESSALONISENSE 5:16-24
Teks
In vers 16-22 gee Paulus opdragte aangaande die basiese lewenshouding van die gemeente. Daarna volg ’n gebed oor die heiliging en bewaring van die gemeente met die oog op die wederkoms (23). Die perikoop sluit af met ’n bevestiging van die getrouheid van die Here (24). Die samestelling van vers 16-22, wat ’n eenheid vorm, wek die indruk dat dit deel van ’n gedig of lied kan wees wat moontlik deur Paulus self gekomponeer is. In die opbou van vers 16-18 en 19-22 is daar ’n soort balans. Eers kry ons drie imperatiewe of opdragte met ’n motivering aan die einde (16-18). Daarna kry ons weer drie imperatiewe met ’n langer sin aan die einde (19-22).
In die eerste opdrag word die gemeente gevra om altyd bly te wees (16). Hierdie blydskap is gegrond in die wete dat die gemeente aan Christus behoort en deel het aan die saligheid en lewe wat die Here bied (vgl 3:9). Die diepste grond vir die blydskap van die gemeente is die genade van God. Die gemeente moet hierdie blydskap altyd vashou. Paulus het reeds opgemerk dat die gemeente in moeilike omstandighede blydskap ervaar het toe hulle die evangelie ontvang en aangeneem het, wat getuig van die vrug van die Heilige Gees (1:6). Die apostels het gelowiges nooit aangemoedig om swaarkry en lyding te ontken nie. Die ervaring van Christene is egter dat hulle juis in moeilike omstandighede vervul word met hoop en blydskap deur die werk van die Heilige Gees (vgl Hand 7:55-56). Hierdie blydskap is diep gewortel in die evangelie (Luk 2:10-11) en het een van die wesenlike kenmerke van die Christelike geloofsgemeenskap geword (Fil 4:4). Die wêreld kan nie hierdie blydskap van die kerk wegneem nie (Joh 16:22).
Die tweede opdrag is om gedurig te bid (17). Om te bid beteken om met God te praat, om jou diepste behoeftes en vrae met Hom te deel. Gebed is ’n erkenning van ons totale afhanklikheid van God en terselfdertyd ook van God se algehele betroubaarheid (Fil 4:6). Om gedurig of sonder ophou (OAV) te bid, beteken dat gebed voortdurend ’n deel van die gemeente se lewe moet uitmaak (vgl 1:2 en 2:13). Die gelowige moet leef in ’n gees van gebed. Dit beteken ook dat gelowiges in gebed moet volhard soos die bedoeling met die gelykenis van die weduwee en die regter is (Luk 18:1). Dit beteken nie dat gelowiges elke oomblik van die dag net in gebed moet deurbring nie. Heidense gebede het ten doel om die gode gunstig te stem teenoor die bidders en die gode te manipuleer ten gunste van die bidders. Die Christelike gebed is gegrond in ’n vertrouensverhouding tussen die gelowige en God wat as Vader die begeerte het om sy kinders te seën (vgl Matt 6:6; 7:7-11).
Die derde opdrag is om in alle omstandighede dankbaar te wees (18). Danksegging aan God is ’n wesenlike deel van die verhouding tussen die gemeente en die Here. Dit is ook ’n sleutelelement in Christelike aanbidding (Matt 26:27). Hier is die fokus egter op die daaglikse danksegging van gelowiges. Die gelowiges word opgeroep tot danksegging, wat die omstandighede ook al mag wees. Paulus weet dat gelowiges broos en kwesbaar is (2 Kor 4:7-11). Die liefde en krag van God stel ons egter in staat om elke lewensituasie met vertroue te hanteer. Gelowiges dank die Here nie vir die omstandighede nie, maar vir die feit dat die Here in alle omstandighede vir ons daar is (1:6; Fil 4:6). Om in alle omstandighede dankbaar te wees, veronderstel ’n erkenning dat God in beheer is, dat Hy regeer – ongeag hoe dinge miskien lyk. Gelowiges leef in die vertroue dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom 8:28). Die gemeente kan in alle omstandighede dankbaar wees, omdat die saligheid wat hulle in Christus ontvang het, nie van hulle weggeneem sal word nie.
Hierna volg ’n motivering vir die drie opdragte: want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (18b, vgl ook 4:3). Paulus verklaar nie hoe hy weet dat God so ’n lewenshouding van die gemeente verwag nie. Hy mag as apostel namens God praat, of daar kan ’n ouer teks wees wat reeds gesag gehad het, waarvan hy gebruik gemaak het. Die uitdrukking in Christus Jesus bring die wil van God en van Christus so dig bymekaar dat dit onmoontlik is om die twee van mekaar te onderskei. Die basiese lewenshouding van blydskap, gebed en dankbaarheid is kerneienskappe van die gemeente se bestaan, want dit is soos God wil hê dat hulle moet lewe.
Die drie opdragte wat gedeeltelik negatief geformuleer is, volg hierop.
Die eerste is dat die gemeente nie die werking van die Heilige Gees moet teenstaan nie (19). Die werkwoord wat met teenstaan vertaal word, is oorspronklik gebruik vir die blus of uitdoof van vuur, liefde of hartstog. Vergelyk die ou vertaling wat lui, blus die Gees nie uit nie. Die Heilige Gees word gewoonlik met vuur geassosieer (vgl Matt 3:11; Hand 2:3). Hiermee word die gemeente opgeroep om nie die werking van die Heilige Gees te onderdruk, te beperk of te verhinder nie. Die werk van die Gees kan verwys na die gawes van die Gees (1 Kor 12:8-10) of die vrug van die Gees (Gal 5:22-23). Paulus is nie spesifiek nie, maar verwys na die werk van die Gees in die algemeen. In die huidige konteks sou dit wel kon verwys na die gawe van profesie wat nie onderdruk moet word nie (vgl 20).
Die tweede is dat die gemeente nie die profesieë moet geringskat nie (20). Die uitsprake van diegene wat die gawe van profesie het moenie verag (OAV) word nie. Die werkwoord wat Paulus gebruik beteken om neer te sien op (Rom 14:3; 1 Kor 1:28), te verag of om met minagting te verwerp (Hand 4:11; Gal 4:14). Daar kon verskillende redes wees vir die verwerping van die profetiese uitsprake. Die uitsprake kon spekulasies oor die wederkoms wees wat daartoe aanleiding gegee het dat mense ophou werk het in afwagting op die wederkoms (4:11-12). Die uitsprake kon mense verlei en sodoende die gawe van profesie in diskrediet gebring het. Paulus waarsku self teen valse profete in 5:3, en vers 20 moet in dié konteks gesien word. Hy wou nie hê dat die gemeente alle profesieë moes geringskat of verwerp op grond van sy veroordeling van die valse profete nie. Geen profesie behoort voor die voet verwerp te word, of onkrities aanvaar te word nie.
Die derde is dat die gemeente alles moet toets (21a). Paulus se advies aan die gemeente is ’n meer gebalanseerde benadering tot profesie as blote verwerping. Hulle moet die profesieë toets sodat hulle die aard daarvan kan vasstel (1 Kor 12:10; 14:29). Dit was veral nodig omdat daar valse profete was en dwaalleringe in die vroeë kerk verkondig is (1 Kor 12:1-3; 2 Tess 2:2). Dieselfde werkwoord wat ondersoek of keur beteken, word in 2:4b gebruik (vgl ook 1 Joh 4:1). Na die ondersoek moes die gemeente twee dinge doen. Enersyds, behou wat goed is (21b) en andersyds, wegbly van alles wat sleg is (22; vgl Rom 12:9). Indien vasgestel is dat ’n profesie eg is, moes die gemeente daaraan vashou. Die gemeente moet die goeie deel van hul lewe maak. Om iets te bewaar of vas te hou was ’n tegniese term wat gebruik was om die belangrikheid te beklemtoon van die oorgelewerde tradisie of die egte leer (Luk 8:15; 1 Kor 11:2). In hierdie konteks was die goeie die profesieë wat getoets is en eg bevind is en tot die opbou van die gemeente gedien het (1 Kor 14:3-5, 12, 26). Die gemeente moes egter van alles wat sleg is, insluitende valse profesie, wegbly of dit vermy. Enige openbaring waarvan die bron nie die Heilige Gees is nie, moet deur die gemeente vermy word. Die gemeente moenie ligtelik met ware profesie omgaan nie, maar behoort ook nie valse openbarings aan te hang nie.
Vers 23-24 vorm deel van die afsluiting van die brief. In 23 spreek Paulus die hoop uit dat die gemeente waardig geag sal word om te deel in die lewe van Christus by sy wederkoms. Hy begin met ’n beskrywing van God, wat vrede gee. God is die bron van vrede. Vrede beteken welsyn in die mees omvattende vorm. Hier gaan dit om geestelike welsyn, vrede met God. God kon nie berus in ’n toestand waar sondaars in vyandskap met Hom leef nie. Daarom het Hy in Christus die inisiatief geneem om vrede te maak (Rom 5:6vv; Ef 2:13vv). Diegene wat God se aanbod in Christus aanvaar, ontvang ’n nuwe status, ’n nuwe begin (2 Kor 5:17). Paulus bid nou as ’t ware dat God wat die goeie werk begin het, dit sal voltooi (Fil 1:6). Hy gebruik die uitdrukking, julle volkome aan Hom toegewyd maak. Met volkome gebruik Paulus ’n unieke woord wat heelheid en voltooiing beteken. Hy bid dus vir die algehele heiliging of toewyding van die gemeente aan die Here – die voltooiing van die heiligingsproses. Die tweede helfte van die gebed (julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees), is wesenlik dieselfde as die eerste (vgl ook 3:13). Hierdie proses van heiliging word afgerond, voltooi wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. Die uitdrukking gees, siel en liggaam word gebruik as verwysing na die hele mens. Dit dien as beklemtoning van die volkomenheid van die heiliging – dit raak elke aspek van ons lewe, maar ook ons lewe in geheel.
Vers 24 sluit af met ’n bevestigingsuitroep: Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou! Paulus is vol vertroue dat God die gemeente sal heilig en onberispelik sal bewaar – nie omdat hy gebid het nie – maar omdat die God tot wie hy gebid het, getrou is (vgl 1 Kor 1:9; 2 Tess 3:3). Paulus het vroeër in sy brief aan die gemeente reeds na hul roeping verwys met betrekking tot hul verlossing (2:12) en hul heiliging (4:7).
Konteks
Daar is heelwat preke oor 1 Tessalonisense 5:16-24 gelewer. Dit is meesal in die loop van die jaar gebruik en nie noodwendig in Adventstyd nie. Greene (Adventspreek) stel voor dat vers 23-24 as sleutel gebruik word vir die ontsluiting van die riglyne wat Paulus aan die gemeente gee. Dit beteken dat die verwagting van die heiliging en bewaring van die gemeente met die oog op die wederkoms die lewe van die gemeente sal bepaal. Die kerk moet leer om op so ’n manier in die spanning van die alreeds en die nog nie te leef dat ons soeke na heiligheid nie opgaan in persoonlike vervulling nie, maar ’n egte uitdrukking van menslike heelheid sal wees wat gebaseer is op die lewe van Jesus Christus.
In sy Adventspreek fokus Harms op vers 16-18. Deur die krag van die Heilige Gees en die teenwoordigheid van Christus in die doop en die maaltyd van die Heer, word ons in staat gestel om ’n lewe te lei wat gekenmerk word deur blydskap, gebed en dankbaarheid.
Die preke by SermonCentral.com handel oor ’n verskeidenheid temas. In preke oor dankbaarheid (Amerikaanse Dankseggingsdag) word vers 18 (of vers 16-18) dikwels as wegspringpunt gebruik sonder behoorlike inagneming van die konteks. Ander preke handel in die algemeen oor die Christelike lewenswandel en beklemtoon enige aspek van die perikoop. In ’n preek oor heiligmaking word vers 23-24 as vertrekpunt gebruik en die konteks buite rekening gelaat. In ’n ander preek word vers 12-28 gebruik om na die eienskappe van die kerk te verwys. Die hele perikoop word ook gebruik om oor geestelike groei in die gemeente te preek.
Preekvoorstel
Ter inleiding sou verwys kon word na die feit dat dit die derde Sondag in Advent is. Ons berei ons voor op die viering van die koms van Christus na die wêreld toe. Geskenke word aangekoop, huise word geverf, skoongemaak en versier vir Kerstyd. ’n Mens sou die gehoor kon vra om vir mekaar te vertel wat hulle al gedoen het of nog van plan is om te doen vir Kersfees. Hulle (veral die kinders) sou ook kon vertel van hul eie verlanglysie vir Kersfees – wat hulle graag sou wou ontvang.
Daarna sou oorgegaan kon word om aan die hand van 23 vir die gemeente te vertel van die hoop wat Paulus het oor hoe God ons klaarmaak en bewaar vir die wederkoms van Christus (vgl bespreking by 23).
Verder kan in twee dele aan die hand van vers 16-18 en 19-22 oor die basiese lewenshouding en geestelike onderskeiding van die gemeente gepraat word (vgl besprekings hierbo). In vers 16-18 sal blydskap, gebed of aanbidding en dankbaarheid beklemtoon word in die lig van die verwagting wat God van ons koester. Afgesien van die implikasies vir ons basiese lewenshouding kan daar ook gewys word op die implikasies van hierdie tekste vir die liturgie en die erediens (vgl Du Preez, Malherbe en veral Stott).
Stott stel dat die erediens ’n wesenlike deel van die lewe van die gemeente is. Dit vorm en verklaar tegelykertyd ons identiteit. Die oproep tot blydskap is nie soseer ’n opdrag tot blydskap as iets waaroor ons beskik wat aan- en afgeskakel kan word nie. Dit is eerder ’n uitnodiging tot blye aanbidding. Baie eredienste is swaarmoedig en vervelend. Ons moet God met ontsag en in nederigheid aanbid, maar daar behoort veel meer van ’n blye viering (celebration) te wees van wat God vir ons gedoen en gegee het in Christus Jesus. “So let there be organs and trumpets and drums and singing!”
Wat gebed betref, beklemtoon Stott die verantwoordelikheid van elke gemeente om ernstig voorbidding te doen tydens die erediens op Sondag, maar ook tydens die weeklikse biduur. Voorbidding behoort gedoen te word vir gemeentelede, vir die kerk oor die wêreld heen, vir die leiers van die kerk, vir getrouheid aan die waarheid van die Skrif, vir heiligmaking, eenheid en sending. Daar behoort ook vir die landsbevolking, die regering, ’n regverdige, vrye, meelewende en deelnemende samelewing gebid te word. Verder ook vir die armes, verdruktes, hongeriges, dakloses, siekes, asook vir vrede, geregtigheid en die goeie bestuur van die omgewing. Gebedsonderwerpe sou na gelang van elke gemeente se konteks gekies en kreatief in die erediens gebruik kon word.
In vers 19-22 kom ons geestelike onderskeidingsvermoë onder die soeklig, asook hoe ons met die resultate van die onderskeidingsproses omgaan as geestelik volwasse Christene. Terwyl die teks fokus op die onderskeiding van profesie, is geestelike onderskeiding ’n vaardigheid wat die gemeente en gelowiges in elke lewensituasie moet ontwikkel en toepas. Dit is des te meer noodsaaklik in ’n oop samelewing waar elke gelowige geroep word om verantwoordelike keuses te maak.
Die preek sou kon afsluit met 24 wat ’n geloofsuitspraak is dat God ons sal heilig en bewaar om te deel in die lewe van Christus wanneer Hy weer kom. Terwyl ons ons inspan om die kroon te behaal, is dit ’n groot troos om te weet dat die Here ons die krag daartoe gee en dat Hy dit eintlik alles vir ons doen.
Bibliografie
Du Preez, J 1981. Die Briewe aan die Tessalonisense; Greene, C J D 2001. Third Sunday of Advent, Year B, in Van Harn, R E. The Lectionary Commentary; Green, G L 2002. The Letters to the Thessalonians; Harms, P W F 1978. Doing what doesn’t come naturally in Augsberg Sermons (24-27); Hendriksen, W 1955. 1 & 2 Thessalonians. The Banner of Truth Trust; Malherbe, A J 2000. The Letters to the Thessalonians; Stott, J R W 1991. The Gospel and the end of Time; Verhoef, E 1995. Tessalonicenzen; Williams, D J 1992. 1 and 2 Thessalonians; www.SermonCentral. com.