2 Konings 2=1-12 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 81 views
Notes
Transcript

2 Konings 2:1-12 LR2006

26 Februarie 2006

Sondag van die Verheerliking – feesdiens

Liturgiese voorstel

Fokusteks:                    2 Konings 2:1-12

Ander tekste:       Psalm 50; 2 Korintiërs 4:3-6; Markus 9:2-9

Inleiding

Verheerlikingsondag is die afsluiting van Kersfees-/Epifanietyd en tegelyk ook die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg – een van die geleenthede in sy lewe waar die heerlikheid van God sigbaar geword het en wat aanleiding gegee het tot die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is. Die verhaal van die verheerliking word in die evangelielesing vir hierdie Sondag (Mark 9:2-9) weergegee. Dit is belangrik om dit saam met die fokusteks in die liturgie te gebruik. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit en die binneruim van die kerk kan ryklik versier word om uitdrukking te gee aan die glansryke gebeure op die berg. Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

Diensorde

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 175 “Majesteit” of  168 “Heilige Jesus”

Aanvangswoord

Voorganger:  Die Here is God, Hy alleen is God.

                    Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,

                    van waar die son opkom

                    tot waar hy ondergaan.

Gemeente:     Uit Sion, stad van volmaakte prag,

                    verskyn God in glans.

Voorganger:  Ons God kom, Hy bly nie stil nie.

                    Voor Hom uit brand ’n vuur,

                    rondom Hom woed ’n storm.

                    Hy roep die hemel en die aarde op as getuies van sy glansryke heerlikheid.

Gemeente:     Die hemel getuig: “Die Here is regverdig,

                    En Hy is ons God.”  Amen (uit Psalm 50).

Loflied

Lied 159 “God is hier teenwoordig”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament

2 Konings 2:1-12

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

2 Korintiërs 4:3-6

Antwoord

Een van die Hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of  ’n koor gesing word, byvoorbeeld

Lied 189, 206, 204, 218 of 228; NSG 19, 21, 118 of 327.

Skriflesing uit die Evangelie

Markus 9:2-9

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Geloofsbelydenis

Nagmaalgebed   

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die brood,

                    die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente:     Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger:  Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

                    U gee die wyn,

                    die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

                    Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente:     Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger:  Soos die koring wat oor die velde gestrooi was

                    en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

                    op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

                    mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

                    saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente:     Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger:  Mag die Here met julle wees!

Gemeente:     En ook met jou!

Voorganger:  Hef op julle hart.

Gemeente:     Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger:  Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente:     Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger:  Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring –

                    oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

                    Deur u lewende Woord het U alle dinge gemaak en verklaar dat dit goed is.

                    U het die mense na u beeld gemaak, om te deel in u lewe en u heerlikheid te weerspieël.

                    In die volheid van die tyd het U Christus vir ons gegee as die weg, die waarheid en die lewe.

                    Hy is deur die Heilige Gees aangewys as u dienaar om die evangelie aan armes te verkondig.

                    By die laaste maaltyd het Hy die nagmaal ingestel,

                    sodat ons sy dood en opstanding kan gedenk

                    en sy teenwoordigheid in die brood en die wyn kan ontvang.

                    Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

                    saam met die profete en apostels,

                    saam met alles wat asem het.

Gemeente:     Sing Lied 171 “Heilig, heilig, heilig”.

Voorganger:  Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

                    U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

                    Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

                    sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.

                    Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

                    en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

                    “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

                    Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

                    “Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Gemeente:     Ons verkondig u dood, Here Jesus!

                    Ons vier u opstanding uit die dood!

                    Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger:  Here ons God,

                    ons roep vandag in herinnering die lewe van u Seun Jesus Christus,

                    die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het,

                    van wie U gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

                    Laat die heerlikheid wat van Hom uitstraal,

                    ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God.

Gemeente:     Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger:  Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

                    sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

                    ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente:     Kom, Skepper-Gees!

Voorganger:  Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

                    behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

                    in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente:     Amen.

Voorganger:  As gedoopte kinders van God bid ons nou saam:

Gemeente:     Die “Ons Vader”-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

Vredesgroet

Die gemeentelede kan mekaar met ’n handdruk of omhelsing groet met die woorde:

“Mag die vrede van die Here met jou wees.”

Instellingswoorde

Uitdeling en gebruik van die brood en die wyn

Lofprysing

Lied 177 “Jesus, groot bo almal”

Gebed

UITSENDING

Slotsang

Lied 195:2 “Christus, voor U kniel die hele aarde”; 197 “Wonderbare Koning”; 470 “U, Here, is ons koning”

of 472 “Kom lofsing die Heer”.

Seën

Mag God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,”

ook in julle hart ’n lig laat skyn om julle te verlig met die kennis van die heerlikheid van God,

wat van Jesus Christus uitstraal (uit 2 Kor 4:6).

Antwoord

Die gemeente sing “Amen” in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316.

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

PREEKSTUDIE – 2 KONINGS 2:1-12

Teks

Die teks vertel die verhaal van twee gebeurtenisse. Aan die een kant handel dit oor hoe Elia deur God lewendig in die hemel opgeneem word (1-11) en daarmee beëindig God sy diens as profeet; aan die ander kant vertel dit die storie van hoe Elisa georden word as profeet en dan spesifiek as Elia se opvolger (1-12). Hierdie gedeelte funksioneer as skanierteks. Dit sluit die verhaalsiklus wat oor Elia handel af en dit lei die verhaalsiklus wat oor Elisa handel in. Die verhaalsiklus oor Elisa is saamgestel deur die profeteseuns van Gilgal. Die siklus bestaan uit verhale wat aanvanklik in die volksmond oorvertel is, maar later deur die profeteseuns tot ’n eenheid saamgevoeg is. Elisa was die geestelike leier van hierdie groep en hulle het dit ten doel gehad om aan die nageslag te vertel van sy grootheid as leier en as doener van wondermagte.

Om te begin verstaan wat hier presies gebeur, moet kortliks aandag geskenk word aan die twee hoofkarakters wat in hierdie perikoop ter sprake is, naamlik Elia en Elisa. Elia kan beskryf word as ’n eensame figuur wat nie vriende gemaak het nie. Sy verhouding met God was egter van so `n aard dat hy lewend in die hemel opgeneem is. Later verwys Jesus ook in Matteus 11:14 na hom wanneer Hy sê: “... Johannes is die Elia wat sou kom ...” en van Johannes sê Jesus in Matteus 11:11: “Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie ...”  Elia word dus deur Jesus direk in verband gebring met Johannes die Doper. Elia se naam word nie minder as 30 keer in die Nuwe Testament genoem nie. Selfs binne die Nuwe Testament bly Elia ’n belangrike figuur.

Elisa, aan die ander kant, was deel van ’n gemeenskap van profeteseuns. Dit word algemeen aanvaar dat hy die geestelike leier van die profeteseuns van Gilgal was. Hy het nie dieselfde invloed in die geskiedenis uitgeoefen as Elia nie. Sy naam word net een keer in die Nuwe Testament genoem en hy sterf soos enige ander gewone mens.

Beide profete is by uitstek bekend vir die wonders wat hulle gedoen het. Die wonders dien egter elke keer die woordverkondiging waartoe hulle geroep is. Al twee is bekend vir hul verset teen die Baälkultus. Die fokus en doel van hul verkondiging is om klem te lê op die feit dat die Here die God van Israel is en dat hulle sy gesante is.

Dit bring ons by die sentrale motief van hierdie teksgedeelte – gesantskap van God. Elia is die ou leermeester en ervare gesant van God. Daarteenoor is Elisa is leerling en word in hierdie gedeelte bevestig as die nuwe gesant van God. Reeds in 1 Konings 19:19-21 word hy aangewys as Elia se opvolger. In hierdie gedeelte gee Elia as ’t ware die verantwoordelikheid aan Elisa oor om die rol as gesant van God op te neem. Dit is interessant om daarop te let dat Elia in ’n sekere sin oënskynlik nie geneë is om dit te doen nie. In vers 2-7 lig Elia Elisa in dat die Here hom beveel het om na verskillende plekke toe te gaan. Elia verwag waarskynlik dat iets groots daar gaan gebeur, en probeer om van Elisa ontslae te raak, maar slaag nie daarin nie. Telkens versoek hy Elisa om nie met hom saam te gaan nie. Die rede waarom hy nie wil hê dat Elisa met hom moet saamgaan nie, is nie duidelik nie. Dalk hang dit saam met die feit dat hy nie ’n groepsmens is nie, of dalk wou hy Elisa toets om te sien of hy getrou is. Skrifuitleggers is nie eensgesind oor hoe hierdie versoek verstaan moet word nie. Elisa belowe telkens met ’n eed dat hy sy leier nooit alleen sal laat nie. Elia bly vir ’n tyd in Bet-El, maar niks gebeur nie. Die Here gee Elia later opdrag om na Jerigo toe te gaan. Weer probeer Elia Elisa oorreed om agter te bly, maar slaag nie in sy doel nie. Ook in Jerigo gebeur daar niks nie, en Elia kry opdrag om na die Jordaan te gaan. Nog ’n keer weier Elisa om agter te bly en volg hy Elia. Op hierdie laaste deel van die tog vergesél nie net Elisa vir Elia nie, maar ook vyftig ander profete wat getuienis word van wat gebeur.

Vers 8 vertel hoe Elia sy mantel uittrek en die water van die Jordaan oopkloof, sodat hy en Elisa op droë grond kan deurstap. Hy doen dit voor die vyftig profeteseuns en hulle word die getuienis van wat gebeur en nog gaan gebeur. Die feit dat Elia die mantel gebruik om die water oop te kloof, wys terug na Moses wat weer sy staf gebruik het om die water van die Rooisee te skei, sodat die Israeliete op droë grond kon deurtrek. Hiermee word die gedagte bevestig dat Elia verstaan moet word as die tweede Moses. Dit word ook later die toets om seker te maak of Elisa Elia se opvolger is, toe hy Elia se mantel opneem en ook die Jordaan oopkloof om op droë grond deur te stap. Binne die groter konteks word hier ’n verband gelê tussen die roemryke dade wat God in die verlede gedoen het, wat Hy nou doen en wat Hy op die punt staan om te doen. Die gedagte word onderstreep dat die God van Israel gister en vandag en môre dieselfde is. Soos wat Hy in die verlede ’n man met die naam Moses gebruik het om groot dade te doen, so het Hy ook met Elia gedoen en so sal Hy ook met Elisa doen.

Vers 9-10 handel oor Elia wat bewus is van die feit dat sy einde in sig is en dat hy nie meer baie tyd hier op aarde het nie. Met hierdie besef vra hy vir Elisa in vers 9: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou weggevat word?” Elisa besef die erns van die oomblik en versoek Elia dat hy ’n dubbele deel van Elia se gees moet ontvang.  Hierdie versoek betrap Elia onkant, want hy het nie verwag dat Elisa met so moeilike versoek vorendag sal kom nie.  Daar moet duidelikheid verkry word oor wat Elisa bedoel het met hierdie versoek om ’n dubbele deel van Elia se gees te ontvang. Die versoek kan heel waarskynlik in verband gebring word met die Israeliete se gebruik dat die eersgeborene geregtig is op ’n dubbele erfporsie (vgl Deut 21:17). Wat Elisa waarskynlik met hierdie versoek bedoel, is dat hy graag soos die eersgeborene van Elia se geestelike kinders behandel wil word en dat hy daarom ’n dubbele deel van Elia se gees wil ontvang. Die Hebreeuse uitdrukking šenayim word ook in Sagaria 13:8 gebruik. Daar het dit uitdruklik die betekenis van twee derdes. Hy versoek met ander woorde twee derdes van Elia se gees.

Hierdie versoek moet nie as ’n arrogante ingesteldheid van Elisa verstaan word nie. Dit onderstreep eerder sy beskeidenheid en nederigheid. Hy besef dat hy nooit sy meester sal kan ewenaar in grootheid nie, laat staan nog oortref. Die versoek is egter om die onmoontlike van Elia te vra. Hy beskik nie oor sy eie gees nie; dit is nie oorerflik of oordraagbaar nie. Hy kan nie daaroor besluit nie, want dit is ’n gawe van God, en daarom gee hy hom die antwoord wat hy hom gee. Omdat hy nie oor sy eie profetiese gees beskik nie, gee Elia aan Elisa die voorwaarde: As Elisa met sy eie oë sou sien dat Elia voor hom weggevat word, sal sy wens vervul word. Elisa moet daarom bedag en paraat wees met sy oë oop vir die wonder wat gaan gebeur. Die punt wat hier gemaak word, is dat die persoon wat oor die gawe van die gees beskik, God self is en dat dit nie ’n geskenk is wat deur mense uitgedeel word nie. God gee sy gees aan wie Hy wil en aan wie Hy kies om dit te gee.

Vers 11 en 12 is die hoogtepunt van die vertelling. Skielik verskyn ’n wa van vuur en perde van vuur. Die wa en perde skei Elia en Elisa van mekaar. Die wa en perde dui op die almag, krag, heerlikheid en sterkte van die Here. Elia word passasier op die wa, en Elisa word alleen agtergelaat. Hy is diep bedroef deur die gebeure en skeur sy klere. Hy roep uit: “my vader, my vader” – dit gee uitdrukking aan sy liefde en toegeneentheid vir Elia as sy geestelike vader, en toon ook aan dat Elia die leier van die profete was. Toe Elia in die hemel opgeneem is, val sy mantel af. Elisa tel dit op en word die regmatige eienaar van die mantel. In 1 Konings 19:19-21 word dieselfde mantel deur Elia gebruik om Elisa as sy regmatige opvolger aan te wys. Hierdie mantel word nou Elisa se ampsgewaad. Die eerste keer dat hy dit gebruik, is om die Jordaan weer oop te kloof, sodat hy op droë grond kan deurloop.

Konteks

Die feit dat Elisa teenwoordig is by die opneem van Elia in die hemel, was in die volksmond van die tyd van groot belang. Slegs as die opvolger sien hoe sy voorganger sterf, kan hy die ware opvolger wees. Dit is dalk ook die rede waarom Elia drie keer vir Elisa versoek om nie saam met hom te gaan nie. Dit is heel waarskynlik die laaste toets wat Elia vir Elisa stel om seker te maak dat hy ’n waardige opvolger sal wees. Elisa is wakker en verseker die ou profeet dat hy hom nie alleen sal laat gaan nie, maar dat hy hom sal vergesel, terwyl hy goed geweet het hulle gaan beide Elia se dood tegemoet. Die profeteseuns het dit immers duidelik geprofeteer as hul telkens by ’n nuwe dorp aankom. Die vyftig profete wat die laaste deel van die tog met die twee meemaak, is getuies van Elia se mag en Elisa se getrouheid om Elia te volg.

Daar moet ook gelet word op hoe die Israeliete oor strydwaens gedink het, om te verstaan wat die eerste hoorders sou dink oor die feit dat Elia juis met ’n strydwa in die hemel opgeneem is. In die geskiedenis van Israel het die strydwa ’n belangrike plek gehad. Toe die Israeliete probeer het om die beloofde land in te neem, het die strydwaens van die Kanaäniete hulle verhoed om beheer te verkry oor die vlaktes, en is hulle teruggedruk na die bergwêreld. Die strydwa het by die Israeliet die beeld opgeroep van militêre mag en oorwinning. Hulle het egter self nie oor die nodige kundigheid en finansies in daardie stadium beskik om strydwaens te bou en te onderhou nie. Toe Dawid en Salomo die bewind oorgeneem het, het dit op ekonomiese gebied goed begin gaan met die Israeliete en het hulle talle strydwaens, sowel as nuwe stede gebou en onderhou. Hierdie strydwaens het die sentrale plek ingeneem in die Israeliete se strategie om hulself te verdedig. 

Benewens die feit dat strydwaens simbolies was van militêre mag, het dit ook binne die Kanaänitiese godsdiens ’n belangrike rol vervul. Hulle het geglo dat die songod op sy hemelse strydwa die hemelruim deurkruis en daarom was dit algemeen om verskillende modelle van strydwaens en perde in hulle tempels te sien. Die strydwa was simbolies van die krag en die sterkte van die bepaalde songod. Hierdie gebruik was nie toelaatbaar binne die godsdienstige praktyke van die Israeliete nie. Vanweë die algemene gebruik in die kulturele opset waarbinne die hoorders hulle vind, word die beeld van die wa van vuur en die perde van vuur hier gebruik om die almag van die Here te beklemtoon en daaraan uitdrukking te gee. Die lewende God van Israel is die een wat nie alleen net met ’n strydwa rondry nie, die is ’n wa van vuur met perde van vuur. Dit bring mee dat hy groter en heerliker is as die songode wat deur die omliggende kulture aanbid is.

Elisa bring ook die lewe van Elia in verband met die strydwa en perde, wanneer hy in vers 12 uitroep: “ ... u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!” Daarmee gee hy erkenning aan die grootheid van Elia se profetiese leierskap.

Preekstudie

Vir die doeleindes van die seisoen van luister en die verstaan van hierdie teks wil ek graag die volgende preekmoontlikhede voorstel. Die prediker kan dit meer volledig uitwerk met die materiaal in die voorafgaande gedeelte.

Die eerste moontlike voorstel om te oorweeg is die belangrikheid van ’n geestelike vader of moeder (mentor) in elke gelowige se lewe. Elia was Elisa se geestelike vader. Hy het as gids opgetree vir die jong profeet en hom alles geleer wat hy nodig het om te weet om die taak te vervul wanneer hy hom verlaat. Elisa is verknog aan sy geestelike vader, die feit dat hy hom nie alleen wil laat reis nie, gee uitdrukking daaraan. Let ook op die feit dat Elisa telkens as die profete van ’n bepaalde dorp profeteer dat Elia deur die Here weggeneem gaan word, nie oor die saak wil praat nie. Dit is tipies van iemand wat in ontkenning is. Dit is ook in hierdie lig wat ons sy versoek moet verstaan om ’n dubbele deel van die profeet se gees te ontvang. Hieruit is dit duidelik dat Elisa die verhouding met Elia verstaan as een van vader en seun. Hy is lief vir sy geestelike vader, en is diep bedroef – hy wys dit deur sy klere te skeur. Die skeur van klere was in die Ou Testament ’n teken van rou. Hy is met ander woorde hartseer en ontsteld omdat die Here sy geestelike vader van hom wegneem. In die preek kan die belang van geestelike mentorskap deur ’n geestelike vader of moeder onderstreep word. Nie een van ons is volmaak in ons geloof as ons tot bekering kom nie. Ons het iemand nodig om ons op die pad van geloof te begelei om sodoende te groei na geloofsvolwassenheid. Dit is ook belangrik om in die preek te wys op die verantwoordelikheid wat gelowiges het wat al ’n redelike vlak van geloofsvolwassenheid bereik het en om hulle aan te moedig om soos Elia van ouds op te tree en ’n jonger broer of suster in die geloof onder hulle vlerk te neem, en op te tree as mentors vir hulle sodat hulle nie mismoedig word op die pad van geloof wat hulle gekies het om te loop nie.

Die tweede moontlikheid wat oorweeg kan word om oor te preek, is om te kyk na hoe God mense gebruik en roep om sy werk te doen. In die eerste plek is dit nodig om daarop te let dat God telkens self sy gees gee aan diegene wat hy roep om sy werk te doen. Dit is duidelik uit die gedeelte wat handel oor Elisa se versoek aan Elia om hom met twee dele van sy gees te seën. Uit die ou profeet se antwoord word dit duidelik dat dit nie die mens is wat roep nie, maar God. Dit is ook nie vir die mens beskore om te besluit wie geroep is en wie nie, maar dit hang van God af. In hierdie preekvoorstel is dit moontlik om van stiltes gebruik te maak, waar lidmate kan mediteer en luister na God oor wat sy perspektief en verstaan van hulle roeping is. Tydens die preek kan ook daarop gewys word dat God nie net mense roep wat almal dieselfde persoonlikheid het nie. Aan die een kant was Elia ten diepste ’n alleenmens, aan die ander kant was Elisa baie meer van ’n groepsdier. Die Here gebruik verskillende mense met verskillende persoonlikhede om sy werk vir Hom te doen. Ons moet nie dink ons persoonlikhede keer dat God ons gebruik nie. Die Here kan jou enige oomblik gebruik en roep – Hy is juis die een wat jou met jou unieke persoonlikheid gemaak het en jou binne die konteks geplaas het waarin jy jou bevind. Daarom wil Hy jou daar gebruik en roep Hy jou ook binne daardie konteks.

Die derde moontlikheid waaraan die prediker kan aandag skenk, is die feit dat die Here gister, vandag en môre dieselfde is. Dit sien ons uit die feit dat Elia gesien word as die tweede Moses, en Elisa as ’n waardige opvolger van Elia. Hieruit word dit duidelik dat God altyd dieselfde is deur die geskiedenis heen en dat Hy daarom vertrou kan word. In ons dag en tyd behoort hierdie gedagte baie troos te bring vir lidmate wat daagliks gekonfronteer word met verandering. Ons leef in ’n land waar niks meer seker is nie – alles van die verlede wat sekerheid gegee het, is weg, alles wat reg was, is vandag verkeerd. Hoe moet ons lidmate help en begelei wat hulle in hierdie verwarrende omstandighede bevind? Die sleutel is om hulle te herinner aan die feit dat God altyd getrou is, Hy is altyd dieselfde – gister, vandag en môre. Die prediker kan hier baie kreatief wees om die gemeente se eie konteks te ontleed en lidmate se vrese ten opsigte van verandering aan te spreek. Dit sal ook help as die prediker gaan kyk na die gemeente se geskiedenis en kan aantoon hoe God getrou was deur die geskiedenis van die gemeente. Dit kan gekoppel word aan God se getrouheid in hierdie gedeelte en daarvandaan kan die preek ontwikkel word om aan te toon dat God ook getrou sal wees in die toekoms. 

In aansluiting by die derde tema kan ’n vierde tema ontgin word. Hier kan ook gelet word op God se voorsienigheid. God laat nooit sy kinders wees nie. Toe Hy Elia wegneem, het Hy Elisa in sy plek gegee om as geestelike leier van die volk op te tree. Deur die geskiedenis is dit eie aan God se aard om geestelike leiers aan sy kinders te gee. Die hartseer van die saak is egter dat ons net soos die volk (Israel) maak, en nie ag slaan op die waarskuwings van die geestelike leiers wat Hy aan ons gee nie. Dit is nie dat God ontrou is nie, dit is eerder ’n geval dat ons nie wil hoor wat God oor ons gedrag en lewe te sê het nie – ons verkies om die profete stil te maak, dink maar wat aan mense soos Beyers Naudé en Willie Jonker gedoen is. Weer kan hier gelet word op hoe die plaaslike gemeente handel met sy geestelike leier. Dit kan in die gemeente se lewe ’n mooi gebeure word as die gemeente voor God kan gaan staan en belydenis doen oor hoe hulle hul leiers behandel het.

Bibliografie

Brongers, H A 1982.  II Koningen (POT);  Childs, J M 2002.  New Proclamations Year B, 2002-2003.  Advent through Holy Week;  Cogan, M & H Tadmor 1988.  II Kings.  A New Translation with Introduction and Commentary;  Wiseman, D J 1993.  1 and 2 Kings.  An Introduction and Commentary.

Related Media
See more
Related Sermons
See more