Efesiers 3=1-12 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 45 views
Notes
Transcript

Efesiërs 3:1-12 LR2005

2 JANUARIE 2005

EPIFANIEFEESDIENS

liturgiese voorstel

Fokusteks: Efesiërs 3:1-12

Ander tekste:                 Jesaja 60:1-6; Psalm 72; Matteus 2:1-12

Inleiding

Al die Epifanietekste beskrywe hoe die magtige wonderwerkende verskyning van God lig in ’n donker wêreld bring: Jesaja 60 beskrywe hoe hierdie epifanie van God lig bring vir die volk in ballingskap, ’n lig wat missionêr uitstraal na die volkere wêreld. Dit word bevestig deur die koms van die wyse manne wat uit ’n ver land kom op soek na die Groot Koning omdat hulle sy sterrelig gesien het (Matt 2). Dit was hierdie Koning, Christus, wat God se groot plan van redding tot uitvoering gebring het en wat nou wêreldwyd verkondig moet word (Ef 3). Die Kerk van Christus oefen sy koninklike amp uit deur kampvegter te word vir verdruktes en armes op soek na die vrede en harmonie van God se nuwe wêreld (Ps 72, veral v 12-14). Die aspekte van verwondering oor God se verskyning en die uitvoering van sy groot plan deur Christus en deur ’n getuigende kerk moet die hoofaksente van die liturgie van die dag bepaal.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Sang vooraf

Liedere oor die koms van God se ryk en die verkondiging daarvan wêreldwyd. Lied 360/NSG 223; Lied 354/NSG 65

Aanvangswoord

Kom Jerusalem, laat skyn jou lig.

Vir jou het lig gekom,

die magtige teenwoordigheid

van die Here

het vir jou lig gebring.

Daar is donkerte oor die aarde,

duisternis oor die nasies,

maar oor jou gee die Here lig,

oor jou verskyn

sy magtige teenwoordigheid.

Nasies kom na jou lig toe

en konings na die glans toe

van die nuwe dag

wat vir jou aangebreek het. Na: Jesaja 60:1-3

Seëngroet (hardop deur gemeente gesê)

Mag God se verhewe Naam vir altyd geloof word.

Mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit. Na: Psalm 72:19

Lof- en aanbiddingslied

Lied 371/NSG 68

Kindertyd

Storie van die wyse manne kan so oorvertel word dat die kinders ook iets begryp van die soeke van die wêreld na ’n ster wat lei na die Koning en sy nuwe ryk op aarde. Kinders sing lied 374/NSG 62.

Doop of doopherinnering

Hier sou uit die geskiedenis van Israel aangetoon kon word hoe belangrik die verbondsvernuwing was, veral in die donker tyd van ballingskap (vgl Jes 60:4). Net so is die doopsvernuwing belangrik vir ’n geloofsgemeenskap wat ’n onbekende nuwe jaar ingaan.

Lesing van die wet

Gebruik Matteus 5:3-11.

Skuldbelydenis as vryspraak

Doen dit aan die hand van Psalm 72:19.

Lofsang op die vryspraak

Diens van die Woord

Gebed vir die opening van die Woord

Doen dit aan die hand van Efesiërs 3:9-11.

Skriflesing en prediking

Efesiërs 3:1-12

Gemeentelike respons

Dit is belangrik dat die Apostoliese Geloofsbelydenis op Epifanie hardop gedoen word.

Diens van die tafel

Gereedmaak van die tafel

Lees 1 Korintiërs 11:23-26 in plek van formulier.

Groot nagmaalsgebed

Sien inleiding

Instelling en gebruik

Dankoffers

Uitsending

Slotsang

Lied 372/NSG 63

Seën

Aan hierdie Jesus is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies en maak mense sy dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Hy ons beveel het.

En onthou: Hy is met ons al die dae tot die voleinding van die wêreld.  Amen.

Sang

Lied 312 of 316/NSG 355 of 356


PREEKSTUDIE – EFESIëRS 3:1-13

Teks en konteks

Kommentare deel die Efesiërbrief in twee hoofdele: hoofstuk 1-3 en 4-6. Roberts (in Du Toit [red.]) toon aan dat die Joodse Berakah-gebed die agtergrond vorm vir die eerste deel, terwyl die tweede deel hoofsaaklik vermanend is. Die “Berakah” behels `n daad van herinnering waarin God geloof word vir sy optrede in die verlede en die volk opnuut beweeg word om Hom te prys. Die eerste hoofstukke van Efesiërs reflekteer dié gebedsvorm in die lang en digte sinne, onderbreking deur lof en gebed, en ernstig-gewyde toon.

`n Struktuurverdeling van Efesiërs 1-3 lyk soos volg (Roberts se indeling):

                    Briefaanhef:          1:1-2

                    Lofprysing aan God wat die heidene in sy heil deel gegee het.  1:3-3:21

                            

A
B
B
C
A
Lofroep en         1:3aRede vir lof        1:3b-14   Voorbidding (na danksegging)     1:15-21vir die nuwe Christene Geloofsbelydenis met     1:22, 23drie aansluitende verduidelikings  2:1-10            2:11-18van die betekenis daarvan vir       2:19-22nuwe Christene   Voorbidding       3:1, 14-19met Onderbreking oor Paulus se 3:2-13sendingwerk en die kerk se rol  Lofsegging         3:20, 21


Roberts se redevoeringsanalise maak dit duidelik dat hy 1:22, 23 sien as die kern van die eerste drie hoofstukke saam met die drie verduidelikende gedeeltes wat daarby aansluit. Deel C (kerngedeelte) verteenwoordig `n draaipunt in die teks, as `n sleutelaanduiding van die rigting waarin die skrywer die leser wil stuur. Die B-gedeelte word onderbreek met `n fokus op Paulus se sendingwerk en die kerk se rol. Hierdie onderbreking behels `n opheffing van die skrywer se gedagtegang en `n breuk in die sinstruktuur as gevolg van die sterk emosie van die skrywer. Die integriteit en gesag van die skrywer word hier aan die orde gestel.

`n Ontleding van 3:1-21 maak dit duidelik dat Paulus in 3:1 `n gebed begin wat hy onderbreek: “Daarom bid ek vir julle …” Hy hervat die gebed in 3:14-21: “daarom kniel ek in gebed …”  Ons teks kan verder opgedeel word in 3:2-6 en 3:7-13.

Enkele inhoudelike sleutel- aspekte:

Vers 1:  Ek, Paulus: `n formule van gesag. `n Gevangene deur my diens – letterlik van die Jode en Romeine, maar figuurlik van Christus. Paulus sien homself nie as uitgelewer aan sy teenstander nie, maar onder die bestuur van Christus (vgl 4:1). Markus Barth sien in dié uitspraak `n belangrike Oosterse begrip van die verhouding van `n slaaf tot sy/haar meester. Paulus aanvaar sy gevangenskap as uitdrukking van die verband tussen verhouding en diens. Hy daag so die vrese en suspisies uit wat in die gemeentes kan ontstaan. Sy beproewinge is hulle tot eer.

Vers 2:  Die opdrag (oikonomia): administrasie van `n huishouding, `n rentmeesterskap, taak;  hier spesifiek deur God gegee in genade: y vrye guns, onverdiend; in belang van die nie-Jode.

Vers 3:  Sy geheimenis (Mysterion):  Die enige besluit van God moet aan die wêreld verkondig word (6, 7, 9, 11). By Qumran en Gnostiek moet die geïnisieerde die geheimenis privaat hou – bedek. Die geheimenis van God is bekend gemaak deur `n openbaring – verwydering van `n sluier, die wyse en daad om iets te ontbloot wat waar en teenswoordig is. Volgens Karl Barth is so `n openbaring `n daad van transformasie van die persoon wat dit ontvang. God is self die subjek en objek – Hy openbaar Homself. Openbaring is verlossing.

Vers 4:  My insig: Paulus se indringende verstaan van God se geheimenis berus nie op ontdekking nie, maar op `n gawe van God self. Die geheimenis van Christus is dieselfde as die geheimenis wat God bekend maak.

Vers 5:  Bekend gemaak … soos nou: God se geheimenis was eeue lank verborge (Rom 16:25), maar is nou met soveel helderheid bekend. Die Ou Verbond bevat heenwysings en is nie ’n volledig begryp nie. Deur die Gees: openbaring en oortuiging geskied deur die Gees, in Christus, na Godsbesluit.

Vers 6:  Dit is die geheimenis: `n Sleutelvers en opsomming van 2:11-22. Drie terme met voorsetsel “syn” (met) saam met, betoon nuwe verhouding wat ontstaan het: (i) saam deel van die volk van God; (ii) lede van liggaam van Christus; (iii) saam deel aan wat God belowe het. Dit wil sê. medevolksgenote, medelede van liggaam, mede-erfgenaam. Deur die verkondiging van die evangelie: die effektiewe instrument van uitreiking.  In verbondenheid met Christus Jesus: die onmisbare verhouding wat nuwe identiteitsvorming moontlik maak.

Vers 7-12 beklemtoon die uitvoering en vervulling van Paulus se opdrag.

Vers 7 ’n voorreg gegee: aanstelling as dienaar en effektiewe krag vir taak.

Vers 8 die geringste: Paulus se selfbesef en gebrek aan persoonlike aanspraak. Onpeilbare rykdom van Christus: ondeurdringbaar onnaspeurlik (3:18,19).

Vers 9 God se verborge plan: Voorheen nie ten volle gekommunikeer. Nou uitvoer: openbaar aan mens oor die tyd.

Vers 10 ryke verskeidenheid van sy wysheid: soos verskeidenheid blommekleure, ’n geborduurde patroon. Deur kerk bekend laat word: die kritiek rol van die kerk deur beliggaming en verkondiging aan elke mag en gesag in die hemelruim: God se doel reik uit na die magte van die kosmos. Gregoruis van Nissa sien hier die paradoks van die Christelike boodskap; die ryke verskeidenheid van God se wysheid. Nuwe lewe word geskape deur dood heen; eer word verkry in oneer; seën in vervloeking; krag in swakheid; liefde word sigbaar in altyd nuwe, verrassende, skeppende wyses – oorspronklik en ryk om nuwe omstandighede te ontmoet.

Vers 11 van ewigheid af voorgeneem: Christus as God se Agent kom nie as toevallige besluit in Gods plan nie, maar as deel van sy ewige voorneme.

Vers 12 met Hom, in Hom: die verbintenis met en kennis van Christus gee vrymoedigheid van afspraak en afwesigheid van vrees en skaamte. Deur geloof: geloof die wyse waardeur die gemeente aan Christus verbind word, Christus-kennis beliggaam word.

Vers 13 daarvan … nie moedeloos word nie: die gemeente het uitsonderlike rede tot hoop en troos, en so gevorm te word tot ’n nuwe morele volk, met ’n nuwe morele leefwyse.

Bart som die perikoop (3:1-13) in die volgende gedagtes op: ’n Bediening afhanklik van openbaring, uitgebrei na die kosmos en bevestig deur lyding en volharding. Efesiërs bly in konstante dialoog met haar omgewing, soos blyk uit die dienskneg- en gevangene-beeld. Die geheimenis-begrip word aangebied teenoor gelykluidend begrippe van die tydvak en samelewing. Telkens kom daar verrassende en oorspronklike fasette en aksente na vore wat die verkondiging van Paulus onderskei van sy tydvak. 

Preekvoorstel

Een moontlikheid is om vers 6 as sleutelvers te neem en die herskeppende werking van die Godsopenbaring te oordink. Ons kan ook vanuit vers 10 die verstommende reikwydte van die Godswysheid bepeins en die besonderse taak van die kerk hierin belig. Ek kies in die voorstel vir die eerste opsie.

Markus Barth noem die kerk die vuurtoring van God. Sy is die ontvanger en draer van `n uitsonderlike lig.

Ons het reeds gewys op die Joodse gebedsvorm wat die struktuur van Efesiërs 1-3 beïnvloed. Daar is dus 'n sterk lof- en gebedskarakter in die hoofstukke. Redevoeringsanalise beklemtoon dat ons die perspektief van die skrywer en oorspronklike toehoorders/lesers moet verreken en begryp. Die skrywer wil deur die dokument 'n alternatiewe morele/sedelike wêreld aanbied. Hier help 'n identifisering van die hooffigure, sleutel- en draaipunte, herhaling van temas, metafore en tradisie ons. Die lesers – ook ons – sien 'n bepaalde drama afspeel rondom hulle. Die dokument laat ons egter 'n alternatiewe drama rondom kritieke figure sien.

Mouton argumenteer vanuit haar retoriese ontleding van die boek Efesiërs dat die draaipunt in die teks inderdaad die belydenis van 1:22 en 23 is, met bygaande verduidelikings. Die rigting van die teks is dus na die persoon van Christus. `n Verskuiwing gebeur – weg vanaf wet en plig, na nuwe verhoudinge gestig deur die Gees. `n Nuwe identiteit en leefwyse met God word oorheersend in die lewens van gelowiges. Die uitdaging van Efesiërs is om te lewe vanuit die paradoksale gesag van die verhoogde Heer, wat deur haar wese en bestaan onder die magte van die wêreld skyn, en God se wonderlike goedheid betoon.

Die kerk kom tot stand, word gebore, waar die herskeppende openbaring beliggaam word. Die sluier is weggeneem, die geheimenis is bekend gemaak, die ware gestalte van die Godsvolk word sigbaar.

Die kinders van die Here word gekonstitueer deur ’n spesiale verbintenis. Dit is geloof – om verbind te word aan Christus en Hom te ken. Daardeur word eertydse dure vyande een Godsvolk. Een liggaam, gestempel met Christus se karakter en gesag, kom tot stand. Saam deel eertydse volslae vreemdelinge ’n gemeenskaplike vaderhuis en word so erfgename van God se beloftes.

Die openbaring, die Godsplan is nooit voorheen op so ’n treffende en helder wyse bekend gemaak nie. Die profete het daarna heengewys. Nou, in die Christus-tyd word dit ’n werklikheid. God se openbaring transformeer mense en verhoudinge en leer ons om te leef uit Christus se paradoksale gesag.

Die evangelie van die transformerende God wat ware gemeenskap skep, is God se effektiewe instrument waardeur mense gelei word tot deel van die Godsvolk. Maar wat gebeur nou as die gemeente swig, bevrees raak, in skaamte wegdraai? Wat gebeur as die liggaam verskeur word en die Godsvolk verdeeld? Dan sou die lig van die evangelie kwyn, die onmoontlike word moontlik. God se transformerende werking word weerstaan en die kerk leef volgens ’n ander verbondenheid en lojaliteit. Die herlewing van ongelykhede en etnisiteit sny deur na die hart van die kerk se belydenis: Dat Christus verhoog is bo alles en Hy alleen oor die kerk regeer (1:22, 23).

Maar nou word ons nie moedeloos nie. Ons besef met wie ons te doen het. Ons deel in die ontsaglike drama van die lewende God se plan met ons. Dit kan nie anders dat sy werking ’n vreemde, verrassende orde onder en deur ons skep nie, en ons loof God vir sy wysheid.

Bibliografie

Du Toit, A B (red) 1984.  Handleiding by die Nuwe Testament (Band 5);  Barth, M  Ephesians 1–3;  Mouton, E  Reading a New Testament document ethically | .  |

.

Related Media
See more
Related Sermons
See more