2 Petrus 3=8-15a LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 40 views
Notes
Transcript

2 Petrus 3:8-15a  LR2006

4 Desember 2005

Tweede Sondag van Advent

Liturgiese voorstel

Fokusteks:                    2 Petrus 3:8-15a

Ander tekste:       Jesaja 40:1-11; Markus 1:1-8; Psalm 85

Inleiding

Die tema hierdie Sondag is vrede. Vrede in Bybelse sin (sjaloom) dui op die omvattende welsyn van die mens, die hele gemeenskap en die skepping. Ons hoor die rykheid hiervan in Jesaja 40 en in die belydenis van Psalm 85. God wil dat niemand dit mis nie. Daarom wag Hy met geduld (2 Pet). Die manier hoe dit alles grondvat in mense se lewe, is nog altyd ‘n radikale omkeer. Ons doop (om onder die water te sterwe en uit die water lewend verlos en ingelyf te word) bevestig dit. Dit behels ’n totaal nuwe lewe wat onberispelik voor God geleef moet word (Mark 1 en 2 Pet).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangslied

Lied 320:1,3 (sittende)  “O kom, o kom, Immanuel”; NSG 64

Voorganger 1:          Vandag is die tweede Sondag van Advent, die Sondag van vrede.

Voorganger 2:          Ons vrede is in God en in sy Seun, Jesus Christus.

Voorganger 1:          Ons steek vandag die tweede kers aan om ons daaraan te herinner dat Jesus die Vredevors is, die een wat van die begin van die wêreld af belowe is. Ons dank God vir die hoop wat Hy ons gee en die vrede wat ons van Hom ontvang.

Gemeente:     U is Immanuel, God met ons. U is ons vrede.

Die tweede kers word aangesteek.

Voorganger 2:          Kom ons bid saam:

                    O God van vrede, Immanuel, God met ons,

                    ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons hart sal laat skyn.

                    Help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Christus finaal verskyn.

                    Werk in ons hart en help ons om ons voor te berei vir die vrede wat Christus bring.

                    Leef in ons en help ons om in U te lewe.

                    Vernuwe ons deur die krag van u Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.  Amen.

Sang

Lied 354:1,2 (staande) “O Christus, ons verlange”; NSG 65:1,2

Aanvangswoord 

Psalm 85:9-14

Gemeente antwoord: Lied 595:1,2  “Ons wag op U”  

Seëngroet

(Almal groet mekaar ook met die Here se seën, waar dit toegepas kan word.)

Gemeente bly op die Heer wag

Lied 587:1 “Kyk, Hy kom ...”; NSG 137:1

Diens van die water

Gaan na die doopvont, neem water in jou hand en herinner die gemeente: Ons doop bevestig dat ons dood is vir ’n sinlose, van dag tot dag lewe en opgewek is vir ’n totaal nuwe lewe. Dit dring ons van binne om ons sinlose bestaan voor God te bely en te weet: Die uitkoms is hier! Ons God kom. Hy dra ons in sy arms soos ’n herder sy lammers dra (Jes 40).

Gemeente antwoord

Lied 145:4,9  “Dit is u grote liefde wat ons voed”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord 

Skriflesing uit Ou Testament

Jesaja 40:1-11

Skriflesing it Nuwe Testament

2 Petrus 3:8-15a

Kindertyd

Die kinders/jongmense behoort reeds betrek te wees by die liturgie (aansteek van Adventskers; Skriflesing, ens). Vra die kleiner kinders hoe hulle vrede verstaan. Vertel hulle van ’n nuwe woord wat hulle kan onthou: “sjaloom”. Verduidelik die omvattende betekenis van “sjaloom”.

Prediking

Gemeente antwoord

Doen geloofsbelydenis hier indien die nagmaal nie gevier word nie.

Gemeente bevestig hulle geloof: Lied 487:1, 3 “Wagter wakend op die mure; wees gereed”; NSG 189:1, 3

Diens van die tafel

Sien die basisliturgie vir Advent.

Indien dit net ’n nagmaalsherinnering is, kan die volgende gedoen word: Gaan af na die tafel waarop brood en wyn is.  Bevestig dat Jesus in die nag waarin Hy verraai is, gesê het dit is sy liggaam en sy bloed: Christus is ons vrede. Hy het die middelmuur van skeiding afgebreek. Gee stilte vir nadenke en toe-eiening.

Hierna verkondig ons uit Psalm 85 (aangepas):

U was goed vir ons Here. U het ons ’n nuwe toekoms gegee.

U het u volk se sonde nie toegereken nie

hulle al hulle skuld kwytgeskeld.

U het u woede laat bedaar; u gloeiende toorn laat afkoel.

Ontferm U weer oor ons

o, God, ons Verlosser.

Moet tog nie langer op ons toornig wees nie.

Wil U nie weer die lewe

vir ons nuut maak

sodat ons ons vreugde

in U kan vind nie?

Laat ons u troue liefde belewe

skenk ons u reddende hulp, Here.

Waarlik, uitkoms is naby

vir dié wat God dien:

Hy sal die reddende mag aan ons openbaar

en liefde en trou sal mekaar ontmoet,

geregtigheid en vrede

sal mekaar omhels.

Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan

en ’n pad maak vir sy koms.   Amen.

Dankoffer

Voorbidding

Uitsending

Voorganger: Klim op ’n hoë berg en roep hard: Julle wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir almal: “Julle God is hier! Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors (Jes 40:9-11).

Gemeente:     Here, ons verbind ons almal om U in woord en daad te verkondig.

Gemeente bevestig

Lied 284:1-3 “Laat,  Heer, u vrede deur my vloei” 

Seën

Die Here seën jou om ’n instrument van sy vrede te wees.

Die Here seën jou om waar haat is, liefde te saai;

waar onreg is, vergifnis te bring;

waar twyfel is, geloof te hê;

waar wanhoop is, hoop te bring;

waar duisternis is, lig te wees;

waar droefheid is, vreugde te bring.

Antwoord

Die gemeente sing “Amen”. 

PREEKSTUDIE  – 2 PETRUS 3: (1-7)8-15a,(16-18)

Die teksgedeelte is reeds uitvoerig en deeglik behandel in Wtl I/6. Persone wat die betrokke bundel besit, kan dus vrugbaar van genoemde bydrae, sowel as van die inleidingsartikel oor die eskatologiese prediking, gebruik maak. Verder behoort ’n paar goeie kommentare ook geraadpleeg te word. Vir persone wat nie toegang tot vakkundige literatuur het nie, sal Die Bybel in Praktyk en die Tyndale New Testament Commentary oor 2 Petrus en Judas nuttige oriëntering bied.

Teks en Konteks

In die lig van die bronne waarna verwys is, word hier net enkele opmerkinge gemaak.

1. ’n Sinvolle benutting van die teksgedeelte vra dat dit binne die verband van die brief in sy geheel gelees moet word. Verskeie van die sake wat in hoofstuk 3 onder die soeklig kom, het reeds in die vorige twee hoofstukke in mindere of meerdere mate aandag gekry. Dit is egter nie wenslik om soos die Internasionale Leesrooster doen, slegs vers 8-15a uit te lig vir ’n Adventsoordenking nie. So ’n teksbenadering hou nie genoegsaam rekening met die verwikkelde lyn van die hoofargument nie. Die teksgedeelte vir dié oordenking is dus aangepas soos hierbo aangedui.

2. In 3:2 en 3:18 gebruik die skrywer die uitdrukkings “die Here en Verlosser” en “ons Here en Verlosser, Jesus Christus”, soos twee hakies waarmee dit wat daar tussenin gesê word, as ’t ware uitgelig word. Die gemeente moet weet dat hulle toekomsverwagting ten diepste deur die persoon en werk van Christus bepaal/gevul word. Wie die teenswoordige tyd uit hierdie verband haal, verloor die perspektief dat Christus die sin van die geskiedenis is (H Berkhof).

3. Die groot probleem waarmee die gelowiges, tot wie die brief gerig is, te kampe gehad het, was dat veral die eerste geslag Christene besig was om te sterf sonder dat die wederkoms van Jesus plaasgevind het. Hulle het naamlik verwag dat Jesus nog in hulle leeftyd weer sou kom. Dit het egter nie gebeur nie. Dit het baie van hulle in teleurstelling en onsekerheid gedompel. Was hulle dan verkeerd? Was hulle geloof tevergeefs?

4. Hulle probleem is verder vererger deur mense uit die gemeente wat begin spot het met die gedagte van die wederkoms (3,4). Hierdie spotters het met ’n vertoon van geleerdheid diegene wat nog wou vashou aan die wederkomsverwagting, finaal probeer ontwortel met die vraag: “Wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?” Deur al die eeue, so argumenteer hulle, het dinge presies gebly soos dit was van die begin van die skepping af. Ons vaders, wat reeds dood is, het dus ook tevergeefs gewag (4). Daarmee ruk hulle nie net die gemeente se toekomshoop, gegrond op God se beloftes, uit hulle hand nie, maar ook die mat van hulle verstaan van God se Woord en van die geskiedenis onder hulle voete uit. Om alles te kroon, gee die spotters vrye teuels aan hulle begeertes in hulle daaglikse lewe. Met die lastige kontrole van die wederkoms uit die pad, is elkeen eindelik vry om te lewe soos hy/sy wil/begeer (3:3; 2:14). Al wat saak maak, is hierdie lewe en dit moet maksimaal “geniet” word. Wat met hierdie genieting bedoel is, is redelik uitvoerig beskrywe in hoofstuk 2. Die vry wees waarin die vals leraars en spotters hulle verlekker het, was dus niks anders as ’n dekmantel vir sondige bandeloosheid nie (Verhey, Green). Soos wat dit dan ook verderaan sal duidelik word, trek die skrywer hier `n skerp lyn tussen twee teenoormekaarstaande maniere van lewe, naamlik ’n mens lewe óf “godloos” (Gr asebeia) óf “godvresend” (Gr eusebeia). In die eerste geval gaan dit om die mens se eie denkkonstruksies, met ander woorde ’n lewe volgens eie wil. In die tweede geval gaan dit om die evangelie, met ander woorde ’n lewe volgens God se wil. Geen wonder nie dat die skrywer van hierdie spotters praat as “oningeligte en onstandvastige mense” (16) en “beginsellose mense” (17).

5. Die skrywer antwoord op die argumente van die spotters in ’n omgekeerde volgorde.

5.1 Alles is nie soos dit van die begin van die skepping af was nie (5). Hier moet hoofstuk 2 weer saamgelees word. Die verhale van skepping, sondvloed en Sodom en Gomorra word hier ingevoer as verstaansraamwerk (2:5,6; vgl ook Gen 6:5-9:7). Vanweë skokkende immoraliteit is die eerste wêreld en ook Sodom en Gomorra in katastrofale gebeure vernietig. Dit is egter moeilik om te bepaal wat die skrywer presies bedoel het met die beeldspraak van “uit water en deur water” (3:5,6). Wat wel afgelei kan word, is dat sowel in die ontstaan as in die ondergang van daardie eerste wêreld die element van water ’n sleutelrol vervul het. Die boodskap van die strafgerigte is ook duidelik: God se skepping is ’n morele entiteit. Daarin word sonde nie aanvaar nie. Dit word gestraf. Presies daarom sal ook die huidige wêreld nie aan die goddelike straf ontkom nie en gaan hemel en aarde deur vuur vernietig word (7). Die gedagte van ’n allesvernietigende goddelike gerig kom verskeie kere in die trant van apokaliptiese denke in die Bybel voor (Ps 1; Jes 13; 29; 30; 64; 66; Dan 7; Nah 1; Matt 3; 1 Kor 13; 2 Tes 1; Heb 12; 1 Pet 1). Voorop in hierdie beeldspraak is die gedagte van ’n allesverterende vuur. Soms word ook na God verwys as ’n verterende vuur (Deut 4:24; Mal 4:1; Heb 12:29) wat die klem wil plaas op God se heilige toorn teen alle vorme van sonde en kwaad. Die skrywer kom egter verderaan terug na hierdie beeldspraak (3:10-12).

5.2  God se tydsberekening verskil ingrypend van dié van die mens (3:8). God werk nie met ’n 24-uur-dag nie. Nee, vir God is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag (vgl ook Ps 90:4). Daarmee wil Petrus sê dat God anders na tyd kyk en daarmee werk as die mens. In God se tydsberekening is ’n perspektief en intensiteit wat by die mens ontbreek. Die mens sien slegs die onmiddellike en kan nie soos God tegelyk begin en einde waarneem nie. Ook is die mens geneig om tyd te relativeer terwyl vanuit God se genadeperspektief elke breukdeel kosbaar is. Vir spekulasie oor ’n duisendjarige vrederyk, soos wel gebeur het, bied hierdie teks egter geen aanleiding nie.

5.3 Daarom is die uitbly van die wederkoms nie ’n vertraging of versuim aan God se kant nie, maar juis ’n bewys van sy lankmoedigheid (Gr makrothumia, 3:9). Terwyl die mens met sy kort sig rondtrippel van ongeduld of moeg word en belangstelling en konsentrasie verloor, vul God, vanuit sy allesomvattende perspektief, die tyd met genade. Elke uur, elke minuut is vol huiwerende, gespanne, wagtende genade. Vir almal wat nog buite en teen sy wil lewe, hou God die geleentheid oop om “weer te dink” – volgens Dodd die grondbetekenis van die begrip bekering (Gr metanoia) – en om die nuwe manier van lewe te kies. Daarom is die lewe nie sinloos nie, maar sinvol. Teenoor Calvyn en andere moet egter gehandhaaf word dat hier nie sprake is van ’n vooraf bepaalde besluit tot verwerping nie. Eerder val die klem op die genade-aanbod aan almal en op die mens se vryheid om te kies. Juis met die vryheid om te kies, word tegelyk die wanopvatting van ’n heilsuniversalisme by die wortel afgesny.

5.4 Die dag van die Here sal egter onverwags kom (3:10). Die spotters sal nog besig wees met hulle onbesorgde en bandelose lewe dan is die dag van die Here daar. Die feit dat God lankmoedig is, beteken nie dat mense maar kan lewe asof daar nog baie tyd is voordat hulle aan die saak begin aandag gee nie. Nee, die dag van die Here kom soos `n dief in die nag. Nóg apatie of onverskilligheid nóg oordrewe entoesiasme bied die regte houding. Niemand weet die datum nie. Jesus gebruik die sondvloedverhaal om te waarsku teen ’n argelose lewe wat so opgaan in die gewone dinge dat geen gedagte aan die Here gegee word nie (Luk 17:26-30). Niemand was die Here te wagte nie. Erger nog, niemand het hom/haar aan die Here se woord werklik gesteur nie! En dit was en is fataal!  Wat vas staan, is dat die dag kom.

In aansluiting by wat die Ou Testament en Jesus oor die dag van die Here gesê het, teken Petrus hier `n katastrofe van kosmiese omvang (3:10; vgl ook Jes 13:10-13; 24:19; 34:4; 64:1-4; 66:16; Joël 2:1,2,30,31; Sef 1:14-18; Miga 1:4; Matt 24:29,35; Luk 21:25). Hoewel dit nie sonder meer duidelik is wat die skrywer onder die verskillende terme wat hy gebruik, verstaan het nie, is een ding wel duidelik: Die dag van die Here ontketen ’n proses waarin van die fisiese werklikheid (aarde en hemel) soos aan die mens bekend, niks oorbly nie (vgl ook 3:12b). Oorheersend in die beeldspraak is die allesverterende vuur. Volgens die stoïsyne sou dié vuur, aanwesig in die kern van alle materiële verskynsels, op ’n gegewe oomblik ’n algehele vernietig van die materiële werklikheid ontketen. Daarnaas was daar ook die spiritualiste wat die vernietiging tot die spirituele beperk het. In teenstelling met beide hierdie rigtings handhaaf Petrus die realisme van die Hebreeuse denkwêreld wat die materiële sowel as die spirituele insluit (Bolkestein).

5.5 Waar die tema ’n eeu en meer gelede nog as bespiegelende fiksie afgemaak kon word, het die ruimteverkenning van die afgelope ses en meer dekades, ’n gebeure soos in breë trekke deur Petrus beskryf, ontstellend moontlik laat word. In 1979 het 9 satelliete van die VSA teruggesein dat daar in die N-49-sterrestelsel ’n enorme gamma-stralingsontploffing plaasgevind het. Dit het vir een tiende van ’n sekonde geduur. Volgens Doyle Evans, astrofisikus by die Los Alamos- wetenskaplaboratoriums in Nieu-Mexiko het dit meer energie vrygestel as ons son in 3 000 jaar. Het die ontploffing in ons stelsel gebeur, dan was die aarde en alles daarop ’n gaswolkie.

6.Die skrywer het ’n duidelike pastorale doel met hierdie skrywe wat tegelyk oproep en waarsku. Let ook op sy herhaalde aanspreekvorm van die gelowiges, te wete “geliefdes” (3:1,8,14,18).

6.1 Teen die agtergrond van die uiters somber verwagting dat die werklikheid (hemel, hemelliggame, aarde) wat tans aan die gelowiges bekend is, gedoem is tot algehele vernietiging in ’n siedende vlammesee, omlyn Petrus die geloofsperspektief waarmee die gelowiges dit alles moet tegemoetgaan (13). Letterlik vertaal: “Maar ons verwag nuwe hemele (meervoud) en ’n nuwe aarde (enkelvoud) volgens sy belofte waarin geregtigheid woon.” Gedra deur hierdie belofte van die Here, kan die gelowiges die toekoms tegemoetgaan. In die somber einde wat oor alles kom, klink reeds die koms van ’n totaal nuwe werklikheid deur. Dit is ’n werklikheid waarin die wil van God sal heers. Die geloofsoog van die gemeente is dus nie op iets gerig nie maar, op Iemand, hulle Here en Verlosser, Jesus Christus (3:2,18; vgl ook Hebr 12:2,3).   

6.2 In die eerste plek moet hulle deurlopend vanuit hierdie wete leef. Om dit te kan doen, moet hulle weer “helder dink” aan sowel die “woorde van die profete” as die “gebod van Here en Verlosser” wat deur die apostels aan hulle oorgedra is. Met ander woorde die boodskap van ou en nuwe bedeling het hierdie een lewensbelangrike rigpunt: die dag van die Here. Miskien is dit ook belangrik om daarop te let dat die Ou-Testamentiese voorsegging van die “dag van die Here” en die Nuwe-Testamentiese verkondiging van die “dag van Christus se wederkoms” hier saamval. Dit is die finale kulminasiepunt van gerig/oordeel en genade/redding as sy en keersy. Aan dié dag word die gemeente in hierdie hoofstuk by herhaling “herinner” en opgeroep “om te weet”, “nie te vergeet nie”, “op hulle hoede te wees”, “hulle te beywer” en “te sorg om toe te neem in die kennis van die Here”. Sodoende word die skrywe dus ’n besonder kragtige oproep aan gelowiges om nie in hulle wederkomsverwagting te verslap nie.

6.3 Verder is dit duidelik dat die verwagting van die dag van die Here ook belangrike etiese implikasies vir die gelowiges se daaglikse lewe het. Die eskatologiese indikatief het as onlosmaaklike teenhanger die etiese imperatief (Bolkestein, Green). Daarom is die brief ’n ewe kragtige oproep tot ’n nuwe manier van lewe. Die gelowiges moet in skerp teenstelling met die ellende (Gr apoleia – miserere) van die wat sonder enige eerbied vir God (Gr asebeia) optree, in al hulle optredes/gedragswyses heilig (Gr hagiais anastrophais) wees en in alle godsvrug (Gr eusebeiais) lewe (3:7,11). Dit moet die gelowiges se ernstige strewe wees om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe (3:14). Hulle lewens moet gekenmerk word deur ’n toename/groei in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus (3:18).

Die wagtyd is dus alles behalwe ’n dralende verveling. Inteendeel, dit is ’n dinamiese tyd van intensiewe groei in die geloofskennis en vertroue, van aktiwiteit in diens van die Here wat sy genade aan alle mense wil bekendmaak. In die sendingwetenskap van die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu is veral heelwat geskryf oor die “tussentyd” – die tyd tussen die eerste en tweede koms van Christus – as by uitstek die tyd van die sending. Klem is gelê op die roeping van die Christelike kerk om dié tyd te benut vir getuienis (woordverkondiging) en diens (barmhartigheid, samelewingsontwikkeling, ens). Die aandrang is versterk met allerlei statistieke oor die onvoltooide taak (AH van den Heuvel) asook die besef dat die tyd kort is. Immers, niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. In plaas van te tob oor die vraag waarom die belofte van die wederkoms nog nie in vervulling gegaan het nie, is kerke opgeroep om “die tyd uit te koop, omdat die dae boos is” (Ef 5:16).

7. Die preekgeskiedenis van die gedeelte lewer ook interessante perspektiewe op.

7.1 Wat die kerklike jaar betref, hang die plasing daarvan dikwels af van willekeurige keuses van een of meer verse. Smelik fokus op 3:8, 9 en handel oor ons belewing van tyd: menslike tyd of juis ’n gebrek daaraan en God se tyd. Van laasgenoemde weet ons min. By God is tyd genade. Veldkamp wys in sy reeks oordenkinge oor die Dag van die Seun van die Mens (1954!) in die gedeelte oor Parousie en Wetenskap, op die groeiende ontnugtering by diegene wat in Petrus se tekening van die laaste dae ’n lagwekkende sprokie gesien het. Wetenskaplike bevindinge het “die sprokie” begin invul met wat eers as ondenkbaar beskou is, as aanwesige werklikheid. Hy verwys dan na die atoomnavorsing en die ontwikkelinge op tegniese en elektroniese gebied. Sy fokus val vermoedelik op 3:7, 10-13.

Vier preekstudies uit die Duitse wêreld handel oor die voorgeskrewe Skrifgedeelte 3:8-13/4. In al die gevalle het die bewerkers die perikoop uitgebrei om ook 3:3-7 in te sluit. Die opvallende is die uiteenlopende geleenthede in die kerklike jaar waarvoor dit aangebied is, te wete Sondag na Triniteitsondag (1983 W Dietsfelbinger), Laaste Sondag van die kerkjaar (1983 G Voigt), Dodesondag (1995 H Kümmel), Dodesondag (2002 R Stieber) blykbaar ook die laaste Sondag van die jaar.

Dietsfelbinger beklemtoon veral die genade/lankmoedigheid van God wat die moderne mens met sy skuldgevoel oor die verlede en sy angs vir die toekoms tegemoetkom. Vir hom lê die kern van die gedeelte in die belofte van ’n nuwe toekoms wat deur geregtigheid gekenmerk sal word. Dit bied aan die mens hoop.

Hans Kümmel neem as tema die vraag: Wag ons dalk tevergeefs op Christus? Die Skrifgedeelte wil ons help om: 1) In God se terme oor tyd te dink, 2) God se geduld te benut, en 3) Ons te verbly oor God se nuwe wêreld.

Die preekstudie wat my persoonlik die meeste bevredig het, is dié van Rolf Stieber met as oorhoofse tema: “Om die leidrade van die hoop op te neem”. Ons moet egter in ag neem dat hy dit binne die raamwerk van Dodesondag bedink het. Hy handel dan agtereenvolgens oor;

1) Wanneer die “laaste dinge” nader tree (binnetree, naby kom). Die perikoop wil in gesprek tree met ’n siek hoop wat dreig om te sterf. Die probleem is dat die toekomsverwagting nie net in die dogmatiek onder die sogenaamde “laaste dinge” aan die orde kom nie maar ook in ons lewens neem dit ’n laaste plek in. Dit funksioneer nie in die beslissingskern van ons bestaan nie. Petrus wil dit egter omkeer as hy die Christelike hoop/verwagting so sterk na vore laat tree (12,13)

2) Dinge gaan nie altyd bly soos dit is nie. ’n Belangrike aanleiding tot hierdie skrywe van Petrus was juis die afbrekende invloed van spotters. Hulle het naamlik die gedagte aan ’n wederkoms verwerp en volgens hulle eie begeertes gelewe. Hulle argument was dat alles nog is soos dit van die begin van die skepping af was. Die skrywer wys nou daarop dat dit ’n a-historiese en dus ernstige foutiewe argument is. Tussen die wêreld soos ons dit vandag ken en die eerste wêreld aan die begin, lê die sondvloed. Soos die eerste vanweë die sonde van die mens met water vergaan het, so sal die tweede om dieselfde rede deur vuur vernietig word (5-7, 10-12). Dié vernietiging verteenwoordig ’n volledige breuk en is nie maar net ’n oorgang na ’n nuwe beter wêreld nie. Wat God belowe, is ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waarop geregtigheid sal heers. Indien die vervulling van die belofte uitbly, is dit nie onverskilligheid of onvermoë aan die kant van God nie. Nee, die Here se tydrekening werk totaal anders. Vir Hom is duisend jaar soos een dag. Hy is dus lankmoedig en genadig en begeer dat alle mense tot bekering moet kom.                                                                                                                                                                                                                   

3) Kan die kwynende hoop herstel? Die perikoop antwoord bevestigend.

Uit wat tot dusver bespreek is, het dit duidelik geword dat dit dringend noodsaaklik is om aandag te gee aan die tema van die wederkoms van Christus en aan die verwagting wat in dié verband in die Christelike gemeente behoort te lewe. Dit is dus van besondere belang dat dié tema vanjaar gedurende die Adventstyd ter sprake gebring word.

Preekvoorstel

1. As Christelike gemeente bely ons elke Sondag dat ons glo in Jesus Christus wat na sy opstanding aan die regterhand van die Vader sit, “van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het”. Ons verwag naamlik met die kerk van alle eeue die wederkoms van Christus om die finale oordeel/gerig oor die mensewêreld te kom voltrek. Die gedeelte wat ons saam gelees het, noem dit “die dag van die Here” (3:10) en “die dag van God” (3:12). Met dié belydenis behoort ’n bepaalde inhoud en gerigtheid aan ons geloofsverwagting vir die toekoms gegee te word.

2. Die jammerlike feit is egter dat ons wederkomsverwagting feitlik nie funksioneer in die daaglikse lewe van die gemeente nie. Die wederkoms van Christus funksioneer nie as oriënteringspunt op die agenda van ons kerklike beplanning en projekte of in ons individuele lewe nie. Geen wonder nie dat dit in die dogmatiek aan die einde kom onder die rubriek: Die Leer van die Laaste Dinge. Sodra dit egter na die voorgrond gebring word, soos met spesiale dienste of soos met die oorgang na die derde millennium, dan vind sommige dit vreemd en dweepsiek. Half spottend word gevra of mense wat oor die wederkoms praat, realisties is. Hierdie sarkastiese sinisme klink min of meer soos dié van die spotters na wie Petrus verwys (3:3, 4). Soos in sy tyd word dié misplaaste entoesiasme doodgegooi met allerlei onomstootlike argumente, soos byvoorbeeld dat daar nog deur al die eeue niks gebeur het nie en dat die aarde nog is soos aan die begin. Van die belofte van die wederkoms het daar tot nou niks gekom nie!

3. Petrus ontmasker egter hierdie houding as ’n jammerlike misrekening (3:3-7). Mense wat so redeneer, ken nie die geskiedenis nie, en erger nog, ook nie die woord van die Here nie. En Petrus het nie eers die kennis wat paleontologiese en argeologiese navorsing bied, tot sy beskikking gehad nie. Hy kon egter verwys na die sondvloed en na die uitwissing van Sodom en Gomorra. Maar wat die moderne argeologie en paleontologie nie kan doen nie, is om dit wat in die toekoms wag, bekend te maak. Daarin kom die woord van die Here ons tegemoet. Dié woord onthul dat daar ’n dag kom, die dag van die Here, waarop die hemel, die hemelliggame en die aarde met ’n oorverdowende geluid in ’n siedende vlammesee sal verdwyn (3:10). Hoe dit presies sal wees, kan ons ons nie voorstel nie. Ter illustrasie kan hier verwys word na die gammastrale uit die ontploffing in die N-49-sterrestelsel (item 5.5 hierbo). Op die dag sal ook die goddelose mense veroordeel en verdelg word (3:7c). Wat ’n ontsettende en verootmoedigende gedagte …

4. Die Here tree egter ons verbystering binne met ’n dubbele trooswoord. Dit skort nie aan sy voorneme om sy gerig in werking te stel nie. Nee, dit kom onafwendbaar (3:9). Wanneer, weet niemand nie. Al wat ons weet, is dat dit so onverwags sal kom soos ’n dief (3:10). Die feit dat dit uitbly, het nie met sy onvermoë of blote argeloosheid te doen nie. Nee, daarmee bied die Here genadetyd aan almal wat nog onverskillig en godvergetend lewe, almal wat nog in die strikke van die kwaad gevange sit. Vandag is genadetyd, tyd om tot bekering te kom. Ja, God wil hê dat almal tot bekering moet kom! (3:9). Ons tyd is dus vol ondeurgrondelike genade. Die gelowiges se troos is egter meer as net die genade vir vandag. Ook die toekoms word voor hulle geloofsoog oopgestoot. “Ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (3:13). Dit is ’n onvoorstelbare wonder wat voor die oorweldigde gelowiges/gereddes ontvou.

5. Ja, ons het reg gehoor. Ons verwag ’n nuwe aarde waar die wil van God sal heers. Dit beteken dat daar geen plek vir ongehoorsaamheid sal wees nie. Die gewelddadige vernietiging van die ou hemel en aarde is juis te wyte aan die sonde. Daaraan sal ’n einde gemaak word. Daarom moet gelowiges des te meer vroom en aan God toegewy lewe (3:11). Hulle moet hulle beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe (3:14). Hulle moet sorg dat hulle steeds toeneem in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus (3:18). Die opdrag tot so ’n dinamiese Christelike lewe is ten nouste verbind met ’n lewende wederkomsverwagting en omgekeerd. Van lewensontvlugting is hier geen sprake nie, want die brief is bedoel om ons “weer helder te laat dink” (3:1).

Bibliografie

Bauckham, R J.  Jude, 2Peter (WBC); Bolkestein, M H.  De Brieven van Petrus en Judas (PNT); Combrink, H J B.  2 Petrus 3 (WtL I/6); De Vries, E. 1 en 2 Petrus (PBV); Goppelt, L. Theologie des NT; Greijdanus, S. 1 en 2 Petrus (KV); Groenewald, E P. Die Briewe van Petrus, Judas; Ladd, G E. A Theology of the NT; Mounce, R H. A Living Hope; Reicke, Bo. The Second Epistle of Peter (Anchor); Verhey, A. The Great Reversal. Ethics and the NT; Dietsfelbinger, W.  Hören und Fragen; Smelik, E L. Vijfde Postille; Voigt,  G. Homiletische Auslegungen…Vol VI.           

Related Media
See more
Related Sermons
See more