Eksodus 17=1-17 LR2005
Eksodus 17:1-17 LR2006
28 FEBRUARIE 2005
derde SONDAG in lydenstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks: Eksodus 17:1-17
Ander tekste: Psalm 95; Romeine 5:1-11; Johannes 4:5-42
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Inleiding
Die storielyn van hierdie tekste loop uit op die aangrypende belydenis van die Samaritane in Johannes 4:42: Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.
Dié lyn begin by die vraag in Eksodus 17:7 “Is die Here by ons of nie?” en hoe die Here se geduld daardeur op die proef gestel is. In elkeen van die tekste is die verrassende telkens dat God mense wat dit glad nie verdien nie, red en verlos. In hierdie liturgie moet die gemeente dus iets ontdek van ons eie onwaardigheid en die verrassende dat God in Jesus Christus ons ook gered het. Totaal onverdiend, sodat ons ook maar net kan bely dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.
God versamel ons voor Hom
Moment van bewuswording
Sien die basisliturgie vir musiek wat voorgespeel kan word.
Aanvangslied
Psalm 100: 1-3
Aanvangswoord
God is hier teenwoordig; laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader. God is hier teenwoordig. Heilig is die Here; buig in stilte, Hom ter ere! Wie Hom roem, wie Hom noem Heer en Hemelvader kom nou almal nader. Amen. Lied 159:1
Seëngroet
God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.
Die Wet
Eksodus 20:1-17 en Psalm 95:7b-11
Skuldbelydenis en verootmoediging
Lied 389:2/NSG 97
Vryspraak
Romeine 5:1, 2
Lofprysing en aanbidding
Voorganger: lees Psalm 95:1-7a
Gemeente” sing Psalm 29:1-5
Diens van die Woord
Gebed vir die opening van die Woord
Lied 257:1-3/NSG 332
Kindertyd
Gebruik die preekvoorstel en sit dit om in verstaanbare taal vir die kinders en op ’n wyse wat hulle bekende leefwêreld aanspreek.
Skriflesing
Prediking
Dankgebed en voorbidding
Voorganger gaan voor in vrye gebed
Diens van die tafel
Tafelgebed en instelling van die nagmaal
Geloofsbelydenis
Voorganger: Noudat ons beleef het dat die Here ons ook onverdiend gered en verlos het, kan ons bely soos die Samaritane in Johannes 4:42:
Gemeente: hardop – Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.
Uitsending
Offergawes
Sien die basisliturgie vir die Lydenstyd vir musiek wat hier voorgespeel kan word.
Antwoordlied
Lied 388:1-3/NSG 103/96(A)
Seën
Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee. Amen
Slotlied
Lied 309:1-3/NSG 267
PREEKSTUDIE – EKSODUS 17:1-7
Teks
Die hele Eksodus is ’n godsdienstige reisverhaal. Israel se groot trek uit die land van slawerny is die agtergrond waarteen hoofstuk 17 afspeel.
Die boek Eksodus kan opgedeel word in vier afdelings:
A. Goddelike bevryding en lof as reaksie: 1-15:21
B. Voorsiening vir die volk: 15:22–18
C. God se verbond en mense se verpligtinge: 19–24
D. God se teenwoordigheid en mense se ontrou: 25–40
Eksodus 17:1-7 val dus binne die deel waarin van God se voorsiening van middele vir oorlewing in die woestyn vertel word. In die woestyn is basiese middele soos water, brood en vleis noodsaaklik vir oorlewing. Ook skaduwee en rigtingwysers.
Vers 1. Dis onbekend waar Refidim geleë was. Hierdie onsekerheid kan juis in die prediking benut word omdat dit dui op die afgeleënheid en blootgesteldheid van die Israelitiese woestynreisigers.
Vers 2. Die woord ríb word in Afrikaans vertaal met “rusie maak”, maar kan eerder verstaan word as om in `n regsgeding betrokke te raak. Die naam van die plek Meriba word hiervan afgelei. Die dorstige Israeliete beskou dit as hulle “reg” om Moses, die leier wat hulle die woestyn ingelei het, verantwoordelik te hou vir die ontbering wat hulle ly. `n Bedoeïene-groep kan van hulle sjeik verwag om kennis te hê oor die ligging van oasisse en waterfonteine. Maar Moses ontken implisiet dat hy die leier van die volk is. Deur hulle gekerm en gekla is hulle besig om die leiding van die Here (wat soms wel onverstaanbaar is) te bevraagteken. By `n vorige onmin het Moses ook die klagtes wat teen sy kop gegooi word, gedeflekteer na God wat in beheer is van die reisprogram (16:7-8).
Vers 3-6. Die verwysing na die probleem van God se gesag en leiding verlig nie die dringende nood nie. Verdere warm argumente tussen die leier en die volk loop uit op die punt waar Moses vir sy veiligheid vrees. Moses is skynbaar meer begaan oor sy veiligheid as oor die welsyn van die mense. God reageer nie op sy vrees oor sy leierskap en veiligheid nie, maar gee onmiddellik aandag aan die probleem van waternood.
Moses moet dieselfde kierie wat vroeër die Nyl se water in bloed verander het, gebruik om hierdie keer bruikbare water te bewerkstellig. Die kierie is `n aanduiding van God se gesag. Dis nie `n towermiddel nie. Dit bewerk die wonder slegs op God se bevel en in sy teenwoordigheid. Moses moet die kierie vat en verby die volk stap. Hy moet met die leiers as getuies tot by die rots Horeb stap, waar hy dan die rots moet slaan. God bewerk dus die wonder deur Moses, die kierie en die rots. Die verteller onderstreep dat net God die bronne van die lewe kan gee, maar dat Hy deur mense werk. Horeb was bekend as `n plek waar Jahwe kragtig teenwoordig was. Dis net in hierdie omgewing waar die soewereine God teenwoordig is, waar `n rots getransformeer kan word tot `n waterfontein.
Vers 7. Die verteller fokus aan die einde van die verhaal nie op die verwondering van viering van die wonder wat God gedoen het nie, maar op die twee name van die plek waar die volk met Moses in `n geding getree het en God se geduld beproef het: Meriba en Massa.
Konteks
Kommentators en predikers neem verskillende vertrekpunte by die hantering van hierdie perikoop. Fretheim wys op die verbintenis van gehoorsaamheid aan die wet en die voorsiening van middele deur God. Die Sinai-ervaring waar die wet aan die volk gegee sou word, is omring deur hierdie woestynstories. Die konteks waarin die wet vir Israel gegee word, is die lewe te midde van chaos en wanorde. In die woestyn heers chaos en leweloosheid, maar God gee gawes in die woestyn – kos, water en die wet – en dit wek kreatiewe, positiewe moontlikhede. So beklemtoon Fretheim dat gehoorsaamheid te midde van die woestyn/chaos orde en lewe moontlik maak.
Susan Lampitt se invalshoek vir `n preek is die moderne mens se ongemak met wonderwerke. Het ons nog wonderwerke nodig? Hoekom is daar so `n duidelike diskontinuïteit tussen die Bybel waar wonders in `n konstante stroom gebeur, en vandag waar dit `n skaarste is?
Die film “Bruce Almighty”, waar die hoofkarakter geleentheid kry om `n week lank “God te wees”, het `n mens ook laat dink oor die konsekwensie daarvan dat God uitsonderings op natuurwette maak om iemand se behoeftes te beantwoord, wat dan `n negatiewe impak op ander gebiede teweegbring.
Hierdie derde Lydensondag val in die middel van die Lydenstyd, waarin talle lidmate deelneem aan een of ander vorm van vas. Dit is `n tyd waar sommige moedeloos mag raak oor die lang pad na die Paasfees en waarin die prediking oor die moeilike lydenspad van Jesus kan neig om lidmate neerslagtig te stem. Daarom pas die gekose RCL tekste baie goed as tekste van bemoediging en verkwikking. Eksodus 17:1-7 handel oor die voorsiening van water in die woestyn. Psalm 95 roep gelowiges op tot aanbidding, teen die agtergrond van Israel se murmurering. Romeine 5:1-11 herinner weer dat gelowiges vrygespreek is (verlede) en die huidige swaarkry moet sien as `n skoling in hoop (toekoms). Johannes 4:5-42 vertel hoe die moeë Jesus verkwik word deur water, en dat Hy die Samaritaanse vrou leer oor die “dieper dors”.
Preekvoorstel
Dis ’n woestynstorie hierdie. Die woestyn was die tussentyd vir Israel: tussen die bevryding uit slawerny en die ontvangs van `n nuwe land – die beloofde land wat sal oorloop van melk en heuning. In so ’n woestyntyd vra mense – ook gelowiges – maklik die vraag: Is die Here by ons of nie?
Ek het ook `n volbloed woestynstorie: Hoe ons `n jaar lank uitgesien het na ’n gesinsvakansie saam met vriende in Namibië. Die kar en sleepwa was so gelaai met proviand vir die drie weke lange tog, dat daar `n gat in die petroltenk oopgeskeur is vanweë die wrywing van klippers op die grondpaaie. Nadat ek dit laat herstel het, wou ek verlore tyd inhaal om weer by my gesin en vriende aan te sluit wat in die woestyn met tente staan. In my haas het my kar gerol. Ek was gelukkig ongedeerd, maar die kar is afgeskryf en ek moes terugreis Wellington toe om `n ander kar te kry, sodat ek my vrou en kinders wat in die woestyn wag, kan terugbring na die beskawing. Hulle wagtyd is egter verder verleng. Ook hierdie tweede motor het meganiese probleme opgedoen. Hulle verblyf is ook bemoeilik deurdat hulle alleen (want die toergroep moes voortgaan), stofstorms, sprinkaanplae en verveling moes trotseer. In daardie soort omstandighede begin jy ook soos die Israeliete dink: Is die Here by ons of nie? Want in so `n krisis maak mense nie net rusie met mekaar en met die leier van die ekspedisie nie. God se voorsienigheid kom ook onder skoot.
`n Legende oor hierdie rots wat water verskaf, het by Horeb rondom die einde van die Ou-Testamentiese periode bestaan: Dat dit by sy voetstuk afgebreek en agter Israel aan gerol het, soos die volk getrek het. Dit het gestop waar die volk stop, altyd regoor Moses se tent. En dat daar dan twaalf stroompies uitgevloei het, een vir elke stam. Paulus gebruik ook die legende in 1 Korintiërs 10:3-4.
Maar wat is die punt van die verhaal in Eksodus 17? Die verhaal het `n struktuur wat tipies is van God se optrede en van Jesus se wonderwerke (en wat ons ook aantref in televisie-advertensies). Die probleem word geskets, die nood word dramaties uitgespreek, God tree in met die uitkoms, en die mense slaak `n sug van tevredenheid met die oplossing.
In die middel van hierdie verhaal staan die getroue, magtige God. Hy is die spilpunt van menslike drama wat nood omswaai na geluk – van honger na versadiging, van dors na water, van blindheid na sig, van melaatsheid na heelheid, van armoede na welsyn en uiteindelik van dood na lewe.
Televisie-advertensies vervang net God met die produk wat hulle wil verkoop. Die probleem kan talle dinge wees: dowwe hare, eensaamheid, spanning of slegte reuke. As jy hierdie produk gebruik, word jou lewe getransformeer: glansende hare, vriendskap, kalmte, gewildheid en geluk.
Sulke advertensies berus op `n valse beginsel. Die produk kan wel met ’n bestaande probleem afreken, maar dit kan nie die blydskap en welsyn skep wat so klokslag as `n bonus beloof word nie. Produkte en dienste wat verkoop word, kan nie wonders verrig nie. Net God kan. Hy gebruik wel mense en middels soos Moses en sy kierie. Maar dis God wat die wonder verrig. Dis die eerste punt van die woestynverhaal. Maak nie saak hoe ons woestyn vandag lyk nie, God kan en wil ons wonderlik help.
Die tweede punt is dat ons nie godsdiens mag gebruik soos wat ons in hierdie verbruikersamelewing alles om ons, en selfs mekaar, gebruik nie. In `n verbruikersgodsdiens word God beoordeel vanuit `n nuttigheidsbeginsel. Ons praat mos van uitkomsgebaseerde onderrig. Dit wat uitkom aan die einde van die onderwys/opleiding, moet bruikbaar wees vir die studente/leerders en vir die samelewing. So kom die Israeliete tot die slotsom dat God onmoontlik by hulle kan wees, as die uitkoms is dat hulle op `n plek land waar daar geen water vir hulle en hulle diere is nie.
Dis ’n versoeking waaraan ons almal op in die een of ander stadium ly: Ons wil God verplig om homself te bewys op die manier wat ons voorskryf. Ek doen dan my deel vir die Here. Hoekom bars ek om eksamens deur te kom, en my maats wat roekeloos is oor die bestaan van God, slaag met vlieënde vaandels? Ek doen my bes vir die Here en sy kerk, maar ek is soveel armer as ander wat geen erg het aan God of gebod nie?
Daar was ’n stadium dat ekself my versekering op huisinhoud en my motors gestaak het, en die Here amper verplig het tot `n ooreenkoms: Ek gee my dankoffer vir u kerk; pas asseblief my goed op. Daar was tye dat ek onverskillig bestuur het, en dan baie verontwaardig gevoel het dat Hy my nie van ’n motorongeluk bewaar het nie.
Dit is om `n misplaaste verbruikersgodsdiens te beoefen. Om God te programmeer om wonders te doen ter wille van my behoefte.
Daar is ’n verstommende teks in Daniël 3 waar Nebukadneser vir Sadrag, Mesag en Abednego dreig dat hy hulle in die hoogoond sal gooi, as hulle bly weier om voor sy afgodsbeeld te buig. Dan antwoord hulle: “Ons God het die mag om ons te red uit die brandende oond. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons nie u god sal dien nie.” Dis totale oorgawe. Dis nie `n verbruikersgodsdiens nie. Ook al daag die tekens of bewyse dat God by ons is, nie soos ek bid op nie, glo ek in God wat voorsien. Laat ons op ons woestyntog reis met die vertroue dat die Here by ons is. Hy het tekens vir ons gegee om ons daaraan te herinner: brood, wyn en water.
Bibliografie
Durham, J I. 1987. Exodus; Knight, G A F 1976. Theology as narration; Noth, M 1966. Exodus a commentary; Fretheim, T E 1990. Interpretation: Exodus; Brueggeman, W 1994. New Interpreter’s Bible, Vol 1; Propp, W H C 1998. Exodus 1-18.