Eksodus 12 LR2006
Eksodus 12 LR2006
9 Julie 2006
Vierde Sondag in Koninkrykstyd
Liturgiese voorstel
Fokusteks: Eksodus 12
Ander tekste: 1 Samuel 17:1-49; Psalm 9; 2 Korintiërs 6:1-13; Markus 4:35-41
Inleiding
Ons vier hierdie Sondag die verhaal van God wat sy mense red. Dit is sy geaardheid om mense in nood te red. Dit is die allerbelangrikste om van God te ontdek. Daarom moes God se reddingsdaad elke jaar in die eerste maand van die jaar gevier word; mense se lewe is van begin tot einde hierdeur bepaal (Eks 12). Die digter in Psalm 9 sing en juig oor presies dieselfde saak en in Markus 4 maak God Homself in Jesus van Nasaret presies so bekend: Hy heers oor die magte (farao en die seegod); Hy verlos sy mense uit hierdie mag al lyk dit of die stormkrag van die afgode te sterk is.
Diensorde
God versamel ons voor Hom
Aanvangswoord
“Gód het ons hier voor Hom saamgebring.”
Alternatief
Voorganger: God het ons hier voor Hom saamgebring in die Naam van Jesus, die Christus.
Gemeente: Met ons hele hart wil ons U prys, Here.
Voorganger: Ons wil van u magtige reddingsdade vertel.
Gemeente: Toe U verskyn het, het u vyande gevlug.
Voorganger: Oor U wil ons ons verbly en vrolik wees.
Gemeente: U Naam wil ons besing, o Allerhoogste! (uit Ps 9).
Alternatief
Lees net gedeeltes uit Psalm 9 voor wat by die aanvangswoord inpas.
Seëngroet
Loflied
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors” en Lied 48:1, 2, 4; NSG 167 of 151.
Diens van die water
Lees by die doopvont Markus 4:35-41 of vertel die verhaal vir die kinders rondom die doopvont: God vat ons “bang” vir alles weg omdat Hy ons stormwater (water van die see of water uit fonteine was oerwater wat mense met vrees bedreig het) in doopwater verander het wat ons vir Hom merk; sy gereddes vir altyd maak; ons vir altyd uit die gevaar verlos.
Skuldbelydenis
Eksodus 12:14-20 (Fees van die ongesuurde brode)
Iemand wat God se redding gesmaak het, aan sy lyf ervaar het, moet alle “suurdeeg” (simbool van onreinheid/ onheiligheid) uit sy/haar lewe weer. Nie net sewe dae nie, maar elke dag. Ons doop roep ons om heeltemal aan God toegewy te lewe. In Eksodus 20 klink hierdie toewyding soos volg: Lees die Wet.
Sang
Sing Lied 247 “Heer wees ons genadig”; NSG 233 “Kyrie, eleison”
Vryspraak
Lees 2 Korintiërs 6:1-2
Geloofsbelydenis
Lied 601:1,4 “Dié wat die Here wil dien”
Diens van die woord
Gebed om die opening van die Woord
Ps 119:25-32 word alleen of as deel van die gebed gebid.
Skriflesing
Eksodus 12:1-40 (Laat ten minste drie persone, volwassenes en kinders, hulle goed voorberei om die gedeelte voor te lees. Instelling van die fees, die tiende plaag en farao laat die volk trek.)
Prediking
Respons van die gemeente
Vra die gemeente, indien moontlik, om te vertel hoe die redding van God uit die nood van 2006, soos hulle dit ervaar, werk. Gee geleentheid vir respons en getuienisse.
Respons van die gemeente
Lied 501-503 as moontlike response
Diens van die tafel
Gereedmaak van die tafel en offergawes
Indien die nagmaal nie gevier word nie, kan die volgende nagmaalsherinnering by die tafel gedoen word: Neem die brood en wyn op die tafel en lees/of laat iemand anders weer die gedeelte uit Eksodus 12:22-27 lees. Laat iemand met ‘n dankgebed antwoord.
Indien die nagmaal gevier word, volg die diensorde soos uiteengesit.
Vredeshandeling
Opsioneel
Formulier
Lees Deel 2.
Voorbidding
Lofprysing
Kan Psalm 103 gebruik.
Uitsending
Voorganger: Ons sal mense nie meer oordeel nie.
Gemeente: Lied 247; NSG 233 “Heer, wees ons genadig”
Voorganger: Ons sal met die maat van liefde uitmeet soos dit vir ons nou uitgemeet is.
Gemeente: Lied 247; NSG 233 “Heer, wees ons genadig”
Sang
Lied 522:1,4 “U liefde en u trou”
Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”
Lied 531 “Ons Here, God van alvermoë”
Lied 250 “Gods wet vra enkel liefde”; NSG 272
Seën
“Ek sal jou seën en jou iemand
van groot betekenis maak,
en jy sal tot ’n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën.
In julle verbondenheid met Jesus Christus
sal die volke van die aarde geseën wees” (uit Gen 12:1-2; NAV).
Gemeente: Lied 313 “Amen”; NSG 355
preekstudie – EKSODUS 12
Teks
Die Leesrooster-teks vir dié Sondag is `n lang hoofstuk. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel (NAV) word Eksodus 12 onder vier opskrifte verdeel. Die eerste (1-28) en laaste (41-51) paragrawe handel oor die Paasfees en omsluit twee paragrawe oor die uitvoering van die tiende plaag (29-30) en die farao se finale besluit om die Israeliete te laat trek (31-40). Wanneer hoofstuk 12 op sy eie gelees word, vorm die Paasfees-tema `n raam rondom die uittog-tema. Só word die klem van die hoofstuk ook vir die prediking uitgelig. Volgens Fensham vorm die Pasga die klimaks van die verhaal oor die tien plae (vgl Nel). Die eersgeborenes van die Egiptenare dien as Paasoffer vir die Here, terwyl die Israeliete deur die bloedritueel hul eersgeborenes red.
Eksodus 12 noop ons om terug én vooruit te lees in Eksodus; terug na ten minste hoofstuk 10 en vooruit na ten minste hoofstuk 13. Sodanige lesing openbaar `n herhalende patroon. Die NAV beskryf die tema van Eksodus 10:28-11:10: “Die tiende plaag word aangekondig.” Die tema van die tiende plaag word weer in 12:29-30 opgeneem, met die voorspelling-uitvoering-patroon. `n Ander herhalende tema wat met die tiende plaag-aankondiging en uitvoering saamhang, is dié van die eersgeborenes. In Eksodus 11:5-7 kondig Moses God se voorneme aan; God gaan die eersgeborenes van Egipte laat sterf, maar onder die Israeliete sal niemand omkom nie. In 12:29 sterf die Egiptiese eersgeborenes, maar in 13:1-2 sê God die eersgeborenes van Israel is sy eiendom: “Dit is Myne”. Hy eis dat elke eersteling wat in Israel gebore word, aan Hom gewy word as herinnering aan God se verlossing van sy volk uit die slawerny van Egipte.
Die Eksodus-teks openbaar `n kunstige patroon van herhalende temas, asook van aankondiging/voorspelling en vervulling. Dit word verweef met die instelling van `n ritueel met praktiese voorskrifte. Met dié patroon word die verweefdheid van ritueel (Paasfees), heilsgeskiedenis (uittog) en God se seën (eiening en wyding van eersgeborenes) blootgelê. Daarmee word die inhoud (boodskap) van die viering van die Paasfees, asook die belangrike funksie (herinnering en geloofsvorming) van die ritueel aangedui (vgl Burger). Die viering van die Paasfees is nie sonder historiese konteks nie. Israel se slawerny onder die farao van Egipte en die bevryding uit hul verknegting is `n historiese werklikheid met heilshistoriese betekenis (vgl Deist se bespreking van die verskillende verwerkings van hierdie verhaal deur die geloofsgemeenskap van Israel).
Met die instelling van die Paasfees (1-11) beklemtoon die Here belangrike aspekte daarvan. Die historiese moment waarop die Paasfees ingestel word, is so belangrik dat die Here dit as “belangrikste maand” op Israel se kalender uitlig en die primêre posisie van “eerste maand van die jaar” gee. Volgens Fensham laat die tradisie die uittog in die maand Abib (vgl 13:4), die “maand van die are”, plaasvind. Vers 2 veronderstel dat die jaar eers met `n ander maand begin het en dat die instelling van die Pasga daaraan `n verandering bring. Hier word `n nuwe periode in die geskiedenis van Israel ingelei.
Die tweede voorskrif raak die dag waarop die voorbereiding (tiende dag van “hierdie maand”) en slag van die Paaslam (veertiende dag van “hierdie maand” teen laatmiddag) moet plaasvind, asook die simbool (offer) vir die feesvieringe –- `n lam vir elke huisgesin van die hele gemeente van Israel. Die verdeling van die lam word beskryf (na die grootte van die gesin en elkeen se behoefte), asook die ouderdom en geslag (jaaroud rammetjie), kwaliteit (sonder liggaamsgebrek) en ras (skaap of bok). Die derde voorskrif handel oor die bloed van die lam wat aan die deurkosyne (elke huis waar Israel die lam gaan eet) gesmeer moet word. Vierdens word voorskrifte gegee oor die gaarmaak (braai in geheel) en eet (dieselfde nag, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, sodat niks oorbly nie). Die bitter kruie is simbool van Israel se swaar verdrukking in Egipte (Fensham). Vyfdens gee die Here voorskrifte vir die volk se voorbereiding om te trek (terwyl hulle eet, moet hulle gereed wees om te gaan). Eksodus se beskrywing van die ritueel weerspieël `n nomadiese bestaan wat die vorm van die fees tot met die rigterstyd bepaal het (Fensham).
In 12-13 verklaar die Here sy voorneme om die eerstelinge van die Egiptenaars te tref (in die nag wat die Paasfees gevier word) en lê Hy `n verband tussen die bloed van die lam aan die deurkosyne en sy voorgenome optrede (die bloed sal teken wees dat hy die huis moet oorslaan). Dit weer die dreigende onheil af (Fensham). Die naam pésah is ontleen aan die uitdrukking “verbygaan” of “verbyspring” (Fensham). Die uitdrukking “Ek is die Here!” (12) beklemtoon God se soewereiniteit om op te tree soos wat Hy Hom voorneem. Deur die dood van die eersgeborenes sal Hy sy almag bewys en die vonnis aan die gode van Egipte voltrek (Fensham).
In 14-16 gee die Here `n interpretasie van die betekenis van die dag, asook hoe dit gevier moet word (`n gedenkdag tot eer van die Here). Dit is `n dag wat as instelling deur die nageslag gevier moet word. Sewe dae lank met ongesuurde brood en geen suurdeeg in die huise nie. Die Here gee ook voorskrifte vir die eerste en sewende dag van die feesvieringe. Die riglyne vir die viering van die dag word in vers 17-20 herhaal. Daarmee word die belangrikheid van die voorskrifte beklemtoon en die detail van die feesvieringe by Moses ingeprent. Fensham wys op `n probleem rakende die verband tussen die fees van die ongesuurde brode en die verlossing uit Egipte. Terwyl die Paasfees `n nomadiese bestaan veronderstel, is die fees van die ongesuurde brode dié van landbouers. Eksodus 12 verbind die fees van ongesuurde brode met die uittog, wat op die vyftiende van die maand Nisan, direk na die Paasfees, gevier moet word. Omdat die magsdaad van die Here (wat die uittog bewerk) saamval met die einde van die fees van ongesuurde brode, moet laasgenoemde fees altyd gevier en met die uittog geskiedenis verbind word. Die rede waarom die suurdeeg nie gebruik mag word nie, is die verouderende werking daarvan op brood. Alles wat aan verderf onderhewig is, moet vermy word, want die Israeliete moet as nuwe volk uittrek.
In 24-27a dra Moses die Here se boodskap aan die Israeliete oor en beklemtoon twee groot aspekte van God se boodskap, naamlik: (i) die voorskrif oor die Paaslam en bloed aan die kosyne (vgl 1-11), en; (ii) die opdrag dat hierdie voorskrifte deur die geslagte geëerbiedig moet word (vgl 14-20). Moses voeg twee elemente by die gedagtes wat die Here aan hom oorgedra het. Hy koppel die feesviering met die landbelofte (25), “Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het ...” en beklemtoon die pedagogiese (opvoedkundige/kategetiese) karakter van die herhalende feesviering (26); “As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ moet julle sê ...” Die ritueel van die Paasfees skep dus geleentheid om teenoor die nageslagte te getuig van God se liefde en betrokkenheid by sy verbondsvolk. Die Paasritueel vervul `n soortgelyke funksie in die volk se geloofslewe, as wat die appeltjies en peertjies vervul wanneer die onderwyser die kinders wiskundige berekeninge leer (Naudé).
Vers 27b en 28 beskryf die gehoorsame reaksie van die Israeliete op die woorde van Moses en die voorskrifte van die Here. Die volk besef die heiligheid van hierdie oomblik en die erns waarmee die Here sy voorskrifte aan hulle gee. Daarom reageer hulle op die enigste gepaste wyse vir die situasie: “Toe het die volk in aanbidding gebuig.” Die Here se self-identifisering in 12, “Ek is die Here!”, word deur die volk erken as hulle Hom aanbid en voor Hom buig. Vers 28 beklemtoon ook die aspek van gehoorsaamheid, as gesê word die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses en Aäron beveel het (“cathechetische stof” vir die vader van die huis – Fensham). Die gesag van die Here se voorskrifte word in die volk se reaksie met twee begrippe beskryf: “aanbidding” en “gehoorsaamheid”. Hy is die Here wat die volk se lewe bepaal en rig.
Vers 29-30 beskryf die uitvoering van God se voorneme om die eerstelinge van Egipte te dood, asook die droewige reaksie van die Egiptenaars oor die dood in hul huise. Selfs die seun van Re (farao) is nie teen die onheil opgewasse nie. Die Here het met die gode van Egipte in gerig getree (Fensham). In 31-33 beveel die farao dat die Israeliete sy land moet verlaat. Sy woorde aan Aäron (31) eggo die Here se woorde aan Moses in 11:1: “Ja, hy sal julle onvoorwaardelik laat trek; hy sal julle selfs wegjaag hiervandaan.” Die farao voeg twee gedagtes by: “Gaan dien die Here soos julle gevra het!” (31) en: “En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan” (32). Dit is asof die mag van Jahweh, die God van Israel, die farao oorweldig het. Al staan hy nie in `n persoonlike verhouding tot die Here nie, erken hy hier is `n groter mag as hyself aan die werk (vgl Fensham). Ook die Egiptenaars pleit angstig dat die Israeliete gou moet trek.
Vers 34-40 beskryf die vertrek van die Israeliete uit Egipte. Hulle het hul ongesuurde brooddeeg saamgeneem (historiese verklaring vir die fees van die ongesuurde brode), asook die goed van silwer en goud en die klere wat hulle van die Egiptenaars geëis het (vgl die Here se opdrag in 11:2). Die Here het gesorg dat die Egiptenaars goed was vir die Israeliete (vgl 11:3). Die teks beskryf die omvang en samestelling (afhanklikes, weerbare manne, `n menigte mense van ander afkoms, groot troppe kleinvee en baie beeste) van die groep Israeliete. En as `n nagedagtenis (40) word gesê dat die Israeliete vier honderd en dertig jaar in Egipte was (die priesterlike bron – Fensham). Met dié tydsaanduiding word `n fase in die lewe van Israel afgesluit en begin `n nuwe lewe met die eet van ongesuurde brood – die teken van God se sorg en voorsiening in hul lewe.
Vers 41-51 is `n herhaling van die Here se voorskrifte (1-11) en Moses se oordrag daarvan aan die Israeliete (14-20). Hier is `n historiese beskrywing dat die trek inderdaad plaasgevind het, asook `n byvoeging dat die nag aan die Here behoort en dat die Israeliete met hul geslagte in die toekoms dié nag moet wakker bly (42). Vers 43-49 gee verdere voorskrifte oor wie mag aan die Paasfees deelneem. Geen nie-Israeliet nie, maar wel elkeen wat by Israel toegevoeg is en die teken van die Here se verbond dra; die besnydenis (44, 48). Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier (47). Die besonderhede van die voorskrifte word verder uitgespel (45-46); een stel reëls vir almal (49). Die gehoorsaamheid van Israel aan die Here se voorskrifte word herhaal (50) en die historiese verband van die feesvieringe met die uittog beklemtoon (51). In die NAV eindig die hoofstuk met die woord “bevry”. Die Here het die stamme van Israel uit Egipte bevry. (Die Hebreeuse woord is “uitgebring”.) Voortaan sal hulle vry van die farao se dwang wees en bevry tot diens van die Here hulle God.
Konteks
Ferdinand Deist gebruik die metafoor van `n argief wanneer hy oor gelowiges se identiteit praat. Hy sê: “Ons identiteit as gelowige mense lê ... opgesluit in die Bybelse argief: die Bybel vertel ... wat ons oorspronge is, hoe ons tradisie die wêreld sien, hoe dit die lewe sien, hoe dit na die verhouding tussen God en die wêreld kyk ... (Die) argiefdokumente ... sê dat God self in die geskiedenis ingekom het en Homself deur die gebeure van elke dag aan ons klein mierkolonie van mensies kom bekend maak het.” Hy sê verder dat ons `n spesiale soort “oog” nodig het om te sien wat God aan die doen was en steeds aan die doen is. Die eksodusverhaal het dit juis oor dié saak. Volgens Deist het die uittogverhaal minstens deur drie fases van ontwikkeling geloop: “eers was daar `n basisverhaal, daarna is die basisverhaal geredigeer en laastens is dit finaal geredigeer. Die hele proses het so om en aan driehonderd jaar geduur.”
In sy hoofstuk “Om vryheid te vier” bespreek Deist die laaste verwerking van die uittogverhaal (Eks 1-14): “Hierdie laaste verwerking het in ander omstandighede, uit `n ander perspektief en met `n ander doel voor oë plaasgevind. Daarom het dit aan die verhaal `n ander konteks gegee en daarmee waarskynlik `n nuwe betekenis. Dit was so om en by die laaste jare van die Babiloniese gevangenskap – wat met die jaar 538 vC ten einde geloop het ... Nou, in die moeilike omstandighede, moes dié ou verhaal, die verhaal oor hoe `n farao die oppergesag van God moes erken en wat vertel het van die skuld van die verlede, hulle weer nuwe krag gee ... Alles word ingespan om die hoorder te herinner aan die krag van God, aan sy mag oor alles en almal. Dit was `n boodskap wat só nodig was in die dae van moedeloosheid. Die priesters in Babel moes die erediens so goed moontlik aan die gang hou ... Hulle moes alleen maar die tradisies van die verlede lewend hou, die geloof in God laat bly brand. Daarom het hulle ook aan die oorgelewerde verhale gewerk om dit so in te klee dat dit die omstandighede van die tyd aanspreek.” Binne dié konteks, sê Deist, moet die betekenis van die laaste verwerking gesoek word.
Volgens Deist was die ballingskap-verwerkers van die eksodusverhaal uit die nageslag van Aäron en gedeeltelik daarom ook uit die geslag van Levi. Omdat Aäron die hoof van die priestergeslag was, vertoon hierdie verwerking egte priesterlike tendense. Vandaar die liturgiese karakter van ons teks wat die neerslag is van die laaste verwerking en tot uitdrukking kom in die beskrywing van die Paasrite. Dit kan gesien word as `n kerklike verwerking vir liturgiese doeleindes (Deist; vgl Burger se oordenking van hierdie gedeelte en sy gedagtes oor die rol van die liturgie in die kerk se geloofslewe). Elke deeltjie van die Paasrite word in dié verwerking van hoofstuk 12 tot in die fynste besonderhede beskryf (sien onder “Teks” hierbo). Volgens hierdie beskrywing is die mense wat aan die Paasfees, die bevrydingsfees, deelneem, gelowiges wat die mag en majesteit van God kom vier – die viering van `n gedeelde geloof. “Uit hierdie viering moet daar geloofsversterking kom, moet daar nuwe hoop gebore word, moet daar perspektief kom op `n skynbaar hopelose situasie: Perspektief op God se bestuur van die geskiedenis” (Deist). Hier gaan dit oor `n gemeente van gelowiges wat voor keuses gestel word – `n gemeentelike nadenke oor die geskiedenis. Daaraan moet die hele gemeente deelneem. Dit gaan nie hier om `n “rassuiwere” gemeente nie, maar oor die totale volk van God. Nel wys daarop dat die hoofstuk omraam word met die uitdrukking in 12:3 en 47: “die hele gemeente.” Daarom word die kerk van Christus weer op hierdie vierde Sondag in Koninkrykstyd 2006 opgeroep tot `n nuwe interpretasie van die instelling van die Paasrite en `n nadenke oor God se heerskappy in ons geskiedenis.
Die vraag oor God se betrokkenheid in die lewe van gelowige mense het tydens `n toer van die Kaaplandse Gesamentlike Kommissie vir Getuienis (NGK, VGK en RCA) in Augustus 2005 sterk onder die vergrootglas gekom. Die toerlede was verteenwoordigend van die kerke wat deel vorm van die Gesamentlike Kommissie vir Getuienis. Die besoek aan KwaZulu-Natal (Msinga en Makatini) het die toergroep ook by die Bloedrivier-monument laat draai. Daar is ons gekonfronteer met die gelofte van die Voortrekkers en die uitkoms van die slag van Bloedrivier. Dit was `n besondere ervaring om as Christene uit verskillende kulturele agtergronde met mekaar te besin oor die betekenis en interpretasie van die gebeure by Bloedrivier op 16 Desember 1838. Die groep het ook die Zoeloe-monument aan die oostekant van die Voortrekkerlaer besoek en kon oor die twee perspektiewe op die veldslag nadink. Die Zoeloe-interpretasie is dié van militêre strategie en `n negatiewe beoordeling van koning Dingaan se militêre vernuf. Die Voortrekkerinterpretasie is `n geloofsinterpretasie dat God die vyand oorwin het.
In die lig van Genesis 12 se instelling van die Paasfees en die Here se oproep dat die hele gemeente van Israel (alle gelowiges) in die toekoms hierdie fees moet vier en God se betrokkenheid by die uittog uit Egipte moet herdenk, kom die gelofte van die Voortrekkers en die verbintenis van die nageslag weer ter sprake. Dit is ook (vlg Deist) `n historiese gebeurtenis wat om interpretasie vra. Die gelofte om `n liturgie vir die toekoms en nageslag te ontwikkel (`n gedenkkerkie, `n jaarlikse erediens en om die dag as `n sabbat deur te bring) is ten diepste `n geloofsdaad. Hoe interpreteer die kerk van Christus hierdie historiese gebeure? Tot watter keuse bring dit ons wat bely dat God inderdaad die God van die geskiedenis is?
Die kerklike seisoen van Koninkrykstyd plaas die lees en oordenking van ons perikoop oor die instelling van die Paasfees, binne `n kerklik-liturgiese konteks. Ons lees Genesis 12 nie op Paassondag nie, maar wel in Koninkrykstyd van die kerklike kalender. Hickman (et al) sê: “Whether it is called “ordinary time,’ or “Season After Pentacost,’ or ‘Kingdomtide,’ each Sunday stands on its own as the Lord’s Day and should be considered in the light of the Scriptures to be read that day.” “In Koninkrykstyd deurdink en deurleef die kerk nuut sy lewe onder bestuur van die Heilige Gees. Die koninkryk van God word opnuut bedink, verryk en gevier. Verskeie lewensterreine word in die lig van die Woord betrag. Ons word by hernuwing geleer om daagliks in alle dinge voor en vir God te leef. Koninkrykstyd is om God se teenwoordigheid in ons bestaan te vier. Die liturgie self is `n wesenlike deel van die proses van vernuwing waardeur die Gees mense nooi om deel te word. Die dimensie van die koninkryk van God, hede verlede en toekoms, word gedurende die seisoen progressief in die liturgie weerspieël en deurleef. Die inhoud en impak van die ryk wat gekom het, steeds kom en gaan kom, kan hier in God se teenwoordigheid deurleef word. Sodoende word die koningskap van Christus planmatig tot fokus van ons ganse bestaan verhef” (Buvton). So bied die kerklike seisoen van Koninkrykstyd besondere geleentheid om die inhoud en betekenis van die Paasrite binne die konteks van God se koninkryk te bedink.
Dit is ook belangrik dat lidmate van die NG Kerkfamilie die konteks van die “Seisoen van Luister” verdiskonteer en Genesis 12 in die lig daarvan bedink. Die karakter van die seisoen is dié van `n ruimte waarbinne ons saam God se wil vir sy kerk hoor en leef. Die motivering vir sodanige seisoen is dat die kerk haar in `n wêreld bevind wat radikaal verander het, die sogenaamde postchristendom era. “Ons wil graag saam met al die lidmate van ons kerk toegespits luister om God se wil vir ons tyd te hoor. In hierdie tyd wil die kerk veral: ons gereformeerde identiteit herwaardeer; ons konteks verstaan en verreken; ons roeping duideliker verstaan en uitvoer” (Taakspan). Die manier waarop dit gedoen wil word, is om saam met al die lidmate te luister na God se Woord. Met die Paasrite wou die Here juis sy verbondsvolk oproep om stil te raak en te luister, opnuut te hoor wat Hy vanuit die historiese betrokkenheid by die uittog uit Egipte, vir elke nuwe geslag in hul nuwe omstandighede wil sê. Kom ons laat toe dat die liturgiese dramatisering van die Paasrite ons weer nuut laat hoor wat die Here vandag vir sy kerk ook in ons land sê.
Preekvoorstel
Met die oog op prediking uit Eksodus 12 sal ek ten minste aan die volgende aspekte aandag wil gee. Ter inleiding sluit ek by Nel se vraag aan: “In watter mate hou die passiwiteit in die kerk en eredienste verband met mense se belewing van die viering van die verlossing?” Hy vra of die Christelike Paasfees nog so aktueel deur lidmate beleef word dat hulle as ’t ware hul eie geskiedenis van verlossing deur God vier. In die lig van die liturgiese oogmerke van Eksodus voer Fretheim aan dat liturgie hier aan `n gebeurtenis voorafgaan. Die gebeure word as ’t ware liturgies afgeskop. Die fees vorm dus die lewe.
Tweedens val die fokus op Eksodus 12 se storie van die gebeurtenis. Die storie interpreteer die rituele handeling. Die storie gee aan die simbole en rituele inhoud, maar die rituele en simbole is ook deel van die storie. Die rol van verhale as meganisme vir leer en onderrig kom hier ter sprake (vgl Stanley Hauerwas se gedagtes oor die karaktervormende aard van verhale). In die Nuwe Testament sou die verhale van die Christelike geloofsgemeenskap begin bekend staan as `n “evangelie” – omdat dit verblydende “goeie nuus”-verhale van hoop is, wat ruimte gee, wat vergesigte open en nuwe lewensmoontlikhede skep (Burger).
In die viering van die Pasga of Paasfees, wat in Eksodus 12 beskryf word, gaan dit oor onthou of gedenk. Die volk luister weer – meer nog: belééf weer – die hele verlossing uit Egipte (Burger). Daarmee word die geloofsgemeenskap gekenmerk as `n herinneringsgemeenskap. Die teks dien as `n herdenking van Israel se begin as volk wat deur die Here bevry is. Die naderende uittog word gesien as die aanbreek van `n nuwe lewensorde wat beheers sal word met die bewussyn van God se aktiewe teenwoordigheid in die geskiedenis van Israel. Daarom word die godsdienstige kalender aangepas en bepaal die Paasfees die begin van die jaar, die belangrikste maand, waarin die Israeliete die verlossing herdenk en geaktualiseer het (Nel).
Fensham beklemtoon die belangrikheid van die gesinsaspek met die instelling van die Paasfees. Die rol van die vader om die verhaal te vertel aan die kinders wat vra waarom die fees gevier word. Dit gaan om die kategetiese stof wat hierdie hoofstuk met sy verhaal en simbool elemente vir die verbondsgesin bied om die verhaal van God se bevryding en verlossing in die konteks van die gesin te vier. In die prediking moet hierdie aspek oopgebreek en gestimuleer word. Dit staan vas dat kinders nie by Paasfees en ander feeste uitgesluit is nie. Die feeste het geleentheid gebied om kinders in die “storie” van die verlossing te onderrig. Die kinderkommunie is hier ter sprake.
Nel beklemtoon egter ook die kollektiewe karakter van die Paasrite. Die verhaal lewer kritiek op die verinnerliking en individualisering van ons geestelike lewe en ervarings. “Ten diepste is die erediens en ander Christelike feeste `n gemeenskaplike viering van die gemeenskaplike verlossing.” Daarmee word die vraag na herinterpretasie van die teks vir ons tyd, asook die identifisering met historiese gebeurtenisse soos Bloedrivier en die NG Kerkfamilie se seisoen van luister vir die hele kerk, op die tafel geplaas. Wat hoor ons van God as ons saam luister? Hoe sien ons God werk as ons weer die storie aan mekaar vertel en saam as een liggaam van Christus die Paasfees vier? Hoe verander dit ons elkeen se seksionele storie oor God in my lewe?
Ek wonder wat sal gebeur as dit waar word van die kerk in ons tyd, dat ons almal saam soos Israel, voor die Here in aanbidding buig (12:27) en presies gehoorsaam wat die Here beveel het.
Bibliografie
Burger, C W 1992. Vergesel van die Almagtige. Oordenkings en Bybelstudie oor Eksodus; Buvton 2004. Preekstudies met Liturgiese Voorstelle gebaseer op die Leesrooster; Deist, F 1988. Laat my volk trek; Fensham, F C 1977. Exodus (POT); Hauerwas, S 1981. A Community of Character: Toward a Constructive Social Ethic; Hickman, H L, Saliers, D E, Stookey, L H & White J F 1993. The New Handbook of the Christian Year; Nel, A 1998. Preekstudies met Liturgiese Voorstelle gebaseer op die Leesrooster; Taakspan 2005. Seisoen van Luister, `n Pamflet.
