Eksodus 24=12-18 LR2005
Eksodus 24:12-18 LR2006
7 FEBRUARIE 2005
SONDAG van die verheerliking
feesdiens
liturgiese voorstel
Fokusteks: Eksodus 24:12-18
Ander tekste: Psalm 2:1-11; Psalm 99; 2 Petrus 1:16-21; Matteus 17:1-9
Inleiding
Verheerlikingsondag is die afsluiting van Kersfees-Epifanietyd en tegelyk ook die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg – een van die geleenthede in sy lewe waar die heerlikheid van God sigbaar geword het en wat aanleiding gegee het tot die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is. Die verhaal van die verheerliking word in die evangelielesing vir hierdie Sondag (Matt 17:1-9) weergegee. Dit is belangrik om dit saam met die fokusteks in die liturgie te gebruik. Die fokusteks (Eks 24:12-18) bied ’n interessante verbintenis met die oog op nadenke oor die verheerliking/heerlikheid van Jesus, naamlik die feit dat Moses in albei gedeeltes voorkom en dat dit albei gedeeltes handel oor die intieme teenwoordigheid van God. Die teks uit die Nuwe-Testamentiese briewe (2 Petrus 1:16-21) sluit ook by die evangelielesing aan deurdat dit die verhaal van die verheerliking op die berg in die woorde van een van die teenwoordiges (Petrus) vertel. Die een psalm (Ps 99) gee ’n beskrywing van die heiligheid van die Here wat as koning regeer, terwyl Psalm 2 in die vroeë kerk een van die klassieke tekste was wat gebruik is om uitdrukking te gee aan die intieme verbintenis tussen God die Vader en Jesus as Seun van God. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit en die binneruim van die kerk kan ryklik versier word om uitdrukking te gee aan die glansryke gebeure op die berg. Die voorgestelde liturgie vir hierdie feesdag is grootliks gebaseer op die Lima-liturgie van die Wêreldraad van Kerke se Faith & Order-kommissie.
Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied
’n Lied waarin die heerlikheid van Jesus besing word soos Lied 152 “Verhoogde Heiland, bind ons saam”, Lied 175 “Majesteit” of Lied 177 “Jesus, groot bo almal”/NSG 165. Een van die volgende Taizé-liedere kan ook oorweeg word: Lied 224 “Kom prys Hom alle nasies”, Lied 225 “Ons kom prys U, Heer”, Lied 226 “Juig nou aarde, hemel” of Lied 227 “Sing, loof en prys die Heer”.
Aanvangswoord
Psalm 99:1-5 kan as aanvangswoord gebruik word.
Seëngroet
Voorganger: In die Naam van die verheerlikte Here: genade en vrede vir julle almal.
Gemeente: En ook vir jou.
Alternatiewelik kan 2 Petrus 2:2 as seengroet gebruik word.
Skuldbelydenis
Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:
Genadige God,
ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade
teen U gesondig het;
deur dit wat ons gedoen het
en dit wat ons nagelaat het om te doen.
Ons het U nie liefgehad met ons hele hart,
en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.
Wees ons genadig ter wille van u Seun, Jesus Christus.
Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons
sodat ons vreugde kan vind in u wil
en kan wandel op u weg,
tot eer van u heilige Naam. Amen.
Alternatiewelik doen die voorganger die skuldbelydenis namens die gemeente en die gemeente bevestig dit met die “Amen”.
Verootmoediging
Die gemeente sing een van die Kyrie’s in die nuwe Liedboek, byvoorbeeld Lied 242, 247 of 248.
Vryspraak
Voorganger: Die Almagtige God
het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf
en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.
Daarom verkondig ek aan julle
volkome vergifnis van julle sonde,
in die Naam van die Vader,
en van die Seun
en van die Heilige Gees.
Gemeente: Amen.
Kyrie-litanie
Voorganger: Sodat ons in staat kan wees om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe en sodat ons saam kan bely dat daar net één liggaam en één Gees is, net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal – laat ons tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).
Voorganger: Sodat ons saam een liggaam kan wees in gemeenskap met die liggaam van Christus wanneer ons die een brood breek en uit die een beker drink – laat ons tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).
Voorganger: Sodat ons wat almal deur Christus met God versoen is, verenig kan wees in die bediening van die versoening wat aan ons toevertrou is – laat ons tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).
Aanbidding en lof
Gepaste lofliedere kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 367, 199, Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”/NSG 92 of Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”/NSG 130.
Kindertyd
Gebruik ’n prent van Jesus waar Hy met ’n stralekrans (“halo”) uitgebeeld word. Vra vir die kinders of hulle dink dat Jesus werklik so ’n stralekrans om sy kop gehad het. Verduidelik dan dat dit nie werklik so was nie, maar dat dit ’n manier is waarop mense probeer aandui dat Jesus nie sommer net ’n gewone mens was nie, maar dat Hy ook die Seun van God was. Vertel dan die verhaal van die verheerliking van Jesus op die berg en wys daarop dat dit een van die kere was wat God vir mense gewys het dat Jesus baie spesiaal was, al het Hy gewoonlik net soos enige ander mens gelyk.
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed vir die opening van die Woord
Skriflesing uit die Ou Testament
Eksodus 24:12-18
Skriflesing uit die Psalm
Indien Psalm 99 nie as aanvangswoord/votum gebruik is nie, kan dit hier voorgelees word. Alternatiewelik kan Psalm 99:1-4 deur die gemeente of ’n koor gesing word.
Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe
2 Petrus 1:16-21
Een van die “Hallelujas” uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of ’n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228; NSG 19, 21, 118 of 327.
Skriflesing uit die Evangelie
Matteus 17:1-9
Prediking
Stille nadenke
Geloofsbelydenis
Die gedeelte uit die geloofsbelydenis van Nicéa wat oor Christus handel, word deur die voorganger voorgehou, terwyl die gemeente na elke frase reageer met: “God het gesê: ‘Dit is my Seun wat Ek uitverkies het.’ Ons sal na Hom luister.”
Voorbidding
DIENS VAN DIE TAFEL
Nagmaalgebed
Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die brood,
die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.
Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!
Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die wyn,
die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.
Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!
Voorganger: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was
en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,
op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,
mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af
saamgebring word in u koninkryk.
Gemeente: Maranatha! Kom, Here Jesus!
Voorganger: Mag die Here met julle wees!
Gemeente: En ook met jou!
Voorganger: Hef op julle harte.
Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.
Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.
Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.
Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring –
oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.
Deur u lewende Woord het U alle dinge geskape en verklaar dat dit goed is.
U het die mense na u beeld gemaak, om te deel in u lewe en u heerlikheid te weerspieël.
In die volheid van die tyd het U Christus vir ons gegee as die weg, die waarheid en die lewe.
Hy is deur die Heilige Gees aangewys as u dienaar om die evangelie aan armes te verkondig.
By die laaste maaltyd het Hy die nagmaal ingestel,
sodat ons sy dood en opstanding kan gedenk
en sy teenwoordigheid in die brood en die wyn kan ontvang.
Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,
saam met die profete en apostels,
saam met alles wat asem het.
Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.
Hosanna vir die Seun van Dawid!
Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!
Hosanna in die hoogste hemel!
Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.
Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom
sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.
Gemeente: Kom, Skepper-Gees!
Voorganger: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.
Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,
en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:
“Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:
“Hierdie is die nuwe verbond in my bloed.
Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!
Ons vier u opstanding uit die dood!
Ons wag op u koms in heerlikheid!
Voorganger: Here ons God,
ons roep vandag in herinnering die lewe van u Seun Jesus Christus,
die Woord wat mens geword en onder ons kom woon het,
van wie U gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
Laat die heerlikheid wat van Hom uitstraal,
ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God.
Gemeente: Maranatha! Kom, Here Jesus!
Voorganger: Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees
sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,
’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.
Gemeente: Kom, Skepper-Gees!
Voorganger: Deur Christus, saam met Christus, in Christus,
behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,
in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.
Gemeente: Amen.
Voorganger: As gedoopte kinders van God bid ons nou saam:
Die gemeente bid die Ons Vader-gebed of sing Lied 266/NSG 325.
Vredesgroet
Die gemeentelede kan mekaar met ’n handdruk of omhelsing groet met die woorde: “Mag die vrede van die Here met jou wees.”
Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger, word gevolg deur die Agnus Dei (as alternatief kan Lied 379 gesing word):
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem
Gemeente: Wees ons genadig.
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem
Gemeente: Ontferm U oor ons.
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem
Gemeente: Here, gee ons u vrede.
Uitdeling en gebruik van die brood en die wyn
Lofprysing
Psalm 103: 8-13 kan deur die voorganger of ’n gemeentelid voorgelees word.
Dankgebed
Offergawes
UITSENDING
Slotsang
Lied 195:2 “Christus, voor U kniel die hele aarde” of Lied 197 “Wonderbare Koning” (of een van die ander liedere hierbo genoem).
Seën
Mag God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis,”
ook in julle harte ’n lig laat skyn om julle te verlig met die kennis van die heerlikheid van God,
wat van Jesus Christus uitstraal. Na: 2 Korintiërs 4:6
Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).
As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.
PREEKSTUDIE – EKSODUS 24:12-18
Teks
Die Skrifkritiek het baie vrae geopper oor die fokusteks, soos oor die hele Pentateug (Genesis tot Deuteronomium). Oor die samestelling van die teks uit mondelinge en skriftelike oorlewerings bestaan daar ’n groot verskeidenheid teorieë, net soos oor die outeurskap en datering van die Eksodus-manuskrip in sy huidige vorm. Vir die kritici is die bepaling van die konteks van die teks(te) afhanklik van hulle besondere teorieë oor die bronne waaruit dit saamgestel is. In hierdie preekstudie kan ons egter nie by dié debat betrokke raak nie. Ons aanvaar die teks as die finale vorm waarin die Here sy openbaringswoord aan ons gegee het tesame met die historiese konteks waarin dit deur die geïnspireerde skrywer(s) geplaas is.
Voorspel tot die fokusteks
Die perikoop wat as fokusteks dien, maak ’n integrale deel van Eksodus 24 uit. In hierdie hoofstuk word die rituele bekragtiging van die verbond van die Here met Israel beskrywe. Dit vorm die hoogtepunt van ’n proses wat in hoofstuk 19:3 begin as Moses vir die eerste maal teen Sinai uitklim na die Here toe. By die geleentheid bevestig die Here sy trou met verwysing na die volk se uitredding uit Egipte en beloof Hy: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie ... Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel” (19:5-6). Moses klim van die berg af en deel die Here se boodskap aan die volk mee, waarop hulle soos een man antwoord:
“Alles wat die Here gesê het sal ons doen” (19:8).
Daarna klim Moses vir die tweede maal teen die berg uit om die volk se antwoord aan die Here oor te dra. Nou kondig die Here sy voorneme aan om in ’n donderwolk na Moses te kom en met hom te praat, sodat die volk kan hoor en vir altyd vertroue in Moses kan hê (19:9). Om vir hierdie teofanie (Godsverskyning) gereed te wees moet die volk hulle vir twee dae reinig en sorg dat geen mens of dier na aan die berg kom nie. Moses klim af en voer die opdrag uit. Teen dagbreek op die derde dag was daar ’n donker wolk met donderslae en weerligte op die berg, die berg het geskud en gerook, daar was ’n harde geluid van ’n ramshoring en die Here het in vuur daarheen afgekom. Moses het gepraat en God het hom in donderslae geantwoord (19:16-19).
As die Here hom dan na die top van die berg toe roep, klim Moses vir die derde maal daarheen op, net om die waarskuwing te ontvang dat die volk nie mag deurbreek na die Here toe om na Hom te kyk nie en dat ook die priesters op ’n afstand moet bly. Moses gee die versekering dat alle voorsorgmaatreëls getref is en die Here stuur hom terug met die opdrag om saam met Aäron terug te kom. Terwyl Moses weer by die volk is, kondig die Here direk en hoorbaar die Tien Gebooie aan (20:1-17). Die volk verkeer in doodsvrees en versoek dat die Here nie direk nie, maar deur Moses as tussenganger (middelaar) met hulle praat. Moses verseker hulle van God se welwillendheid en terwyl hulle van angs bewe en op ’n afstand bly staan, gaan hy nader na die donker wolk toe waarin God is (20:18-21).
Hoe ver Moses hierdie vierde maal teen die berg opgeklim het en hoe lank hy daar vertoef het, word nie gesê nie. Dit is egter by hierdie geleentheid dat die Here aan hom die voorskrifte en bepalings van die “verbondsboek” (24:7) soos vervat in Eksodus 20:22-23:33 gee. Ook kry hy opdrag om saam met Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel teen die berg op te klim na die Here toe (24:1-2). Hier is duidelik drie grade van afstand en toenadering: die volk moet aan die voet van die berg bly, Aäron en die ander mag net tot op ’n bepaalde punt opklim, terwyl slegs Moses tot by die Here mag opklim. Hierna klim Moses af om die gebooie en bepalinge van die Here aan die volk voor te hou. Die volk antwoord weer eens soos een man: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het,” waarop Moses al die gebooie in ’n boek neerskryf (24:3-4a).
Hierop volg dan die plegtige rituele verbondsbekragtiging met die uitstaande karakter van versoening en bevryding tot diens. Eers word ’n altaar van twaalf klippe vir die twaalf stamme van Israel gebou. Dan word jong Israeliete (daar was nog nie ’n priesterorde nie) gestuur om bulle as brandoffers en maaltydoffers vir die Here te offer. Die helfte van die bloed vang Moses in bakke op terwyl hy die ander helfte op die altaar sprinkel. Daarna lees hy die verbondsboek vir die volk voor en vir die derde maal onderneem hulle: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.” Ter bevestiging van hierdie verbondsonderneming sprinkel Moses die bloed wat hy opgevang het, op die volk terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het” (24:4b-8).
Na hierdie verbondsbekragtiging kan die volk die God van Israel met vrymoedigheid nader deur hulle verteenwoordigers. Dus voer Moses die opdrag van die Here uit deur saam met Aäron, Nadab, Abihu en die sewentig leiers die berg uit te klim (vir Moses was dit die vyfde opklim). Daar “sien” hulle die God van Israel. Besonderhede word nie gegee nie. Net die saffierblou van die plaveisel onder sy voete word beskryf. Maar die merkwaardige is dat die Here wat in die Godsverskyning voor die verbondsbekragtiging as ’n verterende vuur manifesteer, nou, na die plegtige handelinge, “geen hand teen die leiers van Israel gelig het nie”. Hulle kon in sy teenwoordigheid op die berg deelneem aan ’n gemeenskapsmaal ter viering van die verbondsluiting (24:9-11). Ongetwyfeld is die vleis van die maaltydoffers hier gebruik.
Fokusteks
Ons fokusteks voer hierdie verhaal verder. Moses kry opdrag om verder na die Here toe op te klim en daar te vertoef. Slegs Moses, as middelaar deur God erken, geniet hierdie besondere toegang tot Hom. Die Here wil aan die middelaar die plat klippe gee waarop hy die wette en gebooie neergeskryf het vir onderrig van die volk. Dit verwys ongetwyfeld na die Tien Gebooie (tien woorde – vgl Eks 34:28). Die twee plat klippe word ook genoem “plat klippe met die getuienis daarop” (Eks 31:18) en “die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het” (Deut 9:9). Volgens vers 12 was die klippe klaar beskrywe en het hulle op Moses gewag vir oorhandiging. Uit die sewe hoofstukke wat op die fokusteks volg, is dit egter duidelik dat die Here veel meer gehad het om met Moses te deel as die oorhandiging van die klippe. Dit was die voorskrifte vir die vervaardiging en oprigting van die tabernakel en sy toebehore, die instelling en wyding van die hoëpriesteramp en priesteramp met voorskrifte vir hulle ampsdrag en bediening, en ook algemene voorskrifte vir die offerdiens. Moses sou dus veel langer by die Here vertoef as voorheen. Volgens vers 18 was dit veertig dae en nagte.
Maar selfs vir Moses, die middelaar, was ’n gemeensame toenadering tot die Here nie beskore nie. Terwyl hy en Josua die berg uitklim, het ’n wolk dit omhul en die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly. Vir die Israeliete het dit gelyk soos ’n gloeiende vuur op die berg. Ses dae lank het die wolk die berg omhul en is Moses verhinder om in die teenwoordigheid van die Here te kom. Eers op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep en het hy die wolk ingegaan en verder geklim na die Here toe. Josua het klaarblyklik buite die wolk op die berg stelling ingeneem en getrou op Moses se terugkoms gewag (vgl Eks 32:17). Sy opleiding as opvolger van Moses het reeds hier begin.
Moses moes aangevoel het dat hy langer as gewoonlik sou wegbly. Hy gee opdrag aan die leiers om vir hom en Josua daar te wag totdat hulle terugkom (v 14). Dis onwaarskynlik dat sy bedoeling was dat hulle nie van hulle staanplek teen die berghang moes beweeg nie, omdat sy tweede opdrag veronderstel dat hulle die volk tot diens moes wees soos beskrywe in Eksodus 18:25-26. Sy eie rol as “hoofregter” vertrou hy toe aan Aäron en Hur vir die duur van sy afwesigheid. ’n Verdere implikasie is dat die verbondsboek beskikbaar is vir die regspraak en dat die plegtige bekragtiging van die verbond van die Here met die Israeliete vars in die geheue van die volk is. Ook sal hulle die magtige Godsverskyning met die hoorbare afkondiging van die Tien Gebooie nie durf vergeet nie. Ten slotte is daar die gerusstellende wete dat Moses as hulle selfverkose middelaar, na die teenwoordigheid van die Here opgeroep is om hulle belange te behartig. Moses is inderdaad deur hierdie unieke toetrede tot God se teenwoordigheid deur die Here in die oë van die volk verheerlik. (Vgl Eks 19:9.)
Konteks
Die fokusteks verhaal die vyfde bergbestyging van Moses na die Here se onmiddellike teenwoordigheid toe. Dit stem in hoofsaak ooreen met die twee vorige geleenthede. Die berg is met ’n wolk omhul, die magtige teenwoordigheid van die Here word deur die volk as ’n gloeiende vuur op die berg waargeneem en die Here praat met Moses uit die wolk. Die vreesaanjaende Here van die Godsverskyning het nie verander nie. Maar daar is tog ’n groot verskil. Sy verhouding met Israel het verander na die plegtige verbondsbekragtiging. Dit word dramaties gedemonstreer deur die gemeenskapsmaal van die leiers teen die berg. Voor die verbondsbekragtiging kon enige mens of dier, met die uitsondering van Moses, die berg slegs op straf van die dood nader, wat nog te sê bestyg. Nou, na die besprinkeling van die volk met die versoeningsbloed van die plaasvervangende offerdiere as teken van die verbond, kan die leiers van die volk nie slegs teen die berg uitklim nie, maar in die digte nabyheid van die Here verbondsmaaltyd hou, sonder dat sy toorn teen hulle ontvlam. Verder, met die Godsverskyning is die magtige teenwoordigheid van die Here in donderslae, weerligte, die ramshoringgeluid en direkte spreke angswekkend deur die volk ervaar as verdoemende oordeel. Nou, egter, is hulle angs besweer. Hulle versoek dat Moses die middelaar tussen hulle en God sal wees, is toegestaan en die vreesaanjaende verskynsels van die magtige teenwoordigheid van die Here is afgeskaal tot ’n gloeiende vuur in die wolk. Dit het hulle steeds van sy totale andersheid, verhewenheid en heiligheid bewus gemaak, maar terselfdertyd van sy nabyheid, neerbuigende liefde en genade. Die regverdig oordelende God wil Hom as die genadige Verbondsgod in die midde van sy bondsvolk (Immanuël) vestig en nie langer buite die laer op die berg nie. Daarom roep Hy Moses hierdie keer om na Hom toe op te klim.
Moses se status as middelaar is deur die Here (Eks 3; 19:9) en die volk (Eks 20:19) erken, maar hy moes sy tyd afwag (v 15-16). Vermoedelik was hy gedurende die ses dae in gebedsvoorbereiding en het Josua die verheerliking saam met hom beleef. As hy op die sewende dag in die teenwoordigheid van die Here geroep word, lê die plan van die Here om in die midde van sy bondsvolk te kom woon, gereed. Die twee plat klippe bevat die geskrewe grondwet van die koninkryk (19:6) en die plek waar dit bewaar moes word, is in die ark, binne-in die tentwoning (tabernakel) waar die Here in die midde van Israel wil woon. Vir veertig dae en nagte gee die Here vir Moses gedetailleerde onderrig en opdragte oor die daarstelling van die tabernakel en sy kultus. Deur Moses se getrouheid as middelaar, in weerwil van die volk se sonde met die goue kalf, is die tentwoning van die Here voltooi en het Hy sy genadeverbond bevestig, deur op die dag van die inwyding die tabernakel met sy magtige teenwoordigheid te vul (Eks 40:34-38). Hy sou nooit weer op Sinai of enige ander plek verskyn nie. Nou was die wolk met die vuur daarin in die midde van die volk en die tabernakel die tent van ontmoeting waar die Here deur middelaarskap onder dekking van versoeningsbloed sy vrygespreekte volk ontmoet (Vgl Eks 25:21-22).
Vir ’n bespreking van die Nuwe-Testamentiese konteks van Eksodus 24 kan Childs geraadpleeg word. Met betrekking tot die rol van Moses merk W H Gispen op: “Veral as middelaar tussen die HERE en Israel is Moses ’n tipe van die Christus, die middelaar van die genadeverbond. Vanuit die verbond met sy twee bedelings word Moses goed gesien, maar word ook die Christus gesien as die beter Middelaar as Moses, ook al wou laasgenoemde homself laat uitdelg uit die boek van die lewe, ter wille van sy volk ... (vgl Heb 3:5-6a ... Die werk van Moses het gedien, om Israel te organiseer tot een volk, wat deur wette en instellings die koms van die Christus moes voorafskadu en verwag; dat alles wat Moses as middelaar mag gedoen het in die huis van sy God, eendag deur die Seun self oortref sou word. . .(Exodus II p 20.)” (Vrye vertaling deur my, DPB.)
Ons fokusteks is gekies vir die prediking op die Sondag van Verheerliking. In die liturgiese jaar is hierdie Sondag die afsluiting van die Kersfees/Epifanietyd en die oorgang tot die Lydenstyd. Op hierdie Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg – een van die geleenthede in sy lewe waar die heerlikheid van God sigbaar geword het, in hierdie geval ter bevestiging van die belydenis dat Hy die Christus, die Seun van die lewende God is. Dit is wenslik dat met die oog op die prediking die fokusteks binne die konteks van die liturgiese tekste van die RCL gebring word. (Hierdie tekste is: Ps 2:1-11; Ps 99; 2 Pet 1:16-21; Matt 17:1-9.)
Die twee Psalms werp lig op die karakter van die Here wat by Sinai ’n eensydige (monopleuriese) verbond met Israel gesluit het. Hy neem die inisiatief. Hy nader onverdienstelike, wederstrewige sondaarmense met die genade-aanbod om met hulle ’n verbond te sluit waarvan Hy die voorwaardes en stipulasies voorsien. Die mense word egter nie as dooie kapitaal behandel nie, maar opgeroep om die Here se verbond te bewaar, sy gebooie na te kom en as gevolg daarvan in sy seëninge te deel (Eks 19:4-6). Psalm 2 beskryf die toorn van die Here teenoor die nasies en konings wat sy gesag en verbond-aanbod verwerp, maar sy liefde en bekragtiging vir die een wat sy seun geword het deur in sy verbond te tree. Psalm 99 beklemtoon die verhewenheid, heiligheid en gesag van die Here wat sy reg en geregtigheid in Jakob gevestig het. Daar is direkte verwysings na Moses en Aäron en die wolkkolom waaruit God met hulle gepraat het, en hulle gehoorsaamheid aan sy opdragte en voorskrifte. Die gevolg was dat hulle gebede verhoor is. Die Here was vir hulle ’n vergewende God, maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.
Matteus 17:1-9 bevat die verhaal van Jesus se verheerliking. Petrus, wat daarvan ’n ooggetuie was, bevestig in 2 Petrus 1:16-21 dat die gebeure nie maar net ’n gesig of ’n legende was nie, maar werklikheid, soos blyk uit die gedaanteverandering van Jesus, die skitterglans van sy klere, die teenwoordigheid van Moses en Elia, en die stem uit die helderligte wolk. Vir Petrus was hierdie verheerliking sonder twyfel die hemelse bevestiging van sy belydenis kort vantevore dat Jesus die Christus die Seun van die lewende God was (Matt 16:16). Moses se teenwoordigheid het by nabetragting die hele verbondsluiting by Sinai in herinnering geroep en sekerlik ook Moses se profesie in Deuteronomium 18:15-19 oor die profeet wat die Here sal stuur wat soos Moses sal wees. Elia se teenwoordigheid het weer die profesie van Maleagi 4:5-6 na vore gebring. Die verheerlikingsgebeure het Petrus se vertroue in die profete nog meer bevestig. Hulle boodskap (oor Jesus Christus) is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Geen profesie in die Skrif is mens-gewil nie en kan ook nie volgens eie insig uitgelê word nie. Die Heilige Gees het mense meegevoer om die woord, wat van God kom, te verkondig. So lê Petrus die verband tussen die profetiese gebeure op Sinaiberg en die gebeure op die berg van Jesus se verheerliking.
Preekvoorstel
Andries Odendaal skryf in die dagstuk van 1 Oktober van sy dagboek Bergpad deur die Bybel: “Op die berg van verheerliking sien ons die skakel tussen die Ou en Nuwe Verbond. Wat Moses begin het en die profete voortgesit het, kom Jesus voltooi. Hierdie voltooiing word genoem: Jesus se uittog (letterlik: eksodus) wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Dis ’n verwysing na die eksodus van die Israeliete uit die slawerny van Egipte, maar Jesus se eksodus loop na Getsemane en Golgota en die graf. Eers toe kon Hy opstaan en sy eksodus met sy hemelvaart voltooi. Hieroor praat Moses en Elia met Hom. Dis waarop die wet en die profete moes uitloop, anders het hulle geen sin nie. Al Moses en Elia se arbeid baat niks sonder Jesus se eksodus nie.” Ons kan byvoeg dat die uittog van die Israeliete uit Egipte, wat eerste plaasgevind het, geen betekenis sou hê sonder Jesus se uittog eeue daarna nie.
Moses was dus inderdaad ’n tipe van Jesus, soos deur Gispen beskryf. As middelaar van die verbond by Sinai het die Here hom voor die oë van die volk verheerlik. Eers deur die tekens en wondere wat hy voor die volk en die Egiptenare gedoen het (Deut 34:11-12), toe deur by Sinai uit die wolk ten aanhore van die volk met hom te praat (Eks 19:9). Daarna (volgens die fokusteks) deur hom op te roep voor getuies soos die sewentig volksleiers en Josua, om in sy (die Here se) teenwoordigheid alleen te verskyn. Maar die hoogtepunt van sy verheerliking was ongetwyfeld sy onafgebroke middelaarsgesprekke met die Here. Eers vir veertig dae en nagte en na die tragiese episode van die goue kalf, vir ’n ewe lang tydperk totdat sy gesig geblink het. Vir veertig jaar daarna sou hy sy middelaarsfunksie vervul, as mens wat deur die Here daartoe verheerlik is.
Van sy verhouding tot sy volksgenote getuig die Skrif: “Moses was ’n uiters sagmoedige man; meer as enigiemand anders op die aarde” (Num 12:3). En van sy verhouding tot die Here word gesê: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend” (Eks 33:11) en “Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgestaan wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken” (Deut 34:10). Tog was sy verheerliking nie volkome nie, want sy middelaarskap het gebreke gehad. By die Meribawaters was die middelaar ongehoorsaam aan die opdrag van die Here, ten spyte van die sigbaarwording van die magtige verskyning van die Here. Hy is as gevolg daarvan verhinder om die voleinding van die eksodus van die volk tot in die beloofde land deur te voer en mee te maak (Num 20:1-13). Daarmee is ook die ontoereikendheid van die Ou-Testamentiese bedeling van die genadeverbond om volkome verlossing aan die wêreld te bied, gedemonstreer.
Die Here van die belofte en die verbond sou dit nie daarby laat nie. ’n Middelaar, groter as Moses, wat in staat is om volkome verlossing vir die Godsvolk te bewerk, verskyn in die persoon van Jesus van Nasaret (Heb 3:1-6). Soos Moses word sy lewe as kindjie bedreig en gespaar. Hy is reeds op twaalfjarige ouderdom bewus van sy roeping soos Moses dit by die brandende braambos geword het. Soos Moses is Hy ’n persoon wat direk en voortdurend in die gebed met God praat, nie slegs soos met ’n vriend nie, maar met sy Vader. Hy verrig wondere en tekens en leer die volk net soos Moses gedoen het. Baie van sy volgelinge verlaat Hom omdat sy woorde vir hulle te erg is (Joh 6:60, 66), net soos die volk meer as een maal hulle rug op Moses gedraai het. Wie is dan nou hierdie Jesus van Nasaret wat so baie soos Moses is en tog klaarblyklik veel groter? As Jesus hierdie vraag vir sy dissipels vra, antwoord Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Dit is hierdie belydenis, waarvan hy die volle reikwydte nie besef het nie, wat op die berg van verheerliking glorieryk bevestig is – maar met ander konsekwensies as wat hy verwag het.
Die berg van verheerliking, tradisioneel Tabor in Galilea, word die Sinai van die Nuwe Testament. Jesus bestyg dit, saam met drie dissipels as getuies, om te gaan bid (Luk 9:28). Terwyl Hy met sy Vader praat, raak hulle aan die slaap (’n voorsmaak van Getsemane?). Dan stuur die Vader albei profete wat by Horeb, die berg van God met die Here gepraat het (Eks 3:1; 1 Kon 19:8), in hemelse glans na Jesus toe. En wat gebeur met Jesus? In hulle teenwoordigheid ondergaan sy persoon en sy klere ’n stralende verheerliking. Sy ware wese kom tot openbaring. Die uitdrukking van sy Goddelike natuur, waarvan Hy Homself met sy menswording ontledig het (Fil 2:7), word vir ’n kort tydperk herstel. Hy staan voor Moses en Elia as die Here van die verbond, met wie hulle so persoonlik op Sinai (een van die spitse van die Horeb-gebergte) gepraat het. En nou praat hulle weer met Hom. Waaroor? Oor dit wat Hy kom doen het, wat hulle bediening nie kon vermag nie, naamlik om vir die volk van God die finale en volkome uittog (eksodus) uit die slawerny van die sonde te bewerk. Hierdie verheerliking is ’n profesie van die eindbestemming van die uittog (Fil 2:9-11), sowel as van die heerlikheid van die bediening van die Middelaar (2 Kor 3:9). Petrus se belydenis word volkome onderskryf – die Drie-enige Verbondsgod voorsien deur die menswording van die Seun in die persoon van Jesus van Nasaret, die Middelaar-messias, van wie Moses en Elia tipes was. Deur sy bediening word hulle bedienings vervul, verheerlik en bevestig. Want sy bediening is die volkome offer van Homself. Dit sal ook sy grootste verheerliking en dié van sy Vader wees ... Daaroor gesels hulle met Hom.
As die dissipels wakker word, is hulle oorstelp oor dit wat hulle waarneem. Petrus waag ’n onnadenkende voorstel om drie hutte te bou vir Jesus, Moses en Elia. Terwyl hy praat, verskyn die magtige teenwoordigheid van die Here, soos op Sinai, in die vorm van ’n helderligte wolk en God se stem sê uit die wolk: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom” (Matt 17:5). Net soos die volk is die dissipels oorweldig deur vrees en val hulle op die grond neer. Intussen word Moses en Elia teruggeroep na die hemel, keer Jesus terug na sy gedaante as mens en verdwyn die wolk. Dan raak Jesus hulle aan en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” As hulle opkyk, sien hulle Hom alleen. Die oomblik van hemelse verheerliking is verby. Nou lê die verheerliking van die uittog voor. Maar dit sou die dissipels slegs deur die ervarings van groot droefheid leer ken en eers na sy opstanding en hemelvaart volkome verstaan. (Vgl Mark 9:9-10.)
Johannes is die dissipel wat in sy evangelie die helderste verband lê tussen Jesus se verheerliking en sy lyding.(Vgl Joh 12:23-24; 13:31-32; 16:14.) Hy toon telkens aan wat die implikasies vir diegene is wat in Hom glo en Hom volg. (Vgl Joh 12:25-26; 13:34-35; 16:19-28.) Hy gee selfs verslag van wat dit vir sy mede-dissipel Petrus beteken het (Joh 21:15-19). Op Petrus se gemoed het die verheerliking op die berg so ’n onuitwisbare indruk gelaat, dat hy sy hele bediening in die lig daarvan uitgeoefen het. (Vgl 2 Pet 1:3-15.) Alles moet uitloop op die herstel van die heerlikheid van die skepping deur God se bekendmaking van wie sy kinders is; hulle wie se vrymaking van die verganklikheid tot hulle heerlikheid behoort. Dit is die slotsom waartoe Paulus in Romeine 8 kom en waarop hy verder uitbrei in 2 Korintiërs 3:7-11, 18. Deur Jesus se verheerliking word dié wat aan Hom behoort van heerlikheid tot heerlikheid gevoer deur die Heilige Gees.
Bibliografie
Gispen, W H Exodus II, KV; Cole, Alan; Exodus, TOTC; Childs, B S Exodus, OTL; Barnes, A Matthew, Notes on the Gospels; Brown, C Dictionary of the New Testament Theology (2 vol – “glory”); Christelijke Encyclopedie (6 vol – “Verbond”); Odendaal, A Bergpad deur die Bybel.