Eksodus 3=1-4=17 LR2006
Eksodus 3:1-4:17 LR2005
2 Julie 2006
Derde Sondag in Koninkrykstyd
Liturgiese voorstel
Fokusteks: Eksodus 3:1-4:17
Ander tekste: 1 Samuel 15:34-6:13; Psalm 20; 2 Korintiërs 5:6-10; Markus 4:26-34
Inleiding
Om te kan sien is ’n voorreg. Dit kan egter ook ’n hindernis wees vir die geloof, want ons kan ons blind staar teen wat ons sien. Wat ons sien maak nie altyd sin nie en verklaar nie God aan ons nie. Hoe ons kyk en hoe God kyk, verskil boonop ook (1 Sam 15). Dit is belangrik om toe te laat dat God ons leer kyk na alles en almal ... ook na Hom, soos wat hy met eenvoudige stories (Mark 4) sy navolgers leer kyk het, dieper laat kyk het, verby die dinge wat hulle sien ten einde die Onsienlike te sien (2 Kor 5). In afhanklikheid mag ons ook vra dat die Here ons daarvan sal bewaar om nie op ons eie “sien” te reken nie, maar dat ons na Hom sal kyk (Ps 20).
Diensorde
God vergader ons voor Hom
Aanvangswoorde en lied
Die voorganger kan die gemeente daarvan bewus maak dat ons hier, coram Deo vergader is – voor God se aangesig. Ons kom as ’t ware uit die erediens van die lewe vanoggend in hierdie erediens bymekaar.
“Kom ons sit in stilte en bedink die afgelope week – my wees in my huis, my huwelik, my gesin, my werkplek; my saamloop met die Here, sy kerk; my gerigtheid op die wêreld en die stukkendheid daarvan, my gesindheid teenoor die gawe van die lewe – ook my lewe.”
Sang
Lied 158:1-3 “Bring my na U woning, Here” (onaangekondig)
Seën
Voorganger: Jesus leef en ons met Hom! Genade en vrede vir julle van God die Vader
Almal: ... wat ons geskep het
Voorganger: ... en van die Seun
Almal: ... wat ons verlos het
Voorganger: ... en van die Heilige Gees
Almal ... wat oor ons uitgestort is. Amen.
Sang
Lied 223:1-3 “Aan Jesus, Koning, al die eer” (temalied)
DIENS VAN DIE WATER
Wet
Voorganger: In U oneindige wese lê al die skatte van wysheid en waarheid en heiligheid opgesluit. Laat die deugde van ’n Christelike karakter deur my voortdurende gemeenskap met U in my hart vorm aanneem:
die gawe van ’n dankbare, tevrede hart;
die gawe om geduldig op u vrede te wag en onmiddellik te gehoorsaam as U my roep;
die gawe om moedig deur lyding of gevaar te gaan;
die gawe om swaarkry te verduur omdat ons vir Christus lewe;
die gawe om onbevrees op te staan vir wat reg is;
die gawe van waaksaamheid, sodat ek nie in versoeking kom nie;
die gawe van selfdissipline;
die gawe van eerlikheid ten alle koste;
die gawe om ander te behandel soos ek behandel wil word;
die gawe van beheerstheid, sodat ek nie te vinnig sal praat nie;
die gawe van vergifnis teenoor almal wat my veronreg het;
die gawe van begrip vir hulle wat swakker is;
die gawe om met volharding te verlang dat U hierdie gebed van mý sal verhoor. Amen.
Skuldbelydenis
Lied 243:1,2 “Heiland as in ootmoed stil”
Vryspraak
Voorganger gaan voor met ’n gebed
“God van tweede kanse en oor begin,
dit verstom my altyd weer dat u kies om my in u koninkryk te gebruik.
U gebruik my soos ek is: onvolmaak, met foute,
gewoon, en soms geneig om nie my beste te gee nie,
geneig om foute te maak, om te struikel en te val.
Maar u genade is altyd groter as my foute en mislukkings.
Dankie, o Here, dat U my gebruik ten spyte van myself!
Volmaakte God, herinner my gereeld dat, in u oë, mislukkings nooit finaal is nie.
U genade stel my in staat om met my mislukkings konstruktief om te gaan en met ander se foute geduldig te wees.
Laat dit so wees. Amen.”
Viering van die doop
Gebruik die klassieke formulier vir die bediening van die doop aan kinders van gelowige ouers. (Handboek vir die Erediens) – spesifiek die tweede deel rondom die verlossing.
Lied
Lied 287:1-4 “By u verbondsbeseëling, Heer”
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Psalm 119:17-24 (afsonderlik of saam met vrye gebed)
Lied 254 “Spreek Heer” (2X)
Kindertyd en preek
DIENS VAN DIE TAFEL
Let Wel: Indien die sakrament van die doop gevier word, hoef daar nie noodwendig ook nagmaal gevier te word nie. ’n Nagmaalsherinnering is dan voldoende. Só ’n herinnering word hier aangebied:
Voorganger gaan by die nagmaalstafel met beker en bord staan.
Lees dan die tweede betekenis van die nagmaal uit die formulier (“waarborg”).
Respons van die gemeente
Geloofsbelydenis (staande en hardop)
Voorbiddingsgebed
Opneem van die offergawes
UITSENDING
Slotlied
Lied 190:1-3 “Grote God, aan U die eer”
Seën
God die Vader sal julle altyd liefhê
God die Seun sal julle altyd genadig wees
God die Gees sal julle troos en in sy waarheid lei.
Antwoord
Die gemeente sing “Amen” Lied 312.
Inleiding tot die boek Eksodus
Agtergrond
Die woord “eksodus” beteken uittog. Dit vertel die verhaal van die volk Israel se verlossing uit Egipte. Hierdie verlossing of bevryding gaan oor meer as net vryheid. God het sy mense dus nie net bevry nie, maar ook `n hand van versorging oor hulle uitgesteek. God se teenwoordigheid en die pad wat Hy saam met hulle stap, speel `n groot rol in die boek. Hy gaan nog verder deur `n ooreenkoms met hulle aan te gaan. Die boek beskryf dus God se langtermynverhouding met sy kinders waarin Hy hulle bevry, onderhou, ontmoet en immer teenwoordig is.
Ontstaanstyd en samestelling van die boek Eksodus
Die ontstaanstyd van die boek is ten nouste verbonde aan die totstandkoming van die Pentateug. Dit is moeilik om die presiese datum vir die samestelling van die Pentateug vas te stel. Die samestellingstyd word breedweg bereken tussen die vyftiende en dertiende eeu vC. Dit hang af van watter datum van die uittog aanvaar word. Argeologiese opgrawings uit hierdie tydperk dui op bou-aktiwiteite wat ooreenstem met die Israelitiese dwangarbeid wat gebruik is om stede soos Pitom en Rameses (sien Eks 1:11) te bou. Moses se hand kan in hoofstuk 15 en 19-23 gesien word. Dit is duidelik dat die finale samesteller van ou bronne gebruik gemaak het. Daar kan met sekerheid aangeneem word dat verskeie skrywers aan die boek gewerk het en dat die ontwikkeling van die boek oor eeue heen gestrek het.
Sosiaal-kulturele omstandighede
Die eerste lesers van die boek Eksodus was ballinge in Babilonië wat probeer sin maak het van die vernietiging van die tempel en die verwoesting van die tempel in Jerusalem. In `n ballingskapsituasie word die temas oor God se hand van bevryding en versorging relevant, wat dan aanleiding tot die vorming van die boek gee. Selfs gedurende die tydperk na die ballingskap was die Israeliete aan die Persiese heersers onderhorig. Die onderdrukking in Egipte was dus ook toe aktueel. In hierdie omstandighede is die vraag gevra: “Wie is die Verbondsgod?” Die klem val dus op die identiteit van God. Die verbond wat God met sy volk gesluit het, het hulle religieuse identiteit bepaal. In hierdie moeilike omstandighede sou hulle identiteit in God hulle deurdra. Die gebeure speel hoofsaaklik in drie geografiese gebiede af: Egipte, die Sinaiwoestyn en die Sinaiberg.
Inhoud en opbou
Moses is nie noodwendig die skrywer, of die enigste skrywer van die boek Eksodus nie. Dit word aanvaar dat die boek verskillende mense se getuienisse bevat wat oor eeue heen ontwikkel het.
God se bevryding van Israel
1:1-22 - Nageslag van Jakob nou slawe in Egipte
2:1-4:31 - Moses se geboorte en roeping
5:1-11:10 - Konfrontasie met farao
12:1-15:21 - Ontstaan van die Paasfees en beskrywing van die uittog
God se onderhouding van Israel
15:22-18:27 - Omswerwinge van die volk in die wildernis en God se versorging gedurende hierdie tyd
God se ontmoeting met Israel
19:1-24:18 - Optekening van die tien gebooie op Sinai. Die aard van die verhouding word uitgespel
God se teenwoordigheid in Israel
25:1-31:18 - Voorskrifte vir die oprigting van die tent van ontmoeting of tabernakel
32:1-35:3 - Hernuwing van die verbond
35:4-40:38 - Oprigting en wyding van die tent van ontmoeting om God se teenwoordigheid sigbaar te maak
Teologiese motiewe
Die volgende teologiese temas word aangespreek:
- Die proses van bevryding uit `n posisie van onderdrukking na `n posisie van vryheid
- God se versorgende hand
- Die ontmoeting tussen God en sy kinders (volk) met besondere klem op die verbond
- Die voortgesette teenwoordigheid van God by sy kinders (volk)
Bronne
Geestelike Groei Bybel 2004. Lux Verbi; Leefstyl-Bybel vir vroue 2003. Lux Verbi; Van der Watt, J (red) 2003 Die Bybel A-Z. CUM; Vosloo, W & Van Rensburg, F J (reds) 2000. Die Bybellenium Eenvolumekommentaar, CUM.
PREEKSTUDIE – EKSODUS 3:1-4:17
Teks
Die meeste kommentare baken Eksodus 3:1-4:17 as een perikoop af. Dit is `n ryk teks met verskeie fokuspunte. In die geheel gesien, handel die perikoop oor God wat Hom aan Moses openbaar en tot diens roep. God gebruik Moses as instrument om Israel te bevry. Die gebeure verloop soos volg:
3:1. Die Berg van God. Die berg word Horeb genoem en is `n sinoniem vir Sinaiberg, waarvan in Eksodus 33:6 en Deuteronomium 1:6 melding gemaak word. Die vers gee `n kort beskrywing van die omstandighede waarin God Hom openbaar. Hierdie buitengewone openbaring van God vind plaas op `n baie alledaagse plek, naamlik in die veld waar Moses sy skoonpa se vee oppas. `n Mens sou God eerder by `n altaar verwag. Dit wys dat God nie net tot aanbiddingsplekke beperk is nie.
3:2-6. Die brandende doringbos. Die Engel van die Here verskyn aan Moses. In 2-6 word dié dramatiese gebeure beskryf. Die Engel van die Here is `n boodskapper deur wie Hy self met Moses praat. God tree hier daadwerklik na vore deur, soos in ander verskynings, te sê: “Hier is ek!” Hy het dieselfde woorde gebruik toe hy aan Abraham (Gen 22:1), Jakob (Gen 31:11), Josef (Gen 37:13) en Samuel (1 Sam 3:4-8) verskyn het. God se teenwoordigheid verander `n gewone plek eensklaps in `n heiligdom. As Moses sy skoene uittrek, erken hy daarmee dat die plek heilig is.
3:7-12. Die gesprek tussen God en Moses. God het besondere medelye met sy volk. Hy het gesien en gehoor, en neem hulle omstandighede ter harte. God neem dus nie net van ver af waar nie, maar is bereid om persoonlik na vore te tree en spesifiek betrokke te raak toe Hy afkom om Israel te bevry. God gee opdrag aan Moses om die instrument van bevryding te wees in die woorde: “Daarom stuur Ek jou.” Moses se eerste beswaar teen God se roeping vir hom: God antwoord Moses op sy eerste beswaar in die vorm van `n belofte. Hy belowe sy persoonlike teenwoordigheid by Moses.
3:7-12. Die gesprek tussen God en Moses. God het besondere medelye met sy volk. Hy het gesien en gehoor, en neem hulle omstandighede ter harte. God neem dus nie net van ver af waar nie, maar Hy is bereid om persoonlik na vore te tree en spesifiek betrokke te raak as Hy afkom om Israel te bevry. God gee opdrag aan Moses om die instrument van bevryding te wees in die woorde: “Daarom stuur Ek jou.” Moses se eerste beswaar teen God se roeping vir hom: God antwoord Moses op sy eerste beswaar in die vorm van `n belofte. Hy belowe sy persoonlike teenwoordigheid by Moses.
3:13-14. Moses se tweede beswaar teen God se roeping vir hom. God antwoord Moses op sy tweede beswaar deur sy Naam bekend te maak. In die Egiptiese konteks met sy uitgebreide mitologie het talle gode met eiename voorgekom. Daarom is dit noodsaaklik dat God se Naam spesifiek bekend gemaak word. Eiename het in daardie tyd iets spesifieks van die betrokke persoon gereflekteer. Deur sy Naam bekend te maak, het God sy wese bekend gemaak. Die naam Jahweh hou verband met die werkwoord “om te wees”.
3:15-20. God gee opdrag dat Moses die leiers van Israel moet mobiliseer. Die beeld van `n uitgestrekte hand kom baie voor in Egiptiese inskripsies om die mag van die farao uit te beeld. Let op hoe hierdie beeld op God van toepassing gemaak word. Die benaming “Die Here die God van die Hebreërs” kom hier die eerste keer voor. Die Hebreërs is hier ontwortelde mense en God neem die saak van die ontworteldes ernstig op.
3:21-22. God se belofte van oorwinning.
4:1. Moses se derde beswaar teen God se roeping vir hom.
4:2-9. God antwoord Moses op sy derde beswaar deur aan hom drie tekens te gee. Eerste teken: `n Kierie word verander in ’n slang. Tweede teken: Moses se hand word melaats. Derde teken: Die Nyl se water word bloed.
4:10-12. Moses se vierde beswaar teen God se roeping vir hom. God antwoord op Moses sy vierde beswaar deur hom toe te rus vir sy taak. Dit is ironies dat God nie `n welsprekende segspersoon kies nie, maar hom wel op `n besondere manier toerus vir sy taak. God se roeping is ook `n teken van vertroue.
4:13-17. Moses se vyfde beswaar teen God se roeping vir hom. God antwoord Moses op sy vyfde beswaar deur Aäron as segspersoon aan te wys. Só voorsien God op `n besondere wyse. `n Mens staan ook nie alleen in jou roeping nie. God word nou egter kwaad vir Moses oor sy onwilligheid om sy roeping na te kom.
Konteks
Die sosiaal-kulturele omstandighede waarin die boek Eksodus beslag gekry het, is van mense in `n ballingskapsituasie waarin hulle na vryheid smag. Soos in die res van die boek Eksodus, kom die tema van vryheid en versorging sterk in hierdie perikoop na vore. Dit is egter belangrik om daarop te let dat God `n spesifieke persoon as instrument roep om `n bepaalde taak in die proses van bevryding te verrig. Die reaksie van die persoon wat geroep word, is hier van belang.
In Suid-Afrika, dertien jaar na die eerste demokratiese verkiesing, is Christene se roeping weer sterk op die tafel. In `n NG Kerkfamilie-konteks is dit goed om weer te kyk na die kerk se roeping. Beide die NG Kerk en die VG Kerk het rondom 2002 verklarings opgestel waarin hulle hul roeping in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld formuleer. In die NG Kerk se 2002-roepingsverklaring verbind dié kerk haar onder andere tot die volgende sake:
’n Hernude toewyding aan die Here God.
’n Verbintenis aan die kontinent en in die besonder Suid-Afrika.
’n Verbintenis tot groter eenheid met ander kerke.
’n Oproep tot gemeentes om by die genesing en herstel van ons land betrokke te raak.
In die breër teologiese lyne van die boek Eksodus kom die tema van `n hernude toewyding aan die Verbondsgod telkens na vore. Dit is in hierdie verbondsverhouding waarin God Hom aan Moses openbaar. Die gemeente moet daarom opgeroep word om hulleself opnuut aan God toe te wy. Ons verbintenis aan die kontinent, die mense rondom ons en aan ander gelowiges kan immers net gestalte kry vanuit ons verbintenis met God.
Teologiese motiewe en vraagstukke
1. God se almag bo ander gode. Die Egiptenaars was baie afhanklik van die Nylrivier. Dit was hulle drinkwater, hulle het hulle lande met die rivierwater besproei en ook vis daarin gevang. Daarom het hulle verskeie rivierafgode aanbid. Toe die Nyl se water in bloed verander is, was dit `n teken dat God magtiger is as die Egiptiese rivierafgode. Toe God Moses se staf in `n slang verander het, het Hy sy almag ook daardeur bewys omdat slange gewoonlik in Egipte ook as gode vereer is. Die gemak waarmee God ook Moses se hand melaats gemaak en weer genesing bewerkstellig het, is ook tekenend van sy almag
2. Ek is wat ek is: die Naam van God. Soos reeds vermeld, dra die Naam van God besondere mag. Sien kommentaar by afdeling oor die teks. God se Naam is betekenisvol vir Moses. Sy Naam dra betekenis vir die Israeliete. Sy Naam is van betekenis vir die toekomstige geslagte en is betekenisvol vir die mense rondom Israel.
Preekvoorstel
Dit is `n wonderlike teks vir Pinkster. Oorspronklik is die fees van die weke of Pinksterfees op die 16de van die maand van Sivan (Mei/Junie) gevier. Hierdie fees was `n herinneringsteken dat Israel slawe was in Egipte. Pinkster in die Nuwe Testament vier die bedeling van die Heilige Gees. God het die Heilige Gees gegee om gelowiges onder andere toe te rus met krag van Bo vir die taak waarvoor Hy hulle geroep het (vgl. Luk 24:49). In die preek kan beide die Ou en Nuwe-Testamentiese perspektief van `n viering van vryheid en toerusting vir jou roeping gestalte kry. Ons is vrygemaak om gehoorsaam aan God se roeping vir ons, te wees. God se roeping vir ons is iets wat gevier moet word. Die wonderlike is ook dat God ons die beste moontlike toerusting gee om aan sy roeping vir ons gehoor te gee.
`n Kritiese vraag wat tydens die Woordverkondiging beantwoord moet word, is hoekom ons so sku en onwillig is om met vreugde “JA” te sê op God se roeping vir ons.
Inleiding
Koos Kombuis se besondere lied Reispsalm, soos gesing deur Laurika Rauch, kan met groot vrug gebruik word om die gemeente te laat nadink oor ons roeping in Afrika. Die lied het nie `n geestelike of religieuse inslag nie, maar laat jou ten minste nadink oor jou roeping op die plek waar jy geplaas is. Ons is gesout in die lewe, maar tog ook soekend. Die woord van die lied is soos volg:
Reispsalm
“Ons is gesoute reisigers
deur dop en lied, deur klank en vers
ons is ballings uit `n paradys
orals bekend, maar nêrens tuis.
Agter elke grens `n vreemde taal
in elke stad sy katedraal
maar hoe jy ook al sing of vra
JOU TOEKOMS BLY IN AFRIKA!
Hoe lank moet jy nog aanhou soek
deur kaart of Bybel, gids of Boek?
By watter herberg teen die wind,
in watter stal jou heiland vind?
Onder watter ster of noorderlig
bly ons strompel, blind en sonder sig.
Slegs die Suiderkruis wag lankal daar
ONS TOEKOMS IS IN AFRIKA!
As die nag finaal sy mantel gooi,
as die son verdoof van wit tot rooi,
as die stede stil word, mense bang,
in die woude niks meer voëlgesang.
Sal ons wat weet, ons voete wend
terug na die donker kontinent.
Die laaste lente volg weldra,
maar ons toekoms is in Afrika
ons toekoms is in Afrika!
Want eendag is ons kinders daar
nou reis ons weer saam na Afrika”
Ons word daagliks op verskeie maniere met ons hier-wees in Afrika gekonfronteer en daaraan herinner dat ons `n taak in die land het. Ons roeping in Afrika, wat dit ook al behels, is egter nie `n blote sosiale saak nie. Dit is ten diepste `n religieuse saak en ons moet deur God se oë na ons hier-wees kyk (bring die NGK en VGK se roepingsverklaring onder die gemeente se aandag met behulp van `n visuele uitbeelding indien moontlik, of lees dit ten minste voor). As ons `n toekoms in hierdie land wil hê, roep God ons op om ons roeping te vervul. Hy gebruik jou en my as instrumente om sy roeping vir sy kerk en die plaaslike gemeente gestalte te laat kry. Hoe tree ons op as God ons roep? Ons is dikwels net so vol besware oor ons roeping soos Moses. God tree hier in gesprek met Moses oor sy roeping en Moses kan vanuit God se verbintenis met hom, rou eerlik met God praat oor sy roeping. (Die prediker kan elke beswaar en God se antwoord op die tafel plaas. Ons dink verskonings uit in terme van ons eie onbevoegdheid, in plaas daarvan om te fokus op God wat “genoeg” is.)
Verskonings om nee te sê
1. Wie is ek dat ek `n verskil sou kon maak (Eks 3:11-12)? Ons verkeer dikwels onder die indruk dat God net spesiale of belangrike mense roep om deel te wees van sy verlossings- en versorgingsplan vir die wêreld. Moses se lewensverhaal was allesbehalwe ideaal. Hy word in onstuimige tye gebore waar sy ouers slawe van die farao in Egipte was. Tye was egter nie net onstuimig nie, maar ook lewensbedreigend. Die farao wou ook die groei van Israel se populasie keer en het daadwerklike maatreëls ingestel om groei te keer deur opdrag te gee dat alle seuntjies doodgemaak moet word. Moses sterf nie – sy lewe word op `n wonderbaarlike wyse gered. Hy word as `n aanneemkind in `n paleis groot. In sy hart identifiseer hy hom egter nog sterk met die Israeliete en hy droom daarvan om hulle te bevry. Hy probeer `n verskil sonder God te maak. Hy sal hierdie roeping vervul soos hy wil en nie soos God wil nie! Sy passie dryf hom te ver en hy slaan `n Egiptenaar dood. Dit sou later die verskil wat hy probeer maak het, strem. Die mense het hom gou-gou aan sy donker verlede herinner.
God se antwoord (Eks 3:14). God antwoord Moses deur hom te herinner aan sy teenwoordigheid. Roeping staan nie los van of buite-om `n persoonlike verhouding met God nie. En in hierdie persoonlike verhouding met God, kan die geroepene weet dat God hom/haar nie alleen sal los nie. God se teenwoordigheid gee aan `n gelowige se roeping `n bepaalde stuk sekuriteit. Jy is nie alleen en op jou eie besig om jou roeping te gaan vervul nie, jy is besig om aan God se roeping gestalte te gee en Hy is in elke woord en tree saam met jou.
2. Christene se name dra bagasie – steur mense hulle nog aan ons (Eks 3:13-15)? Daar word dikwels in die media smalend na Christene verwys en die NG Kerk dikwels aan haar verlede herinner. Name kan bagasie dra, maar God is bereid om sy Naam persoonlik te koppel aan die persoon wat Hy roep. God se Naam reflekteer iets van Homself, van sy wese. Die bagasie wat ons met ons saamdra, die oneer waarin die term Christen of `n kerk dikwels verkeer, is nie `n rede om ongehoorsaam aan jou roeping te wees nie. God gee legitimiteit aan iemand se roeping en die wonder van sy genade is dat Hy gewone sondige mense, wat dikwels naam-bagasie dra, om sy genade in woord en daad sigbaar te maak. Die groot vraag wat mense moet beantwoord, is of hulle hul aan God steur of nie? Die Sender gee aan die boodskapper se boodskap legitimiteit. Omdat dit God is wat agter die boodskap sit, kan jy juis met groter sekerheid optree en aan God se roeping vir jou gehoorsaam wees.
God se antwoord (Eks 3:15). God antwoord dat Hy die sender is, die Een agter die boodskap is. Die woord Jahweh hou verband met die werkwoord “om te wees”. Hierin lê ook `n stuk misterie. Jahweh, Hy wat is, is die God van die aartsvaders. Hy is die Een wat in `n bepaalde verhouding met Israel staan. In die verhouding met die misterieuse God lê `n stuk nabyheid wat sekerheid gee.
3. Sê nou die mense glo my nie (Eks 4:1)? Ons leef in `n kritiese wêreld waarin mense gou-gou krities staan teenoor ander mense, teenoor die kerk en teenoor die Boodskap wat die kerk verkondig. Omdat die kerk uit gewone mense bestaan en gewone mense ook foute maak, bestaan daar ongelukkig ook `n stuk antagonisme teenoor die boodskap en optrede van Christene. Verder kom basiese geloofswaarhede al meer onder die spervuur en mense bely al meer hulle ongeloof oor basiese geloofsekerhede. Wanneer rampe die wêreld tref, vergroot dit die misterie van God se optrede. Dit maak ons soms huiwerig om aan ons roeping gestalte te gee, want ons kan nie altyd logiese en maklike antwoorde op mense se kritiese vrae gee nie.
Gelowiges moet altyd in verwondering leef oor die stuk misterie van God. Ons hoef God nie te verdedig nie. Maar die misterieuse God verras ons vandag nog dikwels met praktiese, sigbare en tasbare tekens wat getuig van sy sorg en almag. En die manier waarop sekere dinge soms in ons lewe gebeur, kan nie altyd verklaar word nie, maar dit is daar.
Vertrou God ook dat Hy self in mense se lewe op verrassende wyse sal ingryp. Sien die tekens raak!
4. Ek is nie `n goeie prater nie (Eks 4:10). As God alles gegee het, sien Moses steeds sy eie onvermoë raak. Dit is byna asof Hy teen homself vaskyk en in die proses God se Naam, sy teenwoordigheid en wonderbaarlike ingrype nie raaksien nie. God kan alles wees en doen, maar dit maak nog nie van my `n goeie prater nie! Moses se gesukkel om behoorlik te praat is iets waarmee baie van ons kan identifiseer. Geloofsgesprekke is soms van die moeilikste gesprekke – juis omdat die mens die misterie van God nie behoorlik kan omarm of beskryf nie. Ons het ook baiekeer nie woorde nie, of ons voel geïntimideer deur mense se argumente. Maar dit gaan ook nie net oor praatwoorde nie, ook doen-woorde. Ons dade wat moet getuig van ons gehoorsaamheid aan God se roeping, is ook dikwels maar hakkelrig.
God se antwoord (Eks 4:11-12). God kies juis soms die menslik swakkes, sodat Hy `n oop kanaal het om deur te werk. Hy gee Moses die versekering dat Hy hom met die regte woorde sal toerus. Soos reeds vlugtig vermeld, moet ons nie so arrogant wees om God te probeer verdedig nie. Christene voel dikwels dat hulle vinnige antwoorde vir al die kwelvrae en kritiese opmerkings in die lewe moet hê. Ons moet God vertrou vir die regte woorde en ook weet dat dit nie slim antwoorde is wat mense dikwels vertroos nie, maar juis ons stille daar wees. God se woorde hoef nie altyd praat-woorde te wees nie. Hy kan hard praat deur `n arm wat aanraak, `n vinger wat `n traan afdroog en `n gemoed wat saamhuil.
5. Ag Here, stuur asseblief iemand anders (Eks 4:13)! Wanneer mens deur al hierdie verskonings werk en onder die indruk van God se antwoorde kom, raak jy teen hierdie tyd ongeduldig met Moses se halsstarrigheid. Kan hy dan nie hoor en sien nie? Dit voel byna of jy hom wil skud. En dit is op hierdie punt dat God kwaad raak. Moses neem God nie ernstig op nie. Maar wat van jou en my? Neem ons God se roeping wat Hy vir ons het, ernstig op?
Liturgiese riglyne
Die liturg moet moeite doen om die breër teologiese temas soos dit in die boek Eksodus voorkom, in die erediens gestalte te laat kry. Gebruik tekste by die votum om die gemeente daarvan bewus te maak dat God teenwoordig is in die erediens. In die liturgie kan die liturg ook moeite doen om die verskillende name van God hoorbaar te maak in tekste, liedere en gebede.
Bibliografie
Die Lewende Bybel 1999, c1982 (electronic ed.). CUM; Henry, M 1996, c1991. Hayford, J W Gurtis G, Anderson R W, Howse G, Marshall B & Starr P 1997, c1995. Answering the Call to Evangelism: Spreading the Good News to everyone. Spirit-Filled Life Kingdom Dynamics Study Guides; Matthew Henry’s commentary on the whole Bible: Complete and unabrigded in one volume. Hendrickson; Leefstyl-Bybel vir vroue 2003. Lux Verbi; MacDonald, W & Farstad, A 1997 c1995. Believer’s Bible Commentary: Old and New Testaments; Matthews, V Chavalas, M W & Walton, J H 2000. The IVP Bible background commentary: Old Testament (electronic ed.); Richards, L 1999. Every man in the Bible; Van der Watt, J (red) 2003. Die Bybel A-Z. CUM; Van Zyl, A 1997 c1993. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling (electronic ed.). Lux Verbi; W & Van Rensburg, F J (reds) 2000. Die Bybellenium Eenvolumekommentaar. CUM.