Esegiel 37=1-14 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 96 views
Notes
Transcript

Esegiël 37:1-14 LR2005

13 maart 2005

vyfde SONDAG in lydenstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: Esegiël 37:1-14

Ander tekste:                 Psalm 130; Romeine 8:6-11; Johannes 11:1-45

Inleiding

In hierdie liturgie gaan dit oor die wonder dat God lewe bring vir mense wat eintlik dood moes wees. Die lyn wat die tekste in hulle verband ons bied, loop so dat ons moet begin by ’n ontdekking van ons doodsheid sonder Christus. Daarop volg die heerlike ontdekking dat God lewe wil gee! Dat Hy sy Seun en Gees gee om ons lewend te maak. Die aanskoue van hierdie waarheid in die opwekking van Lasarus sal baie goed by die visuele sintuiglikheid van die nagmaal gebruik kan word. Psalm 130 bied ’n struktuur aan die hand waarvan die hele liturgie ingerig kan word.

Die roep na God om hulp uit ’n toestand van doodsheid. Vers 1 en 2

Die erkenning dat dit ons sonde is wat ons doodse toestand veroorsaak. Vers 3

Die verwagting dat ons vergifnis by God kan ontvang. Vers 4

Die wag op die vervulling van sy woord. Vers 5 en 6

Die sekerheid van sy verlossing. Vers 7 en 8

Met lesings van hierdie Psalm en die ander tekste kan hierdie lyn gevolg word in die liturgie sonder om te breek met die basiese struktuur soos in die basisliturgie aangetoon.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Moment van bewuswording

Sien die basisliturgie vir musiek wat voorgespeel kan word.

Aanvangswoord

Voorganger: Een of ander tyd beleef elkeen van ons laagtepunte in ons lewe waarin ons ons hande uitsteek na God. Lees  Esegiël 37:1 en Psalm 130:1-2.

Gemeente:     sing  Psalm 130:1-3 (Lina Spies-beryming op die tweede melodie).

Seëngroet

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die

Heilige Gees en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood

opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

God se Wet

Lees: Romeine 8:10-11 as reël van dankbaarheid.

Lees:  God se 10 gebooie in eietydse gewaad.

Ek is die Here, jou God.

Jesus het jou deur sy kruis en opstanding vrygemaak van die slawerny van sonde.

Daarom behoort jy aan My.

Lei daarom ’n lewe van dankbaarheid wat wys dat jy vrygemaak is.

1.       Jy hoef nie by ander gode steun te soek nie. Hulle laat jou vroeër of later in die steek.

2.       Ek is altyd by jou teenwoordig. Leef vreugdevol in my nabyheid.

3.       Moenie My beledig nie.

4.       Laat die Sondag vir jou ’n dag van vreugde wees, omdat Christus dan opgestaan het.

5.       Hou jou ouers naam hoog.

6.       Respekteer ander mense se lewens. Hulle het dit immers van My ontvang.

7.       As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Soek die geluk van jou lewensmaat in alles wat jy doen.

8.       Moenie vat wat aan iemand anders behoort nie.

9.       Deur die woorde wat jy gebruik – in die openbaar of in die geheim – tot seën wees van jou medemens.

10.     Wees bly oor die geluk en voorspoed van ander.

Danklied

Lied 377:3/NSG 98

Diens van die Woord

Voorganger wys op die verwagting in Psalm 130 dat die Here se Woord in vervulling sal gaan en lees dan vers 5 en 6.

Gebed vir die opening van die Woord

Sang

Lied 253:1-2/NSG 370

Kindertyd

Verduidelik vir die kinders hoe God in ’n onmoontlike situasie nuwe moontlikhede kan skep deur. Esegiël 37 ’n beeldryke voorbeeld in hierdie opsig.

Prediking

Dankgebed en voorbidding

Diens van die tafel

Tafelgebed

Ons God en Vader, deur u Vaderlike liefde nooi U ons vandag om die tekens van u versoening met ons te ontvang. Ook u Seun Jesus, wat vir ons gesterf het, nooi almal wat moeg en oorlaai is. Ons weet daarom u sal beslis nie u dienaars wat om genade smeek en verlossing in die lewe en dood van Jesus Christus soek, wegwys nie.

Daarom reik ek vandag uit na U: Vul my opnuut met u Heilige Gees. Gee dat ek na hierdie tafel sal kom met nederige ootmoed en met ’n begeerte om u genade te ontvang.

Gee dat ek, wanneer ek vandag hierdie sigbare tekens ontvang, deur die geloof die gebroke liggaam van Jesus Christus en sy bloed wat ons voed vir die ewige lewe sal ontvang. Amen.   Johannes Calvyn

Sang

Lied  390:1-4/NSG 107

Instelling en gebruik van die nagmaal

Uitsending

Offergawes

Sien die basisliturgie vir die Lydenstyd vir musiek wat moontlik hier voorgespeel kan word.

Slotlied

Lied  415:1-2/NSG 114

Seën

Die genade van ons Here Jesus sal by julle wees.

Lied 312-315  “Amen”

PREEKstudie – ESEGIëL 37:1-14

Teks

Esegiël 37 dateer uit `n krisistyd in Israel se geskiedenis. Die profeet Esegiël, wat saam met die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer is (597 vC), skryf vir sy landgenote daar waar hy saam met hulle langs die Chebarrivier woon. Hy het self die trauma van die ballingskap beleef. Hy het gesien hoe die magtige Babiloniërs sy stad vernietig, en daarna saam met sy landgenote meer as duisend kilometer gestap na `n vreemde land. Die Babiloniese ballingskap het `n geweldige impak gehad op Israel se psige en godsdienstige belewenis. So het Esegiël se landgenote die verlies van hulle land, geliefdes, koning, tempel en stad as die einde van die skepping ervaar (Gowan).

Vir mense wat alle hoop verloor het, preek Esegiël `n kragtige boodskap van hoop en herstel. Hy ontmoet die mense waar hulle is en beskryf hulle ervaring van dood en hopeloosheid met die treffende beeld van `n vallei met uitgedroogde beendere. Hierdie beeld hou verband met die tema van die eerste deel van die boek (Eseg 1-24) waarin Jerusalem verseker tot `n val gaan kom as deel van God se regverdige oordeel. Die droë beendere wat al lank in die son gelê het, simboliseer iets van die hulpeloosheid van die situasie waarin Israel hulself bevind: Juda is morsdood.

Maar Esegiël 37 reflekteer ook die tema wat in die laaste deel van die boek aan die orde kom. In Esegiël 33-48 sien ons hoe die profeet se boodskap van dood en vernietiging in `n boodskap van hoop en herstel verander. Hierdie tema word treffend geïllustreer wanneer God sy asem wat lewe bring in die beendere blaas. Die effek hiervan is dat die bene stukkie vir stukkie aanmekaar heg en weer begin lewe. Hierdie beeld word `n kragtige simbool van `n nuwe skepping – van die nuwe volk wat God tot stand gaan bring. In Esegiël 36 word beskryf hoe God in hierdie toekoms die nuwe volk sal reinig van hulle skulde (Eseg 36:25; 37:23), en aan hulle `n nuwe hart en nuwe gees sal gee (Eseg 36:26-27).

Die tema van God wat kragdadig ingryp en verandering bewerkstellig, word in Esegiël 37 geïllustreer deur die werking van God se Gees. In sy visie, sien Esegiël hoe die Gees van God deur die vallei met droë beendere blaas en die dooie, uitgedroogde bene weer laat lewe. Die Hebreeuse woord wat vir “gees” gebruik word, ruah, beteken in die eerste plek iets soos “wind” en/of “asem”. In `n woordspeling sien `n mens hoe God se gees of asem soos wind deur die vallei waai. Hierdie beeld herinner aan `n soortgelyke beeld in Genesis 2:7, waar God sy lewensasem in die nuutgeskape mens se neus blaas. Soos met die eerste skepping, bring God se gees in Esegiël 37 lewe in die nuwe skepping wat God besig is om voort te bring.

In Esegiël 37 vind hierdie skepping soos ook in Genesis 2 in twee stappe plaas. In die eerste stap skep God die vorm (in Gen 2 vorm God die mens uit grond, en in Eseg 37 heg God die beendere een vir een). Maar in beide tekste is dit God se asem wat lewe bring, in `n tweede essensiële stap.

Esegiël 37 verwoord iets van God wat in staat is om die onmoontlike te doen. Wat is immers meer onmoontlik as om `n hoop droë bene weer te laat leef? Hierdie treffende beeld illustreer Israel se geloof dat God in staat is om nuwe lewe voort te bring uit `n situasie van totale verwoesting en wanhoop. Na die ontsettende verlies van menselewens, nasionale en godsdienstige simbole, sekuriteit en `n bekende lewenswyse, is dit te verstane dat die mense geheel en al dood voel. Dit is belangrik om raak te sien dat Esegiël 37 erns maak met hierdie ervaring van grootskaalse verlies. Hierdie realistiese erkenning van die realiteit van sonde en verganklikheid, hou verband met ‘n belangrike tema in die boek Esegiël, naamlik om verantwoordelikheid te aanvaar vir die situasie waarin Esegiël se lesers hulself bevind. In vers 3 vra God die profeet of die bene kan leef. Esegiël se antwoord verwoord die heersende gevoel onder sy mede-landsgenote: “U weet Here …” Hierdie uitdrukking van moedeloosheid kommunikeer die besef dat daar geen hoop is nie; dat dit vir Israel voel asof hulle lewe verby is.

Maar dit is juis binne hierdie belydenis van verganklikheid en onvermoë om iets te doen, dat God inbreek. Dit is ten diepste wanneer die mense hulle hulpeloosheid voor God erken, wat God se mag werk. In vers 4-5 kom God se woord tot die droë bene. In detail word beskryf hoe God die bene sal heg en dit met vlees sal bedek, en hoe God se asem hulle weer sal laat leef. God gee nie op nie, God begin weer.

Esegiël 37 beklemtoon dat hierdie belofte van nuwe lewe onvoorwaardelik is. Daar is niks wat die droë beendere kan doen om hulself lewend te maak nie. Die kragtige ingryping van God gebeur geheel en al vanuit God se groot genade. Die radikale transformasie in Esegiël 37 berus op God se wil om lewe te gee vir diegene wat in ’n situasie van dood is. Soos God in vers 14 sê: “God het sy woord gegee, en God sal dit doen.”

Daar is ook `n direkte korrelasie tussen God se dade in Esegiël 37 en die wyse waarop God Hom in die res van die Ou Testament geopenbaar het. Vers 6 benadruk die feit dat God se daad van nuutskepping die uitsluitlike doel het dat die wêreld sal weet wie God is. God, die “Ek is wie Ek is” van Eksodus 3:14, het Hom deur die loop van die Ou Testament geopenbaar as die Skeppergod, die Verlossergod en die God wat getrou bly aan sy beloftes (Gowan). Dit is omdat Israel glo dat God steeds dieselfde God is dat Esegiël 37:14 sonder twyfel kan verkondig dat God Israel sal herstel. Ons sien dus in Esegiël 37 `n kreatiewe herbruik van ou tradisies in nuwe omstandighede. So is God die Skeppergod wat `n nuwe volk skep, en die Verlossergod wat hulle weer sal teruglei na die beloofde land.

Konteks

Esegiël 37:1-14 word tipies gelees op die vyfde Sondag in Lydenstyd. In die Rooms-Katolieke tradisie is die vyfde Sondag in Lydenstyd Passiesondag genoem. Hierdie week is gekenmerk deur `n liturgie waarvan die toon somber en ernstig was. Alle beelde in die kerk, sowel as die kruis, is gedrapeer met `n pers doek wat dan op Paassondag verwyder is. Hierdie rituele simboliseer iets van die diepgaande besinning oor die betekenis van Christus se lyding in Lydenstyd.

Die beeld van droë beendere wat al lank in die son gelê het in Esegiël 37:1-14, is `n goeie beskrywing van gelowiges se diepgaande ervaring van lyding en uitsigloosheid. Maar hierdie teks reflekteer ook iets van die beweging van die dood na die lewe wat ons in hierdie tyd herdenk.

Die transformasie van dood na lewe wat in Esegiël 37 uitgebeeld word, het mense se verbeelding deur die eeue aangegryp. In beide die Christen en Joodse interpretasiegeskiedenis word hierdie teks nie verstaan as `n beeld van die bevryding van die ballinge nie, maar as die werklike opstanding uit die dood (Zimmerli; Greenberg). In `n aantal rabbynse tekste word byvoorbeeld vertel hoe die oorlede ballinge terugkeer na Palestina, hoe hulle trou en kinders kry (B. Sanh). `n Soortgelyke interpretasie word aangetref in vroeë Christen-interpreteerders. Irenaeus van Lyons (c 180) beskryf in sy Adversus Haereses V.XV.1 hoe Esegiël 37 `n opstandingsgeloof ondersteun: “As we at once perceive that the Creator (Demiurgo) is in this passage represented as vivifying our dead bodies, and promising resurrection to them, and resuscitation from their sepulchres and tombs, conferring upon them immortality also” (sien www.textweek.com vir `n seleksie van vroeë Christen-interpretasies van Eseg 37:1-14). Tertullianus (c 211) kritiseer in sy On the Resurrection of the Flesh (XXIX-XXX) die interpretasie dat die droë beendere in Esegiël 37 verwys na die herstel van die huis van Israel. Volgens hom verwys hierdie teks eintlik na die opstanding van die vlees .

Alhoewel die meeste geleerdes vandag meen dat Esegiël 37 op `n eerste vlak wel verwys na die herstel van Israel met die terugkeer uit ballingskap, is hierdie voorbeelde uit beide die Joodse en Christen- interpretasiegeskiedenis `n goeie herinnering dat die opstanding uit die dood binne die verstaanswerklikheid van hierdie teks geleë is. Dit is dan ook so dat hierdie tipe interpretasie van Esegiël 37 bygedra het tot die opstandingsgeloof in die Nuwe Testament. Vir ons is dit vandag belangrik om te begryp dat `n Ou-Testamentiese teks op verskillende vlakke verstaan kan word. Dit is nodig om die teks so ver moontlik in sy oorspronklike konteks te verstaan, maar dan ook na die kreatiewe interpretasies te luister wat uit die teks se nalewe spruit.

Dit is nie onbelangrik nie dat die teks wat saam met Esegiël 37:1-14 gelees word, die verhaal van Lasarus is wat uit die dood opgewek (Joh 11:1-45) is. Die besluit om hierdie verhaal in verband te bring met die Esegiël-teks illustreer iets van die interpretasiegeskiedenis van Esegiël 37, waarvolgens daar in hierdie teks sprake is van `n werklike oorwinning oor die dood. Dit is natuurlik so dat fisieke dood die mees intense verstaan is van die mens se ervaring van hopeloosheid. En juis in Lydenstyd wat uitloop op Goeie Vrydag en Paassondag, dink ons spesifiek daaraan dat God wat die dood oorwin in die opstanding van Jesus Christus, ook vir ons nuwe lewe kan bring.

Ook in die Joodse tradisie vervul hierdie teks `n belangrike rol. Esegiël 37:1-14 word gelees op die Sabbat in die week van Paasfees – die fees waarin Jode die bevryding uit Egiptiese slawerny vier (Greenberg). Ons sien dus dat beide Joodse en Christen-gemeenskappe hierdie teks liturgies gebruik om hulle hoop op nuwe lewe en verlossing te herdenk.

Preekvoorstel

Dit is onmoontlik. As daar drie woorde is wat in staat is om ons hoop te kelder, om ons drome te vernietig, dan is dit hierdie woord: “Onmoontlik.” Dit kan nie gedoen word nie. Of dit nou gesê word in die konteks van ons verhoudings, ons professionele lewe of aangaande `n droom, `n plan, of `n idee wat na aan ons hart is.  Om te hoor dat iets onmoontlik is, maak dat dit dalk vir ons kan voel asof ons in die begraafplaas van dooie drome, aspirasies en verhoudings rondloop. Maar die tema van vandag se preek is nie soseer oor die onmoontlike nie. Dit is eerder oor die onmoontlike wat moontlik kan word.

Iets hiervan word treffend geïllustreer in Esegiël 37:1-14. `n Afro-Amerikaanse “Spiritual” verwoord die teks aangrypend (toe ek hierdie teks gepreek het, het ek op hierdie punt die lied gespeel): “Ezekiel cried them dry bones.  Now hear the word of the Lord Ezekiel connected them dry bones. Now hear the word of the Lord. Your toe bone connected to your foot bone. Your foot bone connected to your ankle bone. Your ankle bone connected to your leg bone. Your leg bone connected to your thigh bone. Your thigh bone connected to your hip bone. Your hip bone connected to your back bone. Your back bone connected to your shoulder bone. Your shoulder bone connected to your neck bone. Your neck bone connected to your head bone. Now hear the word of the Lord. Them bones gonna walk around. Now hear the word of the Lord.”

In sy boek, The Spirtuals and the Blues, beskryf James Cohen die rol van die “spirituals” in die Afro-Amerikaanse geskiedenis. Hy skryf hoe hy grootgeword het in ’n gemeenskap waar hierdie “spirituals” noodsaaklik was vir identiteit en oorlewing (Cohen). Meeste van die “spirituals” het ontstaan tydens die slawerny in die VSA, `n tyd wat by uitstek beskryf kan word as `n onmoontlike situasie gevul met gevoelens van uitsigloosheid en neerslagtigheid. Maar wat hierdie onmoonlike situasie transformeer, is die woorde: “Hoor die woord van die Here.” God se woord kan die “on” van “onmoontlik” uitvee.

Esegiël 37:1-14 wat die inspirasie vir hierdie Afro-Amerikaanse “spiritual” vorm, dateer uit die tyd in Israel se geskiedenis wat as die Babiloniese ballingskap bekendstaan. Om iets van die impak van hierdie tyd in Israel se geskiedenis te verstaan, kan dit help om aan die 11 September-tragedie van die World Trade Center in New York te dink. Saam met die grootskaalse vernietiging van die stad se belangrike simbole word `n groot deel van die bevolking van New York nog gedeporteer na Noord-Kanada. Israel se hoofstad, Jerusalem, is deur die Babiloniërs ingeval, hulle tempel en stad is vernietig, `n menigte is doodgemaak, en `n groot persentasie van die leiers en denkers van die land is weggevoer na Babilon – meer as 1 000 km ver.

Hulle leef nou al langer as 70 jaar in ballingskap. In vandag se terme kan `n mens maklik hul ervaring van verlies en uitsigloosheid, as posttraumatiese stressindroom of depressie beskryf. Hulle voel asof daar geen hoop is nie. Soos vers 11 sê: “Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.” Diep binne-in voel dit vir hulle asof hulle totaal dood is.

Die profeet Esegiël is `n uitstekende prediker. Hy ontmoet sy gehoor waar hulle is, en gebruik `n beeld wat hulle ervaring van dood en uitsigloosheid perfek pas. Hy droom dat hy rondloop in `n vallei van droë bene wat al so lank in die son gelê het, dat al die vleis verdwyn het en die bene spierwit geblyk is. In antwoord op God se vraag of hierdie bene kan leef, moet Esegiël maar net sy skouers ophaal en sê: “God, U weet. Daar is geen manier nie. Dit is onmoontlik. Dit is klaar met ons.” Maar dan, in Esegiël se droom, gee God die verrassende opdrag in vers 4-5: “Profeteer teenoor hierdie droë bene en sê vir hulle: `God gaan God se Gees in die bene laat kom sodat hulle kan lewe’.”

Dooie bene wat weer leef? Onmoontlik! Maar God hou aan dat sy asem hierdie droë bene sal laat leef. En wonderbaarlik, amper soos in die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1, laat God se woord die een been aan die ander heg. En dan in `n tweede lewegewende stap vul God die nuutgeskape wesens met sy asem.

In die res van die teks word die betekenis van hierdie beeld verduidelik. Die beeld van die droë bene wat weer leef, is `n metafoor vir die herstel van die huis van Israel. God belowe dat God `n nuwe lewe aan die ballinge sal gee en hulle sal teruglei huis toe.

Esegiël gebruik hierdie vreemde preekillustrasie om te sê: “Julle wat hoop verloor het; julle wat nie meer in wonderwerke glo nie. Julle het vergeet met wie julle te doen het. God is `n God van lewe wat die onmoontlike moontlik kan maak. God is die Skepper, wat lewe aan die hele wêreld gegee het. God is die Verlosser wat julle voorouers uit slawerny gelei het na die nuwe lewe van vryheid. God is steeds dieselfde. God sal getrou wees aan God se belofte van herstel.”

Ons is in Lydenstyd. Hierdie seisoen in die kerklike jaar wat uitloop op Goeie Vrydag en Paassondag, is `n tyd waarin ons dink aan dood en opstanding, aan lyding en nuwe lewe. Gedurende hierdie tyd waarin ons Jesus se lyding en dood herdenk, dink ons ook aan ons eie lewens wat so gereeld gekenmerk word deur hopeloosheid en hartseer. Dit is dalk `n verskriklike siekte, `n siek verhouding, of `n stukkende droom wat verantwoordelik is dat ons lewens voel asof ons droë bene of afgesnyde, verwelkte blomme is. In Lydenstyd besef ons dat ons soos die bekende gesang dit stel: “Ek is swak en sondig.” In baie van die lewe se uitdagings staan ons totaal hulpeloos.

Maar te midde van hierdie besef van ons eie sterflikheid en onvermoë om iets te doen, is dit belangrik om raak te sien dat God kragdadig ingryp. In `n daad van onbeskryflike genade bring God nuwe lewe in `n begraafplaas ... Dit is veral duidelik op grond van die herhaalde klem op God se woord. God gee God se woord, en daarom kan ons God vertrou om God se belofte te hou. Dit is God se Woord en God se Gees wat verantwoordelik is vir die transformasie. Die dooie bene hoef niks te doen nie (kan eintlik niks doen nie, hulle is dood, nie waar nie?)

Aan die ander kant moet die klem op God se rol in die transformasie nie verstaan word as `n oproep tot passiwiteit nie. In die Afro-Amerikaanse “spiritual” reflekteer die hoop dat God die toekoms gaan transformeer juis die aansporing om in hierdie wêreld te werk vir verandering (Cohen). In Esegiël 37 spoor God se gees mense aan tot aksie – om op te staan, rond te loop en terug te keer na hulle eie land toe.

Dit is interessant dat mense deur die eeue Esegiël se beeld van die droë bene wat weer leef, letterlik verstaan het as verwysing na die geloof in die opstanding uit die dood. Hierdie geloof word al hoe belangriker in die Nuwe Testament (dink maar aan Jesus wat Lasarus uit die dood opgewek het). Almal van ons wat al `n geliefde aan die dood afgestaan het, weet dat die dood inderdaad die mees intense ervaring van hulpeloosheid en hartseer simboliseer. Veral in die Lydenstyd dink ons daaraan dat God in staat is om die dood te oorwin en nuwe lewe te gee. Ons sien dit kragtig geïllustreer wanneer ons Jesus Christus se opstanding uit die dood op Paassondag vier.

Hierdie belofte van nuwe lewe, bring hoop in elke situasie waar dit blyk asof die onmoontlike die oorhand kry. Omdat ons glo in `n God wat lewe kan bring in die aangesig van dood, kan ons ook hoop dat God ons eie onmoontlike situasies kan verander. En dit help ons om aan te hou werk terwyl ons wag vir God om die onmoontlike te verander in die moontlike. Soos die Afro-Amerikaanse “spiritual” dit so mooi sê: “Now hear the word of the Lord: Them bones are gonna walk around …”

Bibliografie

Welker, M 1994.  God the spirit; Zimmerli, W 1983. Ezekiel 2; Gowan, D E 1998. Theology of the prophetic books: The death and resurrection of Israel; Greenberg, M 1997. Ezekiel 21-37; Cohen, J H 1991. The spirituals and the blues.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.