Eksodus 40 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 21 views
Notes
Transcript

16 Julie 2006 LR2006

Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Fokusteks:                    Eksodus 40

Ander tekste:                 2 Samuel 1:1-27; Psalm 130; 2 Korintiërs 8:7-15; Markus 5:21-43

Inleiding

Geloof is meer as net die belydenis “dat Jesus vir ons sondes gesterf het”. Markus wys daarop dat geloof ’n vasgryp/’n omhelsing aan/van God/Jesus is – ’n desperate greep wanneer alles dreig om leeg en sinloos te wees (Ps 130). Die tydsgees reken – die mens is outonoom. Sou dit steeds moontlik wees om ten spyte van al die kundigheid en tegnologie rondom ons, eerder na God te gaan met ons nood en broosheid ... dat ons maar met ’n klaagsang fokus op die geheimenis van God se teenwoordigheid (Eks 40). Waag dit maar en ontdek rus by die genade van Christus (2 Kor 8:9).

Diensorde

God vergader ons voor Hom

Aanvangswoord en lied

Die voorganger kan iets sê soos: “Ons is vanoggend hier vergader, komende uit die week en die lewe in sy ryke fasette. Hier is ons soos elke dag in God se teenwoordigheid. In stilgebed vra ek dat elkeen hom/haar voor God sal oopmaak – oor die week wat verby is, jou vreugdes, jou nood, jou worsteling – dalk jou pyn.

Sang

Lied 163 “Soos ’n wildsbok”  (herhaal)

Seën

Genade en vrede vir julle van God die Vader, en Jesus Christus deur die werk van die Heilige Gees.

Loflied

Psalm 111:1,3 en 4 met die keervers

Verootmoediging

’n Lidmaat lees Psalm 130:1-3.

Lied 240:1,2 “Heiland as in ootmoed stil”

Vryspraak

Die lidmaat lees Psalm 130:4-8.

Voorganger: Glo dit! God steek sy hand na jou toe uit.

Lied 245:1,3  “Ek wat vergifnis Heer ontvang het”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Psalm 119:33-40  (afsonderlik of saam met vrye gebed)

Lied 254  “Spreek Heer”  (herhaal)

Skriflesing

Eksodus 40

Kindertyd en preek

Die gemeente antwoord op die Woord

Lied 255:1,2 “Woord van God, Woord van die lewe”

DIENS VAN DIE TAFEL

Gereedmaak van die tafel en die offergawes

’n Gesin wat vooraf gevra is, bring brood en wyn na die nagmaalstafel.

Vredesgroet (opsioneel)

Indien die nagmaal nie bedien word nie, kan die liturg hier voorgaan met ’n nagmaalsherinnering. Hier word só ’n herinnering aangebied:

“Met die nagmaal het ons die voorreg om 'n ete saam te eet. 'n Klein ete wat bestaan uit 'n stukkie brood en 'n slukkie wyn. Ons het die voorreg om met God te eet, uit God se hand te eet, want Hy is die Gasheer. Jy moet dit hoor: God begeer jou teenwoordigheid aan sy tafel! Jy is genooi, nie oor jou waarde of jou status nie; nie oor jou geld of jou besittings nie; nie jou prestasies of ideale nie; nie jou godsdienstigheid of goeie werke nie, maar omdat God God is wat uitreik na jou, om vandag en elke dag van jou lewe by Hom aan sy tafel te kom eet.

Maar om jou voete onder God se tafel in te steek is 'n belydenis dat jy Hom met jou hele lewe vertrou. Dit is 'n uitdrukking van die feit dat jy met albei hande aan Hom vashou en met al twee oë na Hom kyk; dat jy in alle omstandighede alles van God verwag. Dit is om God alleen toe te laat om jou honger na geluk en gemoedsrus te stil. Dit is om 'n hart te hê wat nie verdeel is nie.

Elkeen van ons moet ons daarom nou op hierdie punt toets: Waarop sit jy jou hart? Wat is die dinge waarop jy staatmaak?  Want dit is die dinge wat bepaal waar jou hart ook is (Matt 6:21). Is jou hart by die enigste ware God van die Woord (HK V 95) of is dit elders omdat sy Woord en beloftes vir jou nie genoeg is nie? Het jou hart dalk die gevangene geword van ander lojaliteite? Jou werk, jou tyd, jou inkomste, jou eiendom, jou aansien, jou kennis, jou voorkoms, jou gesondheid, jou begeertes, jou volk, jou toekoms, jou veiligheid, jou geluk. Is dit waarvoor jy jouself gee in ruil vir vrede, geluk en vastigheid? Het die dinge nie dalk jou god geword nie? Is God nog 'n faktor vir jou? Verwag jy nog iets van God?

Kom laat ons ons voor God ondersoek. (Stilte)

Daar is iets soos 'n afgod – 'n teen-god, 'n nie-god – iemand of iets wat nie God is nie, maar op wie ons ons vertroue stel. Ons kan God so as ’t ware verloor. Wanneer ons nou hier vergader is, kom God na elkeen, oor en deur alle grense of skanse heen om ons te ontmoet en maak Hy 'n aanspraak op jou hart en op jou verstand en op jou liggaam en op jou planne en op jou tyd en op jou lewe en op jou goed en op jou gesin en wil Hy hê dat jy moet luister: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het (Eks 20:2). Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:35). Ek is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Ek is die ingang vir die skape (Joh 10:7). Ek is die goeie herder (Joh 10:14). Ek is die opstanding en die lewe (Joh 11:25). Ek is die ware wingerdstok (Joh 15:5). Ek is wat Ek is (Eks 3:14) en jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eks 20:2). Want niemand kan vir twee base tegelyk werk nie, omdat een altyd eerste sal kom en die ander tweede (Matt 6:24). Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien (Matt 5:8).

God is nie skaam om jou aan sy tafel te hê nie. Dit is die ewige wonder van God. Ons het nie reg op hierdie ete nie, maar God begeer jou teenwoordigheid. Hy wil dat jy sy gasvryheid sal beproef – sy aanbod van lewe in die offer van sy Seun. Daarom mag jy jou op Hom verlaat, jou verdeelde hart verbind en mag jy aansit vir die ete, mag jy nagmaal vier, mag jy vir altyd aansit by die tafel van die Here en uit sy hand eet.”

Indien die nagmaal wel gevier word, die volgende:

Geloofsbelydenis

Instellingswoorde

Uitdeel en gebruik van die tekens

Dankgebed

“O my Here en my God,

die lewensreis is te vermoeiend vir my,

tensy U my voed met die brood uit die hemel en die wyn van die lewe;

tensy U u eie oorwinning oor sonde, haat en pyn en dood met my deel.

Laat u bloed deur my are vloei,

u krag, my krag wees, u liefde, my liefde wees,

en die wil van die Vader ook my wil wees.

Laat my met U een wees, in hart en siel en verstand” (George Appleton).

Offergawes

 (’n Uittreksel uit die Korintiërteks sou voorgelees kon word.)

UITSENDING

Slotlied

Lied 190:1-3  “Grote God, aan U die eer”

Seën

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee”

Die gemeente sing Lied 312  “Amen”.

PREEKSTUDIE – EKSODUS 40

Teks en konteks

1.  Eksodus 40, as verhaal van die oprigting van die tabernakel, vorm die slot en hoogtepunt van die boek. Kommentare skryf baie kort oor die hoofstuk, juis omdat alles alreeds vooraf gesê is. Eksodus 40:1-15, in direkte rede as Jahweh-spraak, vorm die opdrag om die elemente van die tabernakel in posisie te plaas en die priesters te salf. Dit komplementeer die opdrag om die vervaardiging van die verskillende elemente van die tabernakel soos dit in besonderhede in Eksodus 25-30 gegee is. Eksodus 40:18-33 beskryf hoedat die opdrag in die voorafgaande verse uitgevoer is, wat op sy beurt hoofstuk 36-39 van die boek, wat die vervaardiging verhaal, komplementeer. Die salwing van die priesters (vgl 40:12-15) word egter nie hier verhaal nie, maar eers in Levitikus 8-9. 

Hierdie opdrag- en doen-perikope word deur die bevestiging dat Moses “alles gedoen het presies soos die Here hom beveel het” verbind (40:16-17). In 'n wêreld waar skryf 'n moeisame proses was en daar geen “cut and paste”-funksies op 'n sleutelbord was nie, is juis hierdie herhaling van gegewens in die voorafgaande en in hierdie hoofstuk betekenisvol. Dit lewer getuienis dat die baie belangrike konstruksie van die heiligdom presies volgens God se eie “plan” (vgl 25:40, 26:30, 27:8) en “opdrag” (31:11, 39:5, 7, 21,26, 31, 32; 40:19, 21, 23, 27, 29, 32) uitgevoer is. Soortgelyke herhaling kom in die Keret-epos, wat ook gode-opdrag met kultiese elemente bevat, voor (Fensham). Hiermee word aan volgende geslagte bevestig dat hulle kultus deur die Here self ingestel is, en dus onveranderd voortgesit moet word (vgl 40:15 en Lev 10 direk na 8-9).

1.1  Enkele opmerkinge oor die elemente van die diens.

a.  Die ark in die tent van ontmoeting staan sentraal; dis die fokuspunt en die hele opstelling beweeg van hier uit na buite (40:2, 20-21).

b.  Die twee soorte altare, bronsbrandoffer hoofsaaklik vir versoeningsoffers en goue wierookaltaar vir aanbiddingsoffers (vgl verder Lev 1vv), verteenwoordig die hoofelemente van die ontmoetingsgebeure.

c.  Die salwing van die verskillende voorwerpe verteenwoordig die heiliging, die afsondering van die ruimte as ontmoetingsruimte met die heilige God.

d.  Die belang van die reiniging en salwing van die priesters as liturge, as bedienaars van die erediens en as middelaars tussen die volk en God.

1.2  Oor die aard en vorm van die erediens word, behalwe verdere bepalings in wetsgedeeltes, in die Ou Testament nie veel gesê nie. Twee sake wat direk voortvloei uit die gegewens van ons teks, is egter duidelik in die Ou Testament:

a.  Nie alle eredienste wat in die Naam van die Here beoefen word, dra sy goedkeuring weg nie. God oordeel die diens aan die kalf, al word daarvan gesê “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het” en “Môre is daar 'n fees vir Jahweh” (Eks 32:4-5; vgl 1 Kon 12:28). Dit word deur baie profetiese tekste beaam, maar daar kom telkens die element by dat:

b.  ook al is die erediens formeel dalk korrek, waar dit nie deur 'n lewe van geregtigheid, en veral sosiale geregtigheid gekomplementeer word nie, dit vir God verwerplik is (bekendste is Jes 1:10-17, Jer 7:1-15, Am 2:6-8).

Volgens die Nuwe Testament het daar dramatiese veranderinge in die ontmoetingsgebeure tussen God en die mens in die kultus gekom. God het in Christus nie net naby gekom nie. Hy het sigbaar en ontmoetbaar geword, omdat die voorhangsel geskeur is (Hebr 10:19-25, v25 hoort nie verniet by die vorige verse nie). Aanbidding is nie net volgens die letter van die wet nie, maar die Gees van vryheid (2 Kor 3). Ook die Nuwe Testament sê dat om bloot “Here, Here” te sê en ook kultiese dinge in sy Naam te doen, terwyl die wet van God oortree word, oordeel bring (Matt 7:21-23). Waar aanbidding “deur die Gees” van “in waarheid” (Joh 4:23; dié van die Skrif, wat juis deur die Gees gegee is vir lering ens, 2 Tim 3:14-17) losgemaak word, kom eie gees en eie waarheid ongemerk binne.

Al lyk die Christelike erediens en aanbidding totaal anders as in die Ou Testament, moet dit tog ook getoets word aan die vier kern-elemente van die Ou Testament wat hierbo (1.1) aangedui is. Hoe word vandag daaraan uitvoering gegee?

1.3  Dit is nodig dat elke gemeente van tyd tot tyd gehelp sal word om perspektief op haar eie aanbidding te kry en om nuut daaroor te begin besin. Dit mag die gemeente baat as ons vir hulle die hooftradisies kortliks uitwys (vgl Carson):

a.  die hoogkerklike, waar die aksent op handeling van God val, soos verteenwoordig deur die liturg (bv Ortodokse en Rooms-Katolieke);

b.  die middelkerklike, wat meer dialogies van aard is, waar die gemeente aktief deelneem, maar dan meestal korporatief, in sang en belydenis en waar die liturg bemiddelend namens God en namens die gemeente optree (tipies van gereformeerde erediens);

c.  die vryer en spontane liturgie waar die belewing en deelname van die individuele gelowige sentraal is, dikwels met 'n oorwig van “praise and worship”. Mens sou dit 'n meer antroposentriese aanbiddingstyl kon noem.

In baie kerke is daar vandag verwarring en selfs verdeeldheid oor wat sinvolle erediens is. Mense met verskillende behoeftes en spiritualiteite aanbid saam en die liturg val rond om almal te bevredig. Liturgiese vernuwing is aan die orde van die dag en daar word wyd geëksperimenteer. Blootstelling aan andersoortige tradisies as dié waaraan 'n bepaalde gemeente/denominasie gewoond is, laat nuwe moontlikhede oopgaan. Die “liturgical movement”, met invloed in alle (Westerse) Christelike tradisies, het nuwe moontlikhede maar ook vrae op die tafel geplaas. Hierin word onder andere `n herwaardering van die klassieke en ook ortodokse liturgieë, asook van stilte en meditasie gemaak. Die opbloei van die charismatiese beweging, wat hiermee saam loop, het nie net in die Pinkstertradisie nie, maar in die meeste hoofstroomkerke pertinente invloed (vgl Fenwick, Spinks). In nie-Westerse gemeenskappe het 'n proses van bestuurde en dikwels spontane “verinheemsing” van liturgie nuwe moontlikhede geopen. Maar ook in min of meer Westerse kerklike gemeenskappe moet ons besin hoedat ons as moderne mense (behoort te) aanbid en die rol wat kultuur daarin speel. Die Gospel and Our Culture-beweging wil ons help om nie maar die populêre kultuur huitjie en muitjie in ons liturgiese vernuwing op onkritiese wyse op te neem nie. Die funksionaliteit van oorverdowende klank en polsende ritme, van elektronika en mark-retoriek (“sales talk”) moet aan die basiese Bybelse aard van 'n liturgiese ontmoeting met God getoets word en nie maar aan modegier of populariteit oorgelaat word nie (lees Warren p 100-105).

Liturgiese vernuwing is 'n mynveld, van nuwe moontlikhede wat ontgin kan word, maar ook van dié tipe myne wat kan ontplof as mens nie mooi trap nie! Hierdie Buvton Preekstudies met Liturgiese Voorstelle bied waardevolle hulp aan die liturg om nie maar in die vaarwater van eie spitsvondigheid te dobber nie, maar gevoed te word uit 'n verskeidenheid van beproefde tradisies. Die punt is egter dat die gemeente gehelp moet word om te verstaan wat in die liturgie gebeur en so beter te kan meeleef en beleef. Daarvoor kan 'n preek oor ons teks baie sinvol wees.

2.  Eksodus 40:34-35 is die kersie op die koek, waarsonder daar nie oor die eerste deel van die hoofstuk gedink of gepreek kan word nie. Maar soos die vorige verse nie sonder hoofstuk 25 verstaan kan word nie, kan ook hierdie verse nie sonder hoofstuk 31:1-36:7 behoorlik begryp word nie. Laasgenoemde vorm 'n omraamde tussenstuk (vgl 31:1-11 met 35:4-36:7 en 31:12-17 met 35:1-3) wat die reeds bespreekte opdrag tot die vervaardiging van die tabernakel skei van die uitvoering van die opdrag (hfst 25-30 en 36-39). Die verhaal van die goue kalf, van verbondsverbreking en verbondsherstel, vertel dat die plek van ontmoeting met God nie deur 'n sondige nasie vervaardig kon word nie. Maar die verhaal bevat ook belangrike elemente wat die basis vorm vir die verstaan van die slot van Eksodus 40.

Die volgende in hoofstuk 31-34 is van belang:

a.  Die kalf is gemaak onder pretensie dat dit die fokuspunt van Jahweh-erediens is. Hierop volg drie elemente: God se oordeel (32:9-10,19-28,35); Moses se voorspraak vir die volk (:11-13,30-32); en die Here se ommekeer (:14,34).  Hiermee is die moontlikheid van trek weer op die tafel (32:34, 33:1v; vgl 40:36v), maar nou sonder die teen-woordigheid van die Here: “As Ek net 'n oomblik saam met julle trek sal Ek julle verdelg” (33:3,5). Daarom word daar 'n tent buite die laer opgeslaan (33:7), ten minste in kanoniese verband as teenpool van die beoogde tent waar Jahweh “in die midde” van die volk sou woon (25:8). Soos op die berg (21:21, 24:15) kom God in 'n wolk om met Moses te praat (33:9-11, 34:5). Dit is hier waar Moses weer voorspraak doen in die woorde van 33:15-16: “As U nie self met ons saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie ... Dit is deurdat U met ons saamgaan dat ons anders is as al die volke op die aarde.” Die direkte verband van hierdie gebeure met die einde van hoofstuk 40 is kardinaal. 

b.  Die voortgang van die verhaal, van die konstruksie van die tabernakel en God se openbaring van sy teenwoordigheid in die midde van die volk is egter nie moontlik voor die verbond nie eers herstel is nie. Hiermee word verder verbande met die eerste helfte van die boek Eksodus opgeroep: Jahweh se bekendmaking van sy Naam en karakter (34:5-7) lê verbande met 3:6-8,13-15 en 6:1-7. Die wetgewing (34:11-26) komplementeer die vorige wetgewing, maar fokus nou veral op kultiese sake; dit wat in die verband van belang is. Eers as die verbond weer formeel gesluit is, is daar 'n nuwe toekoms moontlik (34:27v; vgl 24:1v).

c.  As die wolk van God se “magtige teenwoordigheid” uiteindelik die tabernakel oordek sodat nie eers Moses daar kan kom nie (40:34-35), is dit nie net teken van sy goedkeuring van die werk nie. Dis méér as alle vorige geleenthede (16:10, 24:15-16), selfs toe Moses in ontmoeting met God self 'n glansende vel ontwikkel het (35:29-35). Die wolk is die teken van God se persoonlike teenwoordigheid in sy openbaring (Eks 16:10-11; 19:9; 24:15-18) en begeleiding op die trekpad (14:19; 40:36-38; Num 9:15-23). Daarom is die wolk voortaan direk met die tabernakel verbind, want die kern van die tabernakel is dat “Ek tussen hulle kan woon” (Eks 25:8; 29:42-46) en “Ek sal met jou praat” (25:22). Hierdie tradisie is na die tempel oorgedra, waar God ook sy teenwoordigheid in 'n wolk sigbaar maak (1 Kon 8:10-11, 27-30). Voor die ballingskap sien Esegiël hoedat die heerlikheid van die Here die tempel verlaat (11:23; vgl Jer 7:1-14); in die oordeel is daar die verwagting dat sy heerlikheid weer daarheen sal terugkeer (Eseg 43:1-7; Sag 8:3).

In die Nuwe Testament kry die teenwoordigheid van God onvoorstelbare dimensies. Hier word Hy 'n mens en word sy heerlikheid sienbaar. Johannes omskryf dit dan as: vol van genade en waarheid (Joh 1:14,17-18, vgl hierby Eks 34:6-7). Sy fisieke teenwoordigheid, sy liggaam noem Jesus “tempel” (Joh 2:18-22). Van die uitstorting van die Heilige Gees sê hy: “... en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh 14:23). Daarom is die liggaam van elke gelowige 'n tempel van “die Heilige Gees wat in julle woon” (1 Kor 7:19; Rom 8:9). Maar bowenal is die gemeente “die tempel van God (omdat) die Gees van God in julle woon” (1 Kor 3:16;  Ef 2:19-22; 1 Pet 2:5).

Wat die “heerlikheid” alles inhou, is haas onmoontlik om onder woorde te bring. Rick Warren skryf: “It is who God is. It is the essence of his nature, the weight of his importance, the radiance of his splendor, the demonstration of his power, and the atmosphere of his presence ...” Mense beleef die teenwoordigheid van God se heerlikheid verskillend, en die Bybel gebruik naas die wolk verskillende simbole daarvoor (bv aandwind, vuur, ens). Belangrik is dat, soos in ons teks, die mens dit nie kan opwek of “beleefbaar” maak met meevoerende sang of emosionele redes of mediterende stiltes nie. Dit is 'n daad, 'n gawe van God. Soos in Eksodus en Jeremia/Esegiël (vgl bo), kan sonde nie net die belewing nie, maar die daadwerklike teenwoordigheid van God in die weg staan. In Christus is God se teenwoordigheid veral in die erediens egter 'n belofte, 'n feit, wat nie van ons belewing afhanklik is nie (Matt 18:20, 28:20b), want sy Gees woon in die individuele gelowige en in die gemeente.

Belewing van God se teenwoordigheid is in ons dag dit wat as die bewys van geloof en vroomheid voorgehou en nagejaag word. Inderdaad is die openbaring van God se heerlike teenwoordigheid die kern van die erediens waaraan die liturgie uitdrukking gee. Maar let op: Hierdie oorweldigende heerlikheid van die wolk was alleen by hierdie konstituerende geleentheid van die inwyding van die tabernakel/tempel sigbaar. Daarna, op die pad, moes die volk, by wyse van spreke, met 'n gewone wolk tevrede wees (lees Warren pp 107-110).

Dit is dringend nodig dat ons gemeentes, wat leef te midde van 'n kerklike wêreld waar fenomenale belewinge van God die norm blyk te wees, gehelp sal word om 'n Bybelse perspektief hierop te kry. Ons moet leer om in die gebroke liggaam van Christus en van 'n medegelowige die heerlikheid van God te herken. Om deur die heerlikheid van God oorweldig te word is nie van ons geloof of ons emosies afhanklik nie – ek sê nie dat dit nie daarmee te doen het nie! Dis afhanklik van die sekere wete gegrond op die beloftes van die Woord: God is reeds daar as ons in die erediens aankom. Ons lidmate moet gehelp word om die geeste te onderskei en te weet dat alles wat blink, nie goud is nie.

Preekvoorstel

1. Inleiding kan begin met die vrae: “Wat het jy sover uit hierdie/uit die vorige erediens wat jy bygewoon het, gekry? Wat het jy verwag om te kry? Dink jy dis die regte vraag om te vra? Hoekom is dit of is dit nie? Waaroor gaan dit in die byeenkoms van gelowiges, in die erediens? Wat is die funksie van liturgie?” Gee telkens 'n oomblik vir nadenke.

Neem nou die gemeente op 'n toer deur die liturgiese panorama sedert die Ou Testament, soos in afdeling 1 hierbo. Wys op die liturgiese belang van simboliese voorwerpe en handelinge, op rites en seremonies, die rol van die liturg; en dat in die Ou Testament die kern van die erediens ontmoeting in teenwoordigheid van die Lewende God is, want dit is waar “Ek tussen hulle kan woon”. Help mense om te verstaan watter verskuiwings in die Nuwe Testament gekom het, soos beliggaam in die persoon en funksie van beide Jesus Christus en van die Heilige Gees.

Na gelang van die aard/behoefte van die gemeente kan klem gelê word op perspektiewe en invloede deur die eeue, veral die laaste tyd. Die doel moet wees om gemeentelede te help om perspektief te kry deur te verstaan wat die aanbiddings-landskap is waarin ons ons vandag bevind, wat die invloede is wat op ons inwerk. Hierin is twee sake belangrik:

a.  om die geleenthede (+) en gevare (-) van verskillende aksente en invloede (bv “tradisionele” naas “vernuwende” erediens; van rituele en meditatiewe naas deelnemende en belewenis-gerigte) op 'n simpatieke wyse te behandel.

b.  om die rol wat verskille in persoonlikheid en verskille in spiritualiteit binne die erediens speel te behandel.

Hierdie preek kan die geleentheid bied om: (i) begrip vir mekaar se behoeftes en belewingsaksente te bevorder en so groei te bring, of (ii) 'n gemeente wat gestagneer of teen enige “vernuwing” gekant is, perspektief te gee oor waar ons vandaan kom en in watter wêreld ons lewe. Bowenal moet dit die gemeente laat besin of die kern van die erediens, naamlik ontmoeting in teenwoordigheid en met die lewende God, nog waar is van ons erediens. Beklemtoon dat sy teenwoordigheid 'n geloofswerklikheid is wat nie van ons belewing daarvan afhanklik is nie. Maar eweneens gaan dit ook nie om buite ons begrip van wat aan die gang is en ons instelling in die erediens nie.

2.  As alternatief kan die aksent van die preek meer op die kwessie van belewing as sodanig val. Terwyl heelwat van die vorige gegewens gebruik kan word, om te help om 'n Bybelse en historiese basis te lê, word meer gefokus op die gegewens soos behandel by (2) in Teks en konteks hierbo.

Hier behoort aandag gegee te word aan: (i) die gevaar van sonde wat die ontmoeting bedreig, veral van eiewillige idees oor aanbidding (goue kalf) teenoor “presies soos die Here (Moses) beveel het”; (ii) die feit dat belewing van die heerlikheid/glansryke teenwoordigheid van die Here van sy kant af kom, sy daad is, en dat dit nie opgewek kan word deur watter vorme van emosionele stimulasie ook al nie, en hoedat die “grade” van belewing daarvan wissel; (iii) die rol van emosie in geloofsbelewing, hoedat dit saamhang met en beïnvloed word deur persoonlikheid, natuurlike fluktuasies in 'n mens se gemoedstoestand (seisoene), met fisieke en emosionele krisisse, ensovoort. 

Die wolk blink nie elke dag ewe veel nie, maar God se teenwoordigheid en leiding bly, al is daar selfs geen wolk te sien nie, want die beloftes van die Nuwe Testament, van die blywende teenwoordigheid van Jesus deur die inwoning van die Heilige Gees is onverstoorbaar.

Bibliografie

Kommentare op Eksodus van Childs (OTL), Durham (WBC), Fensham (POT), Gispen (KV);  Carson D A (red), 1993. Worship: Adoration and Action;  Childs B S 1979.  Introduction to the Old Testament as Scripture;  Fenwick J B Spinks, 1995.  Worship in transition;  Vriezen Th C, 1974.  Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament; Wageningen, H Veenman en Zonen (vgl rubriek “Cultus” in indeks). Warren R, 2002.  The Purpose Driven Life.

Related Media
See more
Related Sermons
See more