1 Sam 2:1-10

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 44 views
Notes
Transcript
Toetrede of Flam 32 of VONKK 119
Votum Lees – of sing of speel of wys ‘n video van – die pragtige “Canticle of the Turning”
Seëngroet
Lofsang of Flam 114 [bekend – Jeugsangbundel]
Wet
Verootmoediging Lied 246 of Lied 247 of Flam 68 of VONKK
Genadeverkondiging Hebreërs 10:12-18
Gebed Hebreërs 10:19-23; stil gebed
Gebed
Skriflesing (Kry enige iets tussen 1 en 15 vroue om vanoggend se skriflesing te doen)
Preek
Die dokter het vir Marsha Mark en haar eggenoot gesê hulle sal nooit hul eie kinders kan hê nie. Diep teleurgesteld het Marsha nogtans aan 'n vriend se woorde vasgehou: "Op een of ander manier gaan God julle stryd tot sy eer gebruik." Marsha het begin bid om iets van die glorie van God raak te sien.
Marsha vertel hoe sy al haar kennisse gevra het om te bid. "'n Vyfjarige het gebid: 'Liewe God, stuur asseblief vir tannie Marsha 'n baba. Miskien kan iemand een vir haar gee, of miskien kan sy een in die straat optel."
Tom, Marsha se man en natuurwetenskaplike, het ophou bid toe Marsha tekens van menopouse begin toon. Tom het in sy loopbaan baie data gesien. Hy het nog nooit gesien gebed verander wetenskaplike feite nie.
Ses maande later besoek Marsha die dokter om 'n swangerskaptoets te ondergaan. Die dokter wou nie, omdat Marsha vir sewe maande nie meer haar maandelikse ritme gehad het nie. "Jy aanvaar nie die feite nie," het hy gesê. Marsha het aangedring en tog haar sin gekry. Die toets is gedoen.
Die uitslag was positief.
Toe dring die dokter op 'n herhaling van die swangerskaptoets aan. "Oor die volgende twee weke het ek nog vier swangerskaptoetse gehad, en nog drie sonogramme. Hierdie keer het die dokter gesukkel om met die feite rekening te hou," lag Marsha.
Die swangerskap het sonder enige krisis verloop. Amanda is op 22 Oktober daardie jaar gebore. "Ons noem haar 'Wonderwerk Mandie'," sê Marsha
Jubel in die Here
Ons teks bestaan uit Hanna, eens 'n kinderlose vrou, se jubelgebed omdat die Here vir haar 'n seuntjie gegee het.
In lees ons van Hanna se verdriet. Haar man, Elkana, het twee vroue gehad. Hanna was kinderloos, waaroor Elkana se ander vrou, Peninna, vir Hanna gespot en verneder het. By geleentheid het sy hartverskeurend in die tempel gebid om 'n kind. Daarna word sy swanger met Samuel, die kind wat sy van die Here afgesmeek het.
Nadat hy gespeen is, het Hanna hom na die tempel geneem waar Samuel die Here onder toesig van die priester Eli gedien het.
Ons teks is Hanna se jubelgebed in dieselfde tempel waar sy vroeër in trane gesmeek het om 'n kind. Hierdie gebed sluit aan by die smeekgebed en voltooi dit. Hanna se gebede beskryf 'n volle sirkel – van smeking tot danksegging. Wat sy deur gebed verkry het, rond sy af met 'n gebed van lofprysing en danksegging.
Lof en dank vir wie God is
In verse 1 tot 3 praat Hanna uit persoonlike ervaring oor God. Sy fokus op die wonderbaarlike karakter van God, en al die groot dinge wat God vir haar gedoen het. Sy is minder gefokus op die wonderlike geskenk wat sy ontvang het – Samuel – en meer op die wonderbaarlike karakter van God. Sy sien nie soseer die geskenk raak nie, maar die Gewer.
Hierin is Hanna die teenoorgestelde van wat ons dikwels doen. Mens is so geneig om die geskenk raak te sien, en van die Gewer te vergeet; om die water in die stroom te geniet, sonder om die fontein te onthou waar alles ontspring.
Daar kan meer as een Samuel wees – nog wonderbaarlike geskenkies – maar daar is maar een Here (2):
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.
In verse 2 en 3 word vier aspekte van God se wese in Hanna se gebed besing:
• Daar is geen heilige soos die Here nie: niemand vergelyk met God nie. Op verskeie plekke word God se heiligheid besing wanneer iets van God gesien word, soos in Jesaja se troongesig (Jes. 6:3) of tydens die hemelse erediens in Openbaring 4:8. Wanneer ons aan God se heiligheid dink, loof ons God.
• God se almag of krag oorstyg alles – daar is geen rots soos ons God nie (2). "Rots" word ook met "krag" vertaal. Hanna het haar hele wese en haar hartseer voor God uitgestort, en Hom as rots of almagtige beleef.
• God se diepe kennis of wysheid word besing (3). God sien alles, en sien deur alles. Niks is voor Hom verborge nie.
• God se geregtigheid word ook besing – "dade word deur Hom getoets". God word nie geflous nie, maar sien deur alles. God maak nie 'n fout nie.
Let op hoe hierdie wonderbaarlike karakter van God Hanna troos. Dit waarvoor ons God loof en prys word vir ons 'n bron van troos (1):
• "Ek jubel in die Here": haar dankbaarheid stop nie by Samuel nie, maar styg op tot by die Here, die bron van die goedheid.
• Sy jubel "oor die uitkoms wat U gegee het". Daarenteen moet diegene wat op hulleself vertrou versigtig praat, want mense se aanmatigende werke kan God se toets nie deurstaan nie. Mense wat aanmatigend praat, misken hulle perke en vermag dikwels min.
Die wysheid van God
In verse 4 tot 8 fokus Hanna se jubelgebed op die wyse waarop God die wêreld en lotgevalle van mense met wysheid regeer.
In 'n eerste rondte (4) sê sy die boog van die magtiges word verbreek as die Here net 'n woord spreek. Magtiges word ontwapen, dit word onmoontlik om te doen wat hulle beplan het. Die oorwinning wat so seker gelyk het op grond van hul wapens is daarmee heen.
Daarteenoor spreek die Here 'n woord en die wat gestruikel het, die wat so verswak is dat hulle straks nie een tree voor die ander kan gee nie, word opgetel en behaal die oorwinning. Die oorwinning word behaal deur diegene wat as 'n maklike prooi gesien is.
In 'n tweede rondte (5) beklemtoon Hanna dat die versadigdes, die rykes, skielik sonder kos en inkomste is – hulle moet hulself vir brood verhuur. Die wat honger was, het skielik oorgenoeg om te eet. 'n Mens moenie op jouself vertrou en jouself te ernstig neem nie. Jou rykdom en vermoë kom nie uit jou hand nie, dit is 'n geskenk van God. God kan dit baie vinnig wegneem. Wie arm is en nie voedsel het nie, moet hulle vertroue op die Here stel vir brood en lewensmiddele.
In 'n derde rondte (6) wys Hanna daarop dat die Here kinders skenk. Die vrou wat nie kon swanger raak nie, het skielik sewe kinders. Hanna sou self nog vyf kinders in die lewe bring. En die trotse Peninna, die ander vrou van Elkana wat Hanna vroeër so gespot het, het kinders verloor. Jou familie en jou kinders is maar aan jou geleen, en gee jou nie reg om op ander neer te sien nie.
In 'n vierde rondte (6) beklemtoon sy dat die Here lewe gee en lewe neem. Dieselfde geld armoede en rykdom, aansien en vernedering (7). Hy laat die geringes uit die stof opstaan en hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit – Hy skenk hulle 'n ereplek (8).
Die Allerhoogste, skryf iemand, sien om na die allerlaagste.
Pilare van die aarde
Waarom is dit so? Waarom die skielike wending in die lotgevalle van mense?
Hanna sê:
Aan die Here behoort die pilare van die aarde;
Hy het die aarde daarop gegrondves.
Dit is digterlike taal. As ons kies om dit letterlik te interpreteer, verwys die opmerking na die almag van God. Mense kan nie sy mag beheer nie. God hou die hele skepping in stand. Hy onderhou die ganse wêreld deur sy magswoord.
In 'n meer figuurlike sin sou die "pilare" die strukture en die leiers – die vername mense van vers 8 – kon wees. Dit lyk of hierdie mense die lotgevalle van almal in hulle hande hou. Deur die strukture skep God stabiliteit, maar dit is nie leiers soos Zuma, Trump, Lenin of Stalin, Hitler of Nixon wat die wêreld orent hou nie. Agter hulle staan die Here wat die waarde van mense se dade weeg, en hoogmoed en onreg vinniger tot 'n val bring as wat mens jou oë kan knip.
Dit maak daarom net sin om jou lewe aan die Here te oriënteer.
Die Here spreek reg
In verse 9 en 10 word Hanna se gebed 'n profesie:
Hy beskerm sy troue dienaars
op hulle pad,
maar die goddeloses word
stil gemaak in die duisternis
van die graf.
'n Mens oorwin nie deur
eie krag nie!
Dié wat teen die Here
in opstand kom, word vernietig,
van bo uit die hemel
verbrysel Hy hulle.
Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde,
Hy verleen krag aan sy koning,
Hy gee sterkte aan sy gesalfde.
Hier is Hanna hoopvol oor die dinge wat God doen op die pad of reis van sy troue dienaars. Dieselfde seuntjie Samuel wat sy tempel toe gebring het sou koning Dawid salf, die man na God se hart. Deur Dawid sou God sy volk rig en op die regte pad lei.
Die gesalfde van God (10) herinner ons ook aan die Messias, aan Jesus Christus deur wie God beslissend in die wêreld se geskiedenis optree. Sy koninkryk omsluit die ganse aarde.
Troos in God
Marsha Mark is tereg so opgewonde oor die dogter wat sy wonderbaarlik ontvang het. Hanna neem dit verder. Sy is nie net dankbaar oor Samuel nie. Sy verheug haar oor wie die Here is. Sy is nie net dankbaar oor wat God gedoen het nie, maar ook wat God gaan doen.
Die troos van die lewe lê in God. In wie God is. In wat God gedoen het. En in die toekoms saam met God.
5 God stuur ons om te leef
Gebed
Hierdie is ‘n goeie geleentheid vir voorbidding, spesifiek vir ouers wat sukkel om swanger te raak, of miskrame gehad het. Bid ook vir baba-huise (plekke vir mishandelde of verwaarloosde babas) in jul omgewing. Bid vir maatskaplike werkers en mense wat betrokke is by aannemingsprosesse. As julle gemeente ‘n organisasie ondersteun wat by enige van bogenoemde betrokke is, kan julle vir hulle geleentheid vir terugvoer gee.
Dankoffers
Slotsang: Lied 554 Diep uit my hart, o Vader
Lied 554 Diep uit my hart, o Vader
Lied 554 Diep uit my hart, o Vader of
Lied 500 Gods dade is volmaak en goed
Seën: Lied 189 Halleluja! Of
Related Media
See more
Related Sermons
See more