Ef 2:14
5'V • Sermon • Submitted
0 ratings
· 27 viewsNotes
Transcript
Ef 2:14
Ef 2:14
TEMA: Jesus Christus is ons vrede.
TEKS: Ef 2:14.
Votum: .
“Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke, u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see. U sorg vir mens en dier, o Here. Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.” Amen
Seëgroet:
Lofsang: Lied 467:1-2 Die Heer is God, die sterke God
Wet: .
“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”
Skuldbelydenis: Lied 366:1 Ere aan God
Skriflesing: Efesiës 2:11-22.
Een nuwe mensheid
Hou dan in gedagte wat julle vroeë was. Van geboorte was julle heidene, en julle is "onbesnedenes" genoem deur die wat hulleself "die besnedenes" noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. In die tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeë ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeë soos 'n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself die twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir die wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nieJode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.
Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.
Preek:
Vrede en die bedreiging van vrede is een van die sentrale temas van die Bybel. Maar dan nie net van die Bybel nie maar ook van die mens en sy hele geskiedenis. So tref ons dit aan die begin aan dat daar in die paradys, voor die sondeval 'n toestand van volmaakte vrede geheers het. Dit was 'n toestand van harmonie tussen God en die mens, mens en medemens, mens en natuur en in die natuur self. Dit was die aarde waarvan God gesê het: Dit is baie goed. Maar in word ons gekonfronteer met die sondeval van die mens as die diepste oorsaak van alle vervreemding en konflik in die wêreld. Daardeur is nie net die mens se verhouding tot God ernstig versteur nie, maar ook hulle verhouding tot die natuur en tot hul medemens. Kort na die sondeval word die eerste mense kind die eerste moordenaar toe Kain vir Abel uit afguns doodmaak. En in Genises 6 word die insiggewende kommentaar op die verloop van die geskiedenis gelewer: "Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld"().
Die vredestema staan nie net sentraal in die Bybel nie maar dit is ook in ons dag uiters aktueel. Ja ook ons hier in Suid-Afrika voel reeds die nadelige gevolge van konflik aan ons lyf. Daarom bestaan daar in Suid Afrika die uiterste begeerte dat daar vrede in ons land moet wees. Vrede nie net omdat ons bang is vir oorlog of die politieke geweld nie, maar vrede wat ook strek tot in ons huwelike, ons gesinslewe, ons vriendekring, ons medelidmate en ons kollegas by die werk. Ons weet tog dat konflik vernietigende gevolge kan hê
Die sentraliteit van die vredestama in die Bybel noodsaak die kerk om erns te maak met die vraag: "Watter boodskap moet in die prediking gebring word met betrekking tot die konflik waarmee mense in hul huwelike, gesinslewe, vriendekring, kerk werksituasie en in die politiek gekonfronteer sal word." Wat moet in die prediking gesê word oor vrede en hoe vrede nagestreef moet word? Want ons wil by Kersfees uitkom by die boodskap: "Vrede op aarde in wie Hy 'n welbehae het.
Ons teksvers vers 14 sê "Christus is ons vrede." Vrede, wat is vrede? Maar wat is vrede? As ons kinders 'n vredesteken kon maak, wonder ek watter soort dier hulle op so 'n teken sou plaas? 'n Hond, omdat ons kinders lief is vir honde? Maar 'n hond blaf en wil 'n mens byt. Dit sal dus nie deug as vredesteken nie. 'n Kat? 'n Katjie is mos so sag en stil en vreedsaam nie waar nie. Hy wil net gestreel word. Maar het jy vergeet dat 'n kat naels het? Skerp naels wat sy blits vinnig in 'n mens kan slaan. 'n Kat sal dus ook nie deug nie. Ander wil dalk 'n hoender op hulle vredes wapen plaas maar 'n hoender maak weer 'n groot lawaai as hy kraai. Nee 'n slang of 'n olifant of 'n krokodil sal nie deug nie, nie waar nie? Maar tog is dit die soort vrede wat baie mense soek. Vrede waarin ek tyd kan wen om 'n geveg te wen of om onverwags in toe te slaan. Maar die is tog nie vrede nie.
Ons vredes teken het 'n duif op. 'n Wit duif. 'n Duif is 'n goeie vredesteken. Hy kan jou nie byt nie. Hy blaf of maak nie 'n lawaai nie. Dit is nie verraderlik nie. Nee, 'n Duif is tevrede solank hy net kos kry. As hy bedreig word, vlieg hy op en gaan sit op 'n paal, hy val jou nie aan nie. Daarby is hy vry om te vlieg waar hy wil, 'n goeie vredesteken.
Ons teksvers sê Christus is ons vrede. Waarom is Hy ons vrede? Die rede daarvoor is omdat Hy vir ons gesterf het sodat daar versoening tussen God en die mens , maar ook tussen mense onderling kan bestaan. Hy was bereid om sy lewe daarvoor te gee.
God wil hê dat die versoening wat Jesus bewerk het deur Hom met ons te versoen, tot uitdrukking moet kom in ons verhouding as mense met mekaar.
As ons dan vanmôre wil luister wat God vir ons deur Ef 2 wil sê veral oor ons verhouding tot God en tot ons medemens, dan is ons nie met politiek besig nie. Of eerder, ons is met politiek besig, maar dan met God se politiek. Dit waaroor Jesus so sterk gevoel het dat Hy bereid was om daarvoor aan 'n kruishout te sterwe.
In ons skrifgedeelte gaan dit oor die kruis waardeur God versoening wil bewerk en aan ons vrede wil gee. In Paulus se argumente gebruik hy dan die tempel as simbool. Om nou die hele boodskap reg te verstaan moet ons die opset van die tempel reg verstaan.
Die tempel was die bymekaarkomplek van die Jode met die groot doel voor oë om God te dien. Maar nou het die Jode uit hulle self iets gedoen wat God se aanvanklike doel met die tempel verydel het. Hulle het gegaan en verhinder dat die nie-Jode of die heidene die tempel mag betree. As so 'n persoon daar gevang sou word, moes hy met sy lewe boet. Die tempel was verder ook verdeel in 'n deel vir vroue, 'n deel vir mans, 'n binneste gedeelte vir die priesters en 'n heel binneste gedeelte waarin die hoëpriester net een maal per jaar kon ingaan. Die nie-Jode was slegs toegelaat om in die voorportaal in te gaan, maar die tempel was taboe. Daarom het die nie-Jode soos bywoners gevoel, onwelkom, uitgestoot, sonder enige plek om God te dien en te aanbid. Daarom was dit ook nie snaaks dat so min van hulle in daardie tyd tot bekering gekom het nie. Hulle was dan onwelkom in die kerk.
Paulus wil sê dat die kruisiging van Jesus Christus plaasgevind het om hierdie struikelblok uit die weg te ruim. En dan wil hy veral drie dinge noem waarin die kruis dood van Jesus 'n besliste verskil in ons lewens wil maak en dit is: 1) Ons verhouding met God; 2) Ons verhouding met ons medemens en 3) Die plek van die kerk daarin.
1. Eerstens maak Jesus se kruisdood 'n besliste verskil aan die skeiding tussen God en die mens.
God is immers die God van alle mense. Elkeen van ons is na Sy beeld en gelykenis geskape. Dit maak nie saak of jy 'n Jood of 'n nie-Jood is, 'n Afrikaner of 'n Engelsman, 'n Amerikaner of 'n Rus, 'n blanke of 'n nie-blanke is nie. God is ons almal se God. Boweal, God soek kontak met alle mense. Daarom sê dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Seun gestuur het. Elke mens kan gered word op grond van dit wat Jesus Christus vir ons gedoen het. Met Jesus se koms het God se genade veral ook by die nie-Jode en die heiden nasies gekom. Daar mag dus geen skeiding en blokkasie wees wees wat kan verhoed dat mense by God uitkom, of wat hulle verhinder nie.
God gaan self so ver om die voorhangsel in die tempel, wat die allerheiligste van die res van die tempel moes skei, middel deur te laat skeur toe Jesus gesterf het. Ja met Jesus se sterwe het Hy werklik gegaan en die tempel van die ou bedeling wat net vir die Jode toeganklik was, af te breek en te vervang met een wat ook vir ons toeganklik is. Die kruis wil alle mense voor God verenig deur hulle gemeenskaplike geloof.
Dit beteken nou dat die mens wat vroeë ver van God af was, wat sonder die verbond en God se beloftes moes lewe, hulle wat sonder hoop was, nader te bring aan God, deur die bloed van Christus. God se liefdes en vredes boodskap wat vroeë net vir die Jode was, kom nou na alle mense. Deur Sy sterwe aan die kruis op Golgotha het ons vrye toegang tot die Vader. Die uitnodiging kom nou tot elke mens. Kom na my toe en ek sal jou rus gee. En salig is die een wat dit ook aangryp.
2. Maar ons teksgedeelte wil ook vir ons sê dat Jesus se kruisdood, 'n besliste verskil aan die verhouding tussen mense gemaak het.
Die Jode het geweet dat God hulle uitverkies en afgesonder het met 'n spesifieke doel: Die Messias moes uit hulle gebore word. Maar nou is Jesus gebore. God se eeu oue beloftes is vervul. God het sy plan met Israel tot heil ook van die wêreld uitgevoer. Nou bestaan daar nie meer Jode en nie-Jode nie. In Christus is ons deur ons gemeenskaplike geloof een. Jesus het skeiding tussen mans en vroue, tussen Jode en heidene en tussen geestelikes en leke afgebreek. God se tempel is nou in en onder ons. Daar waar ons saam die Here dien. Daar waar ons tot eer van die Here lewe.
Hoewel ons aan die N.G. Kerk of die Gereformeerde kerk, die Presbeteriaanse of Lutherse, die AGS, of aan die N.G. Kerk in Afrika of die N.G. Sendingkerk behoort, voor God behoort ons aan Sy kerk. Deur ons eie kerke wil ons net uitdrukking gee aan Sy kerk op aarde. Daarom mag ons nooit ons eie kerk verhef bo die universele kerk van God oor die hele w・eld nie. Christus se kruisdood het veroorsaak dat daar slegs een liggaam van Christus op aarde is - Sy kerk. Die verskillende kerke en die verskillende lidmate is maar lede van God se alles omvattende kerk op aarde.
Hierdie gemeenskaplike eienskap veroorsaak dat daar 'n besondere band tussen gelowiges moet bestaan. As God ons Vader is dan veroorsaak dit elkeen wat uit genade gered is nou broers en susters van mekaar moet wees. Ons is dus nie meer bywoners nie, ons is medeburgers van die koninkryk van God. Elkeen wat vir Jesus Christus as persoonlike Saligmaker aangeneem het is nou lid van die gesin van God en moet sodanig hanteer word.
3. Laastens wil ons skrifgedeelte ook vir ons sê dat dit alles binne die bestaan van die kerk van Christus 'n werklikheid moet word.
Daarom word die gelowiges nou beskrywe as die gebou van God en die tempel van die Here. Die tempel is nou nie meer daar in Jerusalem nie, maar binne in die gelowige kinders van God. God woon nou nie meer in 'n tempell wat deur mense hande gemaak is nie, maar god woon nou binne in mense. God is dus nie meer daar ver nie, maar God het nou so naby aan my gekom, ja Hy woon nou in my. Nader kon Hy nie. Dit is die wonderlike openbaring van God se liefde en verbondstrou.
Die gedeelte wil ook verder gaan deur te wys dat gelowiges ook nou nie alleen mag staan nie, maar dat hulle saam opgebou moet word binne hierdie geestelike huis van God. Alhoewel ons individue is vorm ons saam 'n eenheid. 'n Enkeling staan alleen maar 'n groep vorm 'n magtige basis. So mag die gelowige ook nie as enkeling alleen staan nie. As dit gebeur sal ons 'n prooi vir die sonde en die wêreld wees. Ons is juis gelowiges om mekaar in ons daaglikse stryd by te staan en te help. Saam moet ons die eer van God dra. Daarom mag geen gelowige geminag word nie. Elkeen is nodig. God se eer is op die spel en die stryd daarvoor is hewig. Ja God se koninkryk moet al meer in hierdie wêreld word.
Dat ons as tempel van God dien moet vir ons 'n heerlike voorreg wees. Daarom is ons bruikbaar en diensbaar vir die Here. Hy is tog die een wat ons duur gekoop het met die bloed van Sy seun Jesus Christus. Ons behoort dus nie meer aan onsself nie, maar aan ons getroue Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus die Here. Daarom moet ons heilig wees, want God is heilig.
Ten slotte: Hoe belewe die kerk waarmee ons bekend is hierdie vereniging met God en met mekaar? Is dit werklik 'n realiteit, 'n werklikheid wat ons vasvang met hoop en met blydskap. Belewe jy hierdie vereniging? Is God werklik so na aan jou dat jy daarop kan roem dat jy sy tempel is? Het die feit dat Jesus vir jou gesterf het 'n verskil in jou lewe gemaak? En sien 'n mens daardie verskil raak in jou verhouding met God en jou medemens? Is jy 'n vredemaker?
Die wonder is dat God ons as mense met mekaar versoen het en dat Hy binne hierdie versoening aktief teenwoordig is. Daarin wil Hy veral vir ons as Sy kerk op aarde lei. Maar Hy wil ook vir jou en my lei sodat ons ook die vreugde en vrede van kindskap van God kan ervaar. Amen.
Gebed:
Geloofsbelydenis:
Dankoffers:
Lofsang: Lied 284:1-3 Laat Heer u vrede deur my voei.
Seëgroet: