Hk 1 U Enigste Troos
SONDAG 1
U enigste Troos
Lees: Romeine 8, vs. 18-39.
Sing: Gesang 3, vs. 3 en 4; Gesang 47, vs. 1; Gesang 52, vs. 1 en 2 ; Gesang 190, vs. 3.
Vraag 1 Wat is u enigste troos sowel in lewe as in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel, sowel in lewe as in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort, wat met sy dierbare bloed vir my sondes ten volle betaal en my uit alle mag van die duiwel verlos het en my so bewaar dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie, ja ook, dat alles tot my saligheid moet dien; daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om verder vir Hom te lewe.
Vraag 2: Hoeveel stukke is daar vir u nodig om te weet, sodat u in hierdie troos salig kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie stukke.
Ten eerste: hoe groot my sondes en ellende is.
Ten tweede: hoe ek van al my sondes en ellende verlos word.
En ten derde: hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees.
Gemeente van die Heer,
Die boek waarvan ons vandag die eerste bladsy oopslaan, dien homself aan as 'n leerboek: „Die Heidelbergse Kategismus of Onderwysing in die Christelike leer". As ons dan begin en lees, dan verwag ons 'n vraag en antwoord wat 'n beroep doen op ons verstand; dan hou ons ons gereed op vrae soos: Waar lê die oorsprong van alle dinge? of: Wie het die wêreld geskape? of: Wat is die bron van ons Godskennis? of miskien: Wat is Godsdiens? Watter Godsdienste is daar op aarde? Wat is die besondere van die Christelike Godsdiens?
Allermins verwag ons die vraag wat inderdaad ons teenklink vanaf die eerste bladsy: „Wat is u enigste troos sowel in lewe as in sterwe ?'" Dit is 'n vraag wat 'n beroep doen op die hart, 'n vraag wat ons in 'n veel dieper verleentheid bring as verstandelike onkunde, dit is 'n persoonlike vraag wat „deurdring tot die skeiding van siel en gees, van gewrigte en murg, 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart."
Met hierdie vraag word die leerboek van die aanvang af openbaar as 'n lewensboek. Dit vra in die eerste plek nie na kennis nie, maar na 'n belydenis, nie ons verstandelike beaming nie, maar ons instemming met die hart, nie na 'n knik met die hoof nie maar na die toewyding van die lewe.
Die vreemde woord waarmee hierdie lewensleerboek aangedien word, die woord Kategismus hang saam met ons bekende woord: eggo. Eggo beteken klank en veral weerklank. Die eggo is 'n natuurlike verskynsel, dit klink vanself, spontaan ons tegemoet op die klank wat in die diepte van die put of van die kloof gespreek word. Die woord van die Kategismus verwag 'n spontane weerklank uit die diepste van ons hart, uit die verborgenste skuilhoeke van ons wese. Netsoos die Heidelbergse Kategismus self 'n eggo is, die weerklank uit die hart en lewe van sy godvrugtige opstellers. As mens die briewe lees van die keurvors wat die plan tot hierdie leerboek opgevat het, keurvors Frederik die Derde van die Palts, dan hoor ons, selfs uit sy briewe aan familielede, gedurig die klanke van die Kategismus. Die sake waarvan sy leerboek spreek, het geleef in sy hart voordat hy hulle deur twee getroue godgeleerdes laat neerskryf het. Hoor hoe skryf hy persoonlik aan sy skoonseun: „Wat nou die ewige dinge en dus die heil van my siel aangaan, ek dank my liewe God, dat Hy my leer bid het, en wel die ,Onse Vader'. Nou dan, wanneer ek spreek: ,Onse Vader wat in die hemele is!' dan glo en weet ek seker, dat ek sy kind is. Omdat ek dan sy kind is, so is ek ook 'n broeder van Gods Seun, onse Heer en Heiland Jesus Christus, en aldus sy mede-erfgenaam van al die geestelike goedere, wat Hy sy gelowiges deur sy menswording, lyde, sterwe, opstaan en hemelvaart na sy koninkryk wat geestelik is, met alles wat daartoe behoort, verwerf het. Hierdie geestelike goedere kan my geen duiwel, hel, wêreld of enige mens ontneem nie; ek is deur die geloof so seker daarvan, asof ek hulle in my hand het. Nou mag u laat aankom duiwel, dood, hel en wêreld met hulle aanhang — ofskoon hulle die tande laat sien, woed en raas en spog, hulle het niks aan my, so min as aan my Heer en Hoof, Jesus Christus, wie se arme lid ek is. Ja, hulle kan my almal tesame sonder die wil van my Vader die kleinste haar nie kreuk nie, hulle mag doen wat hulle wil, al neem hulle my die tydelike goed, waar ek tog nie veel om gee nie, en die tydelike lewe, vir sover dit hulle deur my liewe Vader mog toegelaat word, so help hulle my tog teen hulle wil en dank, in die Vaderland . Dit is my geloof, troos en vreugde waarby ek met blydskap sing: 'Ons loof U, Grote God, ons prys u heilige Naam.' „Nou moet u my sê," skryf die keurvors aan sy skoonseun, „of ek hierin verkeerd glo en of ek hierdie geloof van een van my raadsmanne of predikers geleer het, dan wel van my liewe Vader in die hemel, en of ek nie 'n fondament het waarteen die poorte van die hel niks vermag nie."
Die Kategismus, eggo van die Woord van God en werk van God in hart en lewe van die opstellers daarvan, klink nou ook deur tot ons geslag en ons persoonlik en vra of ook nie uit ons hart en lewe die spontane weerklank daarop kan kom nie. „Wat is u enige troos sowel in lewe as in sterwe?" Wat is u antwoord, manne en vroue van hierdie eeu, seuns en dogters in die wêreld van vandag!
Veral vir die jong geslag klink dit miskien bietjie vreemd dat daar allereers na troos gevra word. Hulle sou eerder verwag dat van lewenskrag, van uitsigte vir die toekoms sou gepraat word, en dat dus die eerste vraag sou wees: Wat is die bron van ware krag in u lewe? Wat gee u moed en wysheid vir die toekoms wat u voorlê? Troos klink so na teleurstelling, na teenspoede, na verdriet; is dit dan die lewe? Die opstellers van die Kategismus was manne van ervaring, van lewenservaring; en hulle het in 'n tyd gelewe waarin daar nie soveel gemak en weelde was nie, waarin hulle om hulle geloof en oortuiging dikwels baie vyandskap en vervolging tot selfs verlies van die lewe moes ly. Die tye verander wel, maar die wêreld bly in die grond maar dieselfde. Van hoeveel smart en peillose ellende moes die kinders van ons eeu nie getuie of slagoffer wees nie? In elke lewe kom daar die teleurstellinge, kom daar teenspoede, en is daar die mag van die sonde, die stryd teen die kwaad en so baie nederlae in daardie stryd. Dis nie elke dag ewe duidelik nie, maar party dae is dit 'n bittere werklikheid. Dit het die manne van die Kategismus geweet, ervaar, en daaronder diep gebuk gegaan.
Maar ons hoef ons nie op die woordjie „troos" in sy engste betekenis blind te staar nie. U kan die eerste vraag maar net so goed lees: wat is u enigste krag in lewe en sterwe? Of: wat is u enigste sekerheid in lewe en sterwe? Of: wat is u enigste uitsig in lewe en sterwe? As deur u jeug en onervarenheid die sin van die woordjie „troos" u nog ontgaan en u die lewensbelangrikheid van troos vir u hart nog nie verstaan nie, lees dan maar: sekerheid of krag of uitsig. En die antwoord op die vraag bly nog dieselfde.
Wat is die antwoord van die Kategismus op die lewensvraag? „Dat ek met liggaam en siel, sowel in lewe as in sterwe, nie aan myself toebehoort nie." Die antwoord is net so onverwags as die vraag. Is dit nou die regte lewenstroos, lewenskrag, lewensuitsig dat ek nie van myself is nie ? Maar is dan nie juis die begeerte van my hart en die strewe van my kragsinspanning om vry te wees, om myself te kan wees, om aan myself en niemand anders toe te behoort nie, om aan niemand verantwoording hoef te gee nie, om my lewe te lewe na my eie plan en verbeelding ? En is dit nie die groot teleurstelling in my lewe, dat my dit telkens misluk nie? En is die lewensstryd nie die stryd om die teleurstelling te bo te kom nie en is die troos wat ek dan miskien so nou en dan nodig het, nie die troos dat al moet ek so nou en dan my lewensplanne wysig, ekself tog tenslotte die veranderde omstandighede aanvaar en daarvan maak wat daarvan te make is nie?
Nee, sê ons leermeesters uit die 16de eeu — en die leermeesters van die mensheid, profete en apostels uit so baie ander eeue stem met hulle saam: Nee, die regte lewenstroos, lewenskrag, lewensuitsig is nie om van uself te wees nie maar van 'n ander. U kan eenvoudig nie van uself wees nie. Dit is selfbedrog om te meen dat u aan uself kan toebehoort. U is 'n speelbal van magte wat veel sterker is as uself. Ons eerste stammoeder het gemeen dat sy van haarself was en haar hand uitgestrek na die verbode vrug, wat so onskuldig en aantreklik gelyk het. Sy het gemeen om nou eers regtig selfstandig te word toe sy die verbod verontagsaam het. Maar sy was al die tyd speelbal en slagoffer van die mag wat haar 'n valse vryheid voorgespieël en daarmee haar lewe en toekoms bederf het.
Daar is volgens die Kategismus net twee magte waaraan ek kan toebehoort. Die ene word aangedui deur die woorde: „al my sondes en alle mag van die duiwel", die ander deur: ,die getroue Saligmaker Jesus Christus." Daar is geen derde nie. Ekself behoort nie tot die onmag. Ek kan my wel verbeel 'n mag, 'n persoonlikheid, 'n lewe- maker en -breker te wees, maar voordat ek aan die einde van my weg aangeland het, sal ek die bittere ervaring gesmaak het dat ek nie die speler nie maar die speelbal was.
Andersyds is ek nie so 'n onbelangrikheid dat my dade, of selfs woorde, ja selfs die gedagtes wat deur my brein flits, so onverskillig is nie. Al wat ek doen, sê, dink of gevoel, het sy weerklank in, sy verband met 'n wyer gebeure, met wat die Bybel noem: die ryk van die Bose of met die Ryk van die Seun van Gods liefde. „Al my sondes'', ja elkeen, die geringstes van my sondes, bring my in nouere verband met „alle mag van die duiwel", klink die noodlottige ketting al vaster wat my met die Vors van die duisternis, die ryk van die kwaad, die verderf, die hopeloosheid verbind.
So verstaan ons die toon van bevryding en dankbaarheid wat in die antwoord van die Kategismus klink: „dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort". Nie aan die mag wat my verlei en verslaaf nie, nie aan die mag wat my verderwe en tot rampsalige wanhoop voer nie, maar aan die Mag wat bevry en lei, wat tot die lig en die lewe voer, die getroue Saligmaker Seun van God self, Heiland van siele, Verlosser van sondaars, Lig van die wêreld, aan Hom wat die Opstanding en die Lewe self is.
Daar word in die antwoord van die Kategismus van drie tot vier vername sake van hierdie Mag, wat daar Gode sy dank ook in die wêreld is, getuig. Hierdie Mag, hierdie magtige Persoonlikheid wat met die volmag van God onder ons verskyn het, verlos, bewaar, verseker en maak gewillig. Of om dit anders te sê: die gelukkige mense wat hierdie dankerkentenis vir ons uitspreek, getuig hoe hulle sy eiendom geword het, hoe hulle dit bly, hoe hulle dit weet en hoe hulle dit beleef. Dit is so 'n rykdom van gedagtes, so 'n volheid van lewenservaringe, dat ons maar enkele hoofsake daarvan in hierdie uur kan oordink. Om toe te behoort aan Jesus Christus, om die eiendom te word van die getroue Saligmaker, dit is 'n hele geskiedenis, ja dit is die geskiedenis van die geskiedenis, die vernaamste van 'n mens se geskiedenis en die vernaamste van die geskiedenis van die mensheid.
Iets moes daar gebeur het, veel moes daar gebeur om dit sover te bring dat daar mense, sondaars kon wees wat kon spreek van troos in lewe en sterwe. Dit het maar nie vanself gegaan nie en dit gaan nog nie vanself nie. Daar was en daar is sware skuld, opgestapelde, loodsware skuld wat ons dreig en druk soos berge wat op ons wil val en hemele wat ons wil bedek vir ewig. Die skuld kan nie maar so kwytgeskeld word nie. Dit moes betaal word. Want geregtigheid is 'n onmisbare saak in die wêreld, een van die fondamente waarop die heelal gebou is. So groot soos die skuld was en is, so groot moet die prys wees vir die aflossing. Die antwoord spreek van bloed, van dierbare bloed wat dit gekos het, 'n Heilandslewe vol smart en lyde van die wieg tot die graf, en dit was hier: van die krip tot die kruis.
Maar die prys is betaal. „Julle is duur gekoop", so herinner die Apostel sy medegelowiges. En die Bybelverklaarders sê ons dat die Apostel eintlik gesê het: „Julle is gekoop en betaal." Daar is in hierdie woord netsoos in die antwoord van ons leerboek so 'n klank van voldaanheid: dit is 'n afgedane saak, Goddank van die jarelange skuldelas is ons vir altyd bevry. En met die betaling gaan die verlossing saam. Vandat die skuld betaal is, het die skuldeiser sy reg en mag oor die skuldenaar verloor. Nou moet die duiwel sy hande van ons af hou, of hy kry met Een te doen wat sterker is as hy. Die Sterkere het gekom en ingebreek in die huis vol van geroofde skatte, ingebreek met die reg en gesag van die regmatige Besitter, en wat eenmaal sy eiendom was, weer teruggeneem en uit die rowershol, uit die slawehuis bevry.
Maar die getroue Saligmaker het meer gedoen en doen nog altyd meer. Na die betaling en verlossing volg die bewaring. Alleen so kan sy bevryde eiendom die syne bly.
Daar is 'n skip gestrand; deur die skuld van die stuurman, wat versuim het om hom streng aan die kompas en die kaarte te hou. In die storm het dit vasgeloop op die sandbank. Die winde gier, die golwe beuk, dit kraak en dreun in nood van vergaan. Seile gaan aan flarde, maste breek, die roer word half verbrysel.
Dan, plotseling, deur 'n wonderbare beskikking van Hoër Hand, kom die skip los. Nou is dit vry, dit dryf en dobber weer op die bare. Maar nog gier die winde, brul die golwe, slaan die stortseë neer op die dek. Is die gevaar nou geweke ? Inteendeel, die gevaar bly groot en is wellig nog groter as voorheen vir die gehawende vaartuig. En die skipper het sy selfvertroue verloor, sy hande is nie meer vas om die stuurrat geklem nie. Skipper en skip is albei gehawend.
Een alleen kan help. Een wat met kragtige hand en wys beleid die stuurrat gryp, wat die banke en rotse ken en die krag en die rigting van winde en wolke. Ja volkome veilig is skipper en skip eers as hierdie Een die is wat „wolken, lucht en winden wyst spoor en loop en baan'', wat soos 'n baas sy hond die winde kan bestraf en vir die see kan sê: Swyg, wees stil! en die wind gaan lê en daar kom groot stilte.
Die verslae skipper op die gestrande skip, dit is ons op ons lewenskip. Skuldbetaling en verlossing is die vry word van die sandbank waarop ons lewenskip vasgeloop het. Maar nou moet die Stuurman aan boord kom om ons veilig na die oop vaarwater te lei en die regte koers na die vaderlandse hawe te laat hou.
Goddank, Hy wil dit en Hy doen dit; Hy wat my so bewaar dat sonder die wil van die hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie.
Maar nog verder gaan sy sorg. Hy behandel ons soos redelikesedelike wesens, nie soos stokke en blokke nie. By die verlossing en bewaring skenk Hy versekering in die hart, gee Hy sy Gees in die binneste van sy verlostes, die innerlike, intuïtiewe sekerheid dat Hy nie sal laat vaar die werke van sy hande nie, dat Hy wat begin en beloof het, getrou is en dit ook sal doen sodat daar 'n volmaakte werk tot stand kom. Seker, ons wandel nog in geloof en nie in aanskoue nie. Maar die geloof deur die Gees gewerk, het 'n eie gesigsvermoë en smaak en sien dat die Here goed is.
En hierdie versekerdheid is maar nie 'n swewende gevoel nie, dit gaan gepaard met die vierde en laaste gawe waarvan die leerboek hier spreek: die gewilligheid, van harte gewilligheid en bereidheid om verder vir die Verlosser te lewe. Soos daar van Moses geskrywe staan: Deur die geloof het hy volgehou soos een wat die Onsienlike sien. Die versekerdheid van die geloof en die volharding van die heiliges gaan saam en word in die goeie werke openbaar.
Dit alles tesame, dit is voorwaar 'n enigste, 'n unieke troos, krag en uitsig sowel in lewe as in sterwe. En as die Heer ook vir ons sou vra aan die einde van die reis: „Het julle iets kort gekom ?" sou ons met die dissipels moet antwoord: „Niks nie." As dan een van die twee opstellers van hierdie lewensleerboek, Olevianus, op sy sterfbed lê en die predikant vra hom: „Liewe broeder, u is sonder twyfel seker van u saligheid in Christus, soos u die aan andere gepredik het?" dan antwoord die sterwende met die hand op die hart: „Volkome seker!" Amen.
B. Gemser.