Hk 14 U Enigste Troos
SONDAG 14
Die menswording van die Seun van God
Leer: Joh. 1, vs. 1-14.
Sing: Psalm 10, vs. 2; Gesang 3, vs. 4; Gesang 113, vs. 2.
Vraag 35: Wat beteken die woorde: „Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria?"
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat waaragtige en ewige God is, en bly, ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees, aangeneem het, sodat Hy ook die ware nakomeling van Dawid sou wees, aan sy broeders in alle opsigte gelyk uitgesonderd die sonde.
Vraag 36: Watter nut verkry u deur die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor die aangesig van God bedek.
Gemeente van die Here!
Met hierdie Sondagsafdeling van die Kategismus kom ons by die hart van die Evangelie, by die grond en fondament van alle ware blydskap, van alle hoop en verwagting, ja van alle lewe. Bo alle duisternis van sonde, en ellende wat dit meebring in ons mensewêreld, sien ons die fonkellende ster van Bethlehem. En die Gemeente van die Nuwe Verbond sing hier saam met die Ou Testamentiese Gemeente: Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam . wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat jou lewe verlos van die verderf wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartigheid.
Hier kom daar 'n besliste wending in die wêreldgeskiedenis en in die lot van die mensekind. God maak 'n nuwe begin in hierdie wêreld. Midde-in hierdie sugtende skepping, die Verlosser en Redder, die uitgedrukte beeld van die Vader, die opgerigte teken van Gods barmhartigheid. Midde-in hierdie wêreld van oorlog, moord en doodslag, die Vredevors, die Olyftak van God aan die sondaar op die branding van die wêreldtyd. Midde-in die wêreld van die dood, die ewige lewe in Jesus die Lewensvors. Midde-in die stroom van die wêreldgeskiedenis, met sy steeds terugkerende ontstellende gebeurtenisse, die tyd van God, die tyd van sy besoeking, die tyd van genade.
Die Woord het vlees geword, God het mens geword. God het nie slegs die lot van die mensekind op aarde op 'n afstand of van naby kom besien nie, maar Hy het daardie lot van die mens aangeneem as sy eie syn en lot. God het ingedaal in alles wat ons hier op aarde te verdra en te verduur het. God vrees niks nie. Hy was nie bang om 'n wêreld en ons te skape nie. En as God sien dat daar 'n ander mag, 'n vyandige mag, 'n mag van die duisternis, heerskappy oor die werke van sy hand gekry het, wat sy handwerk, sy skepping kwel en verstoor en vernietig, dan is Hy nie bang om Homself reddend in hierdie wêreld te werp nie. Hy wat ons nie nodig het nie, wil tog ook nie sonder ons wees nie. Hy wat ons eenmaal geskape het verlaat ons tog nie in die dag van benoudheid nie.
Immanuel, God is met ons, ons wat teen Hom is deur die sonde. Dit is die waarheid waarvan hierdie Sondagsafdeling spreek. Maar hierdie blyste heilsfeit is tewens ook die christelike leerstelling waarteen daar die meeste bedenkings ingebring is en nog ingebring word. En inderdaad, hier is rede om verbaas te staan! En veral die geloof, wat immers weet dat God God, en die mens mens is, wat weet dat die Skepper nie 'n skepsel is nie en die Heilige nie een van ons nie, sal nooit kan ophou om verbaas en verstom te staan nie.
Dis dan ook van die allergrootste belang en noodsaaklikheid om hier vooraf te bedink, dat ons hier nie te doen het met 'n saak wat aanneemlik en aanvaarbaar of geloofbaar gemaak moet word nie, dat dit dus hier geheel-en-al nie om 'n kwessie van verstandelike aanneemlikheid of aanvaarding gaan nie. Ons moet onthou dat ons hier te doen het met 'n belydenis, met 'n saak van die geloof. Ons staan hier voor 'n waarheid wat deur die Kerk in alle eeue met die meeste oortuiging bely is en wat ons saam met die kerk, alleen as lid van die Kerk moet en kan bely, d.i. in die geloof aanneem en daarop vertrou. As ons hierdie geloofsartikel nie nader onder die hoofwoord waaronder die hele geloofsbelydenis staan n.l. „Ek nie, sal hierdie deel van die belydenis, en tewens die hele belydenis vir ons waardeloos wees. God is 'n God wat geglo, en nie verklaar wil word nie.
God is 'n verborge God, die onbekende God, wat nêrens onbekender, nooit meer verborge is nie, as juis daar en dan waar Hy Hom openbaar. Hier waar die ewige Seun van God, wat waaragtige en ewige God is en bly, die natuur van 'n mens aanneem, waar God Hom aan die mens openbaar, hier gebeur dit in die vorm en gestalte wat Hom nie onthul nie maar juis verhul. Ons het hier te doen met Gods wonderdaad, met 'n heilige misterie, wat ons met die verstand nooit sal deurvors nie, maar wat ons in die geloof moet aanvaar. Niemand kan sê dat Jesus die Christus is nie, behalwe deur die geloof. Meer as ooit geld by hierdie deel van ons belydenis, die woorde van die Duitse godgeleerde: „Ons doen beter om die geheimenisse van God te aanbid as om dit te deurvors".
In vraag 35 het ons dan ook net die blote vermelding van die wonderdaad van God, van die ondeurgrondelike gebeurtenis, dat die Woord vlees geword het. Hier is geen poging om met verstandelike skerpsinnigheid die geheim te ontrafel, of die misterie te verklaar nie, alleen die konstatering van 'n feit: die ewige Seun van God, wat waaragtige en ewige God is en bly, het 'n mens geword, 'n mens soos elke ander mens is, behalwe dat Hy geen sonde het of doen nie. Dit het gebeur. Dit is 'n feit. Dit is so, dit is waar, ver bokant ons geloof uit, waar, afgesien van ons geloof of ongeloof, maar waar, alleen in die geloof.
So word dit ook in die Skrif vermeld. In Joh. 1, vs. 14 lees ons: Die Woord het vlees geword. Dit wys op 'n gebeurtenis. Dit beteken dat dit nie vanself spreek nie, dit is nie eenvoudig so dat die ewige Seun van God mens is nie. Hier is geen goddelike noodsaaklikheid of menslike moontlikheid waarom dit so moet wees nie. Dit word ons hier alleen as 'n feit gegee. Dit is ook die betekenis van die werkwoordsvorm van die oorspronklike Griekse woord, n.l. die afgeslote verledetyd, waardeur die gebeurtenis as objektief voleindig gekarakteriseer word. Dit beteken dat dit wat heeltemal nie vanselfspreek nie, wat ons nog vantevore of agterna kan verstaan, dit is nietemin vir een en almal en altyd so: die waaragtige God is waaragtige mens in Jesus Christus.
Die woorde: „Ontvang van die Heilige Gees", wil juis dit tot uitdrukking bring dat ons hier nie met 'n gewone geboorte te doen het nie, dat Jesus Christus na sy menslike bestaan geen vader het nie, dat ons dus hier met 'n goddelike wonderdaad te doen het. Ontvang van die Heilige Gees, beteken dat die menslike bestaanswyse van Jesus sy oorsprong direk in God het. Die woorde: „Gebore uit die maagd wil dit tot uitdrukking bring: dat Jesus Christus as ewige God ook 'n menslike, skepselmatige bestaan het. Beide hierdie uitsprake wil God en mens nie in een of ander ontsaglike nabyheid bring nie, maar wil sê dat daar in die ontvangenis en geboorte van Jesus Christus, deur die Heilige Gees, d.i. deur God self 'n eenheid geskep is tussen God en mens, sodat ons van Jesus kan en moet sê: Hy was en is, God en mens. Jesus is nie net mens nie, nie 'n uitstaande mens nie, nie 'n ideale mens nie, maar ook waaragtige God, daarom „ontvang van die Heilige Gees". Jesus is nie net God nie, nie een of ander mag of heerser in die gebied tussen God en mens nie, maar ook waaragtige mens, daarom „gebore uit die maagd Maria".
Dis God wat in hierdie gebeurtenis van die vleeswording van die Woord, die handelende persoon is. As daar 'n ontmoeting met God plaasvind, dan gebeur dit omdat God na die mense neerdaal. Geen opklimming van die mens na God nie, maar neerdaling van God na die mens, dit is die sin van ons hele verlossing. Die mens word in hierdie gebeurtenis van die geboorte van die Messias, heeltemal uitgesluit, of liewer die sondige mens vind hier geen plek nie. Ook Maria kan alleen salig geprys word omdat sy geglo het. Sy is egter, sonder enige verdienste aan haar kant tot 'n teken gestel van wat die mens, ondanks sy sonde, ja ook midde-in sy sonde kan doen as God met hom bemoeienis maak.
Oor wat die vrug, die nuttigheid van die heilige ontvangenis en geboorte van Jesus Christus is, kan ons ewe as die Kategismus kort wees. Dit bestaan daarin dat Hy werklik geword het wat ons is, om werklik by ons en vir ons te wees. As die God-mens kan Hy werklik ons Middelaar wees, want in ons menslike natuur en gestalte het Hy nie gedoen wat ons doen nie, n.l. die sonde, en gedoen wat ons nie doen nie, n.l. die wil van God. As mens het Hy sy oorsprong in God, en staan Hy dus buite die gebied waar ons almal in sonde ontvang en in ongeregtigheid gebore word. En juis so was Hy werklik in ons plek, in ons toestand, in ons aanleg, die nuwe mens wat God met welgevalle aansien. God sien ons nie aan soos ons is nie, maar in die aangesig van Jesus Christus. Hy sien nie die ou mens aan wat van voor sy geboorte af 'n mens in sonde is nie, maar Hy sien daardie ou mens van sonde aan, bedek met die onskuld en volkome heiligheid van die Middelaar; dus die nuwe mens, die mens geheilig in Jesus Christus. Of saam met die apostel Paulus sou ons dit ook in ander woorde kon sê: daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die hoofsom en die slotsom van alles wat tot ons heil gesê kan word is en bly: Jesus alleen!
In die antwoord op vraag 36 vind ons dat daar van die algemene oorgegaan word tot die persoonlike. sonde waarin ek ontvang en gebore word, is voor God bedek. Daar is niks persoonliker as ons geloof in Christus Jesus nie. Die geloof is die laaste geheim van die christelike lewe. Na sy beslissende gehalte bestaan dit in die hoor van die met geweldige aandrang aan ons gerigte, direkte, persoonlike vraag: hoe is jy voor God geregverdig ? En in die hoor van die antwoord: alleen deur 'n ware geloof in Jesus Christus.
Mag ons hier ook opnuut bely: Ja, ek glo Here, kom my ongelowigheid te hulp.
Amen.
F. J. van Zyl.