Hk 15 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 9 views
Notes
Transcript

SONDAG 15

Die lyding van Christus.

Lees: Johannes 19.

Sing: Psalm 118, vs. 1 en 7; Gesang 118, vs. ; Psalm 25, vs. 5 en 7; Gesang 126, vs. 3.

Vraag 37. Wat verstaan u onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Hy aan liggaam en siel die ganse tyd van sy lewe op aarde, maar veral aan die end van sy lewe, die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra het, sodat Hy met sy lyde, as met die enigste soenoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis sou verlos, en vir ons die genade van God, geregtigheid en die ewige lewe sou verwerf.

Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Om ons, deurdat Hy onskuldig onder die wêreldlike regter veroordeel is, te bevry van die strenge oordeel van God wat oor ons moes gaan.

Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Hy gekruisig is as dat Hy 'n ander dood sou gesterf het?

Antwoord: Ja; want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, aangesien die kruisdood deur God vervloek is.

Wanneer ons 'n blik slaan op die evangeliese geskiedenis, dan word ons getref deur die uitvoerigheid waarmee die gebeurtenisse van Christus se laaste lewensdae op aarde te boek gestel is, teenoor die beknoptheid waarmee die geskiedenis van sy vroeëre lewensjare verhaal word. Namate Christus nader aan die einde van sy lewe op aarde kom, na die mate word die opgawe van die Evangeliste vollediger.

Maar dit was seker omdat hulle aan sy lyde en sterwe 'n groot betekenis geheg het. Hulle het sy lyde en sterwe in regstreekse verband gebring met die redding van 'n verlore mensdom. Ook in die briewe van die Apostels word die kruis van Christus as middelpunt van die hele heilswaarheid gestel, en selfs die Christelike Kerk is vir eeue lank reeds daaraan gewoond om die lydingsgeskiedenis elke jaar te herdenk.

Geen wonder dat die opstellers van die Heidelbergse Kategismus 'n besondere afdeling wy aan die belydenis van hoe die Heer gely het onder Pontius Pilatus, en gekruisig is. Hulle kom dan ook met die vraag: wat verstaan jy onder die woordjie gely en die antwoord laat ons reeds voel hoe die Heer aan liggaam en siel die ganse tyd van sy lewe op aarde maar veral aan die end van sy lewe die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra het.

Die hele lewe van Christus op aarde was 'n aaneenskakeling van allerlei moeite en lyde, wat sig, insonderheid teen die end tot 'n groot hoogte verhef het. Die aanvang van sy lewe op aarde is reeds anders as wat 'n mens sou verwag het. Sy eerste rusplek is die krip in Bethlehemstal. Kort na sy geboorte moet sy ouers met hom vlug weens die woede van Herodes. Hy groei op in 'n broederkring wat Hom nie verstaan en waardeer nie; Hy groei op tussen stadsgenote, wat nie vermoed het watter geskenk van die hemel en watter sieraad van die aarde daar lewe in hulle midde nie. Hy tree op in die openbaar, Hy word wel deur vriende versorg, maar verder het Hy geen plek op aarde wat Hy syne kan noem nie. Hy word vervolg. Uit Galilea na Juda, uit Juda na die oorkant van die Jordaan word Hy verdryf. 'n Daaglikse kruisdraer, voordat die urelange kruislyde sou aanvang.

'n Mens sien die weemoed op sy gelaat as Hy bemerk hoe Hy deur die vyande beloer, deur sy eie broers misken en deur 'n groot deel van die skare verlaat word. Ons bemerk die leed wat hom aangedoen is deur die onvatbaarheid, die twisgierigheid, die aardsgesindheid selfs van sy eie dissipels. Ons hoor sy woorde as Hy vir sy dissipels sê, dat hulle opgaan na Jerusalem en dat die Seun van die mens oorgelewer word in die hande van sondaars. Met ontroering verneem ons sy woorde dat een van sy dissipels hom sal verraai. Ons volg Hom in die gees na die hof van Getsemane waar Hy in groot droefheid en angs verkeer en die Vader bid om die drinkbeker verby te laat gaan. Maar ons sien Hom ook waar Hy met 'n tevrede gelaat en 'n forse gestalte die bende tegemoet loop en die sielborende woorde uiter: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus ? Ons hoor sy diepbeskamende woorde: Steek jou swaard in sy skede. Ons verneem sy stilverhewe woorde: As julle My soek, laat hulle dan heengaan. Ons sien hoedat sy dissipels vlug. Ons sien Hom waar Hy verhoor word, hoe Hy bespot, gehoon, geslaan word. Ons sien Hom met die doringkroon, met die spotkleed. Ons verneem die kruiskrete. Ons sien hoe dat Hy weggelei word om gekruisig te word.

Die kruislyde het aangebreek. As Hy aan die kruis hang, dan bemerk ons die spykers deur hande en voete, die smagtende lippe, die sterwende blikke, die swygende duisternis; ons verneem nog die spotkrete.

So het ons Christus gevolg in sy lyde, maar hoe moes dit vir Hom gevoel het, vir Hom wat ontfermend tot die mense gekom het, maar sonder dat hulle Hom wou ontvang. Soos 'n hen wat haar vlerke uitsprei oor die kuikens, so het Hy sy arms uitgebrei na Jerusalem, maar hulle wou nie onder sy vleuels skuil nie. Die sielelyde van Christus wie kan dit beskrywe? Wat 'n wêreld van smart lê nie in daardie woorde opgesluit nie? Hoe moes dit nie vir Hom gevoel het nie, vir Hom as die Seun van God, om in Getsemane die swakheid van sy eie vlees te gevoel, om die geveinsdheid te lees in die oog, en die boosheid op te merk in die hart van Kajafas ? Hoe moes Hy nie gevoel het nie om in Pilatus die bondgenoot, die werktuig, die slagoffer van die sonde te sien, om voor Pilatus die vonnis te verneem wat Hom van die aarde verban, om van Pilatus af weg te gaan en aan die kruishout te sterwe.

Hoe moes dit vir Hom gevoel het, Hy wat die heerlikheid by die Vader gehad het, om aan die kruishout te hang, om die salige gevoel van die nabyheid van die Vader te mis, so te mis dat Hy uitroep: My God, My God waarom het U my verlaat. Ja, die Magtige te wees, en dan soos 'n magtelose vertrap te word; die Heilige en dan tot sonde gemaak.

As ons aan al hierdie dinge dink, dan kom die vraag by ons op: waarom was die lyde nodig? Hierop gee die Heidelbergse Kategismus antwoord, en dit is dat hierdie lyde 'n lyde gewees het kragtens die wyse en ewige raad van God. Ongetwyfeld was dit mense wat die bewerkers van die lyde van Christus was, en dit is hulle boosheid wat Hom aan die kruispaal gespyker het. Maar Christus verklaar self dat Hy gekom het om sy lewe af te lê; dat Hy hierdie gebod van sy Vader ontvang het; dat die Vader self die drinkbeker aan Hom gegee het. Ook die Apostels sê dat Herodes en Pontius Pilatus slegs gedoen het wat Godshand en -raad vantevore bepaal het.

Christus is verneder in die lyde van die dood sodat, soos die Heidelbergse Kategismus dit uitdruk, ons die genade van God, geregtigheid en die ewige lewe sou verwerf. Hy het die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra, sodat Hy met sy lyde, as met die enigste soenoffer, ons liggaam en ons siel van die ewige verdoemenis sou verlos.

Dat Godstoorn teen die sonde van die ganse menslike geslag sig laat geld is ontwyfelbaar seker. Die hele geskiedenis van die mensheid is 'n openbaring van die lankmoedigheid van God teenoor die sondaar, maar dit is ook 'n openbaring van die erns van God met die besoeking oor die sonde, en elke lid van die mensdom dra sy deel van die vonnis van veroordeling wat gevel is oor die sondige geheel. En waar Christus nou die wêreld van sondaars binnetree, lewe, ly en sterwe, daar dra Hy lewenslank, en insonderheid by sy sterwe, niks anders nie as die gevolge van sonde wat Hy persoonlik nooit gedoen het nie; daar voel sy liefhebbende hart niks minder nie as die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag, wat op hom saamloop.

Christus het vrywillig opgetree as Redder van ons verlore, as Hersteller van ons gevalle geslag. Hy het in sy lewe, in sy lyde, in sy sterwe aan die Vader die offer van die mees volmaakte gehoorsaamheid gebring. Sy offer, die offer van sy eie lewe, was vir die Vader so welgevallig dat dit voor sy oë die skuld bedek, d.i. versoen, van 'n hele menslike geslag, wat volgens sy regverdige oordeel reddeloos verlore sou moes gaan.

God het nie verander deur wat op Golgota gebeur het nie; want hierdie lyde was deur al die eeue in die raad van sy liefde bepaal. Nooit het Hy, ook onder die Ou Verbond, sondaars begenadig nie, anders as met die oog op die Middelaar, wat reeds van ouds af verwag is nie. As Hy in hierdie Middelaar sondaars vryspreek, dan is dit 'n geregtigheid wat hulle eiendom word volgens die innigste vereniging van die geloof, wat alles wat in die wingerdstok is ook aan die ranke meedeel. Dit is 'n vrywillige en innige lewenseenheid, waardeur eers die Heilige in die kring van sondaars kom, en waar deur sondaars daarna in die lewenssfeer van sy geregtigheid, heiligheid en saligheid opgeneem word.

Die lyde en sterwe van Christus vertoon 'n plaasbekledende karakter, en ons verstaan dit soos die Apostel Paulus dit uitdruk, dat as een vir almal gesterwe het, dan het almal gesterwe. Dit is waar, die vrug van versoening is slegs van betekenis vir hulle wat een met Christus geword het en wat deur die geloof in der waarheid sy eiendom is. Alleen die skape kan roem dat die Herder vir hulle sy lewe in gevaar gestel het. Maar hoewel die genot van die vrug van versoening beperk mag wees, tog is die plan van verlossing nie beperk nie, want: so lief het God die wêreld gehad.

Verder word gevra waarom Christus onder die regter Pontius Pilatus gely het en volgens die antwoord het ons rede om die wysheid van God te eerbiedig, want omdat Christus onder die wêreldlike regter veroordeel is is Hy daardeur bewaar om as slagoffer van 'n sluipmoord te val, en deur daardie openlike lyde en regterlike vonnis is sy onskuld in 'n helderder daglig geplaas. Ook het sy gehoorsaamheid en liefde te sterker na vore gekom omdat Hy die smartlike en smadelike, deur God vervloekte kruisdood gesterwe het.

Maar die kruishout, die wonde, die regter, hulle almal beklee net so min 'n afsonderlike plek in die werk van die versoening, as wat die bloedsweet in Getsemane, die vonnis van Kajafas of die bespotting van Herodes gedoen het. Alles is hier 'n heeltemal enige geheel, en elke deel ontvang slegs in verband met daardie geheel sy onbetwisbare waarde.

Uit dit alles kom ons tot die slotsom: „Hy is terwille van ons oortredings deurboor; terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom." En die woorde van die Apostel Paulus: Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade verniet geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. God het Hom voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hyself regverdig kan wees, en kan regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.

As ons op onsself sien, dan bemerk ons dat ons geregtigheid voor God niks anders is nie as 'n wegwerplike kleed. Hoe dikwels is ons nie moedeloos as ons bemerk dat wat die wêreld as deug beskou, niks anders is as sonde nie. Maar as ons dan weer Golgota betree dan val alle roem in onsself weg en ons roem dan alleen in die kruis van die Heiland. Die newels binne-in ons verdwyn, die sonlig breek deur, en ons kan nie anders nie as om God te dank vir die gawe van sy Seun, sy Seun wat in ons plek gely en gesterwe het. Die woord lyding omvat dikwels 'n wêreld van smart, maar hierdie woord is in sekere opsig die heerlikste in die loflied van die hemel. Want nie as die Leeu uit die stam van Juda nie„ maar soos die Lam, wat staan in die middel van die troon asof Hy geslag is, het die oog van Johannes Hom sien staan, en terwyl Hy daar staan word 'n lied gehoor: „Want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal, en volk en nasie en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op aarde heers." As sodanig ontvang Hy eindeloos die hulde van alle skepsels, en die loflied eindig nooit anders nie as in die telkens vernude aanbidding van Hom wat tot in ewigheid lewe.

Die vraag kom dan ook regstreeks tot ons: wat het die woord gely vir ons beteken ? Is dit vir ons 'n krag, of is dit slegs 'n ydele klank ? Hierdie lydende Christus, wat was Hy vir ons tot hiertoe, wat is Hy op hierdie oomblik vir ons harte, ons huise, ons lewe en wat sal Hy verder vir ons wees ? Mag ons antwoord hierop wees die lied van die digter:

„O Jesus, Man van Smarte,

„die vadere se wens,

„skryf diep in alle harte

„die woord: aanskou die mens!

„O laat my nooit vergeet nie

„die kroon, die kleed, die riet!

„Geen groter troos in leed nie:

„dis ook vir my geskied!"

Amen.

C. H. Muller

Related Media
See more
Related Sermons
See more