Hk 17 U Enigste Troos
SONDAG 17
Die opstanding van Christus
Leer: 1 Korinthe 15, vs. 1-23.
Sing: Psalm 68, vs. 2 ; Gesang 135, vs. 1 en 6; Gesang 136, vs. 1 en 5; Gesang 140, vs. 3.
Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood vir ons verwerf het, deelagtig sou kan maak.
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag opgewek tot 'n nuwe lewe.
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons 'n gewisse pand van ons salige opstanding.
Geliefdes in die Here!
Die besoldiging van die sonde is die dood. Die geskiedenis van die menslike geslag deur die eeue heen is 'n onafgebroke worsteling met die magtige koning van verskrikking, die dood. Die aardse lewe is vanaf die geboortestonde niks anders dan 'n gestadige, gewisse wegkwyning na die graf nie. Elke mens se lewensgeskiedenis eindig met die paar somber woorde: en hy het gesterf.
Maar die sterwe van Christus is geen lot, soos by ons nie, maar dit is 'n daad deur Homself gewil, 'n daad van sondaarsliefde. Sy sterwe was nie iets onvermydeliks, soos by ons nie, maar deur Hom gewilliglik tegemoet gegaan. So het Hy dan in die graf gedaal. Dit was op Goeie Vrydag. Maar daar was sy verlossingsdaad nog nie voltooi nie. Op Goeie Vrydag het Pase gevolg. Hierdie twee staan in nou verband met mekaar. Op die Paasmôre word die oorwinning van die Vrydag voortgeset. Deur self te sterf het Hy die dood oorwin en magteloos gemaak. Maar as Hy in die dood moes bly, dan sou die dood tog maar die sterkere gewees het. Dan sou die koning van verskrikking maar altyd die seevierende gewees het. Maar Christus het nie in die dood gebly nie. Die grafsteen is afgerol en deur sy opstanding is ook die bewys van sy oorwinning gelewer. Die dood kon Hom nie in die graf hou nie. Hy is die magtige oorwinnaar oor dood en graf en doderyk. Hy, wat die mag het om sy lewe af te lê, het ook die mag om dit weer op te neem.
Word die vraag nou gevra: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons ? Dan antwoord die Kategismus:
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood vir ons verwerf het, deelagtig sou kan maak.
Ons kan dit nie genoeg op die hart druk nie, dat die Heiland ons in alles gelykvormig geword het — uitgenome die sonde — dat Hy ons vlees en bloed aangeneem het en as Plaasbekleder in ons dood ingegaan het. Juis ons sonde wat Hy op Hom geneem het, was die oorsaak dat Hy in die gerig gekom het, dat Hy verbrysel is, dat Hy die dood aan die vloekhout gesterf het.
Van nature is die sondaars Godhaters en naastehaters. Van nature is die sondaars die eiendom van Satan. Wat het Christus dan in die sondaar gesien of gevind dat Hy daarmee deurgegaan het om vir hom te ly en te sterf ? Die sondaar is na siel en liggaam die handewerk van God. Die sondaar hoort nie tuis in die huishouding van die duiwel nie maar in die gemeenskap met sy Skepper. Daarom het Christus sy heerlikheid in die hemel verlaat, dit geen roof geag om ons in alles gelyk te word nie, sodat Hy ons uit die hand van Satan kon los ruk.
Christus moes die losprys betaal. Die prys wat betaal is word nie met goud of silwer bereken nie, maar Hy het sy lewe afgelê. Met sy bloed het Hy die dure prys betaal. So is die gelowiges voor God weer geregverdig.
Omdat Hy die losprys in volkome gehoorsaamheid betaal het, het God Hom, terwille van ons regverdigmaking weer uit die dood opgewek. Dit kon nie anders nie. Dit sou onregverdig gewees het om Hom in die dood te laat bly. Sy offer was volkome. God het dit aangeneem.
„U 't God behaag en in genade,
„Wend Hy van ons sy oordeel af.
Wanneer ons in twyfel verval, in twyfel vanweë ons sonde, in twyfel of ons wel voor God regverdig is, dan verkondig Pase ons dat God ons Middelaar uit die dood opgewek het. Sy middelaarswerk is volkome gevind. Sy offer was vir almal en ten alle tye voldoende. Ons is in Hom geregverdig. Ons is vrygespreek. Ons is erfgename van die ewige lewe.
Dit is die troos vir die gelowiges: wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God ? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel ? Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree (Rom. 8, vs. 33 en 34).
Ja, Jesus lewe. Hy is opgewek na die wil en deur die krag van God omdat Hy die sonde van die menslike geslag, van sy volk en almal wat in Hom geglo het en nog in Hom sal glo, volkome versoen en vir ewig weggedoen het. So staan die hemel dan oop vir almal wat sy verskyning liefgehad het, sodat hulle kan ingaan en die ewige lewe kan beërf.
Ten tweede word ons ook deur sy krag opgewek tot 'n nuwe lewe.
Christus is deur God opgewek. Waarom? Nie vir Homself nie, maar vir sy gelowiges. Hy het opgestaan sodat Hy sy eie, heerlike en onverganklike lewe aan ons kan meedeel. By die graf van Lasarus het Hy gesê: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.
Waarin bestaan hierdie lewe ? Dit is allereers 'n geestelike lewe, die nuwe lewe. Jesus het die mag om daardie nuwe lewe by die sterfling op te wek. Hy neem die dood uit die siel weg. Dit is verder 'n salige lewe. Omdat Hy op die derde dag opgestaan het, is Hy die Lewensvors. Hy is by magte om die sondaar uit sy doodstaat en sondegraf te laat opstaan. Hy openbaar sy lewe in die lewe van die sondaar. Hy oorwin die mag van die sonde en die dood.
Daarom die opdrag aan die gelowiges: Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is (1 Tim. 6, vs. 12).
Vir die gelowige val hierdie stryd swaar. Daar is soveel teëstand. Die mag van die wêreld en die sonde is so groot en die sielsvyand so sterk. Maar laat die gelowige nie op eie krag steun nie. Juis hierdie drie woorde moet in die antwoord van die Kategismus onderstreep word, naamlik: deur sy krag. Ons staan nie alleen in die lewensstryd nie; Christus is by ons en met ons. Hy stry saam met ons. Hy stry ons stryd vir ons. Hy het teen die Bose gestry en oorwin; Hy het teen die magte van die wêreld gestry en oorwin. Hy is die sterke Held, die Magtige wat op die troon sit en onbeperk heers. Hy staan aan ons sy.
Al gaan ons dan eensaam ons weg deur die lewe, al moet ons almal verlaat of verloor, ons is tog nooit alleen nie. Hy vergeet en verlaat ons nie. Hy lewe en ons met Hom.
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons 'n gewisse pand van ons salige opstanding.
Deur die eeue het die verwagting van 'n opstanding van die liggaam by die mensdom lewend gebly. Selfs by die heidene vind ons allerlei gebruike wat spreek van daardie hoop op 'n wederopstanding. By baie was dit miskien 'n duistere en onbewuste hoop, maar nietemin 'n volkome besef dat die lewe nie eindig by die graf nie. In elk geval is die hoop op die wederopstanding nie in die mensesiel gebore na die opstanding van Christus uit die graf nie.
Sommige gelowiges glo dat ons sal opstaan omdat Christus uit sy graf opgestaan het. Maar Gods Woord leer ons juis die omgekeerde. Paulus skryf: Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie (1 Kor. 15, vs. 16). Die Apostel gaan hier uit van die algemene opwekking van die dodes. En dit is vir hom die bewysgrond dat Christus ook opgewek is. Ons sal dus opstaan, maar nie omdat Christus sy graf verlaat het nie. Sy verrysenis is vir ons die onderpand, die bevestiging van ons salige opstanding. Volgens Gods Woord staan dit vas dat die graf die liggame van die afgestorwenes op die duur tog nie sal kan hou nie. Die saligmakende werk van Christus sou slegs ten dele volbring wees indien ons wel na die siel die ewige lewe deelagtig word, maar na die liggaam die prooi van totale ontbinding en vernietiging vir ewig sou word.
Maar Christus is die Saligmaker, nie alleen van die siel nie, maar ook van die liggaam. Hy is die Redder van die gehele mens, liggaam en siel.
Daarom kan ons moedig voorwaarts gaan. Sonder vrees en verskrikking kan ons aan die dood en die graf dink. Ons Heiland het ook die dood en graf tegemoet gegaan. Met sy geseënde liggaam het Hy in die groewe van vertering ingegaan. Die graf is vir sy gelowiges geheilig. Wanneer ons die graf indaal, sal ons stof ook rus waar sy liggaam gerus het. En soos Hy op die derde dag met 'n verheerlikte liggaam uit die graf verrys het, so sal ons, na drie dae, of drie jaar of drie eeue — op die tydperk kom dit tog nie aan nie — ook opstaan.
Die dag sal aanbreek wanneer die wekstem van Christus sal weerklink oor die kerkhowe van die wêreld. Dan sal die graftes en die seë hulle dodes teruggee. Ons sal herlewe, om ewig onsterflik, Christus gelyk te wees en in volmaaktheid en heerlikheid saam met Hom te woon op die nuwe aarde.
So sal elkeen dan wat in Jesus ontslaap het, ook sy liggaam terugkry, 'n liggaam wat verander, verheerlik en gelykvormig sal wees aan die liggaam van sy Here en Heiland. Dan tree die volle lewe in. Die siel gesalig, die liggaam verheerlik, beide herenig om nooit weer te skei en nooit weer aan die dood en verderf onderworpe te wees nie.
Is daar 'n blyer en saliger vooruitsig denkbaar dan om daardie onverderflike lewe in al sy heerlikheid te ontvang? Die triomflied klink op uit ons siel:
„Triomf, die Heer het opgestaan,
„nou kan ons vrolik grafwaarts gaan,
„sy liefde rig ons skrede;
„Hy, uit die dood die eersteling,
„sal ons tot lewe wederbring,
„ons sal verrys in vrede
(Ges. 140, vs. 3)
Amen.
J. C. du Plessis.