Hk 20 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 12 views
Notes
Transcript

SONDAG 20

Die Heilige Gees

Lees: Joël 2, vs. 28-32; Johannes 14, vs. 12-28; 16, vs. 5-15.

Sing: Gesang 3, vs. 3; Psalm 43, vs. 3; Gesang 2, vs. 4; Gesang 92.

Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Eerstelik, dat Hy saam met die Vader en die Seun waaragtige en ewige God is.

Ten tweede, dat Hy ook aan my gegee is om my deur 'n opregte geloof Christus en al sy weldade deelagtig te maak, my te troos en ewig by my te bly.

Gemeente van Jesus Christus,

Aangaande die Seun van God wat as mens in hierdie wêreld ingekom het, lees ons die droewige woorde in Joh. 1, vs. 10 en 11: „Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie." Hy was vir die wêreld in die algemeen, maar ook vir sy eie mense dus soos 'n vreemdeling by sy verskyning op aarde. Ook na sy opstanding nog herken die Emmausgangers Hom nie. Die rede hiervoor moet gesoek word in wat die Here Jesus hulle verwyt: „O onverstandiges met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het."

Dieselfde kan ook helaas gesê word van die Heilige Gees: Ook deur Hom het die wêreld ontstaan, en tog ken die wêreld Hom nie; ook Hy kom nog altyddeur na sy eie mense toe, en ook sy eie mense neem Hom dikwels nie aan nie, omdat Hy vir sy eie mense ook as 'n onbekende, 'n vreemdeling voorkom.

Broeder en suster, ook u is van die eie mense van die Here Jesus en vir u het Hy die Gees verkry na sy hemelvaart. Ken u die Gees van God? Ken u u Trooster ? Of het u maar slegs van Hom gehoor ? Indien u Hom nie ken nie, sal die rede dieselfde wees, dit sal wees omdat ook u onverstandig is met 'n hart wat traag is om te glo wat deur die profete gespreek is, ja meer, wat deur die groot Profeet, Jesus Christus, self gespreek is aangaande die Heilige Gees wat sou kom en wat gekom het om vir ewig te bly by sy mense.

Laat ons dan aandagtig luister na wat God ons leer in sy Woord aangaande die Heilige Gees, sodat ons mag toeneem in wysheid en genade by God.

Op grond van die Skrif gee die Heidelbergse Kategismus vir ons in die twintigste Sondagsafdeling 'n saaklike verklaring van:

Wie die Heilige Gees is, en

Wat die Heilige Gees doen.

1. Ons vra „wie" is die Gees en nie „wat" nie, en hierby aanvaar ons reeds dat ons hier met 'n Persoon te doen het en nie met 'n ding of saak nie. Dis goed dat ons onsself hiervan oortuig, veral waar daar teenswoordig verskillende sektes is wat die persoonlikheid van die Heilige Gees ontken; vir hulle is die Gees dan 'n blote krag, iets soos elektrisiteit, iets wat wel van God gestuur word maar self nie goddelik is nie en geen persoonlikheid besit nie. So gesien sou dan die gemeenskap van die Heilige Gees nog geen gemeenskap met God beteken nie maar hoogstens deelgenootskap aan 'n waardevolle gawe van God aan die mens. So gesien sou die hemelvaart van die Here Jesus vir die gemeente ook nie voordelig gewees het nie, maar bepaald vermindering van God se genadebetoon. Ons sien dus reeds waarheen hierdie ongelowige dwaling ons sou lei. Laat ons daarteen waak, as iets wat geheel-en-al indruis teen al wat die Skrif ons leer.

Al die handelinge en eienskappe van die Heilige Gees, soos die Bybel dit beskryf, kom ooreen met die van 'n lewende Persoon, soos blyk o.a. hieruit dat die Heilige Gees kan bedroef word (Ef. 4, vs. 30); dat Hy vir ons bid (Rom. 8, vs. 26); dat Hy 'n Trooster is (Joh. 14 en 16); dat Hy oortuigingswerk doen (Joh. 16, vs. 8); dat Hy „hoor" en „spreek" (Joh 16, vs. 13). Verder word Hy in die Griekse Nuwe Testament aangedui met dieselfde voornaamwoord wat vir 'n manlike persoon gebruiklik is, en nie met die woord wat toepaslik is op sake nie.

Maar wat van nog groter betekenis is: Hy is 'n goddelike Persoon. God is Gees (Joh. 4, vs. 24), en die Heilige Gees weer is die Gees van God (vgl. Gen. 1, vs. 2, I Kor. 3, vs. 16 ens.). Die Gees van God is die goddelike Gees, vanselfsprekend een met en onafskeidelik van die Godheid. Die Gees is die Here (2 Kor. 3, vs. 17 en 18).

Die Heilige Gees is tegelyk die Gees van die Vader en van die Seun. So word Hy dan ook genoem „die Gees van God, die „Gees van die Vader" (Mat. 10, vs. 20), die „Gees van die Here", die „Gees van die Seun" (Gal. 4, vs. 6), die „Gees van Jesus Christus" (Fil. 1, vs. 19, 1 Petr. 1, vs. 1). In 1 Joh. 5, vs. 7 weer lees ons dat daar drie is wat getuig in die hemel, nl. die Vader en die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een. En hoe meer ons die Skrif deursoek, hoe meer kan ons maar net die een gevolgtrekking maak, n.l. dat die Heilige Gees „saam met die Vader en die Seun waaragtige en ewige God soos die Kategismus ons dit dan ook leer. Hy is niemand anders nie as God self in sy alomteenwoordigheid en werkende krag; „die ewige Krag en Moondheid wat uitgaan van die Vader en die Seun", want „hulle is al drie gelykelik ewig in een en dieselfde wese" (Nederlandse Geloofsbelydenis, Art. VIII).

„Ons glo en bely dan dat die Heilige Gees van ewigheid af van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskape of ook gebore is nie, maar alleen van albei uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon is van die Drievuldigheid, van een en dieselfde Wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun; ja Hy is waaragtige en ewige God" (Nederlandse Geloofsbelydenis, Art. XI).

II. Dit sou vir ons van weinig nut wees om dit alles te weet, as ons nie ook leer om die Heilige Gees te ken as God van naby nie. Want dit is die groot betekenis van die Heilige Gees vir die mens, dat sedert Pinkster God vir ons geword het, nie maar net die hoogverhewe Skepper en Regeerder van die heelal nie; ook nie net Immanuel, God-met-ons nie, maar nou God-in-ons. Die Heilige Gees is die een Persoon van die Godheid wat aan ons gegee is as 'n ewige gawe van die Vader, deur die Seun vir ons verkry; ja, Hy is aan ons gegee as 'n ewige erfdeel en as Onderpand van God se beloftes. In en deur die Heilige Gees kom God nou nader aan ons as ons hande en ons voete, kom Hy inderdaad om in ons te kom woning maak. Daarom ook dat die werking van die Heilige Gees deur ons ondervind word as die mees intieme, die mees innerlike van alle lewenservaringe.

Immers, dis in die diepste van ons wese, by die wortels van ons sielelewe, diep in die hart, waar die uitgange van die lewe is, dat die Heilige Gees besig is om die mens te herskep na die beeld en gelykenis van God. Daar plant Hy die byna onsigbare saadjies van die geloof in Jesus Christus; daar ook laat Hy die saadjies ontkiem en wortelskiet en opkom en groot word tot 'n sierlike planting van die Here.

Dit is die Heilige Gees wat ons oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel; Hy oortuig ons dat ons gesondig het teen die lewende God en dat ons in onsself verlore is kragtens die regverdige oordele van God. Maar dis dieselfde Heilige Gees wat ons dan ook weer oortuig van die genade en die barmhartigheid en die vrede wat God ons skenk in die Seun van sy liefde, Jesus Christus. Die Gees getuig in ons harte van die Christus, dat Hy die Here is, die Seun van die lewende God, die Verlosser van sondaars wat na Hom toe kom. Dis dan die Heilige Gees wat ons trek na Christus toe om by Hom te kom soek die vergewing van sondes en die ewige lewe; want dis ook die Gees wat ons tot die oortuiging bring dat Hy aan die kruis die losprys vir ons sonde betaal het. En wanneer ons na Christus gegaan het en ons lewe en saligheid in sy hand gestel het, dan getuig dieselfde Gees weer saam met ons gees dat ons kinders van God geword het, en as ons kinders is, dan ook erfgename; erfgename saam met Christus van alles wat God in sy Woord aanbied vir die gelowige. Deur die Gees leer ons om te bid „Abba, Vader" en leer ons om rus vir ons siele te vind daarin dat God onse Vader geword het, wat ons as sy liewe kinders en erfgename sal versorg vir tyd en ewigheid.

Voor sy kruisiging en hemelvaart bemoedig die Here Jesus sy dissipels deur o.a. aan hulle te beloof dat die Vader vir hulle 'n ander Trooster sal stuur. „Trooster" is dus die naam wat Hy gee aan die Heilige Gees, soos wat Hy deur die mense geken sal word. Die Griekse woord Parakêtos wat in ons Bybel vertaal word met Trooster beteken letterlik „iemand wat bystaan". Dit was gebruiklik vir 'n advokaat, iemand wat 'n ander bystaan en ondersteun in sy regsaak.

So staan die Heilige Gees ons by in ons stryd teen die sonde, teen die wêreld en teen die Satan.

Eerstens ondersteun Hy ons deur ons te lei in alle waarheid, soos Jesus beloof het, sodat ons wysheid verkry, insig in die goddelike waarhede soos geopenbaar in die Skrif. So maak Hy ons dan bekwaam nie alleen om met vaste oortuiging voort te gaan op die lewensweg nie, maar ook om ons te kan verdedig teen versoekinge, asook teen beskuldiginge van die Satan, van die wêreld en van ons eie hart wat ons verkla voor God. Hy verkondig innerlik aan ons die dinge aangaande Jesus Christus, sodat ons die vaste sekerheid in ons harte verkry dat ons nie in die duisternis verkeer nie maar dat ons die lig van die lewe gevind het. En as kinders van die lig kan ons dan voortwandel in die kragvolle oortuiging dat God met ons is; want hulle wat deur die Gees van God gelei word is kinders van God. As God dan met ons is, wie sal teen ons wees ?

So staan die Heilige Gees ons ook by in ons gebede; in ons swakheid weet ons nie reg wat om te bid nie, „maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree" (Rom. 8, vs. 26 en 27).

Veral ondervind die gelowige die vertroostende werksaamheid van die Heilige Gees hierin, dat Hy in ooreenstemming met die Woord van die Here Jesus, ons herinner aan alles wat die Christus gespreek het (Joh. 14 : 26). Dit is in besondere sin waar met betrekking tot die woorde van die Here Jesus toe Hy op aarde was; maar in breere sin het dit ook betrekking op die ganse Woord van God soos ons dit het in die Bybel.

So het die dissipels dit ondervind na die hemelvaart van die Heer, dat hulle indagtig geword het op gegewe oomblikke van dinge wat Hy gespreek het toe Hy nog by hulle was; dinge wat hulle eerder nie kon verstaan nie, maar nou word alles duidelik. Dis die Heilige Gees wat hulle herinner het en hulle verstand verlig het om die dinge nou te kan verstaan.

Verder het hulle ondervind die kragtige werking van die Heilige Gees om hulle op die regte oomblik te herinner aan al wat God deur die profete van ouds ook gespreek het, sodat hulle die mees gepaste woorde daaruit kon aanhaal in hulle selfverdediging en in hulle prediking dat Jesus die Christus is. Ons dink hier bv. aan die kragtige prediking van Petrus by die uitstorting van die Heilige Gees en aan sy gepaste en treffende aanhalings uit die Ou Testament. Dieselfde Gees wat die profete geïnspireer het om die dinge te sê en te skryf, is nou weer daar om die volle en diepe betekenis van die eenmaal gesproke dinge aan die apostels en trouens aan alle gelowiges in Christus te openbaar.

As persoonlike Vertrooster het die Heilige Gees hulle gedurig herinner aan al die verskeidenheid van beloftes van die Heer, waarop hulle as gelowiges kon aanspraak maak.

Die Heilige Gees het gekom om vir ewig te bly by die gelowige Gemeente van Jesus Christus. Daarom doen Hy sy werk as Trooster nog altyd en onafgebroke in die harte van alle gelowiges. Hy oortuig ons nog altyddeur van die heilswaarde van die dood van Jesus Christus; nog altyd is Hy daar om ons innerlik te oortuig dat God ons Vader geword het en ons sy kinders, en dat ons daarom ook kan aanspraak maak op al die beloftes wat daar is vir sy kinders. En wat meer is, Hy is altyddeur op sy pos, altyddeur soos ons skaduwee aan ons regterhand, soos die Een wat nooit sluimer of slaap nie, om die kinders van God by te staan in al hulle nood, in al hulle versoekings en beproewinge. Nog altyd is Hy besig om die Gemeente van Christus en elke gelowige afsonderlik te herinner aan die beloftes van die Heer. Maar ken ons Hom? Glo ons waarlik in die Heilige Gees ?

Weet ons, glo ons dat dit die Heilige Gees van God is wat antwoord op ons gebede deur ons te herinner aan een of ander Skrifwoord? In die mate wat ons nie die Heilige Gees ken en glo nie, sal ons ook die ware vertroosting mis wat te put is uit hierdie tekste; want dan soek ons tevergeefs na 'n antwoord van God op ons gebede, terwyl God oor en oor geantwoord het, en ons nie verstaan het nie. O, hoe dikwels kom die Heilige Gees na sy eie mense toe, en ken hulle Hom nie.

Is ons in versoeking om mislei te word en te sondig, en ons soek lig en leiding by God, dan antwoord die Heilige Gees deur ons te herinner aan een of ander liggewende uitspraak van die Skrif in hierdie verband.

Weet ons nie hoe om op te tree teenoor 'n medemens in verleentheid, of teenoor 'n vloekende vyand of teenoor 'n sondaar in die vernedering nie, en ons soek lig by die Here, dan herinner die Heilige Gees ons aan wat Jesus ons geleer het om te doen.

Ly ons verdrukking in die wêreld as navolgers van Christus en ons kla ons nood by God, dan herinner die Gees ons daaraan dat Jesus gesê het: „In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed. Ek het die wêreld oorwin."

As die Christen nie verstaan waarom hy gehaat word deur mense terwyl hy goeddoen nie, dan maak die Gees hom indagtig dat die Christus gesê het: „As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hulle My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê", en „'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg"; maar dan ook „Salig is julle want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het."

Voel ons asof die Heer ons vergeet en verlaat het; hou die Heer Hom soms verborge, sodat ons nie bewus is van sy nabyheid in ons lewe nie, dan kla ons ons nood by Hom, en die Heilige Gees herinner ons daaraan: „Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld", en „Ek sal jou nie begewe nie; Ek sal jou nie verlaat nie."

Sien ons geen tekens van God se trou, van sy sorg en liefde oor ons nie, en ons roep die Heer aan in ons nood, dan antwoord die Heilige Gees deur ons te herinner daaraan dat die geloof 'n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie, en dat die regverdige deur die geloof sal lewe en nie deur aanskouing nie.

Het ons swaar gesondig teen God en versmag in bittere berou na vrede in die hart, maar durf nie te hoop op die vergiffenis van God nie — dan roep ons Hom aan om genade met boetedoening en skuldbelydenis, en dan vertroos die Gees ons weer deur ons indagtig te maak aan die belofte: „As ons ons sondes bely, God is getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (I Joh. 1:9).

Voel ons beswaar en bekommer dat ons nie sal kan volhard in die goeie stryd van die geloof tot die einde toe nie, dan kom die Gees ons te hulp deur ons te herinner aan die woord van die Here Jesus aangaande diegene wat na Hom kom en deur Hom aangeneem is: „Niemand sal hulle uit my hand uitruk nie."

So weet die Gees wat die harte ken en deursoek, die Gees ook wat die Outeur van die Skrif is, altyd om ons op die regte tyd te herinner aan die regte uitsprake van Gods Woord. So is dit dan die Heilige Gees wat die Bybel vir ons laat word tot 'n lewende Woord van ons Hemelse Vader, vol van wonderbare vertroostinge onder alle lewensomstandighede.

Maar glo ons waaragtig in die Heilige Gees ? Indien wel, dan beleef ons inderdaad die lieflikheid van die alomteenwoordigheid van God.

As ons waarlik glo in die Heilige Gees, sal ons nie twyfel nie dat God waarlik sy beeld in ons sal laat herlewe deur die geloof in Christus, hoeseer ons ook al bewus mag wees van ons geestelike misvormdheid.

Glo ons in die Gees, dan sal ons nie sinies en onverskillig wegbly waar die Evangelie verkondig word nie, asof daar niks te haal is nie: inteendeel sal ons altyddeur sorg om daar te wees, soveel as wat dit van ons afhang, wel wetende dat die Heilige Gees ook daar sal werksaam wees om deur die prediking die geloof in ons harte te wek, te versterk, op te bou en te bevestig.

As ons glo in die Heilige Gees, sal ons ook nie om allerlei beuselagtige redes wegbly van die Nagmaal nie; ons sal die eenvoudigheid van die Awendmaalsviering, die breek van die brood en die drink van die beker, nie gering ag nie, maar ons sal weet en versekerd wees dat die Heilige Gees daardie eenvoudige simbole sal gebruik om ons Christus meer en meer deelagtig te word, deur wie ons hongerige en dorstige siele gespysig en gelaaf word tot die ewige lewe.

As ons glo in die Heilige Gees, sal ons nie versuim om ons dors tuis en in die Sondagskool soveel as moontlik tekste en Skrifgedeeltes uit die hoof te laat leer nie; want ons sal weet dat die Heilige Gees daardie geheuekennis, wat op die oomblik miskien weinig waarde mag hê, later in die lewe van die kind sal gebruik tot sy opbouing in die geloof, deur elkeen van hierdie dinge wat hy nou nie verstaan nie ter geleëner tyd innerlik aan hom te verkondig.

As ons glo in die Heilige Gees, sal ons ook nie soos wanhopiges wees in ons gebede nie; ons sal nie wees soos diegene wat roep maar geen antwoord verwag nie; ons sal lig, krag en leiding van God begeer in die naam van Jesus Christus en wel in die volle vertroue dat die Heilige Gees daar is om ons innerlik te verlig, om ons te antwoord en ons by te staan.

Sy naam is immers TROOSTER en Hy is aan my van die Vader  deur Christus gegee om my nooit te verlaat nie, maar ewig by my te bly.

Glo in die Vader, glo in die Seun en glo in die Heilige Gees.  Hy wat glo sal lewe.

Amen.

J. J. Engelbrecht.

Related Media
See more
Related Sermons
See more