Hk 21 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 17 views
Notes
Transcript

SONDAG 21

Die heilige, algemene, Christelike Kerk

Leer: Psalm 122 en 1 Petr. 2, vs. 1—10.

Sing: Psalm 89, vs. 6; Gesang 52, vs. 7 en 8; Gesang 153, vs. 1.

Vraag 54: Wat glo u van die heilige, algemene, Christelike Kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die ganse menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe vergader, beskerm en onderhou; en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.

Vraag 55: Wat verstaan u onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Eerstelik, dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede aan die Here Christus en al sy skatte en gawes gemeenskap het.

Ten tweede, dat elkeen moet weet dat hy skuldig is om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend.

Vraag 56: Wat glo u van die vergewing van die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus aan al my sondes, ook my sondige natuur waarteen ek my hele lewe lank moet stry nooit meer wil bedenk nie, maar my uit genade die geregtigheid van Christus wil skenk, sodat ek nimmermeer in die gerig van God sal kom nie.

Ons bely dat ons glo aan 'n heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes.

Ek glo amper nie dat daar een leerstuk is waaromtrent daar minder helderheid en meer verwarring van denkbeelde heers as oor die van die kerk nie. Die meeste mense se voorstelling omtrent die kerk is baie vaag, as dit altans nie heeltemal verkeerd is nie. Vra maar aan mense wat hulle onder die kerk verstaan en u sal sien watter uiteenlopende antwoorde u sal ontvang. Die een sal u wys op die gebou wat aan die godsdienstige samekomste van die gemeente gewy is; 'n ander weer op die gemeente self; 'n derde op die kerklike ampsdraers; 'n vierde weer op die kerklike groep waaraan hy behoort, en so meer. Vra ons weer hoe oud die kerk is, ontvang ons ook weer verskillende antwoorde. Die een sal sê so oud as die wêreld, terwyl weer 'n ander sal volhou so oud as die Christendom. Vra ons verder waar die kerk is, sal net so 'n bonte mengeling van antwoorde ons verras. So loop die antwoorde ook uiteen wanneer ons na die betekenis, die bestemming en die toekoms van die kerk vra. Dit is daarom nodig dat ons tot meer helderheid sal kom omtrent die kerk — daardie heerlike godsgebou, gestig op die fondament van die apostels en profete, waarvan Jesus Christus self die uiterste hoeksteen is en wat reeds, hoe ver miskien ook nog van die voltooiing verwyderd, sy breë vleuels uitslaan tot aan die eindes van die aarde.

Die kerk van Christus is 'n geestelike liggaam en bestaan uit al die ware gelowiges in Christus, waar, van watter rang of stand, land of volk of eeu hulle ook mag wees. Ons bely dan ook in die 27ste artikel van ons Nederlandse Geloofsbelydenis, dat ons glo 'n enige algemene kerk wat 'n heilige vergadering is van die ware gelowiges in Christus wat hulle hele saligheid in Jesus Christus verwag omdat hulle gewas is deur sy bloed en geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal daar wees tot die einde toe, want Christus is 'n ewige koning en kan nie sonder onderdane wees nie. Daarom hou God dan ook hierdie kerk in stand. Die band wat al die lede van hierdie geestelike liggaam omstrengel is die gemeenskaplike geloof in Christus.

Daar is tallose verenigings en genootskappe in die wêreld, by voorbeeld vir die beoefening van kuns en wetenskap, vir die bevordering van handel en nywerheid, vir die behartiging van sport en vermaak, selfs ook vir die handhawing van godsdienstige beginsels, maar hierteenoor staan die kerk van Christus as 'n eiesoortige liggaam, geestelik van aard en prinsipieel van hulle almal onderskeie. Reeds die woord kerk dui dit aan. Hierdie woord is naamlik afgelei van 'n Griekse woord wat beteken: wat aan die Here behoort. Die kerk is dus 'n liggaam wat in besondere sin aan die Here verbind is en aan Hom behoort. Dit word nog duideliker as ons op die aanvang en duur van die kerk let. Wanneer het die kerk op aarde ontstaan en hoe lank sal sy voortbestaan duur ? Die diepste oorsprong van die kerk lê in die ewige en vrymagtige verkiesing van God. Voor die grondlegging van die wêreld dus (Ef. 1, vs. 3-6). Maar wanneer ons vra na die ontstaan van die kerk in die tyd, moet ons antwoord dat dit daar was van die begin van die wêreld af; die eerste aanvange van die kerk op aarde lê in die paradys. Van daar uit het die kerk hom onder die voorsienige bestel van God al verder uitgebrei. Onder die Ou Verbond was die kerk nog beperk tot die volk van Israel, maar met Pinkster het 'n nuwe tydperk aangebreek en het daardie volksgrens weggeval. Die geskiedenis van die kerk op aarde sal eers afsluit met die wederkoms van Christus. Die toekoms van die kerk lê in die ewige koningskap van Christus vas en seker.

Van die kerk bely ons dat dit heilig, dit is afgesonder is. Die lede van die kerk van Christus is sondaars wat deur die Heilige Gees en die Woord van God uit elke stam en volk en taal en nasie uitgekies en uitgeroep en afgesonder is van sondediens en wêreldliefde en toegewy aan die diens van God. So skrywe die apostel dat Christus Jesus Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig. Ons is 'n uitverkore geslag, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry.

Ons bely ook dat die kerk algemeen is, dit wil sê nie beperk tot 'n bepaalde tyd of plek of volk nie. Die Here Christus vergader in die loop van die eeue deur sy Gees en Woord sy uitverkorenes uit die mekaar opvolgende geslagte van die mensheid, soos dit oor die hele wêreld heen versprei is. In die nuwe lied tot eer van die geslagte Lam heet dit dan ook: „U het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie."

Verder bely ons dat die kerk christelik is, omdat die hoof daarvan Christus self is. Die kerk is nie 'n stigting van mense nie; dit is nie 'n willekeurige vereniging wat deur mense in die lewe geroep is en weer na hulle goeddunke ontbind kan word nie; daarom is dit dan ook verkeerd om van 'n „kerkgenootskap" te praat — die kerk van Christus is nie 'n genootskap nie, maar 'n eie instelling van Christus waarvan Hy die hoof en sy uitverkore gelowiges die lede is. Dit is dan ook die roeping van hierdie liggaam om Christus, sy Hoof, te verheerlik, die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig, die gelowiges in hulle geloof op te bou en teen die sonde te stry. Elke lid van hierdie geestelike liggaam het sy bepaalde roeping, net soos ook elke lid van ons natuurlike liggaam sy bepaalde werk het. Die apostel vat hierdie roeping saam in die vermaning, dat ons die deugde moet verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Die gelowiges in Christus vorm die kerk, die gemeente, die liggaam van Christus; hulle staan dus nie los langs mekaar soos sandkorrels waartussen daar geen onderlinge verband is nie; hulle maak saam een huisgesin, een groot familiekring uit, en daarom moet onderlinge liefde hulle verhouding tot mekaar kenmerk. Hieraan sal almal weet dat hulle dissipels van Jesus is, as hulle liefde onder mekaar het. Daardie band van eenheid wat hulle saamsnoer moet hom in dienende liefde openbaar. Hulle moet mekaar as medegelowiges gewillig en blymoedig met hulle geestelike en stoflike gawes dien.

Saam buig ons voor een HEER en God, deur een Gees tree ons nader as kinders tot een Vader, en deur sy Seun deel ons een want met sy offerbloed het Hy vir ons geboet.

Ja, ons bely ook die vergewing van sondes! Vir hom wat nog nie die las van sy sondeskuld gevoel het nie het hierdie geloofsjubel geen betekenis nie; maar hy wat diep oortuig is van die vleklose heiligheid van God en van die volstrekte doemwaardigheid van die sonde — vir hom bly dit altyd weer 'n aanbidlike wonder van grenslose genade dat God die sonde vergewe! Vergewing van sonde is dan ook die grootste en begeerlikste weldaad wat 'n skuldige sondaar ooit kan ontvang.

Deur die tussenkoms van Christus vergewe God nie net party nie, maar al ons sondes. En nie net dit alleen nie, Hy vergewe ook die sondige aard waarmee ons gebore is en wat deur die wedergeboorte wel onderdruk maar nog nie heeltemal uitgeroei is nie en waarteen ons ons hele lewe lank moet stry. Aan hierdie kant van die graf bereik ons nooit 'n toestand van sondeloosheid nie. Die ou sondige natuur laat hom na ons bekering telkens weer geld. Soos by 'n geente boom nou en dan wilde lote uit die ou stam opskiet, so loop daar ook maar altyd weer sondige gedagtes, woorde en dade uit ons ou sondige natuur uit.

Maar nogeens, Goddank! ook daardie sonde is versoen. Die gelowige kind van God sal nooit in die strafgerig van God kom nie. Op Golgota het God met die sonde van sy kind afgereken. En net soos die verlore seun nie alleen met oop arms by sy tuiskoms ontvang is nie, maar in die plek van sy lompe vir hom die beste kleed aangetrek is, so word ook aan die berouvolle sondaar, wat niks besit om hom te bedek nie, die kleed van die geregtigheid van Christus geskenk. Op sy geloof in Christus word die boetvaardige sondaar regverdig verklaar, vrygespreek, en God sien hom aan, nie soos hy in homself is nie, maar soos hy in Christus is; of soos ons Nagmaalsformulier dit so duidelik uitdruk: ons sondes word ons vergewe alleen op grond van die lyde en sterwe van Jesus Christus en die volkome geregtigheid van Christus word ons as ons eie toegereken en geskenk, ja so volkome, asof ons self in eie persoon vir al ons sondes betaal het en alle geregtigheid volbring het. Ons is, soos die apostel dit uitdruk, afgewas geheilig en geregverdig deur die bloed van Christus. Ons hoef dus nie bang te wees dat ons ooit in die strafgerig van God sal kom nie, want wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God ? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel ? Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus?

Heerlike geloofsroem! Mag niemand van ons lewe of sterwe sonder om die krag van hierdie geloof in sy eie hart te ondervind nie.

'k Het Jesus lief, Hy 't aan Gods reg voldoen;

geen sondevloek kan ons nog langer tref nie!

Sou ons die hoof nie vrolik opwaarts hef nie —

sy Middlaarsbloed het ons met God versoen!

Daniël F. Erasmus.        Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more