Hk 22 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 14 views
Notes
Transcript

SONDAG 22

Die wederopstanding van die vlees

Lees: 1 Korinthe 15, vs. 35-58.

Sing: Psalm 65 vs. 2 ; Gesang 156, vs. 4 Gesang 4, vs. 2 en 3; Gesang 189, vs. 6.

Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die vlees aan u?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe terstond tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar dat ook hierdie selfde vlees van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

Vraag 58: Watter troos skep u uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou die beginsel van die ewige vreugde in my hart gevoel, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit wat geen oog gesien, geen oor gehoor en wat in die hart van geen mens opgekom het nie, en dit om God ewig daarin te prys.

Hierdie twee vrae behandel die laaste gedeelte van die Apostoliese Geloofsbelydenis of Twaalf Artikels wat elke Sondagoggend in die Kerk voorgelees word, naamlik „Die wederopstanding van die vlees en 'n ewige lewe."

En nou word daar gevra: Watter troos gee dit aan die mens ? Ja, die mens het troos nodig. Hier op aarde is ons kruisdraers. Selfs die gelowige het sy swaar om te dra. Die geloof gee inwendige vreugde, maar maak nie noodwendig die lewe aangenamer of voorspoediger nie. Hier op aarde is die plek van armoede, ellende, siekte en dood. As dit ons aardse saligheid moet wees, was dit maar 'n treurige saligheid. Paulus sê, as ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons die ellendigste van alle mense.

Waar is dan die saligheid wat aan ons belowe word? Hier op aarde is dit sekerlik nie, te midde van die bloed en rookdamp van oorlog en stryd onder die mensekinders nie. En daarom is hierdie vrae van die Kategismus so onuitspreeklik heerlik.

Hier op aarde het ons 'n klein deel van die saligheid wat ons in ons harte gevoel, maar dit is nog beperk en belemmer deur die vleeslike liggaam met al sy gebreke. Maar na hierdie lewe, dan kom die saligheid tot volle rypheid en heerlikheid, vry van alle bande van die aardse swakhede en sondes. Dan ondervind die gelowige die onbeperkte saligheid daarbo by God en sy engele in die hemel! Is dit nie iets om op te hoop nie? Is dit nie iets wat troos nie ?

Die opstanding en ewige lewe sluit natuurlik in dat die siel van die mens voortlewe na die dood van die liggaam. Dit is nie alleen 'n christelike geloof nie, maar ons vind dit ook by baie ander godsdienste, selfs vanaf die vroegste eeue. Die ou Egiptenare het hulle afgestorwe konings gebalsem omdat hulle geglo het dat die gees wat tydelik uit die liggaam ontsnap het weer sou terugkeer, en daarom moet die liggaam bewaar bly. Hierdie gedagte vind ons in 'n ander vorm by die heidene, wat sierrade, voedsel en water by die lyk neergesit het, sodat die gees dit kon geniet. Die mens is soveel hoër as die diere, en die menslike gees blink so ver bo die ander lewende wesens uit, dat dit 'n algemene gedagte geword het dat die siel moet voortbestaan. Ons kan nie glo dat daar niks oorbly wanneer die liggaam sterwe nie.

Ons vind die gedagte by die Jode in die Ou Testament wanneer die uitdrukking so dikwels gebruik word: „Hy is versamel tot sy vaders." Sy voorgeslagte leef voort, en die oorledene met hulle. In die christelike geloof vind hierdie gedagte sy hoogste uitdrukking in die heerlike belofte van 'n huis met baie wonings waar die gelowiges vir ewig God sal loof en prys.

Die liggaam kan sterwe, maar nie die siel nie. Die siel kom van God. Hy het die mens geskape na sy beeld. Hy het in die mens 'n goddelike vonk ingeblaas wat nie uitgeblus kan word nie. Die siel is nie 'n stoflike beginsel nie. Dit is nie iets wat beetgepak en stukkend gesny kan word soos die liggaam nie. Siekte of swaard kan dit nie aantas nie want dit is nie vleeslik nie. En daarom kan die dood van die liggaam die siel ook nie blus nie. Die beste bewys hiervan gee Jesus wanneer Hy sê: Die God van Abraham en Isak en Jakob. As Hy hulle God is, moet hulle tog voortlewe want Hy is nie 'n God van die dooies nie. Die Christen vermoed nie; hy hoop nie net nie, maar hy weet deur die geloof dat die laaste woord nie „dood" nie maar „lewe" is.

Ja, die siel van die mens lewe voort na die dood van die aardse liggaam. Maar hoe ? en wanneer ? en in welke vorm ? Honderde vrae kom by ons op wanneer ons oor die onsterflikheid van die siel dink. Al hierdie vrae word in die Bybel nie vir ons beantwoord nie, maar ons weet nogtans genoeg om gerus te stel en te troos. Ons Kategismusvraag beantwoord meeste van hierdie vrae.

Wanneer herlewe die siel ? Is daar 'n bewaarplaas vir die siele waar hulle moet wag totdat die dodes opstaan uit die graftes ? Is die siel bewus, dadelik na die dood van die liggaam?

Ja, Broeders en Susters, die siel is dadelik bewus na die dood. Daar is geen bewaarplaas nie; daar is geen eeue-lange slaap nie. Wanneer die gelowige sterwe kom sy siel dadelik in die ewige heerlikheid. Hoe tragies sou dit andersins gewees het. Dan was daar alleen maar 'n leegte; 'n doodse stilte vir eeue en eeue totdat die opstanding eendag plaasvind. Sou Abraham vandag nie lewend in die hemel wees nie? Sou ons dierbares aan die anderkant van die graf vandag geen vreugde ondervind nie ? * Nee, die Woord leer ons anders. Die Here Jesus sê vir die moordenaar aan die kruis: „Voorwaar, Ek sê vir jou: vandag sal jy met my in die paradys wees." En in die gelykenis van die ryk man en Lazarus lees ons dat Lazarus nadat hy gesterwe het deur die engele weggedra is na die boesem van Abraham. Dadelik word hy getroos deur Abraham, en dadelik ly die ryk man helse pyn. Paulus het ook geglo dat die siel dadelik na die hemel gaan want hy sê in Filippense 1 vs. 23: „Ek het verlang om heen te gaan en met Christus te wees." Hy sê nie: Ek het verlang om heen te gaan en na 'n slaap van eeue met Christus te wees nie.

Ds. van Oosterzee vergelyk die oorgang met 'n skipbreukeling wat nadat sy skip gestrand het, woes deur die golwe heen en weer geslinger word, maar dadelik daarna te lande kom op die stille strand. So leer die Kategismus ons ook: „Dat my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus sy Hoof opgeneem sal word."

Maar die liggaam bly op die aarde en vergaan in die graf tot stof. Eendag sal daar 'n wederopstanding van die liggaam wees, en hierdie opstanding is anders as die voortlewing van die siel. Dit is 'n liggaamlike opstanding wat sal plaasvind in die laaste der dae, wanneer alle grafte geopen sal word, die see sy dooies sal oplewer, en alle mense, gelowig en ongelowig, sal opstaan. Wanneer dit sal wees weet niemand nie, maar Jesus praat dikwels daarvan. In Joh. 6 kom die woorde as 'n refrein keer op keer terug: „En ek sal hom opwek in die laaste dag."

Daardie opstanding sal wees met dieselfde liggaam as wat ons op aarde gehad het. Jesus was die eerste wat opgestaan het uit die dode, en sy opstandingsliggaam was dieselfde as Hy voor sy dood gehad het. Die merke selfs, van die spykers in sy hande en voete en die merk van die swaard in sy sy was duidelik sigbaar sodat Jesus vir Thomas gevra het om sy vingers daarin te steek sodat hy kon voel dat dit waarlik dieselfde Jesus met dieselfde liggaam was.

En tog is die opstandingsliggaam nie dieselfde as die aardse liggaam nie. Jesus het na sy opstanding deur geslote deure gegaan en Hom oombliklik verplaas van een plek na 'n ander terwyl ons weet dat Hy voor sy dood altyd geloop of gery het soos enige ander mens. Ons weet byvoorbeeld dat Jesus na sy opstanding skielik by die Emmausgangers aangekom het op pad. Hy het hulle nie agternageloop en ingehaal nie en Hy was ook nie voor hulle in die pad nie. Netso skielik het Hy ook weer van hulle af verdwyn.

Die Apostel Paulus wy 'n hele lange hoofstuk aan die opstanding uit die dode, naamlik 1 Kor. 15, waarin hy bewys dat daar 'n opstanding moet wees, en daarin verklaar hy dat diegene wat in die opstandingstyd nog lewe, verander sal word. Die gewone aardse liggaam sal 'n sekere verandering moet ondergaan, want vlees en bloed kan die Koninkryk van die Hemele nie beërwe nie. Daarom sê hy: „Ons sal wel nie almal ontslaap nie maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink by die laaste basuin, want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (die lewendes) sal verander word. Paulus noem die opstandingsliggaam 'n geestelike liggaam want hy sê: „'n Natuurlike liggaam word gesaai; 'n geestelike liggaam word opgewek. Die graan sterf in die aarde maar dit bring 'n nuwe liggaam voort. Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het."

Daarom hoef ons ons nie te bekommer oor diegene wat in die see omkom of deur wilde diere verslind word of wat deur vuur verbrand word nie, want selfs in die graf verander en vergaan die liggaam tog maar tot 'n handvol stof. God is Almagtig en Hy sal elk van die dodes sy liggaam teruggee, soos Hy dit wil. Daar is dus geen sprake van dieselfde hoeveelheid bloed, senings, bene en vlees as wat ons op aarde gehad het nie. Daar sal geen huwelike of menslike verhoudings wees nie, maar soos die Kategismus sê, ons sal gelykvormig word aan die heerlike liggaam van Christus. Meer as dit verklaar die Heilige Skrif ons nie.

En nou kom ons by die kroon van die geloof; die erfenis wat weggelê is vir die wat volhard tot die einde toe, naamlik die ewige lewe.

Waarin bestaan die Ewige Lewe? Dit is die volmaakte vereniging met God. Sonde is 'n skeiding tussen God en mens; 'n breuk in die verwantskap wat daar behoort te bestaan soos dit gewees het voor die sondeval. Ons is gelukkig dat ons 'n hele hoofstuk in die Evangelies vind wat dit duidelik maak, naamlik Lukas 15, waarin ons die gelykenisse van die verlore skaap, die verlore penning en die verlore seun vind. Die skaap was verlore omdat daar skeiding gekom het tussen herder en skaap. Die penning was verlore omdat die besitter nie geweet het waar die penning gelê het nie, en die seun was verlore omdat hy die bande met sy vader gebreek het. Die ewige lewe beteken dat die skaap gevind word deur die Herder; dat die penning gevind word deur die Besitter en dat die seun opstaan en na sy Vader gaan. Daardie heerlike vereniging tussen Vader en seun, tussen God en mens is die ewige lewe. En as daar blydskap op aarde is wanneer iets of iemand wat verlore was teruggevind word, wat 'n blydskap sal dit nie wees wanneer die afgedwaalde mens met God vir ewig verenig word nie! Ja, dan sal ons die saligheid beërwe wat alle verstand te bowe gaan, of soos die Kategismus sê: „wat geen oog gesien; geen oor gehoor en wat in die hart van geen mens opgekom het nie."

Gedurende die aardse lewe ondervind die gelowige alreeds 'n deel van die saligheid, dit is baie gebrekkig en word gedurig versteur deur die sonde. Sodra die sondaar gelowig word, word die  breuk tussen God en hom gedeeltelik herstel. Die volkome herstel vind eers plaas met die ewige lewe. Dan is dit absoluut en ongesteurd.

In die ewige lewe sal ons God ken.  Deur ons aardse kortsigtigheid en gebrekkigheid kan ons God nie ken of verstaan of begryp nie. Die kennis wat ons van God besit is genoeg vir ons geloof en vertroue op die God van liefde, maar daar is soveel misterieë wat onverklaarbaar bly dat God nog maar die ewige Onbekende vir ons

is. In die ewige lewe word ons gebrekkige kennis van God volmaak en onbeperk. Dan sal ons Hom sien soos Hy is, van aangesig tot aangesig. „Dit is die ewige lewe dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Christus wat U gestuur het."

Dan sal ons God ook volmaak liefhê. God is liefde. God vra van ons liefde teenoor Hom en ons medemense, want dit is die inhoud van die hele wet. Maar ons aardse liefde is maar baie beperk en onvolmaak. In die ewige lewe sal ons God volkome en absoluut liefhê. Dan sal ons deel in sy guns en vriendskap.

Die ewige lewe sal waarlik heerlik wees. Paulus sê: „Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie." Hier en nou ondervind ons die lyding van die teenwoordige tyd. Op aarde ondergaan ons „verdrukking en benoudheid en vervolging en honger en naaktheid en gevaar en swaard." Al hierdie dinge kan ons met blymoedigheid dra want die ewige lewe is so onuitspreeklik heerlik dat al die swaar van die wêreld nie daarteen opweeg nie.

Behalwe die gemeenskap met God is dit die wedersien van al ons dierbares wat die gedagte aan die ewige lewe so heerlik maak. Aangesien daar 'n wederopstanding van die vlees is, sal ons mekaar kan ken en herken. Daar sal al die groot hervormers van vroeër eeue wees; daar sal Abraham, Isak en Jakob wees, en daar sal al ons vriende en familie wees wat saam met ons gelowig in Christus die ewige lewe ingegaan het. En daardie gelukstaat sal nooit ophou nie. Is dit dan 'n wonder dat die Kategismus praat van 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en wat in die hart van geen mens opgekom het nie? Ja, dit is onbegryplik heerlik.

Broeders en Susters, wat moet ons doen om daardie heerlikheid te beërwe ? Ons kan dit nie verdien nie; ons kan daar geen aanspraak op maak nie want volgens reg het ons die ewige verderf verdien. Ons kan dit alleen beërwe deur te glo in Christus Jesus die Gekruisigde, en Hom aan te neem as ons enigste Verlosser; deur te sterwe daarna om Gods wil en wet te onderhou met al die kragte en talente wat Hy ons gegee het en deur te luister na die leiding van die Heilige Gees in ons daaglikse lewe. Dan sal God ons, soos Hy belowe het, die ewige lewe uit genade skenk. Ek glo die wederopstanding van die vlees en 'n ewige lewe. Ek glo dat dit ook my deel sal wees, omdat God my liefhet.

A. Brandt.        Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more