Hk 23 U Enigste Troos
SONDAG 23
Die regverdigmaking uit die geloof
Lees: Romeine 3, vs. 9-31.
Sing: Psalm 103, vs. 7; Psalm 103, vs. 1 en 2; Gesang 54, vs. 5; Gesang 52, vs. 10 en 13.
Vraag 59: Maar wat baat dit u nou dat u dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God regverdig is en 'n erfgenaam van die ewige lewe.
Vraag 60: Hoe is u regverdig voor God?
Antwoord: Alleen deur 'n opregte geloof in Jesus Christus; sê dat al kla my gewete my ook aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en geeneen daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God my nogtans, sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade die volkome voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk en toereken, asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ek self alle gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het, vir sover ek hierdie weldaad met 'n gelowige hart aanneem.
Vraag 61: Waarom sê u dat u alleen deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek vanweë die waardigheid van my geloof God welgevallig is nie; maar daarom dat alleen die voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is, en dat ek dit nie anders as alleen deur die geloof kan aanneem en my kan toeëien nie.
Elke mens wat homself leer ken, wat homself in die ware lig wil sien, wat erns maak met die saligheid van sy siel, ontdek op die bodem van sy hart 'n verlange na verlossing. Want hy ontdek dan ook die grootheid van sy ellende en die verlorenheid van sy bestaan. Dan kom ten eerste hierdie natuurlike trek na vore wat 'n eie verlossing wil bewerk, en dit is die swak punt waar die Roomse Kerk die sieltjies maklik wen; maar of hulle ook vir die hemel gewen is, bly 'n groot vraagteken. Elke mens wat gebuk gaan onder sy sondelas en gewetenswroeging, soek rus vir sy gewete, vrede vir sy gemoed; vreugde en blydskap vir sy siel; salige lewe en sterwe; en hy weet hy kan dit nie kry nie tensy die skuld van sy sonde weggeneem is nie, en die straf vernietig is nie; tensy die sekerheid opklim in sy hart dat hy vergewing vir al sy sonde by God gevind het. En daar is geen ander weg dan om hom te werp in die arms van die geregtigheid in die Evangelie geopenbaar; want om ons heers die wrede en onverbiddelike wet van oorsaak en gevolg. Daar is nergens vergewing te vind en oral gryns bittere vergelding ons teen. Die mens kan oor een of ander sonde berou hê en dit bely, egter daarmee verander daar niks in die uitwerking en gevolge nie; dit moet die mens dra tot in ewigheid. Wat gebeur het kan nooit ongedaan gemaak word nie. Die natuur ken geen vergewing en steur hom aan ons verootmoediging en skuldbelydenis nie in die minste nie.
Vergiffenis is in die sigbare dinge 'n onmoontlikheid. En al vergeef die een mens die ander is daardeur die pyniging van mens se gewete nog nie weggeneem nie! Leef daar dan nie in ons binneste die wet wat aan ons sê dat ons nog aan 'n hoëre persoon verantwoording skuldig is nie ? Daarom voel ons die wanhopige en pynlike van die uitroep wat in ons eie hart weerklank vind: „Wie sal my verlos van die liggaam van die dood?" en tewens voel ons die waarheid en heerlikheid van die woord van Dawid: „Welgeluksalig is die mens wie se oortreding vergewe, en wie se sonde bedek is."
„Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is
In die Ou Verbond word baie gehandel oor die vergewing van sondes. Die Heer skenk dit alleen om sy Naam ontwil, uit louter barmhartigheid, na sy verbondstrou, kragtens sy genadeverbond. Johannes die Doper preek en bedien die doop van die bekering tot vergewing van sonde. Jesus predik dat daar 'n ander geregtigheid nodig is as die van die Fariseërs en die geregtigheid is 'n gawe van God (Matt. 6, vs. 33). En omdat Hy self die geregtigheid was, deel Hy die vergewing van sondes uit; ja, Hy gee sy siel as 'n losprys vir baie, en stig die Nuwe Testament in sy bloed, laat sy liggaam breek en sy bloed vergiet tot vergewing van sondes. En al die apostels sien in die vergewing van sondes 'n weldaad, wat deur Christus verwerf is en deur die geloof ontvang word. Veral lê Paulus groot nadruk daarop, nadat hy uit die Farisese geregtigheid verlos is deur die openbaring van God, en die Farisese geregtigheid bestry hy heftig. Hy bestry nie dat God regverdig is, en dat die saligheid alleen in die weg van die geregtigheid verkry word nie, maar hy verskil oor die wyse waarop die geregtigheid en saligheid ons eiendom word. Nie uit die werke van die wet nie, want ons kan dit nie volbring nie; die wet bly heilig, regverdig en goed en as die sonde in ons liggaam ons nie lamgeslaan en skeefgetrek het nie, sou ons die geregtigheid deur die wet kon verkry het. Egter gee die wet wel kennis van die sonde, maar g'n vergewing daarvan nie, en juis daaraan het ons siel behoefte. Die medisyne gee Christus want Hy het gekom om sondaars tot bekering te bring en goddeloses tot geregtigheid. Daarom word ons geregverdig deur die geloof in die regverdigheid van Christus wat ons geregtigheid is. Daarom hang alles af van die weldaad van die regverdigmaking en is dit tereg die artikel genoem waarby die kerk staan of val en waarby ons siel gered word of verlore gaan. Want die allesbeheersende vraag is dit: wat is die weg wat tot die versoening met God; tot die ware Godsdiens; tot die saligheid en die ewige lewe lei?
Die genade van God of ons verdienste ? Sy vergewing of ons werke? Die Evangelie of die wet? Sy geregtigheid of ons eie geregtigheid! As dit die laastes is dan bly ons twyfel die hele lewe lank, want in onsself is g'n sekerheid of vastheid te kry nie. Ons bly liewer by die Apostels en Hervormers: „Ons word geregverdig verniet, deur sy Genade" (Rom. 3, vs. 24). Die weldaad gaan uit na die Vader, en Hy baan die weg daartoe deur sy Seun te gee tot ons geregtigheid en die Heilige Gees uit te stort om hierdie weldaad in die harte van die mense in te pas. Die Heilige Gees is die Gees wat getuig van geregtigheid. Waarin bestaan die weldaad ? Wat lê daar opgesluit in die regverdigmaking deur God?
Die inhoud van die Evangelie is: God is versoen.
Ten eerste bestaan dit uit niks anders as uit 'n oordeel, uit 'n veranderde gesindheid en stemming van God teenoor die mens. God is ons gunstig gesind. Hy het in ons 'n welbehae en gedagtes van vrede. Sy geregtigheid staan dus nie teenoor sy Genade nie maar veronderstel die genade en baan 'n weg daarvoor. Regverdigmaking is die daad van die regter waardeur hy 'n mens onskuldig verklaar. Die Griekse woord is reg en billik ag, oordeel wat reg is en altyd kom dit in die gunstige betekenis in die Nuwe Testament voor. Dit beteken om iemand na geregtelike ondersoek van skuld vry te spreek en regverdig te verklaar. Heel die verlossingswerk skuil dus in hierdie daad van God en sit daarin. Die grondslag van die daad van God lê in Christus en nie in ons nie. Die Soenoffer (werk) van Christus verskaf aan God die grondslag waarop Hy kan vryspreek diegene wat, hoewel in hulleself goddeloos, tog in Christus glo.
Die geregtigheid van God is in Christus betoon.
Ons word regverdig verniet, uit genade, deur middel van die verlossing wat in Christus Jesus is. Baie vind die grond daarvan in die mens, en sê ons word geregverdig uit ons geloof maar die Heilige Skrif leer anders. Die geregtigheid van God ten gevolge waarvan Hy vryspreek is in die Evangelie geopenbaar sonder werke van die wet voordat ons geglo het. Christus het gesterf voordat ons geglo het. Duidelik is dit dat Christus oorgelewer is om ons sondes ontwil. Hy het vir ons gesterf, vir ons tot sonde gemaak, 'n vloek geword vir ons, en is opgewek tot ons regverdigmaking omdat ons, in Hom regverdig was, voordat ons geglo het, ja, nog voordat ons gebore is. In Christus is ons regverdig en Hy is van Ewigheid; dus lê hierdie daad alreeds vas in die ewige Raad van ons Barmhartige God. Hy het ons eerste liefgehad. Die geregtigheid is ons deel deur ons gemeenskap met Christus van Ewigheid af, anders sou Christus nie vir ons kon voldoen het nie.
Ons word geregverdig uit die geloof en deur die geloof. Daarmee bedoel Paulus nie op grond van die geloof asof die geloof die regverdigmaking bewerk nie maar dit: Paulus en ons besit die regverdigmaking op grond van ons geloof, deur die geloof het ons daar deel aan, uit ons geloof groei die bewustheid en sekerheid van ons regverdigmaking. Die geloof is nie self die geregtigheid nie, die geloof regverdig nie deur sy wese of daad nie maar deur sy inhoud en voorwerp, dit is Christus wat ons geregtigheid is. As die geloof sou regverdig dan verloor sy voorwerp, n.l. Christus sy waarde, dan sou Christus tevergeefs gesterf het.
Geloof is geen verdienstelike werk nie, maar juis 'n afsien van alle verdienstelike werk en 'n onbepaalde vertroue op die geregtigheid van Christus. Dis 'n afsien van al wat mens is en wat mensewerk is. Ja maar: „Sy geloof (van Abraham) is vir hom tot geregtigheid gereken!" Toegereken ja, met ander woorde dit is hom toegereken maar die geloof is nie die geregtigheid nie. Netso reken God ons die sonde nie toe nie, maar ons het wel die sonde.
Die Roomse sê God kan tog nie iemand regverdig verklaar wat dit nie is nie; daarom doen Hy dit omdat ons dit al is deur ons geloof en ons werke. Daarom val by die Roomse regverdigmaking en heiligmaking saam; en daarom soveel verdienstelike werke en is die saligheid verdien. Maar dan was Christus nie nodig nie. Paulus sê duidelik dat God die goddelose regverdig maak. So is Christus onder die misdadigers gereken, hoewel Hy geen misdadiger was nie. En so word vir hulle wat glo die geregtigheid toegereken hoewel hulle dit nie het nie. Met ander woorde: God reken in Christus sy geregtigheid toe in die geloof aan iemand en spreek hom op daardie grond vry. Die wat glo het nie die lewe omdat die geloof self die lewe is nie, maar omdat hy die lewe van Christus deur die geloof ontvang. As die geloof die geregtigheid was, dan sou God met 'n mindere geregtigheid genoeë neem en sou sy geregtigheid vir die wet opsy sit. Dan was die Evangelie nie die vervulling van die wet nie, maar het daar los by gekom. Dan het Christus nie die wet volbring nie maar geskend. Buitendien, sou ons klein en swak geloof wel 'n grondslag vir die saligheid kan wees ? Nee, maar ons staan op die grondslag deur die geloof. Die regverdigmaking is dus 'n toereken van 'n geregtigheid wat nie ons s'n is nie. Dit is geen nietige uitspraak nie. Want wat God toereken bly ewig waar en Hy sal dit ook werklikheid maak in ons. By God volg altyd seker en gewis die daad op die woord. Sy beloftes faal nooit. As God ons sy geregtigheid toereken dan maak Hy dit allereers waar deur sy Seun vir ons oor te gee en in die tweede plek deur die Heilige Gees uit te stort om die geloof in ons te werk en deur die geloof die geregtigheid aan ons deelagtig te maak. Buite ons skenk God aan ons dus die geregtigheid in die Evangelie in Christus. God moes eers gee sodat ons kan ontvang. Die regverdigmaking lê dus in die dood en opstanding van Christus. „Opgewek tot ons regverdigmaking." Dus eers buite ons, en dit word werklikheid in ons as God deur sy Woord en Gees bewerk en roep; ons van sonde oortuig, na Christus dryf en by Hom vergiffenis en die ewige lewe laat vind. As ons dan eers na Christus gedryf is en dan tot onsself as nuwe skepsels inkeer, dan erken ons kinderlik dankbaar dat ook aan ons persoonlike vergiffenis geskenk is, waardeur God ook vir ons in ons eie gewetens vryspreek en ons reg gee op die ewigheid. Die afkondiging van die vryspraak lê in Christus en die Evangelie buite ons, terwyl die afkondiging geskied in ons eie gewetens deur die geloof. Waarom alleen deur die geloof ? Nie dat ek vanweë die waardigheid van my geloof aangenaam voor God is nie, maar daarom dat alleen die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is, en dat ek dit nie anders as deur die geloof kan aanneem nie en ook vir my toeëien nie, en so 'n erfgenaam van die ewige lewe word.
Uit en deur die geloof dui dus alleen aan dat die geregtigheid eers uit die geloof in ons lewe en eers deur die geloof ons persoonlike besit word. Dus in die regverdigmaking lê twee weldade opgesluit: die toerekening van heel die gehoorsaamheid van Christus, dit is die vergewing van al ons sondes; en die ewige lewe. En in die vergewing het ons die kwytskelding van alle skuld en alle straf van die sonde, nie alleen van die verlede nie maar ook van die teenwoordige en toekomende. 'n Volkome vryspraak en daarmee die reg op die ewige lewe. Die toerekening neem wel die straf maar nie die strafwaardigheid van die sonde weg nie. Die bly solank daar sonde is. Die sonde werk nog altyd in ons 'n skuldbesef, smart, leedwese, 'n verwydering van God en 'n verootmoediging. Dit is die natuur van die sonde. Dit ontneem die gewete sy rus, so ook die vrymoedigheid en versekerdheid van die geloof. Daarom moet ons altyd opreg ons sondes voor God bely. Die vergewing van alle sondes is ons afdoende in Christus geskenk. En tog is die regverdigmaking ook 'n deurgaande daad van God wat die vergewing voortdurend in ons hart verwerklik. Hy het ons persoon geregverdig en wil ook die uiting en die groei daarvan regverdig. So sê die Formulier van die Nagmaal: „Elkeen moet sy hart ondersoek of hy ook hierdie gewisse belofte van God glo dat al sy sondes hom alleen op grond van die lyde en sterwe van Jesus Christus vergewe is, en dat die volkome geregtigheid van Christus hom as sy eie toegereken en geskenk is, ja so volkome asof hy self in eie persoon vir al sy sondes betaal het en alle geregtigheid volbring het." Al verkla ons gewete ons nog voortdurend oor ons sonde, in Christus het ons ons geregtigheid, die reg en die vrymoedigheid om na elke struikeling, na elke val, met vertroue tot die troon van Genade te gaan en alleen te pleit op die geregtigheid van Christus.
Uit en tot geloof: met ons geloof groei ook die regverdigmaking in ons dit is, dit gaan oor in heiligmaking. Die regverdigmakende daad van God buite ons, word wanneer dit in ons waar word, heiligmaking. Daarom sê Luther: omdat Christus alleen regverdig is en geregtigheid het, word ons tog nog voortdurend geregverdig en staan ons in die regverdigmaking. „Daar is dan geen verdoemenis meer vir hulle wat in Christus is nie'', en ons is dit deur die geloof.
Die regverdigmaking wat in die Ewigheid begin het en in die opstanding van Christus buite ons sy beslag gekry het en in ons deur die geloof verwerklik word, vind sy voltooiing eers in die laaste oordeel, wanneer ten aanhore van die hele wêreld, ons vryspraak uitgeroep word en elke tong sal bely dat Christus die Heer is tot heerlikheid van die Vader.
Wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Dat ek in Christus voor God regverdig is...
Hoe is jy regverdig voor God? Alleen deur 'n ware geloof . Nie alleen 'n stellige kennis van die openbaring van die geregtigheid in die Evangelie nie, maar ook 'n hartelike vertroue dat ook aan my vergiffenis van sonde en die ewige geregtigheid en saligheid van God geskenk is uit louter genade op grond van die geregtigheid van Christus. Uit die geloof en tot die geloof en alleen vir die geloof bedoel.
Salig is die wat genooi is na die bruilof van die Lam. Sy vrou het haar toeberei en aan haar is gegee dat sy beklee word met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdigmaking van die heiliges.
Amen.