Hk 26 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 6 views
Notes
Transcript

SONDAG 26

Die Heilige Doop

Lees: Mat. 28, vs. 16-20. 1 Petr. 3 vs. 18-22.

Sing: Ges. 89, vs. 1; Ges. 93, vs. 1 en 5; Gesang 94, vs. 1 en 3; Gesang 91.

Vraag 69: Hoe word u in die Heilige Doop daaraan herinner en daarvan verseker dat die enige offerande van Christus wat aan die kruis gebring is, u ten goede kom?

Antwoord: So dat Christus beloof het, dat ek net so seker met Sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes gewas is, as wat ek uitwendig gewas is met die water wat die onsuiwerheid van die liggaam wegneem.

Vraag 70: Wat beteken met die bloed en die Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit is om van God vergewing van sondes uit genade te ontvang om die bloed van Christus ontwil wat Hy in Sy offerande aan die kruis vir ons vergiet het; en dan ook om deur die Heilige Gees vernuut en geheilig tot lede van Christus, sodat ons hoe langer hoe meer die sondes afsterwe en in 'n godsalige, onberispelike lewe wandel.

Vraag 71. Waar het Christus ons beloof dat hy ons so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: In die instelling van die Doop wat aldus lui: „Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees" (Matt. 28, vs. 19) en: „Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark. 16 vs. 16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die Doop die bad van die wedergeboorte (Titus 3, vs. 5) en die afwassing van die sondes noem (Hand. 22, vs. 16).

Die Nagmaal is die een Sakrament wat Christus ingestel het en die Doop is die ander. Die betekenis van die Doop is uitgedruk in die doopformuliere. Teenoor die Roomse opvatting moet die opvatting van die uiterlike Doop, as 'n noodsaaklikheid vir die saligheid, bestry word. Teenoor die Groot Dopers moet die reg van die kinderdoop gehandhaaf word. Ook moet op grond van die Heilige Skrif beswaar aangeteken word teen die sektebewerings dat die onderdompeling juis lewensnoodsaaklik vir die siel is.

Volgens die Roomse opvatting werk die sakramente vanself. Die sakrament bring die genade. Dit is op sigself 'n verdienstelike werk.  Hulle vervloek almal wat die geloof as voldoende beskou. Die Sakrament het 'n magiese werking. As die uiterlike teken nie toebedien word nie, gaan die kind verseker verlore.

Vir die Protestante geld die Heilige Skrif en daarvolgens is die uiterlike water waarmee ons gedoop word, 'n simbool of teken van 'n geestelike saak — nl. die reiniging deur die bloed van Christus. Net soos water liggaamlik kan reinig, so kan die bloed van Christus — Sy offer aan die kruis — ons siele reinig van die vlekke en smette van die sonde. Van die uiterlike teken mag 'n genade en verlossing verwag nie. Dit kom alleen van Christus self. Die uiterlike tekens moet ook alleen van Hom en Sy weldade getuig.

Sodra 'n mens op die uiterlike teken die nadruk lê, soos die Wederdopers, verhef 'n mens die teken en verdring die teken Christus self. Die heil mag nie van 'n teken verwag word nie. Die teken trek slegs ons aandag na die heil wat daar vir ons in Christus Jesus, onse Heer, is. Die teken sonder die geloof in die soenverdienste van Christus, het geen waarde of krag nie. „Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark 16, vs. 16). Daar staan nie dat die wat nie gedoop is, verlore sal gaan nie maar wel diegenes wat nie geglo het nie. Alleen vir die geloof is die Doop die vaste waarborg van die genade van God.

Die betekenis van die doop-formule nl. dat ons gedoop word in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, is dat ons aan die kring behoort waaroor Vader, Seun en Heilige Gees die bestuur voer. Die juiste opvatting van die Doop is dat dit die simbool is van die reiniging, die onderpand van die genade van God in Christus, die teken van die opneming in die Christelike kerk.

Volgens hierdie juiste opvatting mag die klein kinders nie uitgesluit word nie want hulle behoort mos aan die Koninkryk en die Koninkryk aan hulle (Mat. 19, vs. 14). Hulle mag nie buite sy kerk op aarde wees nie. Hulle is ook afgesonder om onder die bestuur van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te wees. So sê Paulus dan ook in 1 Kor. 7, vs. 14 dat as net een van die ouers gelowig is, is die kinders wat uit hulle gebore word, geheilig d.w.s. afgesonder vir God. Die teken vir daardie afsondering is die Doop. Christus het in sy bevel (Mat. 28, vs. 19) die kinders sowel as die volwassenes ingesluit. Want Sy bevel is dat die nasies wat tot dissipels gemaak is, gedoop moet word. Die nasie of volk bestaan tog nie net uit volwassenes nie, maar ook uit kinders. Paulus noem die Doop die besnydenis van Christus. Die besnydenis was die teken in die Ou Tyd vir die wat aan die Koninkryk van God behoort. Die doop is die teken van die Nuwe Tyd. Die besnydenis was ook vir die kindertjies bedoel onder die Ou Bedeling. Jesus sê self dat hulle die kindertjies nie moet verhinder om na Hom te kom in sy Nuwe bedeling nie. In Christus is die genade van God ook vir die kinders. Sy reinigende bloed is ook nodig vir die kindertjies.

Die bewering dat 'n mens juis ondergedompel moet word, soos die Wederdopers beweer, is 'n grote dwaling en spruit voort uit onkunde aangaande die betekenis van die Doop. Die Doop is 'n sinnebeeldige handeling. Nooit moet die nadruk val op die vorm van die uiterlike teken nie. Of die ring breed of smal is, maak tog geen verskil aan die verlowing waarvan die ring slegs die teken of getuienis is nie. By die Doop is daar wel 'n sigbare teken en ons neem die teken wat Esegiël voorspel het as die teken vir die reiniging in die Nuwe Bedeling nl. „dan sal Ek skoon water op julle sprinkel, sodat julle rein kan word" (Es. 36, vs. 25). Die Doop is nie 'n uiterlike teken nie. Dit het wel 'n uiterlike teken. Die Doop is 'n innerlike saak — 'n bede tot God om 'n goeie gewete (1 Petr. 3, vs. 21). M.a.w. ons hart gaan uit tot God met die vraag dat Hy ons moet was deur die bloed van Christus en ons innerlik moet skoonmaak sodat ons 'n goeie gewete mag hê. Alleen die bloed van Christus reinig ons van alle sonde. Ons aanklaende gewete word alleen tot rus gebring deur die soenverdienste van Christus wat ons met vertroue aanneem.

Hoe my skuld my hart laat twyfel, Vrees vir straf laat my nie weifel, Want ek weet in sonde-smart, God is meerder as my hart.

As ons gedoop word, dan word ons herinner dat die enige offerande van Christus aan die kruis gebring is, ons ten goede kom. Dit is die belofte deur Christus self aan ons gegee: „Gaan dan heen en doop hulle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark. 16, vs. 16).

Ons word by die Doop te min aangegryp deur die belofte van Christus. Hierdie saak, waarop die onuitputlike doopformulier in sy eerste en grootste gedeelte, soveel nadruk vir hierdie saak het ons blind geword; hierdie kostelikheid het ons geminag. 'n Vloedgolf van metodisme, piëtisme en modernisme het diedankbaarheid vir die Doop in breë kringe van ons kerke weggespoel.  Ons het juis daarin verval waarteen die doopformulier ons so nadruklik gewaarsku het. Ons laat ons kinders uit gewoonte of bygelowigheid doop. Die Doop is die teken en seël van die grootwerk van God.  By die Doop staan God op die voorgrond en nie die werke, ook nie die goeie religieuse werke van die mens nie. Die Doop is die teken van die belofte wat Christus aan sy Kerk gegee het nl. die genadige sorg van die Vader, die redding van die Seun, en die heiliging deur die Heilige Gees.

Die belofte wat Christus ons gee, is die vergewing van ons sonde omdat Hy sy bloed vir ons vergiet het. Net soos Hy in Mat. 8, vs. 3 vir die melaatse man gesê het, sê Hy met die Doop ook vir ons: „Ek wil; word gereinig!" En net so seker as wat daardie man op sy woord dadelik gereinig is, net so seker is ons sondes ons om Christus ontwil deur die Doop in die Naam van die Drie-enige God vergewe. Die ou geloofsbelydenis van Nicea (325 n. Chr.) het net een doel gehad nl. die Heilige Doop. Die belydenis is uitgespreek om die Doop te verkry. Al wat die dopeling gesê, bely en gedink het, het die Doop in die oog gehad. Die doop is nie 'n daad wat ons verrig nie maar 'n handeling wat ons ondergaan. Dit geld vir die kind sowel as vir die volwassene. Die doel van die Christendom is

ook nie om iets te doen nie maar om iets te ontvang nl. die vergewing van sonde.

By die Nagmaal ontvang ons iets. Dis nie net 'n gedagtenismaal nl. aan die lyde en sterwe van Christus nie maar dis om te eet van sy liggaam en te drink van sy bloed. Hoe dit plaasvind, is Gods ondeurgrondelike geheim wat Hy deur sy Heilige Gees aan ons verrig. Ons het waaragtig deel aan die liggaam en bloed van die Here net so seker as wat die brood voor ons oë gebreek word en die beker ons gegee word en ons met die mond eet en drink. So is dit presies met die Doop. Dis nie net 'n teken van die vergewing van sonde nie. Dit gaan veel dieper. Deur die Doop ontvang ons vergewing van sonde. Dis nie net afbeelding nie — dis heilsgebeure. As ons gedoop word, verrig God sy werk aan ons. Gods werk gaan baie dieper as blote afbeelding. Die Christene van die vroegste eeue het hierdie saak so raak gevoel dat hulle die Doop solank moontlik uitgestel het tot so na as moontlik aan die sterfbed. Hulle het gedink dan het die sonde nie weer 'n kans aan hulle nie. In hierdie opsig het hulle 'n misvatting gehad en nie rekening gehou met die bo-tydelike karakter van Gods handelinge nie. Tog het hulle in hul menslike dwalinge die wese van die Heilige Doop voortgedra. Die breë kringe van ons tyd het hierdie diepste en eintlike van die Heilige Doop verloor. Die Doop is meer as 'n simbool. Dis die toe-eiening van Gods genade en dit onder die leiding van die Heilige Gees. Dit is die blye werklikheid wat die Ou Kerk gedra het. Hierdie blye realisme kry ons dwars deur die Heilige Skrif.

Die wese van die Heilige Doop nl. dat ons iets ontvang en nie iets doen nie, dat God handel en ons 'n handeling ondergaan, is so pragtig bewaar in die kinderdoop. Daar sien ons hoedat hulpelose kindertjies aangedra word om die hoogste te ontvang. In die Nuwe Testament is dan ook die hele huisgesin gedoop. Origenes wat 254 na Chr. gesterf het, sê dan ook dat die apostels die kinder doop voorgestaan het. Uit ander bronne weet ons ook dat in die apostoliese tydvak die gesin met slawe en al as godsdienstige eenheid beskou was sodat die belydenis van die hoof van die gesin gegeld het vir al die lede. Dit was dan nog altyd die grondslag van die kinderdoop.

Die Doop is eintlik 'n daad van God. As God handel, is die eienskappe van die voorwerp van sy handeling van minder belang.

Die vergewing van sonde is nie afhanklik van wat by ons is nie, want by ons ontbreek alles. Berou, deemoed, geloof, ja, alles ontbreek by ons. Wat is by ons dat God ons sal moet aansien ? By God was vergewing altyd gewees. Christus is ons geregtigheid, ons gehoorsaamheid, ons geloof en ons hoop. Hy het alles vir ons gedoen. Ons bely die algenoegsaamheid van Christus in die Heilige Doop. Ons sê: selfverinnerliking verval soos die arme mense altyd weer daarin verval het en dan plaas ons die kop na onder en die voete na bo. Ons deemoed is mos die vrug en nie die oorsaak van die vergewing nie. Ons ontvang nie sonde-vergifnis omdat ons geglo het nie; nee, ons glo omdat ons sonde vergewe is.

Die feit dat die klein kinders onbewus is van die Doop, doen geen afbreuk aan die betekenis van die Doop nie; inteendeel, dit laat die eintlike van die Heilige Doop na bowe kom.  Net dit moet erken word — die Doop begin dan eers vrugte afwerp in die persoonlike lewe van die gedoopte as die feit van gedoop te wees later deur hom of haar met deemoed en dankbaarheid aanvaar word. Die vrug wat die doop later by ons persoonlik deur die werking van die Heilige Gees afwerp, is geloof, hoop en liefde.

Dr. A. van Selms druk die gedagte-inhoud van die Heidelbergse Kategismus in sy boek „Licht uit Licht" treffend uit as hy betoog dat dit vir die mens mooier mag lyk wanneer 'n volwassene gedoop word dan wanneer 'n kind gedoop word. 'n Bewuste daad spreek meer tot ons as wanneer ons 'n daad lydelik moet ondergaan. Die Doop is egter nie 'n daad van die mens nie. By die volwasse-doop is die gevaar groot dat die mens maklik kan dink dat die Doop as beloning op die belydenis geskenk word. In afsonderlike gevalle kan mens daarteen waak deur persoonlike sielsorg maar in 'n gemeenskap waar volwasse-doop reël is, sal op die duur die aksent van Gods genade verskuif word na menslike prestasie. Daarom is daar in Doperse, Baptistiese en Apostoliese kringe baie neiginge tot moralisme. Die vroom mens word die middelpunt terwyl Jesus nie sy regmatige plek kry as die middelpunt van ons verlange nie. Deur die kinderdoop betuig die kerk, aldus Prof. van Selms, dat ons van genade lewe. Ons moet eers soos die kindertjies verander word om die Koninkryk te kan binnegaan. Dit beteken nie dat ons soos kinders moet dink of handel nie. Die betekenis is dat die ingaan in die Koninkryk nie afhanklik is van ons denke of handelinge nie. Alles is uit God. Soos 'n kind niks doen nie en tog bemin word, so moet ons lewe van onverdiende genade. Die vader bly vader ook as die verlore seun sy goed in die vreemde verkwis. Die verlore seun moet net weer bewus word van die liefdevolle Vader, om sy verlore geluk terug te vind.

„Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk nie en my vrede-verbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer." Terwyl ons liefde en vergewing telkens 'n grens vind, duur Gods goedertierenheid tot in ewigheid. In sy grondelose barmhartigheid het God 'n verbond gesluit met sy verlore mense-kinders. In die verbond verseker Hy ons: Ek is en bly u God; u is en bly vir ewig My kind.

In die voor-ontwerp van ons Kategismus word op die eerste vraag „Wat is u enigste troos sowel in lewe as in sterwe?" deur Ursinus geantwoord: „Dat God my in sy genadeverbond opgeneem het." Daarom moet ons nooit gering dink van ons doop nie. Hy het na ons gevra voordat ons na Hom kon vra.

Die Doop is vir ons die teken dat God ons in grondelose barmhartigheid opgeneem het in 'n Verbond wat van geen wankeling weet nie. Deur die Doop weet ons dat die Vader ons aangeneem het, dat die Seun ons gered het, dat die Heilige Gees in ons wil woon. By al die wankeling van ons geloof moet ons ons daardeur laat troos dat God sy verbond nie vergeet nie, en daarin die grond van ons lewe gelê het.

Deur die Doop word ons geroep tot 'n lewe uit die vrede-verbond. God het reg op ons lewe. Omdat Hy vrede gemaak het in Christus moet ons vrede hê met al sy weë en, vir sover dit van ons afhang, in vrede lewe met alle mense. Wie sigself ken as 'n ontroue verbreker van die verbond, moet sig skuldbewus herinner aan sy Doop. Hy moet soos die verlore seun, sig keer tot, liewer bekeer tot God, wat ons eerste liefgehad het. Sy onwankelbare liefde roep om ons dankbaarheid. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Amen.

L. M. le Roux.

Related Media
See more
Related Sermons
See more