Hk 28 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 12 views
Notes
Transcript

SONDAG 28

Die Heilige Nagmaal van ons Here Jesus Christus

Leer: Hebr. 10, vs. 1-18.

Sing: Psalm 89, vs. 8; Psalm 105, vs. 22; Gesang 103; Gesang 106, vs. 7.

Vraag 75: Hoe word u in die heilige Nagmaal daaraan herinner en daarvan verseker dat u aan die enige offerande van Christus wat aan die kruis volbring is, en aan al sy goed gemeenskap het?

Antwoord: So, dat Christus my en alle gelowiges beveel het om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie drinkbeker te drink, en daarby ook beloof het: ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek en sy bloed vir my vergiet is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die drinkbeker aan my meegedeel word; en ten tweede dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en vergote bloed so seker tot die ewige lewe voed en laaf as wat ek die brood en drinkbeker van die Here — as gewisse tekens van die liggaam en bloed van Christus — uit die hand van die dienaar ontvang en met die mond geniet.

Vraag 76: Wat beteken: die gekruisigde liggaam van Christus eet en sy vergote bloed drink?

Antwoord: Dit is nie alleen om met 'n gelowige hart die ganse lye en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie, maar bowendien ook om deur die Heilige Gees wat sowel in Christus as in ons woon, so met sy heilige liggaam hoe langer hoe meer verenig te word, dat, al is Christus in die hemel en ons op die aarde, ons tog vlees van sy vlees en been van sy gebeente is, en dat ons deur een Gees — soos lede van een liggaam deur een siel — ewig lewe en geregeer word.

Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowige so seker op die wyse met sy liggaam en bloed wil voed en laaf as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en van hierdie drinkbeker drink?

Antwoord: In die instelling van die Nagmaal wat lui: (1 Kor. 11, vs. 23— 26). Hierdie toesegging word ook herhaal deur die apostel Paulus waar hy spreek: (1 Kor. 10, vs. 16 en 17).

Die Nagmaal het van die begin af 'n vername plek in die christelike godsdiensoefening ingeneem. Van die wyse van die eerste Nagmaalsviering kry ons slegs 'n regte voorstelling deur die verband met die paasmaaltyd in die oog te hou.

Dat Christus die Nagmaal in aansluiting aan die Paasfees ingestel het, is nie toevallig en willekeurig nie. Dit was die fees van die verlossing en as sodanig die sakramentele maaltyd onder die Ou Verbond, waar die verbygaan van die engel van die verderf te danke was aan die bloed van die paaslam. Daardie lam was die teken en seël van die sparende liefde van God, wat eenmaal die engel van die dood laat verbygaan het aan al die huise, waar die bloed van daardie lam aan die deurposte gestryk was. Ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus (I Kor. 5, vs. 7). Nou sal eindelik almal se sonde gewreek en geboet word in die bloed van die egte Paaslam. Dit staan Jesus gedurende die hele Paasmaaltyd voor oë, en geen oomblik was dit uit sy gedagtes nie. En eindelik, teen die einde van die maaltyd spreek Hy daarvan en lê dit vas in die sakrament. Maar Christus neem nie die lam nie, maar die brood, omdat Hy tegelyk die Sakrament van die Ou Verbond as seremonie ophef, en iets nuuts, wat heeltemal aan wat dit afbeeld, beantwoord, instel.

Die Nagmaal het dan vir ons 'n drieërlei betekenis: dis 'n gedagtenismaaltyd, 'n verbondsmaaltyd en 'n gemeenskapsmaaltyd.

Die betekenis van 'n gedagtenismaaltyd word ontleen aan Luk. 22, vs. 19: „doen dit tot My gedagtenis", en 1 Kor. 11, vs. 25: „doen dit, so dikwels as julle daaruit drink tot My gedagtenis". Om Nagmaal te vier is om Christus te gedenk, en in die besonder, sy kruisdood gedenk. As vanself moet ons hier aan die Paasmaaltyd dink. In Ex. 13, vs. 9 is die eet van die paasbrode ook tot 'n gedagtenis gestel. Trouens kan die hele Ou-Testamentiese erediens wel in die woord „gedagtenis" saamgevat word.

Die plek waar die erediens plaasgevind het, was die plek waar die Here vir sy Naam 'n gedagtenis gestig het. Daar is sy openbaring beaam, daar is Hy gedenk in gebed en offerande.

So wil ook die Here Jesus Christus dat van nou af Hy voortaan herdenk sal word in die Nuwe Testamentiese erediens aan die Sakrament, die plek, waar Hy vir sy Naam 'n gedagtenis stig.

Deur die Nagmaal wil die Here die gedagtenis aan sy kruisdood lewendig hou. Die verheerlikte Koning, Christus die Here, laat Hom verkondig as die Gekruisigde. Daardie kruis mag nie verswyg word nie, al erger die Jode hulle daaraan en al spot die Grieke daarmee. Want sonder die kruis is daar geen Christus nie. Die prediking van die kruis is die hart van die Evangelie-verkondiging. Die Nuwe Verbond het van krag geword deur die dood van die Here.

Daarom is die Nagmaal ook vir ons Verbondsmaaltyd. Hierdie betekenis lê in die woorde, wat in al die berigte meegedeel word: „Dit is my liggaam"; „dit is my bloed'', of „die Nuwe Testament in my bloed." Daarin lê die versekering, dat Christus Hom vir ons in die dood oorgegee het, en daarmee die Nuwe Verbond verseël en bevestig het, wat God in Hom met ons opgerig het. Hy is die ware Paaslam, wat deur sy dood, deur die breking van sy liggaam, en deur die vergieting van sy bloed, die versoening by God bewerk, en die grondslag lê van 'n nuwe verbond. Dit toon die Here duidelik aan deur die Nagmaal in te stel by geleentheid van die Pasga, en Hom daartoe te bedien van die brood en die wyn van die paasdis, deur die brood te neem, te seën en te breek, en veral ook deur die woorde wat Hy daarby uitgespreek het. Die beide tekens van brood en wyn by die Nagmaal is nie willekeurig of toevallig gekies nie. By die offerandes van die Ou Testament was vleis en bloed die hoofsaak, omdat dit heengewys het na die offerande van Christus aan die kruis. Die Nagmaal is egter self nie 'n offerande nie, maar 'n gedagtenis aan die offerande van Christus, en gee uitdrukking aan die gemeenskap van die gelowiges aan die offerande. Daarom kies Christus nie vleis en bloed nie, maar wyn en brood, in die Nagmaal om daarmee tekene te gee dat dit 'n maaltyd is, 'n maaltyd op grond van, en ter herinnering aan, ter gemeenskapsoefening met die gekruisigde Christus. Die tekens van brood en wyn is daartoe uitnemend geskik, want in die Ooste was dit die gewone bestanddele van die maaltyd, is die vernaamste middels tot versterking en verheuging van die hart van die mense en is tewens die sprekende simbool van die gemeenskap van die gelowiges met Christus en met mekaar. Die Nagmaal is 'n maaltyd, 'n maaltyd met Christus self as Gasheer, waartoe Hy al die synes uitnooi. Die tafel is die tafel van die Here, waaraan 'n gemeenskaplike maaltyd gehou word. Die huisgesin van Christus verenig hulle aan die tafel om deur Hom gespysig en gelaaf te word.

Maar die keuse van brood en wyn kan nie bloot daaruit verklaar word nie, want daar is ook 'n diepere oorsaak. Geen ander spys en drank was so geskik om die liggaam en bloed van Christus af te beeld nie, want Hy noem Homself immers die brood van die lewe, en die ware wynstok. Deur die dood aan die kruis sou die liggaam en bloed van die Here, anders saam verenig, geskei word. By 'n lewendige mens is vlees en bloed deureen gemeng. Die bloed kleur die vlees rooi. Maar hier word die wit brood, teken van sy blanke vlees, en die rooi wyn, teken van sy bloed, los van mekaar geplaas. Dit wys op die geskei wees van vlees en bloed. Immers in hierdie toestand is dit die vlees en bloed van 'n dode. So stel brood en wyn ons die gestorwe Christus voor oë. Dieselfde gedagte kom nog sterker op die voorgrond by die handeling, by wat met die brood en wyn gedoen word. Die brood word aan die Nagmaal gebreek, as beeld van die verbreking van die liggaam deur die dood van die kruis, die wyn word in die beker uitgegiet as beeld van die bloed, wat op Golgota uitgestort word tot vergifnis van sondes. Hierdie handelinge spreek tot die hart van die gelowiges. Ons sien die geseënde offerande van die kruis, Golgota word voor ons oë geskilder. Ons sien wat Christus vir sy gemeente gedoen het, om haar met God te versoen, en die ewige lewe deelagtig te maak.

Daarom is die Nagmaal ook 'n seël, wat ons verseker dat ons aan Christus en al sy goedere gemeenskap het. Ons word, so sê die Kategismus, so seker met die gekruisigde liggaam en vergote bloed van die Here gevoed en gelaaf, as wat ons die brood en drank uit die dienaar se hand ontvang en met die mond geniet. Die Nagmaal is vir ons daarom geen altaar nie, maar 'n tafel waar ons geestelik gesterk word.

Net soos die brood dien tot voeding en onderhouding van die liggaam, en die wyn om die lewenstoon te verhoog en tydelik uit insinking op te hef, so word aan die Nagmaal almal wat deur Gods genade geleer het, om in die Gekruisigde vergifnis van sonde en ewige lewe te soek, deur Christus met geestelike goedere gevul, al is hulle hul nie altyd dadelik daarvan bewus nie. Sy verbroke liggaam en vergote bloed is spys en drank vir die honger en dors van die siel. Daardeur word ons geestelike lewe onderhou en gesterk, en ons hart met heilige vreugde vervul.

So dikwels as ons aan die tafel van die Here aansit, is Hy self as Hemelse Gasheer teenwoordig. Daarom is dit dan ook in die volle sin van die woord, tafel van die Here.

Ons sien voor ons oë wel net die dienaar van die Woord, maar vir ons geestesoog val hy weg. Die dienaar wat die brood en wyn uitdeel doen dit in die Naam van Christus en is slegs instrument in sy hand. Hy is dit self wat ons die brood, waarop die skaduwee van die kruis val, vir ons breek en dit uitdeel, „dit is my liggaam." Hy self is dit wat ons die drinkbeker reik: „Hierdie drinkbeker is die Nuwe Testament in my bloed." Deur die geestelike teenwoordigheid van Christus is dit dat ons nie bloot net die tekens van brood en wyn ontvang nie, maar dat daarmee gepaard gaan op onnaspeurlike wyse 'n inwerking van die Verheerlikte op ons hongerige en dorstige harte, en ons waarlik aan ons siele gespysig en gelaaf word, en aan die enigste offerande van Christus en aan al sy goedere gemeenskap het.

Hierdie geestelike betekenis van die Nagmaal ontvou die Kategismus in die antwoord op vraag 76. Die eet van die gekruisigde liggaam van Christus en die drink van sy vergote bloed beskrywe die Kategismus in hierdie antwoord as 'n aanneem van die hele lye en sterwe van Christus met 'n gelowige hart, om daardeur vergewing van sonde en die ewige lewe te verkry.

Die neem van die brood is 'n uiterlike handeling, waardeur ons te kenne gee dat ons die gekruisigde Christus aanneem; en die eet is simbool van ons vereniging met die Christus. Daarom kan daar geen Nagmaal gevier word sonder geloof nie. Dit is eenvoudig onmoontlik, tensy ons die brood neem en eet tot 'n skynheilige vertoon wil maak.

Ons tree nie tot die tafel van die Here toe om, waar ons tot dusver nog altyd vreemd teenoor hierdie weldade gestaan het, nou vergifnis van sonde en ewige lewe te ontvang nie. Maar dit is 'n daad van die geloof waardeur ons erken, dat ons, wat die lewe in onsself nie het nie, in die soenverdienste van Christus die fontein van die lewe gevind het, dat ons enigste hoop die kruis van Golgota is, en dat ons die onverdiende heil wat die Here ons genadiglik in Christus skenk met 'n dankbare hart aanneem; en dat daar geen ander weg is om skuldvergifnis en die ewige lewe te vind as die algenoegsame offerande van Christus, wat aan die kruis volbring is nie.

Die eet van die brood en die drink van die wyn is 'n teken en seël van die koms van Christus in ons. Net so seker as wat die brood en wyn in ons ingaan en ons lewe onderhou, neem die Gees van Christus by ons intrek om ons te bearbei met die heilige krag van Christus, die sonde uit te suiwer, en Christus gestalte in ons te laat kry. Sy lewe kom in ons en word ons lewe. Ons word een plant met Hom. Hy in ons en ons in Hom. Hy die wynstok en ons die ranke. Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. Hy die Hoof en ons die lede. So word die aannemende geloof nie net in die Nagmaal versterk nie, maar ons word daar deur die Heilige Gees, wat in Hom as die Hoof en ons as sy lidmate woon, altyd nouer en inniger met Hom na liggaam en siel, verenig. Die band van die lewensgemeenskap tussen Hom, wat in die hemel woon, en ons wat op aarde verkeer, word op 'n verborge maar diep ware wyse altyd nouer getrek. Daarin word die eenheid van die gemeente en haar verheerlikte Hoof erken en gesmaak. Op die allerrykste wyse besef ons dat ons met al ons node saamgestrengel lê met sy heilige menslike natuur, wat immers ook ons s'n is, sodat ons vlees van sy vlees, en been van sy gebeente is. Die wêreld kan hierdie dinge nie verstaan nie, maar vir die gelowige is dit heerlike geloofservaring. In Christus gee God Homself aan sy volk, deur die Heilige Gees, en daardie volk gee hulleself geheel en al aan God deur die geloof.

Hierdie verbintenis is so innig dat die Bybel praat van 'n woning maak by mekaar (Joh. 14:23). Dit is 'n gemeenskap met die ganse Christus, nie net met sy Gees en Godheid nie, maar ook met sy liggaam, sy menswees. En hierdie gemeenskap raak in die gelowige mens nie maar net sy gevoel, sy liefde of wat ook al nie; dit is nie maar gemeenskap met iets verborge in die mens nie, maar gemeenskap met die hele mens, met sy siel en gees en vlees en bloed. Dit is hierdie gemeenskap, wat van Christus se kant deur die Heilige Gees en van ons kant deur die geloof geoefen word, waarom dit in die Nagmaal gaan. So word ons — nie deur die gebruik van brood en wyn nie, maar deur die geestelike werking wat daar in die Sakrament van die Christus uitgaan — op die allerinnigste met Christus verbind: Deur die geloof woon Hy in ons hart, deur sy Gees laat Hy in ons uitgedorde harte nuwe lewe pols, ons leef en word geregeer deur Hom, wat ons Hoof is.

Aan die tafel van die Here word nou ook die gemeenskap van die heiliges geheilig en versterk (1 Kor. 10, vs. 17). Die Kategismus spreek van Christus as Hoof van die liggaam, en by al die verskil is dit die eenheid van die onderskeie lede, dat almal hulle lewe en besieling uit die een Hoof ontvang en deur Hom geregeer word. Die heilige, dit is God in sy ongeskape heerlikheid, nie net afgesonder en afgeskei van al wat onvolmaak en sondig is nie, maar verhewe bo al die geskapene. As daar van mense gesê word dat hulle heilig is beteken dit dat hulle in betrekking staan tot God, die Heilige. Daarom is die gemeenskap van die Heiliges, voor alles, 'n werk van God, wat sondaars in Christus Jesus heilig. Deur Christus het God vrede gemaak en heilig Hy sondaars en stel Hy hulle weer in 'n betrekking van guns tot Homself. Daarom is die gemeenskap van die heiliges, die gemeenskap wat die geheiligdes almal en elkeen met Jesus Christus het. Die gemeenskap met Christus is dit wat al die gelowiges gemeen het. By alle onderskeid van ras en volk, van stand en beskawing, lê die eenheid van die gelowiges in een en dieselfde Christus, deur wie hulle weer in gemeenskap met God staan. By die gemeenskap van die heiliges moet ons eers na Bo kyk, en dan na mekaar. Alleen deur die gemeenskap met Christus is daar gemeenskap van die heiliges. Die Kerk is sy liggaam. In Christus ontmoet die gelowiges mekaar. Waar hulle mekaar dien, dien hulle Hom. Hom soek hulle in mekaar. Die geloof waardeur ons glo aan die gemeenskap van die heiliges moet tot uiting kom in die liefde. Die gemeenskap van die heiliges is liefdes-gemeenskap en daarom geloofsgemeenskap. Sy volkomenheid sal die gemeenskap van die heiliges eers vind in die ewige Nagmaal. Van hierdie eenheid spreek brood en beker ook. Want soos uit baie graankorrels een meel gemaal en een brood gebak word, en uit baie druiwekorrels, as hulle gepars word, een wyn en drank vloei, en tot een vermeng word, netso sal ons almal, wat deur die waaragtige geloof in Christus ingelyf is, almal saam een liggaam wees.

Ten slotte dan nog 'n woord oor die goddelike instelling van die Nagmaal, waardeur dit 'n sakrament word. Die Nagmaal is van goddelike oorsprong en moet dit wees, om 'n sakrament te kan wees, want God alleen is uitdeler van die genade en net Hy kan dit verbind aan die deur Hom verordende middels. En Jesus stel hierdie sakrament bepaald in as Middelaar. Hy tree daarin op as profeet, wat sy dood verkondig en verklaar; Hy handel daarin as Priester, wat Homself vir diesynes oorgegee het tot in die kruisdood; Hy kom daarin voor as Koning, wat oor die verworwe genade vryelik beskik en dit onder die tekens van brood en wyn aan sy dissipels gee om te geniet.

Soos alreeds aangetoon het Jesus die Nagmaal ingestel toe Hy met sy dissipels aan die Paasdis aangesit het. In die tyd van Jesus was die Paasmaal met allerlei seremonies uitgebrei. Nadat die paaslam deur die Leviete in die voorhof geslag is, en dit in 'n privaat woning gebraai is, het die maaltyd 'n aanvang geneem deur die rondgaan van 'n beker en met danksegging; dan is 'n skottel mos en bitter kruie opgedis en genuttig, en daarna is die lam met ongesuurde koeke opgesit. Maar voor dit geëet is het die vader of later 'n voorleser, die geskiedenis van die uittog vertel en het die disgenote die eerste gedeelte Ps. 113-114 van die Hallel (Ps. 113— 118), aangehef en het die tweede beker die ronde gedoen. Daarna het die regte maaltyd eers begin. Daarna het die huisvader die derde beker geseën en aan die disgenote gegee. Dit is afgesluit met 'n vierde beker wat deur die aanwesiges geledig is en die sing van die tweede deel van die Hallel (Ps. 11 5-118).

Die Here het nou die Nagmaal ingestel nadat die paaslam geëet was, by die derde beker, die beker van danksegging. Hy het die gewone brood en wyn geneem wat op die tafel aanwesig is, en volgens al vier die berigte, het Hy dit regstreeks in verbinding gebring met sy naderende kruisdood. Jesus het sy dood vooruit geweet en gesien, en die betekenis daarvan herhaaldelik aan sy dissipels verklaar.

Hy verkondig Homself aan ons as die gekruisigde. Nagmaal vier is Christus herdenk, en in besonder sy kruisdood herdenk, soos dit in 1 Kor. 11, vs. 26 nader verklaar word: „Want so dikwels as julle hierdie brood eet . . . verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom."

So is die Nagmaal vir ons herinneringsmaaltyd, maar ook belydenismaaltyd. Want die neem en eet is van ons kant 'n simboliese handeling, 'n „sigbare" antwoord op Christus se „sigbare" woord.

Gewoonlik sit die gemeente swygend en luisterend in die huis van die Here, behalwe met die gesang en gebed, waarmee sy stilswyend instem. Maar as die gemeente opstaan om aan te sit aan die tafel van die Here tree sy handelend op, dan verkondig sy die dood van die Here, bely deur haar aangaan dat daar vir haar buite Jesus Christus geen hoop is nie, maar dat in Hom haar saligheid ten volle versekerd is.

Daarom moet die gemeente na die Nagmaal gaan, net so goed as wat sy moet glo. Want hier het ons te doen met 'n uitdruklike bevel van Christus: doen dit tot my gedagtenis. Om te weier om aan hierdie bevel te voldoen is niks minder as die liefde van Christus te versmaad nie. Waar die Nagmaal van die Here versuim word, daar moet insinking volg. Want nie net is die Nagmaal 'n gedagtenis aan die dood van die Christus nie, dit open ook die uitsig op sy weerkoms. „Verkondig die dood van die Here totdat Hy kom." Die Here het die Nagmaal nie gewil as 'n ewige instelling nie. Ingestel by sy afskeid is dit bedoel as middel om op geestelike wyse met Hom in gemeenskap te bly, solank HY liggaamlik nie by ons is nie. As Hy weer kom dan het die Nagmaal sy diens verrig en verdwyn. Maar nes die Ou-Testamentiese Paasmaal verdwyn het om in die Nuwe-Testamentiese Nagmaal voort te bestaan, so sal hierdie sakramentele Nagmaal in die nuwe en ewige bediening van die verbond voortbestaan in die Groot Nagmaal, die Nagmaal van die bruilof van die Lam (Openb. 19, vs. 9). Daardie uitsig hef ons op, versterk die slappe hande en maak die swak knieë vas. Uit die verte lig ons toe die bruilof van die Lam. „Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam."

Amen.

J. D. Storm.

Related Media
See more
Related Sermons
See more