Hk 29 U Enigste Troos
SONDAG 29
Die Roomse Nagmaalsleer
Lees: Johannes 6, vs. 47-71.
Sing. Psalm 68, vs. 10; Gesang 101, vs. 2; Gesang 119, vs. 1; Gesang 120, vs.
Mattheus 26, vs. 26 - 28: „Neem, eet, dit is My liggaam — „Drink almal daaruit, want dit is My bloed, die bloed van die Nuwe Testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes."
Vraag 78: Word die brood en wyn dan die wesenlike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Nee, maar net soos die water in die Doop nie in die bloed van Christus verander nie, en ook nie die afwassing self van die sondes is nie — waarvan dit alleen 'n goddelike waarteken en versekering is — so word ook die brood in die Nagmaal nie die liggaam self van Christus nie, ofskoon dit na die aard en eienskap van die Sakramente die liggaam van Christus Jesus genoem word.
Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam, en die drinkbeker sy bloed, of die Nuwe Testament in sy bloed, en Paulus: die gemeenskap van liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Christus spreek so nie sonder gewigtige redes nie; naamlik omdat Hy ons daarmee wil leer dat, soos brood en wyn hierdie tydelike lewe onderhou, so ook sy gekruisigde liggaam en vergote bloed, die waaragtige spys en drank is waardeur ons siele tot die ewige lewe gevoed word; en nog meer omdat Hy ons deur hierdie sigbare tekens en pande wil verseker dat ons net so waarlik sy ware liggaam en bloed deur die werking van die Heilige Gees deelagtig word, as wat ons hierdie heilige waartekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang, en dat al sy lyde en gehoorsaamheid so sekerlik ons eie is asof ons self in ons eie persoon alles gely en aan God vir ons sondes voldoening gegee het.
In hierdie Sondagafdeling stel die Heidelbergse Kategismus sig teen die dwaalleringe wat die Roomse kerk verkondig ten opsigte van die heilige Nagmaal; en dit wil ons die regte waardering en die regte gebruik van hierdie Sakrament leer. Hierdie dwaalleer van Rome oor die Nagmaal kan ons aandui met die Middeleeuse woord: Transsubstansiasie. Die woord „Transsubstansiasie" beteken „wesensverandering". Die Roomse kerk wil hiermee te kenne gee, dat met die Nagmaal die brood en wyn 'n wesensverandering ondergaan. Sodra die priester. wat die Nagmaal bedien, met die nodige erns die woorde uitgespreek het: „dit is My liggaam", „dit is My bloed'', het die gewyde tekens, die brood en wyn skielik 'n wesenlike verandering ondergaan. Die brood is dan nie meer gewone brood nie, maar het verander in die liggaam van Christus, en so het ook die wyn verander in die bloed van Christus. Die gemeente wat die Nagmaal vier, eet en drink dus met hulle vleeslike mond nie meer brood en wyn nie, maar die vlees en bloed van Christus. Die kleur en geur, die voorkomste en smaak van die brood en wyn bly onveranderd, maar tog is in elke gewyde hostie die hele Christus aanwesig, na liggaam, siel en gees, na sy godheid en na sy mensheid. Die Nagmaal wat ook 'n gedagtenismaaltyd is (1 Kor. 11, vs. 24: Doen dit tot my gedagtenis) en ook gesien het op die wederkoms van Christus in heerlikheid (1 Kor. 11: Verkondig die dood van die Here totdat Hy kom) het bv. die Roomse uitsluitend gesien op die dood van Christus; die gebruik van brood en wyn het geword 'n eet en drink van die vlees en bloed van Christus. Die woorde: „Dit is My liggaam", en „dit is My bloed", is letterlik opgevat. So ook het hulle Joh. 6, vs. 51-56 op die Nagmaal toegepas, en die woorde van Christus letterlik opgevat: „Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat My vlees eet en My bloed drink het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag" (Joh. 6, vs. 53 en 54).
Uit hierdie dwalinge het nog verdere dwalinge en bygeloof voortgekom. Omdat die brood nie meer gewone brood was nie, maar verander het in die liggaam van Christus, en die wyn in die bloed van Christus, het hulle van die brood en wyn 'n geheimsinnige, magiese uitwerking verwag. Hulle het hulle hoop op die brood en wyn gestel, want daarin deel Christus Homself mee. Die Nagmaal verloor sy boodskap van die geestelike gemeenskap met die verhoogde Christus; want die gemeenskap is meer en meer liggaamlik voorgestel. Dit word verkry, nie deur 'n gelowige gedagtenis aan die lyding en sterwe van ons Here Jesus Christus nie, maar dit word bewerk deur die sigbare eet van die brood en wyn, wat deur die priesterseën liggaam en bloed van Christus geword het. Die seën wat die verkondiging van die dood van die Here vir hulle meebring, het hulle nie verwag van die versterkte geloof in die Heiland nie, maar van die voorwerplike tekens van die Nagmaal, die brood en die wyn.
Dit is begryplik dat die brood en wyn dan ook met 'n besondere eerbied bejeën is. Inplaas van die gewone brood wat met die Nagmaalsviering gebreek word, het die hostie in gebruik gekom. Dit is 'n koekie wat deur die priester ongebreek op die tong van die Nagmaalganger geplaas word. Want geen krummel van die liggaam van Christus mag op die aarde val nie. So moet ook gesorg word dat nie 'n druppel van die Nagmaalwyn vermors word nie, want dit sal beteken 'n uitstorting van die bloed van Christus. Daarom moes die mense die wyn deur middel van 'n pypie opsuig, om vermorsing te voorkom. Maar sedert die twaalfde eeu is die beker heeltemal van die gemeente weggeneem, en alleen deur die priesters gebruik. Die redenering waarop hierdie verandering moes steun, was dat in elke hostie die liggaam en bloed van Christus aanwesig is, en dat die beker dus oorbodig is. 'n Storie is versprei dat uit 'n gebreekte hostie 'n druppel bloed gekom het.
'n Verdere dwaling was dat die Nagmaalstafel 'n offertafel, 'n altaar geword het. Die brood en wyn wat verander het in die liggaam en bloed van Christus, word deur die priester aan God aangebied as 'n offer, as 'n onbloedige herhaling van die bloedige offer van Christus.
Dit is, Broeders en Susters, teenoor hierdie dwalinge en bygeloof van die Roomse kerk, wat die Heidelbergse Kategismus wil stel die eenvoudige, kragtige waarheid van die Evangelie. Die 78ste vraag van die Heidelbergse Kategismus lui aldus: „Word die brood en wyn dan die wesenlike liggaam en bloed van Christus ?" En dan is die besliste antwoord: „Nee! want ook in die Doop verander die water nie in die bloed van Christus nie." Die water self reinig ook nie die mens van sondes nie. Die doopwater wys ons heen na iets anders. Dit is 'n teken, 'n sigbare verkondiging wat ons heenwys na die bloed van Jesus Christus, wat reinig van alle sondes. So word die brood en wyn aan die Nagmaal ook nie self die liggaam en bloed van Christus nie. Die brood en wyn is sigbare tekens, wat ons herinner aan iets anders. Die brood wat gebreek word, en die wyn bring in gedagtenis die lyding en kruisdood van Christus. In Joh. 6, vs. 63 stel Christus teenoor die verkeerde opvatting, dat sy vlees letterlik geëet en sy bloed moet word, die woorde: „Dit is die Gees wat lewendig maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek vir julle sê is gees en is lewe." Met die eet van die vlees van Christus en die drink van sy bloed, bedoel Hy 'n innige geestelike gemeenskap met Hom, deur die toe-eiening van die geloof. Dit blyk ook uit die woorde van Paulus in 1 Kor. 11, vs. 16, waar hy sê dat die beker van danksegging gemeenskap met die bloed van Christus is, en dat die brood van die Nagmaal gemeenskap met die liggaam van Christus is. Deur brood en beker kry die gelowige deel aan die volbragte Middelaarswerk van Christus.
Die Doop en die Nagmaal kan in hulle tekene nie self die heil meedeel nie, dit reinig en voed ons siele nie, maar hulle is vir ons sigbare tekens en 'n duidelike verkondiging, wat ons heenwys na Christus, wat deur sy versoeningsdood vir ons die vergifnis, die heil en die ewige lewe verwerf het.
Christus self het die heilige Nagmaal ingestel, en het die viering daarvan aan die gelowiges opgedra, sodat Hy daarin, deur die brood en wyn as tekens kan betuig dat Hy sy liggaam vir hulle tot die dood oorgegee het, en sy bloed vergiet het. Hierdie brood en wyn is dus tekens wat heenwys na die gekruisigde liggaam en vergote bloed van Christus, wat alleen vergifnis van sonde en ewige lewe kan skenk. Die Sakramente is nie in hulleself 'n bron van heil nie, maar hulle is 'n luide verkondiging van die heil in Christus. Hulle is vir ons seëls en heilige tekens, wat ons aan die hand neem en lei na die onskuldige offerdood van Christus, wat vir ons sondes gesterf het, en wat die enigste grond en fondament van ons saligheid is.
Die tekene wil aan ons verkondig, dat soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, dat so Christus die brood van die lewe is, wat vir ons hongerige en dorstige siele 'n waaragtige spys en drank van die ewige lewe geword het. Christus begin nie eers in die Sakrament vir ons die brood van die lewe te word nie, maar Hy is dit reeds deur sy Evangelie en sy Gees. Die Sakrament van die heilige Nagmaal is vir ons slegs die duidelikste prediking, die kragtigste opwekking van ons geloof, die sterkste aansporing om te gedenk wat Christus vir ons geword het, en daagliks meer vir ons wil word.
Met Calvyn glo ons nie dat die gesproke woord van die persoon, wat die Nagmaal bedien, enige magiese uitwerking op die brood en wyn het nie. Die Sakrament deel nie die Heilige Gees mee nie, maar die Heilige Gees bedien sig van die Sakrament, die Heilige Gees spreek deur middel van die Sakrament tot ons. Die tekene van die Nagmaal sê ons, dat Christus Homself aanbied aan ons; en as ons dit in die geloof aanneem, dan word ons siele gespysig en gelawe met die liggaam en bloed van Christus, dit is, ons word op die innigste wyse met Hom verenig.
So is die heilige Nagmaal vir ons geen saak van voorwerplike heiligheid van die brood en wyn nie, maar soos die Evangelie is ook die Nagmaal, en wel op sigbare wyse, Christusverkondiging, Christusgedagtenis, Christusgemeenskap en Christusverwagting. Want by brood en beker verkondig ons die dood van die Here, ons kom tesame om sy gedagtenis te vier. Aan sy tafel waar Hyself die gasheer is, wil Hy Homself opnuut met ons verbind; ons oefen gemeenskap met Hom. Maar aan die Nagmaalstafel sien ons ook vooruit in verwagting van sy wederkoms in heerlikheid. Ons word geroep om die dood van die Here te verkondig totdat Hy kom. Dis die tafel van die Heer, waar Hy gee en ons ontvang; dit is dus nie 'n offeraltaar, waarop die priester aan God moet offers bring nie. Want ons glo dat Christus eens en vir altyd in sy sterwe 'n volkome offerande gebring het, en dat in sy offerdood die hele offersisteem van die Oue Testament vervul is. Aan sy tafel vra Christus nie van ons offergawes nie, maar Hy wil ons voed en lawe uit sy volheid.
Ons glo ook dat die gemeente aan die Nagmaal handelend moet deelneem, hulle moet die brood neem en eet, hulle moet die beker neem, en almal daaruit drink; hierdeur moet die geloof vir hom die volbragte Middelaarswerk van Christus toe-eien. Want alleen deur die geloof, wat aanneem dit wat Christus aanbied, word die weldade van Christus ons eiendom. Dit is dus in stryd met die woord en die bedoeling van Christus, as die Roomse priester die hostie op die tong van die deelnemer sit, en die beker aan die ontsê. Want Christus het tog uitdruklik gesê: „Neem eet, dit is My liggaam", en „Drink almal daaruit" (Mat. 26, vs. 26 en 27).
Ons wil eindig met die gepaste vermaning van die Nagmaalsformulier, waarin die kern van hierdie oordenking saamgevat is: „Dat ons dan nou met die waaragtige hemelse brood, Christus gespysig mag word, laat ons met ons harte nie aan die uitwendige tekens van brood en wyn bly hang nie, maar ons harte opwaarts in die hemel verhef, waar Jesus Christus is, ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader.
Sonder om te twyfel dat ons so waaragtig deur die werking van die Heilige Gees met sy liggaam en bloed aan ons siele gespysig en gelaaf word, as wat ons die heilige brood en drank tot sy gedagtenis ontvang.
Amen.
S. P. J. J. van Rensburg.