Hk 3 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 8 views
Notes
Transcript

SONDAG 3

Die oorsprong van die sonde

Lees: Genesis 3; Romeine 5, vs. 12-21.

Sing: Psalm 118, vs. 1; Gesang 32, vs. 1 en 4; Gesang 40, vs. 2 en 6.

Vraag 6: Het God die mens dan so boos en verkeerd geskape?

Antwoord: Nee, maar God het die mens goed en na sy ewebeeld geskape, dit is, in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg sou ken, Hom van harte sou kan liefhê, en met Hom in die

ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys.

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan?

Antwoord: Uit die val en die ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die Paradys waar ons natuur so verdorwe is, dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Vraag 8: Maar is ons so verdorwe dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad?

Antwoord: Ja, tensy ons deur die Gees van God wedergebore word.

Broeders en Susters,

Glo u in God? Het u vertroue in God ? Is u in u hart oortuig dat Hy dit goed en opreg met die mens bedoel ? Ons bely dat ons glo in God „die Vader" — in die God dus wie se vernaamste eienskappe die is van 'n vader, maar is ons altyd oortuig van God se opregte vaderlike gesindheid teenoor ons ?

Laat ons maar dadelik erken dat ons nie altyd vertroue gehad het in die goedheid en waarheid van God nie, ja, dat om God te glo en eenvoudig aan te neem dat wat Hy sê die waarheid is, een van die swaarste lesse is om te leer in die lewe.

Is dit nie waar dat ons van nature dit baie makliker vind om ons medemens op sy woord te neem as vir God nie? Ten spyte van die verdorwenheid van die mens, is ons tog meer geneigd om ons medemens te glo en te reken op sy beloftes, as om hom nie te glo nie. Hou hy nie sy woord nie, dan voel ons teleurgestel in hom; ons het tog iets beters van hom verwag. As God egter sy woord hou teenoor ons, dan is ons 'n bietjie verras! Ons het dit nie eintlik van die Here gedink nie! Tensy dat ons wedergebore word deur die Gees van God, vind ons dit totaal onmoontlik om God te glo en te reken op sy Woord. Selfs vir ons wat 'n beginsel van die geloof het, gaan dit dikwels uiters moeilik en moet die Here, soos vir sy dissipels, ons menigmaal oor ons ongeloof en kleingeloof verwyt.

Hoeveel Christene is daar bv. wat dit waag op die beloftes van die Heer alleen om hulle tiendes te skenk aan die Kerk ? Die oorgrote meerderheid ag hulle geld baie veiliger in die bank; ag die beloftes van God as onvoldoende sekuriteit. Ek, ellendige mens! Hoe lank sal God my kan verdra!

Die twyfel aan die opregtheid en goedheid van God is die mens se grootste struikelblok om tot God te kom en is God se groot hindernis in die opvoeding van die mens. Daar is niks waarteen ook die vroomste kinders van God so veel en so dikwels te stry het as juis teen hierdie ingewortelde wantroue in God nie.

Dink maar aan Asaf. In Psalm 73 begin hy deur te sê dat God waarlik goed is vir Israel, vir die wat rein van hart is. Dog in dieselfde asem voeg hy daaraan toe: „Maar wat my aangaan my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly", toe hy naamlik die voorspoed van die goddelose mense gesien het, en opgemerk het hoe daar by hulle geen kwellings is, selfs by hulle dood nie, en hoe daarenteen hyself elke dag geslaan word en hoe sy tugtiging daar elke more is. Toe wou sy hart die gevolgtrekking maak, dat God hom mislei het: „Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas." En dis eers na ernstige worsteling en nadat hy in die heiligdomme van God ingegaan het, dat hy weer kon getuig van die goedheid van God, dat dit vir hom goed is om naby God te wees.

'n Sprekende voorbeeld van hardnekkige wantroue in God is die geskiedenis van die volk Israel. God het met eedswering sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gegee. Maar toe die tyd aanbreek dat God sy belofte van 'n beloofde land aan hulle wou vervul, was dit die een ding wat Israel maar nie wou aanneem nie. 'n Tiental wondertekens deur die hand van Moses verrig, was eers nodig om hulle maar net soveel vertroue in die beloftes van God te gee, dat hulle gewillig geword het om Moses te volg. Die natuurlike houding by hulle was om eenvoudig net te glo wat hulle sien; en wat hulle kon sien was slegs die heersende toestand van slawerny onder vreemde verdrukking. Iets beters durf hulle nie verwag van God op grond van sy beloftes nie. Hulle het nou uitgetrek; skoorvoetend „waag" hulle dit om Moses te volg. Maar as hulle by die Rooisee kom en die Egiptiese leër agtervolg hulle, dan is hulle dadelik gereed met hulle gevolgtrekking, gebore uit 'n ongelowige hart: God en Moses het ons bedrieg! Het ons liewer gebly waar ons was; hulle het ons slegs hierheen gelei om ons in groter ellende te dompel.

Deur die geloof van een man, Moses, lei God hulle egter droogvoets deur die see en betoon so sy waaragtigheid en opregtheid. As Israel nou veilig aan die oorkant staan en aanskou hoedat die Egiptenaars verdrink, dan sing hulle tot eer van die Here; dan kan hulle sing: „Die Here is my krag en my Psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem." Ja, wanneer God sy seëninge op sigbare en tasbare wyse oor ons uitstort, dan is dit nie te swaar om te sing van sy goedheid en waarheid nie. Maar as die teleurstellings en sware beproewings ons tref, dan moet die hart gepers word en hy weier om te sing: „O goedheid Gods, hier nooit volprese."

So het dit maar deurgaans met Israel gegaan in sy woestynreis. Keer op keer beskuldig hulle God deur Moses van ontrou en bybedoelings van onheil oor hulle, ten spyte daarvan dat God keer op keer Homself betoon het as die waaragtige, die God van Abraham, Isak en Jakob. Met hardnekkige volharding het die hele geslag wat uit Egipte opgetrek het aangehou om te weier om God te glo. Daarom het hulle ook almal in die woestyn omgekom en het die beloftes nie verkry nie. Daar was vir hulle geen Sabbatsrus in 'n beloofde land nie. Dit kon ook nie. God kan Hom nie met moedswillige volharding tot leuenaar laat maak deur die mens nie. Die besoldiging van die sonde van ongeloof kan op die duur niks anders wees nie as die dood.

Die ongeloof of wantroue in God was dan ook die oorsaak van die val en verlorenheid van die mens. God het Adam en Eva goed en na sy ewebeeld geskape en hulle laat woon in 'n paradys van geluksaligheid, waar hulle in volle lewensvreugde die ganse skepping van God vryelik kon geniet. Alles wat bevorderlik kon wees vir die mens se hoogste geluk, het God aan hulle gegee.

Die slang daarenteen was listiger as al die diere van die veld; en hy het geweet dat solank daar by Adam en Eva vertroue was in die goedheid en opregtheid van God, hulle op geen manier sou kon beweeg word om van Hom afvallig te word nie. Daarom moes hy 'n plan beraam om wantroue in hulle harte te wek.

So kom die Satan dan na Eva met die vraag: „Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?" Eintlik bedoel hy: „Het God julle nou waarlik belet om te eet van al die bome in die tuin?'', m.a.w. „Ek verstaan dat God julle waarlik vergun van al hierdie oorvloed nie. Is dit so?" Die slang weet dat hy 'n infame leuen verkondig, en Eva weet dit ook. Tog verkondig die Satan nog altyd dieselfde leuen aan die mensdom, met dieselfde sukses as by Eva! Ons hoor nog altyd sy stem in ons binneste: „O, mens, ek verstaan God gun jou nie die lewe en die volheid daarvan nie; hy gun jou dit nie om te geniet van wat hy geskape het nie. Hy stel allerlei lastige beperkinge vir jou, om jou af te skeep. As jy na sy gebooie moet luister, sal daar weinig lewensvreugde deur jou gesmaak word. En kyk hoe beperk is hy in sy versorging van sy kinders. Luister na my, en ek gee jou die volheid" — ja selfs, „al die koninkryke van die aarde" word deur hom beloof.

Het Eva nou die slang weerstaan, sou hy van haar gevlug het; maar sy gaan met hom argumenteer, en wie met die Satan argumenteer sal gewoonlik die onderspit delf; die slang is listiger as al die diere van die veld. Eva begin nadink oor wat die slang gesê het. Dan antwoord sy: „Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet" en let daarop, die „vry eet" wat God hulle aangebied het laat sy uit; sy begin al voel asof God se aanbod tog nie so gulhartig was as wat sy tot hiertoe gedink het nie; Hy het dan 'n beperking daarby gestel: „maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aan oë nie, anders sal julle sterwe". Let wel, God het hulle nie verbied om die boom „aan te roer" nie, maar Eva begin nou so voel; God is darem hard op hulle, so begin sy nou dink.

Slegs van een boom wou God nie hê dat hulle moes eet nie: die boom van kennis van goed en van kwaad. Dit wil sê, hulle moenie probeer om 'n selfstandige kennis van goed en kwaad te verkry, sodat hulle in eie wysheid wil beslis wat goed en kwaad is nie, omdat God geweet het dat sodra die mens onafhanklik van Hom sou wil gaan oordeel oor wat hy mag doen en wat nie, hy homself te gronde sou rig, sy eie ondergang en dood sou bewerkstellig. God het egter nie die mens belet om die probleem „aan te roer'', d.w.s. daaroor na te dink nie.

Die slang het 'n aanknopingspunt by Eva gevind; die kleinste saadjie van wantroue het reeds in haar hart posgevat. Nou kan hy verder gaan, en dadelik voeg hy nou 'n tweede leuen by die eerste: „Julle sal gewis nie sterwe nie ..." Dis presies dieselfde leuen waarmee hy nog die „slim" geworde moderne mens mislei: „jy sal
niks oorkom as jy die gebod van God oortree nie. Moenie jou laat bangmaak deur die predikante en hulle ,dogmas' nie. Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!" (Psalm 2).

„Maar", voeg die slang daarby, „God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken". M.a.w. God het hulle die vreugde van die boom belet, omdat Hy hulle iets waardevols misgun! God wil hulle afskeep; Hy wil hulle in 'n staat van onverstandigheid hou en in 'n minderwaardige posisie van onderhorigheid, daarom mag hulle nie eet van die boom wat hulle eie insig sal besorg nie. Eet hulle daarvan, sal hulle dieselfde wysheid van God hê, behoef hulle die Here nie meer te raadpleeg oor wat goed en kwaad is nie maar kan hulle vir hulleself dink en self besluit. Dit sou niks minder beteken nie as emansipasie van 'n lastige beperking, wat hulle Skepper uit gebrek aan welwillendheid hulle opgelê het. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet, en dat hy 'n lus was vir die oë, ja 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te kry. Toe eet sy en gee ook vir haar man.

Hierdie boom van kennis van goed en kwaad was nog altyd sedertdien 'n lus vir die oë van 'n wederstrewige mensdom; 'n mensdom, veral die moderne geslag, wat nie tevrede wil wees met onderworpenheid aan God as die Alwyse, om Hom en sy Woord te raadpleeg om uit te vind wat goed en kwaad is nie, maar wat die gebooie van God beskou as lastig en onnodige beperkinge vir die vryheid van die mens; outydse „konvensies" noem hulle sommige gebooie van God. Die mens wil „vry- wees om vir homself te dink en vir homself te besluit oor sy handelinge en gesindheid. Hierdie opstand teen God sien ons veral in die moderne sogenaamde „humanisme" en sy produk die „liberalisme". En met die grootste verwaandheid en eiesinnigheid steek die mensdom al meer en meer hulle hande uit en pluk en eet van hierdie begerenswaardige vrug van morele onafhanklikheid van God en sy Woord. Aan God wil hulle gelyk wees deur vir hulleself 'n God te wees, vir hulleself hulle eie sedewette te maak. Met nietige misleiding en drogredes maak die „slim" mense hulleself wys dat die mens „selfwetgewend", outonoom is met betrekking tot die sedewette", en stort hulleself so in die verderf.

Want toe Adam en Eva klaar geëet het, het hulle oë oopgegaan, soos die Satan gesê het, maar nie om aan God gelyk te wees nie, maar om uit te vind dat hulle in 'n vernederde staat beland het; om te sien dat hulle nakend was. Niks was daar nou om hulle skandelike afvalligheid van God voor sy aangesig te verberg nie. Die verdorwenheid van liggaam en siel het 'n aanvang geneem, en wel as gevolg van die „val en ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers in die Paradys".

Die eerste gevolg van hierdie verdorwenheid van die mens was 'n wanverhouding tussen hierdie mensepaar en hulle Skepper. Toe hulle nou die stem van die Here God hoor „terwyl Hy wandel in die tuin in die aanwindjie" — skone beeldspraak om aan te dui die vredesverhouding wat daar tot dusver tussen God en die mense bestaan het — het die mens en sy vrou hulle verberg vir die aangesig van die Here God tussen die bome van die tuin. Wat vir hulle die lieflikste van alle gewaarwordinge was, naamlik die ervaring van hulle God, het nou by hulle onwelkom geword en onrus gewek in hulle harte. In plaas van die Here met blydskap tegemoet te gaan, soek hulle nou skuiling. So handel die nageslag, van Adam en Eva mos vandag ook nog. Dis wanneer ons gesondig het dat ons ook nie die nabyheid van God begeer nie, dat ons as 't ware vir die Here wegkruip. Dis wanneer ons die gebod van God deur dade, woorde of gedagtes oortree het dat ons nie lus voet vir die gebed in die binnekamer of die huisgodsdiens of vir die tafel van die Here nie.

Maar laat ons let op die verdere houding van Adam. As die Here hom vra na sy eienaardige gedrag met die woorde „Waar is jy ?" dan antwoord hy: „Ek het U geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is nakend; daarom het ek my verberg." Dit kom dus hierop neer: „Here, ek het uitgevind dat U nie vir my klere gegee het nie, en ek kan tog nie in hierdie nakende toestand voor U verskyn nie", m.a.w. „Die toestand waarin U my laat verkeer, verhinder my om voor U te verskyn." Hoe onveranderd is die Adamsgeslag tog tot vandag toe. Hoe dikwels moet ons dieselfde verskonings hoor op die vraag: „Waar was jy toe dit Nagmaal was; waar was jy Sondag toe ons diens gehou het ?" Die antwoord is, maar meesal dieselfde: My omstandighede het my verhinder. En die Voorsienigheid wat al ons omstandighede bepaal, kry dan maar oor en oor die skuld waarom Adam wegkruip en nie lus het vir die dinge van die Vader nie. Baie selde word die belydenis gehoor: „Ek het gesondig, daarom het ek weggekruip." En in die oorgrote meerderheid van die gevalle is die verskoning net so deursigtig onopreg as in die geval van Adam.

Die Here ondervra Adam nou verder: „Wie het jou te kenne gegee dat jy nakend is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?" Is die ware rede vir jou onwilligheid. o mens, om die aangesig van God te soek nie daarin geleë dat sy gebooie oortree het nie? Maar dan antwoord Adam: „Die wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, ek het geëet." Let wel, dis nie soseer Eva wat die skuld kry nie, God self: „Die vrou wat U my gegee het." Waarom het God vir Adam 'n vrou gegee, om hom so te laat sondig ? God kry dus skuld.

„Het God die mens so boos en verkeerd geskape ?" So vra kategismus. „Ja", sê Adam, „dis tog maar God se skuld dat my bedorwe geraak het."

Eva weer gee die slang die skuld, ook een van die skepsels van God, waardeur sy indirek ook God verantwoordelik hou vir haar val.

So bly dit ook een van die mees ingewortelde neigings by die mens van alle tye om dit aan sy omgewing, sy omstandighede, en aan God te wil wyt dat hy is wat hy is, wat hy nie mag wees nie, naamlik 'n sondaar.

Maar nou antwoord God die mens: „Omdat jy . . . geëet het van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil." Die aarde sal nou vir hom oplewer moeite, dorings en distels en die sweet van sy aangesig; vir die vrou word smarte voorspel.

Hierdie vervloeking is in sy volle draagkrag toepaslik op die moderne wêreld: „Vervloek is die aarde terwille van 'n mensdom wat met hardnekkigheid volhard daarin om die hand uit te steek en te eet van die boom van kennis van goed en kwaad; 'n mensdom wat in eiewysheid vir hulleself wil bepaal wat goed en kwaad, reg en verkeerd is, sonder om daarin God te wil raadpleeg of te wil vra na sy gebod en sy verbod. Veral tref dit die Europese mensheid wat die geopenbaarde wil van God ken en ten spyte daarvan nie van God gebied wil word nie maar verkies om sy eie dwaallig te volg op die gebied van godsdiens, sedes, maatskaplike lewe en politiek. Moeite, dorings, distels, sweet en smarte is die vrugte wat in oorvolle maat ingesamel word. Bloed en trane, dood en verderf, dit is die vrugte van die boom van liberalistiese eiewysheid en afval van die Woord van God.

Dan word daar nog dikwels met skyn van diepsinnigheid, met geveinsde erns gevra: Waar is die goeie God, die God van liefde, as Hy dan toelaat dat die wêreld in so 'n toestand gedompel word! Asof dit God se skuld is dat Adam en Eva uit die Paradys uitgesluit moes word! Asof dit God se skuld is dat die mensdom soos die verlore seun hulle vaderhuis verlaat het en nou van honger en ellende omkom tussen die varke! Asof dit God se skuld is dat die mense die regverdige en onvermydelike vrugte sal pluk van hulle weiering om na die goeie God te luister! „Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel ! Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hulle hart, dat hulle in hulle eie planne kon wandel", so klae God oor Israel; so weeklaag die Christus ook oor Jerusalem: „Ek wou julle vergader maar julle wou nie. Kyk julle huis word vir julle woes gelaat."

Is God die oorsaak van die sonde en ellende van die mens ? „Ja, sê die onwedergebore arglistige hart! „Nee," getuig God deur woord en daad. „Ek het geen behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom sal bekeer en lewe."

Deur die eeue heen het God alles gedoen wat maar nodig mag wees om die vertroue in sy goedheid en opregtheid weer by die mens te herstel, sodat hy kan terugkeer na sy Skepper om die lewe te vind. „Kom nou en laat ons die saak uitmaak", sê die Here: „Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet." „Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig; neig julle oor en kom na My toe, luister en julle siel sal lewe." So het God dit eeu in eeu uit sy afvallige volk en verlore mensdom toegeroep. Maar nog het die mensdom en ook sy eie volk Hom bly wantrou. „'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie."

Uiteindelik het God sover gegaan om sy liefde, sy goddelike boesem in die openbaar ten toon te stel, sodat daar geen twyfel meer kan wees nie. Die ewige Woord van God, die innerlikste gedagtes van God aangaande die mens, sy diepste gesindheid, sy innerlike ontferminge, sy volmaakte liefde's wil, het in Christus vlees geword en onder die mense kom woon, sodat hulle sy heerlikheid kon aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid. Niemand het ooit God aanskou nie, maar Hy wat in die boesem, in die innerlikste wese, van die Vader is, Hy het God aan ons verklaar op aanskoulike wyse. In Jesus van Nasaret: het God vir ons kenbaar geword, en die getuienis van hulle wat God in Christus leer ken het is eenstemmig: GOD IS LIEFDE.

Jesus Christus self is die beantwoording van die van Filippus: „Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg."  Om God te ken in Christus, is vir ons genoeg: genoeg om God dan te kan vertrou en liefhê en dien met 'n gewillige en blymoedige gees.

Hy wat nou kan aanneem dat wie Christus gesien het ook die Vader gesien het, omdat Hy en die Vader een is, en daarom ook volkome eenders van inbors en gesindheid teenoor die mens, vir hom kom daar rus en vrede, hy het God leer ken en het daarom ook die lewe gevind.

Jesus Christus is die beeld van die onsienlike God; in Hom woon die volheid van die Godheid liggaamlik.

Wie nou kan aanneem dat in Christus die boesem van die Vader aan ons geopenbaar is, hy is 'n gelowige, en die geloof bring hom terug na God toe, waar die ongeloof of die wantroue hom van God af weggevoer het in die dood.

Hy wat nou kan aanneem dat wie Christus gesien het ook die Vader gesien het, omdat Hy en die Vader een is, en daarom ook volkome eenders van inbors en gesindheid teenoor die mens, vir hom kom daar rus en vrede, hy het God leer ken en het daarom ook die lewe gevind.

Jesus Christus is die beeld van die onsienlike God; in Hom woon die volheid van die Godheid liggaamlik.

Wie nou kan aanneem dat in Christus die boesem van die Vader aan ons geopenbaar is, hy is 'n gelowige, en die geloof bring hom terug na God toe, waar die ongeloof of die wantroue hom van God af weggevoer het in die dood.

Hy wat kan aanneem dat wanneer Jesus ween oor Jerusalem dit tegelyk die openbaring is van wat in die hart van God omgaan — hy sal sy wantroue in God laat vaar en terugkeer na sy hemelse Vader; hy sal nie daaraan dink om God die skuld te gee vir sy verdorwenheid en ellende nie, maar sal soos die verlore seun sê: „Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor U, en ek is nie wêrd om U kind genoem te word nie."

Hy wat na die gekruisigde Christus kyk en soos die hoofman daar op die bors begin slaan en sê: „Waarlik hierdie mens was die seun van God", hy het begin om God te ken en daarom ook te glo en te vertrou. Deur daardie geloof sal hy lewe.

Hy wat soos Thomas aan die voete van die verrese Heiland kan neerval en in vaste oortuiging uitroep: ,,My Here en my God", hy het 'n blik gekry in die wese van God en sal daarom teruggaan na God toe.

Hy wat in Jesus van Nasaret die Seun van God kan sien, hy het gekom tot die kennis van die enige en ewige waaragtige God, en hy vind in God 'n Vader weer. Dis hy wat gelowig genoem word. Die wantroue hou op, die vertroue is herstel en die saligheid het begin. Here, na wie toe sal ons anders gaan.

Amen.

J. J. Engelbrecht.

Related Media
See more
Related Sermons
See more