Hk 31 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 7 views
Notes
Transcript

SONDAG 31

Die sleutels van die hemelryk

Lees: Esegiël 3, vs. 17-21; 2 Korinte 4, vs. 6-5.

Sing: Psalm 66, vs. 1, Psalm 89, vs. 6 Gesang 91.

Vraag 83: Wat is die sleutels van die hemelryk?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige Evangelie en die Christelike ban of uitsluiting uit die Christelike gemeente, waardeur die hemelryk vir die gelowiges geopen en vir die ongelowiges gesluit word.

Vraag 84: Hoe word die hemelryk deur die prediking van die heilige Evangelie geopen en gesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges, aan almal saam en elkeen afsonderlik, verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes waaragtiglik op grond van die verdienste van Christus hulle deur God vergewe is so dikwels as hulle die beloftes van die Evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarteenoor word aan al die ongelowiges en aan die wat hulle nie van harte bekeer nie, verkondig en betuig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank as hulle hulle nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die Evangelie sal God oordele in hierdie lewe sowel as in die toekomstige.

Vraag 85: Hoe word die hemelryk geopen en gesluit deur die christelike tug?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus moet die wat onder die Christelike naam hulle onchristelik in leer of lewe openbaar, nadat hulle verskeie male broederlik vermaan is en tog van hulle dwalinge of hulle skandelike lewe geen afstand wil doen nie, aangegee word by die gemeente of die wat deur die gemeente daarvoor verkies is. As hulle hulle aan die vermaning deur hierdie persone nie steur nie, dan word die sakramente hulle verbied en hulle uit die Christelike gemeente en deur God self uit die Ryk van Christus uitgesluit. As hulle egter waaragtige verbetering beloof en betoon, dan word hulle weer as lede van Christus en van sy gemeente aangeneem.

Aan sy kerk op aarde het die Here Christus 'n sekere mag toevertrou wat die sleutelmag genoem word. Hierdie sleutelmag bestaan vereers uit die suiwere verkondiging van die Evangelie deur die ampsdraers wat God geroep en as sy erkende gesante uitgestuur het om in sy Naam op te tree; en in die tweede plek uit die christelike tug.

In verband met die onderwerp wil ek vooraf drie skriftuurplekke in herinnering bring. Vereers Matt. 16, vs. 19, waar Jesus vir Petrus sê: „En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemele gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees." Dan Matt. 18, vs. 18, waar Jesus vir sy dissipels sê: „Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle bind op die aarde, sal gebonde wees in die hemel; en alles wat julle ontbind op die aarde sal ontbonde wees in die hemel." En eindelik Joh. 20, vs. 23, waar Jesus ook weer vir sy dissipels sê: „As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou."

Vir baie is hierdie woorde duister, tog is die verklaring eenvoudig, as ons daarop let dat hierdie woorde alleen die apostels van Jesus geld en uitsluitend op hulle van toepassing is. Die Here Jesus het met hierdie woorde aan sy apostels 'n buitengewone mag toegeken, wat egter na hulle dood nie op die kerk as sodanig oorgegaan het nie. Ons lees nêrens dat die Here Jesus verklaar het dat Hy hierdie buitengewone mag ook sou toeken aan die opvolger van die apostels nie; en nêrens lees ons dat die apostels op hulle beurt weer verklaar het dat hulle hierdie mag sou oordra op die ampsdraers, wat hulle as hulle opvolgers sou aanstel nie.

Die apostels beklee heeltemal 'n eie en enige plek in die kerk van Christus. In die heilige Skrif word hulle dan ook altyd as 'n afsonderlike soort ampsdraers uitdruklik onderskei van die herders en leraars. Daar was net eenmaal apostels in die Christelike kerk; daar kom nie weer apostels nie.

Waarin het nou die sleutelmag bestaan wat die Here Jesus aan sy apostels toevertrou het? Daarin dat Hy dit aan hulle opgedra en toevertrou het om die weg van saligheid uit te lê en bekend te maak en om die voorwaardes bloot te lê en mee te deel waarop die sondaar die saligheid deelagtig kan word. Hulle het dit onder die leiding en besieling van die Heilige Gees dan ook gedoen en die vrug van hulle arbeid vind ons in hulle geskrewe woord, wat vir ons in die heilige Skrif bewaar is. Wie daardie woord van die apostels met 'n gelowige hart aanneem, vir hom is die koninkryk van die hemele ontsluit; wie daarenteen daardie woord verwerp, vir hom is die koninkryk van die hemele toegesluit. Vir ons geloof in die Here Jesus Christus is ons dus afhanklik van die apostoliese woord. Ons het nie ander onfeilbare getuienisse omtrent die weg van saligheid nie. Niemand kan dan ook in die Here Jesus glo anders as deur die woord van die apostels nie. Ons dink in hierdie verband daaraan, dat die Here Jesus in sy hoëpriesterlike gebed ook gebid het vir die wat deur die woord van die apostels in Hom sou glo.

Maar nou, vir die opbou, instandhouding en uitbreiding van sy kerk het Christus, die Hoof van die kerk, die bediening van die Woord ingestel en hierdie amp opgedra en toevertrou aan manne wat Hy spesiaal vir hierdie werk geroep, afgesonder en toegerus het. Hulle tree dan op in die Naam en op las van Christus as sy gevolmagtigde gesante en boodskappers. Dit is hulle plig, roeping en voorreg om die Evangelie te verkondig op die juiste en suiwere wyse, dit wil sê presies soos die apostels dit in hulle geskrifte vasgelê het. En waar hulle dit doen, het hulle prediking gesag, maar dan inderdaad ook goddelike gesag, omdat dit rus op die woord van die apostels, wat op sy beurt weer rus op die uiterste hoeksteen, naamlik Christus.

Die bedienaar van die Woord tree dan op as 'n geroepe gesant van Christus en sy woord het daarom bindende gesag, omdat dit nie sy eie is nie, maar die boodskap van Christus, wat hom met daardie woord gestuur het. Hy is 'n uitdeler van die verborgenhede van God. Vir wie sy prediking aanneem is die hemelpoort ontsluit, maar vir wie sy prediking afwys is die hemelpoort toegesluit. Wat hy hier in die Naam van sy Sender verkondig geld by God in die hemel.

Die predikamp, of om 'n juister uitdrukking te gebruik: die amp van die bedienaar van die Woord, is 'n eie instelling van Christus. Mense het nie op 'n goeie dag bymekaar gekom en gesê ons moet vir ons predikante kry nie. Orals, in alle tye en onder alle volke tree daar manne in die kerk van Christus op wat deur Christus geroep aangestel en uitgestuur is om aan sondaars die vergifnis van hulle sondes in die bloed van die kruis aan te bied en om aan hulle die voorwaardes aan te kondig waarop hulle hierdie vergifnis kan kry. Ons mag dus nie sê dat ons hierdie ampsdraers nie nodig het nie; dat ons die kerk nie nodig het nie; dat ons self die Bybel besit en, as ons dit lees, daar genoeg aan het nie, want dit is nie! Wie so redeneer, misken die amp van die bedienaar van die Woord wat Christus self ingestel het en verag die heilige sakramente wat Christus self verorden het, en is dus in die grond van die saak 'n veragter van God, van sy Woord en van die sakramente. Die bedienaars van die Woord is ampsdraers van Christus. Deur Christus is hulle in die diens van die Woord gestel om as sy geakkrediteerde gesante aan die sondaar die boodskap van vergifnis van sondes oor te bring en die oordeel af te kondig oor alle onboetvaardiges.

Die instelling van die diens van die Woord is dus 'n daad van goddelike ontferming. As die Here hierdie instelling nie verorden het nie en ons eenvoudig sy Woord gegee het sonder meer, sou die gevolg gewees het dat ons, as natuurlike vyande van God, sy Woord baie gou sou begrawe het en alle herinnering daaraan sou baie gou uitgewis gewees het. Maar nou het Christus die predikamp ingestel en manne vir die diens van sy Woord afgesonder en aangestel, wat orals uitgaan as sy gesante om in sy Naam die Evangelie van versoening te verkondig. En juis omdat hulle gesante van Christus weë is, deur Hom aangestel en uitgestuur, daarom het hulle boodskap dan ook bindende gesag.

Hulle tree kragtens hulle amp op in die Naam en op die bevel van hulle Sender. Hulle spreek op las en in opdrag van Christus. Hulle woord is die regstreekse boodskap van Christus in sover dit 'n suiwere verkondiging van die Evangelie, 'n onvervalste weergawe van die woord van die apostels is. Hieruit is dit dan ook nou duidelik, waarom daar geen sprake kan wees van 'n bediening van die Woord en van die sakramente as daar nie 'n geordende prediker, wat in die amp wettiglik geroepe en gestel is, aanwesig is en voor die gemeente optree nie. Die kerk is nie 'n vereniging van mense wat deur die wil van mense gestig is en bestuur word nie; daarom is dit ook so verkeerd om van 'n „kerkgenootskap- te praat; die kerk met sy ampte is 'n stigting van Christus. Ons moet die verskil tussen kerk en vereniging goed vat. 'n Vereniging kan gestig of ontbind word na willekeur; dit is 'n bloot menslike instelling en het as sodanig geen gesag oor die gewete nie; wie wil, kan toetree tot, of hom onttrek aan die lidmaatskap. Maar die kerk met sy ampte tree in die wêreld op as 'n eie stigting van Christus waarin Hy as Hoof al sy gelowiges saamvergader. Op hierdie gebied is daar nie ruimte vir willekeur nie; alles moet geskied volgens die voorskrif van Christus. Die gesag van die kerk moet daarom dan ook erken word, sy vermanings moet gehoorsaam word, sy bestraffings moet tot berou lei. In 'n vereniging kan desnoods elke lid as voorganger optree, maar nie elke lid van die kerk kan as voorganger in die gemeente optree nie. Die ampte, wat Christus self in sy kerk daargestel het en waardeur Hy sy kerk regeer en bestuur, moet geëerbiedig word. 'n Kerkraadslid ('n regerende ouderling) kan wel leesdiens hou, hy of 'n gemeentelid kan wel in 'n samekoms 'n ernstige woord van vermaning, van waarskuwing, van vertroosting spreek, maar dit is — hoe noodsaaklik onder bepaalde omstandighede ook — nie 'n amptelike bediening van die Woord nie. Alleen hy wat in die amp van die bediening van die Woord wettiglik geroepe en gestel is kan amptelik optree en dus ook met gesag spreek in die Naam van sy Sender. Sy woord is dan ook nie maar net 'n stigtelike woord van vermaning of vertroosting nie, maar het metterdaad bindende gesag, want hy kom as 'n ambassadeur van die Koning van die Kerk.

Of iemand dus in die diens van die Woord en van die sakramente kan of nie kan optree nie, hang nie af van die persoon of van sy gawes en talente nie, maar uitsluitend van die amp en die mag waarmee hy van Christus weë bekleed is.

God is 'n God van orde, ook in sy kerk.

Die volgende voorbeeld sal dit nader verduidelik. As daar iemand met 'n boodskap na ons toe kom, dan moet hy, as die boodskap waarlik 'n boodskap sal wees, na ons toe gestuur wees. Gestel nou dat iemand na ons toe kom en hy deel ons mee dat ons vriend ons more sal besoek, dan sal ons die woord van die persoon wel glo, maar tog het sy woord nie vir ons dieselfde betekenis en gesag nie, as wanneer hy regstreeks deur ons vriend na ons toe sou gestuur wees, met die bepaalde opdrag en boodskap om vir ons te sê hy kom more. In hierdie laaste geval het ons met 'n boodskapper te doen wat met 'n werklike boodskap na ons toe gestuur is; sy woord het dus nou gesag; hy deel nie sy eie opinie mee nie, maar vertel wat hom opgedra is. So het ook Christus bepaalde boodskappers, gesante, aangestel en hulle tree kragtens hulle amp as gevolmagtigde boodskappers op. Hulle deel nie hulle eie sienswyse mee nie, maar bring 'n boodskap oor. En so geskied daar Sondag na Sondag deur die diens van die Woord vanweë God self aanwysing van wat die sondaar moet doen om homself van die verderf te red. Die woord van die prediking, in sover dit suiwer is, het goddelike gesag. Dit is die amptenaar van Christus self wat amptelik die boodskap oorbring. En as aan die begin van die diens die vredegroet en aan die einde daarvan die seënbede oor die gemeente uitgespreek word, is dit nie maar 'n stigtelike wens of bede wat daar geuiter word nie, maar is dit 'n amptelike handeling, waardeur die Koning van die kerk, by monde van sy gesant, self spreek. Daarom het hierdie vredegroet en seënbede vir die godvrugtige gemoed ook so diepe en ryke betekenis !

Omdat die bedienaar van die Woord amptelik optree, oefen hy deur die verkondiging van die Woord dan ook (wat ons noem) sleutelmag uit. Dit wil sê, wie na sy woord luister en die weg van die lewe inslaan, vir hom is die koninkryk van die hemele oopgesluit, maar wie sy oor toestop en op die weg van die dood volhard, vir hom is die koninkryk van die hemele toegesluit. Vir die eerste is die woord 'n reuk van die lewe tot die lewe, vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood. Die krag van die dienaar van die Woord lê juis daarin dat hy 'n bode, 'n dienaar, 'n gesant van Godsweë is, wat aan hom die bediening van die versoening gegee het. Hy tree dus op as 'n gesant om Christus ontwil, asof God deur hom vermaan. In die Naam en op las van sy Sender bring hy die boodskap oor: „Laat julle met God versoen." Met 'n gesag, wat by God in die hemel geld, kondig hy aan dat wie in die Here Jesus Christus glo gered word, en kondig hy af dat wie in die Seun ongehoorsaam is verlore is. Hy doen hierdie proklamasie kragtens sy amp. Elke keer wanneer ons die bedehuis verlaat, het ons deur die diens van die Woord oor onsself in die Naam van die Here hoor uitroep Of ons ewige vryspraak, omdat ons in die Here Jesus Christus glo, of ons veroordeling en verdoemenis, omdat ons in ons onboetvaardigheid en onbekeerlikheid volhard. Elke amptelike bediening van die Woord is 'n voorspel op die ewige oordeel wat kom; reeds hier en nou maak die Woord wat verkondig word skeiding tussen die wat glo en die wat nie glo nie.

Nog 'n voorbeeld om die amptelike bediening van die Woord te verduidelik. As 'n magistraat tuis op sy studeerkamer 'n vonnis oor 'n persoon uitspreek, het dit nie die krag van 'n vonnis nie; maar as hy dieselfde vonnis oor dieselfde persoon in 'n openbare hofsitting voorlees, is dit terdeë 'n vonnis wat bind. In die laaste geval tree hy amptelik op.

Wie uit die kerk wegbly uit onverskilligheid, omdat hy buite God en God en sy Woord lewe, moet nie meen dat wat daar in die kerk in sy afwesigheid verkondig word vir hom geen betekenis het nie en hom nie raak nie; elke preekbeurt, wat sonder geldige rede versuim word, verswaar die oordeel van die wat kon kom. As God sy boodskapper stuur om sondaars uit te nooi en hulle ag dit nie as 'n genade wat op prys gestel moet word nie — hoe sal hulle ontvlug, as hulle so 'n groot saligheid veronagsaam ?

Die diens van die Woord gaan hoofsaaklik oor ons verborge gewe. Deur die verkondiging van die Woord van God word elke hoorder voor die vierskaar van God en sy gewete geplaas en word of vrygespreek of veroordeel. Maar nou het elke mens ook 'n openbare lewe — en dit is hier waar die christelike tug of dissipline op sien. Christus het ook die tere roeping op die ampsdraers in sy kerk gelê om te waak oor die belydenis en wandel van die lede, sodat die eer van God nie geskend en openbare sondes nie onveroordeeld mag voortwoeker nie. Die doel van die christelike tug is dus tweërlei: ten eerste om die eer van God in die gemeente te handhaaf, en vervolgens om die skuldige tot berou en bekering te lei. Die christelike tug het dus nooit die bedoeling om 'n regterlike uitspraak te wees met 'n moontlike straf daarby nie. Dit is nooit 'n strafmiddel nie, maar bly altyd 'n middel om wie in sy openbare sonde volhard tot inkeer op te wek. Waar die tug versuim word, word aan die satan geleentheid verskaf om deur die kwaad die gemeente van die Here te verontrus en te verstrooi. Die geskiedenis van die kerk wys dan ook duidelik uit dat die verslapping van die tug tot onheil en skade vir die kerk lei.

Mag die Here ons kerklike besef verlewendig, en mag ons al beter verstaan dat die kerk van Christus die saamvergadering van sy uitverkore gelowiges is, en dat Hy die Hoof van hierdie liggaam is. Dit is sy duurgekoopte gemeente.

Mag ons ook leer om meer en ernstiger te bid vir die kerk van Christus soos dit hom in die wêreld openbaar veral in hierdie tye, waarin die kerk dikwels so fel aangeval word, en volgens die profetiese woord in die toekoms die voorwerp van nog feller bestryding sal wees.

En mag ons nie versuim om vir die ampsdraers van die kerk van Christus te bid nie. Die Skrif vermaan ons met nadruk om dit te doen. Laat ons baie vir hulle bid, sodat dit hulle nie aan wysheid en besieling mag ontbreek nie en hulle arbeid vrugbaar mag wees tot verheerliking van die Drie-enige God, aan wie toekom lof en danksegging tot in alle ewigheid.

Amen.

Daniel F. Erasmus.

Related Media
See more
Related Sermons
See more